WeRead Powered by ReaderPub
Kampstories cover

Kampstories

Chapter 8: V. Die Klappertjie.
Open in WeRead

About This Book

A lively collection of short, orally styled tales told at school camps, presented in conversational Afrikaans. The pieces range from humorous fables and trickster anecdotes to simple origin myths that explain natural phenomena, often using animals and everyday rural scenes. Many stories blend playful exaggeration, gentle moral lessons, and vivid sensory detail; several are explicitly framed for younger listeners. The tone shifts between comic and tender, with recurring folk motifs, straightforward narrative lines, and brief parables that conclude with ironic or didactic twists, making the collection well suited to communal reading or recitation.

[Inhoud]

V.

Die Klappertjie.

Die bontgekleurde Koelies was druk besig om die kiste weg te dra. In die pakhuis was dit warm en bedompig, want dit was in die middel van die somer en die nartjiebome—wat nartjies so klein soos okkerneute dra—was al amper aan die bloei. Die blou eentjies het sedig rondgeswem tussen die groot wit waterlelies, wat op die water van die agterplaas-fontein gedryf het. „Warm is dit, baie warm,” het die klappertjie gesug, want hulle het net die rooi papier om hom vasgeplak en hom saamgebind met die agt dosyn ander klappertjies wat ’n pakkie sou uitmaak.

„Dis tog benoud hier, met so baie ander mense heeltemal teen jou,” het die klappertjie gekerm. „Alleen sou ek dit kan dra, maar so vas gebind en nogal met bamboestou, maak ’n mens gedaan. Waar gaan dit nou na toe?”

Die stadige ou mandaryn, aan wie die fabriek behoor het, het op en af geloop om te sien dat sy Koelies goed werk. Sy swart kophaar was gevleg in ’n lang stert, wat tot agter sy voete op die grond geval het, met ’n wit sydraad daardeur gevleg en op sy blou petjie was die kraalknoop, wat bewys het dat hy ’n edelman van die soveelste rang was.

„So ’n mandaryn sou ek tog graag wil wees,” het die klappertjie gesê, want hy het nie geweet dat die mandaryn aan hartkwaal ly en die lewe maar baie ongerieflik vind nie. „Dit moet prettig wees om so ryk te wees en soveel goed te besit.”

„Ek weet nie,” sê die voetsoekertjie, wat hom gehoor het en wat nog sonder sy papieromhulsel was, „ek weet [39]nie. Vir my is die vryheid die beste—om rond te spartel soos jy wil, net soos die goue vissies onder die lelies daar in die fontein swem.”

„Elke mens het tog sy beskikking,” sê die vuurpyl, wat klaar vir inpak was. „Hoe hoër jy gaan, des te beter vind jy dit. My oupa het my dit gesê en hy het tot tweehonderd voet in die lug gespring.”

„Ek weet van jou oupa,” sê die voetsoekertjie en trek sy neus op. „Hy het verongeluk op ’n bruilof in Pekin. Nie alte welvarend nie, na my vertel is. Hy het net maar ’n stok agtergelaat.”

„Dit doen ons algar,” sê die vuurpyl. „Ons rykdom steek in ons geskitter. Dan sien jy wat ons werd is.”

„Julle kan tog nie kompeteer met die sterrereën nie,” sê die voetsoekertjie, wat snipperig was. „En wat van die groot vuurwerke? Daarby kom julle nooit nie. Ek het een gesien wat amper driehonderd tree lank was en wat vir ’n halfuur staan en brand het. Dit noem ek sukses.”

„Wat dink jy sal van ons word?” vra die klappertjie, want die voetsoekertjie het met so ’n gesag gepraat, dat hy gedink het dat sy tog iets moet weet. Dit is die indruk wat baie praterige mense maak, totdat jy uitvind dat hulle net maar praterig is en nie van ondervinding kan praat nie.

„Dit weet ek goed,” sê die voetsoekertjie. „As daar êrens pret is, dan word ons gebruik. Ek hoor die keiser sal aanstaande week ’n groot kermis hou. Allerhande vermake sal georganiseer word. Dertien rowers sal onthoof word op die markplein. Dit sal ’n pret wees.…”

„Daarby wen ons niks,” sê die vuurpyl. „Dit sal mos by daglig geskied.”

