X.
Die Arme Spook.
„Regtig?”
„Ja, man, regtig. Ek het dit netnou gehoor.”
„Maar van wie het jy dit gehoor?”
„Van die portier. Hy vertel my dat daar ’n kennisgewing binnekort op die voordeur sal geplak word.”
„Nou vóór ek hier op die deur daardie kennisgewing lees, glo ek daar niks van nie. Dit sou alte onregverdig wees.”
„Daar stem ek nie met jou saam nie. Hoekom sou dit onregverdig wees?”
„Hoe kan jy so praat, man? Sou dit nie onregverdig wees, om my broodwinning weg te neem, nadat ek vir jare dit gehad het nie? En sommer vir niks nie. As dit nou was dat ek te sleg was vir die werk, of te oud, dan sê ek niks.…”
„Ek sien nie hoe dit ’n broodwinning kan wees nie. Ons het mos nie brood nodig nie en ons het eintlik ook geen rede om te werk nie.…”
„Ag, loop na die hoenders. Jy weet tog dat ons ’n tydverkorting nodig het, iets wat ons moet doen. Leegloop is nie goed nie, nòg vir ’n kind nòg vir ’n ou mens. Ek is noual jare aan die gang en nou vertel jy my dat ek niks meer moet doen nie.”
Die gesprek wat hier kortliks weergegee word, het plaasgevind in die donker êrens in die distrik van Prins-Albert, maar wáár weet ek nie reg nie, want daardie distrik is groot. Daar was twee mense wat die gesprek gevoer het—of liewerster dit was twee „ietse,” want mense sou jy hulle nie eintlik kon genoem het nie. [99]Hulle gedaantes was so onstandvastig as ’n miswolk en daar was niks van hulle wat jy met jou hand kon vat nie. Hulle lyf, hulle klere, hulle skoene en hulle gebare was algar maar net soos wat jy in ’n spieël sien; sonder wese en glad, net maar ’n weerkaatsing.
Dit was dan ook nie so snaaks nie, want altwee was spoke.
Die eerste een was taamlik oud. In sy lewe moet hy ’n oom van sowat vyftig jaar oud gewees het, ’n bietjie isegrimmig en kort gebaker, sterk en gesond wat liggaam betref, maar nie alte slim nie. Die twede een was baie kleiner, korter en dunner; hy was nou, net soos hy in sy lewe gewees het, net maar ’n graat, ’n geraamte met vel bedek en tog, nieteenstaande die dunnigheid, het hy altyd maklik gelag en was altyd in die beste humeur. Dit op sigself was ’n bietjie wonderlik want dun, geraamteagtige mense is gewoonlik nie so goed gehumeur nie.
Om julle nie langer op te hou nie, die naam van die ouer spook was Johannes, en die van die maer spokie, Klaas. Vanne het hulle nie in die spookwêreld nie.
Johannes en Klaas was besig om ’n gerug te bepraat. Dié gerug was amper net so spookagtig soos hulleself. Gerugte is gewoonlik van so ’n aard. Hierdie gerug het Klaas eers aan Johannes vertel.
„Verbeel jou,” sê hy, „hulle sal van oormôre vir ons belet om meer te gaan spook, waar en met wie ons wil. Ek hoor die plan is nou om vir elkeen van ons ’n besonder werkkring te gee, waaraan ons ons moet hou.”
„Nee, wrintig nie!” het Johannes gesê.
„Ja,” sê Klaas. „En nog mooier—ofskoon jy dit nie sal glo nie—ons moet ons gedra, as ons aan die werk is, net soos die ouerwetse spoke in die stories.”
„Dit doen ek vervlaks nie!” sê Johannes. „Ek [100]sleep geen ketting met my mee nie en ek sal nooit my kop onder my arm dra nie.”
„In jou geval sou jy jou kop op jou nek kan dra,” sê Klaas. „Ek glo jy het mos griep of so iets gehad. Die kopdraers is algar mense wat kopafgesny was en dus gewoonlik uit die ou dae.…”
„Hier was ’n jong seun die anderdag,” sê Johannes, „wat rondgespog het met sy kop onder sy linker-elmboog.…”
„Ja, ek het hom gesien. Hy was een van die mense wat in die oorlog sy kop verloor het deur ’n bom. Maar die gevalle is selde. Soos ek sê, die regulasies sal nou verander word en ons sal nie meer kan doen en laat wat ons wil nie, soos ons vroeër gedoen het.”
Klaas het sy kop geskud, toe hy dit gesê het en Johannes het suur gekyk.
„Ek dink dis ’n fout wat ons komitee maak,” sê Klaas. „Hulle behoort ons eers te vra, voordat hulle nuwe regulasies optrek.”
Die twee spoke het toe maar verder gestap en oor ander dinge gepraat. Maar nog dieselfde aand het Johannes ’n briefie gekry van die Spookkomitee.
„Waarde heer,” so het die briefie gesê—„My komitee sal bly wees as u môre so omtrent teen twaalfuur voor hulle kan verskyn. U dienswillige dienaar—” en daaronder was die naam van die sekretaris, wat ook geen van gehad het nie.
Die volgende dag, so omstreeks twaalfuur, het Johannes voor die komitee verskyn. Die komitee was algar spoke en dus algar ewe wolkerig as hyself. Die ou baas wat aan die koppenent van die lang tafel gesit het, was ’n bekwame spook, wat jare en jare lank in een van die oudste kastele in Europa reeds sy werk verrig het. Die visevoorsitter was die spook van die [101]Roomse keiser wat nou en dan die mense in verskillende dele van die wêreld bangmaak. Die ander lede van die komitee was ewe interessant. Daar was die dame wat in die huis van die Duitse vorste spook; sy was, soos gewoonlik, in wit gekleed en het haar nie baie aan die verrigtinge gesteur nie, maar het deurentyd Duitse bier gedrink. Daar was die spook van kaptein Vanderdekken, wat in sy skip rondreis om die wêreld en die spook van Hendrik Hudson, wat ewe ver gereis het; hulle was altwee besig om ’n verslag van hulle laaste reis op te trek. Dan was daar die spook Aboe Fas’l, wat die eerste minister van Keiser Akbar was en wat nou en dan in die Oosterse lande ronddwaal, maar een van die sagsinnigste en gemoedelikste spoke wat ’n mens kan aantref, is. Daar was nog ’n paar ander spoke wat nie veel beteken nie en die bediendes in die kamer was algar pontianaks—die snaakse spokies wat in die bome woon in die Oosterse eilande, en wat op die kleure van blomme teer en nou en dan geniepsig kan knyp.
Johannes het sy buiging gemaak en gewag. As jy voor die komitee is, dan wag jy totdat die komitee jou aanspreek. Jy is nie astrant nie en praat nie eerste nie.
„Meneer Johannes,” sê die Roomse keiser, „ons het nou ’n nuwe reglement opgetrek. Ons vind dat jy tot hiertoe jou eie gang gegaan het in … in watter distrik ook weer?”
„In Prins-Albert,” sê kaptein Vanderdekken. „Lengtegraad 23, breedtegraad 34 sover ek kan uitmaak, maar dit is binnelands en die kaart is sleg. Ek sou nie op die berekening vertrou nie.”
„In Prins-Albert,” sê die Romeinse keiser. „Kan jy die komitee inligting gee, meer of min, in watter rigting jou bedrywigheid tot hiertoe uitgespat het?” [102]
„Ek spook in ’n ou meulhuis in die Mieliedraai,” sê Johannes.
„Waar is dit?” vra die Duitse dame, en sy drink weer ’n teug bier.
„Dis ’n end uit die dorp,” sê Johannes. „Die mense sê dat daar een of ander iets voorgeval het in die ou dae, en hulle hou nie daarvan om in die meulhuis te gaan na sononder nie.”
„Daarin het hulle ook niks te soek nie,” sê die voorsitter. „Dit is die grootste bog wat ek ooit van gehoor het. Dit bewys, dames en here, die noodsaaklikheid vir ons nuwe reglement. Soos dit nou toegaan, word ons spoke net maar so stadigaan geminag deur die mense. Hulle sien ons nie en dus glo hulle nie in ons nie. Dit word tyd dat ons ons gesag ’n bietjie handhaaf.”
„As die komitee dit goedvind,” sê kaptein Vanderdekken, wat altyd bars was, „sal ek met my Vlieënde Hollander in die Ghoup verskyn.…”
„Hulle sal net maar dink dat dit ’n nuwe vertoning vir die bioskoop is,” sê die Romeinse keiser. „Bly maar liewers in die buurt van Drie-Ankerbaai.”
