WeRead Powered by ReaderPub
Kampstories cover

Kampstories

Chapter 7: IV. Die Slim Kraai.
Open in WeRead

About This Book

A lively collection of short, orally styled tales told at school camps, presented in conversational Afrikaans. The pieces range from humorous fables and trickster anecdotes to simple origin myths that explain natural phenomena, often using animals and everyday rural scenes. Many stories blend playful exaggeration, gentle moral lessons, and vivid sensory detail; several are explicitly framed for younger listeners. The tone shifts between comic and tender, with recurring folk motifs, straightforward narrative lines, and brief parables that conclude with ironic or didactic twists, making the collection well suited to communal reading or recitation.

[Inhoud]

IV.

Die Slim Kraai.

Duisende van jare gelede—honderdduisend van jare—miljoene van duisende van honderde van dosyne van jare gelede, meer as wat jy op jou vingers kan tel, al tel jy van nagmaal tot nuwejaar, ou seun, het daar ’n kêrel gelewe in die agterveldse Hantam.

Die agterveldse Hantam was toe nog net so mooi soos dit vandag is. Veral na die reëns in Septembermaand. Die blomme het al die kleure gehad, wat jy in die reënboog kan sien en het so dik gestaan op die veld, dat jy sou gedink het dat oom Jan dit gesaai het. Die ruigte en boesmangras het so wild gegroei, dat jy daarin wegkruipertjie kon speel. Die wilde appelkosies was so groot soos ’n okkerneut en so soet soos gemmerkonfyt en die wilde uintjies het algar in sagte sand gestaan, sodat jy nie jou hande hoef seer te maak om hulle uit te grawe nie.

Arrie, dit was lekker in dié dae, want daar was volop om te geniet en dit was nooit so droog soos nou nie.

Ek glo die kêrel se naam was Aspoester, maar ek is nie seker nie, want daar was ook ’n meisiekind wat dié naam gehad het, ofskoon sy êrens anders gelewe het. Daar hulle albei vandag dood is, maak dit nie saak nie en ons sal maar aanneem, dat ek reg is en dat die kêrel se naam werklik Aspoester was.

Nou, een goeie dag het Aspoester na die rivier geloop. Vóór hy die rivier bereik het, moes hy oor die vlakte van die veld gaan. Dit was vol reënboogkleurige blommetjies en hy het stilgestaan om hulle te bekyk. [25]

„Dis darem mooi hier in ons ou Hantamwêreld,” sê hy, „en daar’s niks wat ’n mens anderster wil hê nie.”

En toe hoor hy iets.

„Dit lyk vir my asof iemand hier kreun,” sê hy en hy luister goed. „Ja wrintig,” sê hy weer, „dis mos iemand hier op die grond. Wat sou dit nou wees?”

En hy snuffel rond, maar kon niks sien nie.

„Dis tog hier in die nabyheid,” sê hy. „Ek hoor dit duidelik. Iemand wat seerkry, want ek hoor: ‚Eina, eina!’ Wat sou dit wees?”

Hy lê toe plat op die grond en gou-gou bespeur hy dat die gekerm van sy linkerkant kom.

Daar, tien tree van hom af, was ’n groot klip. Die geluid het van onder daardie klip gekom.

„Ag foeitog,” sê Aspoester, wat ’n baie sagte hart gehad het, „daar’s iemand onder daardie klip en hy kerm om uit te kom. Ek sal hom verlos. Foeitog.” En hy loop na die klip en tel dit op.

Daaronder was ’n groot rinkalsslang, wat halfpad dood gedruk was deur die swaarte van die steen.

„So,” sê Aspoester, „nou is jy vry.”

„Ja!” sê die rinkals. „Verbeel jou, ek was vyf dae onder daardie klip. Praat van hongerly! Maar nou is ek daaronder uit en nou moet ek kos hê. Ek sal jou maar byt.”

„Ag nee a,” sê Aspoester. „Moenie so praat nie! Hier het ek jou verlos van onder die klip en nou wil jy my doodbyt. Dis mos nie reg nie. Dis mos glad verkeerd.”

„Nee,” sê die rinkals. „Nie vir my nie. Dis my geaardheid. As ek ’n tweebenige ding sien, soos jy, dan moet ek hom byt. Moet nou nie so ’n lawaai [26]opskop nie. Buk net oor en ek sal jou in één hap doodbyt.…”

„Nee, asseblief tog!” skree Aspoester, wat nou regtig bang was, want die rinkals het op sy stert gaan staan en was toe amper so hoog soos Aspoester self, en die rinkals het sy nek opgeblaas en begin spu, sodat dit ’n naarheid was.

„Soebat help nie,” sê die rinkals. „Dis nou my gewoonte en daar is niks aan te verander nie.”

„Maar dis mos gemeen!” skree Aspoester. „Ek het jou lewe gered en jy wil my doodmaak. Dis mos nie regverdig nie!”

„Van regverdigheid hoef ons nie te praat nie,” antwoord die rinkals. „Daar is maar min daarvan hier op die veld. Elkeen probeer lewe. Ek ook. Buk, man, buk!”

„Wag – – wag – wag,” sê Aspoester. „Jy is mos ’n verstandige soort slang—dit sien ek in, alhoewel jy ’n baie wrede soort dier is. Ek wil vir jou eers ’n voorstel maak.”

„Maak dit dan gou,” sê die rinkals, „want ek is moeg en wil gaan slaap.”

„Wat ek wou sê, is dit,” sê Aspoester. „Dis ’n saak onder ons twee. Jy sê dis reg dat jy my byt; ek sê dat dit glad verkeerd is. Maar as twee mense met mekaar stry moet ’n derde die saak beslis. Ek stel nou voor dat ons iemand anders vra om tussen ons te beslis. As die iemand sê dat dit reg is dat jy my byt, nou goed, dan gee ek in en dan kan jy my maar doodbyt. Maar nie sommerso nie.”

„Nou goed,” sê die rinkals. „Kom ons loop soek iemand.”

„Kan ons dit nie liewers môre doen nie?” vra Aspoester. [27]

„Nee!” sê die rinkals. „Nou is nou. En moenie dink dat jy kan weghardloop nie. Nou dat ek op my stert seil, kan ek tweemaal so vinnig hol as jy en as jy dit probeer, byt ek jou sommer, buk of nie buk nie.”

„Dis darem aaklig,” sug Aspoester, terwyl hy met die rinkals oor die veld stap. „Nog netnoumaar het ek gesê dat ons Hantamse wêreld so mooi was, dat ’n mens niks daarin sou wil anders hê nie, en nou kom dit my al voor dat daar te veel rinkalse is.”

„Wat brom jy nou weer daar?” vra die rinkals.

„Ek sê maar, Rinkals,” sê Aspoester, „dat die blomme baie lekker ruik.”

„Blomme hou ek nie van nie,” sê die rinkals. „’n Streepmuis is baie beter as die beste blom wat daar ooit bloei. Maar wag, daar is broer Bobbejaan. Ons sal vir hom vra.”

Broer Bobbejaan was op sy klip en hy was kwaad. Die môre het hy tuin-toe gegaan om te sien, hoever die waterlemoene was. Hy het geweet dat dit nog te vroeg was vir die waterlemoene, want hulle sou eers in Desember ryp wees, maar hy wou maar kyk of daar niks anders te kry was nie. En die boer se hond het hom weggeja. Dit het hom kwaad gemaak en sku, en toe hy Aspoester sien, wou hy sommer wegspring.

Maar Rinkals het hom uit die verte toegeroep.

„Broer Bobbejaan, broer Bobbejaan, moenie bang wees nie. Ons kom raad vra.”

Toe hulle by broer Bobbejaan kom, sê Aspoester:

„Môre, Bobbejaan. Ons kom vir jou raad vra. So en so is die saak,” en hy vertel vir Bobbejaan wat daar gebeur het en eindig met te vra: „En dink jy nou dat dit regverdig is, dat hy vir my byt, Bobbejaan? Sonder my sou hy daar onder die klip van honger en dors gevrek het. Is dit nou regverdig dat hy my byt?” [28]

„Regverdig?” sê broer Bobbejaan. „Ho-ho, regverdig! Dink jy dis regverdig dat die boer se hond my kom pla as ek kyk of die jong waterlemoentjies nie van die droogte verkwyn nie? En dan praat jy van regverdigheid? Wat van jou slagysters en jou mielies met gif daarin? Regverdig … natuurlik is dit regverdig dat hy jou byt. Gaan jou gang maar, broer Rinkals.”

