WeRead Powered by ReaderPub
Die prosa van die twede Afrikaanse beweging cover

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging

Chapter 15: § 8. Krietiese Standpunt.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

A scholarly survey examines prose produced during the early twentieth-century Afrikaans literary revival, tracing its historical context, cultural conditions, and stylistic tendencies. It analyzes polemical writings, periodical contributions, and works by principal prose authors, supplying biographical notes and close readings of novels, short stories, satire, didactic pieces, animal sketches, travel writing, and historical prose. Chapters address tensions with earlier literary currents, risks of cultural isolation, Calvinist influence on aesthetics, language problems including anglicisms, and features of dialogue and narrative technique. The author assesses critical debates and offers a subject-based taxonomy and evaluation of the movement's thematic and stylistic limitations.

As "men" beteken die ou garde, dan is die bewering in hoofsaak juis. Onder die jongere is daar seker niemand, wat die sonderlinge kritiek van Prof. Marais sal aanneem nie. Ons het in die woorde van Prof. Moorrees geleer om "het goede uit alle tijden en alle richtingen ... te waarderen"[40] en weier om 'n metode te volg, wat die meeste egte kunswerke op die Kalvinistiese indeks sou plaas, 'n metode, wat tot sulke ongerymdhede lei as om Van Koetsveld en Van Lennep o.a. onder "de sterren van de eerste rang" te reken! Prinsipiële voorligting by die moderne literatuur is ongetwyfeld 'n dringende eis, veral in 'n Kalvinistiese gemeenskap, maar dit moet iets anders wees as 'n veroordeling met een breë armswaai. Daar is ook in Suid-Afrika nog mense wat glo dat kristelike beginsels teenoor egte kuns nooit vyandig hoef te staan nie. Raak Jan Celliers in sy takvolle lesing oor Kuns en Sedelikheid nie die wortel van die kwaad nie, waar hy sê: "Ons opvoeding in alles wat skoonheid en kuns aangaat, is te seer verwaarloos.... Word daar nie te veel "angsvallig bedek (ge) hou (nie), wat deur eerlike, openlike behandeling die aantreklikheid van verbode vrug en geheim sou verloor en gevaar sou voorkom"? (Die Huisgenoot Jan. 1922.) Aangesien daar nou al tekens is, dat die voetpaadjie van ons Afrikaanse kuns uitdraai na die internasionale grootpad, word dit 'n aktuële kwessie.

Prof. J. Kamp het die verskil in geestesgesteldheid tussen Europa en S.A. goed geformuleer: "Van de problemen die daarginds de moderne ziel bewonen, schokken en folteren, horen wij hier nog maar 't verre gerucht. Voor 't grootste deel wandelen wij nog maar op de traditionele paden ... En op emotioneel gebied, op 't terrein van de kunst? Wij zijn vermoedelik nog ver van Oud-Europa z'n tegenwoordige koers op dit gebied.... We zijn nog eenvoudig, nog natuurlik, ja zelfs nog tamelik naïef. En aan onze kunst komt dat ten goede. Maar de vraag is of diep onder de oppervlakte van Jong-Zuidafrika z'n geestelik leven niet reeds kiemen zijn aan te wijzen, van dat modern-europese. 't Kontakt tussen hier en daar wordt al veelvuldiger en al intenser ... Ik meen, dat grondige kennis van, en diep inzicht in de getijen van hedendaags Europa, niet te vroeg onder ons bevorderd kunnen worden. Opdat wij weten, en gewaarschuwd zijn, en niet overrompeld worden."[41]

Van groot belang vir die letterkunde sal die Afrikaanse Bybelvertaling wees. As die vertalers daarin slaag om deur verhewe eenvoud 'n waardige vertolking van die gewyde teks te lewer, sal dit veel bydraag om vastigheid te gee op stylgebied.

§ 7. Die Prosa.—Algemene Karakteristiek.

In die letterkundige voortbrengsele van die periode wat ons die Afrikaanse Renaissance kan noem, sit daar ongetwyfeld sterk militante elemente—en geen wonder ook, want die letterkunde van alle volke is 'n weerspieëling van die geestelike strominge wat die volksiel diep geroer het. Vir tientalle van jare voer ons al 'n taalstryd—'n stryd wat feitlik elke indiwidu dwing om grondig na te dink oor allerhande taalkwessies, waaroor hy hom onder normale omstandighede nooit sou bekommer nie. En die taalstryd is terselfdertyd 'n stryd vir ons volksbestaan, vir ons volkseenheid. "Ons jong Afrikaanse taal moet win en sal win", is die vlammende passiekreet van die herlewende volk; en, eweas die manne van die Pleïade in Frankryk, verdedig ons kunstenaars met heilige ywer die moedertaal, deur die opheffing waarvan 'n lang periode van geestelike knegskap beëindig word; vol van die besielende weelde van 'n pasgewonne vryheid, slinger hul manifeste teen die wikkende, weënde twyfelaars wat nog lus het om 'n vreemde taal aan ons op te dring, maar wat nou vasgekeer is tussen die langsaam maar seker sluitende sirkel, waarin die asgaai van die jeugdige stryders blink in die skittering van 'n nuwe son.

Juis die roes van 'n toekomstige maar sekere oorwinning is dit wat 'n rustige objektiewe beskouing van ons literêre kuns so erg moeilik maak. Baie boeke wat in die taalstryd kragtige wapens was, sal later nog alleen van kultuurhistoriese belang wees. Ons loop groot gevaar om in die hitte van die stryd 'n literatuur voort te bring wat die karakter van fabriekwerk draag. Die tot vervelens toe herhaalde geroep van die teenstanders: "Afrikaans het g'n letterkunde nie!" het prikkelend gewerk en 'n atmosfeer geskep, waarin wel 'n kragtige strydliteratuur kan ontstaan, maar slegs by uitsondering 'n uiting van stralende skoonheid wat deur alle tye heen sal geniet en gewaardeer word. Die uitdagende houding van die voorstanders van Hollands, wat hul steeds beroep het op 'n eeue-oue letterkunde, het ons opgehits tot dade van durf. In jeugdige oormoed het ons aan skrywe gegaan—nie altyd omdat hier binne ons 'n magtige worsteling van ideë was wat tot vertolking gedwing 't nie, maar ook om te bewys dat ons taal sy man kan staan. In die laaste paar jaar het daar 'n oorweldigende aantal boeke in Afrikaans verskyn; en omdat in die taalstryd juis dié wapens so uiters belangrik was, kon die kritiek dikwels nie onvoorwaardelik veroordeel nie. Maar nou begint die tyd verby te gaan waarin ons 'n boek gaan aanbeveel eenvoudig omdat dit in Afrikaans geskryf is. Vir ons jong skrywers is daar nou geen aanleiding meer nie vir dié oorhaasting waardeur in die verlede veel middelmatigs op die pers gekom 't.

