WeRead Powered by ReaderPub
Kampstories cover

Kampstories

Chapter 10: VII. Die Stout Seun.
Open in WeRead

About This Book

A lively collection of short, orally styled tales told at school camps, presented in conversational Afrikaans. The pieces range from humorous fables and trickster anecdotes to simple origin myths that explain natural phenomena, often using animals and everyday rural scenes. Many stories blend playful exaggeration, gentle moral lessons, and vivid sensory detail; several are explicitly framed for younger listeners. The tone shifts between comic and tender, with recurring folk motifs, straightforward narrative lines, and brief parables that conclude with ironic or didactic twists, making the collection well suited to communal reading or recitation.

[Inhoud]

VII.

Die Stout Seun.

Dit was in Sjiena, jare gelede.

Die seun se naam was Ah-ling. Wat dit beteken weet ek nie, want ek ken nie Sjinees nie. Maar jy weet nie eers wat jou eie naam beteken nie, Pierewiet.

„Dis mos Pieter, nie Pierewiet nie.”

Maak nie saak nie. Jy weet nie wat dit beteken nie. Elke naam het sy betekenis en joue beteken Klipsteen, want dis die Grieks vir klip.

„Daar glo ek niks van nie.”

Omdat jy so dom is. Frikkie se naam beteken „Geelbaard.”

„Dit kan ek glo. Oom Andries het mos ’n vos baard.”

Maar oom Andries is mos sy pa, swaap. As jy nou nie vir my wil glo nie, dan kan ons maar loop slaap.…

„Vertel maar van die stout seun. Ek het nog nie vaak nie.”

Nouja. Ah-ling was sy naam en hy het in Sjiena gelewe, jare gelede. Sjiena is die land waar die meeste dinge van papier gemaak is. Die huise is van papier—of was van papier in dié dae; die vensters was van papier, en die mense het met papier geëet.…

„Daar glo ek niks van nie.…”

Weer omdat jy dom is, Klipsteen. Kyk, hulle het die papier opgerol en daarvan stokkies gemaak en die stokkies het hulle gebruik om mee te eet, net soos ons vurke en lepels gebruik.

„Hoe het hulle dan hulle sop geëet?”

Ook met die stokkies. Ek het dit self gesien en ek het ook so probeer eet, maar dit het nie gegaan nie, [62]want ’n mens het oefening nodig om die stokkies te hanteer. Maar Ah-ling kon dit goed doen, want hy het van sy babetjietyd met die eetstokkies omgegaan.

„Ek dink dis sommer so wysmaak.…”

As jy dit dink kan jy maar loop slaap. Maar hierdie Ah-ling nou. Sy vader was baie ryk, want hy was ’n mandaryn van die derde klas.…

„Wat is ’n mandaryn?”

’n Mandaryn is ’n edelman … iemand wat hoog staan. Die hoogste man in Sjiena is die keiser, wat in ’n porseleinpaleis, met vensters van papier, woon. Dan kom sy eerste minister, wat ’n mandaryn van die eerste klas is, en wat ’n diamantknopie op sy mussie dra. Elke mandaryn dra so ’n soort knopie, wat sy rang wys. Die twede klas mandaryn dra glo ’n rooi kristalknopie; die vierde klas dra blou, die derde klas groen en die vyftiende klas geel. Ah-ling se pa het dus ’n groen knopie op sy mussie gedra en hy was skatryk, want hy het hondjies vir die keiser vetgemaak.…

„Hoekom?”

Omdat die keiser, net soos elke Sjinees, baie gek na gebraaide hondjie was. Die vetste en lekkerste hondjies het Ah-ling se pa vetter en lekkerder gemaak en die het hy aan die keiser gestuur, wat hom baie geld daarvoor betaal het. So het hy skatryk geword en ander besighede begin, wat hom nog ryker gemaak het.