„Hoor jy?” sê Rinkals. „Buk nou, dan byt ek jou mooi sodat jy nie eers hoef te spartel nie.”

„Maar dit is mos alte wreed,” sê Aspoester. „Ek dink nie dat Bobbejaan die saak goed verstaan nie, Rinkals. Kom ons gaan iemand anders soek. As hy net so sê dan sal ek ingee.”

„Julle tweebene is nooit tevrede nie,” mompel Rinkals. „Maar ons kan iemand anders vra. Hulle sal algar dieselfde sê. Kom maar.”

Aspoester en die slang loop toe verder, en op pad sê Aspoester vir homself: „Netnou het ek nog gesê dat ons Hantamse wêreld so goed is dat ’n mens niks daarin sou wil verander nie en nou sien ek, dat daar ook nog ’n Bobbejaan te veel is.”

„Is jy weer aan die brom?” vra Rinkals. „Wat is dit nou weer?”

„Ek sê maar net,” antwoord Aspoester, „ek sê maar net dat die uintjies hier volop is.”

„Uintjies,” sê Rinkals en hy spu van veragting. „Uintjies gee ek niks voor om nie. Dis kos vir skape en bobbejane. Gee my ’n mooi klein meerkatjie en jy kan al die uintjies vir jou hou.”

Hulle het ’n halfmyl verder geloop en toe by ’n steenbokkie gekom. Hy was baie wild, maar Rinkals het hom van ver toegeskree dat hulle hom nie sou seermaak nie en die steenbokkie het bly staan, maar [29]hy het op sy agterpote vasgetrap sodat hy sommer kon wegspring.

„So en so is die saak, broer Steenbok,” sê Rinkals. „Sê nou vir ons, is dit nie my reg nie—ja selfs my plig as ’n goeie rinkals om hom te byt, al het hy my verlos?”

Die steenbokkie was van geaardheid baie sag en wou nie graag iemand seermaak nie, maar hy het gedink aan sy dogtertjie, wat Aspoester se buurman ’n paar dae tevore met ’n handvol lopers doodgeskiet het, en hy het te veel daarvan gedink. Twee groot trane het oor sy gesig geloop en hy het dit probeer afveeg met sy voorpote, maar dit het hom nie geluk nie.

„Hy het meely met my,” sê Aspoester vir homself. „Kyk, hy huil. Hy sal tog nie so wreed wees nie.”

Maar toe Steenbokkie praat, vind Aspoester dat hy ook gladnie vriendelik was nie.

„Ek dink, broer Rinkals,” sê Steenbokkie, „jy het die volste reg om hom te byt. Dis jou geaardheid om mense te byt en jy sou jou plig versuim as jy dit nie doen nie.”

„Wag-wag-wag,” skree Aspoester, wat nou baie bang was, „hoe kan jy so onbarmhartig wees? Is dit dan regverdig om soiets toe te laat?”

„Wat praat jy van regverdigheid?” sê Steenbokkie. „Was dit regverdig om my dogtertjie te skiet en nogal met lopers op die koop toe? Regverdig … ek dink hy het die volste reg om jou te byt.”

„Toenou,” sê Rinkals en hy maak sy bek oop om ’n goeie byt te neem, „daar het jy dit. Algar sê dis my plig. En ’n slang moet nooit sy plig versuim nie. Dit weet jy so goed soos ek. Buk nou of lê plat op die grond. As ek jou die eerste skoot mis, kan ek dan weer probeer?” [30]

„Nee, asseblief tog!” soebat Aspoester. „Laat ons nog iemand vra. Steenbok is ook nie onpartydig nie, want hy het sy dogtertjie verloor en ek het eintlik niks daarmee te doen gehad nie.…”

„Wat van die wildsboutjie wat in jou kombuis hang?” vra Steenbok.

„Ag die … die het neef Bokkom my gegee.… Ek weet regtig nie waar dit vandaan kom nie.”

„Dis die linkerbout van my oorlede dogtertjie,” sê Steenbokkie en hy gebruik weer sy voorpote om sy trane af te vee. „In die fleur van haar jeug afgemaai deur ’n loper! En jy praat van regverdigheid!”

„Ek simpatiseer met jou,” sê Aspoester, wat ’n bietjie skuldig gevoel het, want hy het geweet dat Steenbokkie die waarheid praat. „Maar jy is tog partydig. Ek dink …”

„Ek dink ons moet nou ’n end daaraan maak,” sê Rinkals. „Lê plat.…”

„Ag nee a,” sê Aspoester. „Moenie so vinnig wees nie! Gee ’n man ’n bietjie tyd! Kom ons vra nog een … nog net maar een. As hy dieselfde sê, dan gee ek in … ek sweer dit … toe tog …”

„Nouja,” sê Rinkals. „Ons sal nóg iemand vra. Maar dis dan ook die laaste. As dit weer teen jou gaan, dan moet jy buk of platlê.”

Toe hulle wegstap sê Aspoester:

„Netnou het ek gedink ons Hantamse wêreld is die mooiste wêreld op aarde en dat daar niks is wat ’n mens daarin sou wil verander nie, maar nou sien ek dat daar selfs te veel steenbokkies is.”

„Wat sê jy?” vra Rinkals. „Maak tog jou mond wyd oop as jy praat, man. Dié gemompel kan ’n slang mos nie verstaan nie.” [31]

„Ek sê maar,” antwoord Aspoester, „ek sê maar dat dit lyk of hier byeneste onder die klippe is.”

„Dit kan jy vir jou hou,” sê die rinkals. „Heuning is ’n vrot kos as daar klein uiltjies, vet na die winter reëns, te kry is. Hulle glip in soos melk en ek sê vir jou dis die lekkerste kos wat jy jou kan verbeel.”

Hulle het weer ’n end verder geloop en toe sien hulle ’n witborskraai, wat op ’n miershoop sit.

„Daar is nou iemand,” sê Rinkals. „Ons sal hom vra en as hy dieselfde sê as die ander, dan moet jy platlê. Ek is nou moeg van die saak.”

„Maar sou ’n kraai iets weet oor sulke dinge?” vra Aspoester. „Sal ons nie verder loop totdat ons ’n verstandige iemand teëkom nie?”

„Vervlaks nie!” sê Rinkals. „Ek sê jou, ek is moeg en sat van die saak. Daar moet nou ’n end aan gemaak word.”

„Dis tog ’n nare ding om so onregverdig te wees,” sê Aspoester. „Jy sal vir jou hele lewe lank berou hê, as jy so handel—teen beterwete ook. Ek sê jou, dis nie mensliewend nie. Dit is teen al die beginsels wat jy van kleinsaf-aan geleer het.”

„Ek gee nie om nie,” sê Rinkals. „Maar hier is broer Kraai. Sal jy vir hom sê, of sal ek?”

„Nee, ek sal hierdie skoot praat,” sê Aspoester. „Ek kan die saak beter voordra, want my oorlede vader was parlementslid en het baie te doen gehad met vergaderings.”

„Nou toe dan,” sê Rinkals, „Maar moenie te lank besig wees nie.”

Die kraai het na hulle staan en kyk, asof hy nie reg geweet het om weg te vlieg of te bly sit nie, maar eindelik het hy tog besluit, om hom maar kordaat te [32]hou. Hy het toe eers gemaak of hy niks van hulle gesien het nie.

„Ka-ka-ka,” sê hy, „die wêreld hier herinner my aan wat ek daarbo in die noordelike distrikte gesien het. Volop groen en baie miershope, maar min kos vir ’n respektabele kraai. Nie eers ’n dooi skaap nie! Ek sê tog … en mag ek vra wat ek vir julle twee kan doen?”

„Ons kom om raad te vra, Kraai,” sê Aspoester. „Ons het ’n moeilike vraagstuk wat ons aan jou wil voorlê.…”

„Hy bedoel dit is ’n allermaklikste vraagstuk,” sê Rinkals.

„’n Moeilike vraagstuk,” sê Aspoester en hy kyk Rinkals verwytend aan. „Ons verwag eintlik ’n Salomo, maar ons weet dat jy baie slim is, Kraai.…”

„Baie vriendelik, baie vriendelik,” sê die kraai en hy stryk oor sy vlerke met sy sterk, skerp bek. „Dankbaar vir die eer—vleiend … alte vleiend … maar verdien, ofskoon ek dit self sê … altyd eerste in vliegklas … hoogste graad sertifikaat vir opvreet van dooi skape … eerste klas dieto vir rispers vang.…”

„So het ons besluit om maar na jou te kom,” sê Aspoester. „Die saak is ’n baie gewigtige saak. Dit is ’n kwessie van lewe en dood.…”

„Nee,” sê Rinkals. „Nou oordryf jy dit. Net maar ’n saak van byt. Niks anders nie.”

