VI.
Gogga en Gorra.
In die ou, ou dae, toe daar nog geen gewone mense, soos ek en jou pa, of jy en jou sussie, ou seun, hier op die aarde was nie, toe was daar twee goed wat op die plek gelewe het, wat ons nou Pretoria noem.
In die heerlike Oktobermaande het hulle daar gelewe. Want, selfs in die ou, ou dae, toe daar nog geen gewone mense op die aarde was nie, was dit lekker in die sonskyn en die geur van die duisende doringbome, wat juis in dié tyd wolke van goudgeel dons in die lug laat rys het, om aan algar te wys hoe rojaal hulle kon omgaan.
Dis waar, daar was nie jakarandas nie en die mooi blou van die bloeisels het ’n mens nie kon sien nie. Maar die lug was ewe blou bo, en diep in die bosse—want daar was bosse toe op die koppies—het die lied van die groot kokkewiet, wat in die dae so groot soos ’n arend was, getril.
Nou, in die ou, ou dae het daar twee goed gelewe.
Die een se naam was Gogga en die ander s’n was Gorra.
Ek weet nie, ou seun, wie vir hulle hierdie name gegee het nie en dit kom ook nie daarop aan nie, want dit is al so lank gelede, dat hulle tog nie sal omgee as ’n mens hulle verkeerd noem nie.
Gogga was nog snaakser as Gorra en altwee van hulle was so snaaks, dat as jy hulle vandag vir die eerste maal op die straat sal aantref, jy jou amper sal doodlag. So koddig was hulle. Potsierlik, soos oom Andries sê.
Gogga was klein en tingerig, met beentjies wat soos spinnekop-beentjies lyk en wat skaars drie duim lank [53]was. Op sy kop het hy horings gedra, tweemaal so lank as sy beentjies, waarmee hy gevoel het. Sy een oog was op die end van sy neus, wat amper so lank as een van sy beentjies was. En behalwe die voelhorings, die beentjies en die neus met die een oog, was daar amper niks van hom te sien nie, want sy lyfie was so pieperig, dat jy baie hard moes kyk om dit raak te sien. En wat kop betref, was syne net so groot soos ’n klein speldekoppie.
Gorra, daarteen, was baie groot. Hy was so groot soos ’n olifant, wat vet geword het en dus groter, ou seun, as ’n gewone olifant. Sy bene was kort en dik en sy bors was soos ’n stikvat en het gedreun soos ’n groot tamboer. Sy bokbaard—want hy het ’n bokbaardjie gedra, waarop hy nogal baie trots was—was net onderkant sy oë, en sy mond was bokant, op sy voorkop. In plaas van voelhorings, het hy ’n lang stert gehad, waarmee hy in die rondte geswaai het om die warm-as weg te dryf. Selfs in dié dae was die warm-as maar lastig op die plek waar Pretoria vandag is.
Maar dis nie die moeite werd om vir jou alles te sê hoe Gorra en Gogga daar uitgesien het nie, ou seun. Al gaan ek aan vir ’n halfuur om hulle te beskryf vir jou, sal jy tog nie vir jou kan verbeel hoe hulle gelyk het nie, want hulle was eenvoudig so komieklik soos ’n nagmerrie wat jy van agterstevoor bekyk.
En jy weet dit is so snaaks dat dit soms vir jou amper bangmaak, veral as jy alleen slaap.
Gogga was die jongste, ofskoon hy hom altyd gedra het asof hy die oudste was. Vir so ’n klein skepseltjie was hy nogal parmantig en daar het baie slimmigheid gesteek in daardie speldeknop-koppie van hom.
Gorra, die oudste, was gladnie so gevat nie. Tussen ons, hy was maar wat die mense vandag sê, „sonder [54]een van sy varkies.” Jy kon hom maklik om die hoekie gelei het, want hy sou alles geglo het, wat jy hom maar ook vertel het. Hy was sag geaard, soos groot mense, wat baie groot is, gewoonlik is en het baie verdra. Jy kon perd-perd op sy rug ry, as jy in die dae daar gewees het, ou seun, en hy sou nie vir jou met sy stert weggedryf het nie soos hy die warm-as weggedryf het.
