WeRead Powered by ReaderPub
Die prosa van die twede Afrikaanse beweging cover

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging

Chapter 70: Ou Malkop
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

A scholarly survey examines prose produced during the early twentieth-century Afrikaans literary revival, tracing its historical context, cultural conditions, and stylistic tendencies. It analyzes polemical writings, periodical contributions, and works by principal prose authors, supplying biographical notes and close readings of novels, short stories, satire, didactic pieces, animal sketches, travel writing, and historical prose. Chapters address tensions with earlier literary currents, risks of cultural isolation, Calvinist influence on aesthetics, language problems including anglicisms, and features of dialogue and narrative technique. The author assesses critical debates and offers a subject-based taxonomy and evaluation of the movement's thematic and stylistic limitations.

In die roman Ampie, waarvan nog net twee hoofstukke verskyn het[290] is Van Bruggen op sy beste. Hier laat hy ons as objektief-beeldende kunstenaar die lewe van die opgevoerde persone intens meeleef. Hoe suiwer is die weergawe van Ampie se gewaarwordings as sy maat, die esel verkoop word! En op wat 'n innerlik-ware toon is sy in-hom-self-pratery meegedeel! Los en natuurlik is die dialoog, waarin soms ewe 'n toon van die rou werklikheid opklink: "Ampie stamp sy simpel suster eenkant-toe: "Gee pad van my plek af!—Ma, kyk vir Ampie!—Ampie jy sal bars! brom die ma, sonder om te roer." Raak-psigologies is dit om ou "Goor Dawid" saam met Booyse vir sy seun te laat vermaan: "Ja Ampie, doen jou bes, ... dis Kaffersleg as 'n mens ongeleerd bly." Hoe rats is hy om 'n ekskusie te bedenk as hy die kontrak moet teken: "Oom Kasper, jy weet die griep.... Ek het hom in my rug gehad, en my hande was daardie tyd glad dood, en ek het glad verleer om my naam te teken. Kom Ampie, vat die pen onder: ek sal bo vat."[291] 'n Enkel minder gelukkige uitdrukking kom af en toe voor o.a.: "Nou is hy die voortbrengsel van wat sy taaie liggaamstemming eis en sy sintuie."[292]

Die Burgemeester van Slaplaagte.

In Die Burgemeester van Slaplaagte bly die opgaande lyn in Van Bruggen se kuns gehandhaaf. Dis 'n heel eenvoudige geskiedenis van 'n paar eenvoudige mense in 'n dooierige dorpie, maar Van Bruggen maak dit tot 'n stukkie treffende realiteit deur sy lewensware uitbeelding. Oom Lood wat "almelewe oorhoekse jukskeie en vrot voorslae" (p. 88) met 'n toegeknypte oog verkoop, is famielie van Stols uit Teleurgestel. Maar hy is met 'n dieper indringingsvermoë geteken. Ons ken nie alleen sy uiterlike eienaardigheidjies nie, sy lus vir 'n boegoesopie, sy neiging om alles voor die voet te sekondeer op 'n vergadering, maar droom saam met hom oor sy toekomstige kosterskap, kreun saam met hom in sy vadersmart. Want Lewina, sy dogter, doodmoeg vir die eentonige lewe in 'n slaperige stofholte trek na Johannesburg. Goed is die ouers se instinktiewe wantroue vir die grote-stadslewe aangedui. Maar as hul dom-gerus oor die dogter se toestand huistoe kom, is dit tog lekker om so 'n bietjie te spog oor die ryk "huwelik"! Wanneer Lewina eindelik met haar skande terugkeer, tob haar vader oor die raaisels van die stadslewe, wat hy met sy onnosele Slaplaagte-logika wil oplos. Oom Lood is met soveel gelukkige trekke uitgebeeld, dat ons hom deur-en-deur ken. Die nasionale skoolmeester se skoene word toegedraai in die Engelse krant, waarmee Peach hom wou oortuig van die Duitse gruweldade! Van sulke kostelike humor is daar meer staaltjies. By Oom Lood staan dit vas: "Daar was net een vèrplie baklei, en dit was in een-en-tagtig se oorlog; en daarom het ons die Rooies toe uitgestof"! (p. 39). Van 'n kunstenaar, wat so diep in die psiege van 'n eenvoudige siel kan deurdring, kan seker nog veel verwag word. Treffend-juis is ook die uitbeelding van Tant Lewina, 'n eenvoudige werk-esel met tog so 'n gevoelige moederhart. As Boet Heina met sy plegtige waarskuwing kom, gaan sy sit "soos 'n huismoeder op 'n Sondagmôre se boekevat as sy tewens die kokery moet dophou" (p. 51). Deurtastend van geaardheid hou sy haar met geen gepiep op nie (p. 84) en verstaan die kuns om nuuskierige famielielede te troef met haar ratse tong.

Ook die byfigure word met enkele raak trekke geteken, sodat die hele stowwerige Slaplaagte met sy bewoners helder voor ons staan. Daar is Pieter van Staden met sy moedelose, don't-kêr-stemming, omdat die reent nie wil kom nie, maar vol vuur op die skoolkommissie-vergadering, waar hy sy wysheid oor windpompe uit. Die hele vergadering is 'n mooi geslaagde voorbeeld van Van Bruggen se "copiëerlust des dagelijkschen levens". Hy hoef ons nie nog te verseker, dat 'n voorval "histories" is nie (p. 60), ons voel direk dat alles eg is, so noukeurig selfs, dat dit telkens die indruk van 'n "document humain" maak.

'n Enkele maal kan hy 'n uitroep nie bedwing nie; "O, die kwaadpraat en kwaaddink van die mensdom!" (p. 38). Ook in die dialoog is daar hier en daar 'n plekkie, waar ons die skrywer, en nie die uitgebeelde persone hoor praat nie. So sê die meester: "Ek hoop julle sal van teleurstelling vrywaar wees" (p. 70), en Oom Lood: "Alles is net een infame bedrog" (p. 101). Komies is dit om net na die beskrywing van die groot droogte te hoor dat "niks (voor)val wat stof gee tot gesels nie"! (p. 4). Onduidelik is die volgende: "Op die bulteveld ... boei die eensaamheid deur 'n magtige bekoring die onsigbare werking van die skeppende Almag...." (p. 73); en slordig: "'n Trek van onverskilligheid omtrek haar oë" (p. 35).

§ 10. Gordon Tomlinson.

