WeRead Powered by ReaderPub
Dingaansdag cover

Dingaansdag

Chapter 35: XXXI.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

Die bundel bied ’n reeks losse, hoofsaaklik liriese gedigte wat liefde vir die moederland en kommer oor volksgestelde toestande verwoord. Dit wissel tussen ryk botaniese en landskapbeskrywings en ernstige besinning oor onreg, verdeeldheid en verlies, met konkrete tonele van plaaslewe en die uitverkoop van erfenis. Die digter spoor aan tot eenheid, hoop en moed, en bepleit heropbou van gemeenskaplike krag; historiese herinnering en hedendaagse kritiek word langs mekaar geplaas. Stylisties beweeg die werk tussen invokasie en loflied aan die land, en elegieë wat morele refleksie en roepings tot daadvoering bevat.

XXXI.

Waar die koorsboom sy geel aan die wêreld vertoon,
O wyd is die vlakte, die vlakte!
En geil is die groei van sy katdoring-kroon
Wat groei op die vlakte, die vlakte.
Dis wilde bos-lommer, berank en geboei,
Met geilste klimop in geen jare gesnoei,
Waaronder die blou-apies klouter en knoei—
Die volk van die vlakte, die vlakte!
Die rooi-geel suurknolle pryk somermaand daar—
O mooi is die vlakte, die vlakte!
Die trotse rooi aalwyne, deftig geblaar,
Wat waak oor die vlakte, die vlakte!
Die heuningsoet peuldoring, die varings so slank,
Die bontblom wat orals die bosse oor rank,
Die moepel waarin die vaal koringboer tjank—
Hul waak oor die vlakte, die vlakte!
O plat is die pad wat hier slinger en sluip,
Dwarsdeur hierdie vlakte, die vlakte,
En sag is die mos wat met reënwater druip
Hier neer op die vlakte, die vlakte!
O pragtig die kleur wat die skemeraand sprei
Oor bosveld en grasveld, oor bulte en vlei,
En pragtig die groen wat die wêreld hier kry
By nag op die vlakte, die vlakte!
Die klowe is steil, en die berg is hoog:
O gee my die vlakte, die vlakte—
Al is dit ook winter en alles is droog,
En geel op die vlakte, die vlakte!
O hier is dit vry, en die wêreld is stil,
Met nêrens ’n weerklank, met nêrens ’n gil,
En weelde van kleure so veel as jy wil—
Hier op my ou vlakte, die vlakte!