§ 3. Adv. C.J. Langenhoven.
(Sagmoedige Neelsie).
Sonde met die Bure, (1921).
"Die ou wêreld is nou so treurig donker.... Om my dan self 'n bietjie op te beur—en as ek dit kan regkry, menige ander arme drommel ook wat altemit teen dieselfde versoeking moet stry om nie maar gedurig miesrabel te voel nie ... (het) ek hierdie noukeurige en onverbloemde verslaggie geskryf van 'n baie gelukkige vakansieplan...." (p. 1-2). Die ou wêreld het té treurig geword, en daarom sit Langenhoven die hele werskaf onderstebo neer. Sy bure het hom versondig en nou sê hy: Ek maak soos ek lekker kry en kom julle nog verder met my lol, dan koggel ek julle almal uit! Dit is so ongeveer die stemming waarin Neelsie geskryf het.
Sy vrou wou haar nie laat vermaak deur die weelderige leefwyse van haar bure nie—dit was in die dae van Oudtshoorn se volstruisgloria. Sy het aan hom gekarring en al sy besware "doodgealmiskie". Hy koop "'n afgeleefde tremwa" in die Kaap, en toe agtien osse die soort strandhuis nie kon trek nie, verower hy op 'n sirkusvendusie die olifant, Herrie. Dwars deur die dorp gaan die tog, Olifantsrivier op. Almal wat hom lastig val raak lelik gepier. Die burgemeester is eerste aan die pen en sy bemoeisug gee Neelsie 'n kans om sy ergernis oor belastingkwellings te lug. Op Stolsvlakte raak die pad versper deur die slingerende gevaarte en van weerskante word die verkeer opgedam. Maar Herrie verwilder die spul met sy gesnork deur 'n motorbeuel. So ver as Neelsie gaan versondig hy sy bure—maar hulle het mos eerste begin te lol! En hy slaan nog geld uit hulle ergernis ook om vir Engela, sy dogter se numodiese klere te betaal! Dit word 'n wraakneming van 'n getergde man. Die magistraat, Afdelingsraad en geregtelike mag agtervolg hom, maar moet met hangende pootjies en skoongewaste koppe stamp-stamp huistoe ry oor 'n omgeploegde pad. In Meiringspoort vind hy eindelik rus—vir 'n tydlank ten minste. Daar raak hy aan filosofeer oor "al die nietige ou mensies op aarde" (p. 61) en die wondere van die skepping. Maar die lekker rooipit perskes, wat gedienstige jongkêrels vir Engela aandra, laat hom uitvaar teen die nuwe soorte, wat allerhande plae in die land gebring 't. En 'n stapel koerante maak hom briesend! Vroutjie peuter aan hom oor sy ongeselligheid en as gevolg praat hy die arme dominee skoon dronk van pure gasvryheid. Met 'n groot reent raak die kos skaars, maar die jongkêrels knoop al De Rust se kabeltoue aan mekaar om oor die kranse van dertienhonderd voet nuwe voorraad en ... Engela se beste vryer af te hys!
Een van die afdrifsels op die rivier is 'n dronk Hotnot, wat onder die sing van "God save the King" op 'n stomp afdryf! "Ons het later gehoor dat hy deur Oudtshoorn se distrik met Olifantsrivier af is, al singende "Rule Britannia". En die laaste berigte wat van hom bekend is, is dat hy onder Gouritzrivier se brug deur is see-toe met die laaste van sy drie liedere. Dit was "Home Fires" (p. 93). Kostelike ironie!
Oom Hendrik kom ook aangespoel om 'n goeie spook-storie te vertel. En met sy vasgereende bure kom Neelsie gelukkig so goed klaar, dat selfs die arm-blanke-vraagstuk aan sy geselligheid geen afbreuk doen nie. Engela is ook in die skik met haar uit die lug gevalle vryer en die hele wêreld kom so stadig aan weer reg.
Skaars is die pad egter rybaar of die "sondesoekery" begint weer. Twee deputasies kom Neelsie vra om hom verkiesbaar te stel, Prins Albert vir die volksraad en Oudtshoorn vir die stadsraad. Prins Albert hoop om op die manier sy paaie ongeploeg te hou en Oudtshoorn sê: "Ons wil hê jy moet so vas wees in die dorp dat jy nooit weer daar uitkom nie" (p. 118). Dit is die laaste, maar glad nie die enigste klap wat Sagmoedige Neelsie aan sy eieliefde gee nie. Die "sagmoedigheid" van hom is sommer bossies. Juis die manier waarop hy daarmee omspring, sy koddige pogings om kastig eie vernaamheid te handhaaf en homself te rehabiliteer is een van die besgeslaagde humoristiese trekke. "Neelsie, ons bring jou De Rust se groete. Jy weet hoe lief ons jou het. Moenie laat daar iets tussen ons kom nie.... Bly op Oudtshoorn.... En die beswaar het ek gewaardeer.... En tot vandag toe het daardie mense my nog lief. Ek moet darem maar 'n goeie man wees" (p. 46).
Komieklike verdraaiings, woordspelings en paradokse, die eienaardige nuanse wat hy in geestige maar ook in die eenvoudigste opmerkings lê—dit is 'n paar middels wat gebruik word. "Soos die ou spreekwoord tog sê, as 'n mens dom is moet jy slim wees." (p. 6); tafelpote "moet glo op een of ander manier ongelyk wees om gelyk te wees." (p. 10); "Ek wil nie altyd wil nie, maar as ek darem nou wil, dan wil ek, of as ek nie wil nie, dan wil ek nie." (p. 23.) Met 'n paar woorde bereik hy soms 'n mooi effek. Nadat hy 'n opsomming gegee het van al die swaar goed wat op die tremwa is, voeg hy so ewe droog by: "En Engela se klere." (p. 48.) Anders kom hy weer met groot vertoon van erns die mees vanselfsprekende feit vertel: "Engela en Willem het hulle, met prysenswaardige bedagsaamheid jegens ons ouere smaak, onderwerp om maar besonders van ons geselskap te bly en met hulle eie tevrede te wees, by gebreke aan beter." (p. 110.)
"The sense of the Comic is much blunted by habits of punning and of using humouristic phrase: the trick of employing Johnsonian polysyllables to treat of the infinitely little. And it really may be humorous, of a kind, yet it will miss the point by going too much round about it."[366] Gelukkig kan dit nie van Langenhoven gesê word nie. Hy maak 'n spaarsame gebruik van al die foefies en om die bos loop hy ook nie. Mens kry by hom, wat Meredith noem "stout animal laughter", maar ook "spiritual laughter".
"Die geagte leser kan glo wat hy wil en as hy nie wil nie kan hy laat staan," sê die skrywer in sy voorwoord. Maar die onwaarskynlikheid is in so 'n verhaal 'n deug. "There is nothing more powerfully humorous than what is called keeping in comic character ... (i.e.) consistency in absurdity; a determined and laudable attachment to the incongruous and singular. The regularity completes the contradiction; for the number of instances of deviation from the right line, branching out in all directions, shows the inveteracy of the original bias to any extravagance or folly, the natural improbability, as it were, increasing every time with the multiplication of chances for a return to common sense, and in the end mounting up to an incredible and unaccountably ridiculous height, when we find our expectations as invariably baffled. The most curious problem of all, is this truth of absurdity to itself. That reason and good sense should be consistent, is not wonderful: but that caprice, and whim, and fantastical prejudice, should be uniform and infallible in their results, is the surprising thing."[367]
Nou is daar nog 'n paar "muggies"[368], wat moet katswink geslaan word, vóórdat hulle ons slaapsiekte kan gee! In Die Brandwag (15 Mei 1912) het Langenhoven gepleit vir "sulke handige woorde as: mistyk, baaisikkel, drein, spiets, toast". In dieselfde artiekel kom voor: papier (krant), gedrop, hendikep, remnant, op te dres. As 'n takhaar, soos Oom Stoffel in Doppers en Filistyne praat van "die haai sosaaietie van die dorp", dan het ons daar vrede mee. Ons sien hom sy neus optrek vir die hele gedoente en hoor in die klank al sy veragting. Dit is dieselfde beginsel wat hom laat sê Broes Dekstrooi en Makpaatrie en dit tiepeer die man meteens. Maar die gereelde gebruik van die sogenaamde "handige woordjies" moet stellig afgekeur word en dit kan ons met Langenhoven se eie woorde doen: "Sal 'n groot Afrikaanse letterkunde ooit ontstaan, dan sal hy groot wees omdat hy Afrikaans is: Afrikaans in sinsbou, idioom, taalgenie, taalopvatting, taalgevoel, taalstandpunt." (t.a.p.). In Sonde met die Bure stuit ons taalgevoel op: "bargain (p. 16), trieks (p. 18), sake in order bring (p. 22), kerrietse (p. 36), wybel (p. 98); ons dogter Engela had ook intussen teruggekom (p. 20); nie alleen dat Vroutjie haar daaraan sou moes versoen.... (p. 15); Vroutjie gee my weer 'n kyk" (p. 88). En is die vorm aan die gesels (p. 41) nie veel meer Afrikaans nie as aan 't afkom, aan 't uitspan, ens.?
Doppers en Filistyne, (1922).
"Nou ja, net soos Delila met Simson gemaak het—gekerm en gekarring tot sy haar sin gekry het—net so het Soetlief met my gewerk tot sy my oorgelewer het aan die dorpse Filistyne" (p. 7). Soetlief volg dieselfde taktiek as Vroutjie. Sy is moeg vir die rustige plaaslewe en dwing dorp toe om ook in die "adelkringe" te kom. Oom Stoffel, 'n opregte ou takhaar moet toegee en dan begint die sonde met die dorpse bure, en die dorpse gewoontes. Alles is "blink bedrog". In plaas van sy koele rietdakhuis trek hy in "'n moderne ongerieflike verspotterigheid ... wat jy kon omstoot buiten dat die uitgeknipte blikversierseltjies jou hande sou stukkend sny." (p. 18.) Van "sonde en ergernis en dorpse modes en dorpse vleis en brood" word hy dodelik siek. Neelsie jaag hom die stuipe op die lyf en as die dokter hom wil opereer, slaan hy die kêrel "dwars oor die wastafel" en vlug na die plaas.
By sy terugkoms begint die spokery met sy buurman Makpaatrie oor die waterlei-beurt. Steekbaard, die ou plaashond bevlieg die Skotsman, want hy reken: "'n Vroumens met 'n lang rooi snorbaard en rokkies bokant die kaal knieë—nee, soiets moenie wees nie" (p. 63), En hy veroorsaak nog meer moeilikheid deur 'n slagting onder die Skot se "uitheemse soorte bog-ongedierte".
Die anderkantse buurman was "Ja-mes Wénderbaail". Miesies Ja-mes gee Soetlief 'n kursus in dorpse beskaafdheid, maar Oom Stoffel hou sy lyf nog altyd takhaar. Die onderhoud tussen hom en Miesies Ja-mes is 'n meesterstuk van vlymende satiere. (p. 73-75.) Soos Langenhoven die verengelste Van der Byl-famielie geteken 't sal hulle bly lewe in ons letterkunde. Hier is hy werklik 'n "virtuoos van het sarcasme".
Neelsie se joernalistieke ervaring kom Oom Stoffel te pas as hy die Taaims-vaatdoekie aan flenters skeur en die hele redaksie met sy karreekierie deurloop. Die Progressiewe Hollandse predikant word ook ongenadig geroskam. As Neelsie met 'n vernuftige varkeberekening bewys, dat Oom Stoffel koninklike bloed in sy are het skaam die ou hom bitterlik. "Ek het gedog my peddekrie was skoon"! (p. 113.) Dit is die ou Boeretrots wat met al sy veragting van uitheemse tietels hier opflikker.
Engela se klererekening bring vir Neelsie "in die verknorsing" en dit gee aanleiding tot 'n humoristiese hofsaak. Die gedig wat hy in die tronk maak, het egter onder sy verdrietige stemming gely.
"Die dorpse duiwels se naam is legio" en in die loop van die verhaal kry meer as een 'n goeie raps onder Oom Stoffel se kierie. Dit word 'n deurlopende veroordeling van alle nuwe boggedoentes, van die "met blink klatergoud-beslane doodkis", die "Mayoral Sunday", die ingevoerde Engelse honde tot die vrot perskes, pere en appels met fensie-name en fensie-wurms om maar 'n paar te noem. Oor alles moet hy sy takhaar-wysheid lug, en as hy nie te kwaad word nie, laat hy ons glimlag oorslaan in 'n onbedaarlike skaterlag. Al die nuwerwetse verspotterigheid word met die ou plaaskierie goed deurgeloop.
Dan kom egter "'n groot versoening ... my ou teëparty is almal bekeerd; wat my vyande was is vandag my vriende" (p. 136). "Soos met 'n towerslag is ons gevoelens teen mekaar verander en van onverdraagsaamheid tot liefde oorgegaan. Makpaatrie en Broes is nie meer uitlanders nie; hulle is Afrikaners.... Op die ent van vergaderings en konserte sing ek God save the King uit volle bors ... (p. 67). Die groot versoening het nie alleen van die Engelse Jingo's Afrikaners gemaak nie, maar ook die Afrikaner-Jingo's bekeer (p. 86). Voortaan werk Oom Stoffel saam met Miesies Ja-mes by die verkiesings.
Maar die kastige "versoening" is juis die toppunt van alle ironie! Oom Stoffel gee homself sy eie doodsteek! Hy het die teëparty so ongenadig gekneus en gelooi, dat ons voel dat húlle nooit ofte nimmer met hom kán saamwerk nie. Hoe moet ons dan die psigologiese raaisel van die versoening verklaar? Delila-Soetlief het die ou takhaar se baard afgeskeer! Nie alles nie—hy het nog heelparty van sy ou swaap-nukke—maar Soetlief "knip elke oggend (s)y bokbaardjie vir (hom) met die skêr reg volgens die nuutste S.A.P.-mode" (p 142). En al die tyd verbeel hy hom, dat Soetlief en sy ou vyande "aan (s)y kant kom staan het en saam met (hom) voel vir die beginsels en ideale, wat (hom sy) lewe lank besiel het ..."! (p. 141.) So kom daar 'n vlymende politieke ironie in die boek. En dit is 'n raak hou, omdat Langenhoven dit reg gekry het om die ou takhaar homself te laat veroordeel.
"If you detect the ridicule, and your kindliness is chilled by it, you are slipping into the grasp of Satire. If instead of falling foul of the ridiculous person with a satiric rod, to make him writhe and shriek aloud, you prefer to sting him under a semi-caress, by which he shall in his anguish be rendered dubious whether indeed anything has hurt him, you are an engine of Irony."[369] Die "satiric rod" was Oom Stoffel se kareekierie; die "semi-caress" het van Soetlief gekom.
"The foppish irony fretting to be seen, and the irony which leers, that you shall not mistake its intention, are failures in satiric effort pretending to be treasures of ambiguity"[370]. Omdat Langenhoven so goed daarin geslaag het om ook hierdie fout te vermy, daarom sal die satiere ook vir later tyd sy oorspronklike frisheid behou, wanneer die politieke koaliesie daarin gehekel al lank reeds tot die geskiedenis behoort. Hy het self die grootste gedeelte van Oom Stoffel se ervarings deurleef en kon die oubaas teken in 'n stemming van vergewende spot. Sy humor is soos Höffding sê "das Gefühl des Lächerlichen auf Grundlage der Sympathie". Al is hy vandag Oom Stoffel se politieke teenstander, hy het die ou bondgenoot nog lief. "Der Humor trägt die Versöhnung im Gemüte. Er unterscheidet sich von dem Witze, dasz er an den Dingen mit denen er spielt einen innigen Herzenanteil nimmt, und das die Lust des Lachens ein inniges Mitgefühl der Rührung für das Verlachte begleitet und durchklingt."[371] Die simpatie behoort Langenhoven in staat te stel om ook die langsame groeiproses van die versoening in Oom Stoffel se gemoed uit te beeld.
Oom Stoffel word ons voorgestel as 'n ongeletterde takhaar. Sagmoedige Neelsie, sy neef skuld hom 'n klompie geld en die moet sy spelling en interpunksie verbeter. Dat Neelsie die Akademie-spelreëls op krietiese wyse toepas—daaroor sal weinig hom seker berisp; maar van die kommas het hy seker 'n goeie honderd vergeet. "Inhoud woordekeus en styl"—alles is van Oom Stoffel. Hoe goed Neelsie hom ingeleef het in die psiege van die ou takhaar blyk uit iedere pagina. Oom Stoffel word vir ons 'n lewende persoonlikheid. Hy redeneer met die egte boere-logika. "Soetlief het rooihare. Met 'n rooihaar-ding—of jy hom ruil of koop of aanteel of trou; hoé jy hom ook kry—steek jy jou in 'n waag." (p. 19.) Dié stelling bewys Oom Stoffel deur sy ervarings met vosperde. "Onder al ... die klomp was maar een goeie. Nou kan die leser by homself uitsyfer wat die kanse is wanneer 'n man 'n rooihaar-ding aanskaf." Dit is 'n raak psigologiese uitbeelding, wat ons direk tref deur sy egtheid. Ook Oom Stoffel se gesukkel om die hoe en die waarom van al die dorpse instellings en gewoontes te verstaan is goed weergegee. "Hoe dít uitwerk weet ek nie en Neelsie kan my dit ook nie uitlê nie.... Waarom kan die Engelse kerk my kerk vat en hom uit 'n blote dorp optel en in 'n city neersit?" (p. 29.) Dit is deur sulke trekke, dat Oom Stoffel lewendig voor ons kom staan. Hy bly nie in die boek nie. Die dorpelinge het straatlampe, "om hulle op hulle pad hel-toe te verlig" (p. 34). Die dokter "kap met die punte van sy vingers oral oor my bors en my maag rond nes 'n houtkapper aan 'n vrot wilgerboomstam" (p. 46). "Waarom sou ek daardie ou koeie uit die sloot opgrawe en aan hulle dooi beendere kou en gallamsiekte kry?" (p. 136). "Ou Ja-mes wat anders so suinig is dat hy 'n vlooi sal afslag en dan die soutkorreltjie viermaal middeldeur maak om die vel in te pekel" (p. 84). Uit sulke en tallose ander voorbeelde blyk hoe diep Langenhoven ingedring het in Oom Stoffel se gedagtewêreld. Oom Stoffel is 'n afsonderlike persoonlikheid. Hy leef, en hy leef sy eie lewe. Hy praat ook sy eie taal, maar wanneer hy skryf, dan herken ons af en toe Neelsie se gladdigheid, regsgeleerdheid en humor. Opvallend is dit nie, maar ons voel dit tog in sinne soos die volgende: "Maar toe die ou weer met my oor die muur aan 't raas gaan, beskuldig ek hom dat hy met vrou en kinders en volk, en met die medepligtigheid en korrupsie en kollusie van ou Broes Dekstrooi, my stelselmatig van my water besteel." (p. 66.) Só kan 'n ou takhaar nie skryf nie.
Enkele minder gelukkige uitdrukkings kom voor: "gedryfde gelukjag (p. 17); dat ek aan 'n boek aan 't skrywe was"[372] (p. 1); ook 'n paar anglisismes, o.a. "die doem van die Adamskind (p. 26).
"Ek het geen rede om te dink dat Oom Stoffel Multatuli lees nie," sê Sagmoedige Neelsie (p. 83 voetnoot). Ons ook nie, maar vir Neelsie self moet Multatuli in baie opsigte 'n simpatieke skrywer wees. Fonkelende vernuf, bytende sarkasme, 'n voorliefde vir paradokse en soms ook vir oud-testamentiese wendings, dit en nog meer het Langenhoven met Multatuli gemeen. Ook sy spelling-opstandigheid en afkeer van "hooggeleerde akademiese here" en deskundiges herinner ons aan Multatuli. "Die geleerde mense is alleen geleerd—die verstandige mense is ongeleerd" (p. 135). "Die land wemel van skitterende deskundiges" (Die Burger, 14 Aug. 1922). En dat hulle self so weinig presteer en net "die verstandige mense" se werk wil kritiseer—dit steek Langenhoven in die krop. Is dit nie of ons Multatuli se uitdaging hoor aan die "hooggeleerde Muurling": "Laat zien wat gij voor den dag brengt, gij ... geen doctorandus meer, maar doctor, leeraar! Gij, geen doctor meer, geen leeraar meer, maar hoog-doctor, hoog-leeraar, leeraar van doctoren, doctor van leeraren, opperleeraar, opperdoctor!" (Idee 279.) "Komäan, hoog-geleerden en zeer-geleerden, lever eens wat volkeren-wijsheid aan 't volk dat uwe wijsheid in huur heeft, en betaalt!" (Idee 281.) Sou Langenhoven hom nie met Multatuli vrolik maak nie oor "den armen speciaal-professor die gestruikeld is over 'n speciaal eigenschapje van 'n speciaal-atoom zijner specialiteit"? Ons gun hom die plesier, as hy maar onthou dat 'n kunstenaar nog iets anders is as 'n hooggeleerde.[373] En ons lag saam met hom oor "taal- en spelling-grille" as hy net nie in ernstige letterkundige werk daaroor peuter nie![374]
VOETNOTAS:
[357] In Die Huisgenoot, Jan. 1921, waaraan hierdie lewensskets ontleen is. Enkele feite kom uit Die Brandwag, Des. 1918.
[358] Twede druk 1909. Die datum van die eerste druk is my onbekend. Doppers en Die Boervrou word in hoofstuk X bespreek.
[359] Vgl. Boshoff: Volk en Taal van S.A., p. 76 vlg.
[360] Des. 1918.
[361] Derde druk, p. 31.
[362] Vgl. Richteren 15:15.
[363] Voorwoord by die 3de uitgaaf.
[364] Welt als Wille und Vorstellung II, p. 109.
[365] Bedoel word Oberammergau, wat tog nie in Switserland lê nie. Vollendam op p. 120 moet wees Volendam.
[366] An Essay on Comedy by George Meredith, p. 65.
[367] English Comic Writers: W. Hazlitt, p. 10. (Bohn's edition).
[368] Sien voorwoord, No. 4.
[369] Meredith, t.a.p., p. 79.
[370] id., p. 83.
[371] Backhaus: Das Wesen des Humors, p. 70.
[372] Vgl. Sonde met die Bure: "En toe gaan ek aan 't skiet aan die haan", p. 24.
[373] Oor die onvrugbaarheid van akademiese professore het Langenhoven hom herhaaldelik uitgelaat. In Die Banier, Julie 1921, beweer hy selfs, dat dit daarna lyk of 'n akademiese opleiding vir die vorming van 'n kunstenaar noodlottig is—wat seker 'n onjuiste bewering is. So 'n opleiding "het uitgeloop, nie op 'n mislukking nie, maar op 'n sukses: op die sukses van 'n beoogde mislukking, want hy was opsetlik bereken om te misluk"! Vir sulke spitsvondigheidjies is Langenhoven maar àl te lief!
[374] Vgl. b.v. Ons Weg deur die Wêreld2, p. 81: "gesteelde—nee, gestole moet ek sê—...." In Aan Stille Waters is daar ook spellinggrappies.
HOOFSTUK VII.
Didaktiese Prosa.
§ 1. Adv. C.J. Langenhoven.
Ons Weg deur die Wêreld I, IV, VI, IX.[375]
Die eerste afdeling: Naarheid en Waarheid bevat aforismes. Bestaande spreekwoorde word aangevul, verbeter of ontken. "Dis wáar, klere maak nie die man nie. Maar slordigheid nog minder." "Een swaaltjie maak geen somer nie. Hy maak nie eers 'n nes nie." "Daar mag halwe eiers wees wat beter is as leë doppe, maar die halwe eiers wat naar my koers toe gekom het was nog altyd vrot." 'n Groot aantal spreuke is woordspelings: "Om te weet is net so maklik as om nie te weet nie. Wat swaar is, is om te weet wát jy weet deur te weet wat jy nie weet nie." In andere klink daar 'n sarkastiese toon: "In 'n vrye land behoort elke koerantskrywer die reg te hê om dwaasheid te verkondig." Die sonde-met-die-bure-motief is hier ook aanwesig: "Dis makliker om die gemeente lief te hê as jou buurman, en die hele menslike geslag as jou vrou se famielie." Oom Stoffel sal seker instem met die volgende: "As die son nou met die beskawing wil saamgaan, moet hy in die nag skyn wanneer die mense wil wakker wees en in die oggend ondergaan wanneer hulle wil slaap." "Vroutjie" se redeneerkuns word so getiepeer: "Oortuig 'n vrou dat sy nie reg is nie, sy klap jou om met simpel almiskié."
Die spreuke is 'n pittige samevatting van die skrywer se lewenswysheid. Daar is raak opmerkings, wat getuig van 'n helder, logiese gedagtegang en 'n uitgebreide ervaring; nuwe waarhede, op pakkende wyse uitgedruk; ou waarhede, in 'n nuwe, oorspronklike vorm. As voorbeelde van sy kernagtige styl kan die volgende dien: "Waar die vader op 'n donkie gery het en die seun op 'n galop, kry jy die kleinkinders te voet." "Kleinserigheid is die voorkant van seerkleinigheid."
In die Ligte Leekprekies (IV) is daar 'n preek vir kinders oor wedywer. "As julle nie weet wat kompetiesie is nie, soek 'n handvol koring en gooi die vir 'n klompie hoenders. Dan sal julle kompetiesie sien." (p. 71, Derde druk.) Die verskille tussen "hoender- en mens-kompetiesie" word dan uitgewerk na aanleiding van wedywer op sportgebied. Die deurmekaar Engels en Hollands pratery "is my skoolmeester se skuld" verklaar Langenhoven. Mooi is dit seker nie!
In 'n Preek vir Nooiens word die deugde van die voorouers teenoor die hedendaagse nuwighede geplaas, en die vergelyking val nie ten gunste van die laaste uit nie, soos blyk uit die volgende lang-asem sin met sy komieklike nadraaitjie: "En onse jonge dogters begint in te teken vir ryk ge-illustreerde mode-joernale en 'n aangeleerde smaak te ontwikkel vir bloedsomloop-versperrende nou-ryg borste-rokke, voet-martelende en senuwee-renewérende spyker-polfytjies; vir die gesig-belemmerende wa-wiel-hoed en die bene-belemmerende hobbelskirt; vir die lae-nek blous en die ope-werk kous." (p. 80.) Teen die wedywer in huweliksgeskenke word ook protes aangeteken: "Maar onder die teenswoordige opjaagvendusie wat van menige bruilof gemaak word, weet jy nie watter geskenk 'n konvensionele pligvervulling verteenwoordig en watter werklik van harte gemeen is nie...." (p. 83).
In Beweging word die ontwikkeling van ons vervoermiddels geskets en die voorgeslag verheerlik: "Baie van ons voorouers had stoomharte by die remskoenwaens; baie van ons het remskoenharte by die stoomwaens." (p. 88.) Al die menslike voertuie is egter onvolmaak, wanneer dit vergelyk word met een "deur die liewe God gemaak." "So stil, so absoluut eengalig, loop die ou aarde wat vir ons oor en deur die peillose afgronde van die hemelruim veilig meevoer, dat die oorgrootste meerderheid van die mensdom vandag nog oortuig is dat sy dood-stil bly staan in een plek, beweegloos, roerloos." (p. 89.) Die aarde is "ons ou moeder-wa" waarop die lewensreis afgeleg word. Dan ontstaan die vraag: "Waarheen? Waartoe? Waarom?"
In die kinderprekie oor Ideale word die volgende spreuk nader uitgewerkt "Die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die wêreld is maar die oeste van ongesiene gedagtesaadjies."
In die sesde afdeling word Die Betekenis van Opvoeding op aanskoulike en helder wyse uiteengeset en nagegaan wat Die Kenmerke van 'n goeie Toespraak is.
In die negende afdeling, waaraan die boek sy naam ontleen, tree Langenhoven op as 'n gids op Ons weg deur die Wêreld. In 'n honderdtal kort prekies, elkeen voorsien van 'n pittige teks word onderwerpe van 'n groot verskeidenheid behandel. Daar is preke oor die mode, dronkenskap, skindery, politiek, sedelike kwessies, ons eksamenstelsel, opvoeding, skuldmaak, fariseïsme, liefdadigheid, eerlikheid, borgstaan, godsdiens, die dood. Ook maatskaplike vraagstukke, soos die verhouding tussen kapitaal en arbeid word bespreek. Hy probeer om homself en sy bure grondig te leer ken. Hoe moeilik die ken jouself is, weet hy maar al te goed: "Die enigste mens in die wêreld wat in die posiesie is om jou te beoordeel is jyself, maar jy is die onbevoegdste, want jy is tegelyk regter en beskuldigde. Jy alleen kan in jou hart inkyk: maar ongelukkig dis jy wat inkyk—die baas en dienaar van die hart." (72.)
Op sy weg deur die wêreld vind hy baie dinge wat verkeerd is, maar tog bly hy optimisties: "Laat ons moed hou, maat, die ou wêreld is darem nie so sleg nie!" (92.) "Die grote waarhede van godsdiens en wetenskap en idealisme en vaderlandsliefde: immers dié regeer die wêreld." (id.) Tog moet hy af en toe peins oor die volmaakte wêreld, wat sou ontstaan as die menslike natuur anders was: "Veronderstel die hele mensdom sou volkome waarheid-sprekend word, wat sou almal nie win daarby nie!" (50.) "Die wêreld kon 'n soort van lushof gewees het waar ons al singende en huppelende 'n lower-beskadude en bloem-bestrooide weg vervolg het van ons wieg tot aan ons graf." Maar ons moet "met skaamte bely: ... Alles is hier skoon en edel en groots behalwe die inwoners." (53.)
Enkele volkstiepes word raak gekarakteriseer; in nommer 10 die man wat by alles voor-op-die-wa wil wees, in 64 die lastige kuiergas, wat "nie gesels nie, maar gesels-maak". In 78 kom een van die weinige anekdotes voor, want die direkte preektoon word maar uiters selde deur 'n verhaal onderbreek.
In die honderdtal preke vind ons veel wat fris en oorspronklik is, en selfs die ou waarhede word op 'n besonder persoonlike wyse uitgedruk, sodat dit prikkel tot nadink. "As jy op trou staan sal jy geen goeie raad aanneem nie, en as jy op sterwe lê sal jy dit nie kry nie." (14.) "My liewe man, moenie vrees vir jou dood nie: vrees vir jou lewe. By jou dood sal jy verby kom: hy sal nie te swaar wees nie; want as hy te swaar sou wees, sou hy onmooglik wees; en as hy onmooglik sou wees, sou jy onsterflik wees. Wees gerus oor daardie laaste plig wat van jou gevorder sal word op die aarde: jy sal nie kortkom nie—daardie laaste skuld sal jy betaal tot op die uiterste greintjie van die uiterste penning" (55). Dit is deur so 'n ongewone manier van sê, deur sulke verrassende wendings, dat Langenhoven meestal daarin slaag om ons aandag vas te hou, want sy preke is pure pit-kos, wat nie in oomblikke van verstrooiing moet gelees word nie. Die oorvloedige gebruik van abstrakte begrippe, die epigrammatiese styl met sy vernufspelings, paradokse en parallele sinsbou vorder die grootste opmerksaamheid van die leser. "'n Bekwame booswig sou minder van 'n booswig gewees het als hy 'n onbekwame booswig was. Dáár, o mens, is jou kostelikste besitting: jou karakter wat jou bekwaamheid bekwaam kan maak ten goede" (68). "Die meeste wyse mense wat ek nog raak geloop het is dom mense, en die meeste slim mense dwaas" ens. (9). "Al ons geluk is verbeelding en alle verbeelde geluk is geluk" (Aan Stille Waters). "Leugenliewende waarheidgierigheid (92), die ontsag vir sy gesag (93), die onreg dat 'n ander die reg ... het" (77)—vir sulke knal-effekte is Langenhoven besonder lief. Dat hy met sy puntige gesegdes soms 'n mooi indruk maak is seker; maar die vuurwerk van sy vernuf verteer ook soms die gedagte wat hy wil uit. Op die manier gaan die eenvoudigheid wat hy bo-alles na streef verlore. "Die eenvoudigste sprekers, die eenvoudigste skrywers, is die wat die diepste, diepste denkers is.... 'n Suiwere gedagte, 'n suiwere waarheid, is van self soveel wêrd dat hy die beste indruk maak as hy op sy eie verdienste, op sy eie waarde, ten toon gestel word in plaas van deur 'n misdamp onduidelik bespeurbaar te wees." ('n Goeie Toespraak.)
Op enkele minder gelukkige taalvorme kan hier nog gewys word: "Die man wiens raad (21 et passim); toe hulle van alle invloede van Kerk en Skool en Wet ontstoke was (27); die taktieke voordeel (37); meineders (85); verrottenheid (86); om te wanregeer (91); ons beweeg die graaf in die grond in" (p. 85, Derde Dr.). Die woordskikking is soms foutief o.a.: "Anders maklik kan jou eie redenasies jouself naderhand ... verlei" (p. 218). Troebel is die volgende beeldspraak: "die lente van nuwe lewe en bottende, bloemende, bloedgalop." (p. 90, Derde Druk.)
Afgesien van die storende gebruik van Engelse woorde soos: dres, mistyk, blackmailer, safe, snobbery, jollie, shabby, independent, ens. is die aantal anglisismes taamlik groot. Die volgende voorbeelde is aan afdeling IX ontleen: "'n Klassiek van die literatuur (12); in growwe opsigte (20); naar 'n gevolgtrekking te spring (21); op die lange baan verydel die luiaard sy eie doel (25); sy professie van reine bedoelings (37); nou en dan trek ons 'n blank; om deliberaat meineed te pleeg (48); raar (Eng. rare) (52); die eerste plig is die makliker plig (61); die wilde-hawer-saaiers in hulle jeug ...; sy iedere woord (71); die ou vriende van jare lange stand" (83). In 'n Goeie Toespraak hoor ons van welsprekendheid, wat platval (p. 216). Ook in die sinsbou stuit mens op Engelse wendings.
Uit die reeks artiekels Aan Stille Waters kan ons Langenhoven se letterkundige opvattings leer ken. "Die hedendaagse Europese dekadensie van die kubiste en futuriste en impressioniste (volgens wie 'n ding moet lelik wees om mooi te wees)" moet nie "aan ons Afrikaanse waarheidssin en eenvoudsgevoel ... af(ge)smeer" word nie. (Die Burger, 14/8/22.) In dieselfde artiekel spreek hy hom teen 'n beroepstoneel uit: "Ek (sou) liewer ons kultuur op die gebied van die drama onontwikkeld sien bly as dat ons beroepsbeoefenaars sou hê.... Ek hoef nie meer te sê nie as dat volgens my insigte 'n klas van beroeps-vermaak-skaffers nie tot genoeg nut vir die samelewing is om op te weeg teen die besware wat daar in te bring is nie." As 'n beroepstoneel niks anders dan "vermaak-skaffers" oplewer nie, sal baie die bewering seker onderskryf; maar van 'n goeie toneelspeler verwag ons tog veel meer dan bloot vermaak! Ook "vir die gewone mens" moet die kuns méér wees as "ontspanning ... tussen die harde en dikwels onlieflike pligte van die lewe." (28/8/22). Maar hoe hoog Langenhoven sy roeping as kunstenaar opvat, blyk uit die volgende: Vir die kunstenaar sal die kuns "nie 'n afwisselende tydverdryf wees nie; dit sal sy hele lewe wees." (id.)
Die Bybel, die psalms en gesange is vir hom die toppunt van alle bereikbare skoonheid. "Hy (d.i. Langenhoven) haal uit die Bybel aan, omdat hy van geen letterkunde in die wêreld weet wat, as 'n saak van blote verhewenheid en skoonheid, in die verte daarby kom nie; en uit ons Psalms en Gesange, omdat hy van niks in die Nederlandse lettere weet wat daarby kom nie" (31/7/22).[376] By so 'n uitspraak het die gewyde inhoud van die aangehaalde werke met hul geheiligde herinneringe seker swaar geweeg. Veral die gekursiveerde stelling wek verwondering, want wanneer die Bybel, weens sy unieke posiesie as die geïnspireerde Woord buiten beskouing bly, dan is daar tog seker genoeg geestelike liedere wat 'n vergelyking met die offisiële gesange glansryk kan deurstaan.
Langenhoven se ideaal is om 'n boek te skryf "wat genot verskaf by die veewagterskraal en nie benede die aandag van die hoogsgeleerde uniwersiteits-professor (is) nie." (12/6/22). "Skryf ek vir die geleerde mense, met die veronderstelling van kennis en ontwikkeling wat hulle reeds klaar besit, dan word ek vir die grote meerderheid van die volk onleesbaar—dan kan hulle geen vattigheid by my kry nie. Skryf ek met die oog op die onbevoorregtes, waar my hart van jammerte en medelye is, dan loop ek die gevaar dat teen die hoof van my nasie die vernederende vreemde verwyt kan geslinger word: Julle is onbeskaaf; julle kultuur is benede die hedendaagse ontwikkelde peil" (id). Die "versoening tussen hierdie twee teenstrydige uiterstes" vind hy in die Bybel en by Homerus. "Daarin is die verhewenste bereik waartoe die kuns van die lettere in staat is, en bereik langes die weg van die allernederigste eenvoud."[377]
Duidelik word sy didaktiese standpunt uiteengeset in Hoe skryf 'n mens? (17/14/22). "Wat ons roeping en plig is, ons wat skryf, is om naar ons broers om te kyk wat die opvoeding van node het wat aan hulle in hulle jonge dae weerhou is en wat hulle nergens anders kan kry nie as by ons.... Met ons boeke, met ons tydskrifte, met ons koerante, behoort ons veral diegene te help wat hulle nie self kan help nie." Langenhoven streef na gemeenskapskuns. Sterk ontwikkel is by hom die liefde vir die massa, vir "die onbevoorregtes, waar (s)y hart van jammerte en medelye is." Op hom is die woorde van Frans Bastiaanse toepaslik: "Als een kunstenaar zoo veel houdt van die massa-idee als een ander bijv. van zijn geliefde of zijn moeder kan houden, dan kan die massa-idee in hem dien ontroeringsstaat wekken, die tot het kunstenaarsschap aanleiding geeft."[378] Langenhoven begaan egter die fout om aan àl ons skrywers 'n didaktiese dwang op te lê en in sy ywer en liefde vir die "arme sukkelaars op die nederigste onderste sportjie" vergeet hy, dat die waaragtige kunstenaar geen skoolmeester is nie. Die waaragtige kunstenaar is iemand wat deur skoonheid ontroer is en wat die wondere gawe besit om sy ontroering in taal of klank of kleur of marmer so te uit, dat die oorspronklike verrukking wat hy by sy skeppingswerk ondervind het, vir ander navoelbaar is. Dat daar van alle goeie kuns 'n veredelende werking uitgaan, is vir die kunstenaar iets bykomstigs; doel mag dit nooit wees nie. "Het primaire van een kunstwerk is de ontroering die er in schuilt, en of die ontroering bij den kunstenaar nu gewekt wordt doordat hij haar krijgt uit het massa-sentiment, of door het natuurleven, of wat dan ook, dat blijft ten slotte hetzelfde, mits de diepere ontvankelijkheid en het kunstenaars-temperament er zijn."[379] 'n Kristen-kunstenaar b.v. sal in sy werk, ja moet as dit eg is, sy godsdienstige gevoelens openbaar, omdat hy in 'n kunswerk vorm gee aan die innerlikste roersels van sy wese. Maar as die self-openbaring van die Kristen-kunstenaar ontstaan, nie uit 'n suiwer-estetiese drang nie, dog met die bedoeling om ander te bekeer, dan word dit 'n preek, wat met kuns niks te maak het nie. As die Kristen alleen uiting gee aan sy godsdienstige ontroering en alleen daardeur gedryf word tot skepping van sy werk, dan kan dit kuns wees. Op dieselfde wyse kan iemand wat diep ontroer is deur die nood en behoefte van ons arm blanke, soos Langenhoven b.v., kuns skep wat hul harte sal raak. Maar gaat al ons skrywers nou voor hul skryftafels sit met die bewuste, vooropgestelde doel: Ons moet "die duisende onbevoorregtes van ons volk", wat nou vir die eerste maal boeke in hul eie taal kan lees, help, tot 'n hoër trap van beskawing ophef, dan kan daar wel goeie didaktiese verhandelinge, ens. ontstaan, skoolboekies vir grootmense, maar nooit ofte nimmer kunswerke nie. Eenvoudig omdat kuns nie gefabriseer of gekommandeer kan word nie, omdat kuns sy ontstaan dank aan 'n spontane ontroering van 'n begenadigde eenling. "An essential in creative art is the artist's temperamental absorption in his own work. Art in that respect is essentially aristocratic, however democratic its appeal may be. That is what Meredith meant when he said, 'Do not democratize literature'. Beer or blankets or biscuits or braces may be manufactured to please the taste of the average man, but art cannot be so dealt with under penalty of losing its quality as art."[380]
Langenhoven beweer: "Die meesterstukke van die wêreld, die klassieke wat die toets van die tyd deurgestaan het, is nie dié wat te hoog vir die volk was nie, maar juis die wat elementaal (verstaan: elementêr) was en hulle beroep gemaak het op die ewige gevoelens en behoeftes en ervarings van die ongekunstelde volkshart." (17/4/22). Om dié snaakse bewering te bewys, neem hy die Bybel as voorbeeld. Maar afgesien van sy letterkundige waarde, wat ongetwyfeld groot is, het die Heilige Skrif deur sy godsdienstige inhoud só 'n bevoorregte posiesie, dat daarop geen argument kan gebou word nie. Shakespeare, Dante, Vondel—aan sulke kunstenaars moet ons die bewering toets. Hulle was en is nog altyd "te hoog vir die volk", soos in hoofstuk II al aangetoon is. Dit is pure onsin om van 'n kunstenaar te verwag dat hy hom na die publiek moet rig. Hy moet eenvoudig getrou wees aan die innerlike stem, aan die heilige ontroering, wat die skepping van kunswerk vir hom tot plig maak.
Muss in Dichters Lande gehen"
sê Goethe. "Dat is een wet van alle tijden voor de poëzie.... Een dichter moet in niets anders leven dan in de aandoening, in de idee die hij aan het dichten is. Hij moet niet met zijn verstand een geleidertje bij zijn werk zetten, dat toekijkt of hij wel zoo schrijft dat vele menschen het zullen kunnen lezen. Dan is de toestand niet zuiver meer en is de poëzie vertroebeld."[381]
Met dit alles word volstrek nie beweer, dat die kuns buiten die maatskappy, buiten die volk hoef te staan nie. "Goede en groote kunst heeft steeds in de maatschappij gestaan; al werkt ze niet rechtstreeks op de massa, zij is en blijft een macht in de gemeenschap. Het voortbrengen van goede, groote kunst is iets zeer persoonlijks en individueels. Als toevallig dat persoonlijke en individueele dwingt tot het scheppen van gemeenschapskunst, prachtig! Maar zoo iets opzettelijk aan te kweeken of bij politieke leuze voor te schrijven is een dwaasheid. De hoogste en teerste en tevens machtigste kunst oefent haar levenden invloed rechtstreeks meestal slechts in beperkten kring, zal wel zeer zelden spreken tot het gevoel en begrip van de grove massa...."[382]
Laat dié kunstenaar wat deur sy innerlike geaardheid en natuurlike aanleg tot gemeenskapskuns geroep word, dit voortbring; maar laat ons dit nie as enge dogma aan almal voorskryf nie, want iedere waaragtige kunstenaar dien die mensheid op sy eie manier. Kloos sê: "Een gedicht is de individueelste expressie van de individueelste gevoelens", en Adama van Scheltema se formulering is presies die teenoorgestelde: "Een gedicht moet zijn een muziekstuk van woorden en gedachten, dat door zooveel mogelijk onzer medemenschen kan worden gevoeld en begrepen."[383]. Tog het albei skoonheid geskep. Maar die indiwidualis, wat in stryd met sy roeping die hele gemeenskap wil dien met sy kuns gaat ten gronde. Ons hoef alleen aan Gorter te dink. En didaktiese kuns wat nie is "ontvangen en geboren uit de onweerstaanbare schoonheidspassie, gesteund door kennis en arbeid" kan wees "leerzame propagandistiese lectuur ..., maar dat gaat voorbij, daaruit vloeit niet de koesterende warmte van het stralend vuur, the joy for ever."[384] "Even in novels of a superior order, which may be marked by some psychological insight, atmospheric truth, and a highly consciencious exposition of character and motive, we find that the didactic touch often robs the story of the qualities of flexible grace and naturalness which are essential to fine craftmanship."[385]. Dit is 'n waarskuwing wat ons kunstenaars gerus kan oorweeg.
Gelukkig hoef ons in Suid-Afrika voorlopig nie te vrees vir indiwidualistiese verwildering nie. Ons kunstenaars sluit hul nie op in ivoren torens, gaat nie op in egoïstiese aanbidding nie, maar staan in die middel van die volk. En as daar nog baie onbevoorregtes is, wat selfs ons nasionale kuns nie kan waardeer nie, dan is dit omdat die weg tot ware kunsbegrip lank is. Deur aan die volk hul moedertaal op die skool te gee het Langenhoven die enigste weg ingeslaan waarlangs hul gelei kan word tot 'n waardering van egte kuns.[386]
§ 2. Dr. C. Louis Leipoldt.[387]
Praatjies met die Oumense, (1918).
Die grootste gedeelte van die bundel bestaan uit 'n populêr-wetenskaplike behandeling van mediese onderwerpe, soos kanker, geslagsiektes en die drankkwessie. 'n Vyftal opstelle behoort egter tot die didaktiese literatuur. Die Praatjies is geskrywe "om oumense, veral die wat ouers is, aan te spoor om vir hulleself te dink".[388] Groot nadruk word gelê op die noodsaaklikheid om logies te redeneer en die skrywer toon dan ook dat hy dié kuns goed verstaan. Sy rustige betoogtrant munt uit deur klare eenvoudigheid. "Soos dit nou gaan, is die meeste gepraat selfs oor belangrike sake net maar babbelpraat, omdat diegene wat in die bespreking deel neem nie die moeite gedoen het om vooraf die feite, wat op die onderwerp van toepassing is, te leer ken nie." (p. 17.)
Die kuns om te lees, verbeelding, opvoeding, vryheid en verdraagsaamheid—dit is die didaktiese onderwerpe wat behandel word. Sy pleidooi vir 'n suiwer Afrikaanse beeldspraak verdien die aandag: "Ons hoef vir geen nasie agter te staan nie, wat vergelykenisse, geput uit ons natuur, ons geskiedenis, ons alledaagse lewe, betref, maar waar sien of hoor jy dat ons publieke sprekers van sulke nasionale beelde 'n algemene gebruik maak?" (pag. 43.)
Telkens word Multatuli met groot ingenomenheid aangehaal en die lesing van sy werk aanbeveel[389]. 'n Paar van Leipoldt se denkbeelde is taamlik rewolusionêr en sal, deur ons land ten minste, seker 'n klein Multatuliaanse "rilling" laat gaan. Hy is 'n teenstander van godsdiens-onderwys op skole. "Is dit nie veel beter nie om uit die Bybel te put stories en stukkies wat 'n rein opvoedkundige waarde het, en dit voor te dra in die skool as deel van die algemene geskiedenis soos dan ook die Herbartse volgelinge dit doen?" (p. 84.) Sendingwerk beskou hy as 'n uiting van onverdraagsaamheid. Die sendelinge is "uitstekende, mensliewende persone.... En tog, dieselfde beminnelike mense gaan naar ander mense, wat nie juis bely wat hulle bely nie, en kwets die mense in hulle diepste en heiligste gevoelens op 'n manier wat hulle van jou en my nooit sal verdra nie." (p. 150.) Op p. 34 is sprake van "die middeleeuse hipotese van erfsonde" en "die predestinasie of verdoemingsleer van die Kristelike kerk." Predikante en prokureurs kry 'n opslagskoot op p. 16: "Die meeste van ons is geneig om die deskundige te wantrou. Daar is net twee van die soort mense aan wie onder ons mense 'n algemene roem toegeken word, naamlik die predikante en die prokureurs, en op die keper beskou is hulle deskundigheid tog maar van die minste waarde"!
Leipoldt se helder prosa bevat ongetwyfeld 'n belofte. "Ek weet dat wat ek aanvoer van belang is vir ons volk, en dat dit algar dinge is, waaroor 'n verstandige mens behoort na te dink" verklaar hy in sy voorwoord. Die waarde van sy Praatjies lê daarin, dat dit 'n aansporing tot selfstandig dink bevat. Op enkele minder gelukkige taalvorme kan nog gewys word: "Ons herinner, hoe sy ewe manmoedig ... pal gestaan het (p. 12); as ek dus iets verbeel (p. 29); hy is een van die mense wat ... die naam van mistiek mag dra" (p. 32). "Die strikte onderwyser" (p. 87) en "vandag is ons begrip nog geverwe deur gewoonte" (p. 145) is anglisismes.
§ 3. G. Jordaan.
G. Jordaan vertel in Die Muurkassie (1919) hoe Oom Andries "deur oppassendheid en sorg ryk geword het". Hy hou vas aan die voorvaderlike gewoontes en gereeld kom die Bybel uit die muurkassie. As klein Andries, uit wie se jeug allerlei awontuurtjies meegedeel word, egter groot is, trou hy met Florence McWire. Hy word een van die "society-mense" en dit duur nie lank nie of die muurkassie word die bewaarplek vir kaarte en brandewyn. Armoede volg en na 'n beskouing oor die arm-blanke-kwessie roep die skrywer sy lesers, "wat ook grond geërf het van hulle ouers" toe: "Daar kom 'n stroom van immigrante uit Europa. Vele oë is op die erwe van die voorgeslagte (die plase van die boere). Laat ons met rotsvaste beslistheid Naboth nasê: Dit zij verre van mij dat ik u geven (of verkopen) zal de erve mijner vaderen!"
Jordaan "skryf as gewone boer aan (s)y landgenote"[390] 'n eenvoudige lekeprekie oor 'n aktuele kwessie. Ter afwisseling vertel hy 'n paar grappies: Oom Willie val in die stampkarring, Oom Andries in 'n bad water, ens. Maar sy waarskuwing is ernstig, en ofskoon van geen letterkundige, seker van kulturele belang. Hy is ook die skrywer van: Hoe zij stierven.