„Soos ek sê,” vervolg die Romeinse keiser, „dit word tyd dat ons organiseer. Sonder organisasie kom ons nie verder nie. Nou in jou geval, Johannes, het die komitee besluit dat jy daar in Prins-Albert weggegooi is. Jy is al taamlik oud en jy het baie ondervinding—te veel om te verroes in ’n meulhuis. Jou werk sal moet wees om die mense te oortuig dat daar spoke is.”
„Dit sal swaar gaan,” sê kaptein Hendrik Hudson. „Hulle glo nie eers dat ek vandag nog rondseil in my bootjie om ’n weg deur die ysblokke te vind nie.”
„Die matrose glo vas aan jou,” sê die Duitse dame, [103]„net soos die hofliede aan my, ofskoon ek vir jare nie my verskyning in die paleis gemaak het nie.”
„Ja, jy is ’n geskiedkundige figuur, net soos ek,” sê Aboe Fas’l. „Ons het tenminste ’n bestaan in die volksoorlewering, net soos neef Hudson hier.”
„En wat dan van my?” vra kaptein Vanderdekken, isegrimmig.
„Jy staan nie op so ’n vaste voet nie,” sê die Romeinse keiser. „Dis waar, hulle het ’n toneelstuk oor jou gemaak, maar in die Karo weet hulle nie van jou nie. Dus het jy nog geen wêreldroem nie. Ek het dit.”
„Dis niks om oor te spog nie, die soort roem wat jy het,” sê kaptein Vanderdekken, nog meer uit sy humeur.
„Here,” sê Aboe Fas’l, „moenie rusie maak nie. Ons is hier om vriend Johannes se saak te bespreek.”
„Nouja,” sê die voorsitter. „Die komitee het jou saak in onderhandeling gehad en besluit, dat jy voorlopig op ’n plaas in die Hantam sal gaan spook.”
„Mag ek vra waar en vir wie?” vra Johannes, wat gladnie in sy skik was nie, want hy het nie eers meer geweet waar die Hantam was nie.
„Die plaas se naam is Koekemoerskloof,” sê die voorsitter, „en die eienaar daarvan is ’n seker meneer Giel Gouws, wat die bynaam het van Glo-nie Giel. Daaruit kan jy self sien watter soort kêrel hy is.”
„Dit sal maar swaar gaan om daardie kêrel te oortuig,” sê kaptein Vanderdekken. „Ek dink ek moet liewerster self gaan met my skip. As daar ’n skip in sy slaapkamer rondswerwe sal hy sy opienie verander.”
„Nee, Kaptein,” sê die voorsitter. „Ons het besluit dat die taak aan vriend Johannes opgedra sal word. Hier is dus jou orders, Johannes. Jy moet nog vanmiddag [104]aftrek na Koekemoersfontein.…”
„Kloof,” sê die Romeinse keiser, wat baie op kleinighede gestel was.
„Ekskuus. Koekemoerskloof,” sê die voorsitter. „Wat jy daar moet doen, laat die komitee heeltemal aan jou oor. Ons wil net hê, dat jy meneer Glo-nie Giel aan die verstand bring, dat daar dinge is wat bo sy vuurmaakplek gaan. Die komitee is van gevoelens dat hulle die saak gerus aan jou eie ondernemingsgees kan oorlaat. As jy hulp nodig het, kan jy ons maar laat weet, maar ons sal dit op prys stel as jy die saak afhandel, sonder om ons verder lastig te val.”
„Sal ek moet kettings dra en my kop onder my arm vat?” vra Johannes.
„Nee,” sê die voorsitter. „Ons laat die manier van optree heeltemal aan jou oor. Jy kan maak en doen net wat jy wil, mits jy nie alte ver gaan nie. Ons wil die kêrel net ’n les leer en ons wil hom nie so-te-sê seermaak nie.”
„En jy weet net so goed soos ons,” sê Aboe Fas’l, „dat ons hom nie kan seermaak nie. Jy weet net so goed soos ons dat ons algar maar dons is en dat ons geen wesenlike bestaan het, behalwe in die gedagte van die persoon wat ons sien nie.”
„Dit is al,” sê die voorsitter. „Koekemoersrand…”
„Kloof,” sê die Romeinse keiser weer.
„Ja, waarlik, Koekemoerskloof is agter die Hantamberge,” sê die voorsitter. „Dit sal jou omtrent twee sekonde neem om daar te wees. Dan het jy nog oorgenoeg tyd om te sien hoe jy die saak moet aanlê. Bly daar ’n week of twee en laat ons dan weet hoe dit gaan. Goeiendag.”
