Op Soetlands-vlei is bruilof.
Stoffies trek omhoog in al die paaie,
dis karre wat op weg is na die fees.
Uitkyks kapkar is ook een daarvan.
Die beste perde van die stal
is ingespan vandag,
en tuie blinkend in die son.
Van ver alreeds
word karre en perde oor en weer herken.
En doeke by die raampies uitgewuif
bring groete reeds vooruit
van vrinde, aan vrinde langtyd nie gesien.
En daar waar paaie uitloop in mekaar
word stil gehou
om soene met mekaar te wissel eers
en hande-groet,
dan gaan die reis weer verder aan.
Tafels staan gedek op Soetlands-vlei
se werf,
in koele skaad’wee,
alles van die beste is daar op
wat d’Afrikaanse huisvrou kan berei,
gebakke, vrugte en blomme
in bonte mengeling.
Maar seker is die skoonste nog van al:
die blosend-lief gesiggies,
tawwertjies, soos blomme self
met held’re somerkleure,
ryklik rondgestrooi
al tussen-deur die swarte drom
van mense—
laggies hupp’lend deur die praatgebrom,
die grappies spattend
hier en daar,
en handjies blank en fyn
wat help om rond te dien.
Die vrolik-gulle lag van Roelf
word nou en dan
bo almal uit gehoor.
Hy maak of hy die korswil nie verstaan
wat doel op hom en Martjie.
Wag, die ergste kry hy nog te hoor:
In d’eetsaal is die gaste
nou byeen,
’n glasie word getik
en stilte aangevra
vir iemand wat ’n woord wil praat.
Die sprekers woorde is maar baie gewoon:
hy wens die ouerpaar
en bruid en bruidegom geluk,
maar laat dan daarop volge:
„vrinde,
„dis wel waarlik te verstaan
„dat so baie mooi gesiggies
„as ons hier vandag
„versameld sien
„wel maklik menig jonkman kan beweeg
„om ook ’n plan te maak....
„en ’k dink ek kan jul wel
„verseek’ring gee
„dat ons nie al te lang meer hoef te wag
„om nogmaals so’n fees te vier”....
Gelag gaan op, en onderbreek
die sprekers woord,
wyl ieders oog op Roelof is gerig
en hande-kloppies op sy skouer val.
’n Oënblik staan hy glad verbluf
al-eer hy ’n laggie op kan wek
om hom te red;
maar klankloos is die laggie,
kort en leeg.
In ope-staande deur,
net agter haar,
is Martjie, op die sprekers woord,
verdwene in ’n kamer,
ongemerk en snel,
vergeefs dat hoofde en oë sig nou beur
om haar te soek.
En in die kamer bly sy tot
die uur van huistoe-gaan.
Op t’rugreis na die plaas,
is ’t wel opmerklik stil van-aand
in ou oom Koot se kar.
En twee wat op die agterbankie sit
is bly
dat ’t reeds so laat is
en hul nie
mekaar kan sien.
Maar al te ongewoon
is Roelofs swye vir oom Koot,
hy draai hom om na agter toe:
„maar wat is ’t dan met julle twee van-aand?”
Roelf probeer aanhoudend sig te red
met praatjie of grap,
maar ’t wil van-aand nie vlot nie.
Na ’n rukkie sê oom Kootjie weer:
„my skepsels! maar het julle twee
„dan rusie met mekaar gemaak?”
En ’n eindjie verder:
„Ma, so waar die kêrel sit ’n slaap,
„hy het, so by-me-siel,
„’n dop te veel gesteek!
„Of sit hul in die donker stil te vry?”
Dis laat al as die kar
op Uitkyk kom,
Roelf is agter uit gespring
en loop na vore om die hek
te open,
dat oom Koot
daar deur kan ry.
Hy sluit dit weer en roep van ver
aan almal goeie nag
terwyl hy na sy kamer stap.
Die plaasvolk is geroep deur Jaftas blaf
en kom reeds nader om die kar
en perde te versorg.
En nog een het haar kamer gou gesoek,
maar nie om rus of slaap te vind,
al het sy haar ook haastig uitgekleed,
die kêrs geblus
en op haar bed haar uitgestrek.
O, ’t klop so in haar hoof
en in haar bors!....
Met woeste ruk
het sy meteens
die dekens afgegooi,
en sit oorend....
die blou-wit maanlig straal die venster in
en val op haar.
Sy’s op, en voor haai tafel nou;
sy was haar hande
en gesig.
en kyk na buite.
Haelwit oor die waenhuis-géwel gly
die maanlig.
Tuingereedskap staan in klompies
teen die muur,
as rustend na die arbeid van die dag.
En op die hard gelykte, breed en leeg,
van d’agterplaas
twee jonge boompies naas mekaar,
elk éne by sy ronde skaad’wee-kol,
beweëloos....
In Martjies oë lyk dit alles tog
so onverskillig-dom,
verlate, en met niks
of niemand mee-gevoelend.
Saggies en werktuiglik open sy
die binnedeur wat uit haar kamer lei,
en sluip op blote voete in die gang,
nie wetend waar sy heen wil gaan.
Gevoelloos is ook alles daar
en leeg,
in skeem’ring stil-geheimsinnig.
Dof-glimmend
staar die deure-knoppe haar
onvrindlik aan
net of hul vra: „wat soek jy hier”.
Sy’s in haar kamer weer,
en op haar bed terug,
die maanlig op haar witte nag-gewaad,
haar hande om die katel-knop geklem,
haar voorhoof op haar hande neergebuig.
En fluist’rend in die stilte van die nag,
ontval haar lippe ’n klag, verwytend half:
„O, wáarom tog nie, Heer, O, wáarom nie?!”