Die koning sit en kyk dit aan,
Onstuimig, nydig in sy hart.
Hy sit daar somber en apart—
Daar waar hy alles gadeslaan.
En niks toon onraad in sy siel;
En niks die nyd wat ontrou baar
Hier in sy swarte leërskaar—
Hier waar sy mense rondom kniel.
Hy klou sy kierie in sy nyd
Krampagtig met sy vingers vas;
Sy oog gewaar geen groen van gras—
Want wat hy sien, is bloedrooi stryd.
En in sy ore dreun sy haat
Soos bier wat borrel in die vat,
En om hom lê sy koningstad
En al die rykdom van sy staat.
En nyd en vrees bespeur net nood.
Sy hand gryp aan sy prag-karos
En plots’ling brul sy wreedheid los:
„Slaan dood die towenaars, slaan dood!”