WeRead Powered by ReaderPub
Kampstories cover

Kampstories

Chapter 11: VIII. Waarom die See Huil.
Open in WeRead

About This Book

A lively collection of short, orally styled tales told at school camps, presented in conversational Afrikaans. The pieces range from humorous fables and trickster anecdotes to simple origin myths that explain natural phenomena, often using animals and everyday rural scenes. Many stories blend playful exaggeration, gentle moral lessons, and vivid sensory detail; several are explicitly framed for younger listeners. The tone shifts between comic and tender, with recurring folk motifs, straightforward narrative lines, and brief parables that conclude with ironic or didactic twists, making the collection well suited to communal reading or recitation.

[Inhoud]

VIII.

Waarom die See Huil.

„Ma, waarom huil die see elke aand?” het die klein seuntjie gevra.

Hy het in ’n riethuisie op die strand gewoon, want sy vader was ’n visser, wat die vis wat hy gevang het en nie self opgeëet het nie, gedroog het en aan die smouse verkoop het as bokkems. Allerhande soorte visse, wat middelmatig klein was, want die groter visse was nie geskik vir bokkems nie. Die moes hy oopsny, insout, en in pekel lê en as hulle klaar was, dan het hy hulle mootjies genoem. Die mootjies is baie sout, want hulle het die pekel ingesuip vir dae lank, maar die mense maak daarvan visbredie en smoor dit met uie en ertappels, nadat hulle dit eers vir ’n paar ure in vars water geweek het.

Die klein seuntjie was maar ses jaar oud en sy naam was Natter. Eintlik het hulle hom Nathaniël gedoop, maar die naam was te lank en dus is hy gewoonlik Natter genoem, of nog korter, Nat. Hy was ’n skraal seuntjie, met hare wat amper wit was, so bleek was dit, en met ’n gesigsvel wat altyd sproete gebrand het. Dié soort seuntjies, so sê die mense, is sterk, maar daar kom nooit baie reg van hulle nie.

Ek weet nie of dit waar is wat die mense sê nie.

Waar Nat se huis gestaan het, was die wêreld maar ellendig lelik, want in die omgewing was daar niks anders as sandduine en suurvye nie. Jy kon nie eers die see sien nie, want dié was agter die duine. Jy kon hom net maar hoor. Dag-in dag-uit kon jy sy geraas en gesuis hoor, eentonig, so eentonig dat dit jou amper moedeloos kon maak. Duskant die duine was daar ’n [76]pan, waarop die eendvoëls geswem het en duisende seemeeue, en in die water van die pan was daar springers, wat ’n baie lekker soort vis is—lekker om te eet en lekker om te vang. Agter die pan, veld se kant-toe, was daar ruigte en skaapbossies, want dit was ’n plat wêreld, woes en onbewoon. Net na die reëns het die suring pragtig gegroei onder die skaapbossies en die veld was groen, met duisende heuningpotjies waarop die miere met plesier rondgekruip het. Nat het ook van die heuningpotjies gehou. Jy steek die punt van jou pinkie daarin en haal so die heuning uit. Die heuning is goudgeel en stroopsoet, met net ’n suur bysmakie as jy te veel daarvan eet. As ’n mens die duine oorklim, dan moes jy nog sowat honderd-en-vyftig tree stap voordat jy die strand, die eintlike strand, bereik het. Nat se pa het sy huis agter die duine gebou, omdat hy ’n bietjie van die see moeg en sat was; hy wou so min daarvan sien as moontlik en het meer van die kaal, geel duinsand gehou as van die groen, altyd op- en afgaande see. Hy was dag-in dag-uit op die see; dit was sy broodwinning, die see, en ’n mens vind jou broodwinning soms vervelig. Daarom het hy sy huis agter die duine gebou.

Dit was ’n klein huisie, van riet gemaak, met rietmure, gepleister met die swart modder van die pan en met ’n rietdak, oorgroei met die maarblom se rooi en geel bloeisels. Daar was eintlik nie vensters in die huis nie; net maar twee deure en ’n gat in die dak, wat as skoorsteen gedien het in die koue winterdae as Nat se ma die konfoortjie in die voorkamer aansteek. Die kombuis was ’n aparte huisie, ’n paar tree verder af en die woonhuis het net maar twee kamers gehad. Meer was ook nie nodig nie, want Nat se pa was byna elke dag uit om vis te vang en niemand het ooit vir Nat se [77]ma kom besoek nie. En daar was nie ander kinders nie, behalwe Nat. Vroeër was daar ’n ander kind. Dit was Nat se sussie, Triena, maar Triena het verdrink in die panwater, toe sy nog so-te-sê ’n babetjie was, en van die tyd was daar net Nat.

