Daar gaan baie oneerlikheid aan op die delwerye, en etlike delwers vergaan van ellende omdat die diamante wat op hulle kleims gekry word, in die besit kom van gewetelose persone wat maar alte gereed is om op onwettige wyse hierdie kosbare steentjies van kaffers te koop. En dis nie so danig maklik om die kaffer of die onwettige koper te vang nie. Hulle is uiters geslepe en slimmer as die houtjie aan die galg.
Om ’n halfdosyn of meer kaffers wat onder in ’n kleim werk, dop te hou om te voorkom dat hulle stilletjies ’n diamant oppik, is nie kinderspeletjies nie. Persoonlik wou ek nooit glo dat ’n kaffer my so onder my oë sou fop nie, en het dan ook hierdie mening aan meer as een delwer vry uitgespreek.
„Nou goed,” sê ’n ou delwer eendag aan my, „kom saam na my kleim toe, en dan sal u self kan oordeel of ons delwers die kaffer se gladheid om ’n diamant te steel oordrywe het.”
Ek het sy aanbod gewillig aanvaar, en net vir gou staan ons by sy kleim waarin sowat sewe kaffers besig was om gruis los te kap.
„Swartbooi,” sê my vriend (wat onder die delwers bekend gestaan het as Koos Blikkies) aan sy mandoor onder die skepsels, „hierdie baas wil nie vir my glo as ek hom vertel dat julle kaffers ’n diamant onder sy neus sal wegsteel sonder dat hy dit sal bemerk nie. Nou wil ek net vir hom wys hoe maklik julle dit kan doen.”
„Goed, my baas,” antwoord Swartbooi. „Gooi maar daardie ses-carat wat ons gister gekry het, hier in die kleim voor my neer. Laat hierdie baas dan al die tyd vir my in die gate hou, en as die steentjie wegraak, dan moet die baas hom maar betaal. Hy is mos so seker van sy saak.”
„Ek is heeltemal tevrede,” sê ek, „maar as ek vir Swartbooi betrap dat hy die diamant vat, dan kry hy ses houe met hierdie handsambok.”
Swartbooi gee so ’n lang pruimspuug, en terwyl al sy van die twak geelgekleurde tande wys, sê hy laggend: „Allright!”
My selfvertroue het my nou ’n bietjie begewe, want ’n kaffer beklink nie somar gou so ’n kontrak nie, of hy moet absoluut seker wees van sy saak. Maar die feit dat ek net die één skepsel, wat g’n drie tree van my af gruis kap nie, moes dophou, het my soveel vertroue in myself gegee dat ek my pyp stop en op my gemak gaan sit en rook het op die kant van die kleim.
„Nou toe,” voeg ek Koos Blikkies toe, „plaas nou maar die diamant net waar jy wil, solank as ek net die steentjie kan sien, en as Swartbooi hom wegvat sonder dat ek hom betrap, dan eet ek nog my hoed op die koop toe ook op.”
Koos Blikkies het die diamant onder in die kleim neergesit, omtrent twee tree van my en sowat ’n tree van Swartbooi af, en toe vir my gewaarsku om baie oplettend te wees. Hy sou my ’n halfuur tyd gee; as die diamant dan nog daar was, of as ek die kaffer gevang het, dan het ek gewen. Met ’n laaste vermaning aan my om die skepsel dubbel goed dop te hou, het hy vertrek.
Binne ’n kwartier het die diamant spoorloos verdwyn. Ek kon sweer dat ek vir g’n enkel oomblik my oë van die klippie af weggeneem het nie, en tog ... dit was weg! Onder die stof kon dit nie wees nie, want dit het onder op die harde bodem gelê en die volk het aan die ander kant van die kleim gewerk, en dan? ek het die ding nog so flussies daar gesien.
Ek vrywe my oë en kyk weer.
„Waar is die diamant, Swartbooi?” vra ek.
„Ek weet nie; die baas hy het hom mos opgepas,” antwoord die skepsel, en om sy mond sweef daar ’n trek van diepe minagting vir my oplettendheid.
„Maar wat het dan van die ding geword?” vra ek weer, en in my verbeelding sien ek reeds hoe ek £150 vir Koos Blikkies moet betaal, en geld was in daardie dae nie juis alte volop by my nie.
„Hoekom die baas hy vra vir Swartbooi? Die baas hy het hom mos opgepas. En al is hy weg, die baas hy het mos baja sjeld, hy kan mos maklik betaal,” sê die skepsel met so ’n sataniese glimlaggie van hartlike voldoening, dat ek somar lus voel om ’n handvol gruis by sy keelgat af te druk.
Ek het gelukkig my £150 behou, want Swartbooi was eerlik genoeg om die diamant aan sy baas terug te besorg, maar hierdie voorvalletjie het vir my geleer hoe onmoontlik dit vir die delwer is om sy werksvolk op te pas, en dat hy feitlik aan hulle genade oorgegee is. Het hy eerlike kaffers, dan is dit ook nie nodig om hul op te pas nie, maar het hy oneerlike volk, nou ja, dan moet hy maar self ’n plan uitdink. Ek het nie raad vir hom nie.
Hoe Swartbooi daardie kosbare steentjie so vlak voor my oë kon verduistermaan, weet ek tot vandag toe nog nie, maar die feit bly daar dat hy dit wel gedoen het.
Nou, leser, sal jy miskien beter verstaan waarom die owerheid die trepstelsel op die delwerye ingevoer het. Was dit nie in swang nie, dan sou die onwettige diamanthandel welig op die diekens gefloreer het, en sou die eerlike delwer maar baie min vrug op sy arbeid gesien het. Selfs onder bestaande omstandighede gaan dit maar moeilik en vind daar nog baie oneerlikheid plaas.
Maar ongelukkig is hierdie trepstelsel ’n uiters gevaarlike wapen in die hande van die minder eerlike speurder, en kan dit alte maklik gebeur dat die onskuldige persoon in die val gelei en gevang word.
II.
Koos Blikkies was ’n interessante persoonlikheid. Nie juis rysig van gestalte nie, was hy die besitter van ’n paar krom bene en besonder lang arms. As ’n mens hom op ’n afstand sien aankom, dan dink jy onwillekeurig aan Darwin se ewolusieteorie. Beskou jy hom egter van naderby en kyk jy hom reg in die oë, dan vergeet jy heeltemal sy krom bene en sy abnormale arms. So ’n ope en eerlike gesig sien jy nie aldag nie, en al is dit miskien ’n bietjie vuil van die stof, dan nog trek dit dadelik die aandag van elkeen wat hom vir die eerste keer ontmoet.
Die naam Blikkies, verstaan ek, het hy met die driejarige oorlog verwerf. Hy was eintlik die groot man gewees om vyandelike forte op te blaas. En vir hierdie doel het hy kondensmelkblikkies gebruik wat hy met dinamiet gelaai het. Koos self het die bynaam as ’n eretietel beskou en was selfs trots daarop.
„Ek hou baie van boerdery, maar die boerdery hou niks van my nie,” het hy eendag geantwoord op my vraag wat of hom dan delwerye-toe gedrywe het. Maar ek het later uitgevind dat Koos Blikkies se bure en sogenaamde vriende so van sy goedhartigheid en vrygewigheid misbruik gemaak het dat hulle hom totaal gerinneweer het. Met ’n wa, ’n span osse, ’n tent, ’n vrou en ses kinders, ’n paar pikke en grawe en £100 kontant het hy uit die boerdery gestap en op Kreepoort geland.
Die eerste jaar het die Geluksgodin haar gesigskant vir hom getoon en het hy goed geld gemaak. Maar hier het dit ook maar nes voorheen op sy plaas gegaan. Sy bure wat minder gelukkig was as hy, het so dikwels van hom geleen en so selde weer die geleende terugbetaal, dat Koos Blikkies aan die end van die jaar ryk aan vriende maar arm aan geld was.
„Ek kan tog nie die arme mense rondom my van ellende sien vergaan nie, en hulle sal my weer op ’n ander keer help as ek in verleentheid is,” het hy aan sy vrou gesê toe sy hom vir die duisendste keer gesmeek het om tog minder rojaal geld en goed uit te leen.
Koos Blikkies is een van die weinige mense op aarde wie se vertroue in sy medemens nie maklik kan geskok word nie. Self so eerlik, opreg, eenvoudig en goedhartig, kon hy nooit iemand anders van verkeerde of oneerlike motiewe verdink nie. Maar aan die ander kant het hy nie geskroom om ’n man in sy gesig te sê wat hy van hom dink as hy hom op ’n skelmstuk betrap het nie. En by so ’n geleentheid kon hy hom nogal van besonder keurige taal bedien.
Speurder Midas was g’n vriend van die delwers nie, en hy het onomwonde verklaar dat in sy opienie al die delwers ’n klomp skurke was. Die leser sal derhalwe maklik kan begryp waarom hy en die delwers mekaar nie juis uit liefde omhels het nie. Op die delwerye het die gerug weleens die rondte gedoen dat Midas self nie bo verdenking was nie. En die een delwer het in sy buurman se oor gefluister dat die oneerlike skurk minder kans staan om getrep te word as die eerlike man. Ja, dat Midas self ’n aandeel had in die I.D.B.
„Het oom Koos gehoor dat die arme Jan Emmer vanmôre vroeg getrep is?” sê Gert Struis aan sy buurman.
„Jy wil tog nie vir my kom vertel dat daardie arme sukkelaar gevang is nie? Ek sal nooit glo dat Jan Emmer skuldig is nie!” sê Koos Blikkies, en sy oë blits van verontwaardiging.
„Ja, Oom, ek het so flussies gesien dat Midas hom dorp-toe vat. Hy loop tussen twee kafferpolies, en een van hulle het my vertel dat Jan Emmer vir I.D.B. gevang is,” gaan Gert voort.
„En wat moet nou van sy siek vrou en babetjie word?” vra Koos Blikkies weer.
„Die Here alleen weet, Oom. Dis juis deur hulle wat hy getrep is.”
„Hoe kan dit deur hulle wees, man? Jy praat nou somar nonsens,” sê Koos, en ’n mens kon sien dat hy hom vererg.
„Nee, tog nie, Oom. Gister was die dokter by Jan Emmer se tent en hy het die vrou en die babetjie see-toe georder. As hulle nie gaan nie, het hy gesê, dan sou hul nog uiters ’n ses maande kan lewe. Oom weet seker hoe hardop die arme Jan is en hoe lank Midas al probeer om vir hom te trep. Dis hierdie soort game wat Midas speel wat my bloed laat kook. Hy wis dat Jan byna enigiets sou waag om geld in die hande te kry, sodat hy sy vrou en kind kan see-toe stuur volgens die dokter se orders, en nou maak Midas van Jan se ellende gebruik om die arme sukkelaar te trep en...”
Hier raak Gert se verontwaardiging vir hom meester en kon hy nie voortgaan nie.
„Skandelik!” roep Koos Blikkies, „skandelik! En dan is die vent nogal kamtig iemand wat moet toesien dat die wet uitgevoer en die orde gehandhaaf word. Maar kan ons dan niks doen om die arme Jan uit die tronk te hou nie?”
