WeRead Powered by ReaderPub
Die prosa van die twede Afrikaanse beweging cover

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging

Chapter 38: VOETNOTAS:
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

A scholarly survey examines prose produced during the early twentieth-century Afrikaans literary revival, tracing its historical context, cultural conditions, and stylistic tendencies. It analyzes polemical writings, periodical contributions, and works by principal prose authors, supplying biographical notes and close readings of novels, short stories, satire, didactic pieces, animal sketches, travel writing, and historical prose. Chapters address tensions with earlier literary currents, risks of cultural isolation, Calvinist influence on aesthetics, language problems including anglicisms, and features of dialogue and narrative technique. The author assesses critical debates and offers a subject-based taxonomy and evaluation of the movement's thematic and stylistic limitations.

Hy tok-tok, hy tok-tok,
Hy tok-tok, hy tok-tok, ens. ens.[128]

Dit is die enigste ritme, wat daar in Von Wielligh se prosa is. Gevoel vir die klankwaarde van woorde, vir die fyner modulasies, vir die mooi melodie van glydende woordereekse besit hy nie. Ewe geduldig stryk hy sy ramkie en op die eentonige deun "kerf" hy riel na riel uit. Dit is die totaalindruk. In Jakob Platjie word ons af en toe deur 'n mooi klankeffek verras en ook in die Boesman- en Diere-Stories, maar in Huis en Veld dreun die dowwe preektoon dwarsdeur.

Herhaling van dieselfde woorde is 'n vaste kenmerk van sy styl. "As 'n man wild na huis bring, dan word die afgekoude bene 'n entjie van die deur van sy hut op 'n hopie gegooi. So het elke man in die kraaltjie sy eie beenhopie. Die afgeëte bene, so lank geëet word, word in die hol bak van die borsbeen van 'n volstruis geplaas. Is daardie beenskottel vol bene, dan word dit na die beenhopie gedra en daar neergegooi." (Boesman-Stories III p. 34-35.) En so gooi Von Wielligh nog 'n paar paragrawe aldeur bene op die beenhopie, totdat dit 'n berg word! In Huis en Veld (p. 145) kom behalwe ander herhalings voor: herstel—stel—stel, alles in een paragrafie.[129]

"Onder sy aanvoer kom hul altyd vierkant veilig anderkant uit" (t.a.p., p. 67). "Dit het Daan gesê, en hy gaan toe op 'n verraderlike blok sit, wat sy plesier daarin vind om óm te slaan en die een wat daarop wou sit, nog die moeite te gee om dit weer met sukkel in ewewig op die grond te plaas en dan daarop te sit, met meer aandag wat onder as wat voor die sitter plaasvind" (t.a.p., p. 24). Afgesien van die storende herhaling is dit seker besonder lompe styl. En sulke voorbeelde is daar soos bossies![130]

Met nog een tok-tok-deuntjie kan ons volstaan. "Daar was nie lopende water in die kloof nie; alleen was daar 'n gat water onder 'n waterval. Daar was geen ander ingang tot die kloof as van onder af nie. Ons vind die dooie kalf bo in die kloof digteby die waterval en daar het ons die slagyster gestel soos dit behoort te wees, sonder die yster aan iets vas te maak—anders draai die tier sy poot daarin af. Lê die yster los, dan kan hy wel 'n entjie daarmee stap, dog van ontvlug is glad geen sprake nie, daar die yster te swaar aan sy seer poot hang." (N. Seeling p. 77-78.) "Ma, Pa vra of Ma nie Pa se osse na die wa sal laat ja nie?" is kindergestamel van dieselfde klankwaarde.

Vir kombinasies van verwante gedagtes is Von Wielligh baie lief en dikwels gee hy in aliis verbis idem. "Dit vul ons hart egter met blydskap om met vergenoegdheid 'n terugblik te mag werp ... (Eerste Skrywers p. 7); "Maar gelukkig het 'n verwydering van liefde en vrindskap die lede nie van mekaar kon skei nie. Vrinde as altoos!" (t.a.p., p. 49)—wat onsin is! "Hulle (verstaan: die Engelse) beskik oor wêreldberoemde skrywers en vertalings uit ander tale" (t.a.p., p. 91); "Hy het die Britse gesag verlaat en vaarwel gesê, en met sy Groot Trek het hy in 1836 die Kolonie verlaat ..." (t.a.p., p. 103); "'n lappies dorp van tente of 'n blikkies dorp van sinkhuise" (H. en V., p. 111); "Rusteloosheid egter gun hom geen rus nie"[131] (t.a.p., p. 6); "die renbaan het Freddie se beurs omgedop, sodat die binnekant nou buite sit" (t.a.p., p. 128); "alles natuurlik onder vier oë en in diepe vertroue" (J. P. p. 94); "Die trekboere het in tente, maar liefs by voorkeur in matjieshuise gewoon" (t.a.p., p. 92); "die man se lyf was amper kaal en met min klere bedek" (Boesman-Stories I, p. 148). Dieselfde neiging om tog maar veral niks aan die fantasie van die leser oor te laat nie blyk ook uit tal van nuttelose opmerkings by die Boesman-Stories. Die tietel van No. 58 in deel III lui: "Nog meer oor Bygeloof" terwyl die Opmerking(s) ons nog ewe deftig verseker: "In hierdie Verhaal sal ons nog meer vertel oor die bygelofies van Boesmans"! By No. 53 en elders gaan dit net so!

Ick sie: geen dingh en is soo kleyn,
Of 't gaet u tot het innigh breyn:
Geen dit of dat, geen boere-schuyt,
Of gy en treckt er voordeel uyt.[132]

As Von Wielligh in die sewentiende eeu geleef 't sou hy seker 'n tiental emblematabundels geskryf 't. Wat van Vader Cats geseg is, geld ook van hom: "Niets is hem te gering; geen afstand is hem te groot, geen combinatie te zonderling; zijn blik volgt de vloo, dwaalt van de oester tot het haantje van den toren."[133] "De voorstellingen (in Sinne- en Minnebeelden) zijn meerendeels ontleend aan het dagelijksch leven; een doorgehakte paling welks twee deelen zich zoeken te vereenigen, een brandend hout en een mooi meisje, eene papegaai in een kooi, een spinneweb, een windhaan, een rattenval, een bordurende juffer ... verwelkte rozen, een vlinder, eene fuik, enz."[134]

"Frans weer was soos sodawater: druk jy die prop in, dan bruis dit, maar die gas is gou uitgekook. Gou driftig, maar gou weer goed." (H. en V., p. 14.) Met 'n mooi plaatjie daarby sou dit 'n goeie sinnebeeld wees. Cats redivivus, maar dan tog in onderbaadjiesak-formaat, want van sy fyn vertellerstalent is daar by Von Wielligh weinig te bespeur. Dit is bekend, dat Cats twistery tussen man en vrou verdedig deur daarop te wys, dat 'n braakmiddel af en toe goed is vir die maag. Dit is wel iets na Von Wielligh se smaak: "Om iemand kwaai woorde toe te voeg, of om hom vomitief in te gee, kan jy iets onaangenamer terug verwag" (H. en V., p. 88). Dieselfde skerp "tegenstelling van verheven en plat" wat by Cats so 'n komiese indruk maak, tref ons ook by Von Wielligh aan. As Cats bevoorbeeld wil duidelik maak, dat die gedrag van iedere vryer noukeurig ondersoek word, dan sê hy:

Een vryer moet het lyf als op de rooster leggen,
Om daer, gelyck een worst, te worden omgewent,
Totdat men aen den reuck syn roet (vet) en reuzel kent.[135]

Von Wielligh verklaar met groot erns: "... so nutteloos as 'n horlosie sonder wysters, of so onhoubaar as 'n mosterd-pleister onder 'n hond se bors, net so sal die samelewing op aarde sonder vrouens wees." (H. en V., p. 121).

