En sawends om die uitspan-vuur
Ná al die dagwerk afgedaan
En die seiltente opgeslaan,
Sit oom en neef in babbeluur.
Bo skyn die blink suidsterreskaar;
En rondomheen is swart en sag
Ons liewe Afrikanernag,
Wat met die dag in pronk kan paar.
Die vuurtjies flikker rook-bekroon,
En vonkies fladder oor die rook;
En in die lewende skadu’s spook
Die honde wat die naglug hoon.
En eensaam in sy wa apart
Daar sit ’n man en droom en dink,
Totdat gedagte in droom versink,
En tot in pure vreugde-smart.
Want in die flikker van die vuur
Bespeur hy prentjies wat hom steun—
Pilare waar hy teen kan leun—,
Al dreig die Noodlot nog so suur.
Profete-hande in sy droom
Wys waar die toekoms weemoed paar
Aan groot genot onrekenbaar,
Wat Tyd, nog Tyd se terge, toom.
Gun, droewige Snyers van die Draad
Wat stel die voorgeskrewe uur—
Gun hom sy drome by die vuur
Waar ander droom en dink versmaad!