Op pagina 186 kom daar nog 'n onjuiste bewering voor: ".... Willempie het aan die kêrels te kenne gegee dat, as hulle die waarheid van die klagtes wil ontken, hy hulle sal laat loop; maar die laaste een het geweier." Fouché egter beweer: "Enkelen werden reeds bij het eerste verhoor door de dreigementen van Starrenburg zo bang voor "de scherpere middelen" die hen wachtten, dat zij alles deden, wat hun gevraagd werd."[190] Ook die spesiale pluimpie wat De Waal aan Tas gee, kan die leser onder 'n verkeerde indruk bring. "Na zijn gevangenneming gedraagt hij (d.i. Tas) zich niet met de standvastigheid, die velen van zijn minder begaafde broeders tonen.[191]
Ook Die Twede Grieta noem die outeur "'n historiese roman", maar weer is hier die intriege hoofsaak en staan die geskiedkundige gedeeltes meestal geheel los, nes hoofstukke wat gelig is uit 'n historiese handboek. In Hoofstuk II b.v. gee die skrywer op p. 52-62[192] 'n skets van die Engelse anneksasie-politiek. Op p. 159-163 word die oorgawe van Cronjé beskrywe; op p. 290-295 vind ons militêre beskouings en selfs die vernaamste punte van die vredesverdrag van Vereniging. Waarskynlik het De Waal met hierdie opsetlike byvoegsels die bedoeling gehad om sy jong lesers op aangename wyse 'n les in vaderlandse geskiedenis te gee, wat hulle in 1912 erg nodig had, want dit is bekend, dat die onderwys in dié vak veel te wense oorgelaat 't en dat selfs vandag nog die waarheid op allerlei wyse verdraai word. Die didaktiese element is dan 'n welbewuste poging van 'n patriotiese skrywer om die anti-nasionale onderwyspolitiek van die Engelse oorwinnaar teë te werk. Hier het ons dus 'n voorbeeld van die wyse waarop die politieke toestand na die oorlog invloed uitgeoefen het op die letterkunde.
Dat die skrywer alleen deur 'n dorre betoog die nodige atmosfeer vir sy verhaal kan skep is 'n teken van swakheid. So kry ons geen begrip van die dramatiek van die worsteling nie. "De moderne historische romankunst veronderstelt, dat ge uw historie kent en dat een enkele toespeling genoeg is, om u in den tijd te verplaatsen en wie ze niet kent, moet aan die enkele toespeling maar genoeg hebben om zich het noodige decor te fantaseeren."[193] Die historiese verhoudinge moet ons voel "als een vanzelf sprekende bijzaak". Die doel moet wees om ons die reële lewe te laat meelewe, "gezien in zijn algemeene menschelijkheid door een modernen mensch en kunstenaar...."[194] Die moderne historiese roman is "een roman als elke andere, een greep uit het leven, het algemeen menschelijke in schoonheid gezien en uitgebeeld, om esthetische motieven gedacht en gevoeld in oude tijden en verhoudingen. De historische romanschrijver is niet langer de soms weerspannige slaaf der historie; de historie is zijn dienares geworden, die onderdanig en hulpvaardig, zich op den achtergrond houdend, aanbrengt, wat tot kennis van de economische, sociale, maatschappelijke toestanden, waarin de helden van 's kunstenaars verbeelding leven ter beschikking moet zijn."[195]
De Waal staan dus nog heeltemal op die ou standpunt en dit spreek vanself, dat vir ons jongere, wat die moderne opvatting ken en waardeer, sy historiese uitweidings die eenheid van sy romans hinderlik verstoor. Die ware kunstenaar laat ons deur middel van die ervarings van sy persone, deur die uitbeelding van hul sielelewe voel, wat daar omgegaan het in die hart van die volk gedurende 'n seker tydperk. In Hoofstuk VIII slaag De Waal dan ook uitstekend daarin om ons deur middel van 'n samespraak tussen Bertie Muller en Kaptein Glide 'n stukkie oorlogspsigologie te gee. Maar meestal bly die intriege hoofsaak en is die oorlog 'n handige raam waarop die outeur oneindige awonture borduur. Dit was dan ook volstrek nie sy bedoeling om die innerlike roersels van die volksiel gedurende die wanhopige worsteling uit te beeld nie. Presies soos by Johannes van Wyk het hy 'n periode uit die geskiedenis geneem, waarin hy sy persone die bontste awonture kon laat beleef en tog 'n glimp van waarheid behou.
De Waal se twee werke is geen historiese romans nie, maar wel intriegeromans, presies soos die van sy leermeester, Jacob van Lennep. J.H. van den Bosch het op voortreflike wyse hierdie soort roman geskets[196]: "De stof der kunst is het karakteristieke en typische in zijn steeds nieuwe verwerkelijking. Als voortbrengsel der phantazie, behoort tot de kunst ook de reproductie van het toevallig-uiterlijke. Niet echter tot de beste. Het toevallige is niet noodwendig, het is waar noch onwaar. Tijdelijk mag het behagen, misschien door nieuwheid en gloed, voor een oogenblik spannen door vreemde ongewoonheid—weldra is het achter de bank geworpen en verouderd; de onverschilligheid der nakomelingschap velt er een zwijgend maar welsprekend vonnis over. Wil het eeuwig leven als de natuur, dan moet het kunstwerk—zelve Eeuwige natuur zijn, typisch en voleindigd.
De Intrigeroman als zoodanig, niet kind van rijpe ervaring ... kind van één dag daarentegen is bestemd om op denzelfden dag te sterven. Het is de roman der willekeur, wier type men in den Graaf de Monte Christo heeft leeren kennen. De intrigekunstenaar (al is zijn gave benijdenswaardig) geeft ons geen werkelijkheid, niet de wereld vol karakter rondom ons te aanschouwen,—het is de droomwereld eener spelende phantazie. Zijn helden zijn marionetten, hij de man in de poppekast. Het is de roman der oppervlakkigheid, zonder diepte van leven, zonder inwendigen samenhang. In de mysterieuze natuur is ook alles bont en willekeurig dooreen-geworpen, als in een uitdragerswinkel;—voor oppervlakkige blikken: want in de diepte is alles één. Het is kunst zonder waarheid, zonder wijsheid, geest en beteekenis, omdat het kunst zonder idee is."[197]
Ook De Waal se helde is marionette, aangeklede poppe, waarby die awontuur alle psigologie verdring. "Scherp getrokken is de lijn tussen deugd en boosheid. Hier ontwikkelen zich dan ook geen karakters; hier wordt ook geen moeite gedaan, om uit elk, overigens zo wonderlik samengesteld menselik hart, te halen, wat er, onder de werking van allerlei samenlopende of elkander strijdige invloeden, uit te halen is; verre van daar; onder al het levendig bedrijf, speelt ieder zijn hem toebedeelde rol op de meest passieve wijze; ieder van zijn kreaturen is gewaarmerkt tot een vast en onmiddellik te herkennen tiepe...."[198] Die enigste ontwikkeling, wat daar by De Waal se hoofkarakters te bespeur is, bestaan daarin dat die oorspronklike eienskap waarmee hy hul bedeel het, hoe langer hoe sterker word. Sy helde word al dapperder, sodat hulle in die laaste hoofstuk Uebermenschen is, sy skurke al hoe swarter, totdat hul die baarlike duiwel in persoon word. Hy bedenk allerlei middeltjies, wat daarop bereken is om ons bewondering vir sy held te laat styg, of ons veragting vir sy skurke te vergroot.
Johannes van Wyk bied homself as vrywilliger aan teen die Boesmans; hy is vergewingsgesind teen Gert en verpleeg hom as hy gewond is; hy red Hester Linde op besonder dapper wyse; as hy Gert heeltemal in sy mag het, neem hy geen wraak nie, maar wil alles vergeef; selfs Gert prys sy saggeaardheid: "As 'n vlieg in sy karringmelk val, dan red hy dit!"[199] Hy gee twintig guldens aan ou Fekkie; "die gebrek aan intellektuele geselskap het hy geweldig gevoel"[200] op die plaas by Villiers; van Fritz Köhler wil hy nie skinder nie; en as Gert sterf, dan voel Johannes "weer die kinderlike, broederlike liefde van jonger jare opstyg in hom".[201] Voorwaar, 'n voorbeeldige jong kêrel! 'n Tugendheld!
So ook Andries Burger. Hy is wel 'n bietjie koppig op skool, maar De Waal laat ons goed voel, dat dit eintlik 'n goeie eienskap is, wat net pedagogiese leiding nodig het. As Andries dan ook Perold se skool deurloop het, word hy 'n tiepe van die nasionale student. Hy wil nie eers met sulke "rou rooi" dametjies, soos Grace Palmer praat nie, en die koppigheid van die kind moet ons bewonder, omdat 't die onversetlike wilskrag van die jongeling verklaar, wat teen die wens van sy pleegvader en professor tog oorlog-toe gaan. Andries is ook 'n sportsman van die eerste water; hy weier om met sy beste vrind 'n dop te gaan steek en verwyt hom ernstig sy losbandigheid en gebrek aan nasionale sin. Bertie se swakheid moet dien om ons 'n hoër dunk van Andries te gee. In die oorlog word Andries so gou gebrei, dat, "hy amper enigiets sou waag".[202] Hy maak 'n stoutmoedige aanbod aan Generaal De Wet (p. 159) en as verkenner is hy die dapperheid in persoon, wat altyd die vyand baas raak. Op 'n koppie red hy Bertie, neem drie National Scouts gevange en skiet een dood. Sy gewonde vrind verpleeg hy met die grootste selfopoffering (p. 206). Phineas voel "glad ongerus in Utrecht" as hy hoor, dat daardie waagduiwel ... in die rondte swerf as verkenner"[203] en al is hy ook nie vandag se kind nie, waar dit op geslepenheid aankom, moet hy telkens erken, dat Andries hom uitoorlê. Andries kry altyd die mooi rol; hy red Grace van die Kaffers, bring haar in veiligheid en voorsien haar van geld; hy maak die geld buit, wat Phineas en Loogman van die weduwee afgeneem het en stuur dit aan haar terug met De Jager. As Genl. De Wet 'n skitterende oorwinning behaal, dan is Andries daarby.[204] As veldkornet Potgieter in die nood raak, dan is 't Andries, wat hom raad gee[205], en met die hulp van twee vrinde bestook hy die Engelse uit 'n voordelige posiesie sodat die kommando ontsnap en die vyand groot verliese ly. Maar Andries is nie alleen 'n onverskrokke krygsman en verkenner nie, hy kan ook 'n mooi gedig maak en behaal selfs 'n prys daarmee.[206] As die vrede gesluit word, dan hoor ons: "niemand het die prysgee van die duurgekogte onafhanklikheid van die Transvaal dieper ter harte geneem nie as die jong hooghartige Andries."[207]
By die tekening van sy skurke gaan De Waal presies op dieselfde wyse te werk. Die een laag swartsel na, die ander smeer hy op.
Gert Rass steel blomme, bring Johannes daardeur in die moeilikheid, val hom aan met 'n karwats en wil hom verwurg; hy stook Abram op om Johannes deur die Boesmans te laat vermoor; wil die laken nie opsteek om Johannes te red nie, en het selfs minder gevoel vir sy neef dan die Boesman, Abram; jak Johannes af, wat hom verpleeg 't en laat sy ouers onder die indruk kom, dat sy neef hom gewond 't; aan Klaartjie vertel hy kluitjies oor sy neef; op die basaar fop hy met sy nommer, beskinder Joosten en beroof hom van sy "violet"; hy laat 'n vervalste brief in Johannes se sak stop om hom van hoogverraad beskuldig te kry; is dadelik gereed om sy ontsnapte neef te agtervolg en wil hom koelbloedig doodskiet; bedreig Hester Linde met 'n pistool, lieg as hy in die moeilikheid raak, en huigel vrindskap vir Johannes om hom te kan vergiftig. Gert word só gevaarlik in sy duiwelagtige haat, dat De Waal verplig is om hom op te ruim voor hy Johannes en sy vrinde kan beloon vir hul deug.[208]
Phineas Marais, die eks-teoloog is ook 'n monster, wat al monsteragtiger word. Sy huigelary word hoe langer hoe geraffineerder, en om die bewondering vir Andries des te hoër te laat styg word sy teëstander al hoe gewikster in Fariseïese listigheid. Hy moet deur sy verraad en geldsug die nodige verwikkelinge skep, sodat Andries 'n kans kan kry om sy edelmoedigheid en onverskrokkenheid aan die dag te lê. Die laagheid van Phineas is die terrein waarop die patriot Andries, le chevalier sans peur et sans reproche steeds met sukses opereer. Andries is dwarsdeur die roman die lieweling van die outeur, orals word hy verheerlik, orals word die pad vir hom skoongemaak.
Op De Waal pas dan ook uitstekend die volgende verklaring van M.H. van Campen: "Twee eigenaardigheden hebben alle pseudo-menschscheppers gemeen, ten eerste: het verzoeten hunner nobele figuren tot dupen en engelen—welke twee begrippen, als men de gewikstheid der duivelen daarbij in aanmerking neemt, vrij wel elkander dekken!—; zij doen dit zuiver instinctmatig, of wel: een onduidelijk bewustzijn van hun onvermogen, in de menschschepping de aesthetische schoonheid te bereiken, doet hen streven naar de ethische, welk streven tevens tot gevolg heeft dat zij hun ignobele schepselen zoo zwart maken als de satan zelf is, daardoor wordt de ethische schoonheid langs een omweg bereikt: de lezer voelt, hoe boos de auteur op zijn figuur, hoe verontwaardigd hij is, het ethisch schoon bevindt zich dus in den auteur-zelf! En als het tweede dezer eigenaardigheden moet genoemd, dat de pseudo-menschschepper, hetzij min of meer bewust van zijn onvermogen als zoodanig, hetzij zelfs geheel onbewust daarvan en instinctief, de menschbeelding op het zooveelste plan doet terugwijken en het bijwerk brengt op het allereerste: het bijwerk van de "intrigue", van de taal, van de natuurbeschrijving, het bijwerk van alles en nog wat. Schiep de Heer in zes dagen heel de wereld en één menschenpaar, zij besteden dunkt mij, volle zes dagen aan het scheppen eener menschenlóóze wereld en stelen vijf minuten van den sabbath, om honderd menschen te maken! Die menschen zijn er dan ook naar ...—"[209] Alleen die volgende reserwe moet ek maak: wat bywerk van taal en natuurbeskrywing betref, is daar by De Waal geen sprake nie—hy vertrou enkel op 'n spannende intriege en 'n historiese versiering om sy verhaal leesbaar te maak—wat later bewys word.
Hoe dat by De Waal alles afhang van die grillige toeval blyk uit die verlowing van Hester Fourie en Bertie. Hester sê Phineas af, nie as gevolg van 'n geweldige sielekonflik nie, waarin haar patriotisme en liefde in botsing kom. Tot op die laaste behou sy haar naïewe geloof in sy opregtheid, ja verneder haarself voor haar veragtelike aanbidder: "Ek weet, dat jy my sal beskou as 'n bedriegster, 'n valse skepsel ... Ek weet dat jy die naam van Hester Fourie sal verag, sal verfoei, sal wil uitdelg uit jou geheue, ...[210]. Sy is selfs gewillig om Phineas te trou al was hy ook "handsupper"—eenvoudig omdat haar eie pa ook sy nasie verraai het—'n rede wat psigologies absoluut vals is, omdat juis die skrynende pyn daardeur veroorsaak, haar die verlore ideaal des te inniger sal laat koester en haar verlange om dit in die minnaar terug te vind oneindig versterk. "Pa het my diep teleurgestel, maar Phineas sal sy man staan—hy sal aan sy volk getrou bly", so sou die vrou Hester geredeneer het, die vrou wat geloof het dat hy 'n volksleier behoort te word![211] As De Waal wou gehad 't, dat ons Hester Fourie moet bewonder as 'n fiere dogter van die Vrystaat, dan moes hy die bitter kneusing van haar meisieshart uitgebeeld 't by die oorlopery van haar vader en minnaar, die wondere, geheimnisvolle rypwording van haar kinderliefde vir Bertie en haar langsame bewuswording van die feit, dat haar gevoel vir Phineas 'n vergissing was. Maar in die roman gehoorsaam sy aan "'n onverklaarbare, waarskuwende stem ... 'n instink wat na geen menslike raad wou luister nie",[212] terwyl sy tog héél goed weet, dat Bertie die plaas van Phineas in haar hart ingeneem 't. Of het Phineas haar ook leer huigel?
Haar liefde vir Bertie is nie 'n allesbeheersende, allesoorwinnende passie nie, wat haar met dwingende mag na die geliefde dryf, maar haar lot word beslis deur die absoluut toevallige ontdekking van Nurse Nellie. Haar lewe is nie die langsame ontplooiing uit 'n innerlike drang, wat onverbiddelik dryf na die vervulling van 'n eie sielsgeaardheid nie, omdat die skrywer nog nooit geloop 't op die slingerpaadjies, wat soos 'n wirrel-warrel-vlegwerk uitgesprei lê oor die groot wonderland—das Ewig-Weibliche.
Die blinde toeval! In Johannes van Wyk het die nommertrekkery op die basaar 'n beslissende invloed op die lewensgeluk van ses persone. En as Johannes sy kans laat glip, dan speel dieselfde blinde toeval hom die meisie nogeens in die hand, dan kry hy 'n geleentheid om Hester te red en verseker die flink optrede van sy vrinde hom 'n ongestoorde wandeling met haar. By die eetmaal is dit wéér die blinde toeval, wat hom 'n sitplaas naas Hester gee; wat die kaptein en kolonel met plotselinge doofheid slaan, sodat hy sy geheimpies uitvoerig aan haar kan vertel. Voorwaar, Johannes laat ons dink aan Van Lennep se motto by De Roos van Dekama. Hy is die man wat: "wacht en stille sitt" en tog alles kry, terwyl Gert met al sy slim planne homself in die ongeluk stort.
Joosten, vir wie Fritz Köhler, "g'n enkele keer die kans wou gee nie"[213] om met Jeanette te praat nie, word ook deur die blinde toeval gehelp—anders was hy vandag seker nog ongetroud!
En Grace Palmer? Haar huwelik is afhanklik van die toevallige ontdekking, dat sy die Twede Grieta is. Sy self gee drie redes op, waarom 'n huwelik met Andries onmoontlik is.[214] "De Intrigeroman kan alles bewijzen. Hij is een droom; de natuurwet is er buiten dienst gesteld."[215] Om dié rede behoef dit dan ook geen verbasing te wek nie, dat daar nog 'n hele reeks onwaarskynlikhede in die twee romans te vind is, o.a. die verdwyning van Grieta, die onvoldoende motivering van die haat tussen Andries en Phineas en veral die feit, dat Conradie die Kaap verlaat sonder Andries mee te deel wie Grace is. Op die manier kry Andries nog 'n kans om sy koppigheid te wys en die feit, dat hy nou al deur sy oorlogervarings tot selfstandige man geryp is, verhinder sy pleegvader nie om hom nog soos 'n stout seuntjie te behandel nie! In J. v. W. laat die karakter van Abram ons ook twyfel aan die egtheid daarvan; die skoot wat Abram net presies in die hart tref, terwyl hy op Johannes se hart mik, verwek 'n skeptiese glimlag. Dat Gert in die gifdrinktoneel hom so maklik laat fop, klink ook onwaarskynlik. De Waal slaag daar nie altyd in om sy sterk-romantiese gegewens deur 'n onweerstaanbare suggestiewe werking tot onbetwyfelbare realiteit te maak nie.
Dit blyk ook duidelik uit Andries se awontuur by Utrecht. Ons verneem dat 't "buitengewoon donker" is—só donker selfs, dat die ruiter "nouliks die kop van sy pêrd kon sien."[216] Tog laat "'n warrelwindjie 'n dun stofwolkie ... opstuif"! Later eers word die terrein deur bliksem af en toe verlig. Maar dit bly só donker, dat die kaffer "slegs 'n donkere gestalte" is. Die skrywer laat ons egter nie voel deur allerlei fyn trekkies nie, dat dit werklik donker is. Hy teken die hele toneel asof dit alles in die skroeiende son gebeur 't. "Verbysterd en asof half lam leun sy (Krysie) met haar een hand teen een van die opstaande rotse." Het Andries kat-oë gehad, of het hy dit ook alles, "met die hulp van (die) weerlig" so haarfyn gesien? Hy soek nie voel-voel na die gewere en bandeliers nie—hy tel sommer "een van die twee Lee-Metfords en die bandeliers op ...". Hy loop nie struikel-struikel oor die los klippe in die donker nie—"hy nader ... die meisie". En sy sien hom "verward" aan; "sy skud haar kop", as hy haar iets vraag en "aan haar kappie en jas kon jy ... sien, dat sy terdeë met klei in botsing gewees het." Het dit ook alles gebeur met die hulp van bliksemstrale, want dis nog só donker, dat hy byna oor die twee doodgeslaande perde val.
Die gebrek aan suggestiewe besonderheidjies belet ons om die waarheid van die nagtelike toneel te voel. Die skrywer het dit nie innerlik deurleef nie, maar met sy nugter verstand die awontuur inmekaar gesit. En hy was hier tog op bekende terrein, want hy was self onderwyser in Utrecht en het seker meer as een van die donderstorme gesien, wat met sulke plotselinge felheid kan neerswaai, so geheel anders as in die Kaap.
Die donderstorm word as volg beskrywe: "Die stormwolk, waaruit soveel vog gegiet en vuur geskiet was, was nog met onverminderde water en elektrisiteit belaai en woed nog aldeur voort, (dus 'n wolk, wat voortwoed!) maar nie meer vlak bo-kant die hoofde van die jong twee nie. Die reusagtige massa was na die noordweste gedrywe, en slegs die nadruppels val nog by die vlugtelinge. Met die ooptrek van die hemel kom ook die opgaande maan te voorskyn."[217] Van natuurviesie geen sprake nie, nog minder van indiwiduële impressie of verrassende segging. Die hele beskrywing word gegee enkel om die laaste sinnetjie, want Andries moet 'n kans kry om "die sewentienjarige poppie" te bekyk.
Die beskrywing van Patrysvlei[218] is soos die van 'n afslaer, wat 'n plaas wil verkoop. Patrysvlei is "'n lushof" met mooi draadheinings. Daar is 'n "deftige woonhuis" met "netjies ingerigte buitegeboue, stalle, krale, kampies en pluimveehokke"; "in sag groen gelowerde vrugteboorde", 'n groot tuin, 'n "massiefgewalde dam", deur 'n "altydlopende stroom gevoed" en verder "uitgebreide, duidelik afgebakende saai- en weilande". Die skrywer verseker ons, dat 't "'n bekoorlike landgoed, 'n paradysie" is, maar so 'n vendusieagtige ophemeling laat ons totaal koud en het met kuns niks te maak nie. Die van buitegekome obserwatoriese gewaarwording is nie deur die van binne opstygende deurvoeling tot 'n psigiese verbeelding geryp nie.
Die verslag van die voetbalwedstryd in hoofstuk vyf van Die Twede Grieta is ook 'n bewys van De Waal se onmag as kunstenaar. So 'n beskrywing kan 'n rapporteur van 'n agterveldse krantjie ook gee, want dis kleurlose joernalistiek, sonder 'n persoonlike aksent, in die allergewoonste voetbaljargon. Die partytjie by Bertie was in 'n groot saal "waar die meeste van die mense in vrolike gebabbel vergader was.... Verversings en lekkernye is intussen rondgedeel en van die keurigste sterk dranke kon jy te drink kry."[219]
In Johannes van Wyk nog 'n staaltjie: Hester en Johannes sing saam op die rots: "Toe begin hulle weer. Al die ander was stil as die graf. Heerlik weer lui (weerlui?) die skone melodie. Trillend weer het iedere noot in die rotsagtige kloof van kant tot kant weerklink. Met soveel gevolg is elke woord uitgebring geword dat dit ingedring het tot in die diepste hoekie van elke hart en die fynste snare daar geroer het. Was dit dan wonder dat selfs Louise haar oë vogtig geword het?[220] Viermaal weer; sesmaal ge opmekaar gestapel! en dit in ses-en-'n-halwe reël! By die waaragtige kunstenaar, wat hom diep in sy stof inlewe, verander ritme, styl, taal, woordekeus voortdurend al na gelang van die stof. De Waal wil hier musiek in woorde verklank en hy hakkel soos 'n doofstomme. Die mooi alliterasie: "Trillend weer het iedere noot in die rotsagtige kloof van kant tot kant weerklink" gaan verlore in die aanswellende gutturale kakofonie.
De Waal se styl het geen eie geluid nie. Sy taal is die van die koele gedagte, ontspring nie uit 'n ontroerde gemoed nie, mis harmoniese ritme. Nooit voel ons; daarin die koorsagtige klop van die digter, nooit tintel daarin die warm liefde vir singende woorde nie. Kort en saaklik deel hy ons mee, soveel as nodig is om die intriege te verstaan, soms met katalogusagtige dorheid. Grace word ingelei in "'n kamer van middelmatige grootte, wat klaarblykelik gedien het vir eet-, slaap- en werkkamer tegelyk, want in die middel staan daar 'n tafel met 'n bord, 'n kaasbak, 'n suikerpotjie, 'n standertjie, 'n paar koppies en pierinkies en nog meer sulke goed; naby die venster sien jy 'n tafeltjie met 'n goedkoop naaimasien en 'n werkmandjie daarop, terwyl, aan die teenoorgestelde kant van die kamer, die voetenent van 'n ledikant van agter 'n Japanese skerm uitsteek. Verder bemerk jy daar ook 'n wastafeltjie en enige ander meubelstukke—almal oud en eenvoudig, maar net en sindelik."[221] Geen verrassende wending, geen metaforiese vermoë. Dit is net asof hy 'n reusagtige settery het, waarin die sinne netjies in hul bakkies gerangskik staan—la phrase fait une fois pour toutes.[222] As iemand skrik of verbaas is, dan het hy "wydgespalkte, wit kykers", (J. v. W., p. 37); Malherbe en Joosten volg Johannes se bewegings "met beklemde harte en wyd-geopende oë", (J. v. W., p. 71); "Die dominee sien sy dogter met wydgespalkte oë aan", (J. v. W. p. 149); "die meid, met 'n uitdrukking van angs in haar groot, wit oë". (Tw. Gr., p. 7). "'n Klein gil verlaat sy bors, en met wydgespalkte kykers starend staan hy vir 'n oomblik asof versteend", (Tw. Gr. p. 173); "ontsettend verras staar hy die meisie met wydgespalkte oë en ope mond aan", (Tw. Gr., p. 392); "Palmer!?" roep Conradie, met groot oë, verbysterd", (Tw. Gr., p. 353); "Maar voor hy iets meer sê, deins hy verskrik terug, en staar haar met wydgespalkte oë aan", (Tw. Gr., p. 350); "Met wydgeopende, verwilderde kykers staar hy die besoekster asemloos aan", (Tw. Gr., p. 369); "Met ope monde asof deur towery geboei, gaap hulle die singers in verlore bewondering aan", (J. v. W., p. 97); "die trotse Chrissie staar met wye fonkelende oë vaag op na die plafond", (Tw. Gr., p. 224). As Boonzaaier dié romans moes illustreer ...! Dieselfde uitdrukking kom ook by Van Lennep voor: "Welnu! waar wacht gij op?" vroeg de man, wien de uitdaging gold, aan den voerman, die met wijd opgespalkte oogen, dit tooneel stond aan te gapen."[223]
Soms laat De Waal nogal wonderlike maneuwers uitvoer: "Maar Jeanette het alreeds haar oë met stille valksblikke na huis, werf en elke plekkie daar rondom, vir sover as haar gesig nie versper was nie geslinger", (J. v. W., p. 199); "Sy oë begin van vooraf in sy kop te rol", (J. v. W., p. 15).
Nog 'n ander stylverstening is: "'n Rilling loop deur sy lyf", (J. v. W., p. 38); "'n Vinnige rilling loop deur die hele lyf van Johannes", (J. v. W., p. 215); "'n Ysige rilling tref die lede van die sielvermoeide student", (Tw. Gr., p 389); "Hester haar liggaam tril van die skok", (Tw. Gr., p. 200); "wat 'n gril skud sy lede", (Tw. Gr., p. 250); "Dit was of Andries 'n geweldige skok deur al sy lede kry", (Tw. Gr., p. 314). "Wat 'n rilling loop daar deur sy hart", (J. v. W., p. 72). Van Lennep gebruik die uitdrukking ook: "Een koude rilling liep mij door de aderen."[224]
Nog 'n ander stylverstening is asvaal of vaal soos as.[225] So sou ons die hele inwentaris kan opmaak van die bakkies in De Waal se settery; van die beperkte aantal stereotiepe uitdrukkings, wat met tergende reëlmatigheid by amper elke dialoog voorkom—die "knersende tande", "geamuseerde gesigte", die "hande in die hare", die krappery agter die ore, of op die kop, die "bevestigende knikkies", "wit bewende lippe", "glinsterende, wetende, verwilderde, verslindende ... oë"; "vuurrooi wange", "veel-betekende (?) glimlaggies", "angstig-kloppende, bonsende harte" en al die verskillende soorte kyke!!—o.a. "die kyk ... wat as 'n dolk tref", (J. van W., p. 46). Dan nog De Waal se besonder hartlam-uitdrukking kykers—van allerlei aard, diep, vurige, swart, donkerbruin, glimlaggende, skitterende, medely wekkende, sielvolle[226], glimmende, bewonderende, grys, groot, ope, blink, pragtige, patetiese....[227]
'n Enkele maal word ons verras deur 'n raak tekening: "rooi as 'n granaatappel", (Tw. Gr., p. 121); "met 'n berouvolle krakie in sy stem", (Tw. Gr., p. 269),—maar dis nes 'n eensame blommetjie in 'n vaal stoppelland. Meestal is De Waal doodtevrede met die ou beskrywende adjektiewe, wat die Neerlandse skrywers van vóór 1880 duisendmaal afgerinkink het. Dit blyk veral waar hy die uiterlik van sy persone teken. Hester Linde het "'n lelie-blanke kleur, afgewissel deur die roseblos van gesondheid, ... daarby vertoon sy 'n paar oë so helder, so hemelsblou, so sielvol, as g'n digter of skilder sou kan teken nie; 'n lieflike neusie gelyk en reg as van 'n marmer beeld." (J. v. W., p. 63). Sy is 'n engelagtige wese, (J. v. W. p. 72 en 162) met hemelse oë; ook Grieta is "'n beeldfraaie mens.... meer geskik vir die tuiste van engele, dan vir hierdie prosaiese aardbol", (Tw. Gr., p. 1); "'n buitengewone juweel" met "melkwit hals" en "goudbruin hare, wat tot sieraad sou gestrek het vir die skoonste towergodin", terwyl Hester weer 'n "liewe juweeltjie" is, "'n allerpragtigste kind, die beeldskone predikantsdogter" met "'n sneeublanke gelaat". Sy is "die liewe engel wat dag en nag Johannes se gedagte besig hou en 'n vuur in sy hart aangesteek het wat niks kan uitblus nie...." (J. v. W., p. 178). Ook Grace laat "'n vlammetjie ... ontbrand, wat Andries nie lig kon blus nie". Nes by Hester word ons verseker van die magteloosheid van die skilder en nou ook nog van die beeldhouer: "Het ooit 'n skilder 'n kinnetjie pragtiger geskets? Het ooit 'n beeldhouer 'n mondjie bedeel met soveel uitdrukking, soveel karakter, soveel soete onskuld, as wat vertoon word deur daardie twee gesonde, klein, allerliefs gevormde lippies?" (Tw. Gr., p. 239). Sy is ook soos haar moeder "meer geskik vir die tuiste van engele": "Dat 'n regtige, gewone, aardse mens so fouteloos (anglisisme!) daar kon uitsien, sou hy nooit kan geglo het nie." Ons glo dit dan ook nie!! Mens moet na Tollens en sy konfraters gaan om die sussies van De Waal se engeltjies te kry. Hoor maar hoe Tollens "Het Ongenoemde Meisje" "besing"[228]:
Maar tienmaal schooner is haar toon,
Haar stem doortintelt merg en bloed;
Geen ziel, die zij niet smelten doet;
Geen booswicht is er, als zij zingt,
Wien niet een traan in de oogen dringt.
Haar zooltje laat geen teeken staan.
Haar vlechten zijn als ravengit,
Haar boezem is als zwanenwit;
Geen enkel sproetje vlekt haar kin
En 't englenzieltjen evenmin.
Zoo schoon, zoo rein, zoo engelgoed;
Wie 't orglen van een stem vernam,
Zoo fraai of ze uit den hemel kwam,
Geloof hij 't vast—zweer hij 't vrij:
Dat is mijn meisje! dat is zij!"
De Waal se "fouteloos fraai" meisies dra natuurlik ook klere, "fouteloos passend" soos Grieta; hul het "lieflike gelaatstrekke", "pragtige elegante" gestaltes, of anders "heerlik-fraai—slank en tog vol"; meestal "langwerpige" gesiggies soos Hester Linde, Hester Fourie en Grace; maar die koddigste is wel die plomp[229] wange, wat by De Waal blykbaar die betekenis van die Engelse plump het!!
Vergelyk ons nou hiermee die manier, waarop Van Lennep sy dames en here teken, dan val die sterk ooreenkoms dadelik in die oog. In De Roos van Dekama word Madzy as volg voorgestel: "Voor zooveel men, nu zij gezeten was, haar gestalte kon beoordeelen, was zij rijzig van postuur; doch haar fijne leest was gewikkeld in een zwarten zijden mantel, die niets liet bespeuren dan de bevallige ronding van een leliewitten arm.... De kap van den mantel bedekte het hoofd, en was onder de kin vastgestrikt, doch liet echter vryheid om de edelste en tevens innemendste wezenstrekken te beschouwen, welke immer in het hart eens jongelings liefde verwekt hebben[230]. De strenge regelmaat des beloops van neus en voorhoofd, welke aan het profiel der Grieksche Juno herinnerden, was getemperd door den zachten, minzamen opslag van twee groote, helder hemelsblauwe oogen, overwelfd door gitzwarte wenkbrauwen, zoo zuiver van omtrek, als waren zy door een penseelgevormd, en door de kuiltjes welke in de van gezondheid schitterende wangen en in de ronde kin als tot een schuilplaats voor de bevalligheden gevormd waren. Een klein vlekje ter zijde der bovenlip, instede van het gelaat te ontsieren, stak geestig af tegen de blanke tinten van het fijne, met blauwe adertjes gemarmerde vel, en verhoogde de levendigheid van uitdrukking der wezenstrekken, vooral wanneer zij zich tot een lachje saamtrokken, en de halfgeopende rozemond, de dubbele rij der hagelwitte tandjes ontdekken liet."[231] Vir Reinout is Madzy dan ook dadelik 'n "lieve engel". "Reinout ... had een wel niet rijzige, maar toch in allen deele fraai gevormde, gestalte. Ravenzwart haar krulde hem met bevalligheid om de slapen; zijn gelaatstrekken waren fijn en regelmatig, en schoon van nature bleek en door de zuiderzon en de vermoeienissen des oorlogs met een gele tint overdekt, hoogst bevallig en innemend. Geest en scherpzinnigheid straalden uit zijn gitzwarte oogen, wier levendigheid waarde gaf aan alles wat hij zeide."[232] Malherbe "was middelmatig van gestalte, welgeset, kragtig gebou. Sy blas kleur en Paryse neus het duidelik te kenne gegee dat hy van Franse afkoms was; en sy groot welgevormde kop, versierd met 'n bos digte, pikswart krulhare, het blyk gelewer van meer dan 'n gewone mate van harsings; terwyl sy diep, vurige, donkerbruin kykertjies, wat treffend gepas het by sy swaar wenkbroue, die wakkerste skerpsinnigheid verraai het." (J. v. W., p. 61.)
Daar is nog meer reminisensies aan die versteende terminologie van vóór 1880 by De Waal. "Iedereen luister met ingetoë bewondering na die sielverheffende, heerlike musiek", (J. v. W., p. 228); verbryselende tyding, (J. v. W., p. 251); "wat daar in sy gemoed omgaan, kan beter verbeel dan beskrywe word", (J. v. W., p. 106); 'n ontluikende man, (J. v. W., p. 8). De Waal besef nie die gevoelswaarde van die woord ontluikende nie, want ofskoon "'n ontluikende maagd" 'n doodgewone staaltjie van die Parnastaal is, kan ons ons moeilik 'n ontluikende man voorstel. In Die Twede Grieta kom ook nog voor: "verhewe, edele gelaatstrekke", (p. 209); "onvergeetlike, hartstrelende", (p. 318); "'n soet druppel in die bitter beker", (p. 12); "hartedrif" (p. 382); "dit was asof 'n priem sy hart deurboor en sy bloed yskoud word", (p. 96)[233] "'n Vloed van bitter onaangename gewaarwordings deurstroom sy beklemde gemoed", (id. vgl. J. v. W., p. 174); "sy was weggevaar na die heerlike wêreld van die sorglose vergetelheid, rustig in die arms van die slaapgod ...", (p. 238); "oorstelp van vreugde en droefheid", (p. 174).
Aan beelde waag De Waal hom baie selde en as hy dit doen, dan is 't gemeenplaatse, of ridikule voorstellings soos: "Hy kon sy brein in geen ander rigting laat vloei nie" (Tw. Gr., p. 259); "Die nommer van die meisie wat nou so dryf op die hete onstuimige stroom van sy gedagtes", (J. v. W., p. 64); sy gedagtes rol oor al die gebeurtenisse van die aand terug", (J. v. W., p. 106); "Die digte sluier wat haar geestesoog bedek het, is afgeruk", (J. v. W., p. 174); Andries hoor Grace se "silwerstem. Dit tril(!) die snare van sy hart", (Tw. Gr., p. 259); "Byna onmiddellik daarna, soos in 'n towerslag verander haar gelaat in glad 'n ander plooi ..." wat net so 'n wonderlike metamorfose is soos die van Andries, wat volgens Phineas van 'n askoek tot 'n doring ontwikkel, (Tw. Gr., p. 242 en 382).
"Jacob van Lennep was van 1829 tot zijn dood in 1868, Rijks-advokaat; bijna 40 jaar dus. Het ambt maakt de man. Deze man moet dus wel tot in z'n tenen advokaat zijn geworden, vooral omdat-ie van z'n eigen natuur al had, wat dat ambt in 'n mens pleegt te ontwikkelen: handigheid in 't pareren en uitvallen; scherpzichtigheid van elk plekje dat de tegenpartij bloot geeft; en bij deze schermmeesters-talenten, toch eenvoudige waarheidszin en oprechtheid....[234] Dieselfde eienskappe is ook te vind in die romans van Advokaat De Waal. Hy het sy eie pleiterstalent aan Malherbe geskenk en die kruisverhoor van Gert is een van die besgeslaagde gedeeltes van Johannes van Wyk. Phineas behaal ook 'n advokate-oorwinning op die Smithfielders en die weduwee, en sy listige draaitjies laat ons meer aan die geregshof dan die Teologiese Kweekskool dink. Vir die samestelling van sy intrieges kon De Waal dan ook profiteer van sy eie ervaring by die geregshof, 'n element wat 'n ruim plaas beslaan in albei romans. Die lewendigheid van sy dialoog laat aan dieselfde invloed dink. Oor 'n raak antwoord staan sy persone selde verleë, en tog ontaard dit nie in 'n vernufsdialoog nie, maar is gewoonlik 'n weergawe van die los natuurlike gesèlstoon. Dat hy dit egter nie altyd tref nie, bewys die volgende kromtaal, wat hy in die mond van Professor Clarke lê: "Jy het skone vooruitsigte, my jong (sic!), as jy net getrou by jou studies wil bly; en ek gee jou my woord, dat alles, wat ek kan doen om jou meriete bekroon te kry met die sukses, wat dit verdien, sal ek.[235] Ook Ds. Kestell en Conradie spreek Andries toe as my jong.[236]
'n Staaltjie van gebrekkige psigologie vind ons in Die Twede Grieta. Dis Andries se verjaarsdag en hy moet natuurlik die gewigtige gebeurtenis aan sy maat op skool meedeel. "Mag jy soet opgroei! fluister die ander grappig terug."[237] Wie sou so 'n ou-tante-agtige wens verwag van 'n kind van elf jaar? As hy nou nog gevra 't: "Het jy baie presente gekry?" dan kon ons dit verstaan!
By De Waal kan ons konstateer 'n byna volslae veronagsaming van die volkstaal. Hy was een van ons eerste skrywers en het soos weinig ander die kans gehad om gebruik te maak van tiepies Afrikaanse wendinge, wat in die rykste verskeidenheid net op die lewewekkende adem van die kunstenaar gewag 't. Maar in plaas daarvan gebruik hy die dorre beendere van 'n voos ou-tydse retoriek, wat al twintig jaar morsdood was. Of wat uit kultuuroogpunt nog veel erger was, hy leen hot en haar van die Engelse en set die jong lesers van De Goede Hoop 'n onsmaaklike hutspot à l'anglaise voor—juis dié mense, wat hy, as taalyweraar, moes oortuig van die deugdelikheid van die Afrikaanse taal. As De Waal woordkunstenaar gewees 't, dan sou hy op sy togte met die Rondgaande Hof, wat hom in nou aanraking met al die klasse van die samelewing oor 'n uitgestrekte gebied van die Kaapprovinsie gebring 't, die volkstaal beluister 't, met volle teue die fris veldgeur van die ongerepte Afrikaanse idioom ingedrink 't. En indien hy ook al dikwels die verpestende lug, wat stadig maar seker by ons taalvensters ingewaai het, moes opsnuif, was dit dan nie juis sy heilige plig as voorman om met speurende sorg alle uitlandse bysmakies uit die nasionale taalspys, wat hy vir argelose jongeliede opgedis het te verwyder nie? Maar die Engelse stormwind het De Waal omgewaai en al het hy in die afgelope sewentien jaar effentjies gespartel om op te staan, die vyfde druk van Johannes van Wyk en die twede druk van Die Twede Grieta bewys dat dit hom tot nog toe nie geluk 't nie.
In sy dissertasie Taal en Poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging het Dr. E.C. Pienaar gekonstateer, dat met betrekking tot anglisismes Johannes van Wyk "aan 'n ongeneeslike kwaal ly".[238] In Die Burger van Augustus 1921 laat De Waal hom as volg daaroor uit: "Is dit die skuld van die outeur dat soveel anglisismes burgerreg verkry het in ons taal? Toe ek die boek geskrywe het, het ek die spreektaal ten naastenby weergegee soos hy gebruik geword het, nie soos ek of my taalvriende sou verkies het dat hy moet wees nie. My skryftaal was maar 'n weerspiegeling van die spraak.... Die woorde lyk (hou van) en kyk (blik) ... sou ek darem in geen geval laat vaar het nie. Hulle het pos gevat in ons taal en verarm dit nie." Dr. Pienaar het ongetwyfeld gelyk as hy beweer, dat De Waal se taal "'n weerspiegeling was van 'n kunsmatigvervalste spraak-werklikheid, soos die onder bepaalde anti-nasionale skool-invloede in bepaalde kringe geheers het."[239] Tereg word ook verder gelaak die gebrek aan "historiese atmosfeer" in Johannes van Wyk "omdat die skrywer deftige Hollanders van die jaar 1700 anglisismes in die mond lê, wat tuis hoort by verengelste Afrikaners van twee honderd jaar later, en selfs dan nog maar in sekere kringe."[240]
"Moed broei moed" is die vertaling, wat Grace Palmer gee van "Courage breeds courage". Andries verbeter dit tot: "Moed kweek moed"[241]. Dit is presies die wyse waarop De Waal te werk gaan. Sy gedagtewêreld is Engels; en sy skrywery is 'n langdurig gesukkel, 'n kriewelagtige gepeuter om aan Engelse gedagtes 'n Afrikaanse tint te gee. Só kan geen kunswerk ontstaan nie. Ons stuit gedurig op uitdrukkings en woorde, waarvan die Engelse voorbeelde hul direk aan ons opdring. Dit is dan ook 'n vergeefse poging om die twee romans van anglisismes te suiwer, wat die skrywer alreeds probeer doen 't; die rooi suurdesem het deur-en-deur getrek tot in hul kern, soos blyk uit die volgende paar voorbeelde wat gemaklik verdubbel kan word. In Johannes van Wyk, vyfde druk 1921, kom voor: p. 29, "sou hy 'n twintigtal van daardie gebroed binne vyf minute kon uitgevee het; p. 149, "Wat 'n jammer ..." p. 173, "dat F.K.... sy kop mag verloor en 'n hand in so 'n daad hê; p. 174, Sou sy nie ... iets kan sê of doen wat hom mag weggee nie? p. 215, (hy) bind sy rooi sakdoek oor die groter deel van sy gesig; p. 224, Die twee lawwe kêrels ... vind hulle uitgesny deur "die Franse advokaat"; p. 76, "Gou nou!" haas Joosten sy twee vrinde aan, ...
In Die Twede Grieta, twede druk, 1921: p. 11, watter adres hom in Johannesburg sou vind, p. 54, Brittanje steek weer sy vinger in die pasty; p. 136, 'n Stuiwer vir jou gedagte; p. 149, maar sy vrees het nog die bo-hand gevoer; p. 213, Ons kon om die lewe nie raai; p. 242, in die klein uurtjies van die nag; p. 308, die gees van jingoïsme—waarvan alle ... Afrikaners in die stede prooi was; p. 326, koerasie byeengesamel; p. 328, in watter woorde die nuus te breek; p. 377, Die aparte uitdrukkings, wat daar beurtelings op die gelaat van Grieta verskyn het ... was 'n studie.—Plompe wange is reeds in 'n ander verband genoem. In Die Twede Grieta hoor ons nog van 'n milde behandeling! (Eng. mild).
Ook die volgende uitdrukkings, meestal onbeholpe vertalings, toon duidelik aan hoe De Waal in Engels dink en dan 'n woord of wending kies, wat glad nie in die verband pas nie. In Johannes van Wyk b.v. p. 48, aan die agterdeel van die huis; p. 80, 84, 246 die gestremde (Eng. strained) stilte, verhouding, ens.; p. 84, En hy ... ontmoet haar lippe met syne ... in 'n soete, hartelike kus; p. 101, U het ons almal uiters gul vergas; p. 180, Die stem klink op verhewe toon[242]; p. 217, jy 't my in 'n desperate weg gedring; 'n goeie dag gee.
In Die Twede Grieta: p. 41, Die ruime stellasies ... was besprenkeld van toeskouers[243]; p. 56, Op laasgenoemde plek spring daar 'n stad op; p. 59, tegelyk sou die forte by Pretoria gegryp word; p. 198, sy volledig die sin; p. 175, Intussen doen die verpleër aldeur alles in sy vermoë om die vloei van die bloed te stuit, en werklik was die lekkasie(!) binnekort aanmerklik verminder.
Kyk (blik), kom kyk (besoek) en lyk (hou van) is vaste uitdrukkings van De Waal. By die gebruik van voorsetsels is hy ook gedurig onder Engelse invloed of maak hy die snaakste foute. In Johannes van Wyk b.v. p. 19, onttrek ... uit; p. 24, voorsien ... met[244]; p. 59, trakteer met lekkers; p. 60, deelneem in; p. 61, Aan sy breë mond kan jy ... lees; p. 71, vermorsel aan 'n rots; p. 96, hy roep op die sangpaar; p. 128, vervang met; p. 170, gedagtes in die saak vorm; p. 180, om jou naamtekening aan hierdie getuigskrif ... te verkry; p. 204, hy hou hom onledig aan die heel-maak van 'n ... mandjie; ens.
In Die Twede Grieta: p. 335, om hom met die nou gang te begewe na sy kompartement; p. 344, berus by haar laaste antwoord; p. 369, hy spring met 'n skrik in sy sitplaas op; p. 388, 'n kelkie ... tot mekaar se gesondheid drink; p. 227, "Kom!" roep die boer aan die pêrde; p. 156, duskant van Paardeberg; p. 285, ryk in bobbiaan ...; ens.
'n Voorbeeld van stokkerige Hollands vind ons in Johannes van Wyk, p, 190: Die verbeide vyand. Telkens is die woordskikking verkeerd. In die Tw. Gr., p. 47, b.v. Die trant van die spel, ja, het so 'n keer geneem, dat, binne vyf minute na die ongeluk, was een van die donkerbloues in staat ...; p. 79, Hy het my onder ander vertel ... dat ofskoon Hollands en Engels op papier gelyke regte het, word daar in die praktyk gesorg....[245]
Die lidwoord ontbreek in: om sake weer op ou voet te kry; pas het hy hierdie prooi in oog gekry; hulle wag tot oordeelsdag.[246] Of anders staan dit waar dit onnodig is: Omtrent honderd kanonne (word) in die werking gebring.[247]
Verder kom daar nog 'n hele stel uitdrukkings of woorde voor wat (a) 'n allerkoddigste indruk maak deur hul lompheid; (b) volmaak onverstaanbaar of ongebruiklik is; (c) waarvan De Waal die gevoelswaarde nie besef 't nie. Ek gee enige voorbeelde:
(a) Uit Johannes van Wyk:
(p. 42) Toe verkwik hy sy gestel by 'n dammetjie; p. 68, die lewendige kou water; p. 70, Versigtig en langsaam kom hy (die skuit) met sy swaarbelaaide mensevrag gedurig nader; p. 82, die gemoedvolle vader; p. 192, 't Was allesbehalwe 'n gevoel van gerustheid waarmee die verdediger van die kraal nou beset was. Hy moes die toneel ... toeskou; p. 226, Die liewe natuurlike musiek, wat hierdie lewendige water op sy weg ... ondertoe na die vlakte baan; p. 82, En wat kom die gewaad ook daarop aan, solank as dit nog reg is miet sy inhoud! (Ds. Linde tot Hester); p. 227, Daardie selvolle kykers, wat so sy hart verteer het.
Uit Die Twede Grieta:
(p. 236) Haar storie ... het sy op so 'n belang-prikkelende manier vertel, dat dit van begin tot end die aandag van haar geleide boeiend geïnteresseer het; p. 295, So het die burgers hulle gelate wil berus by die besluite ...; p. 394, die vooruitlopende weet-al-leser; p. 4, in die wye, rond-gegruisde tuinpaadjie.
(b) Uit Johannes van Wyk
p. 7, Sy ... ontlos haar van haar helper; p. 201, die bedleërige; p. 163, 'n aangestrande vreemdeling, 'n vermoede gevlugte seeman; p. 24, spieder en bespeurder; p. 2, sy goedbelynde gesig.
Uit Die Twede Grieta:
p. 295, die harttrillende vierkleur; p. 308, weervaardigheid; p. 381, die salig-oorstelpte besoeker.
(c) Uit Johannes van Wyk:
p. 5, die dik prettige dogter; p. 235, met 'n gesig oppervlakkig prettig; p. 140, 'n prettige boer; p. 169, 253, nering; p. 102, Het komt my voor dat tante Debora hem daartoe aansart; p. 58, die mense was gemoedelik aangedaan; p. 68, Köhler het haar (die meisie) met geweld weggeraap; p. 80, terugwerping; p. 75, toewerping; p. 165, Ek weet waarlik van niemand wat 'n mooier vorm en postuur het nie (van Johannes geseg); p. 188, en al die huisgesinne ... het met waens en karre na die setel van plesier en vrolikheid vertrek.
p. 19, Wat sal van daardie verskriklike wil van hom word, as ...; As ek jou belet om dit met geweld uit hom te delg; p. 20, Phineas Junior ... het welig opgegroei; p, 34, Haar geselligheid, wat sy by al haar kennisse ... beoefen het; p. 114, na 'n koppie koffie by 'n buurman te benuttig het; p. 286, om Andries handtastelik te verwelkom; p. 302, tasbare dank; p. 265, nouliks was daardie aanval aanvaar.
Stompies.
Stompies, 'n bundel stories, rympies en toneelspelletjies is, wat die prosastukke betref, uit dieselfde hout as die romans gesny. Tien of twaalf sulke stompies met timmermansvaardigheid aanmekaar gelas en met historiese kleefstof van 'n patriotiese merk vasgelym vorm die lang stompe van die romans. Maar dis dorre stompe van 'n stokoue, doodgebloeide boom, wat De Waal omgekap 't om die taalvuurtjie mee op te stook.
In Stompies (1911) word die getal van die "engelagtige" meisies met hul "betowerende, hemel-fraaie kykers (o.a. p. 7, 10, 156), plompe rooskleurige wangetjies (p. 98), Venusagtige gestalte (p. 140), ens. vermeerder. Hulle "stuur 'n elektriese stroom deur al die lede" (p. 156) van hul aanbidders en as hulle so onversigtig is om in die water te val, of deur Kaffers toegetakel word, dan kry die dapper redders, wat toevallig daarop afkom die welbekende "koue rilling" wat "deur hul hele lyf loop" (o.a. p. 78), totdat hul uiteindelik "die hemelse gedaante van hul teergeliefde(s) te gemoet vlieg" (p. 83) en "verrukkelike vreugde in hul hart straal." (p. 83.) Die gelukkige paartjies word dan nog almal voorsien van 'n liewe gesonde seuntjie (p. 60), "twee fraaie kindertjies" (p. 104) of "drie gesonde kleintjies" (p. 158).
Die voorwoord bevat nog 'n merkwaardige verklaring: "Soals die ironie dit wil, gee ek, die alle digters en rympiesmakers beskou als beklagenswaardige dromers en dwepers, nou self 'n klomp rympies uit!—" Dat iemand wat so 'n beskouing daarop na hou, geen kunswerk kan lewer nie, spreek vanself. Hy het self dan ook erken dat hy nie "in die wieg gelê was om romans te skrywe nie. (Hy) het maar die leeslus onder ons volk vir Afrikaans wil help opwek"[248]. Hierdie oordeel kan na ons ondersoek volkome bevestig word. Sy romans het geen letterkundige, maar wel kultuur-historiese waarde. Dit was propaganda-werk, wat verskyn het in 'n tyd toe die meeste ander voormanne nog niks gepresteer had en daar feitlik geen Afrikaanse leesstof was nie. Sy doel het De Waal dan ook bereik; Hy het 'n groot deel van die Afrikaanse volk hul eie taal leer lees. Wanneer ons nou dat die stryd vir Afrikaans gewin is, behoefte gevoel om ook die letterkundige waarde van die eerste prosawerk te bepaal, dan moet daar nogeens met nadruk op gewys word, dat Johannes van Wyk met al sy gebreke 'n faktor van belang in die taalstryd was.
Dat dit gelees is, is veral te danke aan die spannende intriege. Wat J. Koopmans van Van Lennep sê is ook van De Waal waar: "Meesterlik worden de draden in één punt samengetrokken; als in een vuurwerk knapt en knettert de kruithuls aan alle kanten; de ene vonk ontsteekt de andere en draait de spil naar de gewenste zijde"[249]. Solank as daar mense is wat 'n boek lees alleen "vir die storie", sal De Waal se romans seker gelees word.
§ 2. J. Lub.
J. Lub is op 1 Mei 1868 gebore te Garijp, 'n dorpie in die provinsie Friesland. In 1892 het hy as onderwyser na die Transvaal gekom. In die Anglo-Boere-oorlog was hy vir ses maande in diens van die Rooi Kruis as bestuurder van die ambulanstreine. Na die vrede het hy opgetree as Hollandse dosent aan die Johannesburgse Normaal-Skool en tans is hy inspekteur van skole op die Rand. Vyf bundels sketse het van hom verskyn: Eenvoudige Mense (1908), Donker Johannesburg (1910)[250], In en om de Goudstad (1912), Het Zwarte Gevaar (1913), Oom Frikkie en ander Sketse (1918).[251]
Van Lub se sketse is 'n groot aantal in Afrikaans geskrywe, maar dit is die Afrikaans van 'n buitelander, waarin, hoe goed hy die taal ook al deur 'n langdurige verblyf onder ons mense geleer 't, tog altyd nog iets vreemds klink. Omdat sy persone meestal in 'n Engelse milieu optree, kom daar in sy werk nogal baie Engelse uitdrukkings voor en hoewel dit soms deur die geaardheid van die sketse noodsaaklik word, moet die veelvuldige gebruik van woorde soos "cab, stretsjer, uitgeswindel, loafers, motormen, sweets, gingerbier" ens. beslis afgekeur word. "George lyk om te "marry", maar sy "job" betaal maar net £12-10s., en hy het die laaste tyd op die reisies verloor, want sy "friend" het hom die "wrong tip" gegee" (Eenv. Mense3, p. 52). Al dien so 'n staaltjie nou ook ter karakterisering, tog word die herhaling van sulke gebrabbel op lange laas onleesbaar.
Die verwording van die Afrikanerkarakter in die kosmopolietiese goudstad—dit is die vernaamste onderwerp van Lub se sketse. "Daar binne in die kuil (Johannesburg), vergaan 'n deel van ons arm mense, wat in hoë plekke behoort te wees, maar wat nou in hole van ellende omkom en bedelaars is ... of nog erger" (Oom Frikkie, p. 66). Die degenerasie van sulke sosiale drenkelinge word in lewendige tafreeltjies beskryf. Die algemene opset is gewoonlik so: eers word met 'n paar vegies die stadsbeeld geteken; dan ontmoet "meester" een van sy oud-leerlinge of 'n ander bekende van die plaas, wat nou in die uiterste ellende verkeer. So kry "meester" af en toe 'n kans om die rol van Hildebrand teenoor die diakenhuismannetje te speel. Anders word allerlei straattiepes op die manier van Justus van Maurik beskryf, soms met 'n moraliserende prekie as slot. "Dink tog 'n bietjie, as julle die busdrywer(s) sien, dat hy ook een van ons medemense is", ens (Eenv. Mense, p. 36). Met 'n poliesman as geleider besoek Lub die gevangenisse, agterbuurte en reddingshuise. Die redakteur van Die Brandwag het sy werk juis gekarakteriseer: "Sulke sketse is menslike dokumente ... 'n simpatieke argief, wat die koue koerante en dokumente-argief van vandag se geskiedenis aanvul vir die toekoms" (t.a.p., Des. 1918). Dit is goeie joernalistiek, met veel mensekennis geskryf, en dit werp 'n lig op die ontstaan van ons arme blanke, 'n kwessie wat nog altyd aktuëel is.
By die beskrywing van sy melankoliese tonele gebruik Lub soms melodramatiese motiewe, wat as pakkende slot moet dien. Op die manier verswak hy die indruk van roue realiteit, wat sommige van sy woordfoto's op ons maak. Ter afwisseling kry ons sketse in die komiese genre, wat meestal goed geslaag is.
§ 3. J.G. Engela.
J.G. Engela is gebore in 1862 op Ceres, waar hy alleen Engels op die skool kon leer. Op sewentienjarige leeftyd was hy al ouerloos en toe moes hy tog-ry, skoolhou en allerhande ander werk doen om 'n bestaan te maak. In die Transvaal was hy op die kantoor van die mynkommissaris, toe die oorlog uitbreek. Hy is by Paardeberg gevang en na Ceylon gestuur. Na die vrede was hy klerk in 'n winkel en in dié tyd het sy boeke verskyn. In 1914 is hy as winkel-inspekteur aangestel, en toe hy op sestigjarige leeftyd volgens die regulasies moes aftree, het hy gaan boer op "Die Vlakte", in die distrik Bloemhof.
Afrikaanse Verhale en Gesellige Half-Uurtjies.
In die voorwoord van sy twede bundel, Gesellige Half-Uurtjies verklaar die skrywer, dat hy "in alle eenvoudigheid getrag (het) om ons volk tot meer lees aan te spoor." Dié doel het hy seker bereik, veral omdat in 1909, toe die eerste bundel verskyn het, Afrikaanse boeke nog baie skaars was, maar ook omdat hy sy grappies op aangename wyse vertel. Engela laat gewoonlik een of ander norse persoon in 'n strik loop. Hoe om iemand 'n poets te bak is sy spesialiteit. Wie onder humor nog iets anders verstaan dan pure grapperigheid sal dit seker nie eens wees met Nico Hofmeyr nie, waar hy in die voorrede van die Verhale die skrywer se "fyn humor" roem.
Minder gelukkig is Engela met sy ernstige verhale, wat by voorkeur 'n moordgeskiedenis behandel en erg melodramaties is. Vir romantiekerige situasies is hy ook lief. So hoor ons dat Gratia "plaas neem op die ou omgevalle boomstam, en ... haar betraande oë omhoog-slaan, naar die heerlike groen lommer waarmee die woud so kunstig in 'n Septembergewaad versier was.... Saggies roer sy die snare van haar Mandoliene aan...." (Half-Uurtjies, p. 33). Tog ken Engela Rhijnvis Feith seker net uit sy gesangeboek.
Gesels.
