WeRead Powered by ReaderPub
Dingaansdag cover

Dingaansdag

Chapter 66: LXII.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

Die bundel bied ’n reeks losse, hoofsaaklik liriese gedigte wat liefde vir die moederland en kommer oor volksgestelde toestande verwoord. Dit wissel tussen ryk botaniese en landskapbeskrywings en ernstige besinning oor onreg, verdeeldheid en verlies, met konkrete tonele van plaaslewe en die uitverkoop van erfenis. Die digter spoor aan tot eenheid, hoop en moed, en bepleit heropbou van gemeenskaplike krag; historiese herinnering en hedendaagse kritiek word langs mekaar geplaas. Stylisties beweeg die werk tussen invokasie en loflied aan die land, en elegieë wat morele refleksie en roepings tot daadvoering bevat.

LXII.

Stil lê die dooie moederlyk
In sederkis met swart beslag,
Geraam in blink groen mirteprag
Waarteen die katjiepierings pryk.
Die lig val saggies op die vloer—
Lynregte strepe stof-belaai,
Waarin die fyne donsies draai
As iets in die doodskamer roer.
Dis stil hier by die moederlyk,
Hier om haar swart getooide kis,
Hier waar dit alles rustig is
En waar die katjiepierings pryk.
En by die dodekamer staan
Die rou-gedoste huisgesin,
Wat steeds die moedergees bemin
En smart sy reg gee op ’n traan.
Dit was haar reg om so te wees
Ná sag die Dood haar slaaptyd gee,
Te win ’n rus, ’n stille vree,
Hier vir haar liggaam sonder gees;
Maar nie haar lot nie. Op die sooi,
Vermink, vertrap, met bloed bevlek,
Dáár lê haar lyk, en bo haar trek
Die aasvoëls nader by hul prooi;
En rondom is nòg rou nòg wee,
Maar net die eensame, ewige veld,
En niks vereer die moederheld—
Net maar die milde middag-vree.