„Moenie vir my in die rede val nie,” sê Aspoester. „Is dit ek of jy wat aan ons geleerde vriend die vraag voorlê?”

„Jy talm so lank,” sê Rinkals.…

„En jy is te gulsig om te byt!” sê Aspoester. „Maar om aan ons vriend die saak duidelik te maak, so en so is dit. En nou wil ons weet.…” [33]

„Nee,” sê die kraai „jy sê dis so en so, maar jy beduie nie vir my hoe dit was nie. Ek verstaan die saak nog gladnie.”

„Dis so eenvoudig soos jy maar kan dink,” sê Aspoester. „Soos ek sê, ek het hierdie … hierdie rinkals onder ’n klip gekry. Ek het die klip opgetel en hom verlos van honger en doodgaan en hy wil my nou doodbyt. Is dit …”

„Maar ek verstaan nog nie goed nie,” sê Kraai. „Onder ’n klip, sê jy? Nogal onder ’n groot klip? Eienaardig! Ongelooflik, sou ek sê!”

„Nee, daar’s niks ongeloofliks in die saak nie!” sê Rinkals. „Ek was onder die klip. Hoe ek daar gekom het, weet ek nie, maar ek was daar en ek sou van honger vergaan het as hierdie … hierdie Tweebene my nie verlos het nie. Dit erken ek.”

„En tog,” sê Kraai, en hy dink ’n bietjie na. „Ek sê, Rinkals,” sê hy dan, „jy praat van honger doodgaan. Hoe het ek dit dan? Het jy nie volop vleis nie? Stukkies rot en meerkat, en so meer nie?”

„Nee, broer Kraai,” sê Rinkals en hy skud sy kop. „Jy weet dit is nie so maklik om hier teenswoordig goeie kos te kry nie.”

„So het ek gedink,” sê Kraai en hy bekyk Aspoester sydelings. „En hoe staan dit met jou, Tweebene? Daar is seker baie afval in die kombuis? Stukkies skaapvleis … kaiings en wat dies meer.…”

„Volop!” sê Aspoester. „Die hoenders het ’n rojale tyd by my. Hulle lewe soos konings.”

„As dit nie vir die aaklige honde was nie,” sê die kraai, en hy kyk weer so skuins na Aspoester, „sou ekself graag die werf besoek.…”

„Die hond is gewoonlik in die eetkamer as daar … [34]besoek is,” sê Aspoester, want hy was slim genoeg om te sien wat die kraai bedoel.

„Ag ja,” sê die kraai, en hy word sommer ernstig. „Dit is nou eintlik nie ter sake nie. Ek is nog nie duidelik op één punt nie. Verstaan ek goed dat ons vriend Rinkals onder die klip was?”

„Ja,” sê Rinkals. „Ek was daaronder. Dit gee ek toe.”

„Onder—nie boöp nie?” vra Kraai weer, en hy kyk ernstig, en skud sy kop.

„Ja,” sê Aspoester. „Hy was onder die klip en hy kon dit nie roer nie. Die klip was te swaar vir hom. As ek hom nie daaruit gekry het nie, dan sou hy nou nog daar wees.…”

„Met permissie,” sê die kraai, „met permissie, dit kan ek werklik nie glo nie.”

„En tog was dit so!” sê altwee.

„Nee,” sê die kraai. „Ek moet dit eers met my eie oë sien, voor ek dit kan glo. Neem my nie kwalik nie, maar dit is te veel geverg van ’n mens se geloof. Onder die klip sê jy, onder … nee” en hy skud weer sy kop.

„Maar ek sê mos vir jou dit was so!” sê die rinkals.

„En tog, met permissie,” sê die kraai, „ek kan dit nie glo nie. Maar ons kan dit maklik toets. Wys my die plek waar die eienaardige gebeurtenis voorgeval het. Is dit ver hiervandaan?”

„Omtrent ’n myl,” sê Aspoester. „Ons kan daarnatoe gaan as jy wil.”