Gorra het baie van seepsop gehou en Gogga van wilde heuning.
Dit moet jy onthou, my liewe ou boetietjie, want die hele geskiedenis wat ek vir jou vertel draai uit op seepsop.
Jy weet tog wat seepsop is. Jy maak dit van seep en water en dan kry jy ’n strooitjie en blaas daar seepballe van. As jy handig genoeg is, kan jy aan elkeen van die seepballe ’n klein mannetjie met ’n vlaggie in die hand vasmaak en die balle dan in die lug laat swewe, en kyk hoe mooi die mannetjies rondreis.
Dit kon jy nie in Gorra en Gogga se dae gedoen het nie.
In die eerste plaas, jy was nie daar nie, en in die twede plaas, daar was toe geen seep nie. In die derde plaas, daar was nie ’n mannetjie nie en dus sou jy nie geweet het om ’n mannetjie uit papier te sny nie, want jy sou nie geweet het hoe hy moet lyk nie.
Wees dus maar bly, ou boet, dat jy nie toe gelewe het op die plek wat nou Pretoria is nie.
Maar Gogga en Gorra het daar gewoon en Gorra was, soos ek gesê het, baie lief vir seepsop.
Omdat ek nou gesê het, dat daar in die dae nie seep was nie, dink jy, wysneus klein seuntjie, dat ek verkeerd het. Hoe kan Gorra nou van seepsop gehou het as daar nie seep was nie? [55]
Sit daar op jou hurke en ek sal jou die ding duidelik maak.
Ofskoon daar in die dae nie seep op die aarde was nie, was daar tog baie seep in die see. Die branders het dit op en neer geslaan en die seepsop het die skuim boöp die branders gemaak. Dit maak dit vandag nog, maar intussen het die see so sout geword, dat jy nie meer met daardie seepsop kan was nie. En Gogga was die oorsaak daarvan, dat dit so sout geword het. Wag, ek sal jou vertel.
So op ’n heerlike Oktoberdag—hulle het natuurlik nie geweet dat dit Oktober was nie, en hulle het die maand glo iets anders genoem, wat ek noual vergeet het—ontmoet Gogga vir Gorra. Hy kon Gorra met sy een oog—wat op die punt van sy neus was—sien, maar om sekuur te wees (want ’n mens se oë bedrieg jou soms) het hy vir Gorra oor en oor gevoel met sy voelhorings.
„Buk, Gorra,” sê hy, met sy pieperige stemmetjie, „ek wil jou voel om te weet of dit regtig jy is.”
Gorra het toe gebuk en Gogga het hom orals gevoel. Dit het ’n lang tyd geneem voordat Gogga klaar was, want daar was so baie van Gorra om te bevoel, maar eindelik, na vier uur, was hy klaar.
„Jy kan nou weer opstaan, Gorra,” sê Gogga, „want nou weet ek dat dit regtig jy is. My oog het my nie bedrieg nie. Maar dis altyd beter om sekuur te wees, nie waar nie? Jy kon miskien ’n boomstam gewees het, of ’n swerm bye of so iets. My pa het altyd gesê, wees versigtig as jy met die onbekende te doen het.”
„Jy kon my mos maar gevra het,” sê Gorra, wat amper styf was, omdat hy so lank gebuk het, want hy was swaar.
„Daaraan het ek nie gedink nie,” sê Gogga. „Maar [56]dit maak nie saak nie. Dis altyd die dom mense wat met die maklikste begin.” En hy vrywe sy voelhorings teenmekaar.
„Wat kom jy nou hier uitrig, Gorra?” vra hy weer, „Ek het jou vir ’n lang tyd nie gesien nie en het gedink dat die groot likkewaans jou beetgekry het.”
„Nee, Gogga,” sê Gorra, „ek gee niks om vir die groot likkewaans nie. Eergister het ek een opgevreet. Ek was ’n bietjie moeg en wou ’n stukkie biltong kou, maar ongelukkig het ek my biltong vergeet. Toe het ek net ’n likkewaan sien verbygaan en ek het hom maar opgevreet.”