Egte kuns kan nie ontstaan nie omdat dit geëis word as bewys vir die manbaarheid van 'n jong taal—net so min as wat die goue erepennings van die talryke Nederlandse diggenootskappe van die 18de eeu egte poësie uitgelok het. Egte kuns moet spontaan voortkom uit 'n innerlike onweerstaanbare drang, waaraan die geroepe kunstenaar, die "begenadigde eenling" eenvoudig moet gehoorsaam. Nasionale eersug het nog nooit 'n letterkunde van blywende waarde gefabriseer nie, eenvoudig omdat dit iets is wat nie gefabriseer kan word nie. Gun die kunstenaar die tyd om met rustige toegewydheid sy taal te troetel en te streel totdat hy daarin die fynste roersele van sy siel kan uit, die teerste opwellings kan verklank.

Laat die koorsagtige strydstemming van die laaste tyd ons hoofde nie op hol bring nie. Die fiere, lewenskragtige eienskappe van ons volk is die waarborg vir die langsame, gestadige opbloei van 'n gesonde nasionale letterkunde. So was dit in alle lande, en so sal dit ook by ons wees. Maar nie in één nag sal daar 'n katedraal uit die velde opdoem nie, soos Albert Verwey êrens sê. Die waardelose ou timmerasie het ons omgesmyt, die wanordelike periode van die afbrekery het ons deurgemaak, maar die tyd is nou ryp om ernstig en rustig te bou aan die nuwe lewende kuns. Ná die omwenteling moet en sal daar iets groots kom—maar as vanself.

Naas die militante element is daar, soos reeds by die beskouing van die kultuurtoestande opgemerk, 'n sterk didakties-moraliserende stroming.[42] Die toenemende sedebederf, "wat saam met 'n bioskoopbeskawing tot ons oorgewaai het"[43] laat meer as een skrywer 'n preektoon aanslaan of traktaatjies in verhaalvorm skryf.

Die kunstenaar wat ons 'n didaktiese roman in goeie sin kan gee ontbreek nog. Carel Scharten sê tereg: "Het (is) ongetwijfeld mógelijk, dat ... een strekking, mits tot een bezielenden hartstocht gegroeid, een gróót talent tot de hoogste en tevens voor ieder verstaanbare kunst opvoert...."[44] By ons het die didaktiese stroming op die gebied van die roman nie veel meer opgelewer as soetsappige vermanings nie, wat heeltemal los en uit die verband staan, of anders verhale, opsetlik só saamgestel, dat die strekking die enige doel is. Langenhoven, wat aanvanklik sy lewenswysheid op betogende wyse meegedeel het, begin dit nou in verhaalvorm te verwerk en by hom is daar seker kans, dat die strekking tot besielende hartstog sal vergroei en mettertyd 'n opbloeiing van gemeenskapskuns bring. Hy en ander skrywers teken die kultuurverbastering op satieries-humoristiese wyse, terwyl die mentaliteit van die arme blanke en sy agteruitgang in die stede realisties geskets is deur J. van Bruggen en Lub.

Die romanties aangelegde skrywers volg die voetspoor van historisie soos Preller en J.H. Malan en verheerlik die nasionale verlede. Die Voortrekkerperiode veral word met liefde bestudeer, maar ook die Anglo-Boere-oorlog lewer stof vir 'n paar romans en talryke sketse. J.H. Malan en De Waal gaan terug na die vroegste tydperk van die Kaapse geskiedenis, terwyl ook resente gebeurtenisse, soos die opstand van 1914 behandel word. Die invloed van Van Lennep is duidelik merkbaar by sommige skrywers. Dikwels moet die historiese agtergrond hoofsaaklik dien om 'n hele reeks awonture meer waarskynlik te maak. Die digterlike gees, wat die historiese feite moet interpreteer, en deurdring tot die innerlikste kern van 'n tydperk, sonder versmoor te raak onder noukeurige argeologiese gegewens is alleen af en toe aanwesig. Daarom is die resultaat meestal nie veel meer dan "'n gekleurde historieprent" nie.

'n Aaneenryging van kakelbonte awonture, wat die nuuskierigheid prikkel deur al die konwensionele kunsies van 'n vernuftige intriege vind nog groot byval, selfs by die ontwikkelde klasse. Dit is 'n voorkeur, wat deur die tallose minderwaardige Engelse ontspanningsromans aangekweek en in stand gehou word.[45] As 'n skrywer maar behendig die draadjies kan trek van 'n klompie houtpoppies, liefs met 'n stukkie vierkleur om die hoed, en hul 'n paar ingewikkelde dansies laat uitvoer, waarby 'n paar "rooies", of 'n klomp Soeloes in die stof getrap word, dan vind hy lesers genoeg! Op karakterontwikkeling kom dit minder aan as daar maar genoeg aksie, beweging en verrassinge is.

Jan Celliers het die oorsake van die toestand as volg geformuleer: "Hoe kan verwag word dat 'n jong kultuur, wat, so te sê, gister eers ontwaak het, onder 'n jong volk, wat van die begin af 'n harde stryd om sy bestaan te stry gehad het teen 'n hardhandige natuur, teen honderd-duisende barbare, teen 'n vreemde oorheerser van buite, sou ooreenkom met die van ouer lande? Hoe kan verwag word dat ons vir ons besonder sou verdiep het in 'n studie van die mens en sy omgewing vir filosofiese of vir kunsdoeleindes? Ons het die mens en die natuur bestudeer met die oog op die praktiese vrae van die dag, wat gou en goed opgelos moes word, waar ons bestaan van afgehang het. En dié stryd hou nog altyd aan.... Ons bloed is nog aldag te veel in beweging, jaag ons aan, ons het te veel te doen, ons moet gou klaar wees, het nie tyd om veel te droom of te peuter nie.... Om een en ander rede is ons romans nog veel meer op handelinge en vermenigvuldiging van gebeurtenisse aangelê as op karakterstudie van 'n persoon of versameling van persone. Dis vir ons onmoontlik om soiets doodkalm te behartig en ons grote stryd te vergeet; onwillekeurig straal die stryd, en alles in verband daarmee, in ons werk deur—romans, toneel, alles."[46] Dat die opvatting van 'n goeie roman, soos deur Jan Celliers in dieselfde voorlesing uiteengeset nog lang nie algemeen is nie, blyk uit 'n pleidooi in Die Huisgenoot (Okt. 1919), waarin ongetwyfeld die gevoelens geuit word van "die grote gros van fatsoenlike mense, wat.... 'n pittige, boeiende verhaal belaai met "kunsies", verkies bo 'n sielkundige studie van mens en natuur."[47] En dit sal seker nog lank duur voor al die "fatsoenlike mense" tot juister kunsbegrippe kan opgevoed word en leer insien, dat Hollanders, wat iets van letterkunde afweet al lank al nie meer op Van Lennep "roem as 'n egte en groot romanskrywer" nie.

