Die trek was lang en swaar,
die hele nag,
deur reën en wind
—die swarte donker elke keer
herskep in helder dag
deur flikker-blitse,
ligtend op die lange ry
van waens
en diere, steunend in die tuig en juk—
hul pligte nooit versakend.
En, as onwillend-traag, was skaars
die lang verbeide dag ontwaak,
of plotseling
het knetterend kleingeweer
die aanvang aangekondig van ’n stryd.
En heeldag het dit aangehou
nou digter by,
en dan weer ver,
by-wyle heeltemal bedaard,
tot net ’n skot of drie
nog word gehoor,
meteens dan wakk’rend weer
tot woedend-fel gekraak
aaneen....
Gewonde meer en meer
word aangedra na die ambulans,
en dokter en verpleegsters het
hul hande vol
—en Martjie ook daarby.
Sy béwe elke keer
as een word aangebring,
nie wetend of sy dalk,
in smartverwronge trekke, nie ook hom
sal moet herken.
Sy wens dit byna, hatend dan haarself
om so’n wens.
Die angs is nie te hou nie, want
daar’s iets wat haar ’n ongeluk voorspel,
die slag moet val, sy weet nie waar of hoe.
O, was ’t maar gou!
Sy weet hy ’s daar:
die môre vroeg het sy hom weer
die eerste keer gesien.
Dat sy ook daar is weet hy nie:
te perd het hy
die wa verby geja, van agter op,
met burgers na die front.
Sy het hom by sy naam wil roep,
maar in haar boesem het ontroering so
haar stem gevang
dat oor haar lippe net ’n fluist’ring kom.
Tevrede moes sy wees hom so
nog agterna te kyk
—so fier en kloek te perd, sy hoof omhoog,
as dorstend vir die stryd.
Burgers kom in klompies aangery
en gaan verby:
die orders is om t’rug te val,
die oormag van die vyand is te groot,
hul trek van ver
die stelling om.
Die ambulans, met rooikruis vlag omhoog,
moet daar bly staan
—verplegend swaar gewonde, in groot getal.
Martjie het moeite om
haar aandag aan haar werk te wy,
onrustig blik haar oog
na buite, elke maal,
of sy hom by die ander nie gewaar,
hoewel sy weet—sy kan nie sê waaróm—
dat hy nie met die ander daar
verby sal gaan.
Die laaste burger is al lang verby
as by die rooikruis-wa
die vyand sy verskyning maak,
en groter word hul aantal steeds.
Die dag se stryd en woeling word bepraat
en Martjie hoor vertel
hoe ’n klompie burgers dáár,
op daardie voorste punt,
was afgesny,
en almal doodgeskiet of swaar gewond,
behalwe éen:
en aangehou het hy alleen, totdat
sy laaste skot was weggeskiet,
en menigeen deur hom
sy dood moes vinde;
in hande is hy nou
en sal, nog voor vanaand,
met eie lewe moet betaal
die lewens wat hy so genome het
terwyl die stelling reeds
verlore was,
die stryd alreeds beslis....
Martjie het genoeg gehoor.
Sy weet, sy voel wie daardie burger is
al het haar niemand dit vertel.
Sy’s weg,
te voet,
meteens,
geen sterw’ling kan haar keer....
Die pad verlatend
pyl sy reg,
deur veld en bossies op haar doel.
Dis ver,
en opdraend,
maar sy stap,
sy stap,
en kyk net vóor haar.
O, sy kan nie meer—
’n uur, gewis,
sal sy moet stap!
Sy struikel,
nee, sy’s weer oorend,—
sy stap!
Die dorings pluk
en skeur,
sy struikel nogmaals....
Op!
Maar nee,
op hande en knieë
kom sy neer:
sy moet,
sy moet by asem kom....
Bedaarder nou
en stadig aan
—so kom ’n mens die verste....
Wat!
bedaard en stadig aan!?
terwyl hy reeds
word uitgelei, miskien....
die roers al aangelê....!
’n Roep van angs
ontsnap haar bors,
aan elke oor het sy
’n vingertop gedruk....
sy draf,
sy draf!
.........................
Hoe lang het sy al so
in onmag daar gelê?
Hoe kom sy daar?
Verwonderd kyk sy om haar heen....
O, ja, sy weet,
sy weet meteens....
O, waarom was sy tog so swak
om daar haar kragte te verlies:
die laaste bultjie lê net voor, sy kan
al stemme hoor....
Sy’s op,
sy stap,
oor klippe groot en klein
na bowe!
Wie het haar
so reguit op haar doel gelei?
Bo die laaste klippe
kom meteens
’n hoof en skouers uit
—dis hy!
Sy arme het hy op sy bors gekruis,
sy hoof omhoog,
sy oë fier gevestig,
of hy iets verwag
wat hy nie vrees nie....
„Roelf!”
Hy hoor haar stem
en maak meteens
’n snelle wending met sy lyf en hoof,
die selfde oënblik kraak
’n sarsie kleingeweer
en stort hy agteroor,—
met dowwe smak, en weerslag, raak sy hoof
die harde grond,
dan lê hy stil!
Sy’s daar,
by hom.—
Eerbiedig op ’n afstand bly
die ander staan....
Sy hoof het sy gelig,
met oë geslote rus dit op haar arm,
’n kol van donker-rood
is op sy bors—
dit dy en dy al groter uit....
Hy slaan sy oë op,
met glimlag van herkenning sien hy haar.
En sonder woord van haar het hy verstaan
dat sy ’n boodskap nog van hom kom vra
eer-dat hy gaan....:
„Martjie....
„ek het eenkeer lief gehad....
„die dood het haar
„van my af weggeneem.
„Jy wis dit nie....
„Ek het jou hart verstaan,
„maar wou nie praat,
„ek het gemaak of ek dit nie kon sien,
„en vrolik het ek my
„maar nog gehou....
„al het ek smart gevoel
„vir jou....
„Vergéwe my....
„Ek dag om so te wag, totdat die tyd
„my dalk sou leer....
„om jou ook lief te kry,
„soos haar,.... wat ek.... verlore het....
„dit mog nie wees nie, Martjie....
„en.... ek het gevoel....
„dat ek aan jou, en niemand,
„minder ooit mog gee
„dan ’k eenkeer.... had gegee....
„aan haar....”
Spraak’loos het sy aangehoor;
ontroering hou haar stem in boeie vas,
ook nou dat hy,
met oë wyd-onrustig starend,
lê te wag
dat sy moet praat.
Sy buig haar hoof
en fluister in sy oor:
„jy ’t goed gedaan!”
’n Handdruk, lang en innig, is haar loon.
Dan val die grote oë stadig toe,
tevrede....
Sy vingers lê nou magt’loos in haar hand....
En op die gras-saad van die vlakte sterf
die dag se laaste sonnestraal.