„En wat kom jy nou soek?” vra Gogga.
„Ek kom kyk of jy nie seepsop het nie,” sê Gorra. „Ek verlang so baie na seepsop. Ag, Gogga, jy weet nie hoe aaklig dit is om sonder seepsop te lewe nie. Man, dis ’n naarheid. Smôrens as my oë oopgaan, dan verlang ek na seepsop. Saans as ek gaan slaap, kry ek bitter swaar, omdat daar nie seepsop is nie. Ons is so ver van die see, dat ek gladnie meer van die goed kan kry nie. Ek het gedink jy en ek moet ’n plan maak.”
„Nou ja,” sê Gogga, „as jy my wil help om wilde heuning bymekaar te maak vir die winter, sal ek probeer om ’n plan te maak om die see hier te bring. Dis ’n moeilike saak, maar ’n slim mens soos ek sal darem nog ’n plan kan maak, as ek my daarop toelê.”
„Dis wat ek gedink het,” sê Gorra. „Daar’s heuning in oorvloed, want die bye werk goed, en ek sal vir jou soveel neste uithaal as jy maar verkies. Daar is ’n groot nes onder die vyeboom daar.”
„Dis al bestel deur die duiwelby,” sê Gogga, „en met hom wil ek nie gaan baklei nie.” [57]
„Ag nee a,” sê Gorra, „hy beteken niks nie. Hy’s sommer ’n mot.”
„Ja, so sê hulle,” sê Gogga, „maar ek vertrou die saak nie. As hy my aan die horings beetkry, kom ek miskien sleg daarvan af.”
„Hy kan mos nie byt nie,” sê Gorra. „Maar in alle geval, ek sal jou heuning genoeg laat kry, as jy my maar daardie plan uitwerk, waarvan ons gepraat het.”
„Dis maklik genoeg,” sê Gogga. „Ons moet net maar ’n voor maak om die seewater hierheen te lei. Die naaste see is daar by die plek wat hulle later Delagoa-Baai sal noem. Vandaar moet ons die water hiernatoe bring.”
„Maar dit is mos baie ver,” sê Gorra. „En hoe sal ons die voor maak?”
„Kyk,” sê Gogga, „jy het mos ’n stert. Jy moet net platlê op die grond en met jou stert teen die grond slaan. As jy aanhou klop, sal jy gou ’n voor hê. Dan gaan jy verder af lê en klop weer met jou stert op die grond. Dan nog ’n end verder en so voort, totdat die voor kant en klaar is van hierso tot by die plek wat hulle later Delagoa-Baai sal noem.”
„Hoe lank sal dit neem, dink jy?” vra Gorra.
„As jy nie gaan slaap nie,” antwoord Gogga, „sal dit maar ’n kort tydjie neem, sê tweehonderd jaar of so. Maar dan moet ons noual begin.”
„Tweehonderd jaar is darem lank,” sê Gorra, mismoedig. „So lank sou ek amper nie kan wag nie.”
„Daar begin jy al met jou gesanik,” sê Gogga. „Moet nou nie so kleingeestig wees nie. Onthou, dit het duisende jare geneem om daardie seepsop in die see te kry. Loop haal nou eers vir my ’n bietjie heuning en dan kan jy dadelik met die voor begin.”
Gorra het toe die byenes loop uithaal en met ’n hele [58]klomp heuningkoeke teruggekom, wat hy aan Gogga gegee het.
Gogga het toe smaaklik van die heuning geëet en hom toe opgekrul onder ’n anyswortelblaar.
„Ek neem nou so ’n klein dutjie,” sê hy, „jy kan maar aangaan met die voor. Sodra ek wakker word sal ek jou kom help.”
En hy begin sommer snork.
Gorra het toe op die grond gaan lê en hard met sy stert geklop. Dit was vermoeiende werk en die grond was baie hard, sodat hy nie veel uitgerig het nie. Buitendien, hy het altyd rumatiek in sy stert gehad, en binnekort was dit te seer vir hom om aan te hou met die voorgrawe. Hy het toe gedink hy sou maar ’n bietjie rus, maar net toe hy ophou, word Gogga wakker.