Ah-ling was sy enigste kind en hy was baie trots op Ah-ling en het die seun ’n bietjie verwen. En Ah-ling was lui. Hy was ’n goeie seun, maar hy was vreeslik lui. Hy wou nie sy versies leer nie en ’n Sjinese seun moet baie versies leer. Vir sy matriek moet hy seshonderd-duisend twee-en-negentig versies pront uit sy kop ken en kan opsê.…

„Dit glo ek nie!” [63]

Miskien is dit seshonderd-duisend drie-en-tagtig; ek weet nie presies nie, maar dis ’n geweldige getal versies, al glo jy dit nie. En as hy één fout maak dan druip hy. En as hy druip, dan is dit ’n baie groot skande vir hom en vir sy hele famielie, net soos dit vir my is, as jy sewentiende in jou klas kom, Klipsteen.…

„Ek was nog nooit sewentiende nie.…”

Maar jy was al twaalfde, wat amper net so erg is. Nou, Ah-ling wou nie sy versies leer nie. Hy wou die hele dag speel en visvang, en vlieërs laat vlieg, want in Sjiena speel al die mense met vlieërs. Sy pa was so druk besig met sy besigheid, dat hy nie baie tyd gehad het om na Ah-ling te kyk nie en hy het die seun maar aan sy meesters oorgelaat. En een dag kom die meester na hom toe en maak ’n buiging voor hom en sê:

„Pong-lo”—want dit was Ah-ling se pa se naam—„Pong-lo, hierdie armsalige bog wat die eer het om jou eersteklas seun onderwys te gee, kom met ’n bedrukte hart na jou toe.”

Eintlik het hy gesê „bedrukte maag,” maar die betekenis is dieselfde.

„Wat is dit dan, hoogs gewaardeerde meester?” vra Pong-lo.

„Dit is omtrent jou eersteklas seun,” sê die meester. „Hy is, om dit met waarheid uit te druk, nie geneig om sy eersteklas kop te gebruik as hy my niksbeduidende sommetjies moet maak nie, en nog minder is hy geneig om die armsalige versies wat vir sy bogterige matriek nodig is uit die hoof te leer.”

„En waarvoor betaal ek my waardelose geld aan jou dan?” vra Pong-lo, „as dit nie is om hom te dwing om te leer nie?”

„Hierdie vermetele vent,” sê die meester, en hy trek sy skouers op, „het dit al probeer. Om die waarheid [64]te sê, hierdie ongeskikte leermeester het al sover gegaan om die lat op jou seun se vereerde sitplek te gebruik, maar die gevolge het nie die kraginspanning, wat daartoe noodsaaklik was, geregverdig nie. Dit is hierdie ellendige vent se plig om aan jou edelagbare te sê, dat hy geen kans sien om die slim eersteklas seun van jou deur sy matriek te kry nie.”

„Maar by dit en dat,” skree Pong-lo, wat nou baie verontwaardig was, amper net soos ek toe jy twaalfde in jou klas gekom het, Klipsteen.…

„Dit was mos omdat ek pampoentjies gehad het. Ons wil van Ah-ling hoor.”

Goed. Baie verontwaardig was. „By dit en dat,” skree Pong-lo, „ek sal hom leer.” En hy slaan op die ghong wat naas hom gestaan het.…

„Wat’s ’n ghong?”

Dis die klok wat die Sjinese gebruik—’n stuk metaal waarop hulle slaan en daardeur ’n geluid maak. Toe die kneg inkom, sê die kneg:

„Vereerde Pong-lo, die hondjies het al …”

„Dis nie oor die hondjies wat ek jou geroep het nie,” skree Pong-lo. „Loop sê vir my lui seun dat hy dadelik hier moet kom.”

Kort daarna het Ah-ling binnegekom. Hy het platgeval op sy gesig op die tapyt voor sy pa en sy voorkop op die vloer op en neer gevryf. Dis die manier waarop die seuns in Sjiena hulle eerbied vir hulle ouers bewys.

„Ek breek my beentjies op jou,” sê hy, want dit is die manier waarop ’n seun sy vader toespreek in Sjiena.

„Ek sou amper joue kan breek!” snou sy vader hom toe. „Wat is dit wat ek van jou hoor? Dat jy lui is en nie wil leer nie. Hoeveel versies ken jy al?” [65]

„Ek weet nie reg nie,” sê die seun, „maar verlede week het ek dit tot die sewehonderd-en-sestigste gebring.…”

„Allematties!” skree die oubaas. „En aanstaande maand is die matriek. Dink jy ooit dat jy dit kan maak as jy maar so min versies ken? Maskas, maar jy is lui!”

„Ek kan maar probeer,” sê Ah-ling. „Ek kan maar probeer.”