Gordon Tomlinson is gebore op Swellendam in 1889. Vir alles wat Afrikaans is, was hy van jongs af aan 'n sterk propagandis, sodat hy b.v. in die Anglo-Boere-oorlog van skool weggeja is, omdat hy 'n Vierkleur-ruiker in sy knoopsgat gedra het. Later het hy voortdurend stroebeling gehad met die Engelse hoof. Die meeste awonture, wat in Deur die Smeltkroes beskrywe word het in Swellendam gebeur tydens die oorlog. Eers wou Tomlinson predikant word, maar weens 'n keelaandoening moes hy die plan opgee. Op Stellenbosch het hy in die regte gestudeer en daar het hy saam met Dr. Tobie Muller en Professor J.J. Smith een van die voormanne van die A.T.V. geword, en deel uitgemaak van die redaksie van Ons Moedertaal. Later het hy hom ingespan vir die Helpmekaar en tans woon hy in Vredefort, waar hy hom met sy eggenote aan die skilderkuns wy.[293]

Deur die Smeltkroes, (1917).

Op die dorp Vergenoeg woon Oom Gert de Bruyn, "'n egte tiepe van die opregte Afrikaner" (p. 4) en Van der Bijl, 'n jingo, wat "rooier dan rooi" is. As die Anglo-Boere-oorlog uitbreek kom daar 'n end aan die vrindskaplike verhouding tussen die bure, tot verdriet van die kinders, wat oor en weer verlief geraak 't—Piet de Bruyn op Susan van der Bijl, en haar broer John op Lenie, Piet se suster. Susan het egter 'n "Engelse modepoppie" geword en deur toedoen van Carel Nel, wat by die Van der Bijls inwoon raak Piet in die moeilikheid en val in ongenade by Susan. Verskeie awonture van Piet en John se skooldae word vertel, asook hul ondervindings aan die Victoria Kollege. Hulle sluit by die kommando van Scheepers aan en as John gevang word, slaag Piet daarin om die verraaier Nel te ontmasker. Van der Bijl word 'n goeie Afrikaner en tussen die jongspan kom alles reg, terwyl Nel so vrindlik is om in Australië spoorloos te verdwyn.

Deur die Smeltkroes het 'n sterk-propagandistiese strekking. Tomlinson verdedig die Afrikaanse beginsels teenoor die imperialistiese idee van Engelse en verengelste Afrikaners. Hy gaat te keer teen die verwaarlosing van Hollands op die skole, die onnasionale geskiedenisonderwys, die eksamenstelsel, "die oudwyfse Skotse sisteem alhier deur 'n Dr. Muir ingevoer" (p. 59), en "die nuwe kindergarten-metode" (p. 9). Hy laat "Jong Suid-Afrika sug om die vryheidsin, wat leef en sal leef, solank daar Afrikaners op Afrikaanse bodem wandel" (p. 53) en gebruik elke geleentheid om sy patriotiese gevoelens te lug. As pleidooi vir 'n suiwer-Afrikaanse kultuur het die boek ongetwyfeld waarde. Maar as roman beskoud is dit 'n mislukking. Behalwe die regstreekse propaganda, tree die outeur van die staanspoor af gedurig op die voorgrond. Hy spreek sy lesers toe,[294] vertel hulle wat hy met "die spelers in hierdie drama" (p. 6) gaan doen, en omdat hy hoofsaaklik 'n outobiografie skryf, verval hy telkens in persoonlike mymeringe.[295] Telkens moraliseer hy oor die dade van sy persone, b.v. "Arme Piet! Had hy maar geweet, wat voorlê. Gelukkig, egter, het die Voorsienigheid ons so gevorm, dat ons slegs vandag kan sien—en skaars dit" (p. 62)

Ofskoon hy blykbaar sielkunde by "Pappie (saliger gedagtenis)" (p. 69) geleer het, blyk daar weinig van in die roman. Van kalwerliefde kry ons die volgende vermaaklike verklaring: "Nie 'n nooi, leser, soos u en ek seker al gehad het, maar een, wat jy in 'n meer idealistiese sin liefhet. Jy het haar lief, maar hoe, weet jy nie. Jy het haar, hulle ook, lief, as jy nog so jonk is, sonder dat die liefde miskien ooit bekend word. Dis somar liefhê." (p. 17-18).

Hoe weinig begrip Tomlinson het van die ingewikkelde prosesse van die puberteitsjare blyk uit die beskrywing van Piet se aankoms op Stellenbosch. "Piet stuur 'n stille gebed van dankbaarheid op, dat hy in so 'n omgewing kan studeer en besluit om van die studentelewe in sy geheel gebruik te maak, sodat hy 'n veelsydige ontwikkeling kan geniet om also bes sy land te kan dien" (p. 66). Dis kastig dieselfde Piet wat sulke uithaler kaskenades op die dorp aangevang het! Nou is hy meteens 'n suikersoet oompie, op wie Van Alphen 'n mooi gedig sou gemaak 't!

As Piet die eerste maal in 'n geveg is, word sy gewaarwordings as volg beskryf: "Die eerste paar oomblikke wis Piet nie eintlik, wat om te maak nie. Sy hart klop vinniger, en as 'n koeël oor sy hoof fluit, koes hy een kant toe. Maar gou-gou het die oorlogsgees hom oormeester...." ens. (p. 125).

Hoe oppervlakkig die psigologie is blyk uit die pogings om felle emosies te beskryf. As Piet onverwags op sy maat by die kommando afkom, word ons vertel: "Soos 'n mens maklik kan verstaan, was die wedersydse vreugde by die ontmoeting groot." (p. 122.) "Ons sal liewer 'n sluier trek oor die afskeid tussen die jong verloofde; waar die liefdegodin alheersend vir 'n oomblik is, moet die gewone mens soetjies trap." (p. 96.) Met sulke praatjies maak hy hom van die saak af!

Piet het die slapende Susan wakker gemaak met die vraag: "Het jy my lief?... Vir Piet was daardie oomblik een van die vreeslikste, wat hy ooit deurleef het. Dit was, asof die lot van die hele wêreld, van die heelal selfs van haar hart afhang. Hy hoor duidelik die klop van sy hart. "Is jy kwaad vir my?" fluister hy. Stadig draai sy haar hoof weer om, en met 'n gloed van vreugde deur sy are, sien hy 'n vrindelike glimlag op haar gesig. Hy buig neer, en die hele wereld verheug hom met Piet, as hy die eerste reine soen van die onbevlekte lippies ontvang...." (p. 37).

