O glorie van die nag,
O donker prag
Van wat die dag
Verskuil het vir ons aangesig,
Wat eers ’n wolkgordyn
Verhinder het te skyn—
Ster met jou statige lig,
Wat voor die swart moet swig
Maar tog onsterflik wag
Om weer te glim en lag
As wolk en wind verwarrel sterwe
Of doelloos oor die hemel swerwe.