"Zeker, Potgieter had gelijk toen hij, met het oog op Huygens, zeide dat voor den waren dichter niets te laag is om het tot zich op te beuren. Indien de dichter het lage dan ook maar opbeurt. Dat doet Cats zelden. Gewoonlijk bukt hij zich of hurkt er bij neer ... Liefst houdt hij zich bij het dagelijksch leven; maar het dagelijksche wordt licht alledaagsch, het alledaagsche staat niet ver van het platte, het platte daalt gaarne af tot het ruwe."[136] So gaan dit ook met Von Wielligh. Dat hy sy boere ens. van die ou dae, beelde ontleen aan hul daelikse bedryf laat gebruik, is goed gesien. As Frans die slagter b.v. in Huis en Veld na aanleiding van 'n opmerking dat gebrekkige en sieklike mense nie behoort te trou nie sê: "Dus hulle is van egtelike Liefde uitgesluit. Hul moet hulle geluk in Vrindskap gaan soek—en is stompoor gesny en op die stoppelland geja." (p. 16), dan tiepeer dit meteens die man se hele persoonlikheid. Willie se grappie: "Ons het die ou jaar net vandag nog aan die puntjie van sy stert, vannag glip hy hand uit en slaan bolmakiesie oor die afgrond van die verlede" (p. 47) pas mooi in die koffiedrink-atmosfeer. Maar wanneer Dolf se vrou in volle geselskap sê: "dan maak Ma eers goed vuur op hulle asplekke" (p. 74), stap sy oor die grense van alle welvoeglikheid. Von Wielligh moet bedenk, dat wat uitstekend pas in Jakob Platjie nie orals kan gebruik word nie. Koos Fonk se mikstuur "maak vrolik en olik en dan moet daar weer van die hond se hare gehaal worde om op die hond se bytplek te sit" (p. 81). Sina is "vir die tronk so bang ... as 'n bobbejaan vir die hits van 'n gloeiende yster" (p. 5)—dit is raak opmerkings, wat ons dadelik as psigologies juis voel. Maar ongelukkig het die Hotnot-Griekwa-Boesman-suurdesem deur al Von Wielligh se werk getrek. Dolf se "beskouing omtrent sake het nie dieper ingedring as 'n speld in 'n aap se duim nie" (H. en V., p. 13); sy gestalte "laat iemand aan 'n bobbejaanpaal dink ... terwyl Frans iemand aan 'n ronde-rib skapie herinner" (p. 13)[137]; Hessie "kielie 'n kort stukkie op die klavier" af (p. 36); Dolf lyk "net verspot ... asof hy te veel galsterige varkspek geëet het" (p. 97) en in Staan jou Man sit "algar ... by hierdie tyd soos paddas danig erg van die gemmerbier opgeblaas" (p. 61); "Die son steek asof hy Fant in 'n groot stuk kaiings wou opsmelt" (p. 18); Soekie Grasman is "so grappig dat hy 'n hele vrag ape van lag sal laat uitskater" (p. 104) en druk Sytjie "om haar beenderige ribbe" (p. 131); "M.A. en B.A.-tietels was vir hulle net soveel wêrd as 'n broeksak vir 'n hond" (p. 149); "ons almal weet dat die troos wat hieraan ontleen is, maar altyd 'n handvol vlieë bly" (p. 244). Met sulke beelde sal Von Wielligh seker die outas en aias in die kombuis laat lag.[138]

Met eienaardige logika probeer hy om die plat taal van die Patriotters goed te praat: "'n Fout werd gevinde met die Eerste Skrywers, dat hul ongekuiste taal gebruik het. Maar dit vind 'n mens by die eerste skrywers van alle volke en die rede is hierin te soek: dat as iemand van 'n vlooi praat, dan is dit onbeskaaf, maar hy mag wel van 'n vlieg praat. Dis niks om van 'n koei te praat nie; maar pas op om van 'n bul te praat. Iemand kan sê: "dis leuenagtig"; maar "dis waaragtig" dan is dit vloek. In die opvoeding word hom geleer wat te sê en nie te sê nie. Dus hy word geleer hoe om in die sitkamer te praat. Alle dinge is geoorloof; maar alle dinge is nie oorbaar nie". (Eerste Skr., p. 38.) Met iemand wat hom van sulke argumente bedien, val daar nie te redeneer nie.[139] Dat "die eerste skrywers van alle volke" hul van ongekuiste taal bedien het, is 'n bewering wat stellig onwaar is in sy algemeenheid; bowendien kan die gebruik daarvan in die negentiende eeu beswaarlik geregverdig word deur 'n vergelyking met toestande van vyf of ses eeue terug.

In sy studie Ons Geselstaal verklaar Von Wielligh: "Dog iemand wat regtig meen om suiwer Afrikaans te bestudeer, moet peil tot die bodem om die Afrikaanse gedagtegang baas te raak. Hiervoor lewer Plat Taal ons 'n uitstekende geleentheid om te leer hoe woorde van suiwer gehalte te vorm. Dit wil sê, as ons meester van die Afrikaanse Plat Taal is, dan besit ons die sleutel om woorde van 'n hoë gehalte te smee; besit ons dan sulke doeltreffende woorde, dan word praalskrif op suiwer grondslae vir ons so duidelik as die son aan die hemel—altyd opklim, opklim tot die hoogste sport."[140] Von Wielligh is hier ongetwyfeld op die regte spoor, al raak hy ook verward in sy beeldspraak. Met plat taal bedoel hy blykbaar die geselstaal van die onderste lae van die samelewing, wat volstrek nie noodwendig plat is nie, terwyl onder praalskrif, taal van letterkundige gehalte moet verstaan word. As Von Wielligh dus bedoel dat die kunstenaars die volkstaal moet beluister, dan gee hy 'n raad wat baie groot skrywers van alle volke gevolg het. Dit is bekend hoe Vondel, Hooft, Brederoo en ander sewentiende-eeuers gedurende die wordingsproses van die Neerlandse taal geput 't uit die sappige volkstaal. Hooft sê in 'n brief van 1630: "Verworpelingen van woorden van straet op te raepen ende doen dienen daar ze deugen, al was 't onder de edelen, daer kan men eer af hebben". Van Vondel vertel G. Brandt: "Om op elke stof en zaak de rechte spreekwysen te vinden, onderzocht hy, by allerley slagh van menschen, wat Duitsche woorden elk ontrent zyn werk, handteering en kunst gebruikte. De landtluiden vraagde hy, hoe sy spraaken ontrent den landtbou, en hoe ze 't geen daar toebehoorde noemden, en uitdrukten. Ontrent den huisbou vraagde hy op gelyke wyse de timmerluiden en metzelaars: ontrent de zeevaart en 't scheepstuig de zeeluiden; ontrent de schilderkunst, en wat daartoe hoorde, de schilders: en zoo voort ontrent alle ander bedryf, wetenschappen en kunsten. Dit strekte tot opbou der taale en om van al wat hem voorquam met woorden die de zaake eigen waaren te spreken."[141] Dit is presies wat Von Wielligh met groot ywer en toewyding gedoen het en die uitkomste van sy jarelange ondersoek is dikwels verrassend. Maar dit is van meer belang vir die taalwetenskap as vir die letterkunde, omdat Von Wielligh geen kunstenaar is nie, wat uit sy versamelde gegewens 'n werk van skoonheid kan skep. Hy is eenvoudig 'n belangstellende leek, wat hom verlustig in die "raak kolskote"[142] van die "spraakmakende gemeente", wat "sy lag nie kan bedwing vir die raaksê-uitdrukkings"[143] van die volksvernuf nie. As hy binne "die grense van sy eie ploegland"[144] bly, en die gesprekke van eenvoudige volkstiepes of inboorlinge weergee, bereik hy dikwels 'n mooi effek, maar sodra hy hom "werp op die vleuels van praalskrif" dan gee dit 'n lelike misoes af. Van sy fyn opmerkingsgawe waar dit dinge uit die alledaagse lewe geld, uit die boerebedryf en jagveld getuig byna iedere pagina van sy werk. Ook die gewoontes van die diere het hy ywerig bespied. Hy het honderdmaal geluister na geselsery oor "pynplekkies en weersgesteldheid"[145], hom "knippeldik" versadig aan die kwinkslae en "pittige" gesegdes van eenvoudige siele, wat jarelank in die veld- en woestyneensaamhede rondgeswerf het. Daarom is daar in sy beeldspraak so dikwels 'n plat-by-die-grondse geestigheid, 'n kombuisagtige bysmakie, daarom verlustig hy hom in bywonergrappies.

