WeRead Powered by ReaderPub
Martjie cover

Martjie

Chapter 12: X.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

A tender courtship between a young woman and a young man unfolds within a sunlit rural household and its immediate surroundings. The narrative rests on modest, domestic episodes—visits, meals, idle afternoons—and uses everyday interactions to register emotional change. Lyrical attention to landscape, weather and household sounds shapes atmosphere and ties characters’ feelings to place. The prose favors a loose, rhythmic form that highlights mood, language and communal life rather than dramatic action or complex plotting.

X.

Lyk dit of die lot of noodlot soms
nog dralend rond-tas na die plan
van ons bestemming,
is eenkeer d’eerste stoot gegee,
dan volg die twede dikwels gou daarná:
„Maar wat is dit met julle twee van-aand?”
Dis ou tant’ Mieta wat dit vra
want Martjie en Sannie is van-aand
nie in te hou nie.
Martjie voel ’n opgewondenheid
wat prikk’lend haar van hoek tot kante jaag:
opbruisend woel ’n lewe in haar bloed
soos sy nog nooit geken het nie,
asof sy ’n lus gevoel
om alles met haar hande aan te gryp
—te frommel deur mekaar,
en roekeloos
die bande af te gooi van selfbedwang.
Hul fluister met mekaar ondeuënd, die twee,
en nou en dan kom uit die ver kombuis
’n lagbui onbedaarlik;
ja, dis wel bewys
dat iets gebrou word wat met sorg
vir Roelf bedek word
en hom nie
veel goeds voorspel.
Die awend-ete staan op tafel klaar
en almal neem hul plaas.
Martjie deel die pannekoeke uit
en gee die borde rond aan tafel.
Sy en Sannie kan met moeite
hul lag bedwing
—dis anders wel gewoonte, as die twee
eers reg op stryk is.
Roelof, nes die ander, het alreeds
sy pankoek opgerol,
’n stukkie afgesny en opgehap;
maar ’t lyk of hy nie vorder nie:
hy kou en kou
en skuif die happie met sy tong
van links na regs
en weer terug....
Hy buk sy hoof, om op sy bord
sy pannekoek noukeurig te beskou.
En, nes ’n stortvloed wat ’n dam verbreek,
wat nie meer uit kan hou nie,
bars nou Martjie en Sannie al-meteens
in tomeloos geskater los:
in Roelofs pannekoek het hul
’n ronde lap van linne ingebak!
Hy lag met hulle hart’lik saam
en moet beken
dat hul hom goed het beet geneem.
Oom Kootjie sê: „Maar hoor,
„jul jonkmans van vandag is darem swak,
„in my dae moes ’n nooi dit tog probeer
„om my so’n streek te speel,—
„so waar het sy ’n soen gekry!”
Van menigeen, wat aars’lend nog ontbeer,
maak so’n woord meteens ’n held:
Gevaarlik is die lig wat plotseling
aan Roelofs oog ontskiet,
’n oënblik weifel hy,
maar voordat iemand regtig weet
wat nou gebeur,
is hy reeds agter Sannies stoel,
sy arm geslae om haar hoof,
en op haar wang gee hy ’n ferme soen!
Martjie is opgespring,
en na die deur slaan sy op vlug!
Maar ou oom Koot is klaar, en met sy arm
keer hy haar voor;
’n oënblik nog, en Roelf het haar gepak,
haar arme in sy sterke greep geklem
en magteloos,
en op haar frisse lippe, rood en vol,
druk hy ’n soen!
Albei het die slagveld nou ontvlug
en Roelf het baas gebly.
Hy neem sy stoel weer in
—oor eie kordaatheid baie verbaas,
bedremmeld en terneergeslae
nou dat hy
bemerk hoe ver hy is gegaan.
Goedkeurend klop oom Kootjie op sy skouer:
„Roelfie, ’t het my altyd maar gelyk
„of jy te stadig is,
„maar nou het ek gesien dat jy
„gesny is uit die ou soort hout—
„dis reg so, man!”

As Martjie weer die ander môre vroeg
die eetsaal binne kom
vind sy vir Roelf reeds daar
en yw’rig besig:
naas sy bord
het hy ’n stuk papier,
en teken iets met potlood daarop aan,
so besig dat hy selfs nie merk
hoe sy die kamer binnekom,
—of sou hy maar so maak?
Dis net of sy ’n skok gevoel
en op die drumpel
moet bly staan:
wat! is dan in hom,
sinds wat daar gister het gebeur,
so gansegaar en niks verander nie?!
„Môre ou sus,” sê hy meteens,
as sy reeds reg-oor hom
haar stoel geneem het,
maar van sy skrywe kyk hy nog nie op
en bly nog so ’n rukkie spraak’loos sit.
Met snelle handbeweging
skuif hy nou
papier en potlood weg
en kyk haar in haar oë aan:
„Ou sus, maar waarom kry ek dan
„van-môre glad geen koppie koffie nie?”
Martjie voel ’n rukkie in haar asem,
snel-verleë is haar laggie
as sy moet gewaar
dat sy eers nou
haar tafel-plig gedenk.
Sy gryp die koffiekan
en skink sy koppie vol;
en dis vir haar ’n baie groot verligting
as sy sien
dat hy met brood en boter
besig is
en nie die blossie merk
wat op haar wange vlugtig vlam;—
maar half het sy ’n gedagte dat hy dit
ekspres nie wil gewaar.

Hoewel hy openhartig is en vrolik
bly hy maar vir haar
’n raadsel:
hoofskuddend, by homselwe,
of pratend, as daar niemand by is nie,
en somtyds stil in diep gepeins.
Maar gou is altyd weer
die skaad’wee weg
en is hy weer homselwe,
meestetyds vóor iemand iets kan merk.

Martjie is haarself nie meer,
sy voel haar op ’n weg gestoot
waar sy nie meer op kan terugkeer nie.
Vergeefs is elke dag haar moeite
om, in praat en doen,
vir Roelf dieselfde weer te wees soos vroeër.
Ja, maar as sy aan haar selwe vra
op watter tyd die „vroeër” terug moet sien
dan weet sy nie,
want duid’lik is dit tog vir haar
dat reeds die eerste keer
van hul ontmoeting
sy al reeds nie meer
haarselwe het gevoel.
Maar nou moet sy daarby nog ondervind
hoe sy ook tot haar ouers en haar vrinde
en tot haar werk geworde is
soos een wat vreemd is.
Wonderlik is in ons lewe, ja,
die kérings-punte, as ons moet gewaar
dat so meteens ’n nuwe siel
die leisels het geneem
van al ons dinke en gevoel,
en ons op duiselhoogte het geplaas
van saligheid,
vanwaar ons oog sig plots’ling kan verbeel
in d’afgrond van die smart te kyk.