Johannes het goeie dag gesê en het dadelik weggesmelt. Hy het weer bymekaar gekom, omtrent drie [105]sekonde later, bo op die Hantamberge en vandaar het hy rondgekyk, om te sien in watter rigting Koekemoerskloof lê. Dit het hom nie lank geneem, om tot die besluit te kom, dat die plaas waarop hy moes gaan spook die plaas was, wat net reg onder die berg gelê het nie. Daar was ’n paar geboue op die plaas, omring deur groot populier- en eikebome en hy kon maklik sien, dat die grootste huis die woonhuis was; die ander huisie was die kafhok en stal en die derde een was die meulhuis, want hy kon die meulsloot sien, en hy kon ook sien hoe die meulrat stadig draai as die water daaroor val. Hy het toe weer weggesmelt en weer tesame geraak in die voorkamer van die huis, wat maklik genoeg vir hom was.
In die voorkamer, waar hy in ’n ligstraal bly staan het, sodat niemand hom kon sien nie, was daar ’n ou kêrel wat besig was om spanspek te eet. Hy was ’n stewiggeboude ou baas, met ’n verslete ferweelbroek en baadjie, en met ’n volbaard wat halfgrys was. Dit was maklik vir Johannes om dadelik te sien, dat die ou kêrel ’n man wat nie bang was nie, was. Hy kon dit bespeur uit die vaste houding en dit kordate manier, waarop die oubaas spanspek eet. Hy het dit met pitte en al ingesluk. Net ’n kêrel wat nie bang is nie sou soiets waag.
Dié nag het Johannes sy verskyning gemaak in die ou se slaapkamer. Die ou het gaan slaap in sy onderbroek en het ’n groot nagmus op sy kop gesit. Hy was blykbaar alleen in die huis, want daar was niemand anders in die kamer nie. En skaars het hy sy kop op die kussing gesit, of hy was hard aan die snork.
Johannes het ’n bietjie gewag en toe het hy versigtig die deken opgelig en die oubaas se voete gekielie. Eers het die ou net maar sy voet teruggetrek, maar Johannes [106]het bly kielie, met die gevolg dat die ou wakker word. Daar was so ’n bietjie maanlig, wat in die kamer ingestroom het deur die oop venster en in die maanlig kon hy vir Johannes sien. Johannes was aan die voetenent van die bed, en het fratse getrek dat dit ’n naarheid was.
„Naand Neef,” sê ou Giel. „Ek het jou nie hoor inkom nie, maar as jy nagverblyf soek, is jy welkom.”
Johannes begin te kreun en maak nog meer fratse.
„As Neef siek is,” sê ou Giel, en hy klim stadig uit die bed en steek die kers op, „kan ek Neef ’n bietjie rooileventel gee. Of ’n soet sopie as Neef dit verkies.”
Johannes het nog nooit iets van dié aard in sy spooklewe teëgekom nie. Sy ondervinding was dat hy net moes kreun en dan was die kamer leeg. Gewoonlik het die mense nie eers gewag totdat hy gekreun het nie.
Hy het toe harder gekreun.
„Mastag,” sê die ou. „Dit kan ’n knoop in die derm wees. Verlede jaar het daar ’n Hotnotjie van my daaraan gevrek. Hy het net so gekreun en gesteun. Wag, ek haal die leventel.”
Die ou loop uit die kamer en kom gou terug met ’n bottel in die hand. Hy gooi daarvan ’n paar druppels in ’n glas en reik dit toe aan Johannes, maar sy hand, met die glas en al, het sommer dwarsdeur Johannes se lyf gegaan.
„Mastag,” sê die ou kêrel, „hoe het ek dit dan?”
Johannes het harder gekreun en so baie fratse getrek, dat sy gesig daarvan moeg geword het.
„Dit moet die pampoenkoek wees, of miskien die spanspek,” sê die ou en hy kyk nadenkend na Johannes. Toe kom hy nader en neem die kussing op en slaat daarmee teen Johannes. Dit was ’n geweldige slag en ofskoon die kussing dwarsdeur Johannes gegaan [107]het en hom eintlik nie seergemaak het nie, het dit hom tog baie geskok. Soiets het nog nooit met hom gebeur nie. Hy het toe so hard gekreun as hy maar kon.
