WeRead Powered by ReaderPub
Dingaansdag cover

Dingaansdag

Chapter 72: LXVIII.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

Die bundel bied ’n reeks losse, hoofsaaklik liriese gedigte wat liefde vir die moederland en kommer oor volksgestelde toestande verwoord. Dit wissel tussen ryk botaniese en landskapbeskrywings en ernstige besinning oor onreg, verdeeldheid en verlies, met konkrete tonele van plaaslewe en die uitverkoop van erfenis. Die digter spoor aan tot eenheid, hoop en moed, en bepleit heropbou van gemeenskaplike krag; historiese herinnering en hedendaagse kritiek word langs mekaar geplaas. Stylisties beweeg die werk tussen invokasie en loflied aan die land, en elegieë wat morele refleksie en roepings tot daadvoering bevat.

LXVIII.

Wraak—wat is wraak?
As die goue basuine blaas
En die lang, lang dooie lyke met nuwe lewe raas,
En vyand staan naas vrind
In die laaste glorie, blind,
Sonder herinnering of onthou
Van haat en smart wat die dood verflou,
Met net die oë stram gerek
Op wat die dooie lyke wek
Uit hul eeue-oue dodesluimer
Tot ’n nuwe lewe, groter, ruimer
As ooit gelewe was op aarde—
Wat is die waarde
Van lang-gebergde wraak?
Wraak—wat is wraak?
Is dit wraak wat t’rug vir die mensdom gee
Plesier en genot en rus en vree,
Soos die koel sag wind aan die worstelende see?
Is dit wraak wat die moeder se trane droog?
Wraak wat blind maak die vader se oog?
Wraak wat vertroos as geen trooster is?
Wraak wat weet hoe om uit te wis
Alles gely en alles gedra?
Wraak wat nooit vergelding vra?
Wraak—wat is wraak?
In die lange nagte, stil alleen,
As jy nie meer ’n traan het om uit te ween,
Nie meer ’n sug het om uit te sug,
As jy staan in jou droef tot sout versteen—
Soos Lot se vrou in Sodoms lug—,
Met nêrens ’n pad om mee uit te vlug,
Stok-alleen,
Jou tong verstom, jou oë blind,
In jou ore die suis van die skemerwind,
Onmagtig, lam—soos ’n klein, klein kind
Wat, weg van sy moeder se skoot verdwaal,
Uit angs vergeet het sy eie taal—,
Jou hande styf gekrom met pyn,
Jou haat gestil as jou hoop verkwyn,
En in jou ore die dof refrein
Van die skemerwind wat sing en skree:
„Jy het alles vir niks en niks gegee—
Afgegee en opgegee
Vir niks en weer niks! Laat maar bly:
Die dood sal alles wat doodgaan, kry!”
As jy nié meer vertroue het om te vertrou,
Wat is jou wraak dan werd vir jou?