Roelof, in ervaring reeds geryp
en ouer in jare as Martjie,
het van sy aankoms af
die aansien en die agting reeds gewin
van almal in die dorp.
Maar Martjie moet sig wel beken
dat nie juis daarin nie
die rede lê
dat sy in hom
’n ander en ’n meerder sien
as in die ander jonkmans om haar heen.
Onagsaam deur ’n jonge man
te word verby gegaan,
wat wêrd is dat sy hom
haar agting of ten minst’ haar aandag gee,
word deur geen jongnooi
goedskiks ooit verdra.
Wyl ’t haar gelyk het van begin
of Roelf eenvoudig net vir haar beskou
as een soos pa en ma,
moes Martjie ondervind,
nie weinig tot haar eie verbasing, dat
sy haar oorstelp gevoel het deur
’n bang v’rontrusting,
nee, deur wanhoop, sou sy byna sê.
Die dwaasheid daarvan het sy toe haarself
wel voor-geredeneer,
sig vraend waaroor sy tog wel
te wanhoop had;
en kwaad, dat so’n beroering haar,
so helder van verstand,
so’n dwase kyk op mense en dinge gee.
Maar nou dat alles weer verby is
en dat Roelf,
d’onskuldige oorsaak, daar nog altyd staan
so vas en kalm-onwetend
soos ’n rots
wat bo die golwe ongedeer
hom nog vertoon,
nou moet sy nogmaals ondervind
dat die verhouding nog maar nie vir haar
bevredig nie.
Dis swaar vir haar om hom met rus te laat,
met moeite moet sy haar bewaak, bedwing,
om in haar plaery
nie al te ver te gaan;
te meer omdat sy altyd merk
hoe hy, in weerwraak op haar grappies, hom
die selfdwang oplê, waar sy nie
die rede van deurgrond nie,
wat hom altyd noop
om òm te draai
as hom sy jonge bloed
tot naad’ring wil beweë.
Selde of ooit sal hy
uit eie beweging ook met haar
’n plaery begin;
en baie maal
het sy reeds opgemerk
hoe hy, as ma en pa teënwoordig is,
hom meerder vryheid gun met haar
dan as hy hom met haar alleen bevind.
So bly nog hul verhouding steeds
’n bron van onrus en van twyfel,
tot daar iets gebeur
wat plots’ling nuwe lig ontsteek vir haar,
en onmiskenbaar is: