WeRead Powered by ReaderPub
Die prosa van die twede Afrikaanse beweging cover

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging

Chapter 55: Beproewing.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

A scholarly survey examines prose produced during the early twentieth-century Afrikaans literary revival, tracing its historical context, cultural conditions, and stylistic tendencies. It analyzes polemical writings, periodical contributions, and works by principal prose authors, supplying biographical notes and close readings of novels, short stories, satire, didactic pieces, animal sketches, travel writing, and historical prose. Chapters address tensions with earlier literary currents, risks of cultural isolation, Calvinist influence on aesthetics, language problems including anglicisms, and features of dialogue and narrative technique. The author assesses critical debates and offers a subject-based taxonomy and evaluation of the movement's thematic and stylistic limitations.

Daar is oorspronklike beeldspraak: as verkoue en sinkings jou gelyk beetkry "een aan die disselboom ... en die ander aan jou briek ..." (p. 6); maar taamlik afgeslyte kom ook nog voor o.a.: die veld ... weef 'n prag-tapyt op die vloer van die aardse tempel ... (Ons Weg, p. 29); die onstuimige boesem van die rivier (p. 88); om snare in die liefde-ontblote hart aan te roer (p. 21); die laken of doodskleed van die winter, (Ons Weg, p. 78).

§ 5. Christian Zinn.

Van Christian Zinn het in 1911 verskyn: In Harte Verenigd, of Sketse uit die Boere-Lewe. Dit is 'n verhaal uit die tyd van die Jameson-strooptog en Anglo-Boere-oorlog, waarin die skrywer geleentheid vind om heelwat politieke beskouings aan die man te bring. Die dapper held, mooi meisie en lae verraaier ontbreek nie. Die liefdesverhaaltjie is vol soeterige sentimentaliteit. Daar is o.a. sprake van "'n miljoen dralende soene"! Die historiese gebeurtenisse word oppervlakkig behandel en die uitwerking daarvan op die uitgebeelde persone uiters gebrekkig aangedui. Letterkundige verdienste het die verhaal nie, want die styl is onbeholpe, gebrekkig en taamlik vol anglisismes. Vir die taalkundige kan dit interessant wees, omdat daar soveel oorgangsvorme in voorkom. Van die woord baie het Zinn blykbaar 'n groot afkeer; dit kom glo maar eenmaal voor (p. 127). As voorbeeld van taal, styl en spelling kan die volgende dien: Dit was net als of Suid Afrika verdoemd was om 'n vreselike terugsetting te kry net so's voorspoed in bereik was. Die land had mooi vooruit gegaan, in alle rigtinge was verbeterings te bespeure, kapitaal had ingevloei, en die wonderlike rykdom wat S.A. eige is, werd geopend, (p. 33); Sannie haar auntie Maria maak net goeie vooruitgang met haar jongste minnaar, 'n jeugdige luitenant die met 'n party van die Yeomanry uitgekom had, en die so opgenome was met die lewe in die uitgestrekte Karroo, dat hy met graagte daarnaar vooruitsiet om sig neer te set tot vee-boerdery ... (p. 132).

§ 6. Dr. D.F. Malherbe.

Vir sy lewensloop en werk kan verwys word na Dr. E.C. Pienaar se proefskrif.[261] Van belang is die volgende meedeling: "As 17-jarige knaap het hy een keer deur die Karo gery sonder om meer te sien as 'n vervelige uitgestrektheid van vlakte, dor en verlate. Maar toe hy in 1907 weer in daardie omgewing kom, het dit hom magtig aangegryp. Daar was vir hom so 'n wonderlike geheimsinnigheid in, so 'n bekoring dat hy gemeen het om daar vergoed te bly. In dié stemming is sy eerste werklike gedigte geskrywe."[262] Vir sy prosawerk ook, is soos nader sal blyk, sy verblyf in die Karo van groot belang gewees.

Vergeet Nie, (1913).

In die nabyheid van die rustige Karodorpie, Steenburg woon die Du Pré famielie op die plaas Rietfontein. Oom Willem en Tant Annie het saam oud geword in die Karo-eensaamheid. Hul dogter, Bettie is ook 'n "kind van die vrye veld, 'n pragtige voorbeeld van die Afrikaner-meisie". Oom Willem is enigsins melankolies van geaardheid en die oorlogsgerugte vervul hom met 'n donker voorgevoel. "Die vuur sal brand van noord tot suid ... en dit is my asof ... ek die end nie sal belewe nie", so lui sy profetiese woorde op die vooraand van die groot kriesis. En die plegtige huisgodsdiens is nog nie afgeloop nie, toe Servaas Vermaak, die bywoner, wat dorp toe was en daar Adonis as skaapwagter gehuur 't, met die oorlogstyding vergoed 'n end maak aan die "rustige rus" van die plaasbewoners. Nie lank na Servaas kom Bettie se verloofde, Piet Marais, geneesheer op Steenburg om afskeid te neem. Hy is Kolonialer, maar offer al sy goeie vooruitsigte op om by die Boere-ambulans in diens te tree. Oom Willem, wat in alle sake die Bybel tot rigsnoer neem, veroordeel rebellie, maar heg tog sy goedkeuring aan Piet se daad, as hy hoor dat hy veral gaan om geneeskundige hulp te gee. Met gloeiende geesdrif verdedig Piet sy handelwyse teenoor Bettie se besware en peil dan op sy vosperd reguit Boere toe. Ons ontmoet hom weer by die Boeretroepe, maar nie meer as Rooikruisdokter nie, want dis al die tydperk van guerilla-oorlog. Piet is trots al die teleurstellings nog dieselfde vurige entoesias, die geswore vyand en bestryer van papbroekerigheid. "Nee, manne, laat ons saamstaan(,) almal wat kan tot die end." Onder sy invloed word die flouhartige Japie du Plooy en Oom Jan ook "bitter-einders".

Intussen kom Bester, die beroemde rebelle-kommandant met 600 man die eentonigheid van 'n vervelige namiddag verdryf op Rietfontein. Bester,'n 35-jarige man, wat tot hiertoe alle vroue met onverskilligheid verby gegaan 't, moet dadelik "hands-op" vir Bettie! As sy na Piet verneem, deel hy haar mee, dat hy weet van 'n Dr. Marais, wat vroeg in die oorlog aan koorssiekte dood is. Hy beloof haar om nader inligtings in te win. Oom Willem verwek heelwat ontstemming onder die rebellekommando deur die verdediging van sy bybelse standpunt aangaande trou aan die regering. Die volgende oggend sukkel hy dorp toe met sy eseltjies om die besoek van die Boere aan Kommandant Hunt te rapporteer, en loop 'n lelike skrobbering op, omdat sy rapport so laat inkom.

Bester se liefde vir Bettie beïnvloed die bewegings van sy kommando en deur sy herhaalde besoeke aan Rietfontein raak die Du Pré famielie in die moeilikheid. Oom Willem, pas herstel van 'n swaar siekte word in 'n vreeslike storm dorp toe gevoer deur die Engelse. In haar radeloosheid bedenk Bettie 'n wanhopige plan om haar pa te red. Sy skryf 'n brief aan Bester, wat met sy kommando nog in die nabyheid verkeer, en laat dit deur Servaas besorg. Maar Adonis verklik alles aan die Engelse en as Servaas terugkom van sy vrugtelose tog, word hy saam met Bettie en haar moeder na die tronk geneem. Oom Willem en Servaas word na Port Alfred gestuur deur die militêre, Bettie kom agter die tralies, terwyl Tant Annie vrygelaat word op parool.

Intussen het Dr. Marais een van Genl. De Wet se vertroudes geword en as Du Plooy met rapporte na die Kolonie vertrek, kry hy 'n brief vir Bettie mee, wat hy in Bester se hande laat. Maar deur sy poging om die brief aan Bettie te besorg, raak Bester gevange en word ter dood veroordeel. In die tronk kry hy geleentheid om Bettie te vertel, dat Piet nog leef. Kort na Bester se teregstelling keer Bettie en haar moeder weer terug na Rietfontein. Oom Willem het kort na sy aankoms in die kamp op Port Alfred beswyk. Na die vrede kom Piet terug om sy bruid te trou.


Bettie word ons voorgestel as 'n ideale Boermeisie. Alleen die feit, dat sy haar afgeleefde ouers nie kan verlaat nie, weerhou haar om Piet se voorbeeld te volg en aan te sluit by die ambulans. In die gevangenis en teenoor Hunt gedraag sy haar kloek. Sy is blykbaar trots op die rol wat sy gespeel 't, en as Piet haar na die oorlog vra, of sy bereid is om vol te hou in die groot stryd teen die Engelse kultuuroorweldiging, antwoord sy met 'n tikkie verontwaardiging in haar stem: "Piet, mag jy my nog so 'n vraag vra nadat ek soveel opgeoffer en gely het?"[263] Dit kom my egter voor asof Bettie haarself moedswillig in die ongeluk gestort 't, en as dit die geval is dan verloor haar "offer" vir die nasionale saak heelwat van die heroïese kleure, wat die skrywer daarin geweef 't.