„Kom dan,” sê die kraai. „Ek wil graag dit sien. Onder die klip, sê julle … merkwaardig … hoogs merkwaardig! Nog nooit van so iets gehoor nie … buitengewoon is geen naam daarvoor nie!… Onder die klip!” [35]

„Kom ons sal hom wys,” sê Rinkals. „Ek word moeg van al die gesanik. Ons sal hom wys waar dit gebeur het en dan kan jy gaan platlê, dat ek vir jou kan byt.”

Die drie het toe teruggegaan. Broer Kraai het stadig vooruit gevlieg, maar af en toe het hy verby Aspoester gevlieg en aan hom gefluister: „As ek jou kom besoek, sal die hond seker in die eetkamer wees?” En Aspoester het gesê: „Ek sal sorg daarvoor.”

„Wat brom julle twee so baie?” vra Rinkals, wat dit nie gehoor het nie.

„Ek sê maar net,” sê Aspoester, „ek sê maar net vir broer Kraai dat die reën nie veraf is nie. Dit steek al op in die ooste.”

„Daar gee ek niks voor om nie,” sê Rinkals. „Reën of mooi weer is dieselfde vir my, as ek maar iets te vreet kry.”

Toe hulle by die plek kom waar Aspoester die rinkals verlos het, wys hy vir die kraai die klip waaronder die slang gelê het.

„Regtig ’n baie groot klip,” sê die kraai en hy spring daarop en kyk of daar niks te eet was nie. Maar al die goggatjies het al weer weggekruip en daar was niks nie.

„Alte groot vir so ’n slang,” sê die kraai. „Ongelooflik! En tog, jy sê, hy was onder hierdie klip?”

„Ja!” sê hulle altwee.

„Sou u so goed wees om weer te gaan lê,” sê Kraai aan Rinkals. „Net soos u daar voorheen gelê het. Ek kan dit waarlik nie glo, tensy ek dit met my eie oë sien nie.”

„Wat ’n gedoente oor ’n kleinigheid,” brom Rinkals en hy rol hom op in die holtetjie waar die klip [36]gelê het. „Waarom kan ek hom nie maar byt nie, dan is die saak mos afgedaan. Maar so het ek gelê. Die klip was natuurlik bokant my.”

„So,” sê die kraai en hy kyk weer skuins na Aspoester. „En die klip was boöp jou. Merkwaardig!… buitengewoon merkwaardig! Ongeloofbaar! Ek sou graag wil sien of dit so is. Rol tog asseblief die klip boöp hom, Tweebene.… So … merkwaardig.…”

Aspoester het die klip boöp die slang gesit en die slang het dadelik begin te kerm, want die swaar klip het op hom gedruk.

Broer Kraai het sy kop eenkant-toe gesteek en geluister.

„Kan u werklik nie uitkom nie?” vra hy. „Merkwaardig … probeer tog!”

„Nee, ek kan nie!” skree Rinkals en sy stem was flou, want hy had dit baie swaar onder die klip. „Jy moet die klip optel.…”

Aspoester wou dit net doen.

„Kyk, so het ek hom opgetel,” sê hy en hy buk oor die klip, maar broer Kraai pik sy hand.

„Wat dan?” vra Aspoester.

„Hy wou jou mos gebyt het,” sê broer Kraai. „Laat hom nou maar bly waar hy is, dan kan hy jou mos nie byt nie.”

„Maskas, maar dis reg!” skree Aspoester. „Dankbaar, Kraai, dankbaar.”

En hy spring sommer van blydskap drie voet vier duim in die lug en val amper terug op Kraai.

„Bedaar, bedaar!” sê Kraai. „Ons sal hom nou maar hier laat staan en jy kan huis-toe gaan. Môre, so omtrent sonop, sal ek op die werf wees. Ek dink die vroeë môrelug is ongesond vir honde.…” [37]

„Ja,” sê Aspoester, wat nou regtig dankbaar was, „Floors het ’n bietjie rumatiek, want hy is al oud. Ek sal sorg dat hy warm in die kombuis bly as jy kom.”

En daarna het Aspoester huis-toe gestap.

„Ons Hantamse wêreld,” sê hy vir homself, „is tog baie mooi. En een van die mooiste dinge hier is die witborskraaie. Eerste klas voëls, daardie, wat behoort beskerm te word.” [38]