Wanneer hy binne "die grense van sy eie ploegland" bly, dan is sy beeldspraak ook baie beter as die van sy "praalskrif". Ter tiepering 'n paar voorbeelde: "Mog daar 'n verskilletjie ontstaan, word dit so gou doodgedruk as die vonkie wat val op 'n pyproker se broek (H. en V., p. 15); "Niemand kry die eer om hom te fop nie; hy lê altyd vir hulle klaar, nes 'n haas wat met sy oop oë slaap, of nes 'n ystervark met sy skerp penne, na die bedrieër toe." (S. j. M., p. 68.) "Vat hom aan sy hakskeen, en jy kry 'n terugskop met die polvy van 'n velskoen, waarin 'n nommer-12-voet sit, om jou maagpyn en winduit op jou hurke te bring; dan pak hy die parmant aan die arms, ... stamp hom nes 'n karringstaf op en af, tot hy hik." (id., p. 12); "Daarom het al die mans in daardie dae nes spinnekoppe gelyk wat tot agter hulle nekke oopgeboener was." (id., p. 6); "Fant het net soos iemand wat korhaan jag, om en om Sytjie gestap tot sy gaan sit, toe korrel hy" (id. p. 229); "Wie sy ou steeks perd, wat gewoonlik agteruitbeur as daar seekoegate agter is, verruil vir 'n ander wat gewoonlik die vaart neem as daar miershope en slote voor is, weet bepaald dat hy deurgaans in die midde van onsekerheid verkeer." (id., p. 239). Rosa "sal haar laaste seep uitleen en dan haarself met 'n baksteen skrop" (Jakob Platjie, p. 166). Abdol maak geld "soos gemaalde koffie uit 'n meul." (id., p. 71.) "Oom, my bokke is regtig mooi—hulle kloue kraak nes blinkleer stewels as hul so rondstap." (id., p. 57.)

Wanneer Von Wielligh nou sulke uitdrukkings gebruik, dan bly hy binne sy eie ervaringssfeer en ofskoon daar geen sprake is van digterlike siening nie, voel ons direk dat alles eg en deurleefd is. Maar te dikwels vergeet hy dat die lekker-gesels-praatjies om die wagvuurtjie in die oop veld sleg pas in die sitkamer en dan verspreek hy hom lelik. So lank as hy nog by die wagvuurtjie bly, kan ons soms met genoege luister na sy jaganekdotes en vertellings van die ou dae, dan hinder sy gekruide styl ons nie, omdat dit so innerlik-eg is, so getuig van intieme omgang met die natuur in sy oer-staat. Maar sodra hy die sitkamer binnestap, begint hy op onnatuurlike toon te preek,—dan rek hy "'n taai-tammeletjie so lank uit as (hy) kan"[146] en jaag die geselskap uitmekaar deur sy "pittige plat taal". Die gedurige botsing tussen sy natuurlike geselsstyl en sy onegte "praalskrif", wat hom verlei tot 'n ridikule vermenging van hoog en laag is juis wat ons kriewelrig maak.

By die bespreking van Huis en Veld is aangetoon, dat hy Kleopas Kipie maklik uitstof, wanneer hy sy sondagse manel aantrek. Dan word hy gewoonlik onverstaanbaar in sy geaffekteerde hoogdrawendheid. "Met hulle (die Trekkers) aangesigte na die noorde gekeerd, dwaal hulle dáár ver in die suide op die agtergrond en sit op die verlede te broei. Die verlede is vir vleis en bloed onnaakbaar; dog ons herinneringe, nes 'n vliegtuig, is in staat om ons uit die deinsige hoogte op ons ou dwaalplekke te laat neerkyk. Hulle sien uit hulle voëlvlug die ouderlike woning, waarin hul die besitters van lewe met sy worstelinge geword het; hulle sien die speelplekke met die waentjies en poppe wat hul verbeeldingskrag gevoed en uitgeswel het, om deur bespieëling die weg van toepassing te volg; ... Daarop keer die herinnering langsaam terug ... tot waar hul daardie aand gesit het. Dan lei Herinnering hul tot onder die uitgebreide vleuels van Hoop, wat hul aan die hand vat ..." (S. j. M., p. 282-283). Dit is seker nie moontlik om meer "vishoekvas in die spinnerakke"[147] van jou verbeelding te raak nie, om nou 'n tiepiese Von Wiellighaanse uitdrukking te gebruik. Eers dwaal die Trekkers, dan sit hul "op die verlede te broei". Hul herinnering word met 'n vliegtuig vergelyk; die vliegtuig kry 'n hand wat deur die gevleuelde Hoop gevat word! Hiermee kan vergelyk word Eerste Skrywers, p. 106: "Die heldemoed van die Afrikaner daar aan die dag gelê, het die sluise van nasionale ontwaking oopgetrek; want die volk werd daarvoor intyds ryp gemaak, sodat die verrassing nie as 'n onweerslag op hulle gekom het nie."

In die voorwoord van Huis en Veld kom nog 'n voorbeeld van verwarde beeldspraak voor: "Hierdie swakke poging, deur ons aan die hand gegryp om 'n druppeltjie in die emmer te laat val—is dit mis, dan is dit mis,—is die uitvloeisel van 'n dryfveer, wat ons aanspoor, nie alleen die skouer teen die wiel te sit nie, maar om ook volhardend ons hele gewig daarop te werp. Ons mog in die voorreg deel om vanaf 1875 as handlanger en baksteen-aangeër met die opbou van ons Afrikaanse taalgebou mee te help ..." Sulke voorbeelde is daar baie in Von Wielligh se werk.

As voorbeeld van die komiese effek veroorsaak deur die teenstelling van sy gewone en kamma-verhewe styl kan die volgende uit die twede paragraaf van Eerste Skrywers (p. 1) dien: "Graag het ons gesien dat 'n bevoegder lid ... sy kop oor die onderdeur van ons hartbeeshuis gesteek het om te antwoord op die herhaalde aanklop." Maar dan word hy meteens deftig: "Broeders en Susters! Blyhartig werp ons vir ons op die vleuels van die gedagte om terug gedra te worde tot daardie dae, toe die sonskyf van ons goeie nasionale taalsaak sy vergulde rand nog net so effentjies bokant die donkere berge van onbewustheid en sluimer uitgesteek het." Dan hoor ons van "'n koue harnas van geheimhouding oor ... brandende gevoele", van "'n Afrikaanse boom, wat daar sy takke vry in ons heldere lug uitbrei ..." en verneem dat in die dae "besigheid so slap soos pannekoekdeeg en handel so plat soos die pannekoek self was"!

Tot welke onsinnigheid Von Wielligh hom deur sy opgeskroefdheid laat verlei, blyk uit die volgende voorbeelde: "Hierdie pragtige stukkie landskap is met die penseel van die verwoestende mensehand op die seildoek van die skone panorama doodgeskilder, sodat dit daar nooit weer sal verskyn nie." (H. en V., p. 71.) Die herhaling op die end is tiepies. "Watter angs dit op die kindersiel afgespieël het val beter vir die gedagte om dit te ontplooi as vir die pen om dit neer te grif" (S. j. M., p. 272); "Hulle monde was meer vloeibaar as die vloeistof wat uit die man se klere tap." (id., p. 243); "Toe eers ontprop hy sy opgebottelde gedagtes en gee hul onsigbare vleuels om oor die gebeurtenisse van die dag, oor die twee jongmeisies en oor homself te laat vlie." (id, p. 84) "Selfs die kristallug, waar die sterretjies uit die onmeetlike verte neerkyk, is tans met 'n swart plafon toegespyker." (id., p. 167.) 'n Voorbeeld van Laag-by-die-grondse humor staan op p. 95 van Staan jou Man. Daar ontmoet ons ook nog juffroue, wat bordjies dra met die opskrif: "alle toegang ten strengste verbode" en wat hul voorstel hoe hul "'n weg sal baan deur 'n Eden van aardse saligheid"!!

Dikwels gee Von Wielligh se neiging om abstrakte begrippe te verpersoonlik, of met iets anders te identifiseer aanleiding tot die allersnaakste kombinasies. "Die wapenhuis van Rennie en Ester was taamlik gevuld met 'n rommel van deug en ondeug; die taak om die gebruik daarvan onder 'n ystervoet vas te trap was aan streng moeders en minder geduldige vaders oorgelaat." (id., p. 148); "Die woorde was maar die vingers wat die harpsnare van aldaagse gebeurtenisse bespeel" (id., p. 158); "Het die uitlegginge ... altyd die blou strikkies van waarheid om hulle nekke gedra?" (id., p. 147); "Hoe verkwikkend dit ook al vir moeder en dogter was om in die arms van liefde te val ... tyd, egter, het die skerp snede van die swaard van skei stomp gevyl en dit minder gevoelig gemaak." (id., p. 144); "Hulle prikkelende nuuskierigheid om die groot dorpe en see te sien, was die goue eiers van hulle verwagting waarin die kuikentjies van verrassing reeds piep." (id., p. 218). Op die jagveld is die Boesman "vis in die water en stuurman aan die roer van sy verstand". (B.-St. III, p. 47). "Waarom moet ons ons woordeskat gaan verryk met woorde wat yskoud is en wat met ons geen meegevoel koester nie?" (Eerste Skr., p. 80).

In Eerste Skrywers (p. 125) haal Von Wielligh met instemming 'n veroordeling van retoriese uitdrukkings aan, maar juis die twee gewraakte beelde is hy besonder lief voor. In die voorwoord al vertrou hy dat hy "in die arms van 'n genadige beoordeling sal val" en so is daar nog baie ander soorte arms in sy werk te vind,[148] terwyl "Dingaan die teuels van tirannie en dood gevoer het net waarheen hy wou" (S. j. M., p. 11). Von Wielligh is trouens die laaste man, wat oor retoriese styl moet klaag, want dit sou geen sware taak wees om 'n paar paginas afgeslyte frases uit sy werk neer te skryf nie. In Huis en Veld vind ons: "steunpilare van die samelewing" (p. 128), "stortvloed van trane" (p. 130); "op die louere gaan rus" (p. 177 en 14); "om 'n luisterend oor te neig aan die sang ... van voëls, wat ... hulle lieflike akkoorde laat weergalm" (p. 43). In Eerste Skrywers: "Toe het die son van ons nasionale ontwaking ... sy ligdolke in die duisternis van ons slapende harte ingepriem ..." (p. 103). In Staan jou Man: "Dit het 'n vaste fondament van seltstandigheid onder hulle voete geskuiwe en die vryheidsvlam in hul harte aangeblaas" (p. 149); "Die nag het met sy sneeuwit kleed gekom ...; verkwikkende slaap ... het sy sagte ferwele hand oor die vermoeide ooglede gestryk; die ongestadige weer het sy septer van gesag aan 'n kalm dag oorhandig" (p. 277). So word soms lang stukke aanmekaar gelas deur die banaalste beelde,[149] waarvan sluier,[150] floers, tyd,[151] weegskaal en spinnerak die vernaamste is.[152] Wat 'n floers is weet Von Wielligh blykbaar nie, want hy skryf: "Om die floers van treurigheid te onderdruk staan die haan ... vlerk klap en kraai ..." (S. j. M., p. 240).[153] En hoe mens se oogmaat jou 'n sluier voor die oë kan hang is ook nie duidelik nie, (id., p. 5).

'n Totale gemis aan digterlike siening openbaar Von Wielligh in sy natuurbeskrywing. Hy het ongetwyfeld veel opgemerk en kan ons vertel van watter bossies skape en bokke die meeste hou. Iemand wat van plan is om in die Karo te gaan boer, sal heelwat praktiese informasie in Huis en Veld vind. Maar 'n kunstenaarsblik op die natuur soos die van Malherbe het Von Wielligh nie. "Bome is hier in oorvloed, ons sien hier die soet doring, kaffer wag-'n-bietjie, kiepersol, naboom, sekelbos, wilde vy, waterbessie, wilde sering, vaarlandswilg en nog honderde ander tesame met soveel soorte bosse." (H. en V., p. 155.) So kry ons telkens 'n dorre opsomming, presies asof dit die jaarverslag van 'n botaniese vereniging is. Op p. 44 gee hy 'n katalogus van die soorte voëls, op p. 45 en 104 van die veldblomme, op p. 106 van die Karo-plante—"sommige egter word nie deur vee gevreet nie"![154] 'n Enkele maal tref ons 'n opmerking, wat van eie siening getuig: "die stoere akkerbome (brei) hulle arms in alle rigtings (uit) om die kleinere gewasse 'n seën toe te wens. Aan die stroom swaai die wilg lustig sy groen snoere en speel met sy swepies in die wind." (H. en V., p. 40.) Maar meestal vergenoeg Von Wielligh hom met 'n verwerking van sy boerekennis, waarin hy af en toe 'n skoolmeesteragtige opmerking vleg om te wys dat hy ook 'n bietjie in botanie gepeuter 't. "Ja, so noem ons mense dit, maar die plantkundiges het dit 'n lang, ja 'n beesagtige lang naam gegee van Mesembrianthemum, wat middagblom beteken." (H. en V., p. 104).[155]

Soos iedere boer stel Von Wielligh ook groot belang in die weer. "Kalm en rustig werp die goue dageraad sy sombere lig oor die vlaktes van Gwaggas. [Contradictio in terminis. P.C.S.]. Weldra verrys die son; maar is van sy oogverblindende ligglorie ontroof—die dig gepakte dampkring het al die sterk uitskietende strale opgesuig. [In Gwaggas was ek nog nie, maar ek twyfel sterk of die lig van die opgaande son daar direk "oogverblindend" word. P.C.S.]. Die son lyk nou so groot as 'n wa se voorwiel (in alledaagse taal). [?? P.C.S.]. Vroeg laat die sonbesies hulle hoor; die mense voorspel 'n warme dag en spoedig verandering in die weer." (Jakob Platjie, p. 115.) Natuurlik kom daar allerlei soorte sluiers te pas by sulke beskrywings. "Kyk, hoe pragtig staan elke bossie onder 'n sluier van allerhande kleure van blomme" (H. en V., p. 103); "die appelkoos is oortrek met 'n rooskleurige sluier" (id., p. 40), terwyl "die ruisende melkstroom nog sleg(s) deur die mistige sluier van die aand sigbaar is." (id., p. 101.)