„Dis wrintig die spanspek,” sê die ou. „Maar dit lyk tog koddig om hier op my bed ’n kreunerige ou bywoner te sien.…”
„Ek was nooit ’n bywoner nie,” skree Johannes, verontwaardig. „Ek het my eie plaas gehad en ofskoon daar ’n verband op was, het ek tog altyd vorentoegeboer. Jy moenie ’n mens so beskinder nie.”
„Hemel,” sê die ou baas. „Nou praat dit. So ’n nagmerrie het ek nog nooit tevore gehad nie. As ek nie so slaperig was nie, sou ek dit kon sit en aankyk, maar dis tog maar ’n nagmerrie.”
En die ou gaan weer lê en in ’n omsientjie het die kamer gedreun met sy snork. Johannes was baie mismoedig. Hy het gesit en kreun en kreun, maar die ou het bly slaap en as hy die ou se voete kielie dan het die ou sy voete net maar weggetrek en nou en dan geskop, wat gladnie vir Johannes plesier gegee het nie. En douvoordag het Johannes weggesmelt en anderkant die kafhok weer bymekaar gekom.
„So sal dit nooit gaan nie,” sê hy. „Hierdie Glo-nie Giel is alte astrant. Ek sal hom moet leer, dat hy nie so goedsmoeds met ’n spook kan omgaan nie.”
Hy het toe in die voorkamer gegaan en gewag, totdat die oubaas se ete op die tafel was. Daar was gebraaide wors en hardgekookte eiers, en hy het dadelik die wors laat uitspring uit die skottel en in die lug laat rondloop. Toe die oubaas inkom, gewaar hy die kaskenades van die wors en vryf sy oë.
„Lieflot,” roep hy sy Hotnot, „kom kyk wat hier gaande is met die gedit en datte wors.” [108]
Lieflot het dadelik binnegehol uit die kombuis en die wors aangestaar met oop mond en groot oë.
„Dis towery, Oubaas,” sê hy en hy trek agteruit, maar die oubaas was nie so bang nie. Ou Giel het in die lug gespring en die wors gegryp, en dit dadelik op sy bord gesit en sy vurk daarin gesteek.
„Towery of nie towery nie,” sê hy, „ek eet dit. Dè, kyk nou of jy kan loskom.”
Maar net toe hy dit sê, begin Johannes, wat in ’n hoekie van die kamer staan, weer te kreun. Dit het Lieflot so verskrik, dat die Hotnot omspring en hardloop, totdat hy by sy pondok was. Maar die oubaas het hom nie aan die gekreun gesteur nie. Hy het smaaklik sy wors opgeëet.
„Dis darem koddig,” sê die ou, „hoe lank die spanspek op ’n mens se maag kan bly lê. Ek sou amper sê dat ek geluide hoor hier in die kamer.”
Johannes het nou probeer om hom met die hardgekookte eiers te gooi, maar die oubaas het hulle handig gevang, afgeskil en opgeëet.
„Dit spaar my die moeite om oor die tafel te reik,” sê hy.
Toe het Johannes maar die saak opgegee.
„Wag, ek sal jou vanaand kry,” sê hy en hy het sommer in die oubaas se bed gekruip en daar bly lê tot die aand.
Toe die ou in die bed wou klim, het Johannes hom onderstebo gegooi, maar die oubaas was rats en weer gou-gou op die been.
„Dis nou weer die varkspek wat ek vanaand geëet het,” sê die ou. „Wonderlik watter uitwerking dit het. ’n Mens sou werklik sê dat daar iets in my bed was.” [109]
„Daar is ook,” skree Johannes, wat nou geweldig verontwaardig was.
„En wie sou dit dan wees?” vra die ou, ewe bedaard.
„Ekke,” sê Johannes en smelt same, sodat die ou hom kan sien. Hy het weer sy beste fratse getrek en so bangmakerig soos moontlik gelyk, maar die ou het hom aangekyk asof hy ’n toktokkie was.
„Ek het nie my bril nie,” sê die ou, „en dus kan ek jou nie mooi sien nie, maar dit skyn vir my dis dieselfde bywoner wat my gisteraand kom stoor het.…”
„Ek het jou al gesê ek is geen bywoner nie,” sê Johannes. „Ek is die spook van ’n welvarende boer, wat jou kom bangmaak.”