„Ek vrees ons kan niks daaraan doen nie, Oom, want Jan is werklik getrep. Verlede nag om drie-uur het ’n kaffertrep hom ’n tien-carat aangebied vir £10 en Jan het in die strik geloop. Die gedagte aan sy vrou en babetjie se toestand het natuurlik die deurslag gegee. Maar is dit nou regverdig om iemand in Jan se toestand so in die versoeking te bring? Is dit nou reg om ’n man wat nog altyd eerlik en ordentlik was, in ’n skelm te herskep? Waarom probeer hy nie liewer daardie Moor Seal vang nie? So wragtag, Oom, as hul daardie duiwel van Kreepoort nie wegneem nie, dan word hy nog gelynch!”
Hierdie laaste sin het Gert op so ’n toon geuit dat Koos Blikkies jou werklik-waar moes skrik.
„As ek in Jan Emmer se plek was, dan sou ek dieselfde gedoen het,” sê Koos Blikkies, „en die persoon wat vir so iemand ’n trep stel, is absoluut uit die bose en verdien om gestraf te word honderd maal meer as die arme slagoffer wat deur sy duiwelse lis gevang is.”
In ’n armoedige hut op Kreepoort lê ’n arme vrou en haar kindjie op hulle uiterste; maar wat het die wet daarmee te maak? Jan Emmer is skuldig en moet gestraf word!
III.
Die treppery van Jan Emmer het ’n groot opskudding verwek op Kreepoort. Die volgende dag kon ’n mens orals tussen die kleims groepies delwers druk in gesprek met mekaar opmerk. Dit het alles oor die een onderwerp gegaan, en die gemoedere was net warm. Het Koos Blikkies nie die delwers tot gematigdheid aangespoor nie, dan weet die liewe Vader alleen wat sou plaasgevind het.
„Nie met geweld nie,” het hy gesê, „maar met uitoorlê sal ons vir Midas die les leer. Moet net nie oorhaastig te werk gaan nie.” En hierop het die delwers na hulle kleims toe gegaan en die verder verloop van sake in Koos se hande gelaat.
Vir Gert Struis en Piet Visasie het hy sy planne meegedeel. „Dit sal nooit gaan om teveel konfidante te hê nie, want dan is ons geheim netnou op die vlakte,” het hy aan hulle gesê.
„Maar wat is dan Oom se planne?” vra Gert.
„Kyk, neef, ek het vanmôre weer ’n mooi vyftiencarat-klippie gekry; Swartbooi het dit so ’n uur of wat gelede vir my gebring. Hy het dit somar in die kleim uitgekap.”
„Maar hoor, Oom is darem gelukkig,” val Gert hom in die rede.
Sonder om notiesie te neem van Gert se interrupsie gaan Koos Blikkies voort: „Ek kan vir Swartbooi vertrou, want jy weet seker dat ek eenmaal sy lewe gered het—maar dis nou tot daar-en-toe—en ek gaan hom as trep gebruik om daardie Moor Seal te vang. Want as ek vir Seal gevang het, dan het ek vir Midas ook in die hande.”
„En is Oom nie bang om die diamant te verloor nie?” vra Gert.
„Glad nie, neef, glad nie; ou Swartbooi sal my nooit bedrieg nie, en hy is vir Seal te slim. Maar ek het jou en Piet Visasie se hulp nodig. Ek weet Piet is ’n kêrel wat sy mond kan hou en wat nie maklik skrik nie.”
„En hoe sal Oom vir Midas vang deur vir Seal te trep?” vra Gert weer.
„Dis te lank om vir jou nou al die redes vir my gevolgtrekkings hier uiteen te sit. Oefen maar geduld; jou nuuskierigheid sal oor ’n dag of wat bevredig word. Seal ag homself so veilig met sy onwettige handel dat hy baie maklik gaan gevang word.”
„Nou goed, Oom kan op my reken. Laat hoor nou Oom se planne.”