"Seurtjie, kyk daar steek die dagbreek reeds sy rooi neus agter die bergkam uit ..." (H. en V., p. 38) sê Kammies, en Von Wielligh vind die beeldspraak so treffend, dat hy dit self gebruik: "Die grou dag steek spoedig sy droewige wenkbroue agter die bergrand uit...." (id., p. 3). Hoe banaal en konwensioneel is ook die volgende: "Dit was amper, sononder, net toe die son die weste ligpoorte wou gaan sluit. Alvorens die gulde deure te grendel, werp die son eers 'n blik terug om te sien of die Nagwagter met sy vet gesig nog nie deur die oostelike vensters loer nie. Toe die laaste sonstrale wegsterf en hulle betower en die liggloed van die omliggende bergtoppe onttrek...." (id., p. 156); "Voor die vuurstokers van die son nie ekstra brandstof op die sonnehaard plaas nie om die slapers onder hulle komberse uit te brand...." (id., p. 52.)[156] Dit skyn wel die vernaamste besigheid van die son, want ons verneem dat "die oprysende son 'n ligstraal deur die skeur van (Soekie) se venstergordyne (prop) om hom in die gesig wakker te kielie" (S. j. M., p. 119), en Victor "skrik in 'n vaart wakker, een oggend toe die grou oggendlig die gordyne van sy slaapkamer aantas(!)" (id., p. 109). Ou Kammies sal onder sy kornuite ook seker eer inlê met die volgende: "Die daeraad steek sy grou sakdoek hoog uit aan die oostekant, asof hy daarmee in die lug waai...." (id., p. 43).

Nog 'n banale beeld is dat 'n maand of dag sterf en begrawe word (S. j. M., p. 99, 277); die jaargetydes of dae is die jasse van die veld[157] (id., p. 191), terwyl die berge wit pruike dra (id., p. 100 en H. en V. p. 101).

"Rapen as kinderhoofies" het Potgieter in sy novelle Blaauw Bes, Blaauw Bes! "'n ongelukkige vergelyking" genoem, wat mens "van het kannibalen-maal gruwen doet!" By Von Wielligh gaan "pluimvee, speenvarkies en lammers", wat so skoon gemaak is as "poedelnakende babetjies" in "die hongerige poorte des doods, of liewers gesê, die snakkende monde"! (Jakob Platjie, p. 130-1).

As staaltjies van die onbeholpe uitdrukkingswyse, wat mens so dikwels in Von Wielligh se werk aantref, kan die volgende dien:

In Jakob Platjie: "Dan kom hul luidrugtig in geselsery ... huistoe". (p. 3); "By wyle het my vader in sy stadjie by sy famielie deurgebring" (p. 59); "Hul had dun arms en bene met volwasse buikies, wat nie op gereëlde voeding kan beslag lê nie ..." (p. 108); "Hul is by uitnemendheid byejagters, om byneste op te spoor" (p. 112); "Dit was genoeglike dae van wetenskaplike voedsel vir altwee partye" (p. 211).

In Huis en Veld: "Edelmoedig het hulle (die Uitgewers) op die voorgrond getree om hulle medewerking tot die bloei van 'n eie Afrikaanse letterkunde geldelik te ondersteun"[158] ('n Woord vooraf); "Die lug is ... elektries swanger" (p. 154).

In Eerste Skrywers: "Dit was die skone ideale en toewyding" (p. 1). "En dan draai ons 'n sterker soeklig op al hierdie gesigspunte in ons gesigsveld om te getuig, nie wat ons uit ander bronne ontleen het nie, maar waar ons oog- en oorgetuige van was." (p. 3); "Hulle moes onder die wapenrusting van geheimhouding van hulle persoon hulle skuilhou." (p. 6.) "Hiermee word dus 'n maatstaf in die hande van die beoordelaars geplaas, wat wel in toepassing mag geneem worde ..." (p. 7); "Die skrywer het ... al die westelike distrikte van die Kaap weer besoek met opmetings van plase" (p. 28); "dan ontruk ons nie uit[159] nie; maar werp juis gemaakte geskiedenis in[159] die gapende kake van die vergetelheid" (p. 47). "Nog minder het iemand getrag om die skone wêreld, wat medegevoel afdwing met te veel geleerdheid te bederwe" (p. 53); "As 'n skrywer baie met geoefendes (in plat taal) omgegaan het, en hy self daar nie mis in bedeeld is nie ..." (p. 101); "Hierdie bewering klop ons op die skouer, eis verdediging om nie abuislike foute te maak nie" (p. 129).

In Staan jou Man: "'n Lusoord van aardse skepping" (p. 3); "aangematigde skrik" (p. 15); "die liewe brawe koffie" (p. 37); "Sytjie (was) reeds daar, want sy het die aankoms van haar pleegouers eerder ontvang as die huismense gedink het" (p. 102)[160]; "Toe word 'n Hof van Heilige Geloofsgerig aangestel" (p. 150). Wat dit nou eintlik is, sal Von Wielligh wel alleen weet! "Sy voel gelukkig om spoedig van aardse smart verlos te wees en te herenig met haar eggenoot ..." (p. 164).

In Nimrod Seeling: "twee wakker blou oge wat 'n lig van bewussyn laat uitstraal het ..." (p. 59); "Hulle toon toe aan dat dié soort lewe, wat ek verkies, 'n afbrekende eeu is ..." (p. 116).

In Boesman-Stories: "Want 'n weerklank klink altyd mooier as die stem wat dit weerkaats" (I, p. 34); "sy pylkoker val aan stukkies en die pyle daarin verdor sy in kaf" (I, p. 141); "So gevoel die kinders hul veilig onder die beskerming van hulle ouers—al groei hulle op omsingel deur en onder verskeurende ongediertes. Een dag leef hul in oordaad, dae daarna vergaan hul onder die gevreet van ondraaglike honger en dors. Hulle ken net 'n dag van vandag en bekommer hul glad nie oor die dag van môre deur voedsel en deksel daarvoor opsy te sit nie." (III, p. 31); "om dit mooi te bewerk en glad te slyp, het hy die kuns nog nie verstaan nie" (III, p. 5); "Watter ander gevolg moet ons hieroor vel ..." (III, p. 105).

In Diere-Stories: Outa is "uitgedos in vriendelikheid self ..." (I, p. 9); Die dierestories "verskaf ... sielslewe in die hart van die ou bokwagter" (I, p. 12); "Toe lag die Voëls nie meer nie; maar sit mekaar knersend van verontwaardigheid kwaai aan te kyk ..." (I, p. 24).

Oor die algemeen is Von Wielligh se taal suiwer, maar spore van Engelse invloed kom tog voor.

"Wydbegrippig" (broad-minded) (Eerste Skr., p. 59); "Koos vra hul om saam brekfis te neem" (J. P., p. 70); "'n Korte wandeling gaan neem" (H. en V., p. 34); "Toe die klok twaalfuur slaan, rys die vrinde ..." (id., p. 52); "nukomelinge" (id., p. 174); "Moet tog nie moeilikhede halfpad gaan ontmoet nie" (S. j. M., p. 17); "alles het sy natuurlike self gebly" (id., p. 39); "'n dood geheim" (id., p. 136); "die naarste van drome" (id., p. 263); "toe hy so 'n skewe kyk na Kraai gooi" (B.-S. II, p. 4 en 155);[161] "ondergroei" (id., p. 107); "Die Boesman kan baie wreed wees en 'n plesier daarin neem ..." (IV, 121); "Julle neem dit lekker" (D. S. I, p. 43); "Jakhals het uit sy eieself geweet ..." (id., p. 48); Jakhals vra aan Wolf "hoe 'n tyd hy daarvan gehad het" (id., p. 61); Wolf vra "in 'n fluister" (id., p. 66); "En jy meen te vertel die kinders het dit alles opgevreet?" (II., p. 11); Die kat "pir" (id., p. 19). Ook in Robinson Crusoë is daar voorbeelde van letterlike vertaling.

Met die voorsetsels raak Von Wielligh soms verward: "met bliksem ... vergeseld; in vatbare (?) wyse opgestel" (E. Skr., p. 32, 120); Die Boesmans "bedien hul met ribbebene wat hol geslyp is" (B.-S. III, p. 20). "Kamma-geleerdes" (E. Skr., p. 108) is 'n gelukkige neologisme, "pou-trots" (S. j. M., p. 6) egter nie, en nog minder "posing" (id., p. 27). Von Wielligh gebruik ook graag vorme soos: "as komme kan", "ontvalle", "soude", (E. Skr., p. 6, 8, 53). 'n Paar voorbeelde van verkeerde woordskikking kom voor, o.a.: "Oom Willem word tot kommandant gekies, omdat hy dapper is en kan in die grootste gevaar sy hoof koel hou." (J. P. p. 151.)