„Maak dan maar,” sê die ou. „Maar ek wil in my bed lê en spook of nie spook nie, daaruit hou jy my nie.”
En die ou het ewe bedaard in die bed geklim, die dekens na hom toe getrek en vriendelik na Johannes gekyk.
„Jy is maar slegte spysvertering,” sê die ou op minagtende toon, „te wyte aan spanspek of varkspek. Niks anders nie.”
„Ek is ’n spook,” skree Johannes, wat nou werklik kwaad was. „As jy nie bang word nie sal ek … sal ek.…”
„Nou ja, wat sal jy doen,” vra die ou. „Bang is ek nimmer en nooit nie.”
Johannes het gekreun so hard soos hy kon, en hy het weggesmelt en weer bymekaar gekom om die ou te imponeer, maar die oubaas het bedaard al sy kaskenades aangekyk en eindelik gegaap en gesê:
„Al maak jy nou wat jy wil, ek weet tog dat jy niks anders as slegte spysvertering is nie. Môre neem ek koeksoda en dan is jy oor.” [110]
En die ou het bedaard aan slaap geval en gelê en snork.
Die volgende dag het Johannes teruggegaan na die spookkomitee.
„So,” sê die Romeinse keiser. „Ek sien jy kom onverrigter sake terug. Is ou Giel werklik nie bang nie?”
„Ag Keiser,” sê Johannes, „dis net ’n naarheid. Hy wil niks glo nie. Ek kom om hulp soek.”
„Bang sal hy moet word,” sê die voorsitter, „anders is ons gesag na die maan. As dit eers bekend word dat ons niks anders is as slegte spysvertering nie—wat word dan van ons?”
„Onder die omstandighede,” sê Hendrik Hudson.…
„Jy mag sê die benarde omstandighede,” sê die Romeinse keiser.
„Gaan jou gang maar, Hendrik,” sê die voorsitter.
„Wat ek wou sê is dit,” sê Hudson. „Ons vriend hier is te goedhartig. Hy kon die ou regtig bang gemaak het.…”
„Julle het mos gesê ek moet hom nie seermaak nie,” brom Johannes.
„Nie juis seermaak nie,” sê Hudson. „Maar jy kon hom tog skrikgemaak het.”
„Ek glo nie die hele komitee sal hom skrikmaak nie,” sê Johannes.
„Dis ’n goeie voorstel,” sê die Romeinse keiser.
„Hoe sou dit wees as ons algar saamgaan met ons vriend?”
„Dit is glad benede die waardigheid van hierdie komitee,” sê die voorsitter beslis. „Ek is verwonder dat jy soiets voorstel, Keiser. Wat ek sou aan die hand gee is, dat ons ’n geraamtespook met ons vriend [111]saamstuur. Die twee sou miskien meer indruk kan maak.”
„Ek sekondeer,” sê die Duitse dame.
Johannes het toe vertrek met die geraamtespook. Die geraamtespook was werklik ’n narigheid, want hy was nie eers vel en been nie; hy was sommer pure been, en jy kon dwarsdeur sy kop sien, want daar was ’n gat agter waar hy in sy lewe met ’n kielhouer geslaan was.
Dié aand het die geraamtespook bymekaar gekom aan die koppenent van die bed net soos die oubaas wou inklim en het geraas met sy bene, terwyl Johannes aan die voetenent staan en kreun.
„Liewe tyd,” sê ou Giel, en hy kyk van die een na die ander. „Hier is nou twee van julle en dit nieteenstaande die koeksoda. Wat op aarde kom julle nou hier uitrig?”
„Ons kom jou bangmaak,” sê die geraamtespook en hy klapper met sy kop teen die muur.
„Stadig,” sê die ou. „As jy so aangaan sal jy die pleister losmaak en ek het dit net verlede maand gewitkalk.”
„Dit maak nie saak nie!” sê die geraamtespook, so kwaai as hy maar kon praat—en dit was baie kwaai—„Ons kom jou bangmaak.”
„Maak dan maar,” sê die ou, ewe gerus. „Ek weet tog julle is net maar onverteerde kos wat swaar op die maag lê.”
En hy kruip in die bed en begin te slaap.
Johannes en die geraamtespook het alles gedoen wat hulle kon, maar hulle het die ou nie eers wakkergemaak nie. Die geraamtespook het ou Giel met sy beenderige hande gekielie, en op en neer op sy deken geskuif en Johannes het in sy oor kom kreun, maar die ou het [112]net sy kop geskud en gemaak asof hy ’n vlieg wou doodslaan, maar hy het soos ’n kind bly slaap.