In die laaste tyd is daar egter 'n reaksie gekom op die awontuurlike rigting. J. van Bruggen, Léon Maré, Kruger, Van Reenen en ander verdiep hul in karakterstudie en ook in talryke tydskrifverhale word die mens meer en meer hoofsaak. Deur die genoemde skrywers is realistiese werk van goeie gehalte gelewer. Oor die algemeen moet egter geseg word, dat ofskoon ons goeie vertellers het, wat die kuns van aanskoulike voorstelling verstaan, daar nog uiters selde 'n karakter geskep is, wat deur plastiese uitbeelding en fyn, menskundige aanvoeling 'n blywende indruk maak. Daar is meer as een skrywer met 'n raak opmerkingsgawe, maar ons voel telkens asof die dinge meer deur 'n soort projeksie-apparaat bekyk word, as deur die oog van 'n kunstenaar. Wat Van Deyssel "de oppermacht der intuïtie" noem, ontbreek nog.

"The depiction of the external, objective, carnal, precedes in every form of expression of which we can have records, the consideration of the internal, the subjective, the spiritual. We go from shapes, and forms, and bulk, and externals, to the presentation of the life within."[48]

Daar is al genoeg aanduidings dat by ons die ontwikkeling dieselfde weg sal volg. En Stoddard toon aan dat dit ook op ander terrein die geval was. So het die skilders eers die Madonna met 'n oureool geskilder; later pas "illumined and glorified by a light from within."

Verskillende skrywers het op gelukkige wyse die inboorling geteken en ook hier is die strewe merkbaar om van die skildering van uiterlike eienaardighede oor te gaan tot die uitbeelding van dieper menslikheid. En naas die jagstories met hul bonte awonturereeks staan Sangiro se Sketse, waarin hy probeer "om die diere se gewaarwordinge uit hulle uiterlike beweginge te verstaan."[49]

Die groot behoefte aan leesstof in die moedertaal het meer as een skrywer, veral in die begin, uit pure vaderlandsliefde na die pen laat gryp. "Ons het 'n volk om te behou, ons het 'n nasie om op te voed, ons kan nie wag nie!"[50] was die wagwoord. In baie voorredes kan mens dan ook sien, dat die enigste doel van die skrywer was om die leeslus aan te moedig. So verklaar De Waal van sy Stompies, dat hulle "van geen besonder gehalte op letterkundig gebied (is) nie", "die enigste doel van die skrywer is om te help voorsien aan (lees in) 'n nasionale behoefte".[51] "Ons kan nie ons volk laat agterbly nie", sê Langenhoven by die verskyning van Stukkies en Brokkies (1911) en selfs in 1918 heet dit nog: "Die hele boek is maar 'n noodshulpie". Ook D.P. du Toit reken homself maar onder die "handlangers en knoeiers, wat somar roustene aandra vir die binnemure".[52] Onder sulke omstandighede hoef die groot gebrek aan tegniek, waarop in die volgende hoofstukke herhaaldelik sal gewys word, geen verbasing te wek nie.

Vandag is die toestand só verander, dat ons met die volste reg van alle aspirant-kunstenaars kan eis, dat hulle goed georiënteer is in die wêreldletterkunde, dat hul ten minste 'n begrip het van die algemeen erkende tegniese reëls, voordat hulle aan skrywe gaan. Ons kan ook met reg verwag, dat hulle geen uitgediende, outydse modelle navolg nie, dat hulle steeds in voeling bly met die literêre vooruitgang in ander lande. Maar aan die eise het nog net enkele voldoen en daarom het ons letterkunde allesbehalwe 'n moderne cachet.

Op taalgebied heers daar by die meeste skrywers groot onsekerheid. Daar is nog 'n soekery, 'n rondvallery om die juiste vorm te kry, wat natuurlik maklik verklaarbaar is, by 'n geslag wat gister eers geleer het om sy eie taal te skryf. By meer as een is die taal nog stroef en onbuigsaam, wanluidend en sonder ritme. Ander weer, soos Preller, wat goed op die hoogte van die moderne stylkuns is, skryf al in 1906 'n gekultiveerde taal, klankvol wegdeinend op bevallige ritme en telkens verrassend deur oorspronklike beeldspraak, ontleen aan Afrikaanse volk en bodem.[53] Uit tallose voorbeelde in die volgende hoofstukke sal blyk hoe gevaarlik diep die vreemde parasiete al deur die bas van die taalboom geknaag het, en hoeveel speurende sorg daar sal nodig wees om hulle uit te vroetel.

By enkele skrywers is daar 'n welbewuste strewe na mooiheid van klank en frisheid van segging, by die meeste egter 'n gedagtelose naskrywery van geykte Hoog-Hollandse beeldspraak. Gelukkig is daar ook al prosa geskryf, wat bewys, dat Afrikaans in smydigheid, in seggingskrag en klank alleen 'n kunstenaar nodig het om tot sy reg te kom. Wanneer ons let op die stroom middelmatige verse, dan blyk dit hoe nuttig Jacob Geel se uitspraak ook vir ons kan wees: "Laat ons het Proza bewerken: de echte Poëzie zelve zal er bij winnen".

§ 8. Krietiese Standpunt.

In die volgende hoofstukke word 'n poging gedoen om die letterkundige waarde van ons vernaamste prosawerk te bepaal. Wie bekend is met die toestande in ons land sal toestem, dat by die estetiese kritiek 'n verwysing na die kultuur-historiese waarde van die besproke boeke noodsaaklik is. In enkele gevalle word dit afsonderlik gedoen, maar hier kan met nadruk daarop gewys word, dat die meeste behandelde werke, wat ook al hul gebreke mag wees, en hoe primitief hul ook dikwels mag skyn vir iemand, wat op die hoogte van die moderne Europese lettere is, tog almal, byna sonder uitsondering, voortreflike dienste in ons taal- en kultuurstryd bewys het. Daarom pas dit ons om 'n eresaluut te bring aan al die voortrekkerskrywers, wat ons volk van 'n geestelike hongerdood gered 't, deur wie se liefdevolle ywer ons nie langer as doofstomme bywoners in ons eie land hoef te sit en swyg nie. 'n Eresaluut, nie alleen aan die begaafde artieste nie, maar ook aan die, wat in alle eenvoudigheid houtkappers en waterdraers was, toe die meeste nog stil gesit 't, of niks anders as spot oor had vir 'n beweging, wat 'n einde aan ons lang periode van geestelike knegskap gemaak het.

Die gevoel van piëteit hoef egter ons krietiese vermoë nie te verlam, mag ons nie belet om sonder doekies omdraai 'n estetiese oordeel uit te spreek nie. Dit sou 'n verkragting van ons gewete wees en 'n fatale uitwerking hê op die verdere ontwikkeling van ons jong letterkunde. Nou dat die taalstryd feitlik afgeloop is, word dit tyd om vas te stel, wat ons tot dusverre bereik het; om te waardeer wat skoon is, om te laak wat gebrekkig is. Tyd ook, om die voortbrengsele van ons kuns te meet aan die meesterstukke van die buiteland. Want ons wil vorentoe beur! Ons wil Suid-Afrika "hoog opstooten midden in de vaart der volken". Ons wil nie 'n pieperig-bleek kasplantjie hê nie, wat alleen 'n sukkelbestaan kan voortsleep in 'n vaderlandse broei-atmosfeer. Dit moet 'n kan-nie-dood wees, wat ook die kritiek van ons Dietse stamgenote nie kan ontwortel nie, in vaderlandse bodem geplant, maar tog bestand teen alle wind en weer.