Hy het dus maar alleen gespeel, daar op die duinsand, waar hy nie die see kon sien nie, maar dit gedurig kon hoor. Sy maat was Mokkie, die klein half-Boesmantjie, wat die kind was van outa Adoons wat vir sy pa help visvang het. Mokkie was net so klein soos hy, maar baie ouer, met ’n gesiggie wat so gerimpel was soos seewater, waarop die wind waai. Hy was egter ’n taamlik goeie maat, want hy het baie geweet en het altyd „Kleinbaas” gesê teen Nat, en was nooit astrant nie.

Dit was Mokkie wat die byeneste gevind het, ver agter die pan, in gate in die grond, onder die skaapbossies. Dit was hy wat hulle uitgehaal het, sonder dat die bye hom steek en die mooi stukke jong bye, wat soos vars amandels smaak, huis-toe gebring het, en ’n stukkie van die koek agtergelaat het vir baas Heuningvoël, wat op die skaapbossies sit en sy vlerkies met plesier klap, want hy weet dat hy sy aandeel sal kry.

Dit was Mokkie wat osse en waens van die suurvyeblare gemaak het en potkleimannetjies uit die sagte witklei wat hier en daar by die pan kon gevind word. Dit was hy wat die osse algar name gegee het—Swartland hierdie een, Troe-troe daardie een, en Geelmoggel die ander, Bleskol die hotagter een en Kasman die haaragter een. En die potkleimannetjie was baas Ewert, en die ander een met ’n swart-gesmeerde gesig was outa Perskie wat moes touvat, maar wat altyd omgeval het, omdat sy bene nie gelyk was nie.

Dit was Mokkie wat geweet het, waar die beste plek [78]was om springers te vang. En dis nie so maklik om springers te vang nie, veral as jy maar ’n kort seilgaretjie het en ’n ou hoek, waarvan die punt afgebreek het. As jy nie presies weet hoe om die saak aan te lê nie, dan sal jy nooit ’n springer met so ’n koddige hoek beetkry nie. Maar Mokkie het geweet hoe om dit te prakseer en waar om die aas te kry—klein krefies, wat onder die sand lê of onder die vuil en halfopgedroogde seegras, of wurms wat hulleself in kassies ingemessel het vas aan die skaapbossies.

En dit was Mokkie wat kon sê waar die vaal korhaan, wat daar op die laagte rondloop en net vlieg as jy hom opja, omdat hy meer hou van loop as van vlieg, sy nes sou maak hierdie jaar. Dit was hy wat vir Nat die nes gaan wys het, versigtig, want as jy aan die eiers raak dan is broer korhaan kwaad en dan wil hy niks meer met die eiers te doen hê nie. Wat tog ’n treurigheid sou wees, want die kleintjies is baie mooi en koddig as hulle so astrant in die gras rondloop en doodstil lê as hulle hulle verbeel dat iemand hulle wil pak.

Dit was Mokkie wat Nat leer swem het, want Mokkie kon goed swem, en die panwater, waarin Triena verdrink het, was makwater as ’n mens kon swem. Net as jy nie kon swem nie was die panwater kwaai en het dan sy bes gedoen om jou onder te kry en om vir jou dood te maak. Dís waarom dit vir Triena beetgekry het, toe sy nog maar ’n babetjie was.

Heerlik was dit om in die late namiddag daar in die panwater rond te swem. Dit was so stil en so warm maar tog so fris dat jy dit moes geniet, al was jy ook isegrimmig. Jy kon stadig op en neer swem en probeer om die eentjies, wat altyd naby die ruigtepolletjies geskuil het, beet te kry, maar dit was uiters moeilik, ofskoon [79]Mokkie nou en dan dit reggekry het. En dan kon jy platsit in die water, stil sonder om jou te roer en voel hoe die swerms klein vissies jou kom ondersoek en hoe hulle probeer om jou vel te byt. Dit was kielierig as hulle teen jou rug met hulle neusies stoot, en dit was ’n pret om hulle skrik te maak deur sommerso om te draai en met jou hande in die water te klap.

