WeRead Powered by ReaderPub
Die prosa van die twede Afrikaanse beweging cover

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging

Chapter 74: Getrou.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

A scholarly survey examines prose produced during the early twentieth-century Afrikaans literary revival, tracing its historical context, cultural conditions, and stylistic tendencies. It analyzes polemical writings, periodical contributions, and works by principal prose authors, supplying biographical notes and close readings of novels, short stories, satire, didactic pieces, animal sketches, travel writing, and historical prose. Chapters address tensions with earlier literary currents, risks of cultural isolation, Calvinist influence on aesthetics, language problems including anglicisms, and features of dialogue and narrative technique. The author assesses critical debates and offers a subject-based taxonomy and evaluation of the movement's thematic and stylistic limitations.

Ons blink gespande snare!
Saam 't stem van sangster's hare;
Roep my hart van Cabo's kuste walm
Terug na Nederlandse strande kalm!

En daar volg handeklappies onder 'n toejuiging, en deur twenk! twenk! snare alweer en 'n basstem klink ernstig deur...." (p. 168).

Enkele staaltjies moet nog gegee word om aan te toon hoe Maré se taal en styl verwilder het: "Die skaduwees dans en flonker hier en daar (p. 11); hy roep protestend deur 'n bol rook (p. 21); Uitgestrekte liggame van slapende burgers is gedompel en verswak in die diepte van die nag se boesem (p. 33); 'n opgeheefde sabel (p. 43); en nouliks of hy 's te voorskyn gekom om te ontwapend (p. 44); met verslaagde oë (p. 53); ek (het) my die vraag al gesit (p. 72); waar ... hiënas eentonig in monotoon af en toe tjank (p. 81); ou Loftus ... wat 'n groot moege glimlag vir hulle dra (p. 128); in 'n verre afwykte land (p. 133); Borste hewe op en af ... (p. 142); die jagveld (is) nog in die luim van die vroeë stilte gedompel (p. 154); Die meisie aan die sy van G. tree die ontvlugte man uit die kasteel te voorskyn (p. 181); Vir 'n oomblik is die voorgeneemde moordenaar ... in al sy ruheid gestem (p. 190); En die aand laat, toe daar nog 'n tippie roesrooi in die verre geskiet langs die verhewende bergkruine opskemer ..." (p. 200).

Dit alles en veel wat nog erger is staan in die boek wat mirabile dictu in die jaar onses Heren 1919 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns bekroon is met die Hertzogprys!

Hier en daar is natuurlik nog enkele gelukkige trekke, wat ons aan die skrywer van Die Putgrawer herinner. Veral in Fekkie, die verhaal van 'n blomverkoopstertjie en O so 'n harde Hart, waarin die besoekers van 'n kantien geteken word, is daar goeie gedeeltes. Die Liefling van die Korps gee 'n skildering van die kommando-lewe; 'n Wonderlike Ongeluk en Die ou Poskoets voer ons terug na die ou dae. In 'n brief aan Die Burger praat Maré van "die onuitputlike bron van die lewes van ons gewesene Afrikaners" en dit blyk dat veral "die stoere ou olifants-jagters van 1861 se dae" hom aantrek. "In die algemeen is die rigting van my strewe om al die goudgeel sonstraaltjies van die verlede van ons voorgeslagte te herroep en te trag om dit vars te laat bly in die geheues van ons jong geslag."[311]

In die skets Ou Malkop word moralisasies van die skrywer tussen die gepeins van die kaffer ingevleg en op p. 150 is daar 'n uitweiding oor "die ou dae". In Eensame Prospektors is die dialoog onnatuurlik.[312] Ook in sy portret-tipiek is Maré nie gelukkig nie. As ons lees op p. 82, dat Van der Walt 'n "dik gedraaide swart buffel-horing snor" het, en as hy lag "geluide maak soos wat kom van wegdrentelende makoue" (p. 92), dan ontstaan daar al twyfel; wanneer ons enige pagina's verder hoor, dat Hoard "'n stywe snor oor die bo-lip soos gevoude swawelvlerkies" het (p. 100), dan versterk dit die suspiesie, dat die opsetlik bedagte kenmerke meer van 'n lomp toneelspeler afgekyk is, dan na die lewe geteken.

Sal Maré na 'n paar jaar ernstige studie alle tegniese moeilikhede oorwin, en ons 'n kunswerk van rype voldragenheid aanbied? Dan vergeet ons sy jeugdige malkop-onderneming, ten spyte van die onsterflikheidsstempel van die Akademie.

§ 14. D.P. du Toit.

D.P. du Toit is 'n afstammeling van die Du Toits Van Daljosafat, waar hy groot geword 't. Sy moeder was 'n suster van Ds. S.J. du Toit. Omdat sy gesondheid toe nie teen plaaswerk bestand was nie, het hy van 1891 af onder Ds. S.J. du Toit gewerk op die redaksie van Di Patriot en ander blaaie. In 1896 was hy sekretaris van die eerste Afrikaanse Taalkongres in die Pêrel en Ons Kleintji het hy feitlik geredigeer onder toesig van Ds. S.J. du Toit. Later was hy aan verskillende krante verbind, by Het Westen o.a. as redakteur. Sedert die oprigting van Die Burger is hy een van die subredakteure van die blad.

Een van sy toneelstukke, Die Bedriegers is in 1893 geskryf. Wanneer Melt Brink se toneelwerk buiten beskouing bly, dan is dit die eerste Afrikaanse stuk wat gedruk en opgevoer is.[313] Op Somerset-Oos is dit vir die eerste maal gespeel. Van Du Toit het verder verskyn die toneelstukke Geldsug of Jaloesie en Die Herwonne Koninkryk; 'n roman, Sy Pa se Skuld (1918) en 'n bundel grappige versies Treinnonsens (1922).

Sy Pa se Skuld.

Lina trou teen haar vader se sin met Fred, 'n volbloed skurk, wat met die huwelik sy finansiële ondergang wil voorkom. Sy word onterf en Fred moet vlug na 'n hele reeks misdade. Sy seun, Gert boet vir die misdade van sy vader en word in sy liefde gedwarsboom. Op die ou end kom alles tog reg en selfs die berouvolle Fred word in sy eer herstel.

Du Toit doen wel 'n poging om deur te dring tot die innerlike lewe van sy karakters, maar vir die uitbeelding van 'n geweldige psigologiese kriesis is hy te huiwerig. "Dis te heilig, ons mag nie probeer om dit na te speur nie" (p. 99); "Die afskeid sal ons egter nie trag te beskrywe nie, eenvoudig omdat dit nie kan beskrywe word nie"[314] (p. 113). Op dieselfde manier glip hy oor die smart wat Gert en Lorrie uitstaan as gevolg van die vervalste briewe. Dit is nie 'n deurleefde verhaal nie, waarin die roersele van 'n mensehart blootgelê word. Du Toit beskou sy persone meestal op 'n afstand as belangstellende toeskouer. "Terwyl hy daar agter die randjie ry, raak hy ons ook uit die gesig" (p. 106). Die handeling word nie direk in plastiese vorm gegiet nie, sodat iedere leser onmiddellik sien en hoor wat daar gebeur. Die skrywer self is telkens aan die woord en deur sy nugter opmerkings en prekerige uitweidings kom die gebeurde tot ons langs 'n groot ompad, sodat dit nie tot werklikheid kan vergroei nie. "Nou dis nie nodig om die twee nes hul skaduwee te agtervolg nie...." (p. 48). "Die betrokke persone het ons heeltemal uit die oog geraak" (p. 144). Daar is meer sulke aanduidings van gebrekkige tegniek.[315] Die preek oor die teks "Ik stond op het zand der zee" is 'n nuttelose uitweiding en die lang beskrywing van die viskopery net so. Die skrywer vertel ons self ewe naïef, dat Gert en Lorrie "ook maar bloed weinig van die hele toneel gesien het"! (p. 151).

Besonder omslagtig is Du Toit se verhaaltrant dikwels. 'n Enkele keer besef hy dit self: "Dog ons sal nie op haar hande staan en kyk om te sien hoe sy werk nie." ens. (p. 51.) Hy vermoei deur 'n langdradige opsomming van allerlei onbelangrike besonderheidjies (vgl. b.v. p. 212), terwyl ook die gesprekke met reportage-noukeurigheid weergegee word.

Die styl verraai die hand van die geoefende joernalis, wat met gemak sy sinne aanmekaar ryg, sonder juis te streef na skoonheid van klank. Maar selfs die haastige joernalis mag nie sulke sinne soos die volgende neerskryf nie: "Hy herinner hom nou goed, so duidelik as kan wees, dat, toe hy gistraand sy tabaksak uit die sak wou haal sy sakdoek bo-op die tabaksak in sy sak was, dat hy toe die sakdoek eers uitgehaal het en toe die tabaksak en toe weer die sakdoek in sy sak gesteek het, en na hy sy pyp gestop het, het hy die tabaksak somar so onverskillig bo-op die sakdoek in sy sak gesteek." (p. 104)[316] Maar sulke sinne is gelukkig uitsondering en die styl is deurgaans helder en goed versorg. Om dié rede veral moet die roman, ofskoon dit geen aanspraak kan maak op hoë letterkundige verdienste nie een van die leesbaarste Afrikaanse romans genoem word. "'n Rousteen vir die binnemure" noem die skrywer sy werk met goeie selfkennis in die voorrede. Voorlopig kan ons sulke roustene nog goed gebruik, al bestaan daar gegronde rede om te vrees, dat dit mettertyd sal verbrokkel.

As 'n voorbeeld van Du Toit se beeldspraak kan die volgende dien: "'n Vat kan maar 'n sekere hoeveelheid hou. Pomp jy daar meer in, dan loop dit oor. So is ook die menslike gemoed." (p. 87.)

Engelse invloed blyk uit die volgende: "'n Man van professie (p. 178); dit help nie vir ons om oor gestorte melk te huil nie (p. 190); tot my dooddag toe (p. 207); 'n buig" (p. 160).

§ 15. A. du Biel.

A. du Biel is die 27ste Oktober 1884 gebore op Geelhoutboom, distrik Mosselbaai. Gereelde onderwys het hy nooit gehad nie en in "die bittere publieke skool van die lewe" het hy al sy kennis opgedoen. Van sy twaalfde jaar af het hy baie gelees en van kleins af met sy vader lang reise gedoen. Maar reeds op vyftienjarige leeftyd moes hy sukkel om vir homself 'n bestaan te vind en 'n weinig later het die sorg vir sy ouers ook op hom geval.

Getrou het hy in 1914 onder baie moeilike omstandighede geskryf.[317] Die Misdade van die Vaders het in 1919 verskyn. 'n Nuwe roman, Kain, wat oor die periode 1870-80 handel is nou in die pers. Op die oomblik verskyn in afleweringe Oor Berg en Vlakte of Onder die Vierkleur, 'n verhaal vir die jeug, in die eerste nommer waarvan "pakkende awonture" in vooruitsig gestel word.

Die letterkunde beskou Du Biel as "die kragtigste wapen om ons volkie te ontwikkel". Hy streef veral daarna om die leeslus van jong Suid-Afrika op te wek.

Getrou.

Dit is 'n Hugenote-roman, die gebeurtenisse waarvan in Frankryk, Holland en Suid-Afrika plaasvind. Die Europese atmosfeer is egter so swak aangedui, dat dit net so goed Pole of Tibet kon gewees 't. Moet die praatjies oor Lodewyk XIV, die "prag en praal van Versailles" en 'n paar armsalige ma chère's ons nou onder die indruk bring, dat ons in Frankryk verkeer? Met die innerlike kern van die tydperk kom ons nooit in aanraking nie, en die historiese vliesie is baie dun. Met 'n komieklike naïwiteit vertel Du Biel ons in beeldspraak, wat baie op die van Von Wielligh gelyk, hoe hy gesukkel het om "Vader Tyd se rytuig" te laat stil hou! (p. 142). "Dit neem dan ook heelwat inspanning van die verbeeldingskrag om die plek voor te stel soos dit twee eeue gelede was, want die meedoënlose hand van vooruitgang spaar nie die oudhede nie" (p. 141). Dat die koms van die Hugenote was "die stigting van die Afrikaanse volk" (p. 127), is 'n onjuiste bewering. Verrassend is die meedeling, dat die sewentiende eeu veral die eeu was "waarin die hele wêreld sy eie sienswyse wou handhaaf ten spyte van Kristelike liefde, van reg—ja, ten spyte van die Almagtige" (p. 147). Ook die volgende slaan ons heeltemal dronk: "As ons die Amerikaanse volk beskou ... dan vind ons oral 'n diep bewussyn van die majesteit van die Allerhoogste" (p. 127). Sulke bewerings toon duidelik dat die skrywer 'n primitiewe historiese insig het.

Van 'n realistiese uitbeelding is daar dan ook geen sprake nie. "So 'n man was ds. Pierre Simond, en ons kan aanneem dat voorgaande in hoofsaak sy lewensgeskiedenis was" (p. 146). Moet hy felle emosie beskryf, dan pas hy die welbekende sluier-taktiek toe! "Wel, leser, ons sal die twee vanaand nie verder volg nie. Daar is tye in die lewe van 'n mens wat te heilig is om aan vreemde oë te ontbloot" (p. 30).[318] Gedurig dring die skrywer homself op die voorgrond. Hy lewer prekies soos 'n teologiese student en gebruik selfs die dialoog vir sedekundige verhandelinge.[319] Die twee "ou seerobbe", wat op p. 160 begin te praat, het nog nooit soutwater geruik nie! Hoeveel sou die sewejarige Marie van Henri se storie (p. 15-20) verstaan het?

Die verhaal is van die Johannes van Wyk-soort—'n aaneenstrengeling van awonture—soms erg onwaarskynlike. Daar is 'n toneelheld, wat wondere verrig, 'n skurk doodsteek en selfs Adriaan van der Stel laat sidder. Die skurk is "nie geheel sleg nie—geen mens is" (p. 99).[320] Tog kom daar van die psigologie nie veel tereg nie. Die ontstaan van liefde is vir Du Biel eenvoudig. "Daar is diepe agting in haar hart vir haar vriend—'n agting wat besig is om in liefde te verander: die enigste weg waarlangs 'n edele liefde kan ontstaan"! (p. 53)[321] Die ingewikkeldste psigologiese prosesse word ons in een sinnetjie meegedeel. "In een uur het hy van 'n jongeling tot 'n man geword" (p. 38). Ofskoon heeltemal slegte mense volgens Du Biel dus nie bestaan nie, skyn hy aan heeltemal goeies tog te geloof, want Van Bergen is stroperig braaf en daar is nog ander ook wat niks op hul kerfstok het nie. Potsierlik is veral die toneel met Juffr. Le Notre. (p. 54 vlg.)

Die Misdade van die Vaders.

Veel beter geslaag is Die Misdade van die Vaders. Hier is die skrywer op meer bekende terrein, want dit is 'n verhaal uit die Voortrekker-periode. Jan Alpenveld, 'n misdadiger besluit om aan die Kaap 'n fatsoenlike lewe te begin. Met sy hoflike maniere verower hy die hart van Annie Bester, 'n eenvoudige plaasmeisie, die aangenome kind van Petrus Liebenberg, wat verloof was aan sy seun Tjaart. As Oom Petrus beswaar maak teen die huwelik, vlug Annie met Jan Kaap toe. Annie is die dogter van "'n roekelose kêrel en 'n hopelose dronkaard" (p. 11 2de druk). "Die Heilige Skrif is vir (Liebenberg) 'n lewendige wet en hy trag om dit letterlik te volg". Na Annie se vlug sny hy haar naam uit die famielie-register voor in die Bybel en lees daaruit die vervloeking plegtig voor: "Die de misdaad der vaderen bezoek aan de kinderen, aan het derde, en aan het vierde lid dergenen, die Mij haten." Jan Alpenveld raak na enige tyd in die hande van die gereg maar tussen sy seun, Nikolaas en Tjaart se dogter, Lenie ontstaan weer 'n liefdesbetrekking, wat deur dieselfde Bybelteks verydel word. Nikolaas trek alleen na die woeste Noorde, waar hy later op geheimsinnige wyse groot dienste aan die Trekkers bewys. Hy ontmoet Lenie weer en val in 'n geveg met die Kaffers. Tjaart word deur sy vrou geleer, dat die grootste gebod die van die liefde is.

Twee motiewe uit Getrou word nog 'n keer gebruik. Soos Annette in haar eenvoud verlei word deur die genoegens van Parys en die mooi praatjies van La Fontaine, word ook Annie Bester bekoor deur die fyner lewe in Kaapstad en die vername houding van "Graaf Alpenveld". Van Bergen bewys sy ou vrinde groot dienste sonder dat sy ware naam bekend word, Alpenveld net so. Die geheimsinnige "Verdwynende Boerewag" is 'n knap verafrikaansing van die dolende middeleeuse ridder. In plaas van gifbrakende monsters veg hy teen leeus; die skone dame word nie uit 'n onderaardse kerker van 'n betowerde kasteel gered nie, maar uit die hut van 'n Kafferkaptein.

Die Voortrekkers word verdedig teen lasterpraatjies; die vrymaking van die slawe, die kafferpolitiek van die Britse regering en die handelwyse van die Engelse sendelinge word bespreek, 'n Poging word gedoen om dit alles binne die kader van die verhaal te hou; die historiese uitweidings is kort. "Dit sou te lank duur om alles hier mee te deel ... en dit is ook geskiedenis." (p. 124). Dat Du Biel ten spyte van sy goeie verhaal tog nie daarin slaag om ons in die volle werklikheid van die Voortrekkertydperk te plaas nie, is hoofsaaklik 'n gevolg van sy gebrekkige en verouderde tegniek. Hy hou gedurig 'n praatjie met die leser, gee beskouings oor die gedrag van die karakters, las sedekundige prekies in net waar hy kan. Die hoofverhaal loop oor drie geslagte, maar daarby moet ons o.a. ook nog kennis maak met al die bewoners van Uitkyk. Die gevolg is dat die meeste persone baie vaag geteken word. Selfs waar dit enigsins uitvoeriger gebeur, soos o.a. met Lenie, kry ons selde die indruk, dat ons met werklik lewende mense te doen het. Lenie word ons op p. 59 voorgestel as 'n digteres. Dit word verseker, dat haar vader die "kundigheid"(!) waardeer, ofskoon ons van die waardering nooit iets merk nie. Die geduldige leser word op p. 135 weer aan Lenie se digterskap herinner en 'n gediggie "wat sy in dié dae gemaak het" word meegedeel. "In die dae" is net voor die Groot Trek, maar op p. 141 word ons vertel—dis nou 'n goeie paar maande later—dat van dieselfde gedig, wat ons al klaar gelees het nog net "enkele reëls" geskryf is! Deur sulke onhandige sette[322] is dit, dat ons in plaas van die uitgebeelde persone altyd sien Meneer Du Biel aan sy skryftafel, verskans agter Theal, Cory en ander historisie!

"In 'n oomblik sien hy alles in sy ware kleure. Hy aanskou sy eie siel in al sy naaktheid...." (p. 144). Dit is van die soort blits-psigologie, wat so dikwels in Getrou voorkom.[323] Van wat in die siel van Nikolaas en Lenie omgaan na die indrukwekkende vervloeking deur Oom Tjaart hoor ons weinig. Du Biel bly te veel aan die buitekant. Nikolaas "lyk jare ouer: die gewone hoopvolle glimlag is van sy gelaat weg, en in plaas daarvan staat erns geskrywe" (p. 98).—"Arme Lenie! Sy is nou maar slegs die gees van wat sy vroeër was; en die treurige en hopelose blik op haar gesig is onvergeetlik" (p. 99). Later slaag Du Biel daar veel beter in om ons te laat voel die tragiese noodlot, waarteen Nikolaas tevergeefs stry. Die vloek wat op hom rus deur sy geboorte kan selfs deur sy dapperste dade nie weggeneem word nie. "Die misdade van sy vaders" maak 'n volkome rehabilitasie in die trekkerslaer onmoontlik, en dat hy sy lewe opoffer vir dieselfde mense, wat hom as 'n onwaardige uit hul gemeenskap stoot is 'n treffende kliemaks van 'n eg-menslike drama. Met sy dood is die drama uit, en die slothoofstuk verswak alleen die indruk.[324] Lenie behoort aan niemand anders as aan die gevalle held nie.

Deur die kreasie van Nikolaas Alpenveld word Die Misdade van die Vaders iets meer dan 'n gewone awonture-verhaaltjie. Die moralisasies, wat 'n groot gedeelte van die roman inneem is van dieselfde gehalte as in Getrou. Daar is geen sprake van mooiheid van segging of oorspronklikheid nie. "Hoe wonderbaar is ons lewe! Alles is veranderlik; niks bly vir een enkele uur geheel dieselfde nie." (p. 124.) Van sulke afgesaagde bewerings krioel die boek. Of anders kry ons twyfelagtige stellings soos die volgende: "Dit is een van die wonders van die skepping dat dit in die mag van die mens is om te word wat hy verkies" (p. 50).

"Die taal en styl openbaar 'n bekoorlike helderheid en eenvoud", verklaar Prof. J.J. Smith in sy voorwoord. Helder en eenvoudig is dit seker, maar dit mis alle bekoorlikheid, omdat Du Biel geen eie stem het nie. Daar is niks persoonliks in sy styl, nêrens iets wat ons ontroer deur fynheid van segging of klank, nie. Dikwels stuit ons op 'n eentonige "hul-lerigheid" "Hul wou blomme pluk. Plotseling het hul 'n aantal Kaffers na hul sien aankom, en hul het begin hardloop. Hul het gou gesien dat hul nie sou voorbly nie, en het na 'n dik plek bosse weggedraai, waar hul gedink het dat hul miskien kon wegkruip. Hul het die bosse gehaal; maar hul was doodmoeg, en die Kaffers was kort agter hul. Hul moed was al byna op, toe hul by 'n erdvarkgat kom." (p. 187.)

In die taal is daar 'n paar anglisismes, onder meer die volgende: "watter goeie doeleinde kan dit dien (p. 98); ontdoen" (p. 132, 228). In Getrou: "En die dogter, is sy skoon? (Hollandisme).—O ja, sy is gangbaar (p. 39); sy is in geen haas om terug te gaan nie (p. 92); vroulike vorms" (p. 48). Die gebruik van beken en erken (p. 65, 71), gelaster (p. 86)[325] is verkeerd.

§ 16. Mevrou M. Jansen-Pellissier.

Martha M. Pellissier is gebore op Bethulie. Haar grootvader was 'n Franse sendeling. Aan die Hugenote-Kollege het sy in 1909 die B.A. graad behaal, daarna onderwys gegee in Pieter-Maritzburg en in 1912 in die huwelik getree met Advokaat E.G. Jansen L.V. Vir jare al is sy een van die stuwende kragte van die Afrikaanse saak in Natal. Vir verskillende vereniginge het sy ge-ywer en onder haar leiding het die Saamwerk-Unie die eerste openbare eksamens in Afrikaans gehou. In verband met die eksamens het sy haar ook toegelê op taalstudie en met medewerking van C.M. Booysen 'n Afrikaanse grammatika geskryf. Haar Brandwag-verhale is in 1919 gebundel onder die tietel Die Veldblommetjie en andere Verhale. Verder het sy nog geskryf Afrikaner Harte, 'n toneelstuk.


Die meeste verhale in Die Veldblommetjie het 'n duidelike strekking. Dit is veral pedagogiese en seksuele vraagstukke, wat behandel word. "Die skryfster toon ons die sedebederf aan wat saam met 'n bioskoopbeskawing tot ons oorgewaai het" sê Dr. W.M.R. Malherbe in sy voorwoord. Daar is eintlik drie "veldblommetjies". Een volbring haar kinderplig ten spyte van die ontevredenheid van haar verloofde, die ander twee word verlei deur die skynskoon van die wêreld. Waarom die Agteruitgang? is geskryf "uit oortuiging dat die agteruitgang van ons mense op godsdienstig gebied grotendeels toe te skrywe is aan die feit dat Afrikaans nie van die kansel gebruik word nie ..." (p. 47).

Die skryfster gaan só te werk: verskillende episodes uit die lewe word op so 'n manier samegevoeg, dat dit as afskrikwekkende voorbeeld of direkte les kan geld. Om haar moraal beter te laat inslaan, verskerp sy die situasie gewoonlik en eindig met 'n melodramatiese slot, wat soms nogal onwaarskynlik is, soos b.v. die moord op p. 169. Om meer nadruk te lê op die didaktiese doel word die lesers direk toegespreek[326] en beskouings oor die gedrag van die karakters ingevleg.[327]

As gevolg van dié werkwyse het Die Veldblommetjie 'n bydrae op nasionaal-sedekundige gebied geword, wat 'n ernstige waarskuwing bevat, en sal meewerk tot opbouing van 'n gesonde Afrikaanse kultuur. Uit 'n letterkundige oogpunt moet egter die bewuste vooropstelling van 'n tendens afgekeur word. Die vernaamste fout is "that the moral suggests the tale far more frequently than the tale suggests the moral"[328]. "Zoodra je de bijgedachte hebt: ik wil 't leven zóó laten zien, dat de menschen onder den invloed van mijn werk op ideeën komen, die ze anders niet zouden hebben, moet je het leven een beetje verwringen, datgene er uitkiezen, waardoor die ideeën worden opgewekt, en zoodoende een eenigszins valsch beeld geven van het leven."[329] Dit is 'n gevaar waaraan die skryfster in haar ywer om ons oor te haal tot haar opvattings nie ontsnap nie, maar dit geld meer die bou en opset van die verhale, want in die uitwerking van details word ons dikwels getref deur raak tekening van die lewe op plaas en dorp. Natuurlik kan tendensieuse werk ook goeie kuns wees. Volgens Frederik van Eeden is die verskil tussen goeie en verkeerde tendens-literatuur dit: "dat de kunstenaar, die een zuiver kunstwerk maakt, daarbij wordt bewogen door de schoonheid van zijn idealen, ook al zijn dit ethische idealen. De mensch, die onzuiver werk maakt, denkt om den invloed, dien hij op anderen zal hebben, tracht zijn lezers over te halen tot zijn overtuiging. Dit nu kan een echt kunstenaar als zoodanig niets schelen. Die let alleen op de schoonheid van hetgeen hij voor zich ziet. Let u op een van de hoofdwerken van Shelley, dan voelt u, dat hij in grenzelooze bewondering is voor hoog-menschelijke eigenschappen. Maar u merkt niet in hem de kleinste poging om iemand te bekeeren tot zijn opvattingen. Als die bekeering komt, dan moet ze komen door de schoonheid van wat hij te aanschouwen geeft."[330]

Bedenklik lyk my die houding, wat Professor Jan F.E. Celliers in sy voorwoord by die sketse Uit die Lewe van Gawie J. Otto aanneem teenoor strekkings-literatuur. "Die meeste sketse laat hy heeltemal vir hulselwe spreek. Dog as egte Afrikaner, wat voel vir sy volk, sien hy met besorgdheid hoe gebruike en sede onder ons verander, en nie altyd in voordelige sin nie. Daarom verwyl hy graag met liefde by herinneringe uit die verlede ... en kan hy nie nalaat nie om nou en dan voor die ligbeeld te tree wat hy op die doek gooi en 'n paar ernstige woordjies met ons te praat.... So 'n opbouende strekking vra nie in die eerste plaas of hierdie of daardie opvatting van kuns daarmee tevrede is nie; en dit was maar altyd en oral die kenmerk van die letterkunde van 'n jong volk, wat vir sy opbou waarskuwing en lering nodig het. Van die ouere skrywers is daar menigeen wat ook, so tussenin, gemoedelik met ons kan gesels." Die sedeprekery in ons letterkunde kan op dié wyse nie geregverdig word nie. Aan 'n letterkunde wat in die begin van die twintigste eeu pas ontluik, moet tog ander eise gestel word, dan aan die van volke wat al vyf of ses eeue bestaan. Is daar dan miskien sedert die tyd van Maerlant b.v. geen vooruitgang in kunsbegrip gewees nie? Moet ons literatuur dan opgebou word op hopeloos verouderde beginsels? Die Europese volke van vandag het seker nog net soveel "waarskuwing en lering" nodig as in die tyd van Maerlant, en tog is daar geen enkele kunstenaar, wat nou nog b.v. natuurlike historie op rym gee nie. As ons skrywers voortgaan met die "gemoedelike geselsery" en sedeprekery, dan kry ons 'n versameling van traktaatjies en geen letterkunde nie. Wanneer iemand sketse uit die lewe skryf, dan moet dit só lewend wees, dat die skrywer nie nog met 'n stokkie by sy beeld hoef te staan en preek nie. Teken hy die egte Boereseuns, dan sal ons vanself weet, dat hy nie die "bioskoopaanbidders, sigaretteverslinders, ens." bedoel nie. (p. 16.)

"Al wat werkelijk schoon is geeft een zekere veredeling en heeft daardoor ook overeenkomst met godsdienstige dingen. Als iemand die goed begrijpt en als iemand een stuk kunst goed begrijpt, dan wordt hij daardoor tot nadenken gebracht en dan wordt hij er ook beter door. Het zal ethisch werken, zooals ook de muziek ethisch werkt ..."[331] Op dié wyse werk die kuns mee tot die opheffing van 'n nasie. Die dae van Vader Cats is verby. Ons het tot die oortuiging gekom, dat "juist het aller-subliemste in den mensch, het edelste, door iemand die er didaktisch naar zou streven niet kan worden bereikt ... Zoodra je didaktisch te werk gaat, moet je de menschen al redeneerend er toe brengen goed te zijn. Maar wanneer je de menschen kunt ontroeren door schoonheid, dan worden zij vanzelf goed."[332]

Enkele verhale in Die Veldblommetjie is sonder strekking. Ons Heldinne beskryf die tyding van vlugtende vroue gedurende die Anglo-Boere-oorlog; Andries is 'n grapperige vertelling van die makmaak van 'n kwaai vrou en Die Storie van 'n Lam 'n goeie kinderverhaal.

Die skryfster het 'n aangename verteltoon, wat alleen in Liefdeswee spore van retoriek vertoon. Hier hoor ons o.a. van hartsnare (p. 177) en dat "die tand van twee lange jare byt" (p. 183). Ook die beeldspraak word troebel: "In sy donkere kykers, skuil daar nou weemoedige skaduwees wat die weerkaatsing is van die soet-suur liefdesbrand in die hart" (p. 174). Die styl is egter deurgaans helder en natuurlik. In Liefdeswee is daar 'n paar mooi brokkies natuurbeskrywing. Enkele anglisismes kom voor, o.a.: "Perderuiters ... dring hul 'n weg deur die skaar (p. 24); ek gaan vir 'n wandeling (p. 42); Tante ... haas na die kombuis (p. 88); klok-gesig (p. 111); die kinders neem daar 'n pret in" (p. 142).

Foutief is: "eikeboom, wie se spreiende takke (p. 154, 171) en gesuiwer (p. 115). Die dubbele negatief ontbreek ook soms.

§ 17. J.H. Malan.

J.H. Malan is in 1874 op Groenberg, Wellington gebore. Sy eerste onderwys het hy van C.P. Hoogenhout ontvang. Van 1894-1897 was hy onderwyser in die Vrystaat. Daarna het hy verder gestudeer en tydens die Anglo-Boere-oorlog Hollands gedoseer aan die Hoëre Skool op Seepunt. In 1904 begin hy sy joernalistieke loopbaan by die Re-Echo. Vervolgens het hy gewerk by Het Zuid-Westen en Het Westen. In Potchefstroom was hy ook redakteur van die tydskrif Werda, wat vir ongeveer 'n jaar bestaan het. Op die oomblik is hy op die redaksie van Die Volksblad in Bloemfontein.

Na die drie-jarige oorlog het Malan sy historiese ondersoekings in die argiewe begin en 'n versameling van Africana aangeleg. Boer en Barbaar het in 1913 verskyn,[333] 'n toneelstuk Na Olikheid kom Vrolikheid in 1917, en Die Swerweling in 1921.

Tydens die veldtog van Dr. W.J. Viljoen ten gunste van die Vereenvoudigde Spelling het Malan in Ons Land vir Afrikaans gepleit onder verskeie pseudonieme, soos Cabo, Bonhomie, ens. Op joernalistieke gebied is hy as Oom Fanie bekend. Hy het o.a. deur die halfkroon-fonds £4000 vir Generaal De Wet se boete ingesamel. Vir sy aandeel in Die Dolosgooier van Joubert Reitz word na die bespreking van dié boek verwys.

Die Swerweling.

Die Swerweling is "'n verhaal uit die tyd van die Franse Hugenote in Drakenstein". Lambert Lourier, wat in Frankryk baie Hugenote oor die grense gebring het, word in Suid-Afrika "'n onverbeterlike makdroster, swerweling en niksdoener" (p. 165). Hy is 'n sieltjie sonder sorg, wat "geen staanplek in hierdie wêreld (wou) hê nie." (p. 40.) "Ek is wat ek nog mag word. Ek glo aan geen instelling van die mens nie" (p. 47). Sy vernaamste besigheid is dan ook rondkuier, jag en ipocras drink by die landdros, Samuel de Meurs, wat ook vroeër Hugenote gehelp 't om te ontvlug. Van dié vlugtelinge woon daar ook in Drakenstein, en in die smidswinkel ontdek Danie Hugo, dat Lambert die melkjong van die Orleanse klooster, en De Meurs die brandwag was, wat hom so fluks gehelp 't om met die meisies Anne en Jeannette te ontsnap. Anne het die vrou geword van Pierre Rousseau, maar Jeannette, Hugo se verloofde het aan die ontberings op die vlug beswyk. Lambert toon 'n neiging om sy swerwersbestaan op te gee as hy verliefd raak op Anna, die dogter van Rousseau. Maar hy verspeel sy kanse, omdat sy Kaapstadse "pepermintjie" Isabella so vrypostig met hom omgaan. Nadat Danie vir Anna uit die see gered 't, kry sy die ou-jonkman lief, terwyl Lourier troos soek by Isabella. Op voorspraak van sy vrinde, benoem die Goewerneur, Louis van Assenburgh, Lourier tot onder-stuurman op die retoervloot en op die Amsterdamse skeepstimmerwerf vergeet hy al sy swerwersideale en word 'n rustige werksman.

Die Swerweling is 'n historiese roman, die hoofdoel waarvan die aanbrenging van geskiedkundige kennis is. Daar is tallose historiese uitweidings o.a. oor die vervolging van die Hugenote in Frankryk, die politiek van die Oos-Indiese Kompanjie, ens. Uit allerlei besonderhede blyk ten duidelikste dat hier 'n historikus, wat jare lank met groot toewyding in argiewe sy gegewens bymekaar gesnuffel het aan die woord is. "Dit is 'n jammerte dat geen enkele brief uit die tyd bewaard gebly is nie in sover dit die Kaapse Hugenote aangaan" (p. 17). Soms deel hy sy kennis op betogende wyse mee, soos in hoofstuk V, of anders laat hy iemand 'n opsetlike vraag stel. Anne wil weet, wat vir mense die Dragonders is (p. 20); Anna vra: "Maar wat is nou eindelik (eintlik?) die galeie? (p. 22); De Smit: "Maar Aploon, wat is nou eintlik die Buddhisme? (p. 59); en op p. 105 vra Anna weer: "Maar wat doen die Hugenote en die misdadigers dan nou eintlik op die galei?" En so is daar meer voorbeelde, wat ons telkens laat voel, dat ons hier met geen mense te doen het nie, maar alleen met 'n skrywer, wat onder allerlei vermomming sy byeengegaarde kennis aan die man wil bring.

"Koopmans heeft voor eenige jaren in De Beweging (III jg.) den historischen roman vergeleken bij die eigenaardige soort van publieke vermakelijkheden, die zich toen nog wel als aanhangsel van tentoonstellingen, onder den naam van Oud-Antwerpen, Oud-Dordt, Oud-Holland en wat niet al voordeden. Een oudheidkundige en een architect zetten zich aan het werk; oude prenten worden geraadpleegd, en oude kaartboeken en werken over meubel- en kostuumkunde opgeslagen en daar verrijst na wat passen en meten, wat "woekeren met de ruimte" een marktpleintje met een straatje en een grachtje, overschaduwd door vierjarige iepen, alles opgebouwd uit pleister, paklinnen, riet en bordpapier. Een vroegere keukenmeid komt er u misschien als oud-Hollandsche kellnerin een potje peuzelaar uit Heineken's brouwerij brengen. Ge krijgt een oogenblik een gezellige illusie, maar dat is het frissche, rijke leven niet. Gij houdt ten slotte het besef, dat alles maar komedie en aanstellerij is, midden in de moderne maatschappij. Achter gindsche schutting, die het raadhuis voorstelt, snort de electrische tram voorbij."[334]

Die vergelyking pas op Die Swerweling, want ten spyte van die argaïstiese tintjie in die styl, ten spyte van al die moeite wat die skrywer gedoen het om histories juis te wees in die skildering van die omstandighede, gewoontes, huisraad en klere van die Kaapse Hugenote voel ons direk, dat dit 'n bordpapiere wêreldjie is, wat ons die moderne werklikheid nie laat vergeet nie. Die indruk word nog versterk deur die gebruik van sulke outydse foefies soos die volgende: "Ons mag 'n gedeelte van die gesprek by die voordeur afluister, solang die slaaf in die kombuis aan slaap is ..." (p. 92); As 'n mens 'n dag na die gebeurde in die vorige hoofstuk vermeld, en dit kort na sonsondergang, saggies by die opestaande gang binnestap en by die deur links in die kamer kyk, sou 'n mens 'n meisie van omtrent 19 jaar oud voor 'n groot spieël het sien staan." (p. 144.) So teken die moderne kunstenaar nie. Die laat ons geen gesprekke by die voordeur afluister nie, maar plaas ons in die volle realiteit, omdat hy met sy eie persoonlikheid die lewe van sy uitgebeelde persone deurleef het. "Il faut que la réalité extérieure entre en vous; á nous en faire crier, pour la bien reproduire", sê Flaubert.

Mens is halfpad deur die boek voor jy weet wie Anna en Anne is en die ongelukkige gelykluidendheid van die name gee aanleiding tot kindergestamel. "Anna mag wel verliefd op Lourier wees of word, maar dit sal ten minste nie met die toestemming van Anne wees nie, as Anne weet dat hy van Anna meer as van 'n vriendin hou." (p. 83.) Anna openbaar in haar liefde so 'n netjies-redenerende nugterheid, dat ons twyfel aan die egtheid van haar gevoel. Dit geluk haar uitstekend om haar vader se raad op te volg. Sy moet "met Lourier se innerlike karaktertrekke soveel moontlik in aanraking ... kom ... met intoming van gevoelens, sodat daar 'n terugtrekking kan wees" (p. 127). As Lambert by haar aandring op 'n beslissing, dan antwoord sy ewe verstandig: "Dit is ingewikkeld vir 'n meisie van my jare en onbedrewenheid om alles so haarfyn oor my verlange en my wense uit te pluis en te beslis." (p. 133.) Tog het sy hom werklik lief, maar na die onthullings in die bootjie volg daar so 'n plotselinge ommekeer in haar gevoelens, dat dit baie op geestelike akrobatiek gelyk. Vóór die bootongeluk het sy vir Hugo "nie die minste ontferming of vriendelike nagedagte nie" (p. 168), maar kort daarna "huil (sy) bitter en lang in haar pynlike verlange na hom" (p. 175). Sy is ongetwyfeld 'n "fatsoenlike dame", wat heel verstandig handel en weinig las het van 'n impulsiewe Franse temperament, maar in so 'n koel-berekende "liefde", waarby finansiële oorwegings 'n groot rol speel[335] is niks wat ons deur skoonheid ontroer nie.

Dat Lourier "die onverbeterlike swerweling en niksdoener" so 'n rustige ambagsman in Amsterdam word, waar hy "'n verantwoordelike en winsgewende pos" beklee (p. 198) is ook in stryd met die gewone menslike geaardheid.

Hugo, "die verstandige, kalme figuur aan die Bergrivier" (p. 125) bly ook meestal doodbedaard. Hy vind dit heeltemal billik, dat Anna "die man se innerlike (moet) leer ken, wat verlang dat hy haar lewensgesel sal wees" (p. 84). En as dit blyk dat sy verwagtings op 'n sandbank gebou is, bring Pascal hom tot die heldhaftige besluit: "Hy sal losbly van homself(?), om nie te verlang nie, dat sy vir hom liewer as vir 'n ander sal hê en dit net omdat hy vir haar lief het" (p. 116). Van lange duur is die filosofiese wysheid egter nie, want hy gaan slaap "met die gedagte wat streef om die holligheid in die huis en haard tog eenmaal op te vul met die geluk waarna hy in sy troostelose allenigheid smag" (p. 117). Dit kom my voor dat die neiging van die outeur om in die persoon van Hugo die Hugenote te idealiseer hom hier parte speel. "Hy (behoor) ook groot genoeg te wees om vir hom (aan 'n teleurstelling) te onderwerp, soos hy met sy geloofsgenote gewoon was om te doen" (p. 116). Maar van die grootheid merk ons nie veel nie, want as hy gaan slaap, verlang hy al weer na Anna, doen hy dus presies, wat hy hom voorgeneem 't om nie te doen nie!

Die slemppartye van Lourier en De Meurs is miskien die besgeslaagde toneeltjies in die boek. De Meurs met sy toegeknipte oog en knorrende brak. Lambert in sy astrante vrindskaplikheid is goed geteken, terwyl die dialoog meestal fris en lewendig is. Hoe styf en onnatuurlik word dit egter op ander plekke! "Ja, as dit (die liefde) die diepte van die ware moederliefde het en 'n vermeende liefde nie 'n bandelose drif is nie wat te dikwels en helaas, al te gou tot 'n ontnugtering van die werklikheid (?) kom." Sulke en nog swaarwigtiger betoë lewer Jacob de Smit op p. 137. Hy praat van "'n nimmereindigende lewenswroeging", terwyl ook Isabella so deftig soos 'n dominee redeneer: "Jy sien daar so beteuterd en ontredderd na liggaam en siel uit, asof jou sterwensuur naby is." De Smit vertel Lourier dat sy ouershuis "nou 'n droom, 'n ysingwekkende, nimmereindigende herinnering (is). Terwille van (sy moeder) het (hy) nog teen die verdrietelikhede van die lewe manhaftig en hygend geworstel...." (p. 46). De Smit met sy triestige beskouings moet dien as teëhanger van Lambert Lourier met sy lugtige swerwersnatuur. Maar die hele selfmoordepisode behoort tot die swakste gedeeltes van die boek. Malan verstaan nie die kuns om deur intuïtiewe deurdringende details sy persone te laat leef nie en De Smit bly vir ons 'n skim. Sy teatrale lamentasies mis alle egtheid en die tekening van sy geval is so alledaags, dat dit by ons geen dieper gevoel opwek nie dan soortgelyke berigte, wat ons af en toe terloops in 'n krant raaksien.

Die onverstaanbare praatjies van Aploon oor Boeddhisme lyk baie na onhandige vertalings uit 'n handboek oor Oosterse wysbegeerte. Onder ander sê hy: "Die mens het geen eie ek nie. Hy bestaan uit 'n liggaamlike uiterlike gevoel, waarneming, begeerte en bewussyn wat hy hom kan verbeel en as hy sterf, plof dit almal uiteen" (p. 59). Die vertalings uit Pascal is ook nie almal gelukkig nie "Die teenwoordige is nooit ons end nie...." (p. 115). Die Franse teks lui: "Le présent n'est jamais notre fin: le passé et le présent sont nos moyens; le seul avenir est notre fin".[336] Dit lyk baie of 'n Engelse vertaling Malan hier op 'n verkeerde spoor gebring 't, want uit die verband blyk dit dat Pascal wou sê: Die teenwoordige is nooit ons doel nie. Onduidelik is ook Malan se vertaling van: "Si nous naissions raissonnables et indifférents, et connaissant nous et les autres, nous ne donnerions point cette inclination à notre volonté.[337] "As ons onverskillig—oplettend...." ens. (p. 115).

Onverstaanbaarheid is 'n vaste kenmerk van Malan se styl. Telkens stuit mens op sinne, wat jy drie of vier keer moet lees, voordat dit op 'n manier duidelik word. Sy verwronge uitdrukkingswyse laat mens dink aan 'n swaargelaaide wa, wat kreun-kreun teen 'n knaende opdraand uitgesleep word.

Die duisterheid word meestal veroorsaak deur 'n onbeholpe sinsbou en woordskikking, of 'n verwarde gedagtegang. "'n Halwe of hele bottel wyn by glasieswyse genuttig in 'n aand deur een persoon, is nie juis beskou deur die fatsoenlikste in die land nie, dat 'n mens op 'n ongeoorloofde wyse oor jou maat gaan." (p. 92); "Ek snap dit nie, maar ek glo dat 'n Indiese bende ook in die rigting van die onsienlike en harmonie vir hulle beweeg" (p. 122); "Daarmee is hulle die aand, byna histories vir die famielie se geskiedenis uitmekaar" (p. 126); "Hugo redeneer, dat hier daar nou 'n mooi geleentheid moontlik sal kom ..." (p. 101); "Die okkultistiese wysbegeerte ... had 'n vèrreikende invloed op die ongelukkige man, waaroor hy dae lang steeds gedroom en met sy eie toestand vergelyk het." (p. 61); "In geen land is 'n somersnag bekoorliker nie as in Suid-Afrika.[338] Die suidooste wind het af en toe die dag gewaai en alhoewel dit in Olifantshoek byna pynlik was, die alom-besielende stilheid in die natuur, kon die aanhoudende dreuning van die "Sedoos" se geblaas ... nog duidelik gehoor word ..." (p. 132); "Vir sy onderwyserskap wil hy verhoging van traktement hê, wat maar twee dae in 'n week ... duur" (p. 12); "Dit was ons leiers se grootste fout gemaak, dat hulle ..." (p. 19); "Vir haar skyn daar met 'n oormate van poeier aan die gesig, voorligting oor betaamlikheid en stemmigheid sonder suur en spraakloos te wees, ten minste ontbreek te hê" (p. 144-5).[339]

Naas meer sulke voorbeelde kom daar nog baie staaltjies van onbeholpe styl en verkeerde woordgebruik voor, waarvan enkele voorbeelde ter tiepering gegee word: "Die geplas van die strooidak neerstromende water" (p. 15); "oorstelp" (p. 64); "En as hy met ander honde op straat brutaal is, dan as hy aan die kortend kom, vlug hy tussen sy baas se bene, wat sy Nimf ... dan met sy stok verdedig" (p. 69); "ontbreek" (p. 72); "Toe hy sy hand bo sy oë hou, om die gedaante ... te ontsyfer" (p. 74); "herinner" (p. 124); "onderhoud" (p. 135); "Hy het ... so skokkend geskrik" (p. 149); "bevel" (p. 178).

Storende herhaling van dieselfde woord kom maar al te dikwels voor: "Hy kan moontlik Hugo se sukses al onmoontlik gemaak het; ongetwyfeld—sonder twyfel; belangstelling ... gestel het of stel" (p. 82-3); "weer ... weer ... weer" (p. 86, in een sin); so ook "buurman" (p. 102); "Toe was sy ook etlike male voor die spieël en vol van mooie bespiegelings oor haar indrukwekkende postuur ..." (p. 146); "almal ... almal; wispelturige; Daar was ten minste 'n kenlike gemoedsvrede ... in die kombuis van Pierre Rousseau kenbaar" (p. 9); ens.

Die beskrywing van die verjaardagfees op die kasteel in Hoofstuk XVII mag in alle opsigte histories juis wees, maar met kuns het dit seker niks te maak nie. "Eindelik tree die goewerneur, onder menigvuldige buigings van die gaste ... binne. Daaronder word opgemerk, onder meer, landdros de Meurs, lede van die Politieke Raad, ander vernaamste ingesetene van die stad.... Isabella was in 'n platgeplooide swart syrok, mevr. luitenant Rheede in 'n polonnaise-plooirok...." (p. 153-4). So 'n verslag kan die jongste rapporteur van Die Volksblad ook skrywe! In wat blykbaar as 'n kunswerk bedoel is, behoort so iets, om die minste te sê seker nie voor te kom nie.

Malan het 'n manier om met die grootste erns uit te wei oor alledaagse onbelangrikheidjies. "Anne wat in die kombuis besig was om te stryk, het binnegekom nadat Anna, haar dogter, vir haar van die gaste vertel het en sy het hulle almal hartlik welkom geheet, nadat sy vir hulle gegroet het" (p. 8). Nou weet ons dit tog sekuur: eers groet, dan welkom heet! Maar, "intussen sal Anna voorbereidsels vir die ete maak" en "solang die gaste en Pierre oor die rit, die weer en die boerdery praat is die tafel gedek en verder alles in verband met die aandete in orde gebring. Toe hulle almal aansit, was daar genoeg vir almal." Gelukkig vir die huisvrou, maar hoe sy dit so sekuur kan weet by die begin van die maaltyd al, is nie erg duidelik nie! Dan volg 'n uitweiding oor die "Fransche brood". "Na die ete is die huisgodsdiens, wat deur Pierre gelei is, waargeneem. Eers is 'n hoofstuk uit die Bybel uit voorgelees, toe 'n psalmvers gesing, ens ..." Waarom moet sulke welbekende sake so plegtig meegedeel word? Hier het Malan nou 'n mooi geleentheid gehad, om deur enkele plastiese trekkies, deur die tekening van 'n paar gebare of die aanduiding van 'n reeks klein handelinge sy persone uit te beeld. Maar vir hom is dit, as historikus hoofsaak, dat die leser moet weet van "die worsteling van die Camisarde, (wat) op die punt is om onderdruk te word".

Na die huisgodsdiens gaan die gaste in die kombuis om die vuurherd sit. Die poging om die nuwe atmosfeer aan te dui is nie erg gelukkig nie—daar is storende herhalings en verwronge sinsbou—terwyl die volgende sin seker uit 'n kinderboekie verdwaal het: "Anne vra vir Anna om die tessie met die stoof asseblief te gaan haal; en nadat sy dit gebring het, (gewigtige meedeling! P.C.S.) het sy vir haar moeder daar kole met die tang ingedoen en dit het onder Anna se voete in die stoof gekom"! (p. 9-10).

Gevoel vir die natuur het Malan wel, maar hy vergenoeg hom meestal met konwensionele beeldspraak. Die bergpunte gooi hul "wit musse" ongeduldig af (p. 5); "van die sonneskyf (spat) 'n see van gloeiende vonke (af)" (p. 6); "Statig en deftig is die son reeds agter die westerkimme weggestap in sy fonkelende mantel van goud en oranje en violet" (p. 199). Waag hy hom aan 'n nuwe beeld dan kry ons rariteite soos die volgende. 'n Wyfie-kokkewiek antwoord haar maat "in 'n perfekte maat ..., met halleluja's" (p. 63), terwyl die lenteson elke jaar "nimmerfeilend oor elke boom en blad na 'n gure winternood halleluja's neergiet—helaas, helaas, ook as requiem vir die voorgeslag wat verby is, wat leef, wat kom." (p. 80-1). Halleluja's as requiem! 'n Voorgeslag wat leef, wat kom! Dit staan daar!

In hoofstuk III moet 'n vergelyking van die voortreflikhede van "eiland- en waterleipatats" ons in die stemming bring vir 'n lofrede op die Bergrivier "die lewensaar en voeder van die allereerste wegbaners in die nuwe vaderland" (p. 38). "Aan sy oewers is hy die een na die ander geslag as 'n neulende kindjie in die skommelende wieg, 'n nooit-vergete troos." Maar in die volgende sin hoor ons: "By hulle moes die Bergrivier se aansyn en waterrippeling die afspieëling van 'n moederportret gewees het ..." Dat "die puriteinse gedeelte van die volk ... die rooivlag ... uitgehang het" teen die ou bruilofsliedjies is 'n anakronistiese beeld, wat 'n snaakse indruk maak in die agtiende-eeuse sfeer. (p. 183.) In die "aambeeldklanke aan die oewers van die Eersterivier" klink 'n harmoniese toon, maar waarom moet ons driemaal hoor dat die water "haastig" is? (p. 81).

Stereotiepe uitdrukkings soos die volgende kom dikwels voor: "'n Skynende lig in die ... dikste duisternis" (p. 108); Lourier bly "as 'n soutpilaar staan" (p. 86), en voel "asof hy langsamerhand in 'n see van wanhoop wegsink" (p. 162); ens. Naas retoriese uitdrukkings soos: "Sy kreun van sielswroegende spyt" (p. 173) ook die mees alledaagse beleefdheidsfrases: "By die geleentheid het hulle vir hom met die innigste hartlikheid vir sy heldhaftige daad bedank en Hugo het dit met die minlikste bereidwilligheid aanvaar" (p. 176). En hoeveel "sugte" word daar nie "geslaak" nie! De Meurs "slaak die een na die ander sielsverstorende sug" (p. 72); Anna "slaak ... 'n diep sug van troos en verligting" (p. 174); ens.[340]

Onder die anglisismes kom voor: kyk (blik, en iemand besoek, p. 6, 13, 186, 62, 76); sieniek (sienikus, p. 84); "om daar ... so 'n ekshibiesie van hom te maak" (p. 162); afgetrek (p. 183). Malan gebruik dikwels Hollandse woorde en wendings: tors (p. 27); desulke (p. 32); verhole (p. 44); ens. Die volgende voorsetsels is foutief: "Uit die gang uit gaan 'n mens by 'n rei[341] trappe op na bo" (p. 24); "student in 'n Neerlandse Uni(w)ersiteit" (p. 48); "die kroon was ... deur mak-roosmaryn ... versier" (p. 183); "sakdoeke aan die vertrekkende gewaai" (p. 189); "As amptenaar van die O.I.K. het hy ... by hom die stempel van Batavia gedra" (p. 66). Uit 'n taalkundige oogpunt sou daar nog heelwat op Malan se sinsbou aan te merk wees. Onder ander is sy gebruik van die dubbele ontkenning, van het en dikwels foutief.

§ 18. Ds. J.H. Kruger.

Ds. J.H. Kruger is in 1878 gebore op Venterstad, K.P. Aan die Teologiese Skool, Burgersdorp het hy gestudeer en daarna enige tyd onderwys gegee. Sy teologiese studie is in 1899 deur die oorlog onderbreek. Met die hulp van vriende het hy deur Grootrivier gevlug en as rebel by die kommando's aangesluit. Na herstelling van 'n wond by Spioenkop, Natal opgedoen, het hy by Generaal De Wet aangesluit, maar in die verwarring by die slag van Sandrivier is hy gevang en moes twee jaar as balling in Ceylon deurbring. In 1906 het hy in Potchefstroom proponentseksamen gedoen. Sy eerste standplaas was Elliot en van 1911 af Postmasburg. In 1921 het van hom verskyn 'n roman, Twee Rampe en Twee Gelukke, waaraan in die prysvraag van die firma J.H. de Bussy die twede, prys toegeken is.

Twee Rampe en Twee Gelukke.

Bram, die eienaar van die plaas Leeukop het agteruit geboer en was verplig om geld op te neem by sy buurvrou, ou tant Anna Smal, wat van sy verleentheid wil gebruik maak om haar buffelagtige seun Hans met sy fynopgevoede dogter Isabella te laat trou. Met skinderpraatjies steek tant Anna vir Bram op teen die Breed-famielie, sy beste vrinde, wat op die aangrensende plaas Oupos woon. Isabella het vir Piet Breed lief, maar haar vader se afhanklike posiesie verplig haar om met Hans uit te gaan, wat haar na 'n dansparty sleep. Tant Anna en Bram jaag die Breeds van hulle huurplaas weg, maar Bram se gewete plaag hom so, dat hy sy dogter en die Breeds kort voor sy dood om vergewing vra. Hans word in die pad gesteek deur Bram se weduwee en as tant Anna die geld opsê, word Piet Breed deur die vrygewigheid van Oom Segrys Boshof in staat gestel om Leeukop te koop.


Die roman is hoofsaaklik in dialoogvorm geskryf. Die gesprekke word baie breedvoerig weergegee, en as gevolg kry die verhaal hier en daar 'n slepende gang. Heel weinig word aan die fantasie van die leser oorgelaat. Daar is soms 'n neiging om alles tot op die been af te kluif. Groetery, koffiedrinkery en soortgelyke dinge word oor en oor vertel. Die skikkinge vir die begrafnis word baie omstandig meegedeel en ou Jefta se relaas (p. 37-40) kon heelwat korter gewees 't.

Die dialoog tref deur 'n besonder losse natuurlikheid. Die mense praat geen kunstig inmekaar gesette vernufstaaltjie nie, maar hul gesprekke word gekenmerk deur die sig-sag gang, die toevallig gebrokene van die geselstaal.[342]

Maar, "gesprekjes weergeven is geen dialoog, hoe letterlijk de weergegeven woordjes en zinnetjes ook zijn.... De hooge en werkelijk groote dialoog ontstaat pas in de door de ziel van den kunstenaar herschapen taal-levingen. Dialoog krijgt alleen dan diepte, als hy geheel op hetzelfde geïndividualiseerde plan staat van de waarde der menschen en omgeving. Dialoog scheppen is even moeilijk als tragiek scheppen, of liever moet zich geheel scheppend oplossen in de gansche uiting. Evenmin als 'n fotografische opname eener omgeving, die alleen door de ziel van een kunstenaar er in te brengen stemming kan weergeven van die omgeving, evenmin kan een fonografische op- en overname van een gesprek de stemming weergeven van de ziel der wezens die spreken. Dialoog is stemmingskunst in de hoogste volmaking en 'n innig-levende dialoog kan nooit 'n klankweergeving zijn van afgeluisterde zinnetjes."[343] Fonografies korrekte sinnetjies is seker volop in die roman, maar in die pratery van ou tant Anna bereik Kruger ongetwyfeld iets van die hoë dialoog. En dat sy mense op natuurlike wyse gesels is ook al iets om dankbaar voor te wees, aangesien so baie van ons skrywers nog soos Bredero van Rodenburg sê "de Vrouwen, Dienst-meysjens, ja Stalknechts doe(n) Philosopheren ... dat ick doch meer voor een bewijs van uwe wetenschap acht, als voor een eygenschap in die slach van Menschen."[344]

Kruger verstaan die kuns om uit die dialoog die innerlike wese van sy mense te laat opduik en daardeur bereik hy meer dan baie ander skrywers met analiese of beskrywing. Tant Anna het skaars haar mond oopgemaak of ons ken haar al deur-en-deur in al haar skynheilige vroomheid. As skinderbek veral is sy goed geteken. Op listig-diplomatieke wyse word die driftige Bram eers opgestook, maar as hy te ver wil gaan in sy woede laat sy hom bedaar met 'n bybelteks! (p. 66). Deur allerlei gelukkige trekkies en haaltjies word sy so goed uitgebeeld, dat sy naderhand lewendig voor ons staan met die vetswam onder haar kin, die vuil-gelige tande, bleekrooi sakdoek en snuifdosie. Ook van Hans en Jan Booise kry ons 'n realistiese portrettekening. Ou tant Anna se vroom uitvalle, haar met bybeltekste deurspekte taal en haar manie om almal te dokter is goed weergegee. So ook die buffelagtige lompheid van Hans. Maar die kenmerkende eienskappe van moeder en seun word teen die end van die verhaal só aangedik, dat die tekening karikatuuragtig word. Kruger moet dit nie vergeet nie: "il n'y a point d'unité complète dans l'homme, et presque jamais personne n'est tout à fait sincère ni tout à fait de mauvaise foi."[345]

Tog is daar 'n paar mooi realistiese toneeltjies uit die lewe op Tweefontein[346] en die manier waarop Hans van Leeukop verwilder word (p. 202, vlg.) is 'n gelukkige vinding, wat van diep-psigologiese insig getuig. Dit is ook waar van die uitbeelding van die oplopende Bram, wat na die dansparty tot inkeer kom; die kwaai-koppige Oom Segrys, wat dit nie kan kleinkry nie, dat dit na 'n dansparty altyd so mooi reent (p. 182); tant Martina, wat so trots is op haar "skoon geslagte" en die so fyn kan uitrafel. Maar Piet bly 'n skim en die maklike manier, waarop hy eienaar word van Leeukop gee hom die allures van 'n "romanheld". Dit is die swak punt in die komposiesie van die boek. Oom Segrys se buitengewone vrygewigheid word wel enigsins gemotiveer deur die feit, dat die Breeds hom in die stormagtige nag gered 't, maar die oubaas, wat so 'n swak het vir famielie-betrekkings het tog seker nog nader verwante gehad, wat meer reg op sy geld het as Piet. Oom Segrys is eenvoudig die deus ex machina, wat die ontknoping van die verhaal moet bewerk. Sulke goedhartige ooms is maar bra skaars in die werklike lewe.

Die tekening van Isabella is ook net gedeeltelik geslaag. Haar ervarings op die dansparty is meer die indrukte van 'n dood-onskuldige teologiese student, wat vir die eerste maal iets van die sondige wêreld sien en notiesies maak vir 'n retoriese preek teen wêreldsgesindheid. "Will Bottel het op haar 'n treurige, sonde-vieslike[347] indruk gemaak" (p. 151). Sy sien hom lê op die vloer "soos iemand in die poel van rampsaligheid moet lê" (p. 172). "Dit was vir haar of sy in 'n onheilige omgewing staan en 'n besoedelde atmosfeer inasem, 'n atmosfeer, waarin verpestende sondekieme ronddrywe" (p. 152). "Die onreinheid en onheiligheid het haar angstig gemaak, ontevrede, ongemaklik en verwaarloos laat voel, net soos iemand, wat vuil was en lanklaas gewas het"!! (p. 177). Sulke opmerkings bewys, dat hier die predikant baas speel oor die outeur. Hy kon hom nie vereenselwig met die malkop-dansers in hul "dolle gloria" nie, maar bly 'n onwillige toeskouer van al die sondige pret. Sy aanvoeling van Isabella se gewaarwordings is grof-manlik en nie vroulik-subtiel nie. Maar as Isabella met Koos dans, dan maak hy 'n raak opmerking: "Sy dans en voel, dat dit 'n genot moet wees om te dans met 'n jonkman, wat sy sou bemin" (p. 163).

Oom Freek is geen figuur wat ons tref deur indiwiduële tekening nie. Sy mymering op p. 10-11 sit te netjies inmekaar om eg te wees. Dieselfde indruk maak ook p. 74, terwyl Hans onmoontlik ou Jefta se woorde so presies in sy gedagte kan nasê (p. 78). Dat al drie reisigers dieselfde indruk van die verlate Oupos kry (p. 138) is ook onmoontlik. Mooi word egter die atmosfeer aangedui as Piet in die waanhuis die doodkis toeskroef (p. 20) en treffend-eg is die uitbeelding van sy grillerig-bange gevoelens. "Piet verbeel hom meteens, daar uit die groot, wye spinnekop-nes kom 'n grillerige langbeen....; die verewa agter in die waanhuis kyk hom aan met groot starende oë".[348] In die damtoneeltjies is daar stukkies beskrywing van 'n suggestiewe fynheid.[349]

In die verhalende gedeeltes is Kruger se styl soms so kort afgebyt, nes een wat ver gehardloop het en nog uitasem sy storie vertel.[350] Eweas in die dialoog kom hier ook 'n breedvoerigheid voor, wat af en toe hinderlik word. "Die predikant staan op, maak keel skoon, haal sy bril uit die skyf, vee dit af, hak hom met albei hande agter die ore vas, gee 'n versie op, lees 'n kapittel en begin toe, so effens oor die brille[351] loerend." (p. 30.) So 'n eentonige reeks moment-opnames steek lelik af by realistiese skilderytjies soos die volgende: "Ou tant Anna lag met wyd oopgerekte mond, die vetswam onder haar ken uitdyend en die gehemelterooi agter haar vuil-gelige tande wysend." (p. 65.) En wat maak vlak-vaal sinne, waarvan die volgende maar een voorbeeld is in 'n letterkundige werk? "Die meeste meisies was in die groot langwerpige eetkamer, waarin, behalwe 'n eettafel en 'n paar ouderwetse swart stinkhout stoele, niksnie besonders was nie." (p. 152.) Onbeholpe van segging is o.a. die volgende: "'n groot misstof stofwolk (p. 70); die om sy lyf met 'n riem vasgegorde te wye ferweelsbroek (p. 86), Oom Freek (vra) met bewende ken, waaraan die lang yl baard skud en vlammende oë" (p. 87); die herhaling van slaap op p. 181.

'n Voorbeeld van smaaklose klink-klank is die beskrywing van die wind op p. 146. "Draaiende, swaaiende kom met die paaie aangewaai stowwe suile (stofsuile?), wat soos geel krullende kuiwe opstuiwe. Die hollende, jollende wind skop die stowwe bolle (stofbolle?) soos dwalende, malende vuilkolle hoog in die lug in...." So rym en allitereer hy dapper voort nes 'n poëtaster, wat sy eerste versfabriekie aanmekaar klink! Ondertussen word die stofsuile van krullende kuiwe tot stofbolle en die weer tot vuilkolle! Komies is die klankeffek in die volgende: "Die slappe wilkertakke ... skoppermaaie rusteloos, moedeloos, lindelam heen en weer oor die dam"![352]

In sy beeldspraak is Kruger 'n enkele maal fris en oorspronklik. Ou Jefta se hemp word deur die wind bulsak geblaas tussen sy skouers (p. 147); Isabella sidder "soos 'n voëltjie vir 'n mamba-slang" (p. 153); Jana lyk "soos 'n Bloemfonteinse straat, wat ... opgemaak (is) vir die hertog van Connaught" (p. 149). Die gewone cliché-praatjies is egter ook volop: Die lykpreek het "byna 'n eeu geduur" (p. 30); "Koud soos 'n stuk ys, waaraan sy gloeiende hart raak ..." (p. 84); "Haar hart het ... gebrand van verlange, maar sy moes daardie liefdekole in haar boesem dra"! (p. 223). Arme meisie!

Storend is die gebruik van 'n driedubbele negatief en weglating van die dubbele negatief. "Vir haar was daar niksnie aangenamer nie (p. 24) nooitnie ... nie; ens. "G'n blaartjie het geroer" (p. 7); ens.

Ofskoon die gebruik van dialektiese vorme in die dialoog toelaatbaar is, moet dit afgekeur word in die verhalende teks. Kruger gebruik o.a. suffel, groos, espres, bebliek, ens. Wat hy o.a. met preer (p. 204), effetroon (p. 62), eenspaier (p. 141) bedoel is my onbekend.[353] Verkeerd is: ongehawende stemme (p. 8), kostelike gordyne (p. 214), terwyl moedvallig 'n Krugerisme is.

Afsonderlik moet nog vermeld word, dat Kruger sy eie persoon nooit op die voorgrond dring nie. Hy hou geen toesprake tot sy "geagte lesers" en moraliseer nie oor sy karakters nie. Van 'n skrywer, wat in sy eerste werk so 'n psigologiese indringingsvermoë openbaar en so realisties teken, kan nog veel verwag word.

§ 19. Mej. Sadie Bosman.

Langs Kronkelende Weë (1921). Dit is 'n verhaal van "hartverskeurende afskeid", van eindelose gekreun en gesteun, van sugte en snikke! Dis nie die gewoonte om statistiese tabelletjies in 'n letterkundige kritiek te gebruik nie, maar in hierdie geval moet tog vermeld word, dat daar byna vyftig maal gesug word! Dan nog al die trane! Emmers vol! Soms kom al om die ander bladsy byna die uitdrukkings "met 'n sug", "met betraande oë" voor.[354] Met sulke en dergelike huilerige woordjies, met 'n salwende tederheidsbetoon, 'n sieklik-verweekte gevoelerigheid probeer die skryfster om ons te ontroer. Met sielsleë frases wil sy ons in 'n droefnisstemming bring! "Duisenderlei bange vrese vervul steeds haar treurende hart en die skoon oë was moeg van al die stil geween ... die oë vol skaduwees (waaragter) 'n wêreld van wee verberg was" (p. 155). "Maar vanaand moes die sterre hulle aangesig verberg vir die hartverskeurende strome van mensebloed(!) wat orals vloei, en skyn die hemelse vrede verder as ooit te wees van die oorlog-geteisterde aarde" (p. 61). "Met gebukte hoof, verbleekte gesig, en dromende oë hervat sy haar lewenstaak; maar die glimlag op haar lippe het vir altyd verdwyn, (So, so! P.C.S.) en haar hart daarbinne was versteend" (p. 96). Nêrens 'n gevoelde woord, met pure aanstellerige bombas. Of anders 'n mislike foefie om eie onmag te bedek. "Oor die bitter skeiding en hartverskeurende vaarwel laat ons saggies 'n sluier neer" ens. (p. 47).

As Lear uiting gee aan sy droefheid oor die dood van Cordelia, dan sê hy met 'n eenvoudige gebaar: "Pray you, undo this button. Thank you sir". Só werk die beeldende kunstenaar.

Groot en egte lewensgevoel kan alleen geuit word deur groot styleienskappe. Daar is duisende diep ontroerdes, by wie alleen hakkelwoordjies of stomme gebare 'n aanduiding gee van die lewenstragiek. Maar alleen die kunstenaar kan die donker dieptes vir ons oopblits. Dit kan nie gedaan word met praatjies oor "snikkende geween" en "gesmoorde smartelike kreune" nie. In Sadie Bosman se styl is daar nooit 'n opglansing van oorspronklikheid nie. Dit is wat Querido noem 'n "grijseffene breikousenstijl", waarin die dooiste gemeenplaatse met 'n geroetineerde ratsheid afgerittel word. Nooit raak sy verleë oor 'n woord nie, die naalde klik-klik met masjinale reëlmatigheid.

Tog het sy 'n stof behandel, wat by 'n waarlik voortreflike werker tot 'n geweldig aangrypende tragedie sou kon gegroei het. Hannes en Miemie is verloof, maar deur die rebellie en die veldtog teen Duits Suid-Wes (1914) ontstaan daar vyandskap tussen hul vaders. Hannes kom tot ander insigte deur sy omswerwings in die Vrystaat en op die end van die "kronkelende weë" kry hy tog vir Miemie. Geteken word dus die reaksie op 'n paar persone van die geweldige konflik, wat die Afrikanerdom in twee partye verdeel 't en vandag nog soveel bitterheid veroorsaak. Maar die twee vroue, deur wie Hannes tot Nasionalis bekeer word is geen gewone sterwelinge nie—hulle is engele! Veral Lida word ons voorgestel as "'n vleklose engel" en selfs die dokter "'n bedaarde ou Engelsman" (p. 198) verklaar, dat "vir so 'n engel ons besoedelde aarde 'n onwaardige woonplek (is)" (p. 199). Maar ook Miemie is so 'n voorbeeldige jongedogter, dat dit geen verbasing wek as ons hoor dat sy "engelagtig lyk" nie (p. 16) en Hannes "met so 'n hemelse teder blik aan(sien)"[355] (p. 44). Hannes is "'n treffende beeld van 'n flink jongeman, wat 'n suiwer, eerbaar en opreg lewe lei" (p. 24). Sy enigste sonde is, dat hy 'n Sap is, maar die stroopsoet seuntjie word deur die liewe engeltjies so mooi reggehelp, dat hy ook volmaak word! Beskou ons nou die orige figure van die limpatiese geselskap, dan blyk dit, dat Oom Gideon ooreenkoms vertoon met die swaarmoedige grysaards uit Vergeet nie en Teleurgestel. Hoe dat Oom Koos nou eintlik tot berou kom, word nie vertel nie. Die bedrywige Tant Lizzie, wat gelukkig geen tyd het om te veel te sug nie is die bes geslaagde figuur. Waar daar geen geleentheid vir sopperige sentimentaliteit is nie, blyk dit dat die skryfster 'n goeie opmerkingsgawe het. Tant Lizzie is ten minste 'n menslike mens.

Tot watter onsinnigheid die sentimentele neiging aanleiding gee blyk hieruit: Miemie het "'n ondeunde kuiltjie, wat elkemaal so skelmpies uit die wange loer, en waarin die hart van Hannes lank reeds baie diep ingetuimel het"! (p. 3). Sy gaan na die somerhuisie waar "die roostakkies en kamperfoelie om die latwerk heen(slinger); daar steek sy dikwels haar arms na hulle uit "om hulle aan haar bekommerde hart te druk"! (p. 56). Stel mens jou die dinge nou nugter voor, dan is dit om van te skater!

Die toneeltjie waarin die oue Basson, wat aan die maal geraak het oor sy in die rebellie gevalle seun in die middel van die nag vir Hannes kom vra: "Vir watter kant het jy gestem?" (p. 167) laat ons op plastiese wyse voel, wat 'n lewenssaak die politiek vir ons mense is. Dit is psigologie-in-aksie en heel wat anders dan 'n bewering soos die volgende, wat ons op goed geloof moet aanneem, sonder dat ons daar iets van gevoel het. "In die oorlogskool het (Hannes) geleer dat helde gebore, en nie gemaak word nie, en dat die beesagtige in die mens soms die redelose dier ver oortref" (p. 102).

Die politieke tendens en die feit dat daar resente gebeurtenisse van nasionale belang in behandel word, gee die roman 'n aktuele kleur. Deur die een party kan dit as 'n wapen in die politieke stryd beskou word, maar van letterkundige belang is dit nie. Feitlik is dit dan ook slegs 'n vertaling, want die oorspronklike uitgawe van 1916 was in Hoog-Hollands.