Ek wag hom in my kamer waar ek woon
Met smart, wat siekte seerder maak, as maat;
Ek wag hom sonder haat,
En sonder afguns, want ek weet my loon
Sal hy betaal tot op die laaste toe;
En hoe
Sal loon my toekom—doodsloon wat ek win
Deur harde lewenswerk, dag uit, dag in,
En deur die bange nagte—as ek nie
Vooruit akkoord gemaak het met sy mag
Vir dit of dat?
Is gans my siel van lig en lewe sat
En smagtend na sy rus,
Wat droomloos, ongestoor, my siel sal kus—
Soos ’n groot, stil, swart seekoegat wat sag
Die droë, dooie blare van die boom
Wat oor die water droom,
Op sy deur-wind-gerimpelde vlakte sus,
Oneindig op en neer,
Oneindig heen en weer,
Totdat die droë, dooie blare sink,
Verrot, vergaan, vermink,
Weg in die water, wat hul krag sal los
Om krag opnuut te skenk aan struik en bos
Wat deur die water nuwe lewe kry?
Ook so met my.
Die dood sal my beloning gun. Sy krag
Sal myne insluk om daarvan te gee
Hernude krag en onbereikb’re vree,
Waarteen die donker van die swartste nag,
Die sterkste vyand, en die stoutste vrees,
Nie meer kan seëvier nie; en my gees
Sal amen sê as eind’lik ek moet hoor
Die oproep: „Dit is tyd! Kom, eer jou siel versmoor!”
Ek wag hom op die veld waar lente pryk
In volle rykdom van verdubbelde groen;
Waar koel die môre-wind die vlaktes soen,
Voordat die blou bereik
Sy dagtriomf van teerste malagiet,
Waardeur die strale skiet
Tot op die suiwer prag van blomme en gras.
Dit was vir my—dit was
’n Koningsland belaai met koningsprag.
Die blye sonskyn en die louter lig
Wat vlam op my gesig;
Die liewe, wilde, opgesnuifde krag
Van geure-wierook oor die hele vlei;
Die ruik van heuning orals uitgesprei;
Die argloos-weeld’rig lewe-worst’ling hier
Waar alles hoogty vier;
Die bor’lend-propvol kleurgevlekte glans
Teen elke bult en krans,
Was myne, myne! Wat my siel kon hou,
Was vir my! En ek wou
Dit alles herberg gee hier in my hart,
In kamers toe nog net bewoon deur smart.
Ek wou dit burgerreg verleen—
Òf alles òf maar een
Daarvan, sover ek kon; en dan tevrede
Was ek met gister en met hede—
Tevrede om te wag totdat hy sê:
„Jy het genoeg geniet. Wat hierso lê,
Is maar die skadu van wat ginds verrys.
Ek sal jou wondere wys
Waarby jou hede niks is. Kom met my
En proe die rykdom wat jou siel hiernamaals kry.”
Ek wag hom waar nòg vrind nòg vyand vra
My siel om liefde of liefdelose haat;
Waar, wat ek ook moet dra—
Òf haat òf liefde—, net maar woorde is
Waarmee my hart nie twis
Of oorlog maak nie, as van goed en kwaad
Ek onbewus en onverskillig neem
Wat ek as mens geregtig is te erf
Van lewenslus voordat my siel versterf—
Voordat, van vreug vervreem,
Wat siel is in my sugtend, eensaam staan,
En huiwerig vir ’n onheil onbekend
Ver in ’n sterlose, onbegrensde nag,
Waar kille koue slaan
Teen my van elke kant waar ek my wend
Om steun te vinde vir verstikte krag.
Groet God, en gee die lewe wat verleng
Word tot daar nie meer lewe is nie, prys
Vir iets wat groter skyn—die gees wat meng
Met elke gees, onskuldig, of bedek
Met vuilnis wat die fierste roem bevlek,
Tot liefde volle vergifnis eis.
So wag ek hom totdat hy eenmaal wink
En vrindelik, of met vyandskap, my hand
In syne gryp, en, as my son versink,
My wegruk na die veraf dodeland,
En langs die pad my aflei waar voorheen
Kind, koningskind, en koning, op sy tyd
Gewandel het, en leen
My sterkte as ek stap; en ek, gewy
Aan hom, sal seën vinde as ek staan
Omring deur algar wat voorheen gegaan,
Voorheen geworstel het, en aan hom gee
Alles wat hier op aard my siel ontroof van vree.
Ek wag hom waar die vreedsame gesin
Sy dagelikse gang geduldig gaan;
Waar huiselike vlyt en deugde win
’n Vrede ruim genoeg vir een
Wat wyer roem versmaad
En bo oorwinning kies ’n vredeseën.
En waar die liefde wat nòg woord nòg daad
Verag om louter liefde te betoon
Aan wat hy liefhet, woon.
Hier voor die ope huisdeur, waar die wind
Die vrolike weergalm bring
Van veraf veldkanaries, bly-gesind,
Wat met die klaaglied van die kwê-voël ming
En met die dowwe gons wat brombye maak,
Hier besig met hul taak
Van blom tot blom, waar die seringboom strooi
’n Bont tapyt die grond oor, en die hooi
Sy heuninggeur die wêreld vrylik skink—
Hier waar die sonskyn blink
Op wasige druiwe wat die ou priëel
Se rankende wynstokstamme jaarliks teel—
Hier wag ek hom, vergrys, miskien, en lam,
My lewensvonk verdoof, om nooit tot vlam
Weer op te vlieg nie; of nog sterk en fris,
Met liggaam en gees wat niks nie mis,
Met planne vir die toekoms, fondamente
Waarop paleise nog gebou moet word,
Met liefde en genot nog uit op rente,
En meer daarby, ryk as ’n man kan wees,
Strydlustig, met die lendene omgord.
Weet ek hy kom, of weet ek nie—dis een.
Vir kennis of geen kennis, sal ek vrees?
Vir iets wat welkom is, en wat as seën
My voorkop kus as in die skemerlig
Die Dood my eind’lik groet, gesig teen my gesig?