Nie vir hom ’n graf te win,
Nie vir hom ’n kis te kry!
Spinnerak oor die grond gespin
Waar die môreson na vry,
Deur die oggenddou bemin,
Met ys-pêrels aangery—
Dis die lykkleed wat hy win,
Hy wat nooit ’n kis sal kry.
Soos ’n stokou steenbok sterwe,
Eensaam op die veld alleen,
As die son die vlakte verwe
Ná die reine somerreën—
Sal hy so sy dood beërwe
As die laaste liefdeseën?
Is sy lot so uitgekerwe
Deur die Noodlot, lang voorheen?
Of is syne harder einde,
Blits-bestraal—met donderdreun?
Ting’rig, brok’lig, smart-verfynde
Lewe wat versink in kreun,
Soos ’n warrelwind-gepynde
Lelie wat sy kop moet leun,
En sy alte lang verkwynde
Mooiheid opgee sonder steun?
Graf nòg kelder uitgekerwe
Dek die helde waar hul slaap;
Stofkleed van die wind geërwe
Is hul lykkleed waar hul slaap—
Stof van dit, hul eie wêreld,
Kanaan waar hul nooit sal bly,
Bloedstof wat hom in hul sluimer
As ’n sluier oor hul sprei.