Afrikaans is vir ons méér as Hollands, omdat dit Afrikaans is plus Hollands: Hollands, verryk met die Afrikaanse woordeskat, en sagter en buigsamer gemaak in 'n Afrikaanse vorm-leer. Dis àl.

Dit lyk duidelik genoeg, maar desnieteenstaande is dit 'n treurige feit, dat baie van ons allerbeste skrywers die taal skandelik verkrag deur onnodige ontleninge uit die Hollandse grammatika. Ons woordeskat kan en moet ons aanvul uit die Groot-Nederlandse voorraadskuur, maar ons grammatika moet altyd suiwer Afrikaans bly. Word dié eenvoudige beginsel veronagsaam, dan berowe ons nie alleen ons taal van sy eienaardige karakter nie, maar ontneem ons ook onsself alle reg om 'n aparte taalstandaard vir Suidafrika te ontwikkel.

Grammatiese vorme as wy (Afr. ons), syn (Afr. wees en is), ben (Afr. is); der (Afr. van die); verlede tye as kwam, werkte, hoopte; infinitiewe as kappe, rukke, sitte; partisipiële konstruksies as sy staat te wag, vashouende in haar één hand haar sambreel, is geen Afrikaans en sal dit ook nie maklik word nie. Sulke geleende vere ontsier baie van ons verhewenste poësie, en gee ons die onaangename indruk, dat ons tiepies Afrikaanse woordvorme en sinswendinge nie goed genoeg vir wit papier is nie.

Die bestaan van 'n buigingsvorm in Hollands is ook nog glad geen rede vir die invoer daarvan in Afrikaans nie; en ons taal is ook voorwaar nie armer nie, as dit 'n buigingsvorm mis, wat in 'n Hollandse of Latynse grammatika aangetref word. Die buigingsvorm, as sodanig, het maar heel weinig waarde: dis die betekenis daardeur uitgedruk, wat van belang is, en dieselfde betekenis word in een taal deur middel van 'n buigingsvorm, maar in 'n ander taal deur middel van 'n partiekel of aparte woord of woorde uitgedruk. As dié eenvoudige feit onthou word, dan sal daar veel minder wysheid uitgekraam word oor die "armoede" van Afrikaans, wat, soos dit heet, nie eers 'n verlede tyd het nie! As buigingsvorme 'n taal ryk maak, dan moet die Boesmantaal stellig baie ryker as die Engelse taal wees!

Die reëls van ons taal moet netsowel as die reëls van die versmaat en die rym gehoorsaam word; en elke skrywer moet onthou, dat hy ons Afrikaanse taal nie somaarso in enige Hollandse pakkie kan dwing, of dit na hartelus met ou vorme kan besaai nie. Verouderde grammatiese vorme moet selfs in poësie uitsondering en nie reël wees nie; en in gewone prosa is dit eenvoudig onduldbaar. Die grammatika is die verband tussen die boumateriale of die woorde van die taal, en daarvan hang die stewigheid en die selfstandigheid van elke taalgebou af. Sonder die regte verband word die grootste woordeskat 'n majestueuse ruïene.

Nog 'n Plantjie vir die Tuin!

Die gedigte in hierdie Afrikaanse bundeltjie is 'n nuwe blyk van die bewusword van ons volk en van ons ontluikende Afrikaanse letterkunde. Ek ken die skrywer al vir jare, maar dit was eers onlangs, dat ek ontdek het, dat hy kon "rympies" maak. 'n Gesprek met hom oor die toekoms van die Nederlandse taal in Suidafrika het my die aangename kennismaking met sy gedigte besorg. Ek het die handskrif met soveel genoeë deurgelees, dat ek daar ten volle van oortuig was, dat dit te goed is om in 'n tafellaai te lê en roes. Ek laat dit aan die leser oor om te oordeel, of ek heeltemal verkeerd het!

Die gedigte was my weer 'n nuwe bewys, dat ons eie Afrikaans tog maar die natuurlikste voermiddel vir die Afrikaner is; en dit het dan ook tot my hart gespreek op 'n wyse, soas alleen die moedertaal by magte is.

Ek het van die gedigte van my vrind Leipoldt gehou, want ek het daarin gekry 'n ware digtersiel vol gevoel en verbeelding, wat weet om die leed van homself en van sy volk te vertolk; 'n wonderlike vertrouelikheid met die lewe, kleure en poësie van die natuur; en 'n ongekunstelde, melodiese Afrikaans—kenmerke, wat die skrywer m.i. 'n eervolle plaas onder ons ander Afrikaanse digters besorg. Die inhoud van die gedigte kan in sy eie woorde opgesom word:

Ek sing van die wind, wat tekeer gaan,
Ek sing van die reën, wat daar val,
Ek sing van ons vaal ou Karooland,
Van blomme, wat bloei by die wal,
Van water, wat bruis oor die klippe,
Van duikers, wat draf oor die veld,
Van voëls, wat daar sing in die bossies,
Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!