„Ja en druip,” sê Pong-lo. „Dankie hartlik. Die skande wil ek nie deurlewe nie. Jy het tyd genoeg gehad. Luister nou wat ek vir jou sê. So ’n seun soos jy wil ek nie meer hê nie. Trap! Van vandagafaan is jy nie meer my seun nie. As jy terugkom met ’n duisend pond—eintlik het hy gesê „taels”—dan kan jy weer my seun wees, maar voor die tyd wil ek niks met jou te doen hê nie. Ek skraap jou naam uit my geslagsregister en as jy langer as ’n jaar wegbly, dan neem ek ’n ander seun aan, want ek moet tog iemand hê wat my kan begrawe as ek doodgaan. Trap!”

Ah-ling was bitter bedroef, maar hy het geweet dat sy pa nie sy besluit sou verander nie, want die oubaas was baie hardkoppig. Hy het toe weer sy voorkop op die tapyt gevryf en agteruit gegaan, totdat hy by die deur van die kamer kom. Daar het hy ’n diep buiging gemaak, opgestaan—want tot daar moes hy agteruit kruip om sy eerbied vir Pong-lo te bewys,—en uitgegaan.

Hy het sy goedjies bymekaar gepak, maar hy het sy versies vergeet en die versboekies—daar was ’n duisend van hulle—het agtergebly. In die kombuis het hy ’n bietjie padkos gekry—’n bietjie gekookte rys en ’n stukkie gebraaide hondjie, en ook ’n paar worsies wat van hondevleis gemaak was en wat baie lekker smaak [66]as jy van die soort vleis hou. Toe het hy vir hom ’n groot strooihoed gekry, die huis uitgeloop en die groot pad, wat oor die land, tussen die rysveld gaan, gevat.

Hy het die dag ver geloop en hier en daar het hy op ’n klip gaan sit en gehuil, want hy het werklik nie geweet wat nou van hom sou word nie. Maar hy het gou-gou gesien dat die huilery hom niks sou baat nie en het toe weer opgestaan en verder geloop. Laat in die middag het hy by ’n riviertjie gekom, waar ’n ou kêrel by gestaan het. Die ou kêrel was baie oud en baie swak en het op ’n kierie geleun, en nou en dan het hy sy toontjies in die water gesteek, kastig om daardeur te gaan, maar altyd het hy dit weer teruggetrek, want die stroom in die rivier was sterk en die ou kêrel was maar swak.

Toe hy vir Ah-ling sien, sê hy:

„Seun, jy lyk groot en fris. Dra my asseblief deur hierdie rivier en ek sal jou beloon.”

Ah-ling het dit gedoen, want die ou kêrel was baie lig. Hy het die ou kêrel deur die rivier gedra en toe hulle op die anderkant kom, sê die ou man:

„Dankie. Ek gaan hierdie kant-toe en jy moet maar daardie ander pad neem. Ek het nie geld om jou mee te beloon nie, maar neem hierdie kierie van my. Dit kan jou te pas kom en as jy werklik in die nood is, sê dan maar ‚Kierie, asseblief tog.’ ”

Ah-ling het hom bedank en die kierie geneem en voortgestap met die regterhandse pad. Die oubaas het die linkerhandse pad geneem.

Ah-ling het dié dag tot die aand hard geloop. Nou en dan het hy ’n rukkie gerus en ’n paar ryskorreltjies geëet, saam met ’n stukkie van die gebraaide hondjie.

En so omtrent die tyd wat in daardie land sonsondergang [67]beteken, het hy by ’n klein huisie gekom, met ’n klein tuintjie daarvoor. Die huisie was van papier, op bamboesstokke en die vensters was van papier en die dak van papier, oorlê met sand en gras. Die tuintjie was maar verwaarloos, want al wat daarin was was daikon of radys en die was ook al in saad en voos, want niemand het na hulle gekyk nie.

Voor die huisie het ’n kêrel gesit. Hy was ook ’n Sjinees en het dus ook ’n stert gehad, en hy was omtrent vyftig jaar oud. Hy was glo bysiende, want hy het ’n sterk horingbril opgehad en het glad geen notiesie van Ah-ling geneem nie, selfs toe die seun ’n tree ver van hom af was nie.