En die mooiste, die pragtigste van alles, ofskoon nòg Nat nòg Mokkie baie daarna gekyk het, was die sonsondergang daar op die pan. Dit het dan gelyk asof daar honderde reënboë gebreek het bo in die lug, en die kleure het algar afgeval op die panwater en daar bly steek, terwyl ’n paar van hulle, rooi, groen en violet, bo in die lug uitgebrei het, totdat die hele hemel bo jou daar in die weste ’n geruit van bont was. Dan kon jy, in die vroeë somernamiddae die geur van die sandlelies en die bobbejaantjies bespeur, wat opgestyg het van onder die skaapbossies en wat jou laat dink aan die fyngestampte pypkaneel wat die mense in kollewyntjies sit.

Elke dag het Nat die see gaan bekyk, want hy was gek na die see en het baie gehou van sy pa se skuit. Nou en dan het hy en Mokkie saamgegaan met sy pa en met outa Adoons as hulle gaan visvang. Die eerste skoot was dit gladnie plesierig nie, want Nat het naar geword, maar later het hy dit lekker gevind, want die skommel van die skuit op die water het hom nie meer mislik gemaak nie. Maar sy pa het gesê dat hy in sy pad was en het hom nie baie keer saamgeneem nie.

Die see was nooit stil nie. Dit het nooit geswyg nie. Dag-in, dag-uit en die hele nag deur het dit op en af geskuif en sag gesing. Nat het bly luister saans as hy op sy klein duikerkarossie lê, na die sang van die see en het probeer om dit te verstaan, maar hy moes altyd [80]dit opgee, want die see het hom gou-gou in slaap gesus. Nou en dan het hy van die see gedroom, maar die drome was nie altyd plesierig nie, want soms het hy gedroom dat hy en Mokkie in die see spartel en nie kon uitkom nie. En dan het hy met ’n gil wakker geword en sy ma het hom kasterolie ingegee, want sy het gedink dat hy te baie uintjies geëet het.

„Ma, waarom huil die see so?” het Nat gevra.

Hy het al die vraag gestel aan Mokkie, wat nie daarop kon antwoord nie. Ook outa Adoons het nie goed geweet wat om te antwoord nie.

„Dis maar sy manier, my Kleinbasie,” het Outa gesê. „Dis maar die vuilis se manier,” want outa Adoons het die see nie lief gehad nie, miskien omdat dit sy broodwinning was.

„Die see,” het die outa gesê, „die see, Kleinbasie, moenie tog vir hom vertrou nie. Hy verneuk jou, Kleinbasie en jy kan nie op hom staatmaak nie, nooit nie, my Kleinbasie.”

„Maar waarom huil hy, Outa?” het Nat gevra, en die outa het sy kop geskud.

„Dis sommer sy manier, my Kleinbasie,” het hy geantwoord, „net soos ditte myne is om te pruim, my Kleinbasie. Ons het almal ons eie maniere, my Kleinbasie en dis syne om lawaai te maak as ’n mens wil slaap, my Kleinbasie.”

Maar Nat was nie tevrede met dié verklaring nie en hy het altyd gedink: „Die see moet tog iets makeer, anders sal dit mos nie so huil nie.”

Toe het hy vir sy pa gevra, maar sy pa was besig om die net, wat stukkend was, reg te maak en was vererg omdat die netnaald afgebreek het.

„Moenie sulke onnosele vrae vra nie, Nat,” het hy kortweg gesê. „Dis mos nie huil nie; dis maar die [81]geraas van die branders teen die strand. Sal jy dan nooit iets leer nie?”

En sy pa het hom weggeja om water te gaan haal uit die put.

„Hoekom huil die see so, Ma?” het Nat gevra, en sy ma, wat besig was om gho-koffie te brand, het ongeduldig geword.

„Hoe weet ek dit?” sê sy ma. „Moenie met die gho-boontjies peuter nie, Nat; jy weet mos hulle is giftig. Loop speel met Mokkie as jy niks anders te doen het nie.”

Toe het Nat maar met Mokkie gaan speel, maar hy het gedurig gedink aan die huil van die see. En toe Mokkie na die pondokke gaan, het Nat na die strand geloop en daar op die wit sand, waar die klein, fyn blou skulpies opspoel as dit storm is, gesit en na die see gekyk.