Van der Bijl se bekering tot opregte Afrikaner is seker goed gemotiveer, maar dit is geen proses, wat as 'n coup de foudre in een sinnetjie kan beskryf word nie. (p. 110). Presies so gaan dit met Susan (p. 112) en haar moeder (p. 111).

In die karakteruitbeelding is daar die bekende skerp teëstelling tussen goed en sleg. Oom Gert is die ideale patriot, Piet en John die dapper helde, Van der Bijl die vurige jingo, Nel die lae verraaier. Die meisies is "twee beelde van deug en skoonheid" (p. 146). As Nel genoeg moeite veroorsaak 't om die "dapper helde" se "verhewe" karakter aan die lig te bring, word hy nog vir ou-laas ekstra swart gesmeer en dan eenvoudig uitgewip (p. 141). Dit is "merely a mechanical device for stopping somewhere", soos Cross tereg opmerk. "A literary form cannot exist without its art. If a fable may drift along at the pleasure of an author, with the episode thrust in at will, then anybody can write a novel."[296]

Die swaarmoedige Piet werp hom "in wanhoop ... neer op sy bed, wat skud van die storm, wat in die siel van die onstuimige jongeling woed"! (p. 22). Die "edele siele" van die arm meisies word ook "deur storme geteisterd" (p. 134, 92), hulle droom "van rose en melk, van ongekende en verrukkende klanke, van ruisende strome en bedwelmende blommegeure" (p. 72). Die toneel op die strand tussen Susan en Piet (p. 41) is taamlik sentimenteel.—"Die misterie van die nag pak hul beet; en met 'n kleine skudding,(?) skuiwe Susan nader aan Piet.... "Piet, wat makeer? Waarom is jy so stil?"—"Dit weet ek nie, maar ek word so swaarmoedig. Ek dink, dit is die verhewenheid van die heelal, wat my aangryp." ... "Dit was asof hy met die onbekende worstel, asof daar 'n wêreld van gedagte hom oormeester. Naderhand, asof tot homself sprekende, fluister hy 'n Lied van Smart...." Die gevolg is "dat Susan bitterlik ween" en "met geboë hoofde keer hulle huiswaarts."

Die talryke sugte in ons Afrikaanse romans vul Tomlinson onder ander met die volgende variëteite aan: "geskok tot in die diepste wese styg daar 'n sug van die bodem van sy beroerde(?) hart—'n sug, wat 'n wêreldspraak was. (p. 29); Susan sug alleen die sug van die tevredene en die regvaardige"! (p. 116), ens.

Tomlinson skryf 'n gemaklike styl, sy taal is suiwer en die dialoog meestal los en natuurlik. Daar is lewendige toneeltjies met rake praat en weerpraat o.a. p. 44-45, waar Oom Gert en sy buurman aanmekaar spring. Onwaar word die dialoog wanneer hy Piet, wat toe nog nie deur sy matriek was nie, laat sê: "Kerel, wie sal hom daar onder daardie mengelmoes begeef behalwe alleen die met Imperialisme besetene?" (p. 54.) Bybelse wendings word met voorliefde gebruik, en dikwels is daar ook 'n predikanterige kleur, b.v. "om sy sondedaad uit te wis" (p. 30). Die veelvuldige gebruik van stereotiepe beelde is opvallend. "Maar al was hul harte bloedende, het niemand dit getoon nie. Hulle harte was aanmekaar gesnoer deur nuwe bande en deur 'n gemeenskaplike liefde teenoor hul geliefde Suid-Afrika" (p. 142). Sulke gemeenplaatse ontneem aan die styl alle persoonlike aksent.

Onvervals retories word Tomlinson veral in sy natuurbeskrywings. "Die son, bloedrooi, begin hom stadig in die arme van 'n veelkleurige see te werp. Dit was, asof bruid en bruidegom ontmoet, albei in die fynste en pragtigste kledy uitgedos.... Fyn goud val oor die hele aarde en verfraai die skoonste paleise en die armoedigste strooihuise—ens." (p. 40).[297] Die paleise sou 'n mens aan Potsdam kan laat dink! Maar, die "ouderwetse woning" van Van der Bijl had ook "honderde klein venstertjies" (p. 4). Mooi is die stemmingsvolle gedig op p. 72, met uitsondering van 'n enkele stoplap.

§ 11. Adv. H.A. Fagan.[298]

H.A. Fagan is gebore op Tulbagh in 1889. Van 1905 tot 1910 het hy op Stellenbosch gestudeer en behalwe B.A. honneurs ook die Prel. L.L.B. en Kerkadmissie-eksamens afgelê. Nadat hy ses maande op die Teologiese kweekskool was, het hy vir enige tyd opgetree as waarnemende professor aan die Victoria Kollege en vervolgens sy juridiese studie voortgeset in Londen, waar hy advokaat geword 't aan die Middle Temple en ook die L.L.B. graad behaal 't. In die begin van 1914 het hy hom gevestig as advokaat in Kaapstad. Hy was een van die eerste direkteure van die Nasionale Pers, 'n tydlank assistent-hoofredakteur van Die Burger en daarna vir enige tyd professor in Hollands-Romeins reg aan die Stellenbosse Uniwersiteit. Tans het hy weer sy praktyk as advokaat in Kaapstad hervat.

Van hom het verskyn 'n Eerste Digbundel, Uit 'n Studente-Album[299] en 'n bloemlesing Uitgesogte Afrikaanse Verhale (Burger-Leeskring, 2de jg.).

Uit 'n Studente-Album.

Uit 'n Studente-Album bevat ses kort verhale, twee waarvan tot die komiese genre behoort, 'n Vondeling lyk die meeste op jeugwerk. Die beskrywing van Japie se ontnugtering bly aan die buitekant, en die melodramatiese ontknoping word deur niks voorberei nie. Op 'n Vakansiereis en Tableaux Vivants gaan baie dieper en bevat 'n belofte. Dit geld ook van 'n Gewone Rosie, waarin daar iets teers sprokiesagtig is. Twyfel ontstaat egter aan die psigologiese uitbeelding, wanneer ons hoor, dat die seuntjie hom die nag voorgestel het "as 'n meetlose swarte ruimte, waarin jy sou dool en swerf as 'n verlore siel" (p. 168). Ook die volgende sin mis die kinderlik-naïewe toon, wat anders goed bewaar word: "Tog is daar 'n waas van geheimsinnige betowering oor die hele natuur gesprei" (p. 169).

