Raak nooit jou hoop op uitkoms kwyt,
O broer en suster in jou wee,
As skel die wilde branders skree
En teen die smart jou weerstand slyt.
Die wapens wat jou siel besit,
Is sterk om droefnis af te weer;
Die hefboom wat jou hart hanteer,
Druk self die Noodlot half uit lit.
Hy wat die helm van Liefde dra,
Die harnas van Geloof behou,
En met die skild van Broedertrou
Die ongelykste worst’ling wae—
Hy is gewapen kern en spits
Teen wat ook al sy lot voorspel,
Al is die donker rondom Hel,
Waarin die veraf weerlig blits.