WeRead Powered by ReaderPub
Dingaansdag cover

Dingaansdag

Chapter 68: LXIV.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

Die bundel bied ’n reeks losse, hoofsaaklik liriese gedigte wat liefde vir die moederland en kommer oor volksgestelde toestande verwoord. Dit wissel tussen ryk botaniese en landskapbeskrywings en ernstige besinning oor onreg, verdeeldheid en verlies, met konkrete tonele van plaaslewe en die uitverkoop van erfenis. Die digter spoor aan tot eenheid, hoop en moed, en bepleit heropbou van gemeenskaplike krag; historiese herinnering en hedendaagse kritiek word langs mekaar geplaas. Stylisties beweeg die werk tussen invokasie en loflied aan die land, en elegieë wat morele refleksie en roepings tot daadvoering bevat.

LXIV.

Die beste wat Natuur ons skink,
Die grootste wat ’n mens verdien,
Is dat sy oog die rykdom sien
Van gras wat bloei, van son wat blink.
Die swaarste wat die mens moet dra,
Is dat sy oog sy werk vergeet,
En hoe om reg te sien nie weet,
En hulp van hand en harsings vra.
Maar hy kan wens sy oog is blind
Wat so ’n gruwel-ding moet skou—
Die naarste wat die waarheid hou—
Die lyk van ’n vermoorde kind.
O slanke wese, rein as reën
Wat van die winter-wolke stort,
Onskuldig, vóór die wêreld word
Jou bank waarvan jy skuld kan leen!
O skitterende ogies lig geverf
Met wat van siel ons oorhou van
Gods groter siel, waarvan die man
Maar min behou voordat hy sterf!
Daarin was liefde, louter, rein,
Omhelsend soos die moedersee,
Of soos die engel Gabriël gee
Aan sondaars wat voor hom verskyn.
Daarin was lewe, laggende laai,
Die perd se draf, die bok se spring,
Die voël se vreug wat juigend sing,
Die vis se duik, die slang se swaai.
Die reinste onskuld, skaamteloos—
As skaamte skuld is—was daarin;
Die krag om skoonheid te bemin
Sonder om vir dié krag te bloos.
Daarin was wete onbewus
Van wat nog vóór die lewe lê—
Die kennis wat vir kinders sê
Genoeg om twyfel-angs te sus.