Is iemand vatbaar vir egte natuurgenot, laat hy dan die Lenteliedjie en Oktobermaand lees, waar hy 'n pragtige natuurprentjie in bekoorlik-eenvoudige taal geskilder sal aantref. Maar hoe lief Leipoldt ook al die natuur het, dit is nie hoofsaak by hom nie: dit dien maar vir teëstelling of vir agtergrond vir sy eie diepgevoelde smart. Hy is in die eerste plaas 'n digter, wat onthou, wat sy volk wedervaar het.

Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?
Die smarte, die angs, het so baie gepla?
Die yster het gloeiend 'n merk vir die eeue
Gebrand op ons volk, en die wond is te na,
Te na aan ons hart en te diep in ons lewe:
"Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!"

Dieselfde snaar hoor ons besonder duidelik tril in Aan 'n Seepkissie, Die ou Blikkie, Vrede-aand en Oom Gert vertel.

Ja, Leipoldt is iemand, wat in sy siel voel en wat "uit pure verstrooiing" genoodsaak word om te sing; en vir my altans het sy sang geweldig bekoor.

Ek heet die gedigte hartelik welkom, en hoop, dit sal 'n weerklank vind by menige Afrikaner, wat nie alleen 'n oog het vir die skoonhede van die natuurlewe en 'n oor vir die klanke van ons eie taal nie, maar ook 'n hart vir die lyde van 'n digter, wat meevoel met sy volk.

JOHANNES J. SMITH.

Londen, Oktober 1911.
Stellenbosch, Oktober 1916.

FOOTNOTES:

[1] "Nederlands" word in hierdie Inleiding altyd gebruik in sy wye betekenis, en sluit in: Hollands (die taal van die Hollanders), Vlaams (die taal van die Vlaminge) en Afrikaans (die taal van die Afrikaners). Hollands en Afrikaans is twee standaarde of vorme van dieselfde Nederlandse taal.

[2] Ook Vlaams kan as 'n aparte standaard van die Nederlandse taal beskou word; maar die verskil tussen Hollands en Vlaams is nie so groot as die tussen Hollands en Afrikaans nie. Daar is ook al 'n Indies-Nederlands, wat veral in woordeskat heel wat afwyk van Hollands-Nederlands.

[3] So is Engels oorspronklik niks anders as die dialek van Londen, Hollands die dialek van Suidholland, Frans die dialek van Parys, ens.

Afrikaans is reeds dikwels by een of ander van die vele Nederlandse dialekte vergelyk; maar sulke vergelykinge lewer geen afdoende bewys nie, want uit 'n blote taaloogpunt beskou, is Hollands ook maar 'n dialek van Duits, en Portugees 'n dialek van Spaans.

Die taal van 'n afsonderlike volk en van 'n uitgestrekte wêrelddeel is nie dieselfde nie, as die taal van die inwoners, dikwels alleen van die laagste inwoners, van een of ander stad of streek, wat maar 'n kleine onderafdeling vorm van 'n groter geheel; en Suidafrika staan in 'n heel ander verhouding tot Nederland, as, sê, Rotterdam of Zeeland.

[4] In 1916 is dit waarskynlik nie meer waar nie. Afrikaans geniet nou al aansienlike erkenning in die laer onderwys, in enkele kerkgenootskappe, in die dagbladpers en op publieke platforms. En Jong Suidafrika is byna as één man ten gunste van Afrikaans.


GEDIGTE.


Oom Gert vertel.

