Dis winter, en die boom verblaar;
In bruin hou al die bulte rou;
Die môremis lê vou op vou
Oor pan en plat land opgegaar;
En rustig waai die môrewind,
Wat skaars die ruigte-halme roer
En oor die kaal veldwêreld voer
Sy groetnis aan sy berge-vrind.
Die lewe wat die lente kroon,
Lê slaperig in sy rougewaad,
En in die harde sooi die saad
Wat later hoog in groen sal troon;
En wat nog, ná die stryd verduur,
Ná smart-geworstel, roggelkreun,
As pragpilaar die bou sal steun—
Dit sluimer nog en wag sy uur.
Gun ook ’n volk sy wintertyd
Om rus te neem en krag te win,
Voordat die somerson begin,
Met groen en sap, sy somertyd.