In kring staan al die waens gelaer—
’n Kraalmuur teen die vuur se lig,
Met elke tussen-opening dig
Met doringboomtakke aan mekaar.
En Ouma, wit gerimpel, gee
’n Knikkie teen die duister: „Kyk,
Die maanlig op die wolke lyk
Amper soos maanlig op die see.”
Die kleinspan het vir Oupa beet
En soebat: „Oupa, toe, vertel!”
Maar Ouma: „Kinders, moet nie kwel
Vir Oupa, want hy wil vergeet.”
En hy, die langbaard halfpad wit,
Sê: „Nee, vrou, ek sal nooit vergeet!
Kom, kinders, julle wat wil weet
Iets van die see, hier om my sit.”
En klein en groot skuif nader voor
Te luister na wat Oupa sê;
En soos die osse en veetjies lê,
Lê half die laer om aan te hoor,
As af en toe die rooibos-hout
Vooruitgestoot word dieper in,
Om groter vuur en vlam te win,
En boontoe skiet sy vonke goud.