Ja, neef, wat kan ek oumens, jou vertel?
Jy wil die storie van ons sterfte hoor?
Nou goed!
Dis nooit te laat nie om daarvan
Te leer en van gebruik te maak, veral
Vir julle, jongling-mense. Hou maar vas
Aan wat ons het, en staan orent, en neem
Jul aandeel aan ons nasie!
Maar jy kom
Verkeerd by my; daar 's menige beter man,
Wat jou die storie goed agtermekaar,
En met 'n les daarby, en meer begrip
Van al die politiek ook, kan vertel
As ek: ek weet maar uit my eie siel,
En kan maar grawe uit my eie hart,
En dit is baie oud en amper dood—
My hart, meen ek—en waarlik, as jyself
Soveel het deurgemaak, soveel gely,
Soveel geworstel, en soveel gesien,
Van wat jy liewers nooit nie het gesien,
Dan was jou hart ook nie meer sonder kraak.
Maar kom—wat kan ek nou vir jou vertel?
'n Lang geskiednis is dit! Treurig ook,
Want daar gaan snikke en trane deur, ou neef!
Wil jy dit aanhoor? Goed!
Maar sit, man, sit!
Ek kan jou nie vertel nie, as jy staan.
Sit daar. (En, Gerrie, gee hom wat te drink,
En pa kan ook 'n slukkie koffie sluk.)
Nou ja, jy weet, neef, toe ons mense hier
Almal beteuterd deur die oorlog was,
Het kakies op kommando hier ons dorp
Beset, en Martjie Louw geproklameer.
Ou Smith, die magistraat—hy was 'n man
Vir wie ek eerbied voel, al is hy Engels:
Hy was tog altyd nog 'n jentelman,
En het met onse mense akkordeer;
Maar hulle het hom soetjies afgesit
En na Oos-Londen toe gestuur, omdat
Hy nie na hulle pype vlot wou dans,
En in sy plaas 'n kolnel aangestel;
Sy naam—nou Gerrie, wat was ook sy naam?
Jones? Nee, kind, dit was maar sy offisier—
Jy weet, die aap met strepies op sy mou—
Ek het dit! Wilson was die vent se naam:
'n Dik, vet kêrel, met 'n grysgeel snor,
En lang slagtande, en rooi in die gesig;
Die mense sê, hy suip; maar ek het nooit
Hom dronk gesien; en wil ook nou nie meer
Agter sy rug die man beskinder nie,
Al was hy ook 'n deugniet—dit maak niks!
Hy het ons onderdruk; sy hand was hard:
Geen lig mag in die kamers brand; geen mens
Mag buite op die straat gaan na agtuur;
Orals het hy op ons spioen, en selfs
Ons huise deurgesnuffel om te sien,
Of ons miskien nie wapens het of kruit,
Patrone, doppies of so iets; hy dag,
Ons het 'n heelboel kos byeengegaar
Om vir die Boerkommando's af te gee.
Ja, neef, sy hand was hard! (Hartlam, gee weer
Die suikerpot; twee klontjies is te min;
Jy weet, pa drink sy koffie soet.)
En ons
Was deur die war daarmee, half uit ons vel;
En niemand van ons mense het geweet,
Wat môre of oormôre vir ons wag.
Die dorp was vol gebrom, net soos 'n deeg,
Waardeur jy goed die suurdeeg het geknee—
Jy weet, hoe rys die ding: nou net so ook
Met onse mense! Maar wat kon ons maak?
Die jongmense veral was baie steeks—
Ons kon hul byna nie in toom meer hou—
En twee van hul het sieto omgespring.
(Hartlam, neef Klaas se koppie is weer leeg.)
Een aand kom Bennie Bêrends na my toe,
En met hom Johnnie Hendriks, Saarl se seun.
Hul het die straat so stiltjies oorgespring:
Die skildwag het hul nooit nie eers bespeur—
Anders het ek en Saarl daarvan moet hoor,
En op die koop 'n boete nog betaal!
Ou Saarl was altyd maats met my gewees,
Maar hy het in dieselfde maand gesterwe
Van kanker in die maag—die Heer se hand!
So het hy nie die dag oorleef. Maar kom,
Ek gaan te vinnig met die saak vooruit.
Hier op my stoel het ek gesit, en daar
Waar jy nou sit, het Bennie ook gesit.
En Johnnie vlak naas hom. Ek sien hom nog,
'n Opgeskote kêreltjie, nog nie
Heel droog agter die ore was hy toe,
Nogal astrant en sniprig met sy mond,
Dié jaar nog aangeneem. (Gerrie, my kind,
Haal tog die album.)—Hier is sy portret,
En hier is Bennie syne; daar is die reël,
Wat sy oorlede ma geskrywe het,
Die dag na—na—sy dood. Jy kan dit lees;
My bril die pas nie mooi, en in die rook
Kan ek so goed nie sien nie. Lees maar voor.
"Barend Gerhardus Barends,"—Reg! en nou?
"Geboren op den zesden Mei,"—Ja reg!
"Ge...."—Maak die boek maar toe: ek weet dit al!
(Hartlam, kom neem dit weg. Wat staan jy daar
Beteuterd as 'n kat? Kom, skink weer in:
Ons het mos melk genoeg en suiker ook,
En Martjie Louw is nou nie in die dorp!)
Ja, Bennie was 'n egte witmenskind!
My peetseun—en, ofskoon ekself dit sê,
'n Regte mooi soort vroumens-kêreltjie,
So paal-orent en met 'n kaal gesig:
'n Skeermes het hy glo nog nie gebruik.
(Hartlam, gaan kyk, of Leentjie al die hout
In die kombuis gebring het.)
Ja, ou neef,
Hy het vir Gerrie hier gevry; en ek
Was ook nie teen die saak, want Bennie was
'n Uitgesnyde jongetjie vir haar.
Jy sien, sy is nog nie goed oor die bult;
Maar ons moet almal oor die drimpel klim,
Al is dit ook so swaar, ons hart moet breek!
En hartlam sal ook met ons Liewen-Heer
Se seën daaroor stap, en haar smart vergeet,
Al gaan dit moeilik—maar dit moet tog gaan!
Maar as ons oor hom praat, dan pas dit tog,
Dat ons haar eers die kamer uit sal stuur.
Nou goed! waar was ek?
Ja, die aand, toe hul
By my kom raad vra. Bennie had 'n plan:
Hy wou met Johnnie weg na Witkransspruit—
Dáár, so het hul verneem, was Smuts gelaer
Met sy kommando.
Ek was amper flou
Om dit te hoor. Ek het vir hul vermaan—
Maar nee!
Ag, neef, 'n jongmens is tog steeks!
En Ben was altyd koppig: selfs as kind
Het hy daar baie keer om sla gekry!
En hul was vas beslote om te gaan.
Ek het twee perde toe by my gehad—
Die kakies het dit nog nie afgeneem—
Ek weet nie waarom nie, maar ek kan sweer,
My skuld was dit nie, dat die diere nog
Daar in die tuin gestaan het, maar hul het!
Nonnie—my vrou en Gerrie haar ma: sy het
Dieselfde jaar gesterwe in Goudini,
Van hartkwaal, want die oorlog het haar ook
Gebreek in siel en liggaam—Nonnie ook
Het meegewaarsku, maar dit was vergeefs!
"Ons kan dit nie hier uithou nie, Oom Gert,
'n Mens moet tog iets vir sy nasie doen."
"Doen! doen! iets doen! ag, wat kan julle doen?
Wat kan ons algar doen?"
Maar tevergeefs.
Nonnie het toe my knapsak volgeprop
Met biltong en beskuit; en ek het self
Die saalsakkies met hardgekookte eiers
En ander padkos volgelaai, want hy
Was tog my peetseun, en dan Johnnie ook
Neef Saarl se seun—en Saarl en ek was maats!
So kan geen mens my dit tog kwalik neem,
Al was ek ook 'n Britse onderdaan:
Kan ek my eie vlees en been sien ly,
As ek nog kos het? Nee, neef, ek hou vas:
En my gewete het my nooit gekwel!
So, kort en goed, die twee is weg en hoor,
Die môre was die heel gespuis om my!
Die kolnel, as 'n brommer, gons en gons
En vloek en maak lawaai—maar ek staan pal.
Ek kon mos nie gehelp het, dat die perde
Nog in die tuin gestaan het, en ek sê,
Dat dit sy skuld was, en nie myne nie;
Maar van die biltong en beskuit en eiers
Het ek hom toe maar liewers niks gesê.
Hoe ons die maande deurgelewe het?
Neef, vra my nie! Die tyd is as 'n wolk,
Wat oor ons hang, en nie maar oor ons dorp,
Maar oor ons land, die hele nasie oor!
Op een dag kom die nuus.... (Wag, hier 's sy weer.—
Ag, hartlam, ja die hoenders van die stoep.
Kyk daardie haan; hy krap die blomme uit!)
Nou, eendag kom die nuus—ja, wat 'n skrik!
Johnnie en Ben was albei vas gevang
En in die tronk gestop. 'n Krygsgerig—
Jy weet die res! En daarop weer 'n slag:
Die vonnis was—hul al twee word gehang!
Ons Liewen-Heertjie weet, dit was 'n slag!
Ons het ons bes gedoen, maar tevergeefs;
Die vuilgoed skreeu om wraak—en hul moet hang!
Dié môre kom die hoofkonstabel sê:
"Die kolnel stuur sy komplimente!"—God!
Sy komplimente,—hoor! het jy verstaan?
Verstaan jy, neef?—sy komplimente!
Nee!
Bedaar, bedaar, my hart al kraak jy ook:
Ons moet die drimpel oor, al breek ons dood!
En "Asseblief, wil ek op môre kom
En sien, hoe 'n rebel word getrakteer,
Anders...." Die hoofkonstabel was 'n man;
Hy het hom nie op sy gemak gevoel,
Toe hy die boodskap aan my het kom bring;
En ook die kakies, moet ek sê, was goed,—
Maar hul moes tog hul plig doen. Ek was bly,
Dat hul dit nie astrant gedoen het nie.
Die hoofkonstabel—Nichols was sy naam:
Hy 't later in die Vrystaat lood geëet
En dit nie goed verteer nie—sê vir my,
Die anders het ook so 'n bevel gekry,
En daar sou meer van ons die—nou jy weet!—
Daar in die tronk aanskou. Hy waarsku my,
Ek moet maar kom, al gaan dit bo my keel.
Dié nag het ek en Nonnie nie geslaap.
Ja, ek onthou nog goed! Die dag was koel—
'n Mens vergeet mos so 'n dag nie gou!—
Met net 'n bietjie oostewind, half koud,
Want Nonnie het daar sinkings van gekry:
Sy het aan sinkings veel gely, en kon
Nooit koue goed verdra nie. Soos ek sê,
Die dag was koel, en daarom was my jas
Dig toegeknoop—jy weet, ek hou daarvan
My onderbaadjie te laat spog: vir wat
Dra 'n mens 'n onderbaadjie, as geen mens
Dit sien nie?—Maar die weer was regtig fris.
En daarom was my baadjie toegeknoop.
En by die draai, daar onder by die meul,
Het ek die anders almal vroeg ontmoet,
Want, soos ek sê, ons algar was geroep.
Die predikant was daar, en Albert Louw—
Jy ken tog Skeeloog-Louw, neef Klaas? Nou ja!
En Michiel Nel, en Gys van Zyl, en Piet—
Maar Piet sal jy jou nie herinner nie,
Want hy was voor jou tyd; hy was 'n vent
So sterk as Simson: arrie, hy was sterk!
En net so steeks as 'n skerpioen was hy!
Maar koddig, neef, en ook 'n grappiesmaker,
Selfs as die wolke donker was, en dof
Die donder deur die wolke dreun. Nou ja,
Ons algar het ons foute, en ek wil
Dit nie vir Piet Spanspek so kwalik neem,
Dat hy nog altyd grappies het gemaak,
Toe al ons anders mislik was en naar.
"Die wind skeef glad, neef Gert," het hy gesê,
"Jy moet vir Ben jou oorjas leen: miskien
Kry hy swaar weer daar boontoe!" En hy lag!
Maar ek was bly, die predikant was daar:
Eerwaarde het hom op die plek berispe
En mooi die kop gewas.
"Is dit 'n tyd
Vir pret, meneer Van Ryn?" het hy gevra.
"Foei, foei! hoe kan u so iets waag vandag,
As onse harte vol is, en ons oë
Nog donkerdof met trane vir ons land?"
(Hartlam, jaag tog die hoenders uit: hul maak
Die werf so vuil; ons kan ons selwers help.)
Maar Piet Spanspek was nooit nie op sy mond
Geval nie, en hy het ook voortgegaan
Met grappies maak, ofskoon ons niks van hom
Gehoor het en ook nie geluister het.
Ek dink, hy was so mislik as ekself,
Maar wou nie, dat dit opgemerk sou worde.
Ons het die voorplein van die tronk betree,
En dit was vol met kakies. By die poort
Het hul ons twee by twee laat binnekom.
Daar in die agterplaas, daar staan die galg,
En naas hom Ben en Johnnie, hand aan hand,
Want hul was nie geketting; en ons het
Verlof gekry om met hul te gaan praat,
Maar net vir vyf minute.
Ek was stom,
Geheel verbouereerd en sonder tong;
Maar Bennie het my by die hand gevat.
"Oom Gert, dis kant en klaar! Goeiendag, Oom Gert!
Sê vir Tant Nonnie en vir Gerrie—nee,
Sê liewers niks, want hulle sal verstaan."
En Johnnie, met 'n glimlag om sy mond,
Het ook my hand geskud. "Dag, Oom." sê hy.
"Nee, Oompie, moenie grens nie!"—Soos ek sê,
Was Johnnie altyd half astrant gewees,
En sniprig ook.—"Nee, Oompie, moenie grens!
Ons het ons plig gedoen, en nou 's dit uit."
Toe het hul met die predikant gepraat;
En ek, as naaste bloedverwant van Ben,
Het met hom na die galg gegaan en daar....
Nee neef, dis maar die rook! Ek word al oud,
En jou tabak is al te sterk vir my.
Ekself rook swak tabak: jy weet, dit maak
My oë nie so seer.
Nou waar was ek?
Ja, toe het ons hul almal handgegee.
Geeneen van ons kon praat nie; Piet was stom
En net so naar as ek, en een van ons—
Ek weet nie, wie dit was—het hard gesnik.
Die kakies het oor Bennie se gesig
'n Sakdoek, of 'n kopdoekie of iets
Net soos 'n mus wil trek, maar Bennie vra—
En nog op Engels ook: hy kon dit praat—,
Of hulle hom nie sonder dit kon hang.
Die kolnel knik; en toe....
Nee, neef, laat staan!
Wat vat jy weer my hand? Laat bly my hand!
Vervlaks, hoe kan ek nou vir jou vertel,
As jy my somaar afbring van my rym?
Blaas net jou rook uit na die ander kant:
My oë is te oud vir jou tabak!
(En, hartlam, haal vir pa 'n sakdoek.)
Nou,
Daar is nie meer. Ons het weer tuisgekom,
En in die kamer hier het ons gekniel;
'n Korte bidstond het die predikant
Gehou vir ons—en daarna was dit uit.
Dié aand nog het neef Piet en Skeeloog-Louw
Die dorp uit na die naaste plaas getrek
En hulle by ons mense aangesluit.
(Hartlam, gee weer vir pa die suikerpot,
En skink dan nog 'n koppie vir neef Klaas.)

