III.
Abdoel se Storie.
Dis ’n klein eilandjie, maar dit staan nie eensaam nie, ofskoon dit ’n eiland is en omring deur die see. Dit het duisende bure, want dit is een van die Vyfduisend Eilande wat in die Indiese See staan. Daar’s mense wat sê dat daar meer van hulle is, sesduisend, seweduisend—nog meer, nog baie meer, en niemand weet of hulle reg het of nie, want niemand het die eilande getel nie.
Hierdie kleintjie, waarvan ek praat, word Minekoi genoem, en is so groot as van hierso tot daar waar jy die agterkant van die berg kan sien. Daar is palmbome op, klapperpalmbome, waaraan die klappers by dosyne hang en waarin die Bo-voël, wat kan praat net soos ’n mens, speel met sy maters vóór die reën kom. Die strand van die eiland is wit, soos silwer wat gesmelt is en daar lê baie skulpe daar. Daar is sommige skulpe wat so groot soos ’n kruiwa is en ander skulpe wat so fyn is, dat jy daardeur die klapperbome kan sien. En in die lae water, naby die strand, groei donkerblou seegras, waardeur die geel en rooi seeslange swem en waaronder die stekelige seemuise huisves; seegras wat slinger om die kraalpilare net soos krulkrans om die doringboomstam.
Hier op Minekoi het ’n ou kêrel met die naam van Sadiah gewoon. Hy was ’n kort klein ou kêreltjie met lang, swart hare, wat nie gekroes was nie, want die mense wat daar woon het nie algar kroeshare nie, ofskoon sommige van hulle amper so lelik soos die Boesman hier is. Hy was ’n see-Maleier, afkomstig uit die Ooste, uit vèr Borneo, waar die mense nog baie [15]wild is en koppe afslaan, tenminste die koppe van hulle vyande waarmee hulle baklei het. Maar Sadiah was al oud en het nie meer baie lus in bakleiery gehad nie. Hy het na Minekoi gekom en daar sy klein pondokkie gebou en hom onderhou met wat hy uit die see kon kry.
Daar was baie wat hy kon kry. Die krulkrans-seegras het hy gekook en net soos kool geëet, en vir vleis was daar altyd vis. Allerhande soorte vis, met allerhande kleure, so mooi, amper, soos die weste geword het by sonsondergang. Hy moes net maar sy bootjie neem en ’n paar myl van die strand seil en dan kon hy soveel vis vang as hy maar wou. Vir aas kon hy ’n stukkie rooi flennie gebruik. Dié stukkie rooi flennie was al lank al in die famielie, want dit was kosbaar en dit kon oor en oor gebruik word as aas, want die visse het dit nooit ingesluk nie. Dit het hulle net maar aangelok na die hoek, en sodra hulle naby die hoek was, het Sadiah hulle opgetrek, omdat hy handig genoeg was om die hoek êrens deur hulle lyf te kry met ’n vinnige ruk.
Elke jaar, as die oostewind begin waai, kom die mense van Minekoi bymekaar om fees te vier. Hulle neem ’n skuit—en dis algar snaakse skuite wat hulle daar het, klein skuitjies met lang planke aan weerskante, sodat hulle nie maklik kan omslaan nie selfs as die branders baie wild is—en laai dit vol met gedroogde vis, met vrugte en met blomme, die pragtige blomme wat in die bosse van die eiland groei. Dan bring hulle die skuit waar die see diep is, en laat dit daar in die see wegsink.
Dis ’n offerande wat hulle aan die bose geeste wat in die see woon, bring.
Dié bose geeste word veronderstel onder die seegras te lewe, net soos die seeslange, en volgens die mense [16]van Minekoi is hulle baie gevaarliker as die seeslange, alhoewel die seeslange giftig genoeg is. Só giftig, dat as een daarvan jou byt, jy dan nie meer lank sal lewe nie. Maar die geeste, veral die wat ver in die see woon, is baie kwaai, en moet gepaai word. Anders kan jy nie vis vang en teen die branders veg nie.
Daarom word die geeste gepaai met offerandes van vrugte en blomme en gedroogde vis.
Sadiah het elke jaar deelgeneem aan die fees, en sy stukkie gedroogde vis en ’n paar vrugte of blomme saamgebring om in die skuit te sit. Op dié manier het hy gedink dat hy nou op ’n hoogs vriendskaplike voet met die geeste gestaan het. Dié gedagte het hom ’n bietjie astrant gemaak en hy het nie so versigtig te werk gegaan nie as hy anders sou gedoen het, as hy gedink het dat die bose geeste teen hom was.
„Daardie Sadiah,” het sommige van sy vriende gesê, „daardie Sadiah sal nog ’n ongeluk kry as hy nie oplet nie. Hy waag te veel.”