„Nee, maar in die aand kry ons ’n beurt,” sê die [40]voetsoekertjie. „Ek hoor daar sal honderdduisend kerse aangesteek word en miljoene klappers sal afgeskiet word. Miskien is jy een daarvan.…” en sy knik die klappertjie welwillend toe.

„Maar hoe ’n soort ondervinding is dit nou?” vra die klappertjie, wat nog gladnie geweet het hoe dit met hom sou gaan nie. „Dis mos ’n soort uitmekaarspat, nie waar nie?”

„Natuurlik,” sê die vuurpyl, voordat die voetsoekertjie kon antwoord. „Dit is die mooiheid daarvan. Jy kan jou nie verbeel, hoe plesierig dit is as jy boontoe reis nie. My oupa het my herhaalde male daarvan vertel. Ek sien dit met belangstellende vreugde tegemoet.”

„En nog meer,” sê die voetsoekertjie. „Daar sal tafels wees, vol gelaai met gemmerkoek en gekonfyte suurlemoene en daar sal volop spanspekpitte wees, vir algar om van te eet. Ek hoor die keiser sal met sy hele hof teenwoordig wees. Wat ’n eer vir ons!”

„Maar ek sien nie in,” sê die klappertjie, „ek sien nie in dat dit vir ons iets sal baat nie. Ons eet tog nie spanspekpitte nie en die keiser sal nie notiesie van ons neem nie.…”

„Van my seker!” sê die vuurpyl, trots. „Hy sal moet opkyk as ek losbars. Daar is sewentig goue sterre in my en ’n halfdosyn groen sterre, so groen soos die seewater. Hy sal moet opkyk, dit beloof ek jou.”

„En van my ook,” sê die voetsoekertjie, hoogmoedig. „Ek sal langs die grond seil en vir hom ’n lied sing. Ek het dit eergister gedig, toe hulle my volgelaai het met kruit. Dis ’n baie mooi gedig. Ek kom van ’n famielie van digters. Wil julle dit hoor?”

„Asseblief,” sê die vuurpyl, wat altyd hoflik was. „As dit nie te lank is nie.…” [41]

„Langdradig is ek nooit,” sê die voetsoekertjie en sy begin opsê:

Waar die sterre in die groen van die helder middernag

En die pronk’rige planete naas die suiderkruis staan wag,

Waar die melkstraat soos ’n paling deur die hemelleegtes kronkel

En die bruidsluier van komete met ’n duisend liggies fonkel,

In die wye hoë ruimte van die helder middernag

Sal ons skitter soos die sterre met ons eie sterreprag.

„Nie jy nie!” sê die vuurpyl, wat ’n bietjie jaloers was, ofskoon hy hom altyd hoflik gedra het. „Jy sal mos op die grond spartel. Ek, soos my oupa, gaan boontoe.”

„Maar jy sal tog op die grond val,” sê die voetsoekertjie, ’n bietjie bitsig. „Alles kom terug op die grond. Dis waar ons algar vandaan kom en ons gaan algar terug daarheen. Ofskoon ek geen oupa het nie, weet ek dit tog.”

„Elkeen het ’n oupa,” sê die vuurpyl. „Sommige weet net nie wie hulle oupa is nie. As jy daaromtrent twyfel, vra dan maar aan die oubaas daar.”

Die mandaryn, met die kraalknopie op sy pet, het verby gestap.

„Wat maak al die vuurwerk hier?” vra hy, kwaad. „Dit moet al lank verpak gewees het. Hulle wag daarop by die markplein. Die hofmeester van die keiser het my al daaroor gevra. Dra dit weg, gou!” [42]

Die Koelies het sommer die voetsoekertjie in ’n pakkie gemaak en die vuurpyl saamgebind met ’n halfdosyn ander vuurpyle. Die voetsoekertjie het bly sing, totdat sy agter die papier was. Selfs toe kon jy haar nog hoor:

In die wye hoë ruimte van die helder middernag

Sal ons skitter soos die sterre in ons eie sterreprag.

Die klappertjie het hulle ook in ’n pakkie gemaak. Hy was nou in die donker en dit was nie plesierig nie, want hy was vasgebind aan sy maats en hulle was algar slaperig en wou nie praat nie. Maar die klappertjie was vol moed en gladnie vaak nie.