Op pagina 66 staan: "Al die veerkrag van haar nasionale gevoel is deur die oorlog in volle beweging gekom, en niks is daar sterker by haar gewees as die wens om positief te mag meedoen aan die stryd nie. Maar hoe kon sy haar ouers verlaat? Onmoontlik vir haar om uit te gaan as verpleegster! En so is dit haar ernstige gebed geword dat sy op watter wyse dit God behaag 'n aandeel mog kry aan die oorlog. En as sy niks kan meedoen nie, dan wou sy meely met haar volk." Hoe edel hierdie besluit op sigself ook al mag wees, dit neem die feit nie weg, dat Bettie se naasbysynde plig ongetwyfeld was om vir die veiligheid van haar afgeleefde ouers te sorg. Maar as sy by haar vader se siekbed moet waak, dan spook die gedagte van deelneem aan die oorlog, wat 'n idée fixe by haar word altyd deur haar brein: "Sou die Here haar roep om haar siek vader op te pas, en mag sy daarom geen deel hê aan die oorlog nie? Sou dit haar roeping en werk worde, beskeie en stil, waar sy hoë aspirasies had?"[264] Piet Marais se oorlogsgeesdrif en wie weet, miskien ook die Engelse romans, wat sy van die skool af meegebring 't,[265] het haar blykbaar taamlik sentimenteel gestem en haar belet om 'n nugter kyk op sake te behou. As Bester haar meegedeel 't, dat 'n sekere Dr. Marais in die begin van die oorlog aan koorssiekte dood is, maak sy allerhande onuitvoerbare planne—"sy sou stilletjies wegraak, te voet loop as dit al was, haar lewe daaraan waag, sy sou sôre, dat sy êrens by die Boere te lande kom, sy sou Piet soek ... en as hy waarlik dood was, sy graf met haar trane bevogtig!"[266] Die laaste sinnetjie kon wel in een van Feith se romans gestaan 't! Daar is trouens meer wat ons aan die sentimentele romans van die agtiende eeu herinner. 'n Paar ou briewe van Piet maak sy "met voldoening ope en lees dit in stil mymering en met die gevoeligheid van 'n teer vrouehart." (p. 64.) Dat Bettie "in die traag-skrydende ure van die nag" romantiese plannetjies uitgedink het, is psigologies volkome juis, maar ons is nie gewend, dat 'n flink Boermeisie van drie-en-twintig jaar, wat bowendien reeds op haar agtiende jaar "selfbewus en ryp genoeg vir verantwoordelikheid" (p. 33) was, dat so 'n meisie, tans die enigste[267] stut en steun van haar grys ouers in uiters benoude dae haar al te lank oorgee aan 'n Wertheriaanse sentimentaliteit nie.

Bettie se volgende dade toon dat sy doelbewus, ja moedswillig alles doen om "'n aandeel aan die oorlog te kry"—m.a.w. sy leg die veiligheid van haar ouers in die waagskaal ter wille van 'n meisiesagtige gril, wat sy vir "hoë aspirasie" aansien! Sy weet, dat haar pa 'n swartkruis agter sy naam het, dat die geringste suspiesie hom in lewensgevaar kan bring en tog ontvang sy Bester "alleen in die sitkamer" (p. 92). Bester het ongetwyfeld 'n sterk indruk op haar gemaak, en ofskoon sy trou bly aan Piet en haarself wys maak, dat "as Piet dood is, sy ook dood (sou) wees vir die wêreld" (p. 90), sien sy tog verlangend uit na Bester se terugkeer. En nie alleen omdat sy hoop, dat hy nuus van Piet bring nie. Piet behou wel die ereplaas in haar gemoed, maar uit die omstandigheid, dat sy oorweeg wat Bester vir haar kan beteken in geval Piet werklik dood is, kan ons besluit dat sy persoonlikheid haar diep getref het. Sy redeneer so: "Sy is mos sterk genoeg, sy het Piet te lief om aan enig ander man te dink" (p. 95). En sy doen dit tog! Bettie maak 'n kriesis van ernstige weifeling deur. Sy het Bester lief en al wat haar terughou is "die dure besef van plig en eer." (p. 99.)

Oom Willem het dadelik die groot gevaar ontstaande uit die herhaalde besoeke van Bester ingesien en Bettie ernstig gewaarsku (p. 95). Sy het volkome goed geweet, "dat alle persone, wat geheime konneksies met so 'n gevreesde en verwenste mens het op die ongenadigste manier sou gestraf word." (p. 96.) Tog ontvang sy Bester nòg eenmaal alleen—sy dink nie aan die gevaar waaraan sy haar ouers blootstel nie, ofskoon hy haar meedeel dat sy stap gevaarlik is en dat die Engelse dus naby is—sy gaat swygend met hom die sitkamer binne en steek nog daarby 'n kers op (p. 97). Op die manier, bewerk sy haar pa se ongeluk. Kan ons haar dus glo as sy uitsnik: "Ag Pa, ek kan dit nie help nie, ek is net so onskuldig soos Pa"? (p. 102). Miskien wel; miskien was dit bloot vroulike onversigtigheid. Maar die volgende stap van Bettie—die brief wat sy aan Bester skrywe—is alleen verklaarbaar as 'n moedswillige poging om haarself "'n aandeel aan die oorlog" te verskaf. Sy kom tot die konklusie, dat alleen Bester haar pa kan red. Het sy gemeen, dat hy die Engelse moet agtervolg en Oom Willem terugbring plaas toe? Moes Bester vervolgens Rietfontein verdedig teen die Engelse oormag? homself, sy kommando en die vrouens laat platskiet ter wille van één man? Of moes hy die afgeleefde, sieklike grysaard, teen die se eie wil saamsleep op sy swerftogte? In haar opgewondenheid het hierdie eenvoudige oorwegings nie by haar opgekom nie en in haar naïewe geloof aan Bester se al-sterkheid skryf sy aan hom—'n impulsiewe daad—psigologies volkome juis. Maar haar moeder se opmerking, dat haar plan gevaarlik is, bring haar nie tot nadenke nie. En plotseling blits dit deur haar gedagte: Nou kan ek my "hoë aspirasies" bereik—sy kry die "besef ... dat sy self in die draaikolk van gebeurtenisse begin meedans. Was dit dan nie altyd haar ernstige versugting nie?" (p. 107). Juis, sy is lank al moeg vir die eensame lewe op die plaas, waar sy al meer dan 'n jaar opgesluit sit. Haar romantiese siel smag na dade van durf en intussen suggereer sy haarself, heeltemal ter goeder trou, dat sy alles doen om haar pa se ontwil!

Maar Servaas is die man, wat haar tot rede sal bring! Hy weet meer dan sy: "Die vlakte, die bossies, dit lewe van duisende kakies so na Vaaldam se kant toe. Die hele wêreld is vanaand vol van hulle." (p. 110.) Hy erken: "dis byna verniet om so iets te probeer en daarby gevaarlik." (p. 109.) Helaas! Arme Servaas verloor ook àl sy gewone boere-nugterheid—hy kan "die vurige pleit van 'n skoon jonkvrou" nie weerstaan nie! En hy gaat jou waarlik waar op die dollemansboodskap uit, ofskoon sy vrou uitdruklik verklaar dat dit "gek mense se werk is om so iets te doen" (p. 112).

By 'n nugter beskouing van die feite moet ons kies tussen twee opvattings: (1) òf Bettie is ten spyte van haar drie-en-twintig jaar nog maar 'n bogkind soos Janetta haar noem, wat met die grootste onversigtigheid haarself, haar ouers en Servaas in die ongeluk stort, òf (2) in 'n toestand van radelose opgewondenheid maak die idée fixe "om haar deel aan die oorlog by te dra" haar onbekwaam om die simpelste logiese gevolgtrekking te maak. In albei gevalle word dit dan egter onmoontlik om haar handelwyse as 'n onselfsugtige, edele daad te beskou en verloor haar offer sy grootse betekenis. Soos Malherbe haar geteken 't kan sy nooit as heldin, as die "moedige Boermeisie met haar sterk en besliste karakter"[268] beskou word nie. Sy is eenvoudig die slagoffer van haar kinderlike onnoselheid of van haar "hoë aspirasies", wat ons medelyde opwek, en die bewondering vir haar kloek gedrag in die gevangenis word getemper deur die bewussyn, dat dit alles onnodig was, terwyl ons haar bowendien met reg kan verwyt, dat sy haar ouers en Servaas met sy famielie in die ongeluk gestort 't—ja selfs die dood van haar vader verhaas het. Bettie, soos die outeur haar wil voorstel, is 'n psigologiese teenstrydigheid.

M.H. van Campen het die raak opmerking gemaak, "dat kunst het zichtbaar worden der noodwendigheid in 't, voorgesteld gebeuren ten gevolge heeft, en dat het blijken dier noodwendigheid de schóónheid van 't voorgesteld gebeuren uitmaakt."[269] Dit is juis die sigbaarwording van die noodwendigheid, wat ons in Bettie se "offer" mis. Malherbe het een van die mees dramatiese momente in sy verhaal laat glip. Hy gee ons self die gegewens vir die uitbeelding van 'n geweldige konflik: aan die een kant Bettie se geheime liefde vir Bester, die bestaan waarvan sy self nog nie wil erken nie; daarmee saamgevleg die hoop, dat hy haar iets omtrent Piet Marais sal kan meedeel en bo-op dit, haar kriewelige ongeduld om na 'n jaar van gedwonge niks-doen eindelik haar lang gekoesterde plan om aktief op te tree in die oorlog uit te voer. Aan die ander kant: die besef dat dit haar plig is om terwille van haar ouers en as verloofde van Piet, wat miskien nog leef alle omgang met Bester te vermy. As Bettie in só 'n konflik eenvoudig haar naasbysynde plig gedoen 't, dan sou ons haar ook sonder om te weet, dat sy dapper was in die tronk, as 'n heldin kan bewonder.

Vergeet Nie is 'n aaneenskakeling van dramatiese tonele, waarin die oorlog voor ons geestesoog verbytrek. Sonder veel verandering sou dit dan ook moontlik wees om die roman om te werk tot 'n toneelspel, waarin daar wel veel aksie, maar weinig botsing van hartstogte sou voorkom Ons kry 'n indruk van wat daar gewoel en gekook het in die hart van die volk gedurende die oorlogsjare, van die lyding van vrouens en oumense, van die dapperheid van die Kolonialers, die laagheid van die National Scouts, die vervolging en plaery onder die krygswet. Maar by die beoordeling van die boek moet ons een faktor veral nie veronagsaam nie: dit naamlik, dat die teenswoordige geslag nog in meerder of minder mate onmiddellik betrokke was in die gesketste gebeurtenisse, dat daar tallose herinneringe van die groot oorlog nog lewe in ons bewussyn. Dié herinneringe word deur die skrywer in dramatiese verhoudinge gegroepeer en iedereen kan dadelik uit sy eie ondervindinge analoge gebeurtenisse rekonstrueer. Dit versterk die indruk wat die gelesene op ons maak honderdvoudig. Die skrywer roep ou halfvergete impressies uit hul wegkruipplekkies te voorskyn. Op onbewuste wyse vul ons self die verhaal aan, en so kry dit op laas 'n aktuële kleur, 'n sterk geprononseerde persoonlike karakter, wat die leser tot in die diepste roersele van sy siel beweeg, maar wat die verhaal op homself nie besit nie.

Ek noem een voorbeeld om my bewering te verduidelik. Die teregstelling van Bester herinner ons dadelik aan Kommandant Scheepers. Die oorspronklike ontroeringe, veroorsaak deur die tragiese uiteinde van Scheepers, versterk die indruk, wat die soortgelyke lot van Bester by ons verwek en raak daar gedeeltelik mee geïdentifiseer. Die gevolg is, dat Bester-Scheepers in die roman 'n werklik lewende persoonlikheid vir ons word.

Maar nou ontstaan die vraag: Is Bester, wanneer ons ons persoonlike ervarings heeltemal uitskakel, nòg 'n lewende persoonlikheid, ontroer die wyse waarop Malherbe hom uitgebeeld het ons dàn nog? Dit is die enigste wyse waarop ons die kunswaarde van Vergeet Nie vir die nageslag kan bepaal, want oor 'n tagtig of honderd jaar, sal die boek nie meer in so 'n voordelige posiesie verkeer nie, dan kan dit alleen nog profiteer van die nasionale oorleweringe van die groot stryd. En selfs dìt sal die boek nog 'n groot voorsprong gee, want by 'n volk met 'n kragtige bewussyn word die nasionale helde uit 'n vergange glanstydperk altyd met 'n stralekrans van heilige aanbidding versier. Dit is bekend dat De Geuzen van Onno Zwier van Haren lank as 'n kunswerk van die hoogste skoonheid beskou is, eenvoudig omdat dit 'n nasionale onderwerp behandel.

Maar ons keer terug tot Malherbe se karakteruitbeelding en vraag: Wat weet ons nou eintlik van Bester? Hy is 'n bekwame en dapper kommandant, wat verlief raak op Bettie. As hy hoor, dat haar verloofde nog leef, besluit hy na enige stryd om haar dit mee te deel. In die hof verdedig hy sy handelwyse op hartstogtelike manier en gaat sy dood tegemoet soos 'n held. Alleen by die beskrywing van sy laaste dae kry ons enigsins 'n blik op sy sielelewe en die totaalindruk bly vaag. Bester is sonder lewensdoordringing geteken, daar is niks indiwiduëels, wat hom tot 'n duidelike persoonlikheid maak nie.

Piet Marais eweso. Hy is 'n tiepe van die ontwikkelde Afrikaner, wat deur 'n vyfjarige studie in Europa sy insigte verruim en sy lewe verdiep het. Hy het daar "jare van worsteling" gehad, hy moes dikwels "met smart afskeid neem van oortuiinge wat (hom) in vlees en bloed oorgegaan (was) van (sy) kindsheid af." Hy was 'n ernstige soeker na waarheid, wat uit ou tradiesies en nuwe wetenskap vir homself 'n eie lewensbeskouing gebeitel het. In die karakter van Piet lê seker 'n stukkie outobiografie, maar in 'n oorlogsroman was daar geen kans vir 'n psigologiese uiteenrafeling van hierdie interessante fase in die ontwikkeling van die Afrikaanse student nie. Ons wag nog op die kunstenaar, wat die botsing en gedeeltelike samesmelting van die Afrikaanse en Europese kultuur moet uitbeeld.

Ons verneem ook nog enige besonderhede van Piet se oorlogservaring en hoe hy verlang na Bettie. Maar 'n lewende persoonlikheid, met wie ons al die wisselende stemminge van die awontuurlike kommandolewe deurvoel, word hy nie.

Ook Tant Annie bly 'n vae figuur. Op Bettie het sy blykbaar geen invloed nie. Selfs aan Hunt was dit duidelik, dat sy geen aktiewe rol kon speel nie en die treurige gebeurtenisse slaan haar dan ook heeltemal terneer.

Oom Willem is met meer liefde geteken. In sy bybelvasteid, sy afkeer van pronk en na-apery is hy 'n tiepe van die Afrikaanse boer. Ons verneem dat "dors na kennis hom aangespoor (het) tot selfopvoeding", maar uit die opgawe van sy biblioteek blyk, dat dit hoofsaaklik godsdienstige kennis was, waar hy na gestreef 't. Hy bly getrou aan die Engelse regering, omdat sy godsdienstige oortuiging hom leer, dat rebelleer sonde is. Maar, as hy later persoonlik kennismaak, met die onregverdige taktiek van die Engelse, laai sy haat op teen die vyand van sy volk en kry hy simpatie met die rebelle. Vergeet nie is die plegtige boodskap, wat hy aan Servaas gee op sy sterfbed.

Bester, Piet Marais en Tant Annie is karakters, wat getiepeer, maar nie psigologies gekreëer is nie. Die skrywer staan te veel met sy eie ekheid tussen die objektief beeldende teksdele, hy mis die gawe om sy gegewens tot 'n saamgegroepeerde eenheid te bring, om sy persone heeltemal objektief van uit hul eie innerlike wese te laat lewe. Deur die subjektief deurleefde werklikheid vleg hy sy eie beskouings en daardeur verdwyn die realiteitsillusie. Die roman word 'n aaneenskakeling van dramatiese momente, maar geen epiese struktuur, waarin die ganse sielelewe van 'n groot tydperk in sy gehele menslikheid tot een grootse beelding samesmelt nie.

As Piet Marais oorlog toe ry hoor ons: "Dis die eerste rit vanaand van 'n besielde Kolonialer na 'n slagveld wat so groot sal word soos byna die gehele beskaafde Suid-Afrika, na 'n oorlog wat nie sal oortref word in gemene gruweldade nie ... ens." (p. 22). Dit is wat Malherbe weet, maar Piet was tog geen profeet nie. Op hinderlike wyse dring die skrywer homself hier op die voorgrond.

Sy historiese kennis verwerk Malherbe presies soos De Waal. Op pagina 52-54 staan 'n lang oorsig van militêre gebeurtenisse en op pagina 63-64 'n uiteensetting van die toestande onder die krygswet. Alleen deur 'n betoog kan hy die nodige atmosfeer vir sy verhaal skep. Só kry ons geen begrip van die dramatiek van die worsteling nie.

Soms egter slaag Malherbe daarin om deur pittige plastiek die leser direk te tref. 'n Voorbeeld daarvan is die mooi kommando-toneeltjie in hoofstuk X, waar 'n lewendige dialoog ons dadelik op hoogte van sake bring. Die brief uit die konsentrasiekamp met sy bemoedigende woorde: "Gaan voort, want ons saak is reg en God sal ons nie verlaat nie" laat ewe ons gemoed tril en ons sien die duisende vroue in geduldige lyding. 'n Oomblik later vaag die nugter vraag van Generaal De Wet: "Hoe is die posiesie?" alle droomgepeins weg. Maar as kort daarop "soos 'n magtige gebed waar berusting in ruis" die burgers se plegtige lied tussen die koppies weergalm en die generaal en sy staf met eerbiedig gebaar hul hoede afhaal, dan sweef ons op die klankedeining na 'n wonderland van heilige herinnering—dan sien ons die stoere manne "saamsing met vrou en kind, met vrind en bloedverwant onder gewyde dak...." Hier is innigheid van weergawe. Ons voel die diepe kneusing van sterk manneharte, wat op die nuwe dag in stille Godsvertroue wag. 'n Skrywer, wat so mooi die nodige sfeer met uiters gevoelige tikkies kan aandui, hoef waarlik nie sy toevlug tot koel-verstandelike histories geredeneer te neem nie. Hy hoef nie uit sy denkbewussyn allerlei verklarende toeligtings aan te voer nie—die leser vang dadelik die aksent van waaragtigheid uit die klank van sy woorde op.

Maar selfs by hierdie mooi veldtablo kom die skrywer se opdringerigheid te pas. Hy vind dit nodig om weer blyk te gee van sy historiese kennis en vertel ons dat "die wêreld in kampe van blokhuise afgeperk is ... waaromheen swaar kolomme opereer met 'n onuitputlike gedetermineerdheid om die groot veggeneraal van die Boere in die reusenetwerk van bewegende lyne toe te wikkel".[270] Dat De Wet se gevangeneming die Boer-magte sou knak is 'n feit, só vanselfsprekend, dat die meedeling daarvan absoluut oorbodig is, vir ons èn vir die nageslag. Mens sou ewegoed 'n Fransman daaraan kan herinner, dat Blücher en Wellington vir Napoleon wou vang by Waterloo!! As die skrywer die orige informasie tog wou meegedeel 't, dan moes hy dit so in die dialoog gevleg 't, dat ons dit nie voel as 'n opsetlik skoolmeesteragtige opmerking nie.

Gebrek aan plastiek is daar in die volgende sinnetjie: "In 'n omsientjiestyd is die welkom bevel uitgevoer." (p. 135.) Dit is 'n blote konstatering, wat by die leser geen impressie van die handeling wek nie. En juis in die vorige sin slaag die skrywer daar pragtig in om deur die herhaling van die woord afsaal 'n duidelike gehoorbeeld te suggereer. "Afsaal", klink dit deur die rye, "afsaal tot ver agteruit en rondom". Ons hoor hoe slaperige burgers met sware basstem mekaar die woorde nasê, totdat die klankeketting dreun in die agterste gelid. Maar in plaas van die gehoorhallusinasie te verinnig deur die geskuifel van die saals, wat met dowwe plof en stiebeuelgerinkel op die aarde bons, kom die skrywer met sy niksseggende verklaring: "In 'n omsientjiestyd is die welkom bevel uitgevoer."

Nog so 'n geval vind ons op pagina 13. "Dit kan stil, ontsettend stil word op Rietfontein. In die middel van die dag kan dit gebeur dat daar geen lewensteken te bespeur is nie." Uit so 'n beskrywing blyk duidelik, dat die outeur nie in die toestand is nie, maar praatjies oor die toestand maak. Hoeveel mooier is die beeld waarmee hy ons dadelik die stilte en eensaamheid op Steenburg laat voel—die dorp, "waar alle geluid en rumoer van menslike bedrywigheid nietig wegsterwe soos die breek van 'n dun, droë takkie in 'n ontsaglike woud".

Dan is daar nog iets wat hinderlik is in die kommando-toneel. Japie du Plooy is "deur die invloed van Dr. Marais tot 'n waaghals en onvermoeide verkenner omgetower." (p. 138.) Ook al "in 'n omsientjiestyd"? Vir so 'n sielkundige bolmakiesie het mens 'n ouderwetse toordokter nodig en ek twyfel of Piet dié kuns in Duitsland geleer 't.

Daar is nog meer voorbeelde van die neiging van die skrywer om hom tussen sy verhaal en die leser te plaas. Servaas kom die dorp ingery op die 12de Oktober 1899. Dan kry ons in enkele raakgetekende lyne 'n pragtige ets van Steenburg en omgewing,—maar dit is nie Servaas, wat die dorp so sien nie—dit is Malherbe. Ons loop nie saam met Servaas onder die peperbome nie. Nee, die skrywer sit op een van die koppies en peins oor die "sukkel-werksaamheid" van klein mensies en die wyd-omhemelde velde, waarin die dorpie "soos 'n nouliks sigbare stippie" wegsink. Intussen vergeet ons Servaas totaal, verdwyn alle realiteitsgevoel. Malherbe vertolk die gedagtes van sy persone deur sy lieriese parafrase in plaas van die gedagtes self, in hul eie taal te gee.

Op pagina 34 word die gang van die verhaal onderbreek deur die volgende opmerking: "Arme Bettie en Piet, watter reggeaarde sou nie medely hê met julle nie, ..." en op pagina 46 roep hy uit: "O, die wonderlike gawe van heerlike ontboeseming aan die mensekinders gegee, ..."

Bettie se innerlike lewe word soms op fyn-psigologiese wyse deurvoel. Haar tobbery oor die lot van die geliefde, die nuansering van haar gevoelens by die verskyning van Bester, die manier waarop sy wik en weeg wat hy vir haar sou kan beteken ingeval Piet werklik dood is, dit is treffend uitgebeeld. Maar haar karakter word onwaar, omdat ons nie kan glo aan die egtheid van haar "offer" nie. Ook die tekening van Oom Willem is aandoenlik in sy egte menslikheid. Maar die groot betekenis van Vergeet Nie as literere kunswerk lê nie in die karakter-tekening of komposiesie nie, maar in die styl met sy sterk persoonlike aksent.

Malherbe se prosa is byna heeltemal vry van vreemde invloed. Dit is prosa met 'n eie ritme, prosa waarop 'n fyn digterlike waas rus. Hy beskryf nie alleen die uiterlik van wat hy sien nie, maar dring deur tot die innerlikste wese, sodat ons die geur daarvan kry. Die skroeiende son brand ons deur die hele boek, ons sien die stowwerige dwarrelwinde op hul grillige togte oor die vaal Karovlaktes. Al die wisselende natuurtonele het die skrywer diep ontroer—die skaduwees van die swart wolke, langsaam skuiwend oor die jong skaapbossies, wat "soos dwergies koes"; die plasreens, wat neerbons met woeste geswiep, die langgerekte kettingligte wat geheimsinnige tekens aan die swart hemel skrywe. Op Rietfontein het hy die witgeswelde arms van die vyelaning gesien, "waar die jong vye soos klein kindervuisies aan uitloer"; Steenburg teken hy met 'n paar uiters fyn penseelstrepies—die "rustige Karodorp, dromend in selftevredenheid en wyd omwoon deur slapende koprande wat in donkerbruin pantser en ylvaal groei uitgebeiteld rus teen die ewig-blou hemel aan."[271]

Sonder aarseling vertolk die digter die fantastiese skyn wat die dinge in sy oog aanneem; sy impressionistiese beelde tril en bewe van jong lewe. Sy metafore is nie spoggerige blinkgoed, wat as versiering van buite opgeplak is nie, hul sit vasgegroei in sy skepping, wel spontaan op uit sy onbewustheid. Adonis se ou baadjie is "lewensmoeg en klaar met die wêreld", die kleurevariasie van sy gelapte ferweelbroek is "soos 'n bont mensesee by 'n wedstryd waar die son sy ligte glans oor heenstrooi op 'n vrolike somermiddag". So gee Malherbe ons telkens met 'n paar raak-etsende woorde 'n verrassend-nuwe kyk, en haal hy skoonheid selfs uit die flenter-ploiings van 'n ou Hotnot. Op die plaas het hy die "dowwe basmusiek van die ooie, swaar van dreuning nes dié van 'n aanstormende vloed afgewissel deur indringende skreenote van die lammertjies" gehoor; hy het die kalwers stofdraaie sien maak as hul onbekommerd die jong dag ingaan. Die swaar reendruppels spat teen die vensterruite "of jy ertjies saai"; die westewind, "die hoopbederwer van die Karoboer ... vlie tussen die wolke in en skeur hul uiteen met dreunende en druisende gebaar. Wild klop hy hulle uiteen, die swaar gepakte wolkemassas soos 'n geoefende hanteerder van 'n sweep 'n digte klomp vee, totdat hul uitgedun heenseil, een-een wegsmeltend onder sy verskroeiende asem, en die lug weer vry neerblou in die hittige sonstrale."[272]

So magtig is die indruk van die natuur op die skrywer, dat hy al die wisselende stemminge van sy persone met 'n stukkie natuurviesie deurwewe. As Servaas "vol van vrees vir die toekoms" teen "die vaal hange uitslinger met sy kar", dan lyk "die swygende rande so naar, so onvriendelik nes dreigende ongediertes", dan ry hy op 'n pad, wat "spookagtig wegslinger tussen die donker swartkoppe in." Wanneer Piet Marais wegry van Bettie oorlog toe, dan is dit donkermaan, dan sing "'n byterige Oktoberluggie 'n klaende sangetjie" in sy ore. En as Bettie hom agterna kyk dan straal "die blinkende sterre met oë van genade op 'n verbroke vrouehart" neer. By haar ontwaking die volgende oggend "lê die sonnegoud heilig en skoon soos 'n glimlag van Gods genade" op tafelrande en koppies. Vir Japie du Plooy en sy maats is die rooi lug 'n onheilspellende teken. Die westewind laat Bettie huiwer; "net so wreed en meedogenloos soos die stofstorm daar buite heenbruis, so het die omstandighede ook met haar lewe gespeel!" Wanneer Oom Willem weggevoer word van Rietfontein hang "'n afgryslike weer in die lug" en na die storm ruis die sagte buitjies "soos 'n vreedsame verontskuldiging vir verbygegane wreedheid" neer oor die onskuldige grysaard. En die vroue op die plaas voel "of die natuur selfs geen simpatie en gevoel vir hul leed had nie." Oor die kindertjies van Servaas "gly die sonstrale van 'n koninklike somermiddag beskermend en seënend." Oom Willem sterf saam met die ondergaande son en die geruis van die see is 'n plegtige dodeklag". Wanneer Bester sy doodvonnis hoor, sien die son "soos 'n rustige god in spraaklose medely op 'n toneel van menslike leed" neer. By die uitvoering van die vonnis kom die son weer "net agter verre rande uit ... terwyl rondom die ligfontein 'n bloedrooi halwe maan ver in die blou uitsirkel. Betyds gekom om bloedvermaak te aanskou". Hier egter kry ons die indruk, dat die son en die bloedrooi maan daar met geweld bygesleep is. Veral die gekursiveerde sinnetjie bederf die stemming, terwyl die omskrywing "ligfontein" banaal is.

Wanneer Piet en Bettie na die oorlog op die klipheuwel by Rietfontein sit, dan "treur ook die son in sy bloedrooi vlieserige omhulsel, 'n weerglans van die bloed wat vergiet is op die Afrikaanse velde", maar enige oomblikke later as hul twee siele "saam(vloei) in 'n heilige vervoering van onvermengde geluk, van toekomsdrome en toekomsweelde" dan "skemer die laaste glimlag van die ondergegane son in roerlose stilte uit...."

Vergeet Nie begint met die son en eindig met die son. Meestal slaag die skrywer daarin om met sy digterlike viesie op die natuur sy stemmingsbeelde te verinnerlik, maar dit word ook soms bloot manier.

Naas eg-Afrikaanse beelde, wat getuig van fyn waarnemingsgawe kry ons egter ook flou-geryde uitdrukkings soos: "Verder het hy die sleutel waarmee hy onmiddellike toegang tot Bettie sou verkry", (p. 69); Bester is oortuig van sy "onblusbare liefdegloed" vir Bettie (p. 96); Aan Oom Willem het die willekeur sy skaamtelose hand geslaan (p. 149); Bester het sy vonnis in die gesig gekyk soos 'n marmerbeeld (p. 186); die maatskappy, waarvan hy 'n bruikbaar lid geword het (p. 17); vanaand sal 'n nog bitterder leed haar siel deurboor (p. 19); Daar brand 'n vuur, daar gloei 'n drif, 'n hartstog wat geen stormvloed sal uitdoof nie, daar setel 'n beslistheid wat die teerste bande nie sal verander nie. (p. 22). En so staan hy daar voor Servaas as 'n toonbeeld van goeie voornemens.... (p. 7); ens.

Ook onvervalste retoriek: Die suiwer suiderhemel met sy ontelbare flikkerbronne ... 'n klanklose(?) prag van lewende juwele gesaai oor die grondelose boesem van die lug, ... (p. 44); 'n gloeiende naald boor langsaam deur sy siel, agterlatend 'n smal baan van verskroeide lewensvreugde (p. 44)—'n beeld wat positief walglik is.

Dan vind ons ook nog uitdrukkings, wat onduidelik en onbeholpe of minstens vreemd is: Bettie is besig om met haar eenvoudige musiek "die grondtoon van haar lewensgeskiedenis te vertel (p. 73); die trek van verwyt in haar vader se woorde (p. 105); 'n woord wat wreed sou val op die tere bodem van plegtige liefde ... (p. 38); Bettie is die voorwerp van die liefde (p. 18); Dit is of sy beperktheid oor homself weggegroei ... het (p. 195); Bester met sy listige planne en parmantigheid moes in die hand kom, ja selfs op sy lewe was dit gemunt, waar kleurlinge in diens van Sy Majesteit hul lewe moes prysgee onder sy hande! (p. 161); Bester "met sy onverskrokke bende (p. 161);[273] program (p. 31); aanspeling i.p.v. toespeling[274] (p. 77 en 90); vuurgeveg (p. 140); Daarheen word gestuur wat in die oë van die Engelse outoriteite as lastige pro-Boer-mense verskyn het ... (p. 151). Alle kommunikasie met die distrik (is) afgesny en handel tot 'n nietigheid afgedruk (p. 82); sommige oomblikke voel dit hom of sy verstand hom begewe onder die invloed van gedagte (p. 150).

Waagmoed is 'n ongelukkige neologisme; wikkelwakkel is ontleen aan Guido Gezelle se gedig: "Bonte Abeelen" "Die Dood se grillige ontklemming" is geen Afrikaans nie. (p. 154). 'n Voorbeeld van lelike klink-klank staan op p. 175: Dit was 'n beleefde voorspel van die treurspel." Malherbe is trouens nogal lief om kort op mekaar, soms in een sin dieselfde woorde te gebruik. So kry ons tweemaal toevallig op p. 99; warrel op p. 65; huis op p. 17, skynbaar op p. 18, nou op p. 14.

Gevoel is maar al te dikwels gemengd—'n stereotiepe niksseggende uitdrukking: (p. 24) daar woel 'n mengeling van gevoele in haar siel; (p. 66) 'n warreling van gemengde gevoel.

As 'n kunstenaar ons vertel dat iets onbeskryflik is, dan is dit 'n belydenis van onmag of 'n retoriese reminisensie. Enige voorbeelde: (p. 65) Wie beskryf haar sielelyding ...; (p. 44) met 'n onbeskryflike krag; (p. 46) die onbeskryflike weelde van onbeheerste gevoel.[275] Op p. 34 kom nog 'n ouderwetse slim draaitjie voor: "Bettie is toe na haar kamer gegaan en ... wat sy daar gemaak het, sal iedereen wel weet wat van meisies kennis het"! En wat moet ons dink van die "arme student wat met 'n verskeurde hart en verslae gees moet afskeid neem van sy dierbaarste op aarde en dit vir baie lang tyd"! (p. 34).

Afgeslyte uitdrukkings ontstel ons in dubbele mate by Malherbe omdat sy stylkuns oor die algemeen deur so 'n innige, suiwer-eenvoudige woordkeus beheers is. Ons voel dat hy gesoek het na die alleen-juiste woord en dikwels klink daar 'n harmoniese toon in sy geïndiwidualiseerde sinsbou. Hy wou méér gee, dan 'n gewone amusementsroman en as een van die eerste kuns-uitings in prosa sal sy werk steeds van belang bly. Hy het die joernalistieke vaalheid uit ons taal weggevaag deur sy fleurige beelde, ontleen aan Afrikaanse veld en lug, en daarby besit hy as digter 'n fyn gevoel vir woord- en klankwaarde.

Ten spyte van die foute in sy styl en komposiesie hang Vergeet Nie soos 'n klein druiwetrossie in die groen wingerd van ons letterkunde. Die beelde met hul Karo-omwaasde ongereptheid is die wynkleurige korrels, mekaar verdeukend in die transparante ronding van sappige swelling, wat die tingerige steeltjies in hul liefdegroei bedek. En wie, stil-gelukkig, die korrels een vir een in al hul sonnegeurende sappigheid geproef het, sal ook die tere stingeltjie nie àl te wreed vergooi nie.

§ 7. Mej. Chris. C. Euvrard.

Van Chris. C. Euvrard, onderwyseres in Rhodesië het drie novelles verskyn: Twee Susters, Lena en Twee Broers. Haar werk word hier alleen vermeld, omdat aan Twee Susters in 1914 die eerste prys toegeken is in die jaarlikse wedstryd van die Akademie. Dit is van geen letterkundige belang nie, en bevat oorlogsondervindings in onbeholpe skoolmeisies-styl. Ter tiepering 'n enkel staaltjie: "Lena was skaars onder die seil uit, toe een van die wagte wat by die wa was, vir haar vra of hy die seil sal aftrek. Lena sê ja en in 'n paar oomblikke was die seil af en kon almal weer lug kry. Die seil was maar net af van die wa, toe 'n offisier daar kom. Hy begin met mev. van Eeden en tant Sannie te praat, en terwyl hulle nog praat, kom 'n paar soldate ook by die wa en begin ook met die meisies te praat." (Twee Susters2, p. 45.) Die redakteur van Die Brandwag het in Des. 1918 nog verklaar, dat ofskoon haar werk oppervlakkig is dit "veel daartoe by(dra) om leeslus op te wek by die wat anders nooit 'n boek sou opneem nie" (p. 214). Vir die taalstryd mag dit dus miskien wel van enige betekenis gewees het.[276]

§ 8. Joubert Reitz (1880-1919).

Joubert, 'n seun van President F.W. Reitz is gebore op Bloemfontein in 1880, kort na die slag van Majoeba. Daarom het sy vader Generaal Piet Joubert gevra om sy peetoom te wees. Met die oorlog van 1899-1901 het hy dadelik aangesluit by die Pretoria-kommando. In 1900 het hy gedien onder Kaptein Heinrich du Toit en terwyl hy in die Soutpansbergse distrik siek lê aan die koors, het die Engelse hom gevang en na Bermuda gestuur.

Na die vrede is hy met twee broers Madagascar toe, maar omdat dit daar nie na hulle sin was nie, het hulle teruggekom na die Transvaal. Joubert het hom toe as prokureur op Potchefstroom gevestig, waar hy in 1919 oorlede is.

Van hom het verskyn twee romans: Die Dolosgooier (1916) en Beproewing (1918). Vir die Potchefstroomse koerant het hy dikwels gedigte en prosastukke geskrywe, meestal van grappige aard. Onuitgegee is 'n reeks artiekels oor "Oom Fanie en sy ervarings met 'n maai- en vliegmasjien."[277]

Die Dolosgooier.

Frits Kok, 'n Johannesburgse klerk gaan na die diamantvelde by Bloemhof, maar die groot geluk bly weg. Gedurende 'n aanval van moedeloosheid wil hy vertrek, nadat hy op die stasie "'n sterretjie" gesien het, maar sy kaffer gooi die dolosse en die se voorspelling blyk juis, want Frits kry 'n paar mooi diamante. Nou trek hy weg om sy "sterretjie" te gaan soek en al gou blyk dit, dat sy die dogter is van Harvey, met wie hy 'n vennootskap gesluit het. Met Collins het hy op Bloemhof moeilikheid gehad en dié strooi nou skinderpraatjies uit, want hy het ook 'n oog op die "sterretjie". Collins slaag daarin om 'n fabelagtige skat uit Sekekoen se kafferstad te roof, maar hy beswyk aan 'n wond op die hoëveld, waar Frits hom nog eers verpleeg. Frits laat die kaffers £5000 betaal vir die verlore diamante en die dolosgooier se twede voorspelling kom ook reg, want hy sluit Maria in sy arms.

Beproewing.

Hierdie roman is meer of min op dieselfde plan gebou as Die Dolosgooier. 'n Doodgoeie jonge man word vervolg deur 'n gewetelose skurk, maar na baie moeilikheid triomfeer die onskuldige, word plotseling skatryk en trou met die meisie, terwyl sy mededinger deur 'n koeël uit die weg geruim word. Die ekspediesie na Duits-Suid-Wes en die opstand vorm die agtergrond van die verhaal; 'n vervalste tjek gee aanleiding tot verwikkeling en die spanning oor die erfenis word deur middel van 'n naamsverandering tot die ontknoping bewaar.


Teen sy sin en oortuiging het die skrywer deelgeneem aan die Duits-Wes-veldtog. Die raamwerk van Die Dolosgooier het hy in 'n militêre gevangenis geskryf, want hy het in die hande van die Duitsers geraak. Later het J.H. Malan, die "Oom Fanie" van die voorwoord dit persklaar gemaak, onvoltooide gedeeltes verder uitgewerk, taal en styl verbeter, kortom die hele boek oorgeskryf met behoud van die oorspronklike intriege.[278] Dat die aandeel van die bewerker taamlik groot was, blyk uit 'n vergelyking met Beproewing, waarin taal en styl so sleg versorg is, dat die verhaal feitjik onleesbaar is. Dit krioel van anglisismes en alle moontlike foute. Reitz had aanleg om 'n spannende intriege inmekaar te sit, maar sy uitdrukkingsvermoë was hopeloos swak. Selfs na die skawery van die bewerker het daar in Die Dolosgooier soveel oorgebly, wat onbeholpe is, dat van letterkundige verdienste weinig sprake is, ofskoon dit deur die handige toepassing van Afrikaanse motiewe seker tot die beste van ons awontuur-romans behoort.

As voorbeeld van die kreupel styl en taal kan die volgende dien: "Frits, hoewel 'n jonge, onervare man, terwyl hy nog onder sy komberse half-sit, half-lê, naar die pragtige natuurprent kyk, gedronge om die natuurskoon in oëskou te neem en, daar hy 'n dorpenaar was, moes tot die konklusie kom ... ens. (p. 17); Harvey ... had die saak van die likwidasie moet laat vaar.... Harvey het dit so haastig aangeneem, dat die kêrel had begin te dink...." (p. 105). Anglisismes groei ook nog geil: (Hy) moes van skool om sy eie lewe te verdien (p. 4); ons geluk is uit (p. 26); hy begin te voel dat die grappie nie die kers wêrd was nie (p. 146), ens.

Op p. 3 is daar al 'n toespraak tot die "troue geagte leser" en dwarsdeur die verhaal bly die skrywer aan die woord. Collins, Hooper en Petrus is tiepes van die bekende volbloed skurke. In Beproewing neem die politiek 'n groot plaas in. Die skrywer sê self: "Maar laat ons liewer nie van die dinge praat nie, anders word die verhaal 'n politieke vlugskrif...." (p. 97), wat dit dan ook teen die end werklik word.

§ 9. Jochem van Bruggen.[279]

J. van Bruggen is gebore te Groede in die provinsie Zeeland, Nederland, op 29 September 1881. In 1892 het sy vader hom in Johannesburg gevestig. Aan die Pretoriaanse gimnasium het Jochem begint verse maak oor die Voortrek. Die Anglo-Boere-oorlog het 'n end gemaak aan sy studie en vir sewe maande was hy op kommando, totdat hy, by die oorgawe van Johannesburg vasgekeer is. Van toe af moes hy vir homself sorg en in plaas van ingenieur te word moes hy lewe van die geringe verdienste, wat 'n agentskantoortjie aan 'n onervare jong man in daardie tyd kon gee. Na die vrede het hy in 'n wassery die gestrykte wasgoed in pakkies opgemaak, boordjies getel, ens. Maar dit kon hy nie uithou nie. Hy het uitgebars die veld in, ruimte toe en by sy boesemvrind G.J. Oosthuizen op Steenkoppies gaan woon. 'n Tydlank was hy daar onderwyser aan die C.N.O. skool. 'n Debatsvereniging en koor het onder sy leiding gebloei, terwyl daar ook van hom toneelstukke opgevoer is. Sy volgende onderneming was 'n tabaksbesigheid, wat hy met sy vrind Oosthuizen opgerig het. Aanvanklik het alles goed gegaan, maar later, veral deur 'n konneksie met 'n uitgeslape seun van Israel het die besigheid 'n totale mislukking geword, met die gevolg dat albei in 1909 diep in die skuld was. In Ouboet is o.a. 'n sydelingse herinnering aan hierdie episode, wat vir 'n tydlank sy letterkundige aspirasies heeltemal gesmoor het. In 1912 het hy sy Voortrekkerverse weer verwerk, maar kon geen uitgewer daarvoor kry nie. In 'n wedstryd van Die Brandwag het Die Praatmasjien in 1914 'n prys gehaal en van toe af het Van Bruggen sy koers gekry.

In 1917 het sy roman Teleurgestel die Hertzogprys van die Akademie behaal en in 1920 is sy kort verhale onder die tietel Op Veld en Rande gebundel. Van 'n nuwe roman, Ampie het twee hoofstukke in tydskrifte verskyn. "As boer moet ek in hierdie swaar tye net my kop gebruik om die boerdery agtermekaar te hou, wat my werk as skrywer uitermate belemmer", skryf Van Bruggen na aanleiding van Die Burger se enquête. Die Burgemeester van Slaplaagte het in die serie Almal se Boeke in 1922 verskyn.

Teleurgestel,

is 'n roman uit die Anglo-Boere-oorlog. Die Boere van Waterval en omstreke is besig met skyfskiet as die veldkornet hulle kom opkommandeer. Dirk Liebenberg het sy afgeleefde ouers na die kruitbadjie by Waterval gebring en op 'n wandeling deur die kloof probeer hy om Maria Brinkman oor te haal om sy vrou te word. Sy gee egter die voorkeur aan haar ou speelmaat, Gys, wat as gevolg van 'n speelse opmerking van haar die kordaatstuk uitvoer om 'n blom op 'n gevaarlike krans by die waterval te pluk. By dié geleentheid word Gys en Dawid, Maria se broer, deur Swartbooi, 'n geheimsinnige potteskuurder in 'n spelonk gelei, waar hy vir hulle dolosse gooi en somber voorspellings oor die naderende oorlog maak.

Na vyftien maande kom 'n kommando nuwejaar vier op Waterval. Dirk koester hands-op-planne, wat afstuit op die idealisme van die vrouens. Later vind hy geleentheid om met Stols en Greef, wat graag hul famielies wil besoek stilletjies af te swenk van die kommando. Hy trakteer hulle op 'n paar goeie doppe "perskesop". Stols is 'n swak jabroer en laat hom maklik oorhaal, maar Greef ry met sy maats se perde terug kommando toe. Dirk vind Maria nog onhandelbaar en sluit in groot verbittering by die Engelse aan, waardeur hy sy pa se dood veroorsaak, Stols sukkel terug Boere toe, maar laat in sy verbouereerdheid sy geweer agter, wat die vyand aanleiding gee om die woonhuis op Waterval af te brand. Deur Dirk se verraad word Gys en Dawid vasgekeer in Swartbooi se grot, waaruit hulle met moeite ontsnap. Gys word later gewond, die vrouens raak in die kampe, maar na die vrede trou Gys met Maria, en Dawid met Elsie Greef, terwyl Dirk 'n suiplap word.

In Teleurgestel het Van Bruggen sy oorlogservarings verwerk. "Hy het die verwoeste plase gesien na die oorlog, en hy het geluister na die ondervinding van die Bittereinders, na die verhale uit die tyd toe die Engelse oor Steenkoppies en omgewing hot en haar getrek het en uit die droewe tyd van Johannesburg se renbaan."[280] Swartbooi se prototiep was "'n verdwaasde ou kaffer, wat die Hartleys—daardie tabakmagnate—se kombuisgereedskap geskuur het, dag vir dag in 'n driffie en as 'n malmens geskreeu het party nagte as hy rondloop."[281]

In Die Burger het Van Bruggen verklaar: "In ooreenstemming met my vorige werk, sal my strewe bly: 'n afbeeldsel van die lewe soos ek dit gewaar, wat duidelik sal staan in die skynsel van romantiek."[282] Nou is "romantiek" juis een van die terme wat moeilik definieerbaar is, maar Van Bruggen wil blykbaar te kenne gee, dat hy geen realis in die enge betekenis van die woord is nie. Is die opvatting juis, dan gaan hy van dieselfde beginsel uit as meer dan een kunstenaar van betekenis. Johan de Meester sê b.v. "En als ik iets als onbelangrijk voel—als een ding dat me niet interesseert—dan is 't het realisme, dat aan de loutere beschrijving zonder meer van een brok werkelijkheid z'n volle kracht geeft. Dat zou ik nooit kunnen doen."[283] Cyriel Buysse verklaar: "De beschrijving van een realiteit is toch heel iets anders dan die realiteit.... Als de artiest niets aan de werkelijkheid toevoegde, zou hij geen artiest zijn. Het beschrijven van détails zonder meer, zooals Van Deyssel wel eens heeft gedaan, daar voel ik niets voor. Dat kan ik niet mooi vinden. "L'âme des choses", zooals de kunstenaar die voelt, moet uit zijn werken spreken."[284] En Is. Querido verklaar met die grootste stelligheid: "Ik moet met mijn innerlijk leven ingaan op de dingen ... ik kan de dingen niet klein zien: ik moet ze vergrooten, doorlichten ... ik moet er heelemaal door vervoerd worden ... Ik heb niets aan de realiteit!"[285]

Ofskoon ons Van Bruggen se beginsel dus kan aanvaar, lei sy ver-romantisering dikwels tot 'n sodanige vermooiing en opsiering van die werklikheid, dat die egtheid van sy figure in die gedrang kom. En daarvan sê Querido: "Elke willekeurige fantastische belichting van 'n werkelijkheidstafereel ... wordt valsch maakwerk, onechte, gedrochtelijke romantiekerij."[286] Swartbooi met "sy dwalende brein, wat sy lewe so vol misterie maak" (p. 195), sy geheimsinnige grot en orakeltaal is seker romanties geteken, maar wek skeptiese bedenkings van ernstige aard. Gys en Maria op wie ook 'n sterk romantiese skynsel val, bly vir ons vae figure. Stols daarenteë, wat deur sy jabroer-geaardheid geen aanleiding tot romantiekerige vermooiing gegee het nie, is deur 'n raak-realistiese uitbeelding tot 'n lewende mens geword, wat ons nie maklik vergeet nie. Arme Liepie met sy "bang-oormekaar-kyk oë", seer rug en orige knipmes ken ons deur en deur. Nog 'n ander byfiguur, Moeder Greef met haar laslappies en ou-mens gemaal is met trekkies van boetserende fynheid geteken, terwyl Luikes Greef met sy droë humor ook goed geslaag is.

By die uitbeelding van Dirk Liebenberg gee Van Bruggen 'n psigologiese uiteenrafeling, maar sy afkeer van die skepsel van sy eie verbeelding is só groot, dat dit hom nie geluk om onpartydig teenoor die figuur te staan nie. Sy haat vir die walglike kreatuur het hom verhinder om heeltemal op te gaan in Dirk se psiege. Reeds in die eerste hoofstuk verraai hy deur 'n kwasi-twyfel sy vooroordeel. "Ons huiwer om hom so wreed te beskuldig, want ons ken sy verlede nie in besonderhede nie. Miskien sal die toekoms 'n gedagte aan die moontlikheid daarvan regvaardig."[287] Nou weet ons al: Dirk gaan die sondebok word, en die ongeregtigheid word dan ook by wavragte op hom gelaai! Maar let wel, Van Bruggen sèlf ken sy verlede nie in besonderhede nie. Hoe kan so 'n persoon nou ooit fel-lewend vir ons word? Met 'n sug van verligting neem die outeur afskeid van hom: "En so het ons klaar met Dirk" (p. 219). Hy het só boos geword, dat hy hom, na 'n paar kwaai trappe vir ou-laas, uit sy verhaal bons! Dit word mos bruilofstyd en daarby pas Dirk, die suiplap met sy "valse gryns" nie. Maar dis 'n oplossing, wat ons nie bevredig nie. Geslaag is die figuur nie, ofskoon daar telkens brokke treffende analiese is. Maar meestal neem Van Bruggen teenoor Dirk die houding van 'n bestraffende regter aan. "Kan 'n wolwe-aard so gou verander in skape-gedweeheid; 'n dwingeland in 'n oë-dienaar ...?" (p. 12). 'n Oomblikkie tevore het hy nog gehuiwer "om hom so wreed te beskuldig", maar nou is sy vonnis al gevel. Juis die bo sy onderwerp staande gevoelloosheid verhinder hom om 'n warm-menslike omtrek aan die verraaiersfiguur te gee. Later word Dirk dan ook eenvoudig as 'n besetene uitgebeeld. "Die fluisterstem van sy gewete sterf in die diepte weg, wat Satan bliksemsnel met misdaadplanne vul" (p. 145). By die dood van sy moeder kry hy 'n "laaste kans" (p. 191). "Dis een van die momente, waarin 'n goeie gees, so hom die tyd gegun werd om tot die harde hart van Dirk deur te dring, 'n ander mens (van hom) sou kon maak". Gelukkig bly ons die koddige psigologiese gedaanteverwisseling bespaar!

Soms gaat Van Bruggen so op 'n paar tree van sy persone af staan en bepeins dan hulle toestand. Gys is "in strak starend gepeins" (p. 216). En dan roep die outeur uit: "O watter gedagtes! So sterk nog as in sy volle kragtyd ...." ens. Daar is nog meer sulke hinderlike ingrypsels van die outeur. "Die leser wat onsigbaar agter Dirk aangestap en oor sy skouer geloer het ... Dirk is te ongeduldig om die kamer rond te kyk, maar ons kan dit nog net doen, vóór die aandskemering ons dit belet" (p. 23).[288] Dit is verroeste romantegniek van die jaar nul! Dat Van Bruggen egter 'n plastiese gawe van geen geringe betekenis het nie, bewys die welgeslaagde toneel, waar Liebenberg vir Greef en Stols wil oorhaal om die wapens neer te lê.

'n Weemoedige klaagtoon van verdrietige berusting deurhuiwer die ritme van Van Bruggen se styl in Teleurgestel. Die smart oor verlore onafhanklikheid en die droewige herinnering aan oorlogsleed tril na in somber klanke. En teen die end word Van Bruggen moeg vir die trommelslae wat "die doodmars deurdof". "'n Lange sombere storie ... ons wil hom deurhardloop" (p. 222). Tog klink daar soms 'n skaterlag; as die kakies retireer vir 'n rollende pampoen (p. 173) en Greef vir Stols laat "handsop" (p. 156). 'n Paar mooi kindertoneeltjies beloof iets vir die toekoms.

Opvallend is die gebruik van koppelwoorde soos: knutselwerk-uitdenk-vermoë (p. 230), swaai-arm-beduie (p. 9), goudblom-oorlaai (p. 20), droomglans-dowwe oë (p. 195). 'n Enkele maal word daarmee 'n mooi effek bereik, maar meestal gee die oorvloedige aanwending 'n indruk van gesogtheid, terwyl baie saamkoppelings in stryd met die taaleie is. Die voorliefde vir lang-asem sinswendings versterk die sware klank van sy prosa, wat met afgemete pas moeisaam voortbeweeg. En daardeur ook hoor ons telkens dissonante b.v.: "Van onder oop, het hoëveld se voor- en najaarsstorme daardeur gestroom en binne die lang huise opgestuiwe in die smal-langwerpig drukke reghoek-ruimte, waar die lewe in en uit rumoer na sy hokkies, en kinders spelend raas, natbesweet" (p. 221). Tog het Van Bruggen deurgaans 'n fyn gevoel vir woordklank. Telkens kry ons brokkies van sinne, wat in gereëlde versritme vorentoe gly; "en vínnig word haar stáp, ofskóon sy dralend peíns oor wóndervraág...." (p. 77). Maar ons stuit ook op klinkklank: "terwyl sy rol-oë die kamer vergenoeg deurrol" (p. 114); Al kante uit wil hy koers vat, so rol sy uitpuil oë al kante uit (p. 149); dat drie ... by die val hulle eie val sal vind (p. 194); dit beslis die twyfel van die onbesliste goeie man (p, 150).

Koppelwoorde en sinsbou gee aan Van Bruggen se styl 'n moderne cachet. 'n Allersnaakste indruk maak daarnaas, die ouderwets-retoriese taal, soos ons die ken uit die Hollandse predikante-literatuur van vóór 1880, wat ook nog dikwels van Suid-Afrikaanse kansels gehoor word. 'n Knagende wee, wat die hart verteer (p. 86); Daar drup dit in sy hongerige siel heilsame lafenisdruppe en sy gedagte sien, as deur hemelse ingewing ... (p. 83); wat alles die plegtige oomblik verhewe maak (p. 67); 'n Sug ... tower 'n nuwe gevoel in sy boesem (p. 51); 'n swarte afgrond ... gaap (p. 76), ens. Dit krioel ook van sulke domineesterme soos: hartsvriend (p. 202), hartebodem (p 76), brandende gemoed (p. 50), tomelose hartstog (p. 126), geestesoog (p. 57), skoonste hemeldeug (p. 80), ens.

En hoe deftig paradeer Van Bruggen met 'n hele kommando holrug perde! Dit is perde wat al meer as 'n halwe eeu nie meer "pylsnel oor die pad sweef" nie (p. 70), dis ou doodgemoorde knolle, wat skaars nog 'n vuiliskar kan trek. Gys is die "eweknie van Dawid in geesdriftige opwerping van oorloglugkastele"; daar is in die kloof "'n reusemagneet" wat hom trek (p. 56); "Die ontboeseming was as 'n warme son, wat die yskors ontdooi" (p. 82); "toegedekte liefde (het) haar windsels afgegooi" (p. 99); Die liggie lei hom soos 'n vuurtoring die ... skip (p. 167); aan bande gelê (p. 169); ens. Gelukkig kry ons tussen die muwwe, onpersoonlike beeldspraak so 'n enkele keer 'n fris veldwindjie: As Swartbooi die plaasmense sien wegvoer deur die kakies dan is "die lewe wat in sy oë kom blink, ... soos die ... in 'n koei se oë, wat wild oor die kraalmuur kyk, wanneer haar pasgebore kalfie hok-toe weggedra word", (p. 196); "die stryd teen onsigbare wapens ... soos mambas in die ruigte" (p. 192); "Af drif toe ... kom 'n groot tentwa aangeklop" (p. 7). Daarnaas kry ons egter weer sulke badkamer-beeldspraak soos: Maria "aarsel niks om 'n doeltreffende bekoeling uit te giet nie oor sy brandende gemoed"! (p. 50); "Of 'n vloed yskoue water oor hulle rugge uitgegiet word, so laat, wat agter is hulle ril" (p. 65). Ook onsmaaklike triwialiteite soos: "Daar is geen druppel bloed meer in Stols se neuspunt nie; dis alles weggestroom na die midde van sy romp ..." (p. 157).

In sy natuurbeskrywing is Van Bruggen onbeholpe en soms banaal. Hy skerm met groot woorde wat volkome retories en aandoeningloos van algemeenheid is. "Die skone dal lê voor die perdelose ruiters in volle somerweelde. Die ou opstal lyk so skilderagtig.... Ook is dit of die skouspel hom hipnotiseer.... Die ganse moot brei uit in sombere somerweelde" (p. 126-7). Sulke niksseggende frases laat ons heeltemal koud. Nie deur die woord somber ontstaan die indruk van somberte nie. Die somberte-emosie moet hy in beeld bring, moet hy ons laat aanvoel deur plastiese trekke. Maar hy verswak nog meer die indruk van sy frases deur te praat van "die lentegroen, (wat) in jeugdige ydelheid wou spog ..." En dan vervolg hy met valse, ondeurvoelde beeldspraak: "Uit egaal donkergroen spreek nou éénselfde stemmige gedagte, waar uitgeswelde rypheid elke deeltjie van die ernstige boskasie herinner aan verwelking." Dit is viesie-verknoeiing. "Die stemming deel sig onbewus mee aan die twee ..." Juis, onbewus, want hoe dit gebeur bly vir ons 'n raaisel. En dat Stols en Dirk albei in presies dieselfde stemming geraak, is papier-psigologie! Daar is nog meer holle frases: "Dieselfde voorjaarsagtermiddag het ook sy toweraandeel volbreng in die natuurherlewing" (p. 20). Dirk kry "lewens-lente-visioene"! Die voëltjies sing mooi "en dis of die ganse omgewing wil meedoen aan 'n gemoedsontboeseming"! (p. 31) "Grootse natuurskoon" (p. 47), "roerlose aandskoonheid" (p. 90); "dis van die aande, waarin natuur sy wonderskoonheid wys met stille majesteit" (p. 166), "ruwe natuurprag" (p. 52); "Die lente het weer 'n jong gewaad oor die velde gesprei" (p. 202). En op p. 52 is daar weer "'n grootse gedagte, wat setel in die lower-woestheid". Die gedagte spring van sy "setel" af en hou 'n netjiese prekie in die tale Kanaäns. "Dis 'n plekkie, wat mensekindere wil goedmaak en verhef bo wêreldse nietighede," ens.

Duisterheid is dikwels die gevolg van die retoriese opblasery. "Die kranse voor en weerskante is hoog en amper loodreg, bedek met ruwe natuurprag, wat gestapel op kwynend-skemerlig en duister ... (p. 52). Hoe moet mens jou nou 'n voorstelling vorm van wilde plante gestapel op skemerlig en duister? Op p. 32 is daar "klanke, wat hemelwaart denk en dankbaar swewe, vir sparende liefde ..." Al slaan denk ook op gevoel dan is dit nog 'n onbeholpe parallelisme. Onverstaanbaar is: "Ligvlekke, wat die boomskaduwees werk, hou vaste lyne" ens. (p. 87). En wie hoor nie die gekreun van die bombastiese blaasbalk agter sinne soos die volgende: "Dis pynlik om die afbreuk van geesverbystering (?) te sien, wat flou, al flouer 'n kwynend verset teen eie onmag vertoon en in sielsmart oorgaan ..." ens. (p. 9). Maria se "sterk gestel (het) begin te luister na die stem van siekte. Tallose skrikgedagtes het senewee-skokkend met haar liefde gespeel en bondgenoot geword van 'n ongesteldheid wat haar sou neerdruk ens. (p. 234-5) En daarom het die siekte so gesloer om uit te breek, uit eerbied vir die grondigheid van haar verset en heldepoge." Sy kom uit die hospitaal "met twee (!) grote, siel-vertolkende oë, verhewe-boeiend"! En daar is nog meer voorbeelde van sulke opgeskroefde woordkramery. Wat moet mens aanvang met taalgeknoei soos die volgende: "Humeur lê diep bedolwe onder tallose swaardrukkende gedagtes" ens. "'n Onmag van sy logies verstand, laat pessimisme die vrye teuel" (p. 82); Luikes is "oortrek deur die waas van sy karakter ..." (p. 35); "die inwendige Greef" (p. 36);[289] ens. ens.

