Dis oggend, en die ete staan al klaar,
—die aand tevore, laat, is Roelof ingetrek
nadàt hy in die middag eers
die welkomsfees had bygewoon.—
Oom Koot sien almal om die dis
hul plekke neem
en vryf sy hande op mekaar
van skoon plesier:
„Ja, Roelfie, so wou ek dit altyd hê,
„en kyk, die plekkie wat jy daar
„aan tafel het
„is joue vir altyd nou.”
En moederlik-geneë is
die laggie wat daar straal
van ou tant’ Mieta haar gelaat.
En vrindlik ook knik Martjie met haar hofie.
„Kom,” sê oom Koot, en buig
sy hoof voor-ower op sy hand.
Almal volg hom na daarin;
en niks versteur
die plegtig woord van d’ ou-man se gebed
as net die vooltjies, kwett’rend voor die raam,
en, by die eikeboom, die hoef-gestamp
van Roelofs ryperd, opgesaal en klaar
om hom na dorp te neem.
’n Oënblik van erns en stilte volg
op d’ „amen” van oom Kootjie se gebed,
want hy het daarin ook ’n woord gewy
aan sy getroue vrind, en aan sy seun
—hul huisgenoot van nou af aan.
Dis net of daar met Roelofs koms
’n windjie is ingewaai
van nuut-fris lewe op die kleine kring
aan tafel:
Met kennis toegerus van veel
wat vreemd is aan die lewe op die plaas
is hy ’n bron van nuw’ gedagtes.
Oom Koot is op sy stukke:
ywerig deur Martjie bygestaan
bespaar hy aan die jonkman nie
sy kleine plaëry
en strikvrae, fyn gespan.
„Ag kom, wat sou die Johnnie daarvan weet?”
dis baie maal oom Kootjies woord:
en Roelof, ongewoon en links
in plaasgebruike,
bly die mikpunt so
van hulle skerts.
Maar ou tant’ Mieta is sy bondgenoot
by die skermutselings;
en baie maal steun sy hom fluks
met woorde goed van pas,
wat aan die teëparty ’n neerlaag kos.
En raak hy hulle self,
met voorslag goed gemik,
dan knik sy hom goedkeurend toe.
—So baie plesier het sy
in jare nie gehad!
„Maar wag maar, ons twee sal die Johnnie sout,
„hoor Martjie!”
dis dikwels dan oom Kootjies laaste skot.