Oktobermaand.

Viooltjies in die voorhuis,
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!
Dit is die maand Oktober,
die mooiste, mooiste maand:
Dan is die dag so helder,
so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
die asvaal ou Karoo.
Dit is die maand Oktober:
die varkblom is in bloei;
Oor al die seekoegate
is kafferskuil gegroei;
Die koppies, kort gelede
nog as 'n klip so kaal,
Het nou vir welkomsgroetnis
hul mooiste voorgehaal.
Dit is die maand Oktober:
die akkerboom is groen;
Die bloekoms langs die paaie
is almal nuutgeboen;
En orals in die tuin rond
ruik jy sering en roos,
Jasmyn en katjiepiering,
lemoen en appelkoos.
Al was die dag soos yster,
lank in die vuur gesteek,
Die varings in die klofies
deur hitte geel verbleek,
Tog as die son daaronder
agter die berge gaan,
Dan word oor heel die wêreld
die mooiste geur geslaan.
Dit is die maand Oktober:
die kokewiet is uit;
Boomsingertjies en kriekies
die hoor jy orals fluit;
Fiskaal is op die oorlog:
daaronder by die sluis,
Daar is 'n dor ou doringboom
sy spens en sy kombuis,
Dit is die maand Oktober:
ek dink, die mense vier
Vir ewig in die hemel
Oktobermaand soos hier!
Wat wens jy meer as blomme,
as helder dag en nag?
Wat kan jy beter, mooier,
of heerliker verwag?
Ek is nog in Oktober:
my tuin is nog so groen,
So wit met al wat mooi is,
met bloeisels van lemoen,
So pragtig in die môre.
so heerlik in die aand!
Ek is nog in Oktober,
die mooiste, mooiste maand!
Wat gee ek om die winter?
Wat praat jy nou van Mei?
Wat skeel dit, as ons later
weer donker dae kry?
Ek is nou in Oktober,
die mooiste, mooiste maand,
Met elke dag so helder,
so pragtig elke aand!
Viooltjies in die voorhuis,
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!