„Ek wou maar sê,” sê Ah-ling, nadat hy reeds viermaal ’n buiging gemaak het en tweemaal goeienmiddag gesê het op die beleefdste manier wat aan hom bekend was. „Ek wou maar sê, dat hierdie verstote en uit-sy-vader-se-huis-weggejaagde deugniet ’n nagverblyf soek.”

Die man met die horingbril het niks geantwoord nie.

„Hy moet doof wees,” dag Ah-ling. „Ek sal maar skree.”

„Kan ek hier nagverblyf kry?” skree hy toe, so hart soos hy kon.

Die man met die horingbril het ’n bietjie verwonderd opgekyk en geknik. „Jy hoef nie te skree nie,” sê hy. „Ek is mos nie doof nie. Ek is net besig om versies te maak. Op die oomblik is ek vererg, omdat ek nie goeie rymwoorde kan kry nie. Verbeel jou, ek soek ’n rymwoord vir ‚snel.’ ”

„Daar’s mos baie,” sê Ah-ling.

„So? Ek kan maar net twee kry—wel en kwel,” sê die meneer. „En geeneen daarvan is geskik nie.”

„Daar’s hel—en vel, en manel, bel, tel, optel, opstel, [68]vertel,” sê Ah-ling, „en glo nog ses of sewe meer …”

„Wag, wag!” sê die kêrel en hy skryf sommer op. „Allerdankbaars! … veral vir manel. Dit kom goed van pas. Sou jy ook miskien ’n digter wees, of nie?”

„Nee!” sê Ah-ling. „Ek is maar ’n jong seun wat sy matriek nooit sal deurkom nie.”

„Dan sal dit sleg met jou gaan in die lewe,” sê die meneer, wat ’n digter was. „Maar ek dink dit is maar jou beskroomheid wat jou dit laat sê. ’n Man wat sulke rymwoorde kan vind, kan maklik sy matriek deurkom. Ek self het jare gelede my matriek gemaak en toe kon ek werklik nog geen gedigte maak nie.”

„Maar Meneer het seker toe al versies uit Meneer se kop geken,” sê Ah-ling.

„Natuurlik. Amper driehonderd-duisend,” sê die digter. „Hoe meer versies jy uit die kop ken, des te beter vir jou. Kyk, kom maar by my bly, seun. Ek sal vir jou losies en kos gee, as jy vir my help om rymwoorde te vind.”

Ah-ling was tevrede met die aanbod, want hy het niks beters in oog gehad nie. Die digter, wie se naam Nata-ki was, het hom nie baie gesteur aan kos of woning nie, ofskoon hy taamlik ryk was. ’n Ou vrou het elke dag na die huisie gekom om vir hom rys te kook, en nou en dan het hy ’n stukkie vis bygekry, maar hy was alte druk besig met sy gedigte om na sy kos te kyk. Ah-ling het dit gou-gou ingesien. Hy het toe sake in sy eie hand geneem. Hy het die tuin omgespit en beplant, lekker kos in die kombuis gekry, en gesien dat alles in orde was. Die eetmale was nou eersteklas, maar Nata-ki het niks omgegee nie en alles geëet net asof dit maar saagsel was. Al wat hy om getraak het was sy gedigte, of liewers sy gedig, want daar was maar één, waaraan hy reeds vir tien jare gewerk [69]het. Die gedig was nou al sover soos die vyfde reël en die nag nadat Ah-ling by hom gekom het, het hy die sesde reël klaargemaak, wat met „manel” geëindig het. Daarna, met behulp van sy nuwe kneg, het hy ’n nuwe reël elke dag klaargemaak.

Die digter was ryk en sy geld het orals in die huis sommer rondgelê. Ah-ling kon daarvan neem wat hy nodig gehad het om kos te koop en ook meer, want Nata-ki het nie eers geweet hoeveel geld hy gehad het nie. Maar die lui seun was ’n eerlike seun; hy het die geld bymekaar gemaak en veilig weggesluit in ’n ou kis wat in een van die kamers gestaan het en later het hy nog geld bygesit, want hy het sy groente uit die tuin verkoop en daardeur wins gemaak.

Toe hy nou amper ’n maand so gelewe het, sê Nata-ki eendag vir hom: „Oormôre is die groot verjaardag van die keiser. Dan word al die digters uitgenooi om ’n verjaardagvers vóór hom te gaan opsê. Ek dink ek sal ook probeer.”