„As ek net maar kon sien, wat daar omgaan,” sê hy. „Ek sou graag die keiser en sy hofstoet te sien kry. Ek hoor hy is ’n mooi vet kêrel. En daardie rowers ook. Dit moet aaklig wees om ’n rower te wees en jou kop te laat afkap. Dan wil ek liewerster bars, want dan maak jy tog ’n geluid en die mense skep daar plesier in. Maar geduld is ’n deug en ek sal maar geduldig wag tot ek iets te sien kry. So kan dit mos nie vir altyd aanhou nie.”

Die Koelies het die pakkies weggedra na die groot kanaal. Daar het die kanaalbote gelê en daarop het die klein seuntjies, algar in wye lang broeke, met stertjies—die seuntjies natuurlik, nie die broeke nie—en met bontgekleurde jassies. As daar ’n wit lyntjie in die seun se kophaarstert ingevleg was, dan het jy dadelik geweet dat hy nog nie getroud was nie; as daar ’n rooi lyntjie ingevleg was, dan het jy ewe dadelik geweet dat hy getroud was. Want in daardie land trou die seuns baie jonk. [43]

O, wat ’n drukte was dit daar op die kanaal. Die seuntjies het dit selfs baie druk gehad, want hulle moes vinnig wegswem vóór die groot kanaalbote, wat dwars heen en weer oor die water roei, en die swawels moes ewe vinnig of nog vinniger vlieg om die bye te vang wat uit die byeneste op die bote kom. Want sommige van die kanaalbote was klein dorpies, met tuintjies daarop en prieeltjies. Aan die kant van die rivier het baie mense geloop en besigheid gedryf of gespeel, want in daardie land speel die oumense ook en nie net die kinders nie. Daarom noem die mense dit ook die Hemelse Ryk. Ja, dit was druk daar op die kanaal. Vanaand sou die groot kermis wees en algar was van plan om dit by te woon. Jy hoef niks te betaal om die kermis by te woon nie en oud en jonk, ryk en arm, was welkom daar. En iedereen het reeds geweet van die rowers wat daar sou onthoof word. Dit sou vir jou ’n pret wees.

Op die kleiner bootjies het die langnekkige dartervoëls slaperig gesit, elkeen met ’n ring om die nek, want hulle was makvoëls wat gebruik word om vis te vang. Die vissers was aan slaap, want dit was middag en dit was baie warm. Op die groter kanaalbootjies het die mense tee gedrink. Dit doen hulle daar elke dag, of hulle op die kanaalbootjies is of nie.

Die Koelies het die kiste vuurwerk op die bote gelaai en die mandoor het met groot letters die adres op die kiste geverf. Met ’n kwas en ’n stuk ink, want die ink is daar hard en moet eers in water gevryf word, om die vloeibaar te maak. En die letters wat hulle gebruik is baie koddig. Elkeen lyk asof hy te veel mos gesuip het en dus dronk is—smoor dronk. En een letter is ’n hele woord. [44]

Dus het die mandoor maar glo A B C op die kiste geskryf, wat beteken:

Aan die Hofmeester van die Allermagtigste en Alombekende Grootbaas, die Roemryke Keiser van die Hemelse Ryk; vuurwerk; moenie naby die warmte van die stoomketel sit nie. Anders ontplof dit. Gelewer deur die firma Heng-Shu-Ling, vuurwerkmakers vir sy Allerhoogste die Keiser.

Duisende kerse het gebrand en duisende lanterns. Dit was algar papierlanterns, gemaak van rooi, en blou, en grasgroen, en goudgeel papier, en daar was sommige van bont papier, waarin die kleure soos dié van ’n reënboog was of soos die kleur wat in die binneste van ’n seeskulp sit. Die lig het dof deur die papier geskyn, maar algar tesame het genoeg lig gegee om die markplein helder te verlig.