Fagan het 'n aangename verteltoon, 'n goedversorgde styl, wat net hier en daar bietjie konwensioneel word. "Die dood van sy vrou het 'n ledigheid in sy hart gelaat ... (p. 116); Sy was 'n sonnestraal in sy koue, sombere woning (p. 117); die spore van wrange sielsverdriet" (p. 126). Erg ongemaklik moet Japie gevoel het "met 'n gloeiende vuur in sy brein"! (p. 28).

'n Eerste Digbundel bevat ook enkele prosastukke.

Uitgesogte Afrikaanse Verhale.

Hierdie bundel bevat negentien kort verhale van die volgende outeurs: Helene Oldendorf, T. Schumann, G.R. von Wielligh, Rikie Postma, F.E. de Villiers, C.R. Swart, Eugène C. van Wijk, Sarah Goldblatt, Essie Malan, Frina Roux, Marjorie Hofmeyr, Chris. Fourie, N.H. Theunissen, D.W. Wessels en "Veritas". Afgaande op die tietel sou mens verwag, dat dit 'n bloemlesing is, maar die meeste verhale verraai 'n ongeoefende hand. Daar is spore van diep gevoel, hier en daar 'n geslaagde toneeltjie, maar weinig wat ontroer deur skoonheid van segging, klank of uitbeelding. Die taal is deurgaans suiwer,—die skaaf van die versamelaar het seker daaroor gegaan—en tog is daar kreupel uitdrukkings soos die volgende: "Hy ken die druk van sy moeder toe hy (aan) haar bors gekweel het (p. 22); Sy vraag ... bring haar terug (p. 51); die vryerpaar wat hier ... staan te sug, te verwyt ... (p. 73); die onmeetbare landstonele van die gedagtes (p. 145); in vyftig jaar het die land die mantel van beskawing aangegooi (p. 147); Watter rede het u om nooit ag te gee aan ons uitnodiginge nie? (p. 175); Is u boodskap in militêre belange? (p. 198); Sy geheue hou nog 'n allerskoonste gesig en onwillekeurig bring hy sy hand aan die saluut" (p. 202).

Die taal kon beskaaf word, maar die ouderwets-retoriese beeldspraak het te diep gesit. Daar is b.v. 'n verhaal van "onbreekbare skakels in 'n ketting deur smart gesmeed" (p. 42), waarin reeds op die eerste pagina onder meer die volgende staaltjies voorkom: "Oorlog is in die lug. Selfs die lieflike geur van die nuut-ontwaakte lenteblomme word verdring deur 'n verstikkende reuk van kruit en rookdamp; Offers ... op die altaar van die nimmerversadigde oorlogsgod; die awendstond van sy veelberoerde lewe", ens. (p. 36). So gaan dit die hele boek deur, alles mooi grammatikaal korrek, maar sonder die fris geur van oorspronklikheid. Die dames met hul "sielvolle blou oë" sug danig baie en die wind maak nogal koddige maneuwers met die "geslaakte" dingetjies. "Dadelik skraap die nagwind die suggie op, neem dit op sy vlerke en ry daarmee weg: oor die velde en vlaktes, oor berge en dorpe, tot hy eindelik by 'n groot stad kom. Tussen die hoë geboue deur vind hy sy pad tot by 'n oop venster. Hier vertoef hy net 'n halwe sekonde, om die suggie van sy vlerke af te skud, sodat dit binne in die kamer val"! (p. 128).

Van Von Wielligh is daar 'n soort politieke allegorie, waarin hy dit regkry om Dr. Jameson vóór die Groot Trek te laat optree. Ook nog 'n vaderlike predikasie oor blomme: "Eiliewe nee, laat ons hartsnare dan liewer weerklank vind" ens. (p. 29). Sy gehoor het so fyn geword, dat hy "klapwiekende skoenlappers" (p. 32) ontdek het!

Drie verhale gebruik die Duits-Suid-Wes-veldtog en verandering van politieke oortuiging as motief en die meeste is dan ook geskryf tussen 1915 en 1918.

Droogte van Helene Oldendorf bevat 'n belofte, Oog om oog is in sy soort goed. Die gelukkige en treurende paartjies van die meeste verhale maak geen blywende indruk op ons nie, wat behalwe aan reeds genoemde oorsake ook gewyt moet word aan onbekendheid met die tegniek van die kort verhaal. "More real brains are required for the construction of an excellent short story than for a hundred pages of many a novel", sê Harry T. Baker,[300] en die uitspraak bevat seker waarheid.

§ 12. Reenen J. van Reenen.

Reenen J. van Reenen is in 1884 op Calvinia gebore. In 1902 het hy met sy B.A.-eksamen die eerste Koningin Victoria-beurs aan die S.A. Kollege behaal. Vier jaar later het hy in Amerika sy studie vir siviele ingenieur voltooi en na 'n jaar praktiese ondervinding op groot besproeiingswerke in Nebraska na Suid-Afrika terug gekeer. Gedurende sy studiejare het hy hom ook op taal en lettere toegelê en reeds van 1898 af op die tekenkuns. Aan die Brandwag-interviewer vertel hy: "Dit was met die herlewing van die Afrikaanse Taalbeweging, wat in 1915/16 so sterk gegaan het, dat die skryflus by my opgekom 't. Ek het 'n paar hoofstukke prosa en verse geskrywe, wat my vrinde hier op Bloemfontein beval 't. Hulle aanmoediging het my beweeg om Die Agterstevoortrekkers (1917) uit te gee. Maar gedurende die voorbereiding van dié werk moes ek toe my ou teorie toepas: n.l. dat die poging om leeslus onder ons volk op te wek, sal misluk, of in alle geval baie langer sal neem eer dit met sukses bekroon word, as die leesstof nie geïllustreer is nie."[301]

Van Reenen is ook 'n kampvegter vir die bestryding van grondverspoeling en het hom spesiaal gewy aan die studie van die Boesmankuns, nadat hy in 1917 'n voordrag van die skilder Pierneef oor die inboorlingekuns gehoor het. Ook op die gebied van folklore het hy al interessante ontdekkinge gedoen. Behalwe die genoemde werk het van hom verskyn Celestine (1919), en Verborge Skatte (1920), twee bundels sketse; 'n roman: Die Lokaas (1921) en twee kinderboekies. Hy het ook baie ander werke geïllustreer. Die Agterstevoortrekkers word in hoofstuk VI bespreek.

Celestine en Verborge Skatte.