Maar jaar-uit en jaar-in het dit voorspoedig met Sadiah gegaan. Hy het hom nie aan waarskuwings gestoor nie en het bedaard vis gevang met sy stukkie rooi flennie, wat ’n erfstuk in sy famielie was. „Poesaka” soos hy sou gesê het, in sy Maleise taal.
Op één dag het Sadiah ’n klomp vissers teëgekom wat hard aan die praat was. Toe hy by hulle kom, sê een van hulle:
„Sadiah, weet jy iets van die goudgeel otter?”
„Ek het daarvan gehoor,” sê Sadiah. „Dis mos ’n groot otter wat hier op een van die Vyfduisend Eilande nes maak. Wat daarvan?”
„Die koning wil die vel hê,” antwoord die man. „Hy het gesê dat hy die persoon wat hom die vel van die geel otter bring, skatryk sal beloon.”
Sadiah het nie baie om geld gegee nie, maar hy was [17]tog gierig om deur die koning beloon te word, en hy het sy ore gespits.
„Ja,” sê die kêrel. „Die koning het van die otter gehoor en hy het ’n weddenskap gemaak, dat hy binne ’n jaar die vel sal hê. Ons het algar bevel gekry om op te let of ons iets van die otter gewaar. Dan moet ons dadelik aan die koning se visier kom sê waar die dier te kry is.”
Sadiah het huis-toe gegaan en die volgende môre het hy vroeg opgestaan, ’n klein mandjie vol gekookte seegras en ’n paar stukkies gedroogde vis geneem, en na die Towenaar gestap.
Die Towenaar was ’n stokou kêrel wat alleen in ’n pondokkie op die strand gewoon het. Al die mense was bang vir hom en het so ver as moontlik van hom gebly, maar hulle het hom darem kos gegee en gesorg dat hy niks nodig gehad het nie. Dit was om hom te paai, net soos hulle die bose geeste wat onder die seegras woon, wou paai. Want hulle was bang vir altwee, en het nie eers geweet of hulle banger vir die geeste of vir die Towenaar was nie.
Toe Sadiah by die Towenaar kom, maak hy ’n diep buiging en sit sy mandjie op die grond.
Die Towenaar, wat half blind deur ouderdom was, het hom gehoor en nors gevra: „Wat wil jy hê, skepsel?”
„Ek bring die Towenaar hierdie presentjie,” sê Sadiah. „Gestoofde seegras—dit smaak baie lekker, soos ek weet—en gedroogde vis, wat nog lekkerder smaak.”
„Goed,” sê die Towenaar. „Sit dit maar daar en trap.”
„Ja,” sê Sadiah, „maar ek het ’n versoek.”
„Dit het ek gedink,” sê die Towenaar. „Julle bring niks vir my vir niks nie. Wat wil jy van my hê?” [18]
„Ek wil net maar weet, o Towenaar,” sê Sadiah, „of daar werklik soiets is as ’n goue otter, en as daar werklik soiets bestaan, hoe ’n mens dit in die hande kan kry.”
„So,” sê die Towenaar. „Jy wil skatryk word. Jy wil hê dat die koning jou sal beloon. Nou, ek het daar niks op teen nie. Rykdom beteken niks nie en dis een en dieselfde vir my of jy die skatte besit of die koning. Ek sien dat jy nie alte dom is nie en dat jy jou maters vooruit is. Geeneen van hulle het daaraan gedink om my te kom vra nie, of om vir my iets saam te bring nie. Dus sal ek vir jou help. Die goue otter woon in ’n grot op die sewehonderd-en-sestigste eiland.”
„En waar is die sewehonderd-en-sestigste eiland?” vra Sadiah.
„Net langs die sewehonderd-negen-en-vyftigste eiland,” sê die Towenaar, „en duskant die sewehonderd-een-en-sestigste. Jy moet reguit seil, en dit sal jou vyf dae en vyf nagte neem om daar te kom en niemand weet hoe lank nie om terug te kom.”
„Dankie, Towenaar!” sê Sadiah. „Dankbaar!”
„Nee,” sê die Towenaar. „Moenie so gou wees nie. Daar is eintlik geen haas nie, want die goue otter is al duisend jaar oud en kan nog ’n maand of wat ouer word voordat jy hom gaan lastig val. Ek moet jou egter sê dat dit gladnie maklik sal wees om hom te vang nie.”
„Hoe moet ek dit prakseer, Towenaar?” vra Sadiah. „Ek sal baie dankbaar wees as Towenaar my wil sê, asseblief, hoe ek die saak moet aanvang.”
„Daarvoor het jy nodig ’n stukkie flennie,” sê die Towenaar. „’n Stukkie rooi flennie.…” [19]
„Dit het ek,” sê Sadiah, vinnig. „Dis ’n erfstuk in my famielie, wat ek gebruik om vis mee te vang.”
„Dan is jy oor die ergste bult,” sê die Towenaar, „want ek weet waarlik nie waar jy soiets hier sou kon kry nie. Selfs ek, met al my toorkragte sou dit moeilik vind om ’n stukkie rooi flennie sommerso te maak. Nou, die stukkie flennie moet jy met klapperolie bestryk. Dit sal die goue otter aanlok en hy sal kom snuffel.…”
„Dan slaan ek hom dood,” sê Sadiah, „en bring hom huis-toe. Dankie.…”
„Jy’s weer alte vinnig,” sê die Towenaar. „Dis nie so maklik om hom dood te slaan nie, want hy is duisend jare oud en so taai soos see-bamboes. Nee, jy moet anderster maak. Sodra hy aan die flennie snuffel, moet jy my toorgoed op hom gooi. Dan verander hy in ’n stukkie droë seegras. Die seegras moet jy versigtig wegsteek, sodat dit nie nat word nie. Sodra dit nat of klam word, dan verander dit tot die goue otter, en hy spring dadelik weer in die see en dan is jy al jou wins kwyt.”
„En die toorgoed,” vra Sadiah. „Sal Towenaar my dit gee?”
„Ek sal dit vir jou ruil,” sê die Towenaar.
„Vir wat,” vra Sadiah.
„Vir die eerste vinger van jou regterhand,” sê die Towenaar, „en die vyfde toon van jou linker voet. Ek het dit nodig vir my towery.”
„Allamaskas!” sê Sadiah.
„Moenie bang wees nie,” sê die Towenaar. „Dit kan wag totdat jy terugkom. Dan sal ek saggies altwee afsny. Dit sal jou nie baie seermaak nie en daar jy dan skatryk sal wees, sal jy nie ’n duim en ’n groottoon nodig hê nie. Hier is die toorgoed en onthou, as jy [20]terugkom, moet jy hierso kom en my die vinger en toon afstaan.”
Sadiah was nie baie in sy skik met die ruil nie, maar hy was nou so gierig om skatryk te word, dat hy die toorgoed maar geneem het. Dieselfde dag het hy weggeseil, in sy skuitjie, na die sewehonderd-en-sestigste eiland. Dit het hom vyf dae en vyf nagte geneem om die eiland te bereik, en hy was toe al amper half mal van die tel, want daar was so baie eilande dat hy nou en dan in die war geraak het en weer agteruit moes gaan om reg te tel. Maar eindelik het hy die eiland bereik en op die strand geland. Hy het sy stukkie rooi flennie, wat ’n erfstuk in die famielie was, met klapperolie besmeer en dit op ’n stokkie in die sand regop gesteek, en hy het agter ’n klip gelê en wag, totdat die goue otter te voorskyn sou kom.
Dit het ook nie lank geduur nie of die otter het uit die see gekom en die galsterige klapperolie geruik. Die otter was werklik ’n pragtige dier. Sy vel was so glad soos ferweel en het geblink soos ’n nuwe pond, want elke haar was van goud en dit het die maanlig weerkaats, sodat die lig in strale daarvan afgeskiet het.
Sadiah het gewag totdat die otter mooi aan snuffel was en toe het hy die toorgoed vinnig oor die dier gegooi. Ja, regtig—die otter het sommer verander in ’n stukkie seegras.
Maar alte bly dat die saak so gou-gou oor was, het Sadiah die stukkie seegras opgetel en versigtig in sy kopdoek weggesteek. Toe het hy op sy skuitjie geklim en so vinnig as hy kon huis-toe geroei. Toe daar ’n windjie opsteek, het hy die seil van sy skuitjie opgehys en vantoeafaan het die reis voorspoedig gegaan. Binne drie dae was hy weer by Minekoi. Toe hy afstap by [21]die groot klip op die strand waar al die bootjies vasgemaak word, het hy gewaar dat daar ’n groot opskudding was. Die mense het deurmekaar heen en weer gehardloop en orals het hulle te keer gegaan. „Wat het dan gebeur?” vra Sadiah, aan iemand wat hy teëgekom het.
„Het jy nie gehoor nie?” sê die man. „Gisternag het daar ’n rower gekom wat die koning wou vermoor. Maar die koning het hom dapper geweer en het die kêrel se regterduim en linker-groottoon met sy sabel afgeslaan. Nou soek ons na ’n man wat nie ’n regterduim en linker-groottoon het nie.”
„En wat sal geskied as julle so iemand kry?” vra Sadiah, wat al bang geword het.
„Dit weet jy mos self,” sê die man. „Hy sal nie ’n lekker dood sterf nie, dit kan ek jou verseker. Die koning is woedend. Hy praat van in stukkies sny of lewendig opvreet of soiets, maar in elk geval, dit sal nie iets plesierigs wees nie.”
Sadiah het mismoedig weggestap na die Towenaar se pondok.
Toe hy daar kom sê die Towenaar: „Ek sien jy het die goue otter. Nou moet jy my die vinger en die toon gee. Ek het dit nodig vir my towery.”
„Maar Towenaar,” sê Sadiah, „het jy dan nie gehoor van die kêrel wat die koning wou vermoor nie?”
„Daarvan weet ek,” sê die Towenaar, wat al besig was om sy mes te slyp. „Maar dit het niks met ons akkoord te maak nie. Sit daar op die klip en gee my jou voet.”
„Maar so sal dit nie kan gaan nie, Towenaar,” sê Sadiah. „As jy nou my toon en my duim afsny, dan sê die mense sommer dat ek die kêrel is. En al sê ek ook dat ek gladnie hier was nie, wie sal my glo?” [22]
„Dis jou saak,” sê die Towenaar. „Daar het ek niks mee te doen nie. Ons akkoord bly akkoord.”
„Sou jy dan nie iets anders in ruil wil neem nie?” vra Sadiah.
„Nee. Nie eers die goue otter nie,” sê die Towenaar. „Ek het jou duim en jou groot-toon nodig vir my towery. Moet nou nie so sanik nie, want dit word laat. Sit daar op die klip en ek sal altwee afsny, voordat jy nog daarvan weet.”
Sadiah was nou werklik in ’n moeilikheid. Hy was ’n man van sy woord en hy wou nie sy woord breek nie, maar hy het gesien, dat as hy sy vinger en sy toon laat afsny, dit miskien lelik met hom kan gaan. Om in stukkies gesny te word, veral vir ’n misdaad wat jy nooit gepleeg het nie, was darem alte naar. Maar hoe hy ook soebat, die Towenaar wou nie toegee nie. Eindelik het Sadiah so naar geword dat hy begin huil. Om sy trane af te droog, het hy sy kopdoek gebruik, en die trane het die kopdoek papnat gemaak. Die klammigheid het deurgedring, totdat dit die stukkie gedroogde seegras bereik het, en sodra die stukkie droë seegras nat was, het die goue otter woeps uit die kopdoek gespring en ewe vinnig in die see weggehol.
„Daar het jy dit nou,” sê die Towenaar, vererg. „Ek het jou mos gewaarsku. Dit kom van jou koppigheid. As jy eers gedoen het wat ek vir jou gesê het, dan sou jy nie die otter kwyt geraak het nie. Daar swem jou rykdomme terug na die sewehonderd-en-sestigste eiland.”
„Ek gee nie om nie,” sê Sadiah. „Nou het ek mos nie my toon en my duim af te staan nie!”
„Hè?” skree die Towenaar. „Dink jy so? Maar jy het mis, visserman. Ons akkoord bly akkoord. Ek [23]het my gedeelte daarvan stip nagekom. Dis nou jou plig om jou gedeelte daarvan ewe stip uit te voer.”
„Nee, wrintig nie,” sê Sadiah. „Ek sal my nie in stukkies laat sny vir iets wat ek nooit gedoen het nie en veral nou as ek geen kans sien om die beloning te kry nie.”
En hy hol sommer, so hard as hy kan, van die pondok weg. Die Towenaar het hom probeer naloop, maar hy het gestruikel en op sy skerp mes geval. Die mes het sy regterduim afgesny, en toe hy rondspartel van die pyn, het hy met sy linkervoet op die mes geraak en die mes het sy linker-groottoon afgesny. Die Towenaar moes toe huis-toe hink, en op pad het hy die mense teëgekom wat na die rower gaan soek het.
„Hier is mos die vent,” skree hulle. „Kyk, hy het mos geen duim aan sy regterhand nie en geen groottoon aan sy linkervoet nie. Dis hy.”
Hulle het hom toe dadelik beetgepak en alhoewel hy soebat en skree, het dit niks gehelp nie. Die koning was te woedend om na hom te luister.
„Sny hom in stukkies,” sê die koning. „Ek sal hom leer om my te probeer vermoor. So ’n astrantheid! Sny hom in stukkies!”
Sadiah, wat veraf gestaan het en dit alles aangekyk het, het toe gesien hoe die Towenaar in stukkies gesny word. Dit het hom so sleg laat voel, dat hy dadelik huis-toe gehol het en tuis gebly het, totdat hy so honger was dat hy weer met sy stukkie rooi flennie, wat ’n erfstuk in sy famielie was, moes gaan vis vang.
Wat van hom later geword het weet ek nie. Miskien lewe hy nog op Minekoi, maar dis seker dat hy niks meer met Towenaars te doen het nie. [24]