VOETNOTAS:

[102] Die Brandwag, Des. 1918, waaraan hierdie lewensskets ontleen is; 1850 is egter verkeerd, vgl. Eerste Skrywers, p. 151. In Die Huisgenoot, Nov. 1919 staan 'n uitvoeriger biografie.

[103] Vgl. Eerste Skrywers, p. 57.

[104] Eerste Skrywers p. 35.

[105] t.a.p., p. 85.

[106] t.a.p., p. 159.

[107] t.a.p, p. 124.

[108] Vgl. my artiekel oor Letterkundige Kritiek in Die Huisgenoot van Des. 1920.

[109] Private meedeling van die skrywer.

[110] Eerste Skrywers, p. 113. Kursivering van my.

[111] t.a.p., p. 54. Kursivering van my.

[112] Vgl. Dr. L. v. Niekerk: De Eerste Afrikaanse Taalbeweging1, p. 189.

[113] Vgl. oor "Patterjots" Dr. L. v. Niekerk t.a.p.

[114] Eerste Skrywers, p. 101.

[115] Vir hinderlike tussenkoms van die outeur kan ook nog vergelyk word p. 12, 21.

[116] Vgl. ook nog p. 217 et passim.

[117] Vgl. Staan jou Man, p. 88, 143.

[118] Staan jou Man, p. 55.

[119] Vgl. ook Staan jou Man p. 47.

[120] Waarom Daan Wiks so lank wag met sy gewigtige getuienis word nie opgehelder nie.

[121] Ook nog verskillende fuiwe van Hotnots.

[122] Vgl. ook die flou praatjie oor Ester se droefheid, p. 169.

[123] Vgl. Voorwoord.

[124] Voorberig 4de deel. Kursivering van my.

[125] Voorberig 1ste deel. Kursivering van my.

[126] Vgl. o.a. Prof. J.W. Muller se inleiding by sy Reinaert-uitgawe.

[127] Vgl. o.a. p. 93, 22-23, 52, ens. Of daar in Ghwennie Barnveld, 'n boek "vir jong meisies" in dié opsig verbetering is, kan ek nie beoordeel nie, omdat dit na die skrywe van hierdie bespreking verskyn het.

[128] Boesman-Stories II, p. 194.

[129] Vgl. nog Eerste Skrywers, p. 27: gedruk—gedruk—drukkery—drukpersie; p. 60: "Ons was met ons deurkruis van ons land ...", ens.

[130] Vgl. o.a. H. en V., p. 143: "Al hierdie gebeurtenisse het baie gevoelig 'n diepe indruk op die Afrikaanse huislike lewe en dinkwyse gemaak en nagelaat." Lomp is ook: "Hy skuif sy raam op en staan die heerlike koffie met tyd te geniet, terwyl sy oë 'n blik werp wat buite in die fris oggendlug plaasvind." (S. j. M., p. 119).

[131] Vgl. Boesman-Stories I, p. 55, "'n woelige Gees sonder rus".

[132] Jacob Cats: Houwelijck I, 235.

[133] J. Prinsen: Handboek tot de Ndlsche Lett. Ges.2, p. 335.

[134] G. Kalff: Ndlsche Dichters der 17de Eeuw, p. 37 (Cats).

[135] Vgl. Kalff, t.a.p., p. 100.

[136] Kalff: t.a.p., p. 98.

[137] Vgl. in Glorie Pan: "Niks op aarde is bestendig nie; alles is van korte duur nes 'n lappie op die seer vinger van 'n bobbejaan." (Die Brandwag, 10 Des. 1913).

[138] Vgl. ook die onsmaaklike opmerking in S. j. M., p. 65: "Ons ou mense het min van snorbaarde gehou, wat so hinderlik met, soen en sop-eet geblyk het"!

[139] Vgl. ook die snaakse betoog om te bewys dat jy, jou, ens., nie plat is nie. Eerste Skr., p. 97.

[140] Die Huisgenoot, Okt. 1921, pag. 247. In Hoofstuk XII van Eerste Skr. behandel hy plat taal en ook in Die Huisgenoot Junie 1921, Hoofstuk XV van Ons Geselstaal. Vgl. die voetnoot van die redaksie oor wat Von Wielligh onder "plat taal" verstaan.

[141] Leven van Vondel, Ndlsche Klassieken, p. 123.

[142] Eerste Skr., p. 100.

[143] Die Huisgenoot, Okt. 1921, p. 247.

[144] Eerste Skr., p. 126.

[145] H. en V., p. 15.

[146] Die Huisgenoot, Mei 1921, p. 25. Ons Gesels taal.

[147] S. j. M., p. 133.

[148] Vgl. o.a. S. j. M., p. 144, 195, 270, 282; H. en V., p. 146; N. S. Voorwoord.

[149] Vgl. b.v. S. j. M., p. 191.

[150] O.a. S. j. M., p. 213, H. en V., p. 123, 67, 86, 101, 130.

[151] O.a. S. J. M., p. 167, 143.

[152] Uit Die Huisgenoot van Febr. 1922 blyk dat Von Wielligh nog lustig op sy "praatmasjien" die ou deuntjies afdraai. Die "spinnerakke" en die "kloue (wat) nes blinkleerstewels kraak" is daar, terwyl die katalogus van die verskillende soorte koppies en rante uitgebrei word deur ... "pramkoppies"! (p. 421).

[153] Vgl. ook Eerste Skrywers, p. 49, waar "'n floers van neerslagtigheid" 'n somber gevoel "verwek".

[154] Vgl. ook nog p. 185.

[155] Vgl. ook p. 104 en p. 109 waar 'n verklaring van 'n "lugverheffing" gegee word.

[156] Dieselfde beeld kom ook voor in S. j. M., pag. 19.

[157] Ook die voëltjies dra "winterjassies", H. en V., p. 43.

[158] "Ondersteunen" is waarskynlik 'n drukfout. Die twede "hulle" slaan op "ondersteuners" in die vorige sin. Vergelyk S. j. M., p. 239: "Rustig verhef hulle die woonhuis ... deur die Trekkers hulle eie hande opgebou".

[159] Kursivering van Von Wielligh.

[160] Vgl. N. Seeling, p. 57: Baie seediere, wat my geheuge ontsnap het ..."!

[161] N. S., p. 50, "afskeidskyk".


HOOFSTUK V.

Romans, Verhale en Sketse.

§ 1. Adv. J.H.H. de Waal.

Jan Hendrik Hofmeyr de Waal is gebore op 30 Desember 1871 op die plaas Bakkerskloof, Stellenbosch. Sy vader was boer en handelaar, sy moeder die oudste suster van "Onse Jan". Aan die Normaal Kollege in Kaapstad het hy gematrikuleer en daarna was hy 'n tydlank onderwyser o.a. op Uitenhage en Utrecht. Later het hy 'n betrekking aangeneem in sy vader se ysterhandel, maar die joernalistiek het hom aangelok en as voorbereiding vir dié vak het hy regte gaan studeer in Londen, waar hy aangesluit 't by die Inner Temple en as studievrind o.a. Generaal Jan Smuts had. Nadat hy in besonder kort tyd sy wetseksamens afgelê het, tree hy in die huwelik met Emma de Kock (1898) en woon vir ses jaar in dieselfde huis as "Onse Jan", vir wie hy as "luitenant" dien.

In Julie 1903 word hy redakteur van die tydskrif, De Goede Hoop, waarin Stompies, Johannes van Wyk en Die Twede Grieta verskyn het. "Sy bedoeling met daardie geskrifte was om die jong lesers soveel moontlik met leesstof in populêre skryftrant te voorsien, en wel in die taal wat hy van jongsaf voorgestaan het—Afrikaans."[162]

Op sy kantoor is op 5 Oktober 1906 die Afrikaanse Taal Vereniging ontstaan. Aan sy inisiatief is die erkenning van ons taal in die Kaapse geregshowe te danke.[163] In Des. 1914 het hy afgetree as redakteur van De Goede Hoop, as gevolg van 'n wryving met die uitgewers oor politieke kwessies. Onder die nom de plume, Jan van Rozenburg had hy naamlik Generaal Hertzog se politiek verdedig by die kabinetskriesis in 1912. Nederland het sy dienste as voorvegter vir ons taalregte erken deur sy benoeming tot lid van die Leidsche Maatschappij. Op die oomblik is hy lid van die volksraad vir Piketberg en een van die voormanne van die Nasionale Party in die Kaapprovinsie.

Johannes van Wyk, (1906).[164]

Johannes van Wijk is 'n jongeling van edel inbors, wat deur sy onbesproke gedrag, hoflike maniere en fyn beskawing die gunsteling van die Kaapse samelewing word. Dit wek die jaloesie en haat op van sy neef, Gert Rass, wat besluit om sy ondergang te bewerk. 'n Plan om Johannes deur die Boesmans te laat doodmaak misluk. Gert word egter tot nuwe wraakplanne geprikkel deur die feit, dat Hester Linde aan Johannes die voorkeur gee. Deur vervalsing van 'n brief slaag hy daarin om Johannes op 'n aanklag van hoogverraad teen die Goewerneur, Adriaan van der Stel, in die gevangenis te kry. Johannes ontsnap, word deur Gert en sy handlangers agterna gesit, maar vind eindelik onder die naam Koos Emmert 'n skuilplaas by 'n boer, Pierre de Villiers aan wie hy hom as kneg verhuur. Hier raak hy weer deurmekaar met die Boesmans, maar word op die laaste tippie deur sy vrinde, Malherbe en Joosten, gered. Intussen het die goewerneur sy ontslag gekry en hoef Johannes nie meer as droster te lewe nie. Gert drink 'n vergiftigde kelkie wyn, wat hy vir Johannes bestem had en sterf. Met 'n driedubbele huwelik eindig die verhaal.

Johannes van Wyk het oorspronklik in De Goede Hoop verskyn, die eerste hoofstuk in Jan. 1904. Die skrywer verklaar self, dat die ontstaan van die roman te danke is aan sy betrekking as redakteur van die blad.[165] De Waal het skrywer geword, nie deur 'n innerlike skeppingsdrang nie, maar deur die dwingende mag van omstandighede. Toevallig het 'n yweraar en hartstogtelike voorstander van die lang geminagte volkstaal die middel in die hand gekry om aan verstokte teëstanders te wys, dat in dié taal 'n roman kon geskrywe word. Eers probeer hy om deur uitlowing van 'n honorarium die skryflus van sy lesers op te wek, maar die resultaat was teleurstellend; al die stukke moes in die snippermand. Aangemoedig deur die sukses van sy toneelspel Angelina het De Waal toe besluit om self 'n roman te skrywe. Met sy nugter verstand het hy 'n reeks toneeltjies op kunsmatige wyse inmekaar gepas en die resultaat was 'n leesbare roman, wat veral die jongeliede, vir wie De Goede Hoop in die eerste plaas eintlik bedoel was met groot spanning gevolg het. Ons staan hier voor 'n gewigtige kultuurgebeurtenis. Dit naamlik: in 1904 het die eerste Afrikaanse roman van die Twede Beweging verskyn.[166]

Die skrywe van Johannes van Wyk was 'n daad van betekenis. Na al die gekibbel 'n daad. En 'n daad, wat vir meer as een die oë laat oopgaan het. Vir lange jare had die teëstanders van Afrikaans met triomfantlike gebaar hul onweerlegbare stelling opgedreun: "Het Afrikaans heeft geen letterkunde!" De Waal se antwoord was: Johannes van Wyk. "Die eerste oplaag het bestaan uit 500 eksemplare, en die drukkerskoste was toe slegs een-sesde van wat dit vandag vir so 'n aantal sou wees. Tog is ek destyds gelukgewens geword met my moed dat ek dit gewaag het om 'n boek in Afrikaans uit te bring."[167] Vir die voorstanders van Afrikaans was J. v. W. dan ook 'n welkome bondgenoot. Die Afrikaanse Taalgenootskap in Pretoria het onmiddellik 'n beroep gedoen op alle Afrikaners om dit te lees, en die meeste krante het dit warm aanbeveel.

By die beoordeling van J. v. W. moet veral rekening gehou word met die omstandighede waaronder dit ontstaan het. Maar sedert die eerste uitgawe het nou byna twintig jaar verloop. De Waal het dit herhaaldelik omgewerk en in 1921 het reeds die vyfde druk verskyn, veral omdat dit vir drie publieke eksamens tegelyk voorgeskrywe was.[168] Noudat die taalstryd verby is moet ook die literêre waarde van J. v. W. bepaal word. Omdat egter in bou en opset Die Twede Grieta soveel ooreenkoms daarmee vertoon, kan die twee romans tegelyk bespreek word.

Die Twede Grieta

is die dogter, van Johan Conradie, wat kort na haar geboorte, waarby haar moeder sterf, uit die huis van haar vader gesteel word en in Natal as Miss Grace Palmer opgroei. Andries Burger, pleegsoon van Conradie, loop saam met sy vrind, Bertie Muller, van die S.A. Kollege weg aan die begin van die Anglo-Boere-oorlog en hul sluit by die republikeinse leërs aan. Phineas Marais, stiefbroer van die "eerste" Grieta, Conradie se oorlede vrou, is die sondebok van die roman. Hy verlaat die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch na die dood van sy vader, wat 'n groot erfenis nalaat, word 'n geldwolf, loop in die oorlog oor na die Engelse en vervolg Andries en Bertie, vir wie Hester Fourie, sy verloofde afgewys het as doodsvyande. Andries en Bertie beleef die wonderlikste awonture in die oorlog. Andries red Grace uit die hande van Kaffers, en Bertie word verpleeg deur Hester. Na die oorlog ontdek Conradie dat Grace Palmer sy doodgewaande dogter is, 'n feit wat Phineas se roofproses teen hom in duie laat val. Presies soos Johannes van Wyk eindig die verhaal met 'n driedubbele huwelik. Andries trou met die twede Grieta, Bertie met Hester en selfs Conradie slaag daarin om "'n sagsinnige liewe vroutjie van ag-en-twintig jaar" raak te loop, terwyl Phineas na Engeland vertrek om die reputasie van S. Afrika daar te verbeter.

Ook die Twede Grieta het in De Goede Hoop verskyn, vanaf Jan. 1912.


"Het grondplan van de meeste Scottsche romans is: de held trekt de wereld in, beleeft komische of tragische avonturen en sluit in het eind zijn bruid in de armen. Dit geldt voor Waverley, Old Mortality, Abbot, Fortunes of Nigel, Peveril of the Peak, Quentin Durward, Rob Roy en meer andere; de avonturen zijn meestal die van den oorlog en van de politiek ... En naast dit hoofdtype spreekt dikwijls de sensatieroman van Radcliffe in de geheimzinnige verwikkelingen, het duistere mysterie, dat den lezer tot het eind in spanning houdt."[169]

In hoofsaak pas hierdie karakteristiek ook op die twee romans van De Waal. Dit word begryplik as ons lees, wat hy self omtrent die ontstaan van Joh. Van Wyk meedeel:[170] "Ek het tevore (d.w.s. vóór die skrywe van J. v. W.) maar min romans gelees—net die van Van Lennep, Victor Hugo en 'n halfdosyn ander ..." Van Lennep herken ons dan ook dadelik in De Waal se romans en aangesien Van Lennep al sy slim draaitjies van Walter Scott geleer 't, het ons hier te doen met 'n navolging uit die twede hand.[171]