Op dié gedagte is ook die krietiese beskouing in die volgende hoofstukke gebaseer. Wie dit daarmee nie eens is nie, sal op meer as een skynbaar onbillike oordeel stuit. Maar laat diegene bedenk, dat ons op kuns-, net so min as op ander gebied 'n laer kan trek en met doringtakke inmenging van buite afweer. Op die gevaar van isolasie is reeds in 'n vorige paragraaf gewys. As ons digters reeds so 'n hoë peil bereik het, dat selfs Europese fynproewers hulle werk kan waardeer, dan hoef ons prosaïste ook nie met minder tevrede te wees nie. Jong Suid-Afrika streef ook op kunsgebied vooruit en die kunstenaar wat laag mik, sal in 'n paar tiental jare skoon vergeet wees. Daarom moet ook ons prosakuns op 'n kosmopolietiese plan kom te staan, wat geensins denasionalisering hoef te beteken nie. In die stadium van ontwikkeling, waarin ons tans verkeer, kan 'n gemotiveerde kritiek, waarin breedvoerig op prinsipiële kwessies ingegaan word nuttig wees en daarna is ook in hierdie werk gestreef. As dit lei tot 'n ruimer belangstelling in ons prosakuns, tot meer vergelykende studie en 'n juister insig in letterkundige verskynsele, dan is die doel van die skrywer bereik.

Op die ooreenkoms tussen ons toestand en die Vlaamse is al dikwels gewys en dit geld ook van die kritiek. August Vermeylen sê: "Elke flamingant achtte het zijn plicht zijne algemeene gedachten in de godentaal weg te brullen of uit te kwinkeleeren. In het begin onzer herwording, na het jaar 1830, was de literatuur het voornaamste wapen der Vlaamschgezindheid geweest, en lang nog meende ieder taalstrijder dat wapen te moeten hanteeren. Het vergde dan ook meer dan gewonen takt van den kritikus, om zich niet schuldig te maken aan landverraad, als hij den rijmelenden taalbroeder wat minder "puik" moest verklaren."[54]

§ 9. Beperking van Onderwerp.—Indeling.

Die volgende bespreking is beperk tot oorspronklike prosa, wat meer of min tot die terrein van die skone lettere behoort. Buiten beskouing bly dus (a) suiwer wetenskaplike prosa, waaronder 'n groot aantal Afrikaanse dissertasies en die Populêr-Wetenskaplike Serie van die Nasionale Pers; (b) godsdienstige prosa, soos die kinderbybel van Ds. Conradie en 'n hele paar preekbundels; (c) vertalings en omwerkings; (d) kinderboeke. Daar word 'n poging gedoen om te bepaal in hoeverre ons historiese prosa, deur versorging van styl en ander artistieke kenmerke tot die gebied van die kuns behoort.

In § 7 is 'n algemene karakteristiek van ons prosa gegee. Op enkele strominge word daar gewys, maar tewens blyk ook hoe alles by ons nog in wording is. Veral by die romans en verhale is dit moeilik om tot 'n bevredigende indeling te geraak. Waar daar nog net vae aanduidings is van enkele hoofgroepe, en die meeste skrywers nog in verskillende rigtings rondsoek, word dit onmoontlik en ongewens om nou al kampe af te baken. Om dié rede is die voorkeur gegee aan 'n kronologiese indeling, wat onder ander die voordeel bied, dat die meeste skrywers as 'n eenheid kan bespreek word en, waar nodig, die ontwikkelingsgang in hul werk kan aangedui word. Op die manier is die verbrokkeling van 'n skrywer se werk soveel moontlik beperk. G.R. von Wielligh word in 'n afsonderlike hoofstuk bespreek, omdat hy in baie opsigte "'n Laaste stem uit die Genootskap van Regte Afrikaners" is. Vir die ander hoofstukke is geen opheldering nodig nie. Op enkele uitsonderings na word hier die Akademie-spelling gevolg.

VOETNOTAS:

[1] Vgl. Die Huisgenoot, Jan. 1922: Eerste Skrywers en Eerste Geskrifte in Afrikaans.

[2] Die vyftigste verjaardag van die Genootskap in 1925 mag seker nie ongemerk verbygaan nie.

[3] Dr. L. van Niekerk: De Eerste Afr. Taalbeweging (1916); Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk, deur Dr. J.D. du Toit (1917); Eerste skrywers deur G.R. von Wielligh (1918); S.J. du Toit, Geskidenis van die Afr. Taalbeweging (1880).

[4] Vgl. Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk, p. 203.

[5] Preller: Inleiding tot Die Vlakte, 5de druk, p. 7.

[6] Gesiteer deur Dr. J.D. du Toit: Ds. S.J. du Toit, p. 210.

[7] Vgl. Dr. S.P.E. Boshoff: Volk en Taal van Suid-Afrika, p. 62.

[8] J.H.H. de Waal in Die Burger, 12 en 13 Aug. 1921.

[9] Dr. T.B. Muller: Die Geloofsbelijdenis van 'n Nasionalis. (1913), p. 8.

[10] Preller: Inleiding tot Die Vlakte, 5de druk, p. 12.

[11] Die taalstryd het Dr. E.C. Pienaar beskryf in: Taal en Poësie van die Twede Afr. Taalbeweging. Vgl. daarby egter Hoofstuk III.

[12] Dr. W.J. Leyds: Het Insluiten van de Boeren-Republieken I, p. XI.

[13] Vgl. L. v. Niekerk: De Eerste Afr. Taalbeweging1, p. 64.

[14] De Volkstem, 18 Aug. 1906.

[15] Ek kursiveer.

[16] Die Huisgenoot, Julie 1919.—Prof. J.J. Smith. Vgl. ook Hoofstuk III, § 3.

[17] Neerlandia, Sept. 1913.

[18] Vermeylen: Verz. Opstellen.

[19] Carel Scharten: De Roeping der Kunst, p. 5.

[20] Vgl. my artiekel: Kuns regeringsaak,2 Die Brandwag, Jan. 1921.

[21] Taal en Poësie2 ens. p. 110-117.

[22] Die Banier, Aug. 1921. Dr. Steyn se verdienstelike artiekels oor Die Dietse Bond het seker reg op meer algemene belangstelling en behoort herdruk te word.

[23] Die Huisgenoot, Nov. 1921.

[24] Dr. E.C. Pienaar: Taal en Poësie2 ens., p. 47.

[25] Die Brandwag, Junie 1917.

[26] id. 15 Aug. 1911, Skrywers en Gekrifte, deur N.N. (Jan Celliers).

[27] Die Banier, Okt. 1921. Het Geleerde Jong Suid-Afrika 'n Program?

[28] Akademie-Jaarboek I, p. 94.

[29] Dr. H.J. Steyn: Die Banier, Des. 1921.

[30] Akademie-Jaarboek V, p. 89.

