WeRead Powered by ReaderPub
Oom Gert Vertel en Ander Gedigte cover

Oom Gert Vertel en Ander Gedigte

Chapter 72: XX.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

A varied sequence of Afrikaans poems moves between vivid rural landscapes and intimate human moments, using homely objects, animals, and folk-song rhythms to evoke place. Short, playful ditties and songlike refrains sit alongside sober meditations on conflict, loss, and life in camps, while occasional satire and comic sketches lighten the tone. An accompanying essay reflects on the language's growth and character. Together the pieces form a compact portrait that interweaves local colour, personal remembrance, and linguistic identity through lyrical sketches, simple songs, and elegiac reflection.

Nie maanlig meer, maar wolke orals rond;
Die branders groot as berge; en die see
Kook oor en raas; die hele lug is swart,
Swart as 'n kool, of diepswart as die mond
Van 'n spelonk by nag gesien; en hard
Slaan teen die see die donder en raas mee.
Hier staan ek aan die strand, en om my woel
See, donderslag en bliksem. Daar 's 'n lig,
Dig by die rotse: dis 'n skip se vuur;
Want op en neer dans hy daar—en ek voel,
My hart het jammer vir die see se plig
En vir die skip se prys: dis tog so duur!
Vanmôre was die see weer stil; die strand
Gestrooi met seegras, maar met meer as gras;
Want daar was een—hy het sy prys betaal,
En lê bankrot en brandarm op die sand,
Half met sy hand nog aan 'n houtblok vas—
'n Lyk met ope oë, doodsbleek en vaal.

XVII.

Dingaan, die Soeloe, was 'n duiwel:
Handlanger van die hel was hy!
Hy het ons mense hard geteister,
Windmaker in sy dwinglandy.
Dingaan, die Soeloe, was 'n duiwel,
Maar hy is lankal dood, en nou
Het ons geen mens, wat ons kan teister—
En tog sit ons nog in die rou!

XVIII.

Klim op, klim op, met die slingerpad!
Klim op, klim op, tot jy staan daar bo,
Waar jy al ons land in 'n oomblik vat,
Van die Suurveld af tot die kaal Karoo!
Klim op, klim op, langs die slingerpad!
Klim op, tot jy bo-op staan; en kyk,
Hoe mooi ons wêreld is! Dan weet
Jou siel die waarheid—want jy is ryk!

XIX.

Die see het juwele, robyne,
So rooi as 'n korrel granaat;
Die see het sy lyke, geraamtes,
Van elke verdrinkte Janmaat.
Die see het sy skulpe, wat, mooier
As ooit ook 'n mens dit kan maak,
Daar pronk in paleise van seegras,
Waar ewig die branders om kraak.
Die see het 'n hart: in die diepte—
Waar selfs nie 'n kreef kan bestaan,
Waar lewens nog laer as muggies
Gebore word om te vergaan—
Daar setel sy siel, en dit uiter
In elke verandring sy wil!
Verslinger die rotse die branders,
Die see sal daar nimmer van gril;
Want ewig en altyd onsterflik
Is diep in die diepte sy krag,
En laag in die land van sy lewe
'n Siel, wat vir ewig kan wag.

XX.

Die see is wild, die see is blind:
Hy slaan so oor die rotse grof;
Veraf nog dreun sy donder dof,
En oor hom huil die noordewind.
Die wind is wild, die wind is kwaai:
Hy gons die bome deur en breek
Die takke van die stam, en steek
Die haelbui aan met sy lawaai.
Die hael is wild, die hael is sterk;
Hy maak die see se branders glad,
En stamp die koringvelde plat,
En breek die sekretaars se vlerk.
Nog wilder as die see en wind,
Nog strammer as die haelstormsnood,
Nog blinder as die drie—die Dood,
Wat op jou voorkop sit, ou vrind!

Die Einde.

Gee vrede en rus vir ons almal, wat lam is van swerwe,
Moed en geduld vir ons almal, wat bang is te sterwe;
Gee vir ons hart soos in somer die sap vir die bome;
Gee vir ons krag vir die werk en verstand vir die drome;
Gee, dat ons lag, as die lewenslas druk op ons harte;
Gee vir ons hoop in die donkerste nagte en smarte;
Gee vrede en rus vir ons almal, wat lewe en erwe
Smart en verdriet, met die reg om uiteindlik te sterwe.
Gee vrede en rus; en ons vra nie iets anders, en luister
Stil na die wind, wat so sag in ons ore kom fluister:
"Moed, mense, hou moed!
Die kwaad sal verander in goed:
Die môrelig kom uit die duister."

BY ONS IS OOK TE KRY:

DICHTERS UIT
ZUID-AFRIKA

BLOEMLEZING

uit de gedichten van

CELLIERS, TOTIUS, LEIPOLDT, MALHERBE,
JOUBERT, LANGENHOVEN, MARAIS,
KEET, WASSENAAR EN FAGAN.


Saamgesteld door

Dr. E.C. PIENAAR B.A.

MET INLEIDING EN WOORDVERKLARING.


DERDE HERSIENE DRUK.


PRYS EXTRA GEBIND 5/6 POSVRY.

VRA VANDAG NOG 'N EKSEMPLAAR AAN DIE
UITGEWERS VAN HIERDIE BOEKIE.

NUWE BOEKE

By die uitgewers van hierdie boekie het die volgende nuwe uitgawes verskyn:

DANIE SE HOOP VERVUL

'n voorbeeld vir ons Afrikaanse seuns

deur

Mevr. PHILIP OELOFSE.

'n Ekstra boekie vir 'n geskenk.

3/9 posvry.


Twee Rampe en Twee Gelukke

deur

Ds. J.H. KRUGER.

Aan hierdie boek is die twede prys toegeken in die prysvraag, uitgeskryf deur ons firma vir die beste werk in Afrikaans.

6/- posvry.


HUIS EN VELD

deur

G.R. VON WIELLIGH.

5/6 posvry.

Die boeke van Meneer v. Wielligh behoef geen aanbeveling nie.