Die markplein was nie eintlik die markplein nie, want dit was buite die keiserstad, myle ver buite, waar die grond afgedaal het, afdraand na die groot rivier, wat nou en dan soos ’n bruisende berg binne gestoot het. Hier op die groot plein het hulle jaarliks kermis gevier en op die tye van kermis het die keiser en sy hof altyd die plesierighede bygewoon, om te toon dat hulle tog ook maar mense was, wat kon geniet en voel soos ander mense. Maar die keiser het altyd op ’n verhoog gesit, alleen, met sy eerste minister; ’n mandaryn van die eerste rang wat die voorreg geniet om ’n kristalknopie op sy pet te dra, twee trappies onder hom. Die keiser het altyd ’n waaier gehad, net soos elke ander persoon wat op die markplein was, om hom te waai en koel te hou. En hy het altyd tee gedrink. Eersteklas tee wat die karavane bring van die verre hoëlande, tee wat lyk soos buskruit en wat ’n goudgeel [45]tee maak, wat die keiser sonder melk en suiker gedrink het. Koppiesvol! ’n Mens kon vra waar hy plek gekry het vir al die tee wat hy ingeslurp het.

Dit was nou eenmaal die keiser se liefhebbery—om tee te drink. Toe hy gebore was, het hy daarmee begin. In plaas van melk, het hy tee gedrink. In plaas om aan ’n bottel te suie, het hy tee ingesluk uit ’n klein porseleinkoppie, wat so groot soos ’n eier was en so dun soos ’n seepblasie. Dis seker daarom dat hy so goedhartig was. Want goedhartig was hy. Vir ’n keiser nogal baie goedhartig. As hy ’n rower moes veroordeel, om onthoof te word, het hy altyd bygevoeg:

„En sorg dat hy ’n lekker koppie tee kry, voordat sy kop afgeslaan word!”

Wat ’n bewys is van sy goedhartigheid, want anders sou hy nie soveel oorgehad het, om aan die rower se plesier te dink nie. Volgens die keiser was die grootste plesier in die lewe om tee te drink.

Die twede grootste was om vuurwerk te sien afskiet.

Om die twede plesier te geniet, het hy die aand na die markplein gekom om hom aan sy duisende onderdane, in die lig van die duisende lanterns, te vertoon.

„Lon-sin,” sê die keiser, „as ek my sestiende koppie tee opgedrink het, kan jy maar vir hulle sê dat hulle die vuurpyle moet afskiet.”

Lon-sin was die eerste minister en het self ’n pakkie klappers in sy sak gehad, wat hy van plan was om self af te skiet. Want in daardie land neem die oumense eweveel lus in klapperskiet as die kinders, en soms nog meer.

„Lon-sin,” sê die keiser weer, „as ek my twintigste koppie in het, kan jy vir hulle sê dat hulle nou maar die rowers kan laat onthoof.” [46]

„Ek slaan my beentjies stukkend op die Allerhoogste,” sê Lon-sin—want op die eienaardige manier was dit die gewoonte om die keiser toe te spreek.—„Ek slaan my beentjies stukkend. Hierdie niksbeduidende stukkie vleis sal dadelik bevel gee, dat die eerbare rowers hulle nie-te-waardeerde koppe verloor.”

„Dit sou goed wees, Lon-sin,” sê die keiser, „as hulle ’n bietjie nader vorentoe kom. Dan kan ek beter sien, wat daar met hulle gebeur. Nie dat ek nie dit reeds al baie male gesien het nie, maar om te kyk of dit alles stigtelik afloop.”

„My ingebore lamlendigheid van verstand,” sê Lon-sin, „laat my vermoed dat die geëerde rowers dit stigtelik genoeg sal vind. Ek kruip op my onaansienlike buikie om die Allerhoogste se bevel te volbring.”

Dit was maar so ’n manier van praat, want Lon-sin se buikie was gladnie onaansienlik nie. Dit was soos ’n stikvat, want hy was taamlik vet.

Toe die rowers tevoorskynkom en agter hulle die skerpregters met hulle skeermesskerp-sabels, het die keiser sy vyftigste koppie tee ingesluk. Hy was toe nog goedhartiger as ooit tevore.

„Gee hulle ’n koppie tee,” sê hy, vriendelik „en ’n klappertjie om af te skiet. Dit sou tog alte wreed wees om hulle kop af te slaan, voordat hulle ’n bietjie plesier gehad het.”

