WeRead Powered by ReaderPub
Dingaansdag cover

Dingaansdag

Chapter 28: XXIV.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

Die bundel bied ’n reeks losse, hoofsaaklik liriese gedigte wat liefde vir die moederland en kommer oor volksgestelde toestande verwoord. Dit wissel tussen ryk botaniese en landskapbeskrywings en ernstige besinning oor onreg, verdeeldheid en verlies, met konkrete tonele van plaaslewe en die uitverkoop van erfenis. Die digter spoor aan tot eenheid, hoop en moed, en bepleit heropbou van gemeenskaplike krag; historiese herinnering en hedendaagse kritiek word langs mekaar geplaas. Stylisties beweeg die werk tussen invokasie en loflied aan die land, en elegieë wat morele refleksie en roepings tot daadvoering bevat.

XXIV.

In die outyd vertel hul ’n storie
Van Glaukus, die visserman,
Wat eenmaal ’n vis gevang het
In sy net tussen kurke gespan.
Die vis was so groot soos ’n walvis,
En die net het geskeur met die vang;
Maar Glaukus het dapper geworstel
Vir ure en ure lang
En eind’lik die vis op die wit strand
Gebring waar die bossies staan,
Waar die glans van die skemer-sterre
Meng met die skyn van die maan.
En die vis, wat half dood en half flou was,
Het vinnig ’n bossie gekou;
En die bossie se krag het hom só versterk
Dat niemand hom meer kon hou.
’n Klap met sy stert en ’n sy-spring,
En weg was die vis in die see,
En Glaukus staan vrywe sy oë,
Jammerlik ontevree!
Hy dink by homselwe: „Die bossie
Moet wrintig die sterkste wees,
Om somar ’n halfdooie haaivis
Van bloedverlies te genees.
Wat goed is vir visse, kan mense
Miskien ook wel deeglik baat;
Probeer maar ’n blaar van die bossie,
En kyk hoe dit daarmee gaat.”
Hy vat van die bossie se blare,
En kou dit langsaam fyn;
En toe hy dit kou, toe voel hy
Sy moegheid en matheid verdwyn.
Hy voel die trek van die branders,
Die vleiende streel van die see;
En die blou-swart water lok hom,
En die visse roep: „Kom mee!
Kom saam in die waterwêreld,
Waar kraalgeraamtes staan,
Verlig deur die glans van die ondergloed
En die dowwe skyn van die maan,
Waar die wrakke van ou skepe lê
Met pêrelskulpe oorgroei,
En die slingerende seegras bande maak
Wat die dooie vissers boei,
Waar die seevrou waak in groen gewaad,
En die seeperd galoppeer,
Waar die krap en kabeljou vergaar
Om op ’n lyk te teer.
Kom ondertoe! Kom ondertoe,
Waar alles jou welkom heet,
Jy wat vanaand van die wonderbos
Jou eerste blaartjie eet.”
En Glaukus voel sy lede word
Gerek tot vinne, en voel
Sy vel word skobberig as dié van ’n vis;
En sy bloed word naar en koel.
En hy spring met ’n wilde haaivis-spring
Diep, onder die branders in,
En swem na die silwer-ondergloed
Om die visseryk te win.