„Maar wêreld-beroemde Nata-ki,” sê Ah-ling, „as hierdie bogterige niksnuts die vryheid mag neem om iets tot die uiters-interessante gesprek by te dra, sou hy graag wil opmerk, dat sy blinde oë totnogtoe geen speur van ’n gedig van die wêreld-beroemde Nata-ki gesien het nie.”

„Dis in my kop,” sê die digter. „Skryf is ’n lastige ding. Dis alles in my kop, maar ek vertrou op jou, dat jy my hier en daar met ’n rymwoord sal help. Moenie vergeet nie.”

„Mastag!” dink Ah-ling, „die ding sal sleg afloop. As ons vóór die keiser verskyn en my oubaas hakkel met sy gedig, word die keiser miskien kwaad. En dan laat hy ons miskien ’n bietjie gesmelte lood drink, wat, [70]soos ek hoor, gladnie lekker smaak nie. Ek sal ’n plan moet maak.”

Hy het toe die saak oordink en eindelik het hy probeer om self ’n gedig te maak. Dit was sy eerste probeerslag en sy gedig was nie alte mooi nie, maar dit was tog ’n gedig, want die endwoorde het opmekaar gerym:

Beroemde keiser van Sjiena,

Wat hierdie dag verjaar,

Ek het vir my konsertiena

’n Lied van gelukwens klaar.

’n Lied wat die goue vissies

Sing as hulle pronkerig swem;

’n Lied wat die rooi-geel rissies

Sing as hul die tak omklem.

Ek felisiteer die Keiser;

Ek wens hom soveel hy wil hê,

Dat hy magtiger, ryker, wyser,

Regeer tot die mense sê:

Die roemryke keiser van Sjiena

Is die grootste wêreld-baas.

En dan stryk ek my konsertiena

Tot al sy snare raas.

Dit was nou nie ’n eersteklas gedig nie, maar Ah-ling het gedink dat dit maar moet deug.

Hy het toe mismoedig met Nata-ki na die paleis gegaan. Die paleis was mooier en pragtiger as wat hy hom ooit kon voorstel, en hy was so verbaas om al die rykdom te sien dat hy sy gedig glad vergeet het. [71]

Sy baas en die ander digters moes in die troonsaal wag, totdat die keiser klaar was om al die verjaardaggediggies aan te hoor. Daar was duisende van die digters en toe Ah-ling hulle algar sien, het hy weer ’n bietjie moed gevat, want hy het gedink: „Die keiser sal tog nie algar laat lood drink nie.” Hy het nog meer moed gekry toe hy die eerste paar honderd gediggies aangehoor het. Hulle was sleg—slegter as sy eie versie, en tog, die keiser het elke digter beloon en was blykbaar in sy skik met wat die versies gesê het.

Toe dit nou Nata-ki se beurt was, het hy vorentoe gestap en aan Ah-ling gefluister: „Help my met die rymwoorde.” Maar Nata-ki het so gehakkel dat die keiser ’n bietjie ongeduldig geword het.

„Hierdie digter,” sê die keiser, „is een van die nuwe soort. Hy dig die vrye verse, en sny sy lyne in stukkies. En hy rym nie. Miskien kan sy kneg iets voordra?” en die keiser kyk goedgunstig na Ah-ling.

Ah-ling het toe sy oë toegemaak en vinnig sy versie opgesê, so vinnig dat hy die lyne inmekaar gerol het. Maar die keiser het dit tog verstaan, en vriendelik met sy kop geknik.

„Ek hou daarvan,” sê die keiser. „Ofskoon ek nie reg weet wat ’n konsertiena is nie. Dit skyn vir my dat ’n seun wat soiets kan dig baie beter sal maak as hy soldaat word. Kyk, seun, ek bevorder jou tot soldaat van my lyfwag.”

Ah-ling was hoogs in sy skik en ofskoon Nata-ki geprotesteer het, het niemand hom aan die digter se protes gesteur nie, maar hulle het vir Ah-ling na die soldate gebring en hom ’n sabel en ’n borsharnas gegee. En twee dae later moes sy resjiment optrek teen die seerowers. Ah-ling, wat nog nooit in sy lewe geveg het nie, was baie bang, veral toe hy die skietery van [72]vèr-af hoor, maar hy het hom dapper gedra en het daarin geslaag om een van die seerowers te vang.