[31] Id. I, p. 83. Die Afrikaanse Volksziel.

[32] Het Calvinisme en de Kunst.

[33] Die Huisgenoot. Feb. 1919.

[34] Vgl. Jaarboek I, p. 49 vlg. en p. 14. Vgl. ook Dr. G. Besselaar: Z.A. in de Letterkunde, p. 95.

[35] In die pers is aangekondig, dat D.J. Smal, die bekende yweraar vir gelyke taalregte na die buiteland gaan vir tegniese toneelopleiding.

[36] Akademie-Jaarboek I, p. 92.

[37] Jaarboek III, p. 54 vlg.

[38] Jaarboek, p. 67. Vgl. ook sy oordeel oor Beets in V, p. 95 vlg.

[39] V, p. 103.

[40] III, p. 68.

[41] Die Banier, Okt. 1921 na aanleiding van die tydskrif: Het Getij.

[42] Vgl. § 5.

[43] Dr. W.M.R. Malherbe in 'n voorwoord by Die Veldblommetjie.

[44] De Roeping der Kunst, p. 399.

[45] Vgl. Jan Celliers: Die Roman. Die Huisgenoot, Aug. 1919.

[46] t.a.p.

[47] Die skrywer is J.W. van Kaapstad.

[48] Stoddard: The Evolution of the English Novel, Chapter I.

[49] Voorwoord.

[50] Jan Celliers in Die Volkstem, 19 Junie 1907.

[51] Voorrede 2de druk.

[52] Voorrede: Sy Pa se Skuld.

[53] Vgl. b.v. sy Persoonlike appresiasie van Joh. van Wyk, De Volkstem, 18 Aug. 1906.

[54] Verz. Opstellen II, p. 149


HOOFSTUK II.

Polemiese Prosa.

"Ik houd van woorden, die op mij neêrbonken als vallende balken, van woorden, die mij voorbijsissen als kogels", sê Lodewijk van Deyssel. Sulke woorde van "roode gramschap" en "gele spotternij" sal in die volgende oorsig telkens aangehaal word met die doel om daarop te wys, dat enkele van ons strydskrifte oor die taalkwessie, nie alleen van histories, maar ook van letterkundig belang is. Hier word dus geen gedetailleerde geskiedenis van die taalstryd gegee nie—dit het Dr. E.C. Pienaar in sy dissertasie gedoen[55].

Met die oprigting van die tydskrif, De Goede Hoop, in Julie 1903 onder redaksie van Adv. J.H.H. de Waal, 'n algemeen erkende voorstander van Afrikaans, wat al sedert 1897 bydraes in dié taal gelewer het in Ons Land[56] kry die Twede Beweging vaste vorm. As eindpunt van die taalstryd kan beskou word 7 November 1919, die dag waarop die Kaapse Sinode Afrikaans as offisiële kerktaal naas Nederlands erken het. Wat Ds. N.J. Brümmer in 1909 gesê het geld ook tans nog: "Dit is wel waar, dat so nou en dan nog een of ander Rip van Winkel uit syn slaap opflikker en teen Afrikaans uitvaar, maar dit is maar die stuiptrekkinge van 'n slang wat swaar vervel."[57]

In die sestienjarige stryd het daar 'n groot aantal polemiese geskrifte verskyn, aanvanklik in Hoog-Hollands weens die groot vooroordeel teen die moedertaal, maar later meestal in Afrikaans. Reeds in die twede nommer van De Goede Hoop[58] moet De Waal "'n geachte correspondent uit Stellenbosch", wat gekla het oor "te veel Afrikaansch" daaraan herinner, "dat Kaapsch-Hollandsch bij velen bijval vindt en hoe langer hoe meer als zelfstandige taal erkend wordt." By sulke kalme teregwysings het dit natuurlik nie gebly nie en De Waal het later onder die skuilnaam Jan van Rosenburg die teenstanders meer as een kopskoot gegee.

Twee jaar later, op 19 April 1905 begint die stryd ook in Transvaal, wanneer Gustav Preller sy reeks artiekels Laat 't Ons Toch Ernst Wezen in De Volkstem publiseer. Dit is 'n kloek, goedgedokumenteerde manifes, wat met onverbiddelike logika al die argumente van die teenstanders ontsenu en as gevolg gehad 't die stigting van Die Afrikaanse Taalgenootskap, op 13 Desember 1905. In Julie 1905 word Preller se artiekels met weglating van die eerste gedeelte en voorsien van 'n nuwe inleiding in brosjure-vorm uitgegee, met die ondertietel: Gedachten over de aanvaarding ener Afrikaanse Schrijftaal.[59] Afgesien van die historiese betekenis van Preller se brosjure verdien dit, ofskoon nog in Nederlands opgestel, ook uit letterkundig oogpunt 'n ereplaas onder die polemiese literatuur van die Twede Beweging. Met 'n forse stem verkondig hy die waarhede, wat vandag so vanself sprekend lyk, maar sestien jaar nodig had om algemeen ingang te vind.

In die polemiek van dié jare klink daar uit meer as een artiekel 'n warme oortuigingsdrang op. Met die stryd vir die vereenvoudigde spelling (1904) het dit krioel van spellingdeskundiges en nou was weer iedereen filoloog! "In ons vaderland kan het gebeuren dat uw schoenmaker meer theologiseert dan uw zoon, die student is in de theologie," sê Allard Pierson in Intimis. Lees mens filologie in plaas van teologie, dan was dit presies ons toestand. Onder al die dilettante-wysheid en verwarde taalbegrippe kom egter ook telkens brokstukke van entoesiastiese welsprekendheid voor, waaruit blyk dat heel die volk in roering was. Naas die lekeredenasies staan dan die kalm-wetenskaplike betoë en ernstige pleidooie van die leiers, wat so stadig aan met hul mokerslae alle opposiesie vergruisel het.

Van die begin af was daar al sekerheid van die uiteindelike oorwinning. "'n Mens kan net sowel perbeer om die see met 'n besem te keer as die Afrikaanse taal met sulke klein dingetjies", sê Preller op 9 Augustus 1905 in De Volkstem. Met groot erns pleit Jan Celliers twee jaar later vir 'n eie letterkunde: "Maar dit is tog voor elke Afrikaner duidelik dat slegs 'n eige letterkunde, uit Afrikaanse grond opgeskote, deurtrokke van die Afrikaanse gees en v'r Afrikaners verstaanbaar, deur en deur in taal en inhoud, dat so 'n letterkunde alleen bereken is om hier werkelik doel te tref. Wie wil ons help om so 'n letterkunde voor ons mense op te bouw? Ons het 'n volk om te behou, ons het 'n nasie om op te voed; ons kannie wag nie!"[60]

