Hy wat alléén ’n deurtog soek
Waar nog geen mens se voetstap was,
Voortsukkelend met sy eie las,
Beroof van hulp, deur hoop gevloek;
Wat skimp nòg swaar verdrukking my
En werk nòg harte-smarte spaar
Om in sy skure jaar ná jaar
Die stadig-rypende oes te kry;
Wat, waar die sterre oor hom skyn
Snags in die stille duister-groen,
Volhardingsvol sy arbeid doen
As hoop op seë kleiner kwyn,
En, met die sterre van die nag
Getuie van sy lydenswee,
Sy siel en wat hy liefhet, gee
Vir alles wat hy heilig ag—
Net soos in middeleeuse tyd
Die kloostermonnik wank’lend staan,
Nog onbeslis om voort te gaan
Met smartvol, angstige sielestryd:
Daar lok die wêreld met sy prag
Wat hom wat seëvier, bekrans
Met roem, met rykdom, en met glans
En op die kloeke vegter wag,
En daar hang Hy wat boontoe wys
En bowe aardse rykdom troon,
Die Heiland met die doringkroon,
Wat driemaal heilig eerbied eis—
Hy sal vergelding ryklik smaak
In ruime mate in sy hart,
Want lang-verduurde sielesmart
Is wat die sielskrag sterker maak.