Aan 'n ou Boek.

Op die solder, waar die rotte
Hulle neste het gebou,
Waar die vlermuise en motte
Elke aand kommissie hou,
Het ek jou gevinde, ou maat, en jou maters lê daar nou.
Voor ons voorgeslag gebore
Was, het mense jou gelees;
Monnik, ridder, lang tevore,
Was met jou al maats gewees,
En hul het hul siek gelag oor al jou vuur en al jou gees.
Baie jare al gelede
Lê jy op die solder daar,
Rustig in jou rus, tevrede
Met jou lot, van jaar tot jaar.
Ou maat, waarom het die rotte vir ons al jou gees gespaar?

In Amsterdam.

As ek vanaand so moedersiel
Alleen hier by die vuurherd sit,
Dan borrel my geheue op,
En maak my hart en siel uit lid;
Dan dink ek aan die veld, en aan
Die doringbome by die krans,
Waar koggelmannetjies die son
Hou vir 'n maat om mee te dans;
En aan die duine, waar die wind
'n Wierook na die see toe waai,
En aan die dam, waaroor die voëls
So vrolik in die nessies swaai;
En aan die seekoegate, waar
Die kafferskuil en ruigte groei—
'n Donker groen die water oor,
'n Tuin, wat nooit nie word gesnoei;
En aan die koppies, waar die son
Ons Afrikaanse klippe soen.
En aan ons ou Karoo, so mooi
In al sy geil Oktober-groen!
En hier—hier waai die wind, en raas
Die strate om my; karre dreun;
Die trein daarbuite fluit en rook:
Dis orals galm, en gons, en steun!
Dis alles oud, so aaklig oud,
Die wye wêreld om my heen!
Aghonderd jare praat met my—
En tog—ek gril en voel alleen!
Ons kom van hier; ons wieg was hier,
Of verder, in die suiderland—
Hier, waar die Watergeuse was,
Hier, waar die strate is half strand.
Ou Amsterdam, ou Amsterdam,
Met al jou pronk, met al jou prag,
Met al jou smeerge strate ook,
Jy het nog oor my siel gesag!
Ek voel, as ek hier moedersiel
Alleen so by die vuurherd sit,
Wat jy nog vir ons nasie is—
En kyk, my hart kom weer in lid!
Ons nasie? ag, die mense praat:
Daar lê iets groots in woorde! Wat
Gee ons die reg om groot te wees,
Om saam te loop op so 'n pad?
Vir tagtig jare het hul hier
Gestruikel in die duister rond,
Die dyke oopgebreek, die see
Gemaak tot bobaas van die grond,
Die land gedoop met vuur en bloed,
Die klei vir elke huis deurwerk
Met trane: so 'n stad sal staan
Vir ewig—want die klei is sterk.
En elke duim van hierdie land
Is duur gekoop met suur en smart;
En elke morge is betaal
Met stukkies van 'n mensehart:
Dit gee hul reg om trots te wees,
Dit gee hul reg om nou te pronk,
Al is dit lank gelede al,
Al is die see weer in sy tronk.
En ons? ons wil 'n nasie wees!
Ook agter ons lê vuur en bloed;
Ook ons het vir ons land gestort
'n See van trane: ja, dis goed!
Maar verder—wat? 'n Nasie word
Nie somaar as die koring groot:
Dit moet deur werk, deur vlyt, deur smart,
Deur lewe ook word voortgestoot.
En as ek by die vuurherd sit
En in die vlamme kyk, dan voel
Ek in my siel, daar skort nog iets—
Nog iets? nog iets?—'n hele boel!
Daarbuite spook die wind weer hard;
Die vensters skudde: wat 'n nag!
Ou Amsterdam, ou Amsterdam,
Jy het nog oor my siel gesag!