„Kyk,” begin oom Koos, „Swartbooi vertel aan my dat hy Seal se rolplek ken. En hy weet te sê dat Midas altyd sorg dra dat daar nooit ’n kafferpolies in die nabyheid kan kom nie. Nou het Swartbooi al vir Seal gepols, en hy sê die Moor is baie gretig om besigheid te doen. Ons weet ook dat Midas op Smartendal se groot dans is. Môre-oggend om drie-uur gaan Swartbooi my vyftiencarat-diamant aan Seal verkoop, en jy, Piet Visasie en ek, sowel as twee kafferkonstabels gaan die Moor vang. Verstaan jy nou?”
„Ja, Oom, en as ons daardeur somar vir Jan Emmer ook kan loskry, dan sal ek meer as beloon vir die moeite voel.”
„Wie weet, neef, wie weet? Miskien het alles vir die beste gebeur!” En met hierdie woorde stap Koos Blikkies na sy tent toe.
Daardie nag is die net nog ’n slaggie uitgesprei, maar hierdie keer om ’n regte roofvoël te vang, en dit was nie tevergeefs nie. Seal is op heterdaad betrap, en daar was vyf ooggetuies!
IV.
Belangstelling sowel as nuuskierigheid het my hof-toe gedrywe op die gedenkwaardige dag van 9 Junie, 192..., toe Jan Emmer en Seal voor die regter moes verskyn.
Dit was op ’n Vrydag, en daar die meeste delwers tog op daardie dag na Smartendal moes kom om hulle diamante te laat registreer alvorens hulle dié mag verkoop, was die hofsaal ver te klein om die skare van delwers te bevat en moes etlike honderde teleurgesteld omdraai.
Daar is ’n doodse stilte in die hof toe die regter sy plek op die regbank inneem, en toe Jan Emmer se naam uitgeroep word, kon ’n mens ’n speld hoor val.
Die beskuldigde stap met lustelose tred die boks binne, en dit moes ’n hart van staal gewees het wat op daardie oomblik g’n medelyde met hom gehad het nie. Die versreël uit Gesang IV het my onwillekeurig te binne geskiet: „Wordt ergens zo betreurenswaard ’n schepsel Gods gevonden?” toe ek my oë op hom rig.
Met geboë hoof, arms wat slap langs sy liggaam hang, en oë wat te skaam is om op te kyk, staan hy daar, waarlik ’n betreurenswaardige skepsel Gods. Sy klere is nog vuil van die rooi stof van die diekens, en sy hare hang in toiings oor sy voorkop. Ja, ek kon sweer dat selfs oor die juts se gesig ’n sweem van jammerte vir ’n oomblik geflits het.
„Jan Emmer, pleit jy skuldig of onskuldig op die aanklag?” vra die publieke aanklaer.
„Skuldig,” klink die nouliks hoorbare antwoord.
„Jy pleit skuldig op die aanklag dat jy onwettig ’n ruwe diamant van ’n kaffer gekoop het,” sê die regter, „en as delwer behoort jy tog te weet dat dit as ’n baie ernstige oortreding in die oog van die wet beskou word. Jy weet ook wat die straf is in so ’n geval. Sover ek weet was daar g’n versagtende omstandighede wat jou tot so ’n misdaad gedrywe het, gewees nie, en daarom vonnis ek jou tot......”
Onverwags klink daar ’n stem van uit die gehoor in die hofsaal. Verstoord kyk die regter in daardie rigting, en aan die uitdrukking op sy gesig was dit duidelik te sien dat hy daardie persoon sonder verder versuim gaan laat uitgooi. Dog tot aller verbasing verander die kwaai uitdrukking op die juts se gesig, en op byna vriendelike toon vra hy: „Weet u miskien iets van die saak af en wil u getuienis aflê?”
„Ja, edelagbare,” sê Koos Blikkies, en sy stem klink helder deur die hofsaal.
„Nou kom dan vorentoe en kom lê jou getuienis hier in die getuiehokkie af,” herneem die regter.
