WeRead Powered by ReaderPub
Uit ou Reisbeskrywinge: Dagverhale en ander letterkundige bronne oor die Kaap cover

Uit ou Reisbeskrywinge: Dagverhale en ander letterkundige bronne oor die Kaap

Chapter 4: INLEIDING.
Open in WeRead

Explore more books like this:

About This Book

A curated anthology of early travel narratives, shipwreck reports, diary fragments and descriptive accounts relating to the Cape region, presented mainly in original Dutch with selected translations into Afrikaans where necessary. The volume gathers eyewitness testimony and literary excerpts that recount coastal encounters, maritime hazards, inland explorations and exchanges between visitors and local peoples, each prefaced by brief introductions that explain the piece’s context and cultural‑historical significance. Aimed at schools and general readers, the editors prioritize readability and pedagogical use, bringing primary source material into the classroom and public view and covering the region’s formative period up to the beginning of the eighteenth century.

[Inhoud]

Die Dood van Francisco d’Almeida.

[3]

[Inhoud]

INLEIDING.

Op 1 Maart 1510 het die Portugese onderkoning, Francisco d’ Almeida, wat met ’n vloot op die terugreis na Portugal was, met ’n vyftigtal van sy aansienlikste manne op die strand van die Tafelbaai in ’n geveg met die Hottentotte gesneuwel. Hy was ’n belangrike persoon en kan naas Vasco da Gama en Alfonso d’Albuquerque genoem word as een van die stigters van die Portugese koloniale ryk in Indië. In die groot seeslag voor Diu in 1509 het hy die Mohamedaanse seemag in die Ooste verpletter; en sy beroemde opvolger, d’Albuquerque, kon toe van hierdie verswakking van die vyand gebruik maak en deur die besetting van die belangrikste strategiese punte ’n vaste basis aan die Portugese mag in Indië gee.

Dit spreek vanself dat die dood van die onderkoning groot opskudding in Portugal verwek het; en die gebeurtenis word deur verskillende beriggewers breedvoerig vermeld. Die beskrywinge is, wat besonderhede betref, taamlik uiteenlopend; en hierin word miskien weerspieël die toestand van totale verwarring en magteloosheid waarin die Portugese gedurende die geveg verkeer het. Die beskrywing wat hier volg, is dié van Joano de Barros (1496–1570), die grootste Portugese historikus van daardie tyd. Theal het uittreksels uit [4]sy Asia in Records of S.E. Africa, VI, blss. 1 vv., afgedruk en vertaal. Die leser word daarheen verwys—veral na blss. 298 vv. In II, blss. 45 vv., is die beskrywing van Correa; in V, blss. 399 vv., dié van De Castanheda; en in III, blss. 134 vv., dié van De Goes. ’n Vergelyking van die verskillende berigte met mekaar openbaar groot afwykinge. [5]

[Inhoud]

DIE DOOD VAN FRANCISCO D’ALMEIDA.

In Mosambiek het [die onderkoning] vier-en-twintig dae vertoef, want ’n lekkasie in die Belem moes reggemaak word. Van daar het hy sy reis voortgesit, en met gunstige weer het hy om die Kaap die Goeie Hoop geseil. Asof die end van die reis reeds bereik was1, roep hy toe uit: „God sy geloof! Nou is dit duidelik dat die towenaars van Cochin leuenaars is!” Die rede hiervoor was ’n voorspelling van sommige in Indië dat hy nie die Kaap sou omseil nie, en hierdie voorspelling het volgens gerug sy oorsprong by die towenaars van dié land gehad.

Daar hulle water nodig gehad het en die Aguada de Saldanha2, waarvan ons reeds geskrywe het en waar skepe water kon inneem, naby die Kaap was, het hy aan die stuurmanne bevel gegee om hom daarheen te bring. Om nou die manskappe ’n bietjie ontspanning te verskaf ná die eentonigheid [6]van die see, het hy sommige wat met die watervate aan land gegaan het, toegelaat om met die neërs, wat op die strand hulle verskyning gemaak het sodra die skepe geanker was, handel te drywe. Die neërs het heeltemal eie geword met ons mense en vee aan hulle verruil vir stukke yster en doek, wat hulle hoog waardeer; en ’n paar van ons kêrels het toe verder verlof gekry om met die inboorlinge na hulle dorpe toe te gaan byna ’n uur van daar. Op hierdie ekspediesie het die neërs van party messe gesteel en ook ander dinge, waarin hulle sin gehad het. Om hierdie brutaliteit te wreek het een van die kêrels, Gonçalo, ’n diensbode van die onderkoning, twee van die neërs met hom saamgevoer onder die voorwensel dat hulle van die goed moes dra wat hy gekoop het; maar hulle was huiwerig om saam te kom, want hulle was agterdogtig en het gevrees dat sy bedoeling nie suiwer was nie. Toe wou hy hulle met geweld dwing, maar hulle gooi die goed neer en het hom so toegetakel dat hy met stukkende tande en ’n gesig vol bloed voor die onderkoning verskyn het.

By die onderkoning was toe juis verskillende persone wie se diensbodes dieselfde mishandeling van die neërs ondervind het, veral een met die naam Fernando Carrasco, ’n bediende van Jorge de Mello; en hulle was so kwaad dat hulle die onderkoning beweeg het om die neërs in hulle dorp te gaan straf. Hy het ingewillig, nie so seer omdat hy self kwaad was nie, maar om die adellike here te bevredig, ofskoon sommige van hulle teen die [7]aanval was, soos b.v. dom Lourenço de Brito, Jorge de Mello en Martin Coelho.

Die dorpe was ’n bietjie verder op as die plek waar die skepe geanker was, en die volgende dag, om die afstand te voet te verkort, het die bote dus met omtrent ’n honderd-en-vyftig man, die fleur van die hele geselskap, langs die kus tot digby die dorpe gevaar. Hulle het daar aan wal gestap; en die onderkoning het aan sy skipper, Diogo d’Unhos, bevel gegee om daar in die skuite te wag en nie van die plek af weg te gaan nie. Dit wil waarlik skyn asof sy gees hom voorspel het in welke verskriklike nood hulle na die skuite sou uitsien, en asof die bedruktheid waarmee hy die onderneming begin het, ’n voorteken van sy laaste uur was; want ná sy inwilliging aan die versoek van die edelliede wat hom aangespoor het, was al sy woorde en dade soos dié van iemand wat die dood verwag. Toe hy b.v. uit die skip in die boot klim, sê hy, om te wys dat hy teen sy sin gaan: „Waarheen neem julle my sestig jare?”

Dood van d’Almeida.

Uit Van der Aa se Gedenkwaardigste Zee- en Land-Reysen.

(Foto A. E. Elliot.)

Later toe hulle langs die strand loop, sê hy daar is sand in sy skoene, en hy vra vir Joano Gonçalves, sy lyfbediende, om hulle uit te trek; en toe Joano Gonçalves die een teen die ander klop om die sand uit te slaan, maak hy die opmerking: „As dom Joano de Menezes nog gelewe het en jou daardie skoene teen mekaar hoor slaan het, sou hy g’n stap verder gegaan het nie, al was dit ook in ’n slag wat grootliks tot sy eer sou strek; maar daar ek meer in God glo as in sulke illusies, sal ek my reis voortsit.” Hy het hier gesinspeel op [8]’n feit wat algemeen in die koninkryk bekend is, nl. dat dom Joano de Menezes aan twee slegte voortekens geglo het: die klop van twee skoene teen mekaar, en dat Dinsdag ’n ongelukkige dag was. Die verklaring hiervan is as volg: dom Joano was hooflyfwag van die prins dom Alfonso toe hy by Santarem van sy perd geval het en aan die gevolge oorlede is; en terwyl hulle twee naas mekaar op die wal van die Taag by Alfange ry, begin ’n knaap wat in die Taag geswem het, sy skoene teen mekaar te klop om die sand uit te kry, en net toe val die prins van sy perd; en dit was op ’n Dinsdag. Dus, as gevolg van hierdie ongeluk het dom Joano altyd aan die twee slegte voortekens geglo, en dit was so alom bekend in die koninkryk dat toe hy in Arsilla3 en later in Asamor3 kaptein was, die inwoners seker was dat hy niks op ’n Dinsdag of as hy twee skoene teen mekaar hoor slaan, sou onderneem nie.

Hiervan was hulle so oortuig dat toe dom Joano in Arsilla ’n aanval op ’n paar dorpe wou maak … en die inwoners, omdat dit winter was en baie gereent het, nie graag wou saamgaan nie, vier van hulle ’n plan gemaak het en ’n jongkêrel gekry het om by die poort van die stad skoene teen mekaar te klop nes dom Joano daardeur ry, want [9]hulle wou hom so keer. Maar dom Joano het deur die plan gesien, en hy het geweet dat die kêreltjie van ’n man kom wat in ’n neerlaag ’n goeie gebruik van sy bene kon maak.

Hy roep hom dus toe: „Loop sê vir jou baas dat sy straf vir wat jy nou doen, alleen sal wees dat hy sal moet saamkom; en op hierdie tog sal sy bene vir hom van meer nut wees as daardie skoene.” Daarop ry hy toe welgemoed verder; en die lis het hy geduie as ’n voorspelling van die oorwinning, wat hy inderdaad behaal het.