Dit was al laat in die namiddag en die son was halfpad onder, agter die pan. Die weste het al sy geruit van bont kleure aangetrek en die hitte van die dag was alreeds afgekoel. ’n Sagte windjie het oor die see gewaai, ’n windjie wat ver van die suide kom, waar die groot ysberge rondswem en waar die robbe snags in die lig van die groen ys, wat die skyn van die sterre weerkaats, met mekaar speel. Brandertjie na brandertjie het teen die sand gespoel en elkeen het, as hy spoel, ’n geluid gemaak. Nat het gesit en wonder wat die geluid sou beteken, want hy het gedink dat dit tog praat moet wees en praat kon ’n mens tog verstaan. Maar dié soort praat kon hy niks van uitmaak nie.

En toe hy daar sit, bespeur hy dat die brandertjies vol klein liggies was. Die son was nou onder en dit was skemeraand en hier en daar was reeds ’n ster te sien in die lug. In die skemer was die blink liggies [82]in die brandertjies baie mooi, want hulle het gefonkel soos vuurvliegies wat in die winter bo die ruigte van die pan speel. Die liggies was van allerhande kleure; groen, en pers, en wit, en rooi, en die kleur van die kanaänse druiwe, wat Nat eenmaal op die dorp aan ’n prieel gesien het. En daar was nog baie ander kleure wat hy nie geken het nie en wat hy dus nie die naam van geweet het nie, maar algar was blink en het geskitter soos sterretjies daar in die deurskynende groen van die branders. As die branders teen die sand platslaan, dan het die liggies uitgegaan, en Nat het gesien dat ’n hele boel klein dingetjies op die sand rondkruip. Eers het hy gedink dat dit maar klein krappies was. Daar is baie klein krappies op die strand daar by die panne. Hulle kom saans uit hulle gate, wat bo die waterkant is en jaag in duisende oor die nat sand, sodat hulle ’n geraas maak soos ’n swerm bye wat hoog bo jou in die lug vlieg.

Maar dit was nie krappies nie, hierdie skoot.

Dit was die klein volkies wat in die diepte van die see lewe, en wat verwant is met die dwergies en kaboutertjies wat in die klowe van die berge woon. Nat het dit nie geweet nie, want hy was nog maar dom en jonk en niemand het hom ooit van die dwergies vertel nie.

Maar nou, toe hy al die klein volkies sien, was hy eers amper bang. Hy het nog nooit sulke dingetjies teëgekom nie. Hulle was algar ’n kwartduim hoog, elkeen met ’n paar beentjies wat amper net soos die van ’n toktokkie was en met armpies wat skaars so lank soos ’n koringkorrel was. Elkeen was net gekleed in ’n groen baadjie en groen kortbroekie, wat, koddig genoeg, gladnie nat was nie, ofskoon hulle algar net nou uit die branders gekom het. Hulle het rondom Nat geswerm, honderde van hulle, duisende, en nog altyd [83]het daar meer en meer uit die branders strand-toe gekom.

Nat wou eers padgee, want hy het die vrede nie vertrou nie, maar die mannetjies was so vriendelik, dat hy weer moed gevat het en besluit het om maar ’n bietjie te bly kyk wat hulle sou doen. Dit was al laat en hy het geweet dat hy moes huis-toe gaan, want sy ma het reeds die gho-koffie klaar gemaak, en dié aand sou hulle in die riethuisie pampoenpap en gebraaide vis hê en hy was baie gek na pampoenpap. Maar die mannetjies was so koddig, dat hy tog maar ’n tydjie wou bly.

Tot sy verbasing het hy gevind dat hy goed kon verstaan wat die klein mensies sê. Dit was nou nie juis Afrikaans wat hulle gepraat het nie, maar dit was tog verstaanbaar genoeg en hy kon uitmaak, wat die wat naaste by hom was, sê. En dit is wat hy gehoor het:

„Hierdie seuntjie,” sê die een, „is mos die seun wat altyd vra waarom die see huil en hoekom.”

„Ja,” sê die ander. „Ek hou van seuns wat vra waarom, maar wat die hoekom betref, dit gaan bo al ons vuurmaakplekke. Dis ’n alte lastige vraag, daardie en as ’n seuntjie daarmee begin, dan is dit tyd dat ’n mens hom suurlemoensop gee.”

„Sou ons hom dan nie inligting kan gee nie?” sê die ander een weer. „Dis mos maklik genoeg.”

„Ek dink ons moet wag tot die Koning hier is,” antwoord die ander. „Hy is aan die kom, want ons gaan mos vanaand die groot dansparty daar in die seegraskuiltjie op die rotse hou, en hy sal met die Prinses dans.”

„Dit weet ek goed,” sê die ander. „Ek en jy kom mos ook om te dans. En dit herinner my dat ons nog baie te doen het. Ek weet nie eers of daar kos genoeg sal wees vir ons algar nie.” [84]

„Moenie bang wees nie,” sê die ander. Daar is vanmôre al kos bymekaar gebring. Daar is volop kreefslaai en seeslakpastei en seegraskonfyt, en ek weet nie al wat nie.”

„Maar die drank … wat van die drank?” vra die een. „As ’n mens dans dan kry jy geweldig dors en ek hou altyd van ’n stukkie iets as ek dors het.”

„Daarvoor is ook gesorg,” sê die ander. „Daar is wyn uit ’n verongelukte skip en vir diegenes wat goeie tempeliere is, is daar moerbeistroop. Maar wag, hier kom die Koning.”

Toe sien Nat dat daar uit die branders uitklim ’n koddige klompie van die klein mensies. Vooraan het twee kleintjies gekom wat altwee in groen gekleed was, met hoë mussies van groen seegras op die kop. Agter hulle het ’n hele ry gekom wat algar in rooi was, en daarna weer ’n halfdosyn wat in goudgeel was. Daarna het uitgestap ’n mensie wat ’n kwartduim hoër was as enige van die ander wat om hom was. Hy was pragtig gekleed in ’n blou pakkie, waarom hy ’n rooi mantel, gevoer van binnekant met spierwit, dra. Op sy kop was ’n kroon van goud, met groot pêrels om die kant en in sy regterhand het hy ’n skepter gehou van ’n visgraat aan die punt waarvan ’n klein diamantjie fonkel. Die lang sleep van sy mantel word gedra deur twee klein mannetjies wat in spierwit gekleed was en agter hom het ’n vyftal trompetters gekom, wat algar op skulpe blaas en wat ’n hele boel lawaai opskop.

Dit was die Koning, en Nat het sommer onplesierig begin voel, maar die Koning het vriendelik na hom toe gestap en met een spring op sy knie kom sit. Toe het hy Nat aangeraak met sy visgraatskepter en sodra die diamant Nat se baadjie aanroer, het Nat gevoel asof hy springlewendig was. [85]

„Ek hoor,” sê die Koning, „ek hoor, seuntjie, dat jy wil weet waarom die see huil?”

„Asseblief … Oom, … Meneer,” sê Nat, wat nie reg geweet het hoe hy die Koning moes noem nie.

„Sê maar gerus Oom of Omie,” sê die Koning. „Ek is bly om te verneem dat daar nog seuntjies is wat iets wil leer.”

„Ek ken al my A B C,” sê Nat, wat ’n bietjie trots op sy geleerdheid was, veral omdat hy daarmee teen Mokkie kon spog.

„Dis nie alles wat jy behoort te weet nie,” sê die Koning. „Jy het seker nooit gedroom dat daar sulke mense soos ons in die see lewe nie, nè?”

„Nee,” antwoord Nat. „My pa sê daar’s net visse in die see.”

„Visse is daar genoeg,” sê die Koning, „maar daar is ook baie ander dinge, waarvan julle mense nie droom nie. Groot slange byvoorbeeld, en die See-Prinses, waarmee ek netnou sal gaan dans. Maar jy wil eintlik weet waarom die see so huil, nie waar nie?”

„Ja,” sê Nat. „Pa sê dis maar die geraas van die branders, en Ma weet nie, en Mokkie ook nie en outa Adoons sê dis maar die see se manier.”

„Hulle is almal reg en hulle is almal verkeerd,” sê die Koning. „Die see huil nie, want dit het niks om oor te huil nie. Wat jy huil noem, is die lied wat hy sing. Dit is elke dag en elke nag dieselfde, maar dit is nooit dieselfde nie, want dit is altyd nuut. Daar is weemoed in en blydskap, en berou en blye verwagting, en daar is vreugde in en pyn. Dit kan jy nou nie verstaan nie, seun, maar as jy ouer word sal jy dit leer verstaan, want jy lyk my ’n verstandige seun en nie sommerso ’n swaap nie.”

„Ek kan al swem,” sê Nat, wat nie geweet het wat [86]die Koning bedoel nie, maar tog dink dat hy iets moes sê.

„Dis ook goed,” sê die Koning en knik sy kop so vorentoe, dat Nat bang was dat die kroon sou afval. Maar hy hoef nie bang te gewees het nie, want die kroon was vasgelym aan die Koning se kop en word nooit afgehaal nie. Die Koning gaan selfs daarmee slaap en om dit vir hom maklik te maak, het hy ’n besonder kussing van dik seegras met ’n holtetjie daarin waarin die kroon rus.

„Dis ook goed,” sê die Koning, en hy knik weer. „Hou jy van die see?”

„Ja, Omie,” sê Nat. „Baie.”

„Dis reg so,” sê die Koning. „Die see is die enigste wat ’n mens van kan hou. Dit is allenig die enigste wat jy op kan staatmaak.…”

„Outa Adoons sê dat die see ’n mens verneuk,” sê Nat.

„Dis maar outa Adoons se manier van praat,” antwoord die Koning. „Die see sal jou nooit in die steek laat nie. Dis die enigste vertroubare vriend wat jy sal hê in jou lewe, as jy dit liefhet en dit nie haat nie. As jy dit haat, is dit iets anders, want die see vergeet nie en die see kan wreed wees. Baie, baie mense het hy doodgemaak, mense wat hom nie liefgehad het nie, en mense wat hom liefgehad het, want hy het geweet wat die beste vir hulle is. Hulle dooi bene lê gestrooi op die vloere van die see, duisende en tienduisende van hulle en daar lê juwele en rykdomme in oorvloed, die weelde van verongelukte skepe wat die skatte van konings en keisers gedra het, maar wat die see ingesluk het. Dis dit wat die see se lied soms weemoedig maak, want dit was alles verniet wat die goed vergaan het. Dit baat niemand iets nie, selfs nie vir die see nie. [87]Maar elke dag gee die see sy water aan die wêreld, wat as reën neerval op die aarde en die land verkwik, sodat die koring kan groei en die graan weelderig opspring. Dis die see wat die wêreld, jou wêreld waarin julle mense lewe, groen maak. Hy gee van sy eie groen, waarin die sterre snags afgespieël word en die wit wolkies by dag, aan die wêreld en hy laat alles groei wat groei by julle. Dis hy wat die koelte gee aan die aarde en die wind laat waai. As daar nie see was nie, dan gaan julle algar dood en alles om julle. Ja, die see is ’n vriend, die beste vriend wat julle het. Jy kan dit voel as jy in hom swem, as hy met sy sagte streling jou lyf vorentoe stoot en opbeur in sy groen water, as hy sy seegras slinger om jou naakte been en die sneeuwitskuim van sy brandertjies as donsies op jou nat hare laat neerval. Van alles weet hy, want hy spoel die uiterste grense van die wêreld met sy water. Die palmbome in die koraal-eilande van die groot see, wat altyd stil is, omdat dit so groot is, ken hom, en die tortelduiwe wat in leërskare vlieg oor die verre vleilande van Suid-Amerika groet hom as hulle by duisende bo sy branders swewe. Die wit ysberge van die noorderwêreld, waar die noorderligte die lang, lang winternagte verlig en waar die yskoningin in haar slee, wat van ysblokke gemaak is en deur die vinnige rendiere getrek word, hom bemin, want hy is hulle vriend. En die middel van die wêreld, waar die vuurspuwende berge hulle rook na die hemel uitblaas, weet van hom, want dis hy wat hulle stoom gee en krag om te bars. Omdat hy so veel weet en soveel verantwoordelikheid op hom het, sing hy die hele dag en nag deur. Dit gee hom afleiding en dit maak hom sag, want in sy hart is hy wreed en hy weet dit, maar hy kan dit nie help nie. Maar nou word dit tyd dat ek na die dansparty gaan.” [88]

En die Koning spring af, so vinnig dat sy kroon sou afgeval het as dit nie vasgelym was op sy kop nie.

Nat het toe maar huis-toe gegaan. Die pampoenpap was al opgeëet en sy pa het hom net ’n sny brood en ’n koppie gho-koffie gegee.

„As jy laat kom,” het sy pa gesê, „dan is dit jou eie skuld as jy niks te eet kry nie. Loop slaap nou maar.” [89]