„Op so ’n manier kom jy nooit by die plek wat hulle later Delagoa-Baai sal noem nie,” sê Gogga. „Jy rus te gou. Toe ek so oud soos jy was, kon ek nooit rus voordat ek klaar met my werk was nie. Jy sal moet werk.”
Die arme Gorra het weer begin en die werk was so hard en sy stert het so seergekry, dat die trane in sy oë gestaan het. Die trane, wat baie sout was het in die voortjie gerol en daar gebly. Die son het hulle opgedroë en ’n laag sout agtergelaat.
Vir tweehonderd jaar het Gorra so moes werk, sonder seepsop. Elke dag moes hy eers heuning soek en dan moes hy met sy rumatieke stert op die grond klap. Op so ’n manier het hy dit eintlik reg gekry om ’n diep voor te grawe van die plek wat nou Pretoria is tot waar nou Delagoa-Baai is. Die apies het kom kyk hoe hy werk en hulle het in die sloot gespeel, ofskoon daar so baie sout in was dat hulle versigtig moes wees om nie onder die sout begrawe te word nie. Want die [59]arme ou Gorra het elke dag baie, baie trane gestort, omdat sy rumatieke stert hom so seergemaak het.
„Dis ’n mooi begin,” sê Gogga, wat weer heuning geëet het. „Dis nou nie juis ’n reguit voor nie, want dit kronkel en slinger geweldig, maar dis tog ’n voor. Ons sal dit die Apiesvoor noem. Gaan maar voort, ou maat.”
Toe Gorra sy voor ’n paar myle verder gegrawe het, het die krokodille kom kyk wat daar te doen was. Hulle was baie nuuskierig en het so rondgespeel in die voor dat hulle dit groter en wyer gemaak het.
Gogga was eers kwaad daaroor, maar later het hy gesien dat dit goed was dat die voor groter gemaak word.
„Dan kry ons meer seewater, ou maat,” sê hy. „Dis mooi van die krokodille dat hulle ons help. Ons sal die gedeelte van die voor maar Krokodilvoor noem. Gaan maar aan, ou stertklapper.”
Eindelik het die arme ou rumatieke Gorra sy voor klaargehad tot in die wêreld wat nou anderkant die wildtuin van die Sabie lê. In dié dae was dit glad anders as nou en die grond was baie sag daar, sodat Gorra mooi vordering met sy sloot gemaak het. Maar dit was nou al eenhonderd-twee-en-negentig jaar wat hy aan die werk was en sy stert was so afgeslyt dat ’n mens dit nie meer as ’n stert kon beskou nie. Dit was maar net ’n skaduwee van ’n stert—’n skaduwee wat vol met die rumatiek was.
Toe Gorra dit sien, sit hy op die kant van die sloot en begin te huil. Hy het so hard gehuil dat die trane die voor gevul het en self ’n pad gemaak het na die see.
„My maskas,” sê Gogga, toe hy dit sien. „Ons het mos die sloot afdraand in plaas van opdraand gemaak. [60]Nou kry ons nooit die seewater hiernatoe nie. Ons sal weer ’n plan moet maak.”
„Ek het genoeg van jou planmakery,” sê Gorra, mismoedig. „Ek sal nou maar hierso doodgaan sonder seepsop.”
En hy het ook daar doodgegaan, maar voor hy doodgegaan het, het hy so baie trane gehuil dat die sloot vol sout was.
Later het die reëns gekom en die sout afgespoel, seetoe. En dít is die rede waarom die see vandag so sout is.
So tenminste sê die mense wat van Gogga en Gorra iets afweet. Ek was nie daar nie, ou seun, en ek vertel jou maar die storie soos hulle dit aan my vertel het.
Wat van Gogga geword het weet ek nie. Sy kinders en sy kleinkinders lewe nog om die sloot—wat nou die Krokodilrivier is—en hulle is soms baie lastig as ’n mens nie seepsop het nie. [61]