Die onderkoning daarenteen het nie van die skoengeklop ’n grap gemaak nie, en met teësin en in ’n treurige stemming het hy sy reis voortgesit. … En daar is mense wat beweer dat die siel van die mens so deur die bedruktheid of opgewektheid wat hy voel, vooraf weet wat met hom gaan gebeur; en in hierdie geval het g’n halfuur verbygegaan nie, of die slegte voorbodes van die onderkoning was verwesenlik.

Net toe hulle die neërdorp intrek, het Fernando Pereira, die seun van Reimano Pereira, gesneuwel. Party sê dit was ’n ongeluk, want hy was in een van die hutte; en een van ons manne wat buitekant was, het hom daarin gehoor, en in die gedagte dat dit ’n neër was, het hy sy spies ingestoot en hom deur die lyf gesteek. Toe die onderkoning hiervan hoor, sê hy: „As my moeilikhede met Fernando Pereira begin, dan sal dit met nog meer ophou;” en hy het bevel gegee dat die manskappe dadelik teruggeroep moes word. [10]

Die gros van die geselskap het egter reeds deur ’n groot deel van die dorp gegaan en kom terug met ’n aantal koeie en kinders, wat hulle in die huise gekry het. Daarop verskyn toe omtrent tagtig neërs; met die eerste skrik het hulle gaan wegkruip, maar nou was hulle klaar om vir die behoud van die kinders die dood te trotseer. Toe Lourenço de Brito sien hoe woes hulle aanstorm en waarom hulle dit doen, skree hy vir dié wat die kinders wegvoer: „Laat die kalwers staan, want die koeie kom agter hulle aan; en hulle bulk nie, hulle brul.” En ofskoon party van ons mense toe die kinders laat loop het en die armsalige buit van die dorp neergegooi het, was die neërs reeds so woedend dat hulle oor alles heenspring en ons hoofmag aanval.

Hulle roep die beeste, wat aan dié soort van oorlogmaak gewend is, en begin om vir hulle te fluit en met tekens te stuur; en agter die vee beskut val hulle toe ons mense aan met hardgebrande hout-werpspiese. Party val gewond neer en is deur die beeste vertrap; en daar die meeste sonder skilde was en alleen lanse en swaarde gehad het, kon hulle in dié soort van vegtery nie veel uitrig nie, terwyl die neërs tussen die beeste uit met onmiddellike gevolg hulle wapens teen ons manskappe slinger. Hulle val so veg-veg terug en kom uitgeput by die plek waar Diogo d’Unhos volgens die bevel van die onderkoning met die skuite moes gewag het; maar hulle was nie daar nie, want ’n storm het opgekom, en die see was so onstuimig dat hy verplig geword het om die [11]bote terug te neem tot naby die skepe; waar ons mense dus verwag het om skuiling te kry, het hulle die dood gevind.

Hulle sak weg in die seesand en was totaal magteloos en kon hulle nie beweeg nie, terwyl die neërs op hulle afstorm so lig en rats dat hulle na voëls lyk, of liewer na die beule van Satan. Hulle werp hul op die edelliede, wat uit liefde vir die onderkoning nog ’n bietjie weerstand gebied het, want die gemene volk het met die eerste buit vooruit gehardloop. Die treurigste was dat sommige gewondes, wat nie in die los sand kon loop nie, in die water vaste grond gaan soek het en dit met hulle bloed bevlek het.

In hierdie moeilike tyd, toe iedereen vir homself gesorg het, kom Jorge de Mello by die onderkoning, en hy vind hom min of meer verlate, want iedereen moes na homself kyk en het sy hande daarmee vol gehad. Daar Jorge de Mello half ontevrede met hom was in verband met sake tussen Alfonso d’Albuquerque4 en die onderkoning, sê hy toe aan hom: „Senhor, ek sou graag party van dié by u gevind het aan wie u eer verskaf het, want nou is die tyd om weldade te vergoed;” waarop die onderkoning antwoord: „Senhor Jorge de Mello, dié wat aan my iets verskuldig was, is reeds [12]agtergelaat; dit is nou nie die tyd vir sulke herinneringe nie; u moet liewer aan u adellike stand dink; en ek vra u as ’n guns om by die banier van ons koninklike heer te bly en dit te red, want dit word oneer aangedaan; wat my betref, ek kan met my sonde en jare hier my lewe sluit, daar dit die wil van die Heer is.”

In die tussentyd het daar reeds geval Pedro Barreto de Magalhaens, Lourenço de Brito, Manuel Telles, Martin Coelho, Antonio do Campo, Francisco Continho, Pedro Teixeira, Gaspar d’Almeida en nog meer. So lank soos hy kon, het Jorge de Mello by die vlag gestaan, en by die onderkoning tot aan sy dood. ’n Werpspies het hom die keel deurboor, nadat hy met stokke en klippe gewond was. Toe Diogo Pires, die leermeester van dom Lourenço5, hoor dat die onderkoning gesneuwel het, keer hy terug met die woorde: „Mag God gee dat ek nie die seun en vader moet agterlaat en met my lewe hier uitkom nie.” Hy gaan toe terug na die plek waar die onderkoning lê; en daar het hy ook vir altyd gebly.

Om nou te sluit—dit was die noodlottigste gebeurtenis wat in die koninkryk plaasgevind het, want die neërs was eenhonderd-en-sewentig in getal, en ons mense eenhonderd-en-vyftig, die edelste uit die vloot. Van hierdie het meer as vyftig, waaronder twaalf kapteins, op die strand omgekom, doodgegooi met stokke en klippe, en [13]dit nogal uit die hande nie van reuse of gewapende manne nie, maar van dierlike neërs—die laagste op die hele kus; en al hulle verhewe moed en verstandige bedrywigheid, wat hulle so dikwels in Indië en baie ander plekke in skitterende krygsdade vir God en hulle koning vertoon het, het hulle hier niks gebaat nie. Slegs ’n kort entjie pad en ’n bietjie sand het hulle tot onmag verswak, sodat ons met waarheid kan sê dat hierdie twee dinge die vernaamste oorsaak van hulle dood was, want baie was so magteloos dat hulle neergeval het, en die neërs het hulle weerstandloos met groot strandklippe die hoofde verbrysel.….

Van dié wat ontkom het, was byna almal met dieselfde primitiewe wapens gewond, en die wonderlikste van al die wonde was dié van Jorge Lopes Bixorda, die eienaar van die skip Santa Cruz. Sy skedel was met ’n klip ingeslaan, en die gat op die naat was groot genoeg om ’n eier te bevat; en toe die stukke been verwyder is, kon ’n mens sy harsings sien klop. Dit was nie moontlik om hom aan boord skip gesond te maak nie. Maar gelukkig het ’n hen begin lê, en ’n neërin het ’n kind gekry; en met haar melk en die eiers van die hen is hy verpleeg, en die wond het genees.

Jorge de Mello, wat vir die sorg van die vlugtelinge verantwoordelik was ná hulle terugkeer, het die gewondes na die skepe vervoer en het daarop teruggegaan na die strand om die dooies te begrawe. Toe hy kom waar die lyk van die onderkoning lê, totaal ontkleed—want die wêreld wou dat [14]hy dit selfs sonder ’n doodshemp moes verlaat—, was hulle droefheid so groot om hom daar in dié ellendige toestand te sien dat dié wat daarby gestaan het, liewer met hom in die dood sou gegaan het as om die eerbiedwekkende en beroemde man daar so te moet aanskou. Jorge de Mello het hom en die ander op die woeste kus begrawe en het teruggekeer na die skepe. Hy het die anker gelig en die reis na hierdie koninkryk voortgesit, waar, ná sy behoue aankoms, die hele land oor die noodlottige gebeurtenis in rou gedompel is. [15]


1 Op die terugvaart uit Indië het die Portugese die kus van Natal tot aan die Kaap, en veral die laaste stuk daarvan, as die allergevaarlikste deel van die hele reis beskou; en eers as hulle die Atlantiese Oseaan bereik het, het hulle hul veilig geag. Vgl. die Itinerario van Jan Huygen van Linschoten aangehaal op bls. 54. 

2 Die teenswoordige Tafelbaai het sy eerste naam Aguada de Saldanha (die waterhaalplek van Saldanha) in 1503 gekry, toe ’n groot Portugese vloot onder Antonio de Saldanha daar water ingeneem het. Die Nederlandse skeepsvoog, Joris van Spilbergen, het dit in 1601 herdoop met die naam wat dit vandag nog dra. 

3 Arsilla en Asamor is twee hawestadjies op die weskus van Morokko. Die Portugese het in dié streke gesag uitgeoefen. Hulle verowering van Morokkaanse gebied, wat in 1415 by Ceuta begin het, het aanleiding gegee tot die ontdekkingstogte; en die verval van hulle mag het ook hier begin, toe in 1579 koning Sebastiaan deur die More by Alkasar verslaan is en self in die slag gebly het. ↑ a b

4 Koning Manuel het Francisco d’Almeida van sy bevel in die Ooste onthef en dit aan Alfonso d’ Albuquerque oorgedra. D’ Almeida het egter nog eers die groot oorwinning voor Diu op die gekombineerde Mohamedaanse vloot in 1509 behaal voor hy die terugreis na Portugal onderneem het. Tot kort voor sy vertrek het hy vir d’ Albuquerque as ’n prisonier behandel en in die faktory by Kananor opgesluit gehou. 

5 Lourenço d’Almeida, die seun van die onderkoning, het in 1508 in ’n seeslag teen die Mohamedaanse vloot naby die teenswoordige Bombaai gesneuwel.