In die Boesmanland.

Vaal rotse rondom, met vaal sand en klei,
En boesmangras en varings, geel en groen—
Wat 'n mooi wêreld hierdie! mooi geboen
Deur die Natuur, en mooi ook deurgebrei
Met bossies en met blomme! Dis vir my,
Asof die son die wêreld self wil soen,
En ook die sterre daaraan mee wil doen
By nagtyd, as die veld sy sluier kry:
Hier was my tuiste in my woeste jaar,
Toe ek nog kind was, sonder pyn of vrees,
Want ou Paaiboelie self was toe te klein!
Al die rooi klippies het ek ingegaar,
En al die varings was vir my gewees
Maters, wat elke somer het verdwyn.

Op die Kerkhof.

Eergister het ek na die plek gegaan,
Daar waar die aalwyn en die varkblom bloei,
Daar waar die doringboom nooit word gesnoei;
Waar elke leiklip as 'n grafsteen staan.
Dit was al laat, en om my het die maan
'n Silwerlig versprei, soos, as jy roei,
Die lang, blink sterre in die water groei.
Die kerkklok het strak agter my geslaan,
Ses, sewe, ag en neënuur, en nou
Was alles weer heel stil. Ek dag, ek hoor
Die aandgebed van elke mug en mot,
Wat in die maanlig kom vergaadring hou:
Hul sing en maak gegons, net soos 'n koor,
As lofsang aan 'n onbekende God.
As ek nou eenmaal sterwe, as ek is
'n Lyk, waarin geen asem en geen krag,
Met hande sonder voelte, sonder mag,
En met 'n oog, wat al sy glinstring mis—
As ek so lê, en self niks kan beslis,
Moet julle my nie uit die helder dag
Wegslinger in 'n eindelose nag,
Wat niks as my verwording vergewis;
Want ek wil nie tot duister kerkers keer,
Die noue graf vir ewig om my voel!
Verbrand my liewers, dat ek boontoe rys,
In vuur en vlam kan opklim tot die Heer,
Deur al die wêreld se rumoer en woel,
Tot oor die drimpel van die Paradys.

In ou Booi se Pondok.