Juis op die oomblik het die Koelies aangekom met die kiste. Die hofmeester het die kiste dadelik oopgemaak en ’n paar pakkies klappers na die verhoog gebring, waarop die keiser gesit het. Daaronder was die pakkie waarin die klappertjie was.

Toe die eerste minister die papier van die pakkie stukkend skeur, het die klappertjie die geleentheid gekry om te sien wat daar gaande was. Hy het al die [47]lanterns gesien, en gedink dat hulle tog baie mooi was. Hy het die vet meneer Lon-sin gesien en dadelik gedink dat dit die keiser was.

„Nou is ek tog in goeie hande,” sê hy. „Ek sien nie alleen die keiser nie, maar ek word gehanteer deur die keiser. Wat ’n eer! Die voetsoekertjie sal van isegrimmigheid vrek as sy daarvan hoor.”

Maar die voetsoekertjie was al klaar. Hulle het haar afgeskiet en sy het gesis dat dit ’n pret was. Maar dit het maar ’n rukkie geduur, want sy was gou uit.

Lon-sin het ’n paar van die klappertjies losgemaak en aan ’n bediende gegee om dit aan die veroordeelde rowers te gee. Een van die klappertjies was dié klappertjie.

„Nou wat sal gebeur?” vra die klappertjie verwonderd. „Ek wil tog liewerster by die keiser bly.”

Maar die rower het hom al in die hand en die rower kom vorentoe, totdat hy voor die keiser staan en begin te praat:

„Allerhoogste,” sê die rower, „my beentjies breek ek stukkend op Allerhoogste se genade”—wat weer maar so ’n manier van praat was, want hy sou die eerste gewees het wat teen so ’n brekery sou geskree het. „Die minderwaardige skepseltjie wat voor jou staan sou graag nog ’n bietjie langer sy onnuttige lewe wil geniet.”

Die keiser knik vriendelik.

„Dit kan ek goed verstaan,” sê hy. „Selfs ek, niksbeduidende keiser wat ek is, sou in soortgelyke omstandighede my ewe waardelose lewe ’n bietjie wil uitrek. Maar die volk is nou hier om te kyk, hoe jy kop afgeslaan word, en dit sou te naar wees om die volk teleur te stel. Ek vrees dat die genot van jou prysenswaardige bestaan nou sal moet ophou.” [48]

„Daaraan val nog te twyfel,” sê die rower, „as ek my so mag uitdruk. Volgens die leer van die beroemde Konfu’tse—op wie se gedagtenis ek ootmoedig wat daar oorbly van my agste klas soort beentjies in flenters slaan—is daar niks wat seker is nie.…”

„In hierdie geval,” sê die keiser sag, „dink ek selfs die beroemde Konfu’tse sal met my instem, dat die sekerheid van die ophou van jou bestaan, hoe eerbaar die bestaan ook is, ’n saak is wat nie aan twyfel onderhewig is nie. Die skerpregter sal dadelik die sekerheid bevestig deur ’n klein houtjie op jou eersteklas nek te gee met sy skeermesskerp-sabel.…”

„As ek die astrantheid mag hê,” sê die rower, „as ek die astrantheid mag hê om die deur-die-wêreld-benyde Allerhoogste in die rede te val, wil ek net maar opmerk, dat die begrip van sekerheid soos opgevat deur die blinkende verstand van die beroemde Konfu’tse en die ewe skitterende geestesvermoë van die Allerhoogste, nie akkordeer met dié van hierdie misvormde skepseltjie nie. Ek wou maar sê dat hierdie aanstootlike mensie, wat die eer het om voor die Allerhoogste sy beentjies te breek, gladnie kan toegee nie dat daar ’n volkome sekerheid bestaan omtrent die onmiddellike ophou van sy onbetwisbaar niksbeduidende lewe nie.”

„Dit is mos nou wysgerigheid,” sê die klappertjie, wat alles aangeluister het. „As dit langer duur, sal ek baie slim word. ’n Mens leer altyd iets, al is dit per abuis.”

„Nee!” sê die keiser. „Alhoewel my stompsinnigheid van verstand dit onmoontlik vir my maak om die fynheid van jou ongetwyfeld leersame redenasie volkome op te vat, skyn dit vir my dat, in die benarde omstandighede waarin jy jou op die oomblik bevind, dit ewe seker is, dat jy nou sal doodgaan as dit seker is, [49]dat daardie klappertjie wat jy in jou benydenswaardige mooi hand hou, sal bars as jy hom aansteek.”