Aan 'n goeie historiese roman kan die volgende eis gestel word: "Hij make gansch een tijdperk uit het verleden weer levend, in den vollen rijkdom van al wat er in omging, idealen en vooroordelen, zeden en gebruiken; hij geve voor een oogenblik de illusie, dat we tijdgenooten zijn van een voorbijgegaan leven, van een vergeten beschaving."[172] So iets eis natuurlik diepgaande historiese studie en nog veel meer. "Het is een gave van het genie, het algemeen menschelijke, het grootsche en geweldige, zoowel als de teerste gevoelstrillingen in de tragédie humaine onder welke vormen, in welke tijden ook, te voelen, te zien, te grijpen en uit te beelden met middelen die altijd treffen, die altijd leven van innerlijke waarheid."[173] Die historiese romanskrywer moet, soos Victor Hugo van Scott gesê het, wees: "'n buigzame solide geest, die in zich opneemt als weeke was het cachet van iedere eeuw en van ieder land en dezen indruk voor de nakomelingschap bewaart als onvernielbaar brons.[174]

Nou ontstaan die vraag: In hoeverre het Johannes van Wyk reg op die naam historiese roman? Walter Scott maak gebruik van 'n spannende intriege om sy historiese stof kleur en lewe te gee. Daar is 'n sterk didaktiese element in sy werk: "het aanbrengen van historiekennis, niet zoo zeer tot leering en waarschuwing voor toekomstige geslachten als wel uitsluitend om het hebben van die kennis zelve, het wekken van liefde en belangstelling voor het verleden. Die tendenz spreekt duidelijk uit de lange inleidingen, de geleerde noten bij den tekst, de ophelderingen en citaten aan het slot, de historische uitweidingen in de romans zelve."[175]

In Joh. van Wyk is egter die intriege hoofsaak. Die historiese agtergrond word gebruik alleen om die leser die illusie van werklikheid te gee. Daarvoor het De Waal 'n besonder awontuurlike tydperk uit die vroegste geskiedenis van die Kaap gekies, waarin hy sy karakters die wildste kaskenades kon laat uitvoer, sonder om die skyn van waarheid prys te gee.

Pas in 1911 is die dagboek van Adam Tas ontdek op die Kaapse Biblioteek en in 1914 het Dr. Leo Fouché dit uitgegee. Die aantekeninge van Adam Tas stel ons in staat om diep in te dring in die Kaapse toestande gedurende die stryd van die boere teen W.A. van der Stel. Op vertroulike manier deel Tas allerlei klein feitjies mee, met behulp waarvan 'n romanskrywer sonder veel moeite 'n kleurryke beeld kan skilder van die boerelewe aan die begin van die 18de eeu. In 1904 het De Waal natuurlik nie die dagboek tot sy beskikking gehad nie, maar selfs na 1911 het hy skynbaar geen aandag geskenk aan die nuwe gegewens, met die gevolg dat sy uitbeelding van die historiese persone en toestande vaag en soms heeltemal onjuis is. Selfs die dokumente wat reeds in 1904 beskikbaar was,[176] het De Waal nie geraadpleeg nie, want die historiese vernis, wat op J. v. W. lê, is baie dun. Die feite wat die outeur verwerk, kon hy uit die eerste die beste skoolhandboekie gehaal het. Hy doen hoegenaamd geen poging om deur te dring tot die psiege van die manne, wat in die worsteling teen Adriaan van der Stel die eerste saadjies van ons nasionale bewussyn gesaai het nie. "Adam Tas en de mannen van 1705, die de rechten en voorrechten der kolonisten zo onmiskenbaar geformuleerd en zo dapper gehandhaafd hebben, mogen ... met recht genoemd worden de grondleggers van ons politieke zelfbewustzijn."[177]

Wat vertel De Waal ons van die manne? Hulle was "almal welopgevoede, knap boere, hoog aangeskrywe in die samelewing".[178] Henning Huising het "die rykste man aan die Kaap geword deur 'n monopolie". En die arme drommels is so onversigtig om by 'n "effe opgeskuifde raam", waarvoor "net 'n dun wit gordyntjie" hang "op nie 'n alte sagte toon" 'n gesprek te voer sodat Johannes elke woord kon opvang! En dit terwyl daar sulke mense soos Piet Rob was, van wie Tas verhaal: "Mij is vertelt als dat de noordse Piet Rob deese morgen met zijn Paarde wagen na Hottentots Holland is gereeden, die Schoft heeft welligt op deese Lichtmis dag weder wat aan te brengen, want het een zeekere zaak is dat die vent 't verklikkers ambagt sterk oeffent, dan hij staat er mettertijd voor beloont te werden....[179] Selfs die gewigtige dokument teen die goewerneur lê oop op die skryftafel! En dis die manne, wat flou grappies maak met Starrenburg, die vent wat hul soos die pes gehaat 't, en van wie Tas in sy dagboek praat as "de schoft Landdrost,[180] Landdrost Beelzebub,[181] schofagtigen roffiaan".[182] Set maar 'n paar sinnetjies uit Tas se dagboek naas die floue geteem, wat De Waal hom in die mond lê en dan voel iedereen direk hoe onwaar, hoe absoluut vals die uitbeelding in J. v. W. is. Op Van der Bijl se raad om die dokumente teen die goewerneur liewer stukkend te skeur antwoord Tas: "Ag", sê Tas spottend, "lelik in die pekel bring! Wat is daar op stuk van sake, om te vrees? In g'n een van die ag-en-dertig beskuldigings teen die Goewerneur kom daar 'n sweem van sediesie voor nie...."[183] Vergelyk hiermee wat Tas in sy dagboek onder datum 28 Des. 1705 aanteken: "... immers zoude die eervergeeten vend (A. v.d. Stel) ons gaarne van kant helpen zoo 't hem anders doenlijk was, die vervloekte Tyran heeft de Ingeseetenen zederd eenige jaaren op een ongehoorde manier gedrukt en geplukt, dat ze bijna baloorig zijn geworden, nu soekt die onbeschaamden schendbrok de schuld van zijn hals af te schuiven en mannen van eeren op dusdanigen manier een smette aan te wrijven. O Tijden! O Zeden! dog de regtvaardige God mag men hoopen zal 't quaad eens op des bazen kop doen nederdaalen en niet toelaaten dat de Vroomen langer onderdrukt worden."[184] In die paar sinne voel ons die woes-laaiende passie van 'n man, wat veel gely 't. Dis glad 'n ander kêrel dan die Tas, wat De Waal so kalmpies laat redeneer oor die Goewerneur wat "ons planne mag dwarsboom".[185]

Op pagina 186 word ons meegedeel, dat die goewerneur die volgende persone gevange geneem 't: Wessel Pretorius, Jacob van der Heiden, Pieter van der Bijl en Henning Huising. Op die volgende pagina begin Hoofstuk XXX met die woorde: "Op las van die Goewerneur en sy raad ... is Pieter van der Bijl, Henning Huising en die twee ander op 'n skip wat op weg was na Amsterdam, gesit...." Wie is die twee ander? Uit die verband kan ons alleen tot die gevolgtrekking kom, dat De Waal Pretorius en Van der Heiden bedoel. Maar wat hy daarop laat volg is in stryd hiermee, want ons verneem, dat Van der Heiden in die Kaapse tronk bly. Hier bestaan dus duisterheid in die voorstelling.[186] Die historiese waarheid is, dat Henning Huising, Pieter van der Bijl, Ferdinand Appel en Jan van Meerland na Holland gestuur is om voor die Here XVII te verskyn.[187] Dat àl die gevangene, met uitsondering van Tas en Louw[188] die goewerneur om vergifnis gevra het, is ook in stryd met die historiese feite. Zevenhoven b.v. kon die landdrost met al sy dreigemente nie klein kry nie, en toe die raadslid Brommert hom aanraai: "Ga bij den Goeverneur en bid hem om vergiffenisse" was sy manlike antwoord: "Dat kan ik niet doen, ik hebbe de waarheid gezegd.... Is dit naer recht handelen? 't Lijkt beter naer Inquisitie."[189]