WeRead Powered by ReaderPub
Die prosa van die twede Afrikaanse beweging cover

Die prosa van die twede Afrikaanse beweging

Chapter 89: Die Eselskakebeen.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

A scholarly survey examines prose produced during the early twentieth-century Afrikaans literary revival, tracing its historical context, cultural conditions, and stylistic tendencies. It analyzes polemical writings, periodical contributions, and works by principal prose authors, supplying biographical notes and close readings of novels, short stories, satire, didactic pieces, animal sketches, travel writing, and historical prose. Chapters address tensions with earlier literary currents, risks of cultural isolation, Calvinist influence on aesthetics, language problems including anglicisms, and features of dialogue and narrative technique. The author assesses critical debates and offers a subject-based taxonomy and evaluation of the movement's thematic and stylistic limitations.

§ 20. G.J. Otto.

Gawie Joh. Otto is in 1880 gebore op Marico, Transvaal. Ottoshoop is na sy vader genoem, wat onder die Republiek daar Mynkommissaris was. In 1896 het hy klerk geword in die Onderwys-Departement. Met drie wonde het hy by die slag van Elandslaagte na awontuurlike ondervindings ontsnap en deurgeveg tot 1901, toe hy gevang is en na Indië gestuur. Na die oorlog was hy werksaam by C.N.O. skole. Hy het ook besonder aktief opgetree in verskillende verenigings, asook op kerklike en politieke gebied. In De Volkstem het behalwe baie ander artiekels van hom 'n feuilleton, Koen Vermaak verskyn. Sy brosjure Vreemde Stertvere (1910) is 'n aansporing om ons taalregte prakties toe te pas. 'n Toneelstuk, Josef het in Die Brandwag verskyn, Uit die Lewe, 'n bundel sketse in 1921. Sedert 1919 is hy Inspekteur van Blanke Arbeid vir die Vrystaat en o.a. ook Sekretaris van die Raad van Advies vir Jongeliede.

Uit die Lewe.

Die skrywer vertel in 'n paar kort sketse hoe die Boereseuns in sy jong dae skyfgeskiet, vis gevang en klippe gerol het. Hulle wys 'n Hollander, wat sy Hoog-Hollands blykbaar eers in Afrika geleer 't, hoe om kalwers te ry en met 'n nooi op te sit. Verder gee Otto 'n verslag van die eerste twee maande van sy lewe en skets die ongerustheid van 'n paar arm blankes wat ure lank op die Bloemfonteinse trein wag. Prof. Jan Celliers het in sy voorwoord die bundeltjie goed gekarakteriseer: "Sonder te danig hoë pretensies, wil (die skrywer) net die Afrikaanse lewe weergee, en padlangs-eenvoudig met ons daaroor praat." Die klein stukkie lewe wat hy teken, ken hy goed, maar hy is nie by magte om sy sintuiglike waarnemings op te hef tot 'n hoër plan nie, omdat dit hom ontbreek aan styl en uitbeeldingsvermoë. Dat 'n paar sketse 'n strekking het, is alreeds opgemerk.[356]

§ 21. "Wolla".

Wolla vertel in My Groot Dag (1921) die vakansie-awonture van Petrus Breytenbach, onderwyser in Ermelo, van wie se Ford-outo 'n diamante-dief met 'n mooi vroutjie behendig gebruik weet te maak. Die drietal word deur speurders agtervolg en na allerlei wonderlike en soms erg onwaarskynlike ondervindings gepak. Pietjie en Thea kom met die skrik vry, maar Pietjie slaan 'n onnosele figuur as hy uitvind, dat hy in plaas van 'n Duitse vliegenier 'n dief gehelp 't, en dat van sy mooi plannetjies met Thea niks kan kom nie. Dit is 'n goed vertelde amusements-verhaaltjie, net geskik vir spoorweg-lektuur. As die outo verby Majoeba en ander slagvelde ry, dan vergeet Pietjie vir 'n ruk sy "verhewe romantiese gedagtes" (p. 48) en verval in patriotiese oorpeinsings. Af en toe laat Wolla ons effentjies glimlag, maar die humor is soms plat by die grond, "'n Kêrel het eenmaal gesê, hy dink hy kan gewoon word om te lewe op kasterolie, as hy net lank genoeg kan aanhou daarmee. Ek glo dit goed." (p. 64.)

Wolla vertoon 'n bedenklike ratsheid in letterlike vertaling uit Engels, soms van die slang soort. "Om alles te kroon (p. 3 en 68); Wel, van al die pedante snuiters ... vat die vent die koek (p. 127); Wel, ek was al net siek van die plek (p. 93); Vir eenmaal het hy niks te sê gehad nie.... (p. 123); Ermelo Hoger Skool" (p. 1); ens.

§ 22. "Slypsteen".

