Daar op die vyboom sit die vabond,
So sedig as 'n predikant;
Maar glo tog nie, dat hy so vroom is:
Nee, regtig nie, hy is astrant!
As jy hom aanraak, dan verkleur hy,
Geel, rooi, grys, bruin, en blou en groen;
En al sy vel blink soos die skulpies
Se binnekant met perlemoen.
So teemrig sit hy op sy takkie
Die muggies met sy tong te vang.
En met sy ronde oë maak hy
Die spinnekoppe algar bang.
Hy draai sy nek soos 'n toktokkie,
Of soos 'n papie uit die klei,
En kyk so sedig na die vliegies,
As hy die goed nie beet kan kry.
Arrie, ek hou van jou, kleurklasie!
Jy gaan jou lewe deur so mooi;
jy steur jou nie, aan wat die mense
So praat of skinder en flikflooi.
Jy steun op niemand nie, kleurklasie,
Net op jou takkie en jou tong:
Verkleur maar môre net soos gister;
En as jy oud word, bly nog jong!
'n Nuwe Liedjie op 'n ou Deuntjie.
Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Vou jou handjies same
En sê ame,
Mame se kindjie, Siembamba!
Lokasieliedjie.
Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Vou maar jou handjies saam, my kind:
Hoor tog hoe huil die noordewind!
Hier in die kamp is alles stil,
Net maar die wind waai, soos hy wil;
Net maar jyself kan kreun en steun:
Niemand sal hoor nie, niemand, seun!
Almal is besig! Oor die land.
Drywe 'n wolk van die noordekant—
Swart as die rook uit die skoorsteen puil,
Swart as die nag, en as roet so vuil:
Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies en sê ame!
Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Jy, wat die hoop van ons nasie is;
Jy, wat ons volk so min kan mis;
Jy, wat moet opgroei tot 'n man;
Jy, wat moet plig doen, as jy kan:
Jy, wat geen deel aan die oorlog het;
Jy, wat moet sing uit pure pret—
Jy moet verkwyn in 'n kinderkamp,
Jy moet vir vrede word uitgestamp:
Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies en sê ame!
Siembamba, Siembamba,
Mame se kindjie, Siembamba!
Kinkhoes en tering, sonder melk:
Bitter vir jou is die lewenskelk!
Daar is jou plek, by die graffies daar—
Twee in een kissie, 'n bruilofspaar!
Alles vir ons, wat die oorlog hou,
Alles vir ons, en niks vir jou:
Jy het van ons jou plig geërwe—
Plig om as kind vir ons land te sterwe!
Al, wat jy wen, is dat ons onthou:
Meer was die vryheid as kind of vrou!
Vou maar jou handjies dig tesame,
Sluit maar jou ogies, en sê—ame!
Die Sterretjie.
Fonkel, sterretjie, fonkel,
Hoog in die lug so blou!
Kort is die dag, en lang is die nag;
Dood is jou skyn, eer die son jou verwag:
Snel sal jou glans in die môre verflou:
Fonkel, sterretjie, fonkel!
Fonkel, sterretjie, fonkel,
Hoog in die lug so hoog!
Engele daar kan jy byna gewaar,
Onder die wolke die hemelse skaar,
Elk met jou silwerwit skit'rende oog:
Fonkel, sterretjie, fonkel!
Fonkel, sterretjie, fonkel!
Lag in die lug daar bo!
Hier is dit sleg, want die dag is mos weg,
Oor al die veld het die nag hom geheg,
Tot as jy skyn—ja, dan kan 'n mens glo:
Fonkel, sterretjie, fonkel!
Fonkel, sterretjie, fonkel,
Bo in die lug so blou!
Kort is die nag, en lang is die dag,
Hier, waar ons lewe en pligte verwag,
Lig van die son, maar tog swart van die rou:
Fonkel, sterretjie, fonkel!
Aan my ou Vrind.
Jy is al tagtig, en jou kop is wit—
Wit soos die sneeu, en witter as 'n wolk
Daar bo ons in die bloute van die lug.
Jy is al tagtig, styf in elke lid—
Maar nog vir my, en altyd vir ons volk,
Van wat voorheen was, wat sal kom, 'n tolk,
Wat goed sy taal verstaan en praat kan sonder sug.
Jou oog is flink nog, en jou hand is vas:
Jy kan 'n jongmens nog as leier dien
Oor al die paaie, wat jy het deurkruis;
Jy kan nog help met elke sware las—
Jy, wat so veel gehoor het en gesien
Van agtien-dertig tot aan neëntien-tien,
So lang geswerwe het—so na nou aan jou huis!
Nooit is jou hande swak vir goeie werk,
Nooit dof jou oog—al dink jy aan die tyd,
Die tagtig jare van jou lewensbaan.
Soms was jy swak miskien; soms was jy sterk;
Soms was jou hart gekwel deur haat en nyd;
Soms het jy pyn gehad, miskien ook spyt,
En soms as lewensprys jou fooi betaal—'n traan.
Die tagtig jare was nie almal goud,
Selfs silwer nie! Die weer was somtyds swaar;
Met wolke swart, met blits die hemel ryk;
Na elke somer kom die winter koud!
Nie altyd nie het jy die son gewaar,
Die goud sien blink as vonke in 'n aar;
Nie altyd het jou pad die vlakte deurgestryk.
Vir tagtig jare het jy volgehou,
En hou nog vol—al bewe ook jou hande,
Al moet jy om te lees jou bril gebruik.
Nog is jou stem nie afgedaan en flou,
Nog is jou gees nie ingeklem in bande:
jou tagtig jare is nog nie 'n skande,
Waarvoor jou grys ou kop in rou hoef weg te duik.
Jy kyk getroos jou tagtig jare trug,
Op al jou lang, lang lewe op land en see—
Jou loopbaan so met ondervinding ryk—
En praat daaroor nog sonder traan of sug:
Die hele reis daar het jy vrede mee.
Ekself sou baie graag my beste gee,
As ek eenmaal soos jy getroos terug kan kyk!
In die Konsentrasiekamp.
(Aliwal Noord, 1901)
O, pazienza, pazienza che tanto sostieni!
Dante.
Jou oë is nat met die trane van gister;
Jou siel is gemartel, deur smarte gepla;
Van vrede en pret was jy vroeër 'n verkwister;
En nou, wat bly oor van jou rykdomme? Ja,
'n Spreekwoord tot steun—daar's geen trooswoord beslister:
"Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!
Hier sit jy te koes teen die wind, wat daar suie
Yskoud deur die tentseil, geskeur deur die hael—
Jou enigste skuil in die nag teen die buie;
Die Junielug stort oor die stroom van die Vaal—
Jy hoor net die hoes van jou kind, en die luie
Gedrup van die reendruppeltjies oor die paal.
'n Kers, nog maar anderhalf duim, voor hy sterwe,
Brand dof in 'n bottel hier vlak naas jou bed.
('n Kafhuis gee makliker rus: op die gerwe
Daar lê 'n mens sag, en sy slaap is gered!)
En hier in die nag laat jou drome jou swerwe
'n Aaklige rondte met trane besmet.
Hier struikel die kind, wat te vroeg was gebore;
Hier sterwe die oumens, te swak vir die stryd;
Hier kom 'n gekerm en gekreun in jou ore;
Hier tel jy met angs elke tik van die tyd;
Want elke sekond van die smart laat sy spore
Gedruk op jou hart, deur 'n offer gewyd.
En deur elke skeur in die seil kan jy duister
Die wolke bespeur oor die hemel verbrei;
Geen ster skyn as gids; na geen stem kan jy luister—
(Eentonig die hoes van jou kind aan jou sy!)
Wat sag deur die wind in jou ore kom fluister:
"Geduld, o geduld, wat so baie kan ly!
Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?
Die smarte, die angs, het so baie gepla!
Die yster het gloeiend 'n merk vir die eeue
Gebrand op ons volk, en die wond is te na,
Te na aan ons hart en te diep in ons lewe—
"Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!"
Die ou Meul.
Rol, rol, ou wiel, en spat die skuim
Rond om die eende in die sluis!
Die water kom van bo die berg
Om in die meulstroom hier te bruis.
Twee groot pop'liere skadu jou,
Ou wiel; en as die winter kom,
Dan val die blare om jou as
En bewe, as jou speke brom.
Want nimmer het jy lang tyd rus:
Jy werk aldag en maak geraas.
Dof in my ore klink jou stem:
Ek hoor, hoe jy die water blaas.
Dis al 'n jaar of dertig so—
Toe het ek eers jou stem gehoor—
'n Donker Meidag met 'n lug
Half toe, met wolke hoog daaroor;
Die ou pop'liere was nog kaal;
Die winter, ag, was lankal daar,
En op die berge was kapok:
Ja, dit was bitter koud en naar!
Ek het gekoes, verkluim van kou,
Maar jy het altyddeur gesing,
En al die ys daar in die sluis
Het jou nie van jou stuk gebring,
Kleingelowige.
"Nee, regtig, oubaas speel met ons die gek!
'n Ding, wat sonder voete loop op spore,
Met vuur en vlam en vonke in sy bek?
Nog nooit het ek daarvan gehoor tevore!
"'n Ding, wat vol met water word gestop,
Wat mense dra, en perde ook en skape?
Baas het ons swartvolk baiemaal gefop—
Vertel nou maar die storie aan die ape!
"Hoe kom die ding so sonder trekgoed deur,
En sonder leier? Arrie, baas, ek wil nou
Die storie goed uitpluis, want vir ouseur
Is so 'n Bolands grappie maar 'n gril nou!
"Ek glo daar net niks van nie: ja, al sweer
Baas op sy dawie, dis die egte waarheid.
Ons swartgoed word gefop een, twee, drie keer—
Maar nooit nie weer! Ag, oubaas, dis 'n naarheid
"Om sulke dinge vir ou Klaas te sê:
Ek weet mos goed, daar is mos niks van waar nie!
Waar het die ding voorheen so lank gelê?
Of was dit in die outyd nog nie klaar nie?
"'n Ysterperd, vervlaks, sê seur, wat spuit,
En vuur blaas uit sy neus en uit sy ore;
'n Perd, wat harder as 'n snip kan fluit,
En nooit nie flou of steeks is op sy spore;
"Wat agter hom 'n tien stuks karre trek—
Arrie, die perd is bobaas van die pêr'e!
Maar seur, ons swartvolk is nie almal gek,
En baas is neus verby met baas se têre.
"Dis koddig in die Boland—ja, dis waar,
En dit wil ek ook glad nie nou bestry nie:
Die swartgoed self dra onderbroeke daar,
En spog daarmee: arrie, jy wil nie bly nie!
"En my oorlede vader het gesê—
Hy was nog slaaf en hy het nooit gelieg nie—
'n Bolands baas het in 'n bal gelê
Te kyk, of hy nie daarin rond kon vlieg nie:
"Nou ja, ek sien nie in, hoedat 'n bal
Met man en muis so in die lug kan swewe—
Wie dit probeer, is seker gek, en val;
Miskien verloor hy daarby nog sy lewe.
"Maar nooit het ek gehoor van so 'n perd,
Wat rondgalop of draf op ysterspore—
'n Dier, wat nie eers maanhaar het of stert,
En net 'n skoorsteen vir sy mond en ore!
"Foei, oubaas, foei! Baas skeer met ons die gek:
Maar ons word nooit van sulke grappies grys nie!
'n Ysterperd met vonke in sy bek—
Nee, dit maak oubaas nooit vir outa wys nie!"
"Maar hoor, eerwaarde, het ek goed begryp?
Ekskuus, maar ek kan byna dit nie glo nie:
So iets steek mos 'n mens nie in sy pyp
Om uit te rook—ek kom dit nie te bo nie!
"Eerwaarde sê, U het dit self gehoor?
Nou goed! Maar dit is koddig, dat die mense
My nooit daarvan vertel het, of daaroor
Gepraat het, en eerwaarde weet, my wense
"Is altyd nuus te weet; maar ek moet sê,
Eerwaarde se geskiednis neem my asem
Glad weg! 'n Skuit, waarin 'n dorp kan lê,
En wat gedrywe word deur wind en wasem;
"'n Ysterskuit, wat honderd treë lank
En dertig treë breed is—dis 'n wonder!
En as ek hier so stil sit op die bank,
Eerwaarde, kan ek dit nie glo nie sonder
"'n Sterk bewys. Ek sê nie, dat U jok—
Nee, waarlik nie!—maar U het misgereken:
'n Mens spring somtyds rond net soos 'n bok,
En weet nie, wat sy woorde reg beteken.
"Hoe kan die skuit so oor die see gaan seil?
Waar sou dit heen, eerwaarde, as daar storm is?
So somaar weg te vlie, net soos 'n pyl,
Dit kan hy tog nie, as hy so enorm is!
"Ek weet, die ark van Noag was al swaar,
En volgelaai met leeus en olifante—
Dit staat so in die Bybel en is waar—
Miskien met meubels ook soos ledikante?
"Maar nie in Eksodus of Genesis,
Eerwaarde, kan ek van 'n stoomskuit lees nie;
Neem my nie kwalik, maar U het dit mis:
So iets, eerwaarde, is daar nooit gewees nie!"
"Aan spoke? Kêrel is jy mal? Jy weet,
Daar is geen spoke nie: dis 'n versinsel.
Jy het nie daar die regte waarheid beet;
Dit stryk nie met 'n Kristen se beginsel.
"Dié stories is maar laf! Ja, glo dit wel,
Hiernamaals gaan ons almal na die hemel
As salige, of sondaars na die hel:
Hoe kan die lug dan so met spoke wemel?
"En het jy van jou lewe ooit gewaar
'n Spook? Nee, kêrel, en geen mens op aarde!
Die leuens sit so goed nie inmekaar,
En het vir my ook nie die minste waarde."
Nou ja, oom, outa, neef, ek skeer die gek:
Dis amper tyd, dat ek daarmee al klaar is!
Die dinge is mos bo ons vuurmaakplek—
Maar wie kan sê, dat hulle nog nie waar is?
Die ysterperd hol deur die land met stoom;
Die kakies het gekom in ysterskuite;
Die spoke—nou, miskien het ek gedroom,
En huil en brul jou hond vir niks daarbuite!
Mordegai.
Ag, smous, waar gaan jy heen? Waar loop jy, smous?
Waarom so haastig, smousie? Sê vir my!
Jy het nog werk te doen? Ag nee, jy flous;
Jou werk is afgedaan: jy is mