Soos ’n slang wat daar kronkel
En gly en verdwyn
As die son op hom fonkel
En die goud oor hom skyn,
So skitter en bewe die blits,
en die donder gee luid ’n refrein.
Almagtige winde
Dwaal rond op die vlei—
Hul vreet wat hul vinde
En breek wat hul kry,
Op wilde verwoesting gerig,
van die skuld van vergelding bevry.
Dof donkerblou bande
Versluier die nag;
Die berg se ver rande
Is swart in hul prag,
En swarter die stormswanger wolke
belaai met die onweer se mag.
Dit bars en dit kraak,
En die hemel skiet vuur:
Die wolke neem wraak
Op die middernag-uur—
En die wêreld is moeg van die worstel,
en sat van die stryd die Natuur.