Outa Booi, die wind speel dapper,
en dis bitter, bitter koud;
Kyk, daarbuite spoel die bliksem
al die wolke geel met goud;
En jy bibber in jou bene,
want jy is al baie oud.
Is daar plek, hier by jou vuurherd,
waar 'n Kristenmens kan sit?
Gooi nog hout daar op die kole,
want jou as is amper wit:
En die kou die gee jou sinkings,
en dit trek jou been uit lid.
So! nou is ons lekker warm hier,
Gee 'n kommetjie vir my
Vol met koffie uit die kan daar,
outa, aan jou regtersy:
Ek hou baie van goei koffie—
as ek dit maar nog kan kry.
Kom, vertel my uit die verte,
toe jy nog 'n slafie was,
Toe die oubaas jou verkoop het
vir twee perde en 'n kas—
Net soos jy nou self aan oubaas,
vir sy looi, jou sakkie bas.
Was die mense toe so vroom al,
as die mense is vandag?
Het die boere toe die swartvolk,
soos 'n boerplaas maar verpag?
Het ons toe, soos nou, oor alles,
wat belangryk is, gelag?
Was dit lekker in die dae?
Was dit beter in die tyd?
Was die ounooi regtig ounooi
vir haar jong en vir haar meid?
En die oubaas regtig oubaas?
Was die wêreld al so wyd?
In die Kaap, daar lê 'n ketting—
ja, dis oud, maar dis nog heel—
In 'n kamer, swart en donker,
van die aaklig ou Kasteel,
Met 'n ring, wat vasgemaak was
eertyds om 'n slaaf se keel.
Daar's 'n kats daar, en die plek nog,
waar die galg gestaan het: ja,
Onse ouers het geweet, hoe
om te martel en te pla,
Maar miskien ook baie beter,
hoe om pyn en smart te dra.
Daar was reuse in die dae—
ook al was die wêreld vaal,
En al het ook daar die duiwel
in die donker rondgedwaal,
En so baie van die harte
met sy nukkies opgesaal.
Daar was liefde toe, kennis—
skoon ons nou daarmee so spot—
Elke man was groot genoeg toe
vir sy eie siel en lot,
En ek glo nie, as 'n nasie
was ons mense toe so vrot!
Ja, ek weet ons het gely toe—
daar is altyd rou en pyn!
Laat jou grootste vat maar ope,
met jou beste, soetste wyn:
Proe dit oor 'n maand, en waarlik,
dit is amper nes asyn!
Kom daar ooit 'n kind ter wêreld,
groei hy op en word hy droog,
Sonder dat hy ooit sy trane
het moet wegveeg uit sy oog?
Ja, jy maak ook nie rosyntjies,
wat sal goed bly sonder loog.
As 'n mens met vuur en vlamme
tot sy gorrel volgeprop,
Met 'n hoop op seker uitkoms,
waar sy hart van helder klop,
By die vuurherd sit te luister,
op wat omgaan in sy kop,
Sonder bang te worde, sonder
op sy hoop te struikel—staan
Penorent, kordaat en wakker,
as die wêreld ook vergaan,
En die son word donker, duister,
en nog donkerder die maan—
As 'n mens met ideale
elke keer sy ideaal
Sien verbygaan voor sy oë,
nes 'n ster, wat skiet en straal
Vir 'n oomblik in die hemel
en dan in die see verdwaal,
Sonder vrees, vir wat sal worde,
as die nag nog langer duur,
As die wind nog kouer warrel,
en die naglug trek so guur,
As die lewe skyn so bitter,
en die toekoms lyk so suur,
Sien hy nooit nie in die vuurherd,
wat is groot en wat is klein—
Nooit tevrede met die toekoms,
nooit versadig met die wyn,
Want die suiker is te suinig,
en die drank smaak soos asyn.
Tog—daar is 'n toekoms altyd:
waar vandag is opgeslaan,
Daar op Golgotha, die kruise,
sal die mense môre staan
Rond die heiligdom van helde,
wat alléén is voorgegaan.
Waar ons nou net bitter trane,
klagte, sugte, smart gewaar—
Waar die koringvelde kaal staan,
en die droogte druk so swaar,
Wys die toekoms diamante
en die koring in die aar.
Jy was ketter nog eergister,
en vanmôre is jy vroom!—
Laat vanaand se melk maar stil staan,
môre kry jy tog die room!
Slaap gerus maar, slaap gerus maar,
ja, hoe swaar ook is jou droom!
Jy was sondaar in jou sede—
elke woord het jou gekwets:
Vir die een was jy te nuut al,
vir die ander ouderwets!
Op jou siel is al jou smarte
met jou lewenssuur geëts.
Jy was vyand vir jou vrinde:
elke kêrel op die straat
Het 'n broederlik berisping
op jou wandel afgepraat.
En die aakligste van almal,
en die kwaaiste was—jou maat!
Ja, jou vader was 'n Boesman:
en die volkies is nie mooi,
Met 'n agterste, wat uitloop
as 'n afgesakte kooi;
En jyself is nie te ekstra
as 'n spoghings, outa Booi!
Het hy ook 'n hart besit toe
soos 'n witmens, en 'n stem?
Was dit koddig, as hy sanik
soos 'n strandmol in die klem,
Of 'n wawiel op die hoogte,
wat geskraap word deur die rem?
Hy was mens—miskien 'n reus ook,
want 'n siel is nie so klein
As 'n vlees-en-bene liggaam,
ook al is dit nog so fyn:
Ag, 'n liggaam dra maar laste,
en 'n siel die dra mos pyn!
Wat is van jou pa geworde?
As hy reus was, is hy nog;
As hy dwergie was—soos ons nou—
ja, dan was hy maar 'n bog.
Hy was Boesman, skelm en deugniet—
ja, maar mens dit was hy tog!
Maar wat lol ons met die Boesmans,
wat tog almal heidens was?
Hulle moet vir hulle toekoms
selwers maar het opgepas.
Is dit onse skuld, die volkies
is vergaan soos droë gras?
Vra jouselwe, as jy moeg word,
en die wêreld is so stil,
Wat jou lot is, wat jou toekoms:
is dit God die Heer se wil,
Dat 'n nasie uit sal sterwe,
of maar die Natuur se gril?
Weet jy seker, wat beslis is?
of daar ooit beslissing is?
Wie vertel jou, as jy raak skiet?
Wie vermaan jou, as jy mis?
Sal jy alles weet, of niks nie,
as jy lyk is in 'n kis?
Arrie, outa, dit word koud hier,
en jou stories maak my vaak.
Jou goei koffie is verbrand, glo,
want dit het 'n bitter smaak.
Dit word tyd dat ons goeien-nag sê,
eer jy van jou draad afraak.
Kleiner, kleiner, en nog kleiner—
dis verdrietig, maar dis waar—
Word ons as die jare omgaan;
en ons het maar nog een snaar,
Om ons deuntjie op te speel, en
ag, die een is amper klaar!
Maak die deur maar toe, en sê maar,
soos ek sê vir jou, goeien-nag!
Gaan maar slaap nou, net soos ek ook,
outa! Slaap, en droom, en wag
Tot die skemer in die ooste
sê, dis weer 'n nuwe dag.

Die Verkleurmannetjie.