Dit is twee bundels verhale, hoofsaaklik navolging van Edgar Allan Poe aan wie Verborge Skatte dan ook opgedra is. Celestine bevat spookstories, met een waarvan die skrywer in 1903 'n prys behaal 't in The South African News. Dié verhaal, 'n Hopie Bene, is 'n droom, maar in die orige word die geheimsinnige element nie verklaar nie, behalwe in Tant Annie. James Russel Lowell het aan Poe toegeken "a power of influencing the mind of the reader by the impalpable shadows of mystery".[302] Verder sê hy: "In raising images of horror, also, he has a strange success; conveying to us sometimes by a dusky hint some terrible doubt which is the secret of all horror."[303] Dit is wat ons grotendeels by Van Reenen mis. Sy voorstellinge is te nugter, sy geheimsinnigheid te deursigtig. Die subtiele realistiese illusie, wat Poe b.v. in een van sy beste verhale Ligeia skep, lê buite Van Reenen se bereik. Wie b.v. Poe se nagwake by die lyk van die Lady Rowena vergelyk met die enigsins analoge situasie in die verhaal Celestine (p. 30) voel direk, dat dit veral realistiese uitbeelding is, wat by Van Reenen ontbreek. Poe verstaan die kuns om deur allerlei suggestiewe besonderhede 'n dodelik beklemmende atmosfeer te skep—Van Reenen noteer alleen die geheimsinnige feit. Die vergelyking wat Dr. Dorothy Scarborough tussen Poe en Hoffmann maak, pas ook op Van Reenen "His (Poe's) horrors have a more awful effect because he is an incomparably greater artist. He knows the economy of thrills as few have done. His is the genius of compression, of suggestion."[304]

Die Verborge Skatte word deur Professor Erts se buitengewone vernuf ontdek. Die raaiselskrif in Die Voortrekker se Skat is gebaseer op die van Poe se verhaal, The Gold-bug. In Die Kinderdief word gebruik gemaak van 'n motief, waarop Poe o.a. The Purloined Letter gebou het: "the intellect suffers to pass unnoticed those considerations which are too obtrusively and too palpably self-evident. The Minister had deposited the letter immediately beneath the nose of the whole world, by way of best preventing any portion of that world from perceiving it." Ook in die uitwerking van die besonderhede is daar ooreenstemming.

Van Reenen het 'n aangename verteltoon en sy verhale is verdienstelike ontspanningslektuur.

Die Lokaas.

Gert Vermaak, 'n begaafde weeskind word deur oom Willem en tant Miem aangeneem. Toe hy ses jaar oud was, kom 'n ontwikkelde Hollandse skeepskaptein om gesondheidsredene op die Karoplaas woon. Onder sy leiding word Gert so buitengewoon skerpsinnig, dat dit die opmerksaamheid van 'n kapitalis trek, wat hom na Europa stuur om vir advokaat te leer.

Na sy terugkoms vestig hy hom in Kaapstad en word gou een van die leiers van die Boereparty. Maar die kapitalis gebruik 'n mooi vrou as lokaas, en by die stemming oor 'n gewigtige wetsontwerp word Gert ontrou aan sy party.


Voorop moet gestel word, dat die skrywer geen poging doen om die geleidelik voortskrydende geestelike ontwikkeling van 'n geniale kind te skets nie. Hy gee alleen "'n loshangende versameling van staaltjies wat Gert (hom), af en toe in die laaste dertig jaar ... vertel het." Die skrywer is nie die objektiewe uitbeelder van 'n deurleefde werklikheid nie, hy is net die verteller van Gert se geskiedenis. Hy self tree telkens op die voorgrond, spreek "die welwillende leser" toe (p. 29), en voel hom kort-kort gedronge om brokkies van sy eie wysheid by die verhaal in te las. Daarom mis dit die warme tinteling van intimiteit, daarom bly die skrywer maar al te dikwels aan die buitekant van sy persone. "Dit lyk asof (Gert) teenoor die kaptein voel soos 'n minnaar teenoor sy nooientjie ... hulle gesprekke was hom heilig en dit sou heiligskennis wees om dit te publiseer" (p. 29). Alweer die treurige sluiertaktiek, 'n vyeblaartjie om eie magteloosheid as kunstenaar te bedek! Is dit dan nie juis die kunstenaar nie, wat met sy wondere intuïesie moet deurdring tot die heilige der heilige? Die uiterlike lewensfeite sien ons almal, lees ons daagliks in die krant, maar dit is die kunstenaar, wat die verborge roersele van die hart moet openbaar. Hy moet so opgaan in die persoonlikheid van sy figure, dat hy alles seker weet, dat hy die kleinste nuansering van gevoelens en gewaarwordinge kan ontleed. As hy alleen kan sê: "Dit lyk asof ..." (p. 29), dan twyfel ons aan die egtheid van sy voorstelling. Hoe moet ons nou met Gert meelewe, as van die drie belangrikste jare uit sy ontwikkeling selfs geen "loshangende versameling van staaltjies" meegedeel word nie? Maar wat wèl verhaal word is, dat die R.M.S. Tartar presies om vieruur uit Tafelbaai gestoom 't met Gert aan boord en dat hy met die R.M.S. Scot uit Europa teruggekeer 't! Van die jong advokaat weet ons nie veel meer dan die plaat by p. 132 ons te sien gee nie—'n jongkêrel soos duisend ander—geknip uit die eerste die beste kleermakerskatalogus!

Gelukkig is daar enkele gedeeltes waar Van Reenen nie alleen die verteller nie, maar Gert self is. Die uitmekaarhalery van Oom Willem se oorlosie (p. 19-20), die waterlei in die nag (p. 40) en nog ander toneeltjies uit Gert se kinderjare toon, dat die skrywer 'n fyn psigologiese insig het. Dit geld ook van die manier, waarop Gert sy besluit neem om Stella nie op te gee nie. Hoe treffend-juis is dit gesien om die nesmakende duiwe die deurslag aan sy redenasies te laat gee! Maar die mooi gestileerde sinne, wat Gert se dink-taal moet voorstel is weer van Van Reenen. Ook enkele gelukkige trekke in Tant Miem en Oom Willem toon, dat die skrywer 'n taamlike uitbeeldingsvermoë het. Maar dit is alles so fragmentaries, dat die persone tog vaag bly. So word die planne van die intrigerende kapitalis met dieselfde behendigheid as in Verborge Skatte uitgewerk, maar daar is weinig aanduiding, dat hy behalwe draadtrekker ook mens is.

Gert is blykbaar 'n uitsonderingsfiguur, maar selfs so beskou, is daar enkele trekke in sy karakter, wat wys op 'n verdraaide psigologie. Op p. 24 word ons verseker: "Soos 'n openbaring ... word sy volksbewussyn skielik gebore". Hy is nog maar ses jaar oud, maar omdat hy so 'n talentvolle knapie is, wil ons dit aanneem. Ongeveer ses of sewe jaar later hoor ons egter: "Volksbewussyn sal hy maar ontwikkel in die vreemde lande wat hy later sal deurreis" (p. 68). Afgesien van die teëspraak is die voorstelling hier absoluut vals, want daar is geen enkele jongeman van twaalf of dertien jaar nie wat, selfs al begryp hy die abstrakte idee ook, so 'n wonderlike besluit kan neem. En die wysgerige bespieëlinge op p. 52-53 is geen "raaisel" nie, maar eenvoudig gedagtes van die skrywer self, wat hy aan die twaalfjarige knapie opdring.

As voorbeeld van die swak tegniek kan aangehaal word, dat deur die lang uitweiding op p. 11-12 die spelende Gertjie skoon vergeet raak. Net so gaan dit met die kaptein. "Ons durf darem nie langer by hierdie interessante woordkuns vertoef nie, want ons vriend die seevaarder wag nog al die tyd vir ons op die drumpel van die voordeur ..." (p. 16). Op p. 22 heet dit: "Maar ek loop my verhaal verby, en ons moet eers weer 'n bietjie terugkeer."

Van Reenen het 'n los, gemaklik-vloeiende styl, wat egter weinig persoonliks het. Beeldspraak gebruik hy maar selde; die "verdraaide beeld" op p. 139 is nie gelukkig nie, en die "spatsels van die smeer van die misvloer" wat mens aan golwe laat dink nog minder (p. 66). Die "liefdesbeker" (p. 52) ken ons al van toeka se dae af! "In hierdie dae begin Gertjie al in brein en liggaam tamelik uitrek" (p. 39)—'n pynlike proses, wat mens aan die inkwisiesie laat dink! Verkeerd is: "Maar die werk wat hy gedoen het, gee 'n weerkaatsing in sy professionele werk" (p. 92). Veral in Verborge Skatte is die anglisismes volop. "Toe ek my op my ou dag geskilder het as omring deur 'n kring talryke kinders (p. 112); om hande op die skobbejakke te lê (p. 151); Alles wys daarheen ...; Kan ek vanaand ... met my kollega opkom?" (p. 154) ens. In Celestine kom o.a. voor: "Gelukkig had ek nie lank te wag ... (p. 93); van êrens ... val daar 'n geweldige hou (p. 33); haar brood en botter verdien" (p. 20).

§ 13. Léon Maré.

H.L.F. Maré is in 1889 op Pietersburg gebore. Na 1902 het hy o.a. op Wellington en Pretoria sy opvoeding voortgeset. Maar hy moes al gou sy eie potjie skraap en toe het hy, terwyl hy in die posdiens was, privaat gewerk vir Skool-Hoër. Hy is nou amptenaar in die Uniegebou, Pretoria. Party van sy eerste stukke het in Nederlands verskyn. Van 1911 af is hy 'n troue medewerker van Die Brandwag gewees. Van hom het verskyn: Die Nuwejaarsfees op Palmietfontein (1918) en Ou Malkop. Laasgenoemde is bekroon met die Hertzog-prys van die Akademie (1919)[305].

Die Nuwejaarsfees, (1918).

Léon Maré is een van die weinige Afrikaanse skrywers by wie die awontuur bysaak en die mens hoofsaak is. 'n Armsalige putgrawertjie, wat deur 'n harde rotsrif skade ly, 'n houtryer op weg na die mark met 'n vrag—sulke eenvoudige motiewe gebruik hy vir verhale. Tog leer ons Toot veel beter ken in die omvang van 'n kort verhaal, dan al die brawe-Hendrik helde van die awontuur-romans, wat hemel en aarde beweeg deur hul buitengewone dade. Léon Maré besit die gawe om sy karakters te laat lewe, só te laat lewe, dat mens hul asem op jou aangesig voel. Deur die tekening van allerlei uiterlike eienaardigheidjies, gelaatsuitdrukking, gebare, ens. sien ons hul vlak voor ons staan. Terselfdertyd openbaar hy in sy beste stukke 'n indenkingvermoë, wat hom in staat stel om selfs die fluistergeheimpies van 'n mensehart te verstaan, deur te dring tot die diepste kern daarvan en al die begeertes, stemminge en lewensaanvoelinge uit te beeld. Deur ligte aanwaaisels van allerlei herinneringe laat hy ons heel die verlede van sy figure begryp, terwyl ook die inwerking van hul omgewing plasties voorgestel word. Selfs waar hy romantiese gegewens kies, soos in die oorlogsverhale is dit tog altyd meer die mense, as hul awontuurlike ondervindinge, wat Maré interesseer. Met hoeveel liefde verwyl hy nie in Die Kommandeer van Japie Moolman by allerlei besonderheidjies, die aanval van die waghond, die trappery op die kat, ens. Soms is sy tafreeltjies 'n byna dood-nugter kopie van die gewone lewe en tog ontroer dit omdat deur die beskrywing so iets warm-mensliks huiwer. Daar is b.v. die inmekaar gekrimpte Toot op die putwal (p. 152)[306] met sy brood en koffie; langs hom sy verkluimde seuntjie. Hoe suiwer en eg word die outjie se kindergedagtes weergegee! Dan weer Toot in sy huur-kamers, met 'n konsertiena op die knie, of besig om 'n kinderskoentjie heel te maak. Goed gesien is dit ook om Outa Booi na die oorlog op Japie Moolman se geroeste ploeg te laat afkom (p. 85). Deur sulke eenvoudige middels bereik die skrywer sy doel. Met tallose klein handelinge bou hy vir ons 'n lewende mosaïek.

Op iedere pagina gee hy blyke van fyn waarneming. Hy het gesien hoe die wind met die ou ooms se baard speel, hoe die stoffies agter 'n galopperende ruiter uitslaan en wegkwyn, hoe die wagvure opflikker en fantastiese skaduwees ronddans. Vir al die wisselinge in die natuur het hy 'n ope oog—vir die songetinte wolke, die wasige mis op die bergrande, die wondere van die sterrehemel. Ook weet hy hoe die steenbokkie "sy eerste bekkie vol soet gras onderuit 'n graspol" afknyp (p. 195), hoe die rysmiere uit hul gaatjies glip, hoe die muggies "in sirkels van tallose spikkeltjies wals en sigsag ... oor waterpoele" (p. 102). Telkens weef hy mooi stemmingsstukkies inmekaar, gee hy met 'n paar trekke die atmosfeer so duidelik aan, dat dit die werklikheidsillusie versterk.