„Nou het hulle dit met my te doen,” sê die klappertjie. „Ek wens dat die voetsoekertjie hier was om te hoor. Magtig, sy sou van isegrimmigheid uitgebrand het.”

„In dié geval,” sê die rower, „sou hierdie alles-behalwe-plesierige ek aan die luisterryke Allerhoogste voorstel, dat, as die sekerheid omtrent die bars van die klappertjie wat ek in my kinderagtige hand hou, bewys word, nie ’n sekerheid te wees nie, my potsierlike lewe nog ’n kans gegee word, om ’n poging te maak om tot die toestand van deeglikheid, waarvan die oralsbeminde Konfu’tse elders praat te geraak.…”

„Wat bedoel die vent, Lon-sin?” vra die keiser, wat nou sy vyf-en-sewentigste koppie tee ingesluk het en ’n bietjie dromerig geword het.

„Ek breek my beentjies op u,” sê Lon-sin, „maar as ek die agbare rower goed verstaan—en selfs so ’n nietige skepsel soos ek, kan nog staatmaak op sy alte verroeste verstand—dan sê hy dat, as die klappertjie aangesteek word en nie bars nie, dit ’n bewys lewer, dat dit nie so uitgemaak seker is, dat die klapper sal bars as hy aangesteek word nie.”

„En wat dink jy daarvan, Lon-sin?” vra die keiser, besig met sy ses-en-sewentigste koppie tee.

„Dit is wat die mense logika noem, Allerhoogste,” sê Lon-sin. „Ek breek my beentjies—wat daar van hulle oorbly—weer en ek sê dit is logika.”

„In dié geval,” sê die keiser, „kan ons ’n proef neem. Steek maar die klappertjie aan, agbare rower.”

Daar die rower geketting was, kon hy dit nie so maklik doen nie, maar eintlik het hy tog die lontjie van [50]die klappertjie aan brand gesteek en die brandende klappertjie voor hom op die grond gegooi.

„Nou bars ek,” sê die klappertjie. „Sies—die lont ruik nie lekker nie. Ek wonder hoe dit sal voel as ek bars. Maar dis tog ’n heerlike iets om te bars om die logika te bewys.”

Hy het nie geweet wat logika was nie, maar dit was maar weer net so ’n manier van praat. Baie van ons het dit.

Die lont het uitgebrand maar die klappertjie het nie gebars nie. Dit het op die grond bly lê, dood.

„Onder die benarde omstandighede,” sê die rower, „soos Allerhoogste self aan hierdie niksnuts skepseltjie gesê het, is die sekerheid van die bars van hierdie vervlakste klappertjie bewys as ’n onsekerheid, en die woorde van die alom geprysde Konfu’tse bewaarheid deur die gebeurtenis.”

„Dit skyn vir my of die vent reg het, Lon-sin,” sê die keiser en hy slurp sy tagtigste koppie tee in.

„Dit is logika, Allerhoogste,” sê Lon-sin, wat die hele gedoente vervelig vind, omdat hy self sy klappertjie wou gaan afskiet.

„In dié geval kan jy maar trap, agbare rower,” sê die keiser. „Daar bly genoeg oor van jou maters om vir die volk plesier te gee.”

Die klappertjie het op die grond bly lê. ’n Druppeltjie bloed van een van die rowers wat onthoof is, het op hom gespat, maar hy het dit nie gevoel nie, want hy was dood. Die aand, toe die kermis oor was, het een van die seuntjies met die wye broeke hom opgetel.

„Hier’s ’n dooi klappertjie,” het hy gesê. En hy het hom oopgebreek en die kruit binne aan brand gesteek. [51]

„Ss-sssis,” sê die klappertjie en dit was die laaste wat hy gesê het.

En nie eers die vuurpyl het geweet dat die klappertjie ’n man se lewe gered het, omdat hy nie ’n goeie klappertjie was nie.

Die keiser het sy tweehonderd-en-veertigste koppie tee gedrink en toe gaan slaap. [52]