Gesels (2de druk, 1913) is die swakste van die drie bundeltjies. Taal en styl is hier besonder onbeholpe, die grappies word flou, soms selfs stuitend. Die Storms van Bergendal is seker die summum van alle bereikbare onnatuurlikheid. 'n Broer, wat met sy verlore gewaande suster trou, haar dan keel af sny; 'n lyk, wat na 'n vreeslike storm deur die "rumoerige woelwaters ... met alle sorg" in 'n kar "neergelê" word; 'n gedrogtelike misgeboorte, wonderlike drome, en geesverskynings, waarby vier predikante te pas kom, 'n groot skat, ens ... brr! Dis 'n gruwelstuk, wat Jan Vos sou laat watertand!
As 'n staaltjie van Engela se gebrekkige sinsbou kan die volgende dien: "David was 'n Hotnot van ongeveer 40 à 50 jaar: Kort en sterk geboud, en was van nature 'n buitegewoon opgeruimde skepsel, en kon hom ..." (p. 41); "Hy was uit op huisbesoek, en waarmee hy toe klaar was, en weer op die terugreis huis toe" (p. 42). Dié snaakse gebruik van die voegwoord tref mens deur die hele boek aan.
§ 4. Adv. C.J. Langenhoven.
Polietikus, joernalis, digter, prosaïs en toneelskrywer is Langenhoven, en veral in die laaste tyd toon hy 'n veelsydige bedrywigheid op letterkundige gebied. Op Oudtshoorn was hy redakteur van Het Zuid-Westen. In 1911 het verskyn Stukkies en Brokkies, "'n leesboekie vir almaal en hulpboekie vir Kristelike Jongeliede- en Debatsverenigings". Dit is in 1914 opgeneem in Ons Weg deur die Wêreld,[252] grotendeels 'n didaktiese werk, wat egter ook verhale, fantasieë, samesprake, aforismes en gedigte bevat. Die verhale en fantasieë word hier bespreek, die didaktiese gedeeltes in hoofstuk VII. Die samesprake behoort tot die toneel-literatuur en die "Spesiale stukke vir Debatsvereniginge" (Afd. V.) kan buiten beskouing bly.[253]
Op Langenhoven se belangrike aandeel in die taalstryd het Dr. E.C. Pienaar gewys[254]. Nadat hy 'n tydlank lid van die Kaapse Provinsiale Raad was, word hy volksraadlid vir Oudtshoorn. Tans is hy senator.
Van hom het ook verskyn: Die Pad van Suid-Afrika, 'n digbundel; twee satieries-humoristiese verhale: Sonde met die Bure (1921) en Doppers en Filistyne (1922), wat in hoofstuk VI bespreek word; Die Hoop van Suid-Afrika en ander toneelstukke; Twee Geskiedkundige Opstelle[255] in samewerking met G.S. Preller; in Engels: Republicans and Sinners en The Everlasting Annexation. Aan Stille Waters, wat nou in Die Burger verskyn, is 'n reeks artiekels oor onderwerpe van uiteenlopende aard. Daar is verhale, fantasieë, gedigte en bewerkings van psalme, gesange en Engelse liedere. Binnekort verskyn dit in die Almal se Boeke-serie, terwyl die gesange al afsonderlik uitgegee is onder die tietel Afrikaanse Gesange. Die Eensame Hoop (1922) is 'n kinderverhaal.
Ons Weg deur die Wêreld.
(Afdelings II en III.)
In die eerste verhaal raak Ou Verkeerde Faans "'n onvermoeide ou twismaker" onder die strelende warmte van die kaggel al sy kwellings kwyt. Maar daar sal "nie more weer vuur in die kaggel wees nie" en daarom moet Neef Kerneels maar dadelik die saak oor die bogslootjie tussen hom en sy buurman skik. Lammetjie en Wolf is die verhaal van 'n verdwaalde kindjie, wat in die hande raak van 'n verstokte misdadiger, vir manslag tot lewenslange gevangenisstraf veroordeel. Klein Miemie verteder die ou sondaar se hart en hy bring haar terug na haar ouers. Die omkeer by Hans Bonsa word alleen op betogende wyse beskryf; daar is geen plastiese uitbeelding, soos van Miemie se dwaaltog nie, wat met mooi innigheid geteken word. Dieselfde innigheid tref ons in Twee Oues van Dae, waar 'n grysaard op gevoelige wyse uiting gee aan sy liefde vir 'n troue hond. Die Nuwe-Jaars-offer is 'n verhaal van 'n jonge man, wat gewillig die dood tegemoet gaan om 'n medeminnaar te red. In die Brief klink die fyn sarkastiese toon van Doppers en Filistyne al helder op, en ook die Sonde met die bure-motief is aanwesig. "Eergister het Bertus Bakbene weer 'n straal van my beurt water gesteel om sy ou pattatta-tuintjie nat te maak en ek het sy jong se graaf daar uit sy hande geruk en hom 'n skrams raps daarmee oor die korrelkop gegee en toe in die uitkeerplek ingerol om weer reg te lawe" (p. 48)[256]. Waterlei-moeilikhede gee ook in Doppers en Filistyne aanleiding tot kostelike humor, maar Oom Stoffel moet op die dorpse bure 'n meer verfynde taktiek toepas. Die naskrif van die brief is 'n mooi voorbeeld van misplaatste moederliefde. Die Kluisenaar van die Karro "kon ... uit elke bossie 'n preek haal" (p. 60). Dit is 'n botaniese les in aantreklike vorm. Meester bevat skoolherinneringe. Dat meester egter "'n suiwere Nederlandse aksent" had is onjuis, want die Nederlandse "e" is allesbehalwe "presies die Afrikaanse ij" (p 62).
Die Fantasieë begint met 'n allegorie in Bybelse styl. In die orige stukke is "Boet Nelie" 'n grysaard, wat soos Jonathan in Waarheid en Droomen op weemoedige wyse aan mymer gaan. Hy het 'n hunkering na die ou "romantiese, skilderagtige" boereplase "met onbewerkte hoekies en kweek-plekkies onder 'n skaduboom om op te lê en droom" van sy kinderdae (p. 77). Niks is daar wat hom so treurig stem nie as die gestadige verwoesting van soveel heerlikheid in die natuur deur die moderne boerderymetodes. "Alles moet nou gelyk gemaak word—gelyk en reghoekig en reglynig. Die tyd van sentiment is verby: dis nou die dag van besigheid". Daarom gaat Boet Nelie vir laas kuier na die ou watersloot en hy gesels op vertroulike wyse daarmee oor die ou dae. Hy is ook, die vriend van die ou wa, wat vir brandhout moet verkoop word. Die sê van Nelie "Sy hart is so vol liefde dat daar plek is vir al die ou goedjies wat hy as kind mee maats gemaak het en al is hy nou 'n bejaarde man ... dan kom hy nog met my gesels net soos toe hy 'n kind was—met my, die stomme ou wa asof ek 'n mens was net soos hy" (p. 100). Die motorkar wat Nelie mee plaas toe ry "is 'n masien. Daar is geen siel in hom nie en hy roof my van my siel ook." (p. 105.) Op die ou geboorteplaas vind hy nêrens troos nie. "Al die ou dinge wat sy hart aan vasgekleef het en die metgeselle van sy skooldae en die dierbare van sy huisaltaar word een vir een weggeruk ..." (p. 107.) Maar die ou berg het staande gebly en die moet vir hom die raaisels van die lewe help oplos. "Seg my, my ou berg, wat is die plan van die hele besigheid?" (p. 109.) Net soos Elia wil hy weg wees "van die kranksinnige gewoel van die wêreld en nader naar die troosvolle rus van die voorportaal van die hemel" (p. 110). En die berg vertel hom: "dis nie die groot dinge wat belangrik is (nie)." (p. 110.)
Op die weemoedige kadans van sy mymerstemming laat Nelie hom saggies voortwieg en die klare eenvoud[257] van sy volsinne, wat met rustige en kalme geleidelikheid mekaar opvolg is in harmoniese ooreenstemming daarmee. Maar die doodnugter opmerkings oor mishandeling van die maag, en die walging vir "insak-gansveermatrasse", waarin party mense op "bloedige Karro-somerdae" kruip—dit is wanklanke in die fantasie-atmosfeer.
Blykens die voorberig van die derde druk het Langenhoven afgesien van "die imperfektum wat (hy) eentyd van malligheid wou invoer".[258]
Eienaardig is die gebruik van "ieder 'n mens" i.p.v. iedere mens[259], "tussenposend" (p. 67), "'n lustige gemak" (p. 84, Ons Weg). Enkele minder gelukkige uitdrukkings kom voor: die kalwertjies wat wil laat drink wees (p. 15); die dik doringplate ... het begint minder te weergalm (p. 19); 'n groot karree-boom, wie se diepgaande wortels.... (p. 41); hy stuur hom daar haal (p. 54). Daar is 'n paar opslag-mangelwortels tussen die beetrye,[260] o.a.: "sonder om enige partikuliere persoon toe te spreek (p. 6); met 'n effe suggestie van rood (p. 80, Ons Weg); die doodskleed van die nag word ingegaar deur die hand ... (id. p. 79).