Altyd geluk dit hom natuurlik nie. Hy is te veel geneig om iedere keer weer te praat van gordyn, disk, karmosyn, silhoeëtteer, ens. Op p. 42 las hy op storende wyse 'n kwasi-astronomiese opmerking in: "Die klein fonkelende sterretjies is ligte van die eindelose Planete-wêreld ..." ens. Grotendeels misluk is ook die tekening van Annie Bester voor die ou harmonium: "In die voorhuiskamer, voor 'n oopgetrekte vensterraam ..." ens (p. 37-38). Uit allerlei klein besonderhede blyk dat Maré die toneeltjie alleen as toeskouer beskryf.[307]

In Die Nuwejaarsfees word die vrolikheid van 'n klomp olifantjagters, met forse trekke geteken. Die kaskenades van Oom Klaas, wat 'n ankertjie egte brandewyn op slinkse wyse bespring, is goed beskryf. Annie Bester, Japie Moolman, Freek en sy perd Bles behandel episodes uit die vryheidsoorlog. In Wrange Vrugte word 'n geeerde volksraadslid deur kindergebabbel en die afskietery van klappers op Krismisaand aan sy verraad in dieselfde oorlog herinner. Die skets gee blyk van 'n goeie psigologiese insig. Die afskeid van voortrekkers aan Dassieshoek in die ou Kolonie en die rit van Frans Malan om die laers vir Dingaan te waarsku, word in twee sketse beskryf. Die Stem van die ou Kafferkraal-Murasies is 'n poging om die mentaliteit van 'n Soeloesoldaat te teken, 'n poging, wat herhaal word in Soeloe-Eer uit die bundel Ou Malkop. Moebie vertel van die tobbery van 'n kaffermoeder oor haar seun, wat toevalle kry en Joggem Helberg is 'n jongkêrel, wat in 1863 deur leeus verskeur word. Die eerste druk van Die Nuwejaarsfees het ook nog bevat 'n retoriese beskrywing van 'n storm, wat met reg by die twede druk weggelaat is. Drie nuwe verhale, Wrange Vrugte, Moebie en Joggem Helberg het daarvoor in die plaas gekom, terwyl tallose taal- en stylverbeteringe gemaak is.

Onvoldoende taalkennis gee Maré se werk 'n lelike knou. Hy maak foute, wat skooljongens kan verbeter. Sy interpunksie is swak, sy spelling treurig. Hy skryf b.v. lysels, geoeffende, vors (fors), vergaarderde, gesannikie, ens. Die dubbele negatief ontbreek dikwels en anglisismes is volop o.a. "die hele van die ander dag (p. 42); een onheil, wat moet plaas neem (p. 56); 'n menende knik (p. 60); afwerk (p. 92); twee meer veldstoele (p. 105); (ek) lei die weg soheentoe (p. 138); opgelig (p. 141); hy gee 'n ander gapie (p. 148); gesette kake (p. 193); as die vlamme ... opflaar (p. 201); haar bors ... hewe op en af (p. 225); (hy) rys hom uit sy sitplek (p. 61); toe het bloedvergiftiging in die been gesit" (p. 217) ens. ens. Woordskikking en verbuiging van byvoeglike naamwoorde is dikwels gebrekkig, b.v. "En hy word gou agterna gevolg, na die plek van bestemming, goed of sleg, deur sy troue manskappe (p. 78); deftige geklede dames (p. 157); 'n spoelende en bruisend, kristal stroom water (p. 102).

Die opdrag om 'n kort skets te skryf, waarin die woorde alleenliks en nouliks nog nie mag voorkom nie sou seker vir Maré die swaarste straf wees. Tot vervelens toe prop hy dié woorde in alle hoekies en gaatjies, en naderhand weet hy absoluut nie meer, wat hul eintlik beteken nie! In Ou Malkop kom selfs voor uiteindeliks (p. 145), oogverblindeliks! (p. 148), natuurliks (p. 195), en die volgende: "Guillaumet kan geen woord uitkry van verbasenheid (!) nie en blik die gouverneur alleenliks net meer in verwondering aan" (p. 198).

Foutiewe meervoudige vorms soos die volgende kom voor: lofliede (p. 178), sugge (p. 95), streeltjies (p. 94), wandels (p. 131), getjilpe, gefluite, gebruise (p. 43, 45, 52) ens. Die werkwoord word verkeerd gebruik in: "Die son kom agter die koppie uit en skitter strale van goud oor ... (p. 101); 'n vensterraam, waardeur 'n groot hanglamp sy breë wit lig ... na buite ... stroom (p. 37); tante sweef haar arms so voor haar uit ... (p. 35). Maar hy gewaarword nie 'n meisie nie (p. 75); Towenaars alleen woon so 'n kluisenaarslewe (p. 131); deur sy fluksheid het hy gou bevorder tot kommandant ... (p. 209); Uit die gewoel ... hef 'n nat voorhoof omhoog (p. 211); agtervolg (p. 60); die doudruppels ... blink en skitter en rol boomstamme orals af" (p. 54).

Lomp, of heeltemal onverstaanbaar is o.a. die volgende: "Haar gemoed skiet haar diep (p. 60); Die grasdak ... skep nuwe herinneringe ... te voorskyn (p. 98); met 'n gefynde oor (p. 79); Ek worstel om van 'n betowerende wilskrag los te kom (p. 123); 'n stulpende onderaardse skok (p. 141); 'n Vaal hond ... vlieg ... uit sy skuilplek, haal-haal oor die gedraai of die ruiter hou-hou met sy karwats agtertoe ... (p. 61); die vroutjie ... word veronderstel deur haar rokende man langs aan (p. 152); die agent is toegehul in die geheime; deur al sy omgewings van grootheid en deftigheid, word geen ondersoek ingestel nie ... (p. 155); nog 'n terugdeinsende tree vorentoe" (p. 228).

Die volgende rariteite gebruik Maré ook: geheelal (p. 42); die toeskou van so 'n klomp waens ... het 'n dagbreek-oujaarsmore net toepaslik gekleur (p. 14); gewigte rapport (p. 40); 'n staanbeeld uitgehou in graniet (p. 43); met opgestrekte lippe (p. 56); wyshooftig (p. 70); diep bewoog (p. 72); Die jonge rapportganger ... arriveer terug (p. 114); opgedoste krygsmanne (p. 125); sissende-vurige dinamiet lonte[308] (p. 141).

Hoe die skrywer soms sukkel, blyk uit die volgende. In die eerste druk kom voor: "'n toegerankte grennadella stoepie" (p. 43). Dit word in die twede druk: "'n grenadella gerankte stoep"! (p. 44). Op p. 122 kry ons weer "'n toegerankte grenadella-veranda".[309]

Soms is daar iets telegramagtigs in die styl, meestal veroorsaak deur die veelvuldige gebruik van verlede deelwoorde. Wanneer Ter Blanche die voorhuiskamer beskou, lees ons: "'n Mooi aardige skulpaddoppie kom eindelik onder oog, opgestaan en oorgetree, en dit word gou opgetel van die tafeltjie, waar 'n groen kleedjie netjies oorgetrek is, en waarop 'n groot lamp met 'n kleurige oorglas staan, en dit word noukeurig beskou en bewonder." (p. 56.) Dit is 'n tiepiese voorbeeld van Maré se verwarde, inmekaargedrukte sinne, slordig aanmekaar gekoppel. Sulke en-en-reekse is daar soos bossies. "En eindelik sissend en stomend verlaat die lokomotief die treinstasie stadig, en onder 'n geween en geskreeu van "hoeré!" en hoede in die lug opgegooi. En sy(!) trek voort, en nouliks ... ens." (p. 68). Dat die koppelwoord naderhand glad geen betekenis meer het nie, of heeltemal verkeerd gebruik word, blyk uit sinne soos die volgende: "Onderwyl hy besig is, kom die diensmeisie binne, en met 'n silwer teepot, en sinese koppies en pierings ... (p. 151); Behalwe vir 'n paar opmerkinge nog oor die mooi onweer, wat diekant in die lug lê, en die seun gaan haastig vooruit ..." (p. 65). Ook hul-hul-sinne kom voor. "Menige van die burgers ... is ... in hul distrik teruggekeer as versterking, maar hoewel in hul eie deel van hul land, was hulle geskei van hul famielie-betrekkinge, want hul plase was so kaal ... en hul famielies was almal ingevoer deur die vyand na die kampe ..." (p. 69). Daar is nog meer sulke herhalings, wat aantoon, dat Maré se klankgevoel soms erg gebrekkig is. "Bo op die kruin ... bars die son deur ... en verlig met uitgespreide trillende strale die grastoppe van die bergtoppe, en verlig donkere spelonke op(!) (p. 195). Maar hy gewaarword (!) nie 'n meisie nie wat buitekant kamp drade diekant, op haar knieë neersak, haar hande tesame omhoog vou, vertrouend op na die troue heldere wagtertjies bo haar kyk (p. 75); Skerp flikker die staal mes voor aan die punt van sy geweer weer ... (p. 76); 'n gekletter van perdepote van verwilderde perde" (p. 49). Maré is ook te lief vir langdradige omskrywings, wat soos 'n remskoen op sy verhaalgang werk. As ons lank al weet wie Annie is, dan hoor ons nog altyd van "Oom Andries Bester se dogter Annie" of "oom se dogter", (o.a. p 37, 38).

Nog 'n paar staaltjies van die skrywer se gebrekkige uitdrukkingsvermoë: "Die tyd tree weer met haar sikkel soos gewoonlik in, en die uur of so se vereniging hier word ook eindelik weer die verwyderde sny gegee[310] (p. 73); Daar verlos hy hom gou van sy swaar dik winter jas (p. 147); baie hartseer luister die oubaas na die laaste koei vanaand op die plaas se melk ... (p. 93); die generaal halt voor en klim uit sy saal, die manskappe uit hul saals, en nouliks is al die tooms versamel of 'n paar burgers kyk voor vasgehoude perde hul maats agter, wat so agter die leiers aan wegtree, met hul mousers (p. 72); Dan maak ou oom en sy troue oujong Jonathan stoele en rusbanke uit aardige houtsny uit stinkhout ... (p. 203); Die hele dorp spring in wakkerte" (p. 80).

Daar is ook voorbeelde van afgeslyte beeldspraak soos: "deurboorde harte (p. 74 en 100); eindelik sprei die duisternis ... soos 'n swart kleed wat neerval (p. 72); die bytende tand (p. 78); die hamer van Tyd" (p. 95). Komiek word dit wanneer ons hoor: "haar bors bewe meteens op en neer soos die rustelose golwe van die see"!! (p. 60).

Maar ten spyte van sulke opvallende stylgebreke ontroer Maré se prosa ons tog, omdat, soos Jan Celliers tereg opmerk in sy voorwoord, hy "dinge so gesien en gesê het as nog geen ander skrywer in ons land nie". Sy krag lê nie in die tekening van groot-opgesette tonele nie; dit is die vlugge vegies, waarmee hy op verrassende wyse 'n realiteits-illusie kan skep. In sy beste werk is daar 'n innigheid, wat die kleinste voorval beglans met 'n sagte en suiwer lig. Dan klink daar ook op in sy sinne 'n sterk persoonlike aksent, dan vind hy die juiste woorde om sy emosie te vertolk. Dit is 'n gebrek aan tegniese vaardigheid, wat sy werk hier en daar soos skooljongens-geskryf laat lyk.

Dié gebrek is in sy twede bundel

Ou Malkop

só markant, dat mens nie anders dan van taalgemors kan praat nie. Voorbeelde daarvan staan op byna iedere pagina, en sitate word feitlik oorbodig. Heeltemal misluk is die beskrywing van die ontsporing van die Engelse trein (p. 41-42). "Hy kom aangestoom en aangedroom op sy masjienery en hardloop los vooruit met alle krag en verdelgende mag.... Die bodem van die aarde tril! Dis of die sterre in hul blou firmament gril met iedere naderende stamp en uit hul gewelf wil losbeef!... 'n Gehom-mmm! van raddewerk van masjienery!—en meteens! 'n lang ry swart-kamers hol dol en ril duiselig oë verby!—'n groot windvlaag skep alles op onder die kranksinnige gedruis! 'n Stulpende onderaardse skok!! 'n donderende donderslag!! en daar omrol 'n stuk swaar ysterwerk soos 'n kanon in die lug" (p. 42). Dit is magtelose gestamel met viesie- en taalverknoeiing, wat in die historiese skets Etienne Barbier 'n toppunt bereik en soms geheel onverstaanbaar word. "Mnr. Guillaumet gryp sy musiek in die een hand fermer, laat sy krullende kop effens op sy skouer val en sy basstem rol uit sy breë bors: