Dit is begin Septembermaand.
Nog oor die bulte ruis die wind
Wat met sy stof die land verblind
Tot in die sagte skemeraand.
En lang-gestrek lê kaal en hard
Die afgebrande veld, soos lyk
Waardeur die nuwe grassies pryk
In geil-groen glorie teen die swart.
En rondom word die voorjaar wees
As winterse geroggel dreun;
Die laaste windbui slaak sy kreun
En gee in woede dan die gees.
En warm en weeld’rig wek die son,
Wat teen die veld sy kleure sprei,
Weer lewe uit die dorre klei,
Met bo ’n suiwer blou blafon.
Die gompou stap in sedigheid,
Die flap trek aan sy somerdrag
En fladder rond in fiere prag,
Vir wat die somer bring bereid.