„Weer niks uitgerig nie?” vra die Romeinse keiser, toe Johannes met sy maat voor die komitee verskyn. „Dis tog alte jammer.”
„As ons hom maar kan seermaak,” sê Johannes, „dan het ek nog moed. Maar hy gee niks om vir dreigemente nie. So ’n soort skepsel het ek nog nooit ontmoet nie. Hy maak my mismoedig.”
„Ek herinner my ’n dergelike geval,” sê kaptein Vanderdekken. „Dit was ’n matroos. Ek het telkens voor hom verskyn en hy het altyd beweer, dat dit maar sy grog was. Die here kan hulle nie verbeel, hoe gekleineer ’n spook hom voel as hy vir ’n grog uitgemaak word nie.”
„Dis nie erger as wanneer hulle sê, dat jy slegte spysvertering is nie,” sê die geraamtespook, „veral as jy niks het om te verteer nie. Ek kan sê dat ek ooreenstem met vriend Johannes. Die ou Giel is ’n snaakse mens. Hy glo aan niks nie.”
„Daaraan moet nou ’n end gemaak word,” sê die voorsitter. „Ek dink ons sal julle twee versoek om weer na Koekemoersdrif.…”
„Kloof,” sê die Romeinse keiser.
„Ek bedoel kloof,” sê die voorsitter, ’n bietjie driftig, „te gaan, en ons sal iemand anders met julle saamstuur. Wie dink die here sal ons stuur?”
„Hoe sou dit wees om die kêreltjie wat sy kop ronddra te stuur?” vra die Duitse dame.
„Hy is te jonk,” sê die voorsitter. „Ons moet iemand hê met rype ondervinding.”
„Dan stel ek voor,” sê die Romeinse keiser, „dat ons die spook van die hond Serberus saamstuur. Soos die here weet, hy is al taamlik oud, maar hy het glo [113]sewe koppe en hy lyk naar genoeg om die dapperste mens skrik te maak.”
„Dis ’n goeie voorstel,” sê die voorsitter. „Laat hom weet dat hy hom moet klaar hou, om met die here saam te gaan, môre.”
Die volgende nag het Johannes met die geraamtespook en Serberus in die ou se slaapkamer gewag. Serberus was werklik ’n hond wat jou kon skrikmaak. Sy sewe koppe was een nog leliker as die ander en sy slagtande was so groot, dat hulle jou aan die van ’n bosvark laat dink het. Hy het in die middel van die bed gaan sit en begin blaf dat dit ’n naarheid was.
Toe die oubaas inkom, sien hy dadelik die drie.
„Ek gee nie om vir julle nie,” sê hy, „maar hierdie vervlakste hond wil ek nie op my deken hê nie.” En hy gryp sommer sy kierie en slaan geweldig los op die arme Serberus, wat nog nooit in sy lewe so ’n behandeling ondervind het nie. Die houe het natuurlik algar deur hom gegaan en op die deken te land gekom, maar die belediging was so groot, dat die hond onder die bed weggekruip het. Hy was so verbouereerd, dat hy nie eers daaraan gedink het om weg te smelt nie.
„So,” sê die oubaas. „môre gaan ek dorp-toe en kry medisyne van die dokter. Dis nou eenmaal te erg dat die slegte spysvertering so lank aanhou.”
Johannes en die geraamtespook het die nag alles gedoen wat hulle kon dink om die oubaas bang te maak, maar hy het glad geen notiesie geneem nie. Hulle het volhard tot hy wakker geword het in die môre.
„Mastag,” sê hy. „En julle is nog daar? Waar is julle hond?”
Johannes was so mismoedig dat hy nie eers geantwoord het nie.
Toe die drie weer terugkom voor die komitee, het [114]Johannes gesmeek dat hulle hom maar weer sou toelaat om in Prins-Albert te gaan spook.
„In die Hantam is daar niks uit te rig nie,” sê hy.
„Ek dink ook so,” sê kaptein Vanderdekken. „Ons sal jou maar na jou ou meulhuis stuur. Een dag as ek tyd het, sal ek self vir ou Giel gaan bangmaak.”
Maar tothiertoe het geen spook weer Koekemoerskloof besoek nie. [115]