WeRead Powered by ReaderPub
Dingaansdag cover

Dingaansdag

Chapter 9: V.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

Die bundel bied ’n reeks losse, hoofsaaklik liriese gedigte wat liefde vir die moederland en kommer oor volksgestelde toestande verwoord. Dit wissel tussen ryk botaniese en landskapbeskrywings en ernstige besinning oor onreg, verdeeldheid en verlies, met konkrete tonele van plaaslewe en die uitverkoop van erfenis. Die digter spoor aan tot eenheid, hoop en moed, en bepleit heropbou van gemeenskaplike krag; historiese herinnering en hedendaagse kritiek word langs mekaar geplaas. Stylisties beweeg die werk tussen invokasie en loflied aan die land, en elegieë wat morele refleksie en roepings tot daadvoering bevat.

V.

O vaderland, verlate vaderland!
O akkerboom en ranke wit pop’lier
Wat my ou plaas versier,
Daar deur die voorgeslag geplant,
Nou lommerryk oor my vaderhuis—
Koel skadu-takke oor die sluis,
Waar ná die oes die meulstroom bruis—
Vaarwel o akkerboom en wit pop’lier!
Vaarwel, verlate vaderland!
O blomtuin vol met tiemie en blou violet!
O vrugboom-oord en stinkhoutpaal-priëel,
Waarom die bye speel
En heuning haal en brom uit blote pret,
Waar druiwerank geklouter pryk,
En boontoe teen die gewel reik,
En tussen klimop-rose kyk—
Vaarwel, o vrugboom-oord en ou priëel!
Vaarwel, o tiemie en blou violet!
O ouershuis met kafhok en met kraal!
O platklip-stoep en gras-begroeide brug,
Waar saans die paddas sug
As in die skemerlig vuurvliegies dwaal,
En die aandblomme oopgaan, en die nag
Sy sluier werp oor hierdie plaas se prag,
En oor die wêreld bo die sterre wag—
Vaarwel, o platklip-stoep en biesiebrug!
Vaarwel, o huis en kraal!
Ons gaan die wêreld in
Om ’n nuwe oord te win—
Om ’n nuwe land te kry,
Waar ons kan lewe vry.
Vaarwel, vaarwel, al is geen weersien meer!
Vaarwel, en nog ’n keer,
Vaarwel!