Sonder om ’n oomblik te aarsel vleg Koos Blikkies sy weg deur die gedrang na die getuieboks toe, en met ’n diep buiging aan die regter en die jurielede begin hy sy verklaring, wat egter meer ’n pleidooi was as iets anders:
„Edelagbare regter, en here lede van die jurie, ek weet ek praat namens al die delwers van Kreepoort as ek u my hartlike dank toebring vir die geleentheid om ’n woordjie ter verdediging van Jan Emmer te spreek.” Ek het my verbaas oor die keurige taal waarvan Koos Blikkies hom bedien en kon merk dat die regter en die jurie ewe verbaas was as ek. „U het soewe van versagtende omstandighede gewag gemaak,” gaan Koos voort, „en edelagbare regter en lede van die jurie, as daar ooit versagtende omstandighede bestaan het, dan was dit in hierdie geval wat u nou geroepe word om vonnis oor te vel. Hier het u voor u ’n man wat beter dae geken het; ’n man uit ’n goeie huis, fyn opgevoed en getroud met ’n dame ewe goedgekonnekteer as hy. Sonder sy eie toedoen bevind hy hom met famielie en al op Kreepoort vandag; sy sogenaamde vriende, waarvan party gegoede mense is, het hom tot die bedelstaf gedrywe. Maar ek wil u kosbare tyd nie alte lank in beslag neem nie, en sal dus nie verder oor die beskuldigde se verlede uitwei nie... Op die delwerye het dit met die beskuldigde van sleg tot erger gegaan. Die eerste ses maande het hy ’n blink geloop, en tot oormaat van ramp word sy vrou en kind ernstig siek. Die dokter besoek die delwerye, en op mooipraat van enige delwers beskuldigde se tent.
„‚Jou vrou en kind moet see-toe,’ raai die dokter aan, ‚anders gee ek hul nog uiters ses maande om te lewe.’ Edelagbare, stel u nou in die plek van die beskuldigde! Ek weet u het ook ’n dierbare eggenoot en kinders,—wat sou u gedoen het as u onder daardie omstandighede die kans aangebied is om geld in hande te kry om die kosbare lewe van u dierbares te red?—As u anders sou gehandel het as Jan Emmer, dan is u van beter stoffasie gemaak as hy en ek en die gewone delwer.”
Hier breek Koos Blikkies se woordevloed vir ’n oomblik af, en die hoofde van al die teenwoordiges gee ’n nouliks sigbare knik van instemming met sy pleidooi.
„Ten volle bewus van Jan Emmer se ellendige toestand,” vervolg Koos Blikkies, „stel Midas, wat u ’n speurder noem, maar vir wie ons ’n minder vleiende naam het, sy trep vir hom.” Met moeite bedwing die spreker hom, en met ’n stem wat van verontwaardiging tril, bars hy uit: „Is dit nou reg en geregtigheid, edelagbare regter en here lede van die jurie, om ’n man wat in Jan Emmer se gemoedstoestand verkeer, te trep?—Dis die werk van die duiwel, edelagbare, dis uit die bose!”
Koos bly weer ’n rukkie stil. ’n Mens kon sien dat èn die juts èn die jurie getroffe was. „Ons pleit vir die ligste straf wat u kan oplê, edelagbare. As dit moontlik is, vra ons om die genade van die hof. Kan dit egter nie, dan versoek ons nederig om ’n opgeskorte vonnis of ’n geldelike boete, want dié sal ons betaal, en namens die delwersgemeenskap beloof ek dat ons sal sorg dra dat die beskuldigde saam met sy vrou en kind see-toe sal gestuur word. Ons onderwerp ons volgaarne aan u uitspraak.”
Koos Blikkies gaan sit, en die atmosfeer is nou so gespanne dat ’n mens amper bang voel om asem te haal.
Die jurie is sigbaar aangedaan, en hoewel die regter niks laat merk nie, kon ’n mens tog aan sy stem hoor dat ook hy onder die betowering van Koos Blikkies se welsprekendheid geraak het.
„Ek simpatiseer met jou, Jan Emmer,” sê die regter eindelik, „want die bose self kon nie ’n beter tyd en geleentheid uitgesoek het om jou val te bewerkstellig as wat Midas die speurder geprakseer het nie. Maar jy is skuldig, en die wet moet gehoorsaam word. Ek maak jou straf egter so lig as ek kan, en hiervoor moet jy die vriend wat so ’n kragtige pleidooi vir jou gelewer het, danksê. Dis jou eerste misdaad, en die vonnis van die hof lui: agtien maande tronkstraf, opgeskort vir agtien maande! Laat dit vir jou ’n waarskuwing wees!”
Noudat die spanning van die laaste paar uur verby is, vergeet die delwers glad waar hulle is. Dit klap in die hande en stamp met die voete dat hoor en sien vergaan. Dit het moeite gekos om weer stilte in die hof te verkry.
Dit was die merkwaardigste hofsitting wat ek ooit in my lewe bygewoon het.
Seal is gevonnis, en Midas se medepligtigheid het met die verhoor uitgekom. Hy is saam gevonnis en later uit die diens ontslaan.
Jan Emmer se vrou en kind is fris en gesond, en hulle woon nie meer op die delwerye nie. Hy is voorman op Koos Blikkies se plaas. Laasgenoemde se geluk het spreekwoordelik geword op Kreepoort, en ’n jaar na die hofsitting het hy genoeg geld gemaak om ’n mooi plaas te koop en kontant af te betaal.
Ek hoop ek klap nie uit die skool as ek aan die nuuskierige leser vertel dat Koos Blikkies in die jaar 18... een van die briljantste debatteerders was wat ooit op die Kollegebanke in Kaapstad gesit het.
HIERDIE BOEK IS GEDRUK DEUR
MASKEW MILLER BEPERK,
IN HUL STANDERD-PERS, KAAPSTAD.
MASKEW MILLER SE
LEES-MET-LUS
LEESBOEKE
DEUR
P. IMKER HOOGENHOUT, B.A.,
J. P. BOTHA, B.A., en P. M. van der LINGEN, B.A.
(Skoolinspekteurs in Transvaal.)
Die boekies bevat ’n groot aantal illustrasies, waarvan die meerderheid heeltemaal origineel, en die inhoud van die boekies is fris en lewendig.
Dit is die bedoeling van die skrywers om ’n serie Leesboeke in die skool te bring wat alles wat tot dusver uitgegee is, sal oortref.
VIR SUB-STANDERD A. OF GRAAD I.
- Eerste Boekie
- Twede Boekie
VIR SUB-STANDERD B. OF GRAAD II.
- Derde Boekie
VIR DIE STANDERDS:
- Standerd Een.
- Standerd Twee.
- Standerd Drie.
- Standerd Vier.
- Standerd Vyf.
- Standerd Ses.
- Standerd Sewe.
Maskew Miller Beperk
KAAPSTAD
MASKEW MILLER’S
English Readers
FOR
SOUTH AFRICAN SCHOOLS
AND SCHOLARS
A Series of Ten Books, including a Teachers’ Handbook
THE WHOLE UNDER THE EDITORSHIP OF
Mr. JAMES RODGER, M.A.
Inspector J. F. SWANEPOEL, B.A.
Inspector CHARLES HOFMEYR, B.A.
The Series referred to above is the result of many months thought and practical experiment on the part of the editors, two of whom—Inspectors of Education for the Cape Province—have for some years made the teaching of English to Afrikaans-speaking children a special study, and it is in a measure to provide a well graded series, with a distinct South African atmosphere, that this work has been undertaken.
The format of the series will be uniform in style and size with that highly successful series of Afrikaanse Leesboeke „Lees met Lus.”
MASKEW MILLER, LIMITED
CAPE TOWN