Die keiser het hom toe korporaal gemaak en daarna generaal.….

„Dit glo ek nie. Jy moet mos eers sersjant word en dan majoor, en dan kolonel, voordat jy generaal kan word.…”

Dis maar die gewoonte met julle padvindertjies. In Sjiena in dié dae was dit anders. Daar kon jy toe van korporaal sommer na generaal spring, en dit is ook wat Ah-ling gedoen het. Maar toe hy generaal was, het hy dit nie maklik gehad nie. Hy moes baie veg en sy soldate was maar vrot, want hulle het gewoonlik weggehardloop as daar moes geveg word en dus het hy alles self moes doen. En eenmaal het hy dit so hard gekry dat hy amper doodgemaak was deur die seerowers. Toe het hy aan sy kierie gedink en sodra hy sê „Kierie, help my!” spring die kierie by en verslaan al die seerowers.

„Dis darem ’n eersteklas stok, hierdie,” dag Ah-ling, en hy gaan stadig terug na die keiser se stad. Toe hy daar aankom, hoor hy dat hulle al vir die keiser vertel het dat hy morsdood was. Die keiser was bly om hom weer te sien en toe Ah-ling hom vertel het hoe dit gegaan het, sê hy:

„Dit moes die spook van my oorlede oupa gewees het wat jou daardie kierie gegee het. Ons het so ’n kierie in die famielie gehad, maar my oorlede oupa, wat self keiser was, het dit met hom saamgeneem toe hy gesterf het. Dit is nie betaamlik dat jy die famieliekierie besit nie. Kyk, ek sal jou drieduisend taels daarvoor gee en jou bevorder tot veld-maarskalk, as jy die kierie aan my wil afstaan.”

Dit het Ah-ling gedoen, en met sy drieduisend taels [73]het hy verlof vir ’n paar weke gekry. Dit het hy gebruik om huis-toe te gaan.

Toe hy by sy ou huis kom, sien hy dat alles daar agteruit gegaan het. Hy self was nou so deftig gekleed, in die mondéring van ’n Sjinese veld-maarskalk, dat die mense orals vir hom padgegee het. Selfs sy ou vader, wat nie geweet het wie hy was nie, het vorentoe gekruip en hom gegroet soos ’n mens ’n vername persoon groet, deur sy voorkop heen en weer op die grond te vryf.

„Hoe gaan dit, Pong-lo?” vra Ah-ling, wat nie eers wou sê wie hy was nie.

„Ag, beroemde Veldmaarskalk,” sê Pong-lo, „so-te-sê maar beroerd. Die hondjies, wat my inkomste was, het algar die griep gekry. My mandoor het my besteel en ek is vandag amper bankrot.”

„En vroeër was jy dan so ryk,” sê Ah-ling.

„Ja,” sê Pong-lo. „Al my moeilikhede het gekom van die tyd toe ek my seun weggeja het.”

„Hoekom het jy dan jou seun weggeja?” vra Ah-ling.

„Hy was so lui,” sê Pong-lo. „Hy wou nie sy versies leer nie en sou dus nooit sy matriek gemaak het nie. Dit sou ’n skande vir my en my famielie gewees het as my seun in sy matriek gedruip het.”

„Maar as hy dit nou verder as matriek gebring het?” vra Ah-ling. „Sê as hy dit nou sover gebring het dat hy ’n vriend van die keiser geword het.…”

„Daarvoor was hy te lui,” sê Pong-lo en vryf weer sy voorkop in die sand. „Ek sê dit met jammerte, maar hy was altyd ’n lui seun.”

Toe het Ah-ling, wat altyd ’n goeie seun was, ofskoon hy lui was, dit nie oor sy hart gekry om nog [74]langer sy vader so te sien spartel nie. Hy het die oubaas opgetel en omhels en gesê:

„Ek is Ah-ling. Ek bring drieduisend taels in plaas van eenduisend en ek breek my beentjies op jou.”

Pong-lo was natuurlik amper flou van blydskap. Hy het sy laaste vet hondjie—die enigste een wat oorgebly het—laat slag, en die aand het hulle lekker hondekerrie geëet, met baie rissies daarin, sodat jou mond daarvan gebrand het.

Die verder geskiedenis van Ah-ling sal jy later hoor, Klipsteen. [75]