Die verpersoonliking van abstrakte begrippe gee aanleiding tot raaiseltaal en gesogte wendings. "As die sluipgang van hulle genegenheid tuis gekom het is dit getrouheid tot die dood ..." (p. 35); "die koers ... waar vinnig verlange die bome deursoek" (p. 76); "Hartverheffende momente wat grondslag vir 'n toekoms lê en lewens bou of brokkel—kort as 'n sug, 'n fluisterwoord, 'n oogstraal as diamante bly skitter aan die langste lewensdraad en nog glansies op sy rafelpunt werp; gebonde aan seisoen nog tyd" (hoe rym dit met "kort as 'n sug"? P.C.S.) ens. (p. 106.) Met nog een voorbeeld van Van Bruggen se onbeholpenheid kan ek volstaan: "Maar lewe het vasgeklem aan sy omhulsel met ongekende adhesie, waardeur die wetenskap verbaas, wat eers verwaarloos werd, omdat geen hoop bestaan het nie, met ywer die omhulsel onder sy behandeling geneem het." (p. 214).

Die dialoog is meestal onnatuurlik-styf en soms so deftig as 'n redevoering. Gys sê: "Dis of natuur 'n moedwil toon om haar wonderwerke treffender te maak. (p. 53); Ons volksaard is opgeruimd en vol korswil, wat wys veral op sulke dae, waar hoop, by nuwe begin, ook nuwe ambiesie gee" ens. (p. 89). En hoe netjies ryg Dirk sy sinne aan mekaar as hy pleit vir Maria! Hy eindig so: "Die hoop sal my in doodsgevaar dapper-versigtig, in moedeloosheid vasberade maak en my nasie laat liefhê, omdat jou ideale myne sal word!" Met dié woorde vat hy haar hand "wat sy nie kon terug trek nie, omdat haar sielestryd onbeskryflik geword het." Dieselfde onmag om heftige emosie plasties uit te beeld vertoon Van Bruggen ook waar hy Dirk se houding moet beskryf: "As hy verneem dat sy moeder gestorwe is, voel hy getref en kyk somber na die aarde voor sy voete." (p. 191.)

Die taal van Teleurgestel is sterk Hollands gekleur. Woorde soos bot, mat, meewarig, halfliggend, gebly (gesneuwel) (p. 111), hawe, struik, dryn word dikwels aangetref. Maar ook die sinsbou is onafrikaans en veral die gebruik van infinitiewe vorme is storend. "Maria hunker na meer wete, nou die skiete opgehou het" (p. 171). Van sulke vorme krioel die boek en dit gee soms aanleiding tot duisterheid soos op p. 184: "'n wese, wat versuim tot sy kom". Onafrikaans is ook: "Maria en Elsie doen saam in die spel" (p. 91); "waarvoor diensies" (p. 6). Die gebruik van die vorme en het is soms verkeerd.

Op Veld en Rande.

In Op Veld en Rande (1920) is dit moeilik om die skrywer van Teleurgestel te herken, as die laaste verhaal, Die Beeswagtertjie buiten beskouing bly. Alleen enkele stylwendings soos "wit orkaan gedrewe wolke" (p. 122), en 'n paar geykte frases soos "toe twee harte, wat lief en leed van die wêreld verstaan, opreg ineensmelt!", "sielsgenot" (p. 109), "hartsgevoel" (p. 28), "hartetaal, vol gloed" (p. 59), herinner aan die manier van Teleurgestel. Hier ook geen romantiekerige opsiering, maar onvervalste werklikheid. Hoe raak en eenvoudig-waar word Sitman, die "meeldiaken" met sy "ongebleekte kussingsloop" nie geteken nie! Hy is die man, "wat sit waar hy sit", "die elfde plaag" (p. 27). Soos Van Bruggen hom geteken het met sy astrante indringerigheid, altyd kunsies bedenkend om tog maar nooit aan die werk te kom nie, sy windmaker-praatjies wat eie nietigheid moet bedek, sal die bywonersfiguur lewe in ons letterkunde. Hy staan vlak voor ons met al die flenters van sy verslegting. Hoe goed is nie geteken sy poging om tog nog 'n skyn van vernaamheid te ontleen aan die reputasie van sy onbekende "ouboet Karel van Staanderton se distrik". En die dialoog is so spontaan—dis die lewende terugbeelding van egte gesprekke sonder retoriese byspinsels van die outeur. Hoor maar ou Sitman se gesanik: "Nou ja! ek hoor toe gister ... of was dit eergister ... nee dit was gister, dit wil my nou goed byval—Willemse het gister hawer gelaai—ja dis reg, dit was gister.... Nou ja, ek hoor toe gister by Oom Andries dat meneer de Klerk altemit iemand sal nodig kry om hand by te sit" (p. 23). Hoe raak is ook die bywoner se hele persoonlikheid geteken in die kwasi-gewigtige wyse waarop hy meedeel, dat hy "tot 'n besluit gekom 't" (p. 256), of as hy klaag oor die baie werk (p. 43). Uit so 'n paar plasties uitgebeelde toneeltjies word Sitman vir ons meteens fel-lewend, terwyl Dirk Liebenberg, trots al die swaarwigtige analiese alleen 'n toneelskurk bly.

Ook "kromrug Bettie" met haar huilende kleinspan in die rokerige lug van die hartbeeshuis is goed getiepeer. Hoe mooi leef die moeder-instink op in die verdwaasde skepsel, as daar planne gemaak word om haar kinders na die weeshuis te stuur. Sy glo tog so vas, dat niemand anders so goed vir hulle sal kan sorg nie, al sit sy in die grootste ellende. "Daar is Driesie!... Uit die staanspoor is sy maag onderste bo!... Sal hulle tussen die kliprandjies rondloop om aambeibossie te soek? En dit laat trek? En dit vir hom ingee?—Nog nooit nie!..." (p. 54). Hoe diep het Van Bruggen ingedring in die kommergedagtetjies van die arme sieltjie!

Die ander bywoners se mentaliteit word ook met 'n paar fors trekke aangedui: Willemse, die staatmaker voorman, Neef Niklaas met sy naïef-wysgerige praatjies oor "bestiering" en "bestuur", Gouws, die dwarskop. Stols, uit Teleurgestel kon deur die oorlog nie in sy gewone lewe geteken word nie. Maar nou sien ons die bywoners in hulle daelikse besigheid, hulle getob oor allerlei kwellings en die wrokkende gevoel oor hul afhanklike posiesie. En ook hulle baas, Andries Vry, die konserwatiewe boer en Bybelvaste ouderling ontmoet ons.

'n Enkele maal kom Van Bruggen self om die hoekie loer, op pagina 29 nl., waar hy verstandige maar onletterkundige opmerkings maak oor kafferpolitiek.

Ouboet, Oom Jannie en Die Praatmasjien is ook goed geslaag. Veral die lugtige verhaaltoon val op na die sware sleepgang van Teleurgestel. Daar is 'n vaardigheid in komposiesie, 'n handige groepering van allerlei tiepes uit die boerelewe, wat met al hul eienaardighede goed geteken word. As realistiese skilder van die plattelandslewe openbaar Van Bruggen 'n bewonderenswaardige deurdringingsvermoë. Stoffel Harmse, die omslagtige verteller en lastige buurman, met sy vervelende "jy kan vir Sarie ook vra", Oom Jannie en die weduwee, wat by "gebrek aan stof vir vertroulike konversasie hoofpersone uit geslagregisters van al twee kante opnoem en bespreek" (p. 101)—dit is fyn-psigologiese trekkies, wat bewys dat die skrywer hom ingeleef het in die mentaliteit van sy mense. Hulle karakter word nie bestuur deur geestige bokkespronge van die outeur nie, maar daar is 'n innerlike ontplooiing, wat ons direk as waar en noodwendig voel. Dit geld egter nie van Die Beeswagtertjie nie, wat eenvoudig 'n nugter bedenksel is, en waar alleen Kleinbooi met enige lewenswarmte geteken is. Die mynwerkers is alleen met so 'n paar strepies toneelverf bestryk en die styl het weer dieselfde opgeskroefdheid as in Teleurgestel. Veral pagina 140 is swak, waar "die onmusikale Josef 'n singlus uiter", en "'n siel-treffende Engelse liedjie" deur sy neus gons "met omgewing-influenserende dreun"! Die beskrywing van die begrafnis in Oom Jannie (p. 83) is ook gedeeltelik misluk. Die toespraak tot die "onverskillige, gevoellose ligmis" is heeltemal misplaas, terwyl die volgende sinne ons aan die paddas herinner, wat met so 'n voortreflike gawe des onderskeids die boere op Waterval verwelkom (p. 88). "Kyk! die osse hou op met wei, of die redelose vee gevoel, dat nou die tyd nie is vir sinlike lus nie," ens. (p. 83).

In die natuurbeskrywing tref ons nog gemeenplaatse aan. "In lewensvolheid juig die veld-van-reuse-blare, vol frisse groeikrag, (wat?) met die fynste silwer blink en as diamante skitter" (p. 121). 'n Enkele stylwending en woord, b.v. mande (p. 21), welk (p. 112) verraai nog Hollandse invloed. Onbeholpe of foutief is o.a. die volgende: argelose boerewerwe (p. 55); voorbeeldige besef (p. 112). In sy beperkte moreel-voel is 'n verdrietige wens (p. 129); myners-ontboeseming (p. 133); Met Sitman op die onderpunt ... gaap die reeks van bywoners en spring op die gros ... (p. 12) diamante te grawe wat stadig in die stroewe hersens vreet (p. 14); 'n Ry van arbeid (p. 15); 'n gehele voorkoms, wat H. dadelik kooi toe bring (p. 41), ens. Die volgende meditasie is van die outeur en nie van Oom Jannie nie: "Daar moet weer lewe kom, waar sorgvolle vlyt...." (p. 90).