I.
Die Een wat Blind was.
Toe alles op die wêreld nog klein was—so klein soos die borsveertjies van ’n tingtinkie—toe was daar twee wat rondgeloop het. Die een het altyd vir hom kos gesoek en die ander was blind.
Die Een Wat Kos Gesoek het, was ’n jagter. Hy het gate gemaak om die wild te vang, en hy het baie hard gewerk om nou en dan ’n stukkie kos in die hande te kry. Want in dié tyd, my Kleinbasie, was kos baie skaars. Nie soos vandag nie! Nou kry jy brood en blikkieskos en wat jy wil hê, as jy net vra, want die oubaas is mos ryk, en kan op die boekie koop in die winkel.
Maar in dié dae was daar nie boekies nie en nie eers winkels nie, en dit was baie swaar om jou kos te kry. Dit het sweet-sweet gegaan, Kleinbasie. ’n Mens moes jag en rondspring en selfs dan het jy maar min beetgekry.
Die jagter het eindelik ’n spelonk gevind. Die spelonk was vol met wild, amper net soos ’n byenes vol met heuning is.
Hy het gewag totdat die oues uitgekruip het, en toe het hy ingekruip en die kleintjies doodgemaak.
„Vanaand eet ek lekker … tjiep, tjiep, tjiep,” het hy gesê, en hy het sy lippe nat gemaak met sy tong, want hy het hom verbeel dat hy al die sous van die braaivleis kon proe.
Toe het hy die klein lykies van die kleintjies wat hy doodgemaak het, uitgedra en ’n groot gat in die grond gemaak, waarin hy hulle wou begrawe. [2]
„Nou gaan ek brandhout soek,” sê hy, en hy het die veld ingeloop om brandhout te soek.
Maar toe hy weg was om brandhout te soek, kom die ander een, die Een Wat Blind Was, en hy struikel oor die gat.
„Maskas,” sê hy, „wat is dit dan hier? Ek moet voel.”
En die blinde voel met sy lang vingers, en hy voel die lykies.
„Maskas,” sê hy weer, want dit was omtrent die enigste ondeunde woord wat hy van geweet het, „Maskas, die kêrel is mos ’n swaap.”
En hy wag toe tot die jagter kom. Die jagter het ’n armvol brandhout—mooi rooibos-hout, wat altyd lekker kole maak, en ’n warm vuurtjie gee, my Kleinbasie—en hy was moeg en uit sy humeur. Hy sien die blinde een en sê kortaf:
„Naand.”
„Naand,” sê die blinde, en hy begin sommer: „Maar, Jagter, jy is tog ’n swaap. Verekskuseer as ek dit sê, maar jy is tog ’n swaap. Niks anders as ’n swaap nie. Sonder die minste begeerte om jou te beledig, Jagter, moet ek sê jy is tog maar ’n swaap.…”
„Nie so baie van die swaap nie, Blindeman,” sê die jagter, wat al vererg geword het. „Anders breek ons konfytpotjie.”
„Ek wil maar net sê,” gaan die blinde voort, „en dit sonder om aanstoot te gee, dat jy tog maar ’n swaap is.…”
„Hoekom sê jy so?” vra die jagter en hy gooi sy brandhout op die grond en rol sy hempsmoue op.
„Ja,” sê die blinde, „vra dit gerus. Hoekom? [3]Net omdat ek sien dat jy dink hierdie goed is bokkies, nè?”
„Wat is hulle dan anders?” vra die jagter.
„Hulle is mos veetjies,” sê die blinde. „Mak veetjies. Dié kan jy mos nie sommerso opeet nie. As jy vanaand wil kos hê, moet jy nou maar weer gaan jag.”
Die blinde het met soveel gesag gepraat, Kleinbasie, dat die jagter dadelik gevoel het dat hy nie reg gedoen het nie—net soos jy voel, Kleinbasie, as jy kwepers gesteel het, voordat hulle ryp is.
Die jagter het toe sy brandhout laat staan en hy het weer veld-toe gegaan om te jag. Maar dié aand het hy niks gekry nie, want die bokkies het al loop slaap.
Die blinde het by die gat bly staan, en het ’n bietjie as oor sy oë gesmeer, wat hom weer siende gemaak het. Hoe dit gebeur het weet ek nie, maar Kleinbasie moet maar vir my glo as ek vir Kleinbasie sê, dat dit so geskied en so gebeur het. Nog wonderliker dinge gebeur mos elke dag. Kyk hoe die groot waterlemoen groei uit die pit, wat so klein as die top van Basie se pinkie is. Dis maar ewe wonderlik.
Toe het die blinde die lykies uit die gat geneem en daaronder het hy ’n paar koeitjies en kalwertjies gekry. Hoe hy dit geprakseer het, weet ek wrintig nie, maar dis wat die storie sê, arrie ja Kleinbasie; en as Kleinbasie nie die storie glo nie, dan kan Kleinbasie maar loop speel.
Die blinde man het ’n ringmuur van bossies rondom sy kalwertjies en sy koeitjies gemaak. Daarbinne het hy sy veetjies gehou.
„Dis my kraal,” het hy gesê, en hy het hom ingesmeer met vet—wat ’n bietjie galsterig was—en het [4]pronkerig rondgeloop. Baie verwaand was daardie blinde man, wat nie meer blind was nie.
Maar op een dag kom die jagter terug. Hy het moeg geword om sonder kos te jag en hy het gedink, dat hy maar weer by die veetjies in die gat sou kom probeer om kossies te kry.
Hy sien die kraal en hy bekyk die vetgesmeerde blinde man, wat nie meer blind was nie.
„Blinde broer,” sê hy, „dis mos my goed daardie.”
„Ag wat,” sê die blinde man, wat nie meer blind was nie. „Wat verbeel jy jou? Die miere het al lankal jou goed opgevreet. Trap!”
„Maar dit lyk mos na my goed,” sê die jagter, wat nou gladnie meer so vererg was nie, want hy was baie maer en baie honger—so honger dat hy amper buikpyn van die honger gehad het.
„Lyk!” sê die blinde man—wat nie meer blind was nie. „Ja, baie dinge lyk soos hulle nie is nie. Loop na jou grootjie!”
Nou, Kleinbasie, die blinde man wat nie blind was nie, was reg toe hy gesê het dat baie dinge lyk soos hulle nie is nie, maar hy was nie reg toe hy die jagter gesê het om na sy grootjie te loop nie. Want die jagter se grootjie was al jarelank dood, Kleinbasie. Maar die jagter was nou so honger, dat hy bang was en hy het weggeloop en probeer jag. In dié dae was die veld so droog dat jy jou eie water moes saamneem in ’n kalbas, en hy het sy drinkwater vergeet. Daar was nie eers bossies om te kou nie, want die blinde man se veetjies het al die gras en bossies opgevreet.
Eindelik het die jagter mismoedig weer teruggekom.
„Daar’s niks nie, blinde broer,” sê hy, „en ek is tog so honger. Gee my iets om te eet, anders vergaan ek.” [5]
„Nee,” sê die blinde man, wat nie meer blind was nie, „waarom sal ek vir jou kos gee? Jy het mos niks gewerk nie. Ek moet my veetjies oppas. Trap!”
„Asseblief tog, blinde broer,” sê die jagter, „gee my net ’n bietjie vet om my in te smeer. Die son brand tog so seer.”
„Dè,” sê die blinde man, wat nie meer blind was nie, „hier’s ’n skraapseltjie vir jou.”
En hy gee hom ’n smeerseltjie vet.
Die jagter het hom probeer insmeer, maar hy was so maer en so moeg, omdat hy so honger was, dat hy dit nie kon doen nie.
„Jy’s tog ’n swaap,” sê die blinde man, wat nie meer blind was nie. „So kry jy dit nooit reg nie.”
„Wat moet ek dan maak?” vra die jagter.
„Jy moet dit eers op die vuur smyt,” sê die blinde man. „Dan word dit sag. Dan kan jy dit insmeer.”
Die jagter het dit toe in die vuur gesmyt, maar die vet het so vinnig opgevlam, dat dit sy hare verskroei het en die blinde man, wat nie meer blind was nie, het so vererg geword dat hy hom amper in die vuur gestoot het.
„Maskas, jy’s tog maar ’n swaap,” het die blinde man, wat nie meer blind was nie, gesê. „Loop weg, anders maak jy nog dalk vir my en my veetjies dood. Maak vir jou ’n boog en pyl uit ghnarraboshout en skiet sprinkane. Dis al wat jy kan doen.”
Die arme jagter het weggeloop en vir hom ’n pyl en boog uit ghnarraboshout gemaak.
Hy was die eerste Boesman.
Tenminste so sê die Boesmans … en hulle behoort dit te weet, Kleinbasie.
Want, arrie! party van hulle is slim! [6]