En in die volgende jaar roep Dr. D.F. Malan: "Dit is ons Ernst!" "G'n taalgeleerde kan 'n werkelik lewende taal maak nie, ewemin als 'n skeikundige op syn laboratorium di lewe kan skep. Di taalgeleerde kan di taal alleen vind en analiseer. Iedere lewende, kragtige taal word gebore op di bodem van di volkshart en di volksgeskiedenis en leef alleen in di volksmond. G'n volk kies ooit syn spreektaal of, voor lange tyd selfs syn skryftaal nie, op raad van eksperte. Volke en tale word saam gebore en sterf saam."[61] Op helder wyse set hy uiteen, dat Nederlands nooit ons volkstaal kan word nie, dat Afrikaans onuitroeibaar is. "Di Afrikaanse Taalbeweging is niks minder nie dan 'n ontwaking by ons volk tot 'n gevoel van eiewaarde en tot di roeping om 'n waardiger plaas in te neem in di wereldbeskawing."[62]

Hoe die "gevoel van eiewaarde" al sterker word, blyk uit die brosjure Die Afrikaanse Nasie (1908) waarin Prof. N.J. Brümmer 'n uiteensetting gee van wat hy as 'n nasie beskou. Hy konstateer, dat tot nog toe alleen die Hollandse Afrikaners met die benaming kan aangedui word "omdat hulle 'n eie en aparte volkssiel besit en hulle daarvan skerp bewus geword het". Hy ontken alle "nasionale eenheid" tussen Nederland en Hollands Suid-Afrika. "Om die eerlike waarheid te sê, is daar meer soortgelykheid in wereldbeskouing, gees en strewe tussen die Afrikaner en die Skot, dan tussen die Afrikaner en die Hollander....[63]. Wat die Hollandse letterkunde betref, die veelbesproke kultuurskat—die bestaan nog vir enkele spesialiste onder ons volk, en sekere uittreksels daarvan bestaan ook soms vir studente, solank as hulle vir 'n eksame of prys werk. Ons volk as volk dra van Hooft, Vondel, Cats of Bilderdijk net so min kennis as van die man in die maan. Van Couperus, Van Eeden, Perk en Kloos wil ek nie eers praat nie. Of hierin ooit verbetering kan kom, betwyfel ek sterk. Die Hollandse skrywers skryf nie vir ons nie, en al sou hulle ook vir ons skrywe, dan raak hulle tog ons volkssiel nooit." Dit is verstaanbaar, dat sulke opmerkings in die hitte van die taalstryd gemaak is, maar Brümmer gaan in sy militante ywer tog té ver, al sit daar natuurlik 'n kern van waarheid in die bewerings. Die werk van sulke geestelike aristokrate soos Hooft en Vondel kan nooit deur die hele nasie gewaardeer word nie. Sonder ons Cats uit, dan sou dieselfde bewering met die grootste stelligheid van die Nederlandse volk self kon gemaak word. Carel Scharten sê b.v.: "Het leelijke, het onwegwerkbare feit is juist, dat Vondel vergeten worden kon, en ongelezen blijft en ongelezen blijven zal.... Er zijn altijd de dichters voor weinigen naast die voor heel een volk geweest."[64] En in ander lande gaan dit net so. Edward Garnett sê b.v. van Engeland: "Ons toneel is het grofste in Europa en onze verwaarlozing van het drama van Shakespeare is werkelik een schandaal."[65]

Clément Vautel het nog onlangs in verband met die Molière-herdenking opgemerk, dat die Franse dié kunstenaar alleen met die lippe eer. "Ieder doet alsof hij Molière op zijn duimpje kent. Maar, in gemoede, is al dat fraais, en is al die wierook nu wel echt? Is die geestdrift die op een vastgesteld uur losbarst, niet veeleer zelf ook komedie?"[66]

Met 'n pleidooi vir 'n Afrikaanse letterkunde sluit Brümmer sy betoog. "Ons het lang genoeg ons sielkos in blikkies ingevoer en die ingelegde en ingevoerde kos vergewe 'n mens dikwels." Maar die manier waarop hy hom die ontstaan van 'n letterkunde voorstel, getuig van weinig insig. "As elkeen van nou af aan begin om vir sy boek stof bymekaar te maak, dan sal dit wel nie te lang duur nie of ons het 'n eie letterkunde"! Dis maar gelukkig dat al die Stellenbosse studente nie die raad opgevolg het nie!

Saam met die Unie gebore, staan Die Brandwag vanaf 1910 trou op die uitkyk en telkens as artiekel 137 van die grondwet veronagsaam word, het sy waarskuwingsienjaal weerklink. "Die Afrikaner moet beleefd wees en ware beskawing voorstaan, in woord en voorbeeld, maar nie tot so 'n mate dat hy syn eige taal verwerp, nie tot so 'n mate dat hy aan Filistijne die wapens in hande gee waardeur juis die hogere beskawing en verdraagsaamheid vernietig sal word, deurdat die Afrikaner-aard met die Afrikaner-taal vernietig word." (Die Brandwag, 1 April 1911.) Van maand tot maand het die redakteur, Dr. W.M.R. Malherbe die stryd vir Afrikaans voortgeset en 'n hele reeks warm pleidooie is daar te vinde in die redaksionele kolomme, veral van die eerste jare.[67]

In 1911 verskyn Leipoldt se digbundel Oom Gert Vertel, voorafgegaan van 'n weldeurdagte, besadigde pleidooi van J.J. Smith, tans professor in Afrikaans aan die Stellenbosse Uniwersiteit. "Die werk van die Afrikaanse Beweging is.... 'n oortuigingswerk; en 'n oortuigingswerk moet dit altoos bly. 'n Vyand kan jy beveg, en desnoods dwing, maar 'n vrind en 'n bloedverwant, met dieselfde belange en dieselfde ideale as jyself, moet jy oortuig—as jy ten minste nie jou eie ondergang wil bewerkstellig nie."[68] Die oortuigingswerk doen Smith op meesterlike wyse. Hier is 'n geskoolde filoloog aan die woord, wat met kennis van sake praat. "Ek grond my mening op die geskiedenis van die wording van ander tale en op die herlewing in ons volk."[69] En met onverbiddelike logika bewys hy, dat die argumente van die teenstanders "alles maar slim praatjies" is!

Ook Die Geloofsbelydenis van 'n Nasionalis deur Dr. T.B. Muller is 'n pragstuk van logiese redenering. Hy skets die ontstaan van ons nasionale bewussyn. "Die puinhope van die twee republieke het die vrugbare bodem geword, waarin die nuwe Afrikaanse Nasie wortel, van die Kaap tot in Kongoland, en van Duits Suid Wes tot Brits Oos Afrika." Hier word die vaste stem gehoor van een wat na 'n goedomlynde doel streef. "In plaas van na-praat, wil ons nou saampraat en met ander nasies meewerk in die algemene taak van die mensheid." En op oortuigende wyse bepleit hy die middele om die doel te bereik, terwyl alle jeugdige voortvarendheid getemper word deur die besadigde erns van een wat sy verantwoordelikheid as leier voel. "Die karaktervorming van 'n nasie moet plaasvind deur 'n langsame groeiproses; deur voort te gaan op die weg reeds ingeslaan; al wat goed is, te ontwikkel en al wat nadelig is weg te kap.... Die gevaar van die oormoedigheid van 'n jong nasionale entoesiasme is ek my wel bewus van; maar ek weet ook, dat sonder entoesiasme niks groots op aarde tot stand kan kom nie...." 'n Warm entoesiasme klink dan ook heerlik op in sy hele betoog en met gloedvolle oortuiging leg hy sy "geloofsbelydenis" af: "Ek self sou my erfenis as lid van die Afrikaanse nasie vir geen ander burgerreg in die wereld wil verruil nie. Die grote nasies van Europa is wel oud en sterk en ervaringsryk, ... maar hul dra ook reeds die spore van hul ouderdom, en rypheid begin al op meer dan een plek in afgeleefdheid oor te slaan.... By ons is dit so anders. As 'n jong nasie sien ons amper ons hele loopbaan te gemoet. 'n Jong volk leef vorentoe. Sy leuse is die hoop; geduld en moed sy wagwoorde; 'n jeugdige entoesiasme sy dryfveer; en sy ywer is nog ongekoel deur die ontnugterings van mislukking. Vir my altans is dit veel heerliker my druppeltjie te probeer bydra by die self-bewuswording en karaktervorming van 'n jong nasie dan om te help dokter aan; die kroniese kwale van 'n oue ... Misluk ons pogings en moet ons ondergaan, neergedruk deur 'n vrag van onoorkomelike moeilikhede, dan is dit in elk geval beter om te sterf as eerlike stryders op die slagveld, dan om te versink in 'n bedwelmende luilekker eentonigheid van niksdoen.... Laat Jong Suid-Afrika sy nasionale geloofsbelydenis onderteken, nie met sy naam, maar met sy lewe en dan het ons niks te vrees vir die toekoms nie!" Hoeveel erns daar in die woorde lê, blyk uit die feit, dat Muller in 1905 'n Rhodesbeurs van £ 300 per jaar om in Oxford te studeer van die hand gewys 't, omdat hy "eenvoudig nie geld kon aanneem nie van 'n man wie se politiek hy verfoei en wie hy beskou as die aartsknoeier teen die vryhede van die Afrikaner-volk."[70] In 1918 is hy aan die griep oorlede in die ouderdom van 34 jaar. Om die warm idealisme, gesonde argumente en forse styl is Muller se brosjure een van die beste stukke van ons polemiese prosa.

Namate die Afrikaanse Beweging sterker word, neem die stryd ook in felheid toe. In Julie 1914 word die maandblad Ons Moedertaal opgerig as orgaan van die A.T.V., onder redaksie van J.J. Smith, T.B. Muller en G.C. Tomlinson. Spoedig moes die teenstanders uitvind, dat die blad "geen heuningtou" was nie, "waarop allerhande soorte goggas hulle kan kom vergas.... Ons Moedertaal is veeleer 'n eselskakebeen soos die wat Simson met sulke dodelike gevolg op die Filistynse vyande van syn volk gebruik het ..." (15 Okt. 1914). Die offisiële erkenning van Afrikaans deur drie Provinsiale Rade het die redaksie oormoedig gemaak. "Nou behoef die Afrikaanse Taalbeweging nie langer te stry nie als Ismaeliete, teen wie alle man se hand gekeer is; hul veg nou met die steun van die landswette agter hul rug" (15 Julie 1914). En op kwaai-sarkastiese wyse het hul geveg! Veral in die kolom Taalnuws en Opmerkings word nydige klappe uitgedeel. Die beste Nederlands van Afrikaners noem hul nie meer "amper-Nederlands" nie, maar "stertjie-Afrikaans", en as Ons Land per ongeluk "het universiteit" skryf, dan sê Ons Moedertaal: "Werkelik dis treurig dat daar in ons verligte dae nog soveel deurgekapte erdwurms is wat doelloos in twee rigtings tegelyk spartel." (15 Okt. 1914). Maar later word die redaksie moeg om die "gebasel" van teenstanders te "verpletter", omdat hul "ander werk het als om slapers en dromers te probeer wakker maak." (1 Nov. 1915.)

Die "ander werk" was dan ook van meer ernstige aard. B.B. Keet pleit op oortuigende wyse vir 'n Afrikaanse Bybel. "Daar is ontsaglik veel onderskeid tussen 'n taal waarmee ek my kan behelp en 'n taal wat ek liefhet; en al was daar g'n ander rede nie, sou ek hierdie rede afdoende beskou om te streef naar die doel wat ek my voorstel." (15 Sept. 1914.) Fagan en Tomlinson se belletristiese bydraes word onder 'n ander hoofstuk bespreek.[71] Smith set sy werk voort in Die Huisgenoot, waarin Ons Moedertaal in 1916 opgaan.

Tot die polemiese prosa moet ook gereken word G.S. Preller se twee Taal-Tiepes, Die Engelse Afrikaner en 'n Predikant (Die Brandwag, 15 Feb. en 15 Maart 1914.) Jiems, 'n Engelse Afrikaner, wat saam met die Boere veg, raak aan stry met sy maats oor Afrikaans, wat volgens hom "te arm (is) om te bestaan".

"Wat is 'n "stoep" op Engels, Jiems?" wou een van die seuns weet ... Dit was ráak. Almal is tjoepstil.—"En wat bedui julle vir koppie, spruit, veld, kommando ...?"

Nou was 't Koen se kans om in te vryf: "Dáar het jul dit," sê hy, "die skatryke mooie Engelse taal leen selfs woorde uit ons armoedige Afrikaans." So raak Jiems getroef deur die Boereseuns, wat selfs vir die lastige sportterme raad weet!

Ook sy eerwaarde, wat al die populêre argumente teen Afrikaans aanvoer, kry goed op sy baadjie. Hy wil: "Gij zult de dorschende os niet muilbanden" vertaal met "Jy moet die os wat koring trap die bek nie toebind nie". Maar sy optimistiese teenstander weet vir alles raad: "Vir ons is Afrikaans die taal van die Toekoms in ons wêrelddeel, ons glo daarin, ons werk en leef daarvoor."

"Ons skryf tien jaar na bowestaande gedagtewisseling. En, kyk,—'n mens moet jou oë vryf om séker te maak dat 't regtig só is! Maar dit is so! Sy hoogmogende is 't nou so waarlik "'n lus geworde om gade te slaan hoe daar gewoel word in Afrikaans, en om die eerste vrugte daarvan te proef!" En selfs in minder dan tien jaar, selfs in vyf jaar is die wonder geskied!

Dit hoef ons dan ook nie te verwonder nie, dat 'n warm kampvegter vir Afrikaans, C.J. Langenhoven, wat nog in 1911 die oorsetting van die psalme in Afrikaans as heiligskennis beskou 't, in 1922 self een van die eerstes is om die hand aan die ploeg te slaan! In Ons Land van 12 September 1911 skryf Langenhoven: "Als die Hollandse Kerk my sou vraag om die Bybel, die psalm- en gesangboek en die formuliere, wat aan my hart geheiligd is deur my vroegste herinneringe in Afrikaans o'er te set, dan sou ik dit ten enemaal weier, al had ik die bekwaamheid daarvoor; en ik sou die voorstel (hoe onlogies ook) beskouw als heiligskennend. Dit sou vir my smaak 'n parodie wees."

Een van die laaste, maar ook een van die welsprekendste pleidooie vir Afrikaans het Langenhoven gelewer op die vyfde jaarvergadering van die Akademie in Julie 1914.[72] Hierin tril die stem van 'n fel-bewoë gemoed so innig, dat dit meer geword 't dan 'n episode in 'n verbygaande stryd, en op sigself beskou, kunswaarde het. Dit is die skone kristallisasie van gevoelens en gedagtes, wat jare lank in die hart van die volk geleef het, maar nog nie hul definitiewe uitdrukking gehad het nie. En al die "dorstige vulletjies", wat jare lank gesukkel en geploeter het langs hopeloos versperde ompaaie om by die dam te kom, weet maar al te goed hoe raak en hoe juis Langenhoven die vermoeienisse en vernederinge van die pynigende dwaaltog geskilder het! "Ik denk terug met bitterheid aan die verdere verlore lewensjare wat dit my gekos het, nadat ik skool en kollege verlaat, om vir myself te doen wat my leeraars vir my moes gedaan het: om dieselfde intellektuele skool-kultuur deur lange en pynlike self-oefening om te set en tot my siels-besitting te maak" (p. 427).

Dit is veral op die gevoelskant, die psigologiese kant van die saak wat Langenhoven nadruk lê. "Ik wil namelik sukkel om 'n skerpe lyn te trek tussen die gebruik van 'n taal als 'n verstands-medium, en sy gebruik als 'n gevoels-medium; en in albei gevalle nie alleen als 'n middel tot uitwendige openbaring nie, maar als 'n middel tot inwendige bewustsyn" (p. 428).... "Dit mag vir elke Afrikaner ewe verstaanbaar wees om te lees: "Die huis se muur is stukkend", of om te lees: "De muur van het huis is stuk". Eersgenoemde uitdrukking roep 'n beeld van 'n puinval voor sy gees. Laasgenoemde doet dit ook op 'n manier. Maar in die eerste geval is beeld en uitdrukking deur onheuglike lewensgewoonte onafskeidelik vasgeheg aan mekaar. Laasgenoemde uitdrukking val nie met dieselfde spontane voegsaamheid in die gedagte-wereld, waar die beeld uit die elemente van vroegere ervaringe deur die geheuge opgebouw word nie" (p. 440).

Met 'n fris oorspronklikheid word al die ou argumente teen Afrikaans weggebesem. Bitter is die aanklag teen die Hoog-Hollandse literatuur van Suid-Afrika; daarin "mankeer die goddelike vuur—die element wat onbepaalbaar is, wat jy nie kan voorskryf nie soos jy nie van elke wa-skilder en klip-kapper met paster- en duimstok-voorskrifte kan 'n Murillo of 'n Michael Angelo maak nie" (p. 445). En die gevolg is: "'n land sonder skrywers en sonder lesers; 'n beskaafde nasie sonder eie literatuur. Die inspirasie ontbreek.... Ontbreek! ontbreek!! ontbreek!!! in ons heerlike Suid-Afrika, waar elke berg en elke vlakte skreeuw om digters, waar elke tafereel uit ons roemryke geskiedenis skreeuw om skrywers" (p. 447). Maar met voldoening word gewys op die ontluikende letterkunde in die moedertaal. "Ons wat so lank kwynend gesuig het aan die artifisiële gomelastiek tepels van die ingevoerde botteltjies dooie kondens-melk, begin nou aan ons eie moederbors gevoed en verpleeg te word" (p. 449).

Treffend is ook die aanklag teen die skoolsisteem. "Die Afrikaanse kind (word) deur les en boek, voorskrif en voorbeeld ingeprent en wysgemaak dat die taal van sy huis nie 'n taal van kultuur en beskawing is nie" (p. 460).

Deur die hele betoog klink "die smeekstem van 'n Afrikaner met mede-Afrikaners om te erken wat syne en hulle s'n is, wat dit tog maar altyd sal bly, wat nie van die gehalte is om ons voor te skaam nie" (p. 461). En by die laaste gedagte tril die stem van gloeiende verontwaardiging: "Te skaam nie, menere! Skande op daardie skaamte! dis onse kostelikste roem, onse hoogste besitting: die één enigste witmans-taal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar gekom het nie, wat die spore van die lief en leed draag van alles wat ons en onse vadere hier deurleef en deurworstel en deur triumfeer het; die één band wat ons als nasie aan mekaar heg; die uitgedrukte siel van ons volk" (p. 461).

In 1919 toe die Kaapse Sinode oor die erkenning van Afrikaans moes besluit, kom Langenhoven nog 'n keer met 'n vlammende aanklag: "Komt aan, gij de Villiers's en Steytlers. Gij hadt er nu honderd jaar tijd voor—(om 'n letterkunde op te bou) gij en degenen die het voorrecht hadden Hooghollands evengoed als gij, of beter, aan te leren—zoals de priesters in de Middeleeuwen het Latijn aanleerden. En wijst ons, mijne heren, waar gij gezaaid hebt? Waar is uwe oogst? Het volk van Zuid-Afrika hongert te midden van de overvloed zijner mededingers. Ziet, zoals van gemelde priesters, is uw akker dor en onvruchtbaar gebleven. Ge hebt ons kultuurhuis voor ons woest gelaten: gij en uwsgelijken, de bevoorrechten onder een onbevoorrecht volk wier plicht het was geweest in onze bittere behoefte te voorzien. Ge kunt me geen enkel boek noemen—ook niet tot één toe—dat, door een Afrikaner in 't Hooghollands geschreven in al de tijd toen men, volgens u terecht, het Hooghollands onderwees en schreef en predikte, vandaag als een volksbezitting in de letterkunde leeft. En deze dorre landen van u voorbijgaande zijn wij begonnen—een korte halve generatie geleden—met onze gemene kombuistaal. En de werken onzer schrijvers in het Afrikaans hebben ons nu reeds een eigen letterkunde bezorgd, zodat de Afrikaner ook in de kultuurwereld zijn hoofd niet meer met schaamte hoeft te laten hangen. Denkt gij, dat is niets? Dat wij gearbeid hebben waar degenen die ons nu tegenstaan niets deden?... Komt het u als een kleinigheid voor dat ook deze nieuwe tempelbouw belemmerd zal worden door de Rehums en de Simsais?" So skryf Langenhoven in sy brosjure De Heilige Ennen van Rehum en Simsai, wat onder die lede van die Sinode versprei is. Hoe mooi word daarin die deftige toon met sy bybelse wendinge vir die hoogeerwaarde here getref! Dit was sy antwoord op die brosjure Onze Afrikaans-Hollandse Spreektaal, van Melius de Villiers met 'n aanhangsel van Ds. A.I. Steytler (1919), waarteen ook J.J. Smith in Die Huisgenoot op kalm-wetenskaplike wyse te velde getrek 't.[73]