"Slypsteen" het blykbaar De Waal se romans goed bestudeer. Hy gebruik motiewe uit Johannes van Wyk en Die Twede Grieta, maar slaag daar nie in om sy storie so oulik inmekaar te draai nie as De Waal. Hans is die "karakterlose wreedaard" (p. 79) van die verhaal Broerliefde (1921). Maar hoe volleerd in duiwelstreke ook, hy word uitoorlê deur Gert, wat 'n plaas in die heilige-kalender verdien.'n Gesteelde kind veroorsaak 'n verwikkeling, waardeur Gert byna met sy suster trou. Daar is 'n oujonkman, wat sy bes doen om 'n paar grappies te maak, in sy "mymering" 'n hele storie vertel en in sy moralisasie tot by Adam en Eva verdwaal! (Hoofstuk IX). Twee opgeskote seuns wat stroebeling kry, laat Slypsteen so praat: "Ek meen, dat as jy jou nie verbeter nie, 'n treurige toekoms jou deel sal wees, en jy 'n armsalige uiteinde sal hê."—"Jou kleine niksnuts!" skree Hans.... "Wag, wag, Hans," hervat Gert, ... "Kyk, toe jy daar op Kransburg my oor 'n draai gegee het, toe moes ek dit verdra, maar sinds daardie tyd het ek 'n bietjie groter geword. Egter, waarom sal ons nes vuil skuim teen mekaar bruis. Daardeur sal my karakter net besoedel word, en jy nog dieper in die modder sak as waar jy al reeds sit" (p. 47). Mens sou sê die brawe Gertjie was al 'n paar jaar op die Teologiese Kweekskool!

Op die heel laaste bladsy word in die gouigheid drie huwelike gesluit, terwyl selfs die oujonkman nog verloof raak aan 'n ryk weduwee! Hans trek na Rhodesië. Of hy daar nog altyd "helse planne" brou word nie vermeld nie!

Slypsteen skryf 'n eentonige styl, waarin nooit iets persoonliks opklink nie. Hoe weinig hy sy taal beheers blyk uit voorbeelde soos die volgende: "geondersoek (p. 17); sobat (p. 109 en 116); speuljies (p. 109); poosjie (p. 85); op plig (p. 91) en die verkleinwoorde: soenjie, swaweljie, ens.

VOETNOTAS:

[162] Hierdie feite is ontleen aan Die Brandwag, Des. 1918.

[163] Vgl. Die Burger, 23 Sept. 1921.

[164] Eerste hoofstuk in De Goede Hoop, Jan. 1904.

[165] Die Burger, 12 Aug. 1921.

[166] Vgl. vir "voorbodes" van die Twede Beweging: E.C. Pienaar, Taal en Poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging, 2de druk, p. 195.

[167] De Waal in Die Burger, Aug. 1921.

[168] Voorwoord Vyfde Druk, waaraan al die sitate ontleen is.

[169] J. Prinsen: De Oude en de Nieuwe Historische Roman in Nederland, p. 18.

[170] Die Burger, 12 Aug. 1921.

[171] Volgens Prinsen, t.a.p., p. 51 is die "romantische roes in Scott gekristalliseerd. Van dit kristal is Van Lennep de grove namaak in ordinair vensterglas." Na 'n vergelyking van die twee skrywers kom Prinsen tot die gevolgtrekking, dat al oorspronklikheid van Van Lennep is "een zekere Hollandsche, soms lamlendige, soms goedmoedige breedsprakigheid en een evenzeer Hollandsche ordinaire neiging tot laag-bij-de-grondsche moppigheid." p. 53.

[172] Louis Maigron, Le roman historique, gesiteer deur Prinsen, t.a.p., p. 1.

[173] Prinsen t.a.p. p. 7.

[174] id. p., 25.

[175] id. p., 21.

[176] Het Dagboek van Adam Tas: Leo Fouché, Hoofdstuk II § 1-3.

[177] t.a.p., p. 362.

[178] J. v. W., p. 133.

[179] Dagboek onder datum 2 Febr., p. 126. Vgl. ook p. 142 waar Tas gewaarsku word: "ook zeijde hij mij dat ik op mijn hoede moeste weesen...."

[180] Dagboek, p. 138 onder datum 18 Feb. 1706.

[181] t.a.p., p. 142.

[182] p. 150.

[183] J. v. W. p. 133.

[184] Dagboek, p. 90.

[185] J. v. W. p. 134.

[186] Eers op p. 232 verneem ons, dat Jan van Meerland op die see gesterf het.

[187] Fouché, Dagboek, p. 236.

[188] J. v. W., p. 187.

[189] Fouché, p. 248.

[190] p. 242.

[191] t.a.p., p. XXVI.

[192] Twede Druk, 1921.

[193] Prinsen: De Oude en de Nieuwe Historische Roman, p. 91.

[194] id.

[195] t.a.p., p. 104.

[196] Taal en Letteren, 1892.

[197] Vgl. hierby nog Prinsen: Handboek tot de Nederl. Lett. Ges. p. 613-614.

[198] J. Koopmans: De Beweging, 1913.

[199] J. v. W., p. 126.

[200] t.a.p., 164.

[201] t.a.p., p. 250.

[202] Tw. Gr., p. 160.

[203] t.a.p., p. 242.

[204] Vgl. p. 217.

[205] t.a.p., p. 261.

[206] p. 283.

[207] p. 295.

[208] Feitlik die enigste menslike gevoel, wat beide Gert en Phineas besit, is liefde vir hul ... perde!

[209] Nederlandsche Romancières van onzen Tijd, p. 10.

[210] Tw. Gr., p. 305.

[211] t.a.p., p. 38.

[212] t.a.p., p. 306.

[213] J. v. W., p. 210.

[214] Tw. Gr., p. 331.

[215] Taal en Letteren, 1892.

[216] Tw. Gr., p. 225. Dag op dieselfde pagina is seker 'n drukfout vir nag.

[217] t.a.p., p. 233.

[218] t.a.p., p. 89.

[219] t.a.p., p. 313.

[220] t.a.p., p. 229.

[221] Tw. Gr., p. 349. Beter geslaag is die beskrywing van Johannes se kamer, J. v. W., p. 163.

[222] Vgl. Rémy de Gourmont: Esthétique de la langue française.

[223] Ferdinand Huyck, p. 42.

[224] o.a. Ferd. Huyck, p. 91.

[225] Vgl. o.a. J. v. W., p. 101, 122, 201; Tw. Gr., p. 200, 357.

[226] Uit J. v. W.

[227] Uit Tw. Gr.

[228] Dichtbloemen, p. 150.

[229] J. v. W., p. 63 en 226.

[230] Vgl. hiermee Tw. Gr., p. 233-4 waar Krysie ook 'n kappie dra.

[231] t.a.p., p. 106. Uitgave Sijthoff.

[232] t.a.p., p. 44.

[233] Vgl. ook J. v. W., p. 174.

[234] J. Mathijs Acket: Nieuwe Taalgids, 15de jg., 6de afl., p. 275.

[235] Tw. Gr., p. 67.

[236] t.a.p., p. 295, 311.

[237] t.a.p., p. 14.

[238] Twede Druk, p. 153, noot.

[239] Die Burger, Aug. 1921.

[240] Vgl. ook Dr. Pienaar se dissertasie, p. 151-6 en Dr. Boshoff: Volk en taal van Suid-Afrika, p. 407-424 waar die kwessie uitvoerig bespreek word.

[241] Vgl. hiermee J. v. W., p. 210 "'n Vreesagtige hart sal nooit 'n flinke vrou vang nie."

[242] Vgl. p. 62, 'n verhewe betrekking in die diens van die Kompanie.

[243] Vgl J. v. W., p, 226 en Tw. Gr., p. 237.

[244] Vgl. Tw. Gr., p. 296.

[245] Vgl. ook J. v. W., p. 199 en Tw. Gr., p. 333.

[246] Tw. Gr., p. 309, 51, 80.

[247] t.a.p.. p. 159.

[248] Die Burger, Aug. 1921.

[249] De Beweging, 1913.

[250] Ook in Engels verskyn as Dark Johannesburg.

[251] Lewensskets ontleen aan Prozabundel van Hoekstra en Viljoen.

[252] Die derde druk verskyn nou in afsonderlike afdelings.

[253] Vgl. Hoofstuk I, § 9.

[254] Taal en Poësie2 ens., p. 58-64.

[255] Sien Hoofstuk X.

[256] Nuwe Deel I. Sitate uit die nuwe druk word afsonderlik vermeld.

[257] Vgl. die opmerkings oor 'n eenvoudige styl op p. 190-1. In Die Banier, Julie 1921, staan ook 'n artiekel oor: Lett. Styl.

[258] Opvloog op p. 5 is seker 'n drukfout.

[259] O.a. p. 17. Vgl. Ons Weg: "elk 'n man", p. 136.

[260] Vgl. p. 46.

[261] Taal en Poësie ens.2, p. 329. In 1921 het nog van Malherbe verskyn: Die Timmerman, 'n Verhaal in Verse en Koringboere 'n toneelstuk; in 1922: Rivier en Veld, 'n digbundel.

[262] Die Brandwag, Des. 1918.

[263] Vergeet Nie (1920), p. 198. Ek kursiveer.

[264] t.a.p., p. 91. Ek kursiveer.

[265] Vgl. p. 15.

[266] p. 89. Ek kursiveer.

[267] Sy het nog wel 'n broer, "wat op die aangrensende aanleg woon", maar van hom verneem ons net, heeltemal teen die end van die roman, dat hy na Servaas se gevangeneming die plaasbelange behartig 't—'n rol wat erg onwaarskynlik klink.

[268] p. 129.

[269] Over Literatuur, p. 110.

[270] p. 138.

[271] Uitgebeiteld is minder gelukkig, want terwyl ons deur die woorde omwoon en slapende die goliat-rotse as lewende monsters voel, laat uitgebeiteld weer aan 'n dooie materie dink. "De hoofdzakelijke schoonheid van een "beeld" bestaat daarin, dat het de verborgen eenheidsessentie van twee verschillende of zelfs schijnbaar tegenstrijdige begrippen, zaken of wezens aantoont. En hoe duideliker en overtuigender ons die eenheid wordt aangetoond, hoe grooter onze verrukking is." (M.H. v. Campen Over Literatuur, p. 138). Die verborgen eenheidsessentie wat Malherbe ons eers so goed laat voel, verbreek hy deur een ongelukkige woord.

[272] p. 65.

[273] Die verkeerde gebruik van bende is oor die hele land verbrei deur 'n welbekende lied uit die Hallelujah-bundel, waarin van "'n Daniëlsbende" sprake is! Ook Von Wielligh praat in Eerste Skrywers (p. 138, by die portret) van "die klein bende van die Genootskap van Regte Afrikaners".

[274] 'n Germanisme.

[275] Vgl. nog p. 101, 158, 104; en p. 24, Piet met sy onnoembaar soet glimlag!

[276] Die Kommissie vir Taal en Lettere het gerappotteer: "'t Novelletje ... Twee Susters, hoewel taal, stijl en inhoud nog veel te wensen overlaten, is nochtans van genoegzame historiese waarde en geeft blijk van belofte voor de toekomst ..." Akademie-Jaarboek V, p. 51.

[277] Meedelings van Oud-President F.W. Reitz.

[278] Meedeling van die heer J.H. Malan. Vgl. ook voorwoord van "Oom Fanie". Sitate volgens die 1ste druk.

[279] Die biografiese feite is ontleen aan Die Brandwag, Des. 1918.

[280] Die Brandwag, Des. 1918.

[281] Die Brandwag, Des. 1918.

[282] Brief van 6 Jan. 1922.

[283] D'Oliveira, De Jongere Generatie, p. 21.

[284] t.a.p., p. 70.

[285] t.a.p., p. 139.

[286] Querido: Over Literatuur, p. 43.

[287] p. 8. Twede druk. Ek kursiveer.

[288] Vgl. ook p. 206 en 222. In Op Veld en Rande kry ons net eenmaal 'n toespraak tot die "geduldige leser" (p. 101).

[289] Vgl. p. 108.

[290] In Die Burger, Nuwejaarsno. 1922 en Die Brandwag, Des. 1921.

[291] Die Burger, N.J. No. p. 19.

[292] Die Brandwag, t.a.p., p. 172.

[293] Die lewensskets is ontleen aan Die Brandwag, Des. 1918.

[294] O.a. p. 14-15, 17-18, ens.

[295] O.a. p. 7.

[296] W.L. Cross, The Development of the English Novel. (1920), p. 64.

[297] Vgl. ook p. 47: "goue velde met karmosyn geskilder".

[298] Lewensskets ontleen aan Die Brandwag, Des. 1918.

[299] Sonder jaartal. Die meeste verhale is in 1914 vir Ons Moedertaal geskryf.

[300] The Contemporary Short Story, (p. 101).

[301] Die Brandwag, Des. 1919.

[302] The Works of E.A. Poe I, p. XI (1866).

[303] t.a.p., p. XII.

[304] The Supernatural in Modern English Fiction, p. 59.

[305] Uit: Lett. Leesboek, Bot-Kritzinger.

[306] Alle sitate volgens 2de druk.

[307] Hy vergeet selfs die "groot hanglamp", want op p. 40 word die huisgodsdiens by kêrslig gehou.

[308] So word die meeste saamgestelde woorde dwarsdeur sy werk geskryf.

[309] Vgl. hiermee: "'n wit seil bemaste Jonge Thomas", Ou Malkop, p. 168.

[310] Vgl. ook p. 100: "iedere stamp en skok, wat die wa gee is 'n verwyderende skeur in droewige harte."

[311] Brief van 17 Jan. 1922.

[312] Vgl. b.v. p. 74.

[313] Meedeling van die outeur.

[314] Vgl. ook nog o.a. p. 29.

[315] O.a. p. 194 "Daar dit nie goeie maniere is om af te luister wat sulke twee jonge mense ... praat nie, word die gesprek hier nie meegedeel nie."

[316] Vgl. ook p. 238. "Die twee is getroud ..." ens.

[317] Oorspronklik as vervolgstorie in Die Huisgenoot verskyn; in 1921 in Die Burger-Leeskring uitgegee.

[318] Vgl. o.a. ook nog p. 210. "Ek laat dit aan die verbeeldingskrag van die leser oor ..."!

[319] O.a. p. 184.

[320] Waarom is dit "die treurspel van mislukte lewens"?

[321] Ek kursiveer.

[322] Vgl. b.v. p. 41. "Albei sê baie wat nie juis vir ons van belang is nie". Hoofstuk XIX staan op 'n verkeerde plek, en daarom moet die leser uitgenodig word "om 'n weinig terug te gaan"!

[323] Vgl. ook die plotselinge omkeer by Oom Tjaart, p. 234.

[324] Die sgn. proloog kan ook gerus weggelaat word.

[325] Ook gespot in M. v.d. V., p. 201.

[326] O.a. p. 61.

[327] O.a. p. 183.

[328] The English Novel: Walter Raleigh5, p. 268.

[329] Willem Kloos in De Mannen van '80 aan het Woord3: D'Oliveira p. 46.

[330] t.a.p., p. 76.

[331] Lodewijk van Deyssel. t.a.p., p. 32.

[332] Herman Robbers in De Jongere Generatie: D'Oliveira, p. 120.

[333] 2de druk 1918.

[334] Prinsen: De Oude en de Nieuwe Hist. Roman, p. 71.

[335] Vgl. p. 127.

[336] Pensées de Pascal, par A. Gazier, p. 318.

[337] t.a.p., p. 158.

[338] Vgl. 'n dergelike naïewe opmerking op p. 178: "'n Boerenhave (sic!) was daar nie in die ganse volksplanting nie ..."!

[339] Vgl. nog p. 80: "Die rus en kalmte ..." en p. 81: "Is dit nie dieselfde streling ..."

[340] Vgl. o.a. nog p. 199, 29.

[341] Dwars deur die boek word dié woord en ook uitwei verkeerd gespel. Dimunitiewe op -fie ook. Vgl. ook neervlei op p. 192, rat op p. 121. Die sinstorende drukfoute moet, soos die skrywer my meedeel, gewyt word aan die besonder omstandighede, waaronder die boek gedruk is.

[342] Die ketting-sin op p. 67 lyk egter wel "ghevernuftizeert".

[343] Is. Querido: Studiën, p. 219.

[344] Voorrede: Griane.

[345] Benjamin Constant: Adolphe.

[346] O.a. p. 81.

[347] 'n Ongelukkige koppelwoord.

[348] Waarom die stuitende en onnodige herhaling van spinnekop?

[349] Vgl. p. 220 b.v.

[350] Vgl. b.v. p. 7.

[351] Verstaan: glase.

[352] Vgl. nog p. 171: berge—werwe—swerwe; p. 194 dwars bars.

[353] Duister is ook: "dat die ou jong simpatie ken", p. 188.

[354] Vgl. o.a. p. 184-204.

[355] Daar is ook 'n verpleegster, wat 'n engellied sing, (p. 71).

[356] Op pag. 207.


HOOFSTUK VI.

Satieries-Humoristiese Prosa.

§ 1. Ds. Willem Postma. (1874-1920). (Dr. O'Kulis).

Ds. Willem Postma was 'n seun van Prof. Dirk Postma, die vader van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Hy is in 1874 in Burgersdorp gebore, waar hy hom vir die leraarsamp voorberei het onder Prof. Jan Lion Cachet, (Ou Oom Jan). Op Bethulie, Bloemfontein en Reddersburg was hy predikant. In die oorlogsjare (1899-1902) moes hy uitwyk na Middelburg, K.P., omdat hy geen eed van trou wou aflê nie. Daar het hy die kos vir sy gesin in 'n winkel en deur privaatlesse verdien.

Onder groot moeilikhede het hy die gemeente in Bloemfontein gestig. In Mei 1905 het hy onder die skuilnaam Jong Afrika in die Hollandse Friend begin te skryf oor die Afrikaanse taal, sonder dat hy iets van Preller se stukke afgeweet het. As gevolg van die groot byval het Ds. Postma toe gereeld bydraes onder die tietel Oogdruppels gelewer. Toe die setter verstaan, dat die ondertekening van die eerste stuk, nl. Okulis, oogdokter beteken, het hy daarvan Dr. O'Kulis gemaak en so het die naam gebly. "Deur dié stukke het hy hom as volksman geopenbaar, het hy hom 'n weg gebaan na die hart van die Vrystaatse volk ...," verklaar Totius.[357] In Bloemfontein was hy ook die stigter van wat tans bekend is as die "Voorbereidende Tegniese Skool".

In die aangehaalde artiekel gee Totius 'n paar persoonlike herinneringe en sê o.a. dat hy "nie maar 'n merkwaardige figuur (was) nie, maar 'n heldeverskyning". Van hom het verskyn: Die Eselskakebeen,[358] Doppers (1918) en Die Boervrou (1919).

In Die Brandwag (1912) het hy 'n teorie oor die ontstaan van Afrikaans uitgewerk.[359] Sedert 1918 was hy lid van die Akademie. Van belang is nog dat sy vriende huiwerig was oor die uitgawe van die Eselskakebeen. In 1920 is hy oorlede.

Die Eselskakebeen.

In Die Brandwag[360] het die skrywer verklaar, dat die boek 'n "suiwere outobiografie" is met uitsondering van die laaste hoofstuk. Maar dit is veel meer; dit is ook die biografie van etlike Afrikaner geslagte, wat nog vir 'n tiental jare na die Anglo-Boere-oorlog gekreun het onder dieselfde treurige onderwysstelsel deur hom beskryf. Pas in die laaste jare het daar verbetering gekom en in sommige dele van ons land heers feitlik dieselfde misstande noù nog.

Eers beskryf Dr. O'Kulis sy geboorte, waarby Tant Antjie met haar medisynetrommeltjies gehelp 't. Spoedig begint die taalmoeilikhede en in 'n donker onweersnag doen hy die ontdekking, dat ons liewe Heer ook Afrikaans verstaan. Op skool is dit van die eerste dag af 'n gedurige stryd teen die step-by-step-denasionalisering, wat die doel was van 'n verpolitiekte stelsel, as so 'n onpedagogiese gedoente ten minste die naam stelsel ooit verdien het. Mooi word die wisselwerking tussen die skool- en huislike invloed beskryf. "Wel, die Boere het van al daardie Royal Reader gedoente niks geglo nie as ek hulle bietjie wou vertel. Al wat ek vir my moeite gekry het, was: "Jou Rooinek, glo jy al daardie leuns?"[361] Langsamerhand groei die verset van die aanvanklik deur skoolwysheid oorblufte seuntjie. Die omgang met Boerfamielies, wat vashou aan die ou Trap der Jeugd en die Bybel versterk die Boergees in hom, totdat hy die geleerde weefsel van bedrog wegvee en met volle selfkennis sy Engelse meester toevoeg: Ek is 'n Boer (p. 44). Hy wil nie langer "'n agterryer in sy eie land", 'n jingo of weeluis wees nie (p. 42). Wanneer die seun 'n man word, maak hy 'n eselskakebeen vogtig[362] met die trane van sy lang opgekropte spyt en dan dreun die mokerslae op "die Filistyn in die Afrikaner". Dit word 'n geweldige wapen in sy hand, waarmee hy seker meer as 'n "duisend man" verslaan het! In die begin is daar 'n bietjie goedaardige skerts o.a. oor die dominee se gesukkel met die Hollandse geslagte (p. 16), maar wanneer hy die toestande op die Engelse skool beskryf, word die toon kwaai-sarkasties en bitter. Die eensydige onderwys uit die Royal Reader, oor British en Cape History, Geography, ens. word met satieriese skerpsinnigheid aan die kaak gestel. Met 'n speelse vernuf word die oorsprong van die Engelse nasie uitgepluis. "Daar is van die geskiedskrywers, wat die oorsprong wil aflei uit die naam, nl. Angel (Engel) en dan wil meen dat hulle van 'n Engele-geslag is. Of dit van die gevalle engels is of van die ander is onmoontlik om uit te maak"! Op aanskoulike wyse word aangetoon dat die geïmporteerde eksamenstelsel geen rekening hou met die eise van ons samelewing nie. "Jannie het op skool net 'n bietjie algemene kennis en die School-Higher-sertifikaat opgetel. Vir die lewe moes hy daarna eers klaar maak." (p. 55.)

Selfs vandag het die boekie nog aktuele waarde, en dis 'n kultuur-historiese dokument, wat selfs die verre nageslag nog met belangstelling sal lees. Al sal dit hulle nie so heftig ontroer nie soos ons, wat al die ervarings self ondervind het, tog moet dit altyd treffend bly deur sy raak voorstelling en bytende spot. Daar is enkele uitweidings, wat die eenheid van die strydskrif verstoor, 'n paar anekdotes, wat die direktheid van die aanval verminder, maar omdat dit iets is wat werklik "uit (die) hart opgeborrel het"[363] sal dit altyd sy waarde behou.

§ 2. Reenen J. van Reenen.

Die Agterstevoortrekkers (1917).

Johan van Heemskerck het in sy Batavische Arcadia (1637) 'n paar Haagse here en dames 'n plesiertoggie laat doen met die doel om "onder 't soet van minnepraetjes al spelende (te) komen tot kennisse van de vaderlandtsche gelegentheden, daer niemandt een vreemdelingh in behoort te zijn." Van Reenen stuur 'n aantal Bloemfonteinse geleerdes en kunstenaars met hul famielies op die ou voortrekkerpad "om te probeer of daar nie, daar in die bosse en klowe, in die kranse of op die bulte nog van die heldemoed van die ou voortrekkers te bespeur is nie, en of daar op die wye ope veld nie 'n kans is om weer die helder eenvoudige duidelike uitsig op die lewensprobleme op te vang en in (hul) daaglikse omgang te gebruik nie" (p. 32). Die ooreenkoms is duidelik, ofskoon daar seker van bewuste navolging geen sprake kan wees nie. By Van Reenen is daar nie soveel "loofwerck van liefkooserijtjes", maar die minnende paartjie ontbreek tog ook nie. Die poging om pastorale en didaktiese motiewe te verenig is al merkbaar in die aangehaalde sin. Oom Jakob sê ook nog: "Dis die doel van die uittog ... om 'n veldwasempie op te vang uit die Afrikaanse Son en Veld" (p. 31). Nog duideliker straal die pastorale motief uit die volgende deur: "Daar in Bloemfontein in 'n atmosfeer van kunsmatigheid, val die klank (van die ossewa) weg, hier op die veld, ver van die besmetlike invloed van groot stede, mag die plof plof van die ossevoete nou en dan in die sand wegval, maar die skok van die wiele bly." (p. 110). Die didaktiese motief blyk ook nog hieruit: "Opgewonde gee ek antwoord dat dit 'n eerste klas plan was om die sienswyse van die voortrekkers te verstaan, en hulle geskiedenis met smaak te leer lees...." (p. 20). En die sewende trekreël lui: "Elke aand sal een van die trekkers ... 'n lesing gee oor die een of ander in die geskiedenis van die Voortrekkers" (p. 37).

Maar sterker nog dan die pastoraal-didaktiese motiewe van die verhaal is die satieries-humoristiese element. Die meeste van die Bloemfonteinse deskundiges verbeel hulle wat wonders. In die "afskeidsbrief" heet dit: "Ons is beslote om ... ons diep kennis vir almal wyd en syd bekend te maak" (p. 40). Die Professor wil drie waens vol boeke laai "om aan die boere te verkoop"; Jan, die "goggadeskundige" wil die boere waarsku teen skadelike insekte, en Antoon, die musikus hoop dat deur sy musiek "nuwe ideale mag ingeboesem word in diegene wat binne die betowerde sirkel van ons skitterende strale inkom." (p. 31.) Oom Jakob egter voel dat die groot geleerdheid van sy maats eensydig is. "Op seker gebiede het ons ... vooruitgegaan, maar op ander ... is ons baie versleg" (p. 32). Hy is dan ook gewillig om aan die voete van die plattelander te sit en lesse van hom te leer. Ook Oom Kaas, die "diepgeleerde professor in geskiedenis" voel, dat die hele spul dalk sal verkeerd loop, dat die Agterna-trekkers bes moontlik Agterstevoor-trekkers sal word, en sy voorspelling kom uit.

Die vernaamste, doel van die skrywer is om die verwaandheid van die hooggeleerde akademiese here bespotlik voor te stel. Die heel eerste voorval gee al dadelik die toon aan. Die osse trek afdraand net so swaar as opdraand en terwyl hulle 'n geleerde dispuut hou oor dié raaiselagtige omstandigheid, kom 'n onnosele konstabel die moeilikheid oplos deur die styfaangedraaide briek los te draai! Dat klein Leon aan die ossewabriek dieselfde funksie as aan die van 'n outo se slinger toeskryf, is meer dan 'n gelukkige grappie; dit is meteens al 'n simboliese voorstelling van die groot afstand tussen die voortrekker- en die moderne beskawing.

Die trek is skaars aan die gang of die entomoloog vind uit, dat Oom Gert iets oor goggas weet, wat hy nog nooit in sy diepsinnige handboeke van gelees het nie, en met 'n ironiese laggie voeg die skrywer hom toe: "Neef Jan, ek het gemeen jy gaan vir die boere leer, nie hulle vir jou nie." (p. 54.) S.K., die professor in fiesika vind uit, dat al sy gekompliseerde instrumente en spitsvondige berekeninge minder vertroubaar is dan die kennis van die eerste die beste ou boertjie. En dan is dit nog boonop klein Botterkoppie wat hom tot die erkentenis bring! Op die tuinfees slaan almal behalwe Oom Jakob 'n gek figuur. Die dorpelinge verskyn in trekkersdrag, maar die kastige trekkers in haastig bymekaar geskraapte Europese spektakels! Alles doen hulle agterstevoor! Die steekse motor van die dokter, wat deur die osse dorp toe moet gesleep word is weer 'n ironiese beeld—die moderne vernuf afhanklik van die ouderwetse trekkersmetode. Die professor kry in "'n hoekie van die Vrystaat" 'n resep vir heuning-bier, wat hy tevergeefs in sy geleerde foliante gesoek het, maar sy onbekendheid met die praktiese uitwerking daarvan besorg hom 'n wetenskaplike hallusinasie, wat tot 'n algemene bespotting aanleiding gee.

By die afgebrande huis loop die trekkers 'n gewone boer raak, met 'n ontwikkelde kunsgevoel en so 'n fyn beskawing dat dit hulle bewondering afdwing. Wanneer die trekkers by Kerkenberg kom, waar Piet Retief se naam op die rots staan, word die toon van die verhaal ernstiger. Die historiese gevoel ontwaak en Oom Kaas bevredig Emmie se weetgierigheid deur allerlei besonderhede oor die Voortrekkers se ossewaens mee te deel. Op die Natalse pad kom die piëteitsgevoel tot uiting in 'n humoristiese regsaak tussen ossewa en outo. "Ek het die Afrikaner Nasie gedra toe dit nog 'n suigeling was; en nou, op my ou dag, wil julle hê dat ek moet pad gee vir 'n bog kind, so jong dat hy self erken dat hy nog nie eers gebore is nie." "Grootgeraas" is 'n outo van "aanstaande jaar se model" en "Die Dromedaris" weier om pad te gee vir so 'n "aangewaaide, buitelandse ding—niemand weet eers wie sy ouers is nie!" (p. 210.) Hier is die soort humor aanwesig, wat volgens Schopenhauer is "der hinter den Scherz versteckter Ernst",[364] want uit so 'n toneel spreek die wil van 'n volk om die erfenis van sy voorvaders te bewaar "van vreemde smetten vrij".

Dirk vind nog 'n geleentheid om die "geleerde ape", S.K. en die Goggadoktor droog te sit. Hy verydel die grootskeepse opgrawingsoperasies van die twee deur die egte voortrekkervurk met sy pennemes uit te grawe, terwyl 'n verroeste valse "versigtig in watte opgewoel" tereg kom in Jan se trommel. Dis 'n laaste verbluffende kopskoot op die dorre kamergeleerdes!

Die manier waarop die dansparty eindig is 'n bewys, dat die agternatrekkers tog onder die besielende invloed van hul voorvaders geraak het en hul onder al die malligheid goed ingeleef het in die gees van dié grootse tydperk met sy skrynende wee. As die maan wegraak, en die uile droewig skree, begint Antoon se viool "te huil soos 'n moeder oor haar kind se lykie.... Soos diegene wat pas 'n dierbare vriend in sy graf gelê het, uitmekaar gaan, so verdwyn nou stilletjies die gaste een vir een" (p. 235). Om 'n toneel van sulke roerende stemming in al sy innigheid uit te beeld—daarvoor was Van Reenen nie woordkunstenaar genoeg nie. Die oorgang van uitgelate malligheid kom te plotseling. Dirk se gulle lag oor sy welgeslaagde grap, sy "dis nou regtig 'n lekker bal" klink nog in ons ore as ons by die "stille snikke van sterk mans" kom. Maar ons voel tog iets van die stille plegtigheid van die oomblik en enkele dowwe dreunings van 'n verre dodemars kom uit die verte aansuis.... Verswak die skrywer nie die ernstige ondertoon van sy werk deur na so 'n toneel weer met minnepraatjies aan te kom nie? En smoor hy dit nie heeltemal deur die ragtime-klanke van die agterrede nie? Ek meen van wel.

Magteloos, totaal magteloos staan Van Reenen as woordkunstenaar teenoor die natuur. Die trekkers mag 'n "veldwasempie" opgevang 't—ons kry nie eers die ruik daarvan nie! "My hand het net gejeuk vir 'n kwas en verf om die pragtige kleure op doek of kaart te skilder, maar al had ek die gehad sou dit my darem onmolik gewees het om uit te druk wat ek gevoel het...." (p. 84). En met die pen kom hy ook nie verder as 'n gestamel oor die onbeskryflike kleure nie (p. 138). Dit is vir hom "'n soort heligskennis om die wonderwerke van die Natuur te veel in hulle teenwoordigheid te analiseer" (p. 152). Daarom moet ons tevrede wees met die kennis, dat hy 'n lekker pypie daar op die Nek gerook 't, en dat hy nooit moeg word van die Treurwilgers rondom die damme nie! (p. 85.)

Beskouings oor bou- en skilderkuns, meubilering en musiek word in die verhaal ingevleg. "'n Mooi sandsteengebou gepleister met sement, soos klipwerk nagemaak" word die aanleiding om teen na-apery van vreemde kultuurvorme te waarsku (p. 86). Tussen die sekretaris en Antoon vind 'n kunsdebat plaas (p. 138 vlg.). As Van Reenen egter meen dat die doel van die kuns is om "die Natuur akkuraat ... weer (te) gee" (p. 141), dan is hy nog op 'n dwaalpad.

Met die taal sukkel hy ook nog baie. Sy woordskikking en voorsetsels is telkens verkeerd. "In Switserland[365], elke tien jaar voer hulle 'n toneel op wat gebeurtenisse in die lewe van die Here Jesus voorstel.... (p. 121); om aan die datum van die almanak te kyk (p. 102); wat ek voor strewe" (p. 141). Ook 'n hele paar anglisismes kom nog voor: "in herfs (p. 19); Harrismith Distrik" (p. 154) ens. Gebrekkige taalgevoel blyk o.a. uit die volgende: "Afrikaans het haar swak punte (p. 119); Basoetoeland wat haar berge vir ons wys (p. 138); die woede eienaar" (p. 42). Die juffrou M., op p. 153 moet blykbaar deurgaan vir 'n Hollandse, maar "dat berg" het sy tog seker nooit gesê nie! Hoe weinig "felicity in the flow of words" daar by Van Reenen is blyk uit kreupelsinne soos die volgende: "Dan kom die sonsondergang en asof 'n reuse skilder met 'n reuse rooi of rooskleur kwas die landskap skilder, neem die blou berge 'n rooskleur skynsel aan. Dan word die kleur meer en meer pers." (p. 138.) Ook die beeldspraak is weinig oorspronklik: "die deken van die grappe (p. 137); 'n lugkombers" (p. 237). Beets is ook versot op die banale deken- en mantelbeelde (vgl. XXI). Sou hy nou werklik gemeen het, dat sy erbarmlike gerymel in dieselfde hoofstuk vir poësie moet deurgaan?

Die dialoog word meestal gekenmerk deur 'n besonder losse natuurlikheid en tallose lewendige toneeltjies getuig van groot plastiese talent. Sommige daarvan is egter skadelik vir die eenheid van die werk en dit geld ook van enkele langer vertellings, wat die aandag op storende wyse van die hooftema aflei. Dit is o.a. die geval met hoofstuk XXIV, wat "Herinneringe uit die Engelse oorlog" bevat. Daar is nog meer sulke uitweidings, wat die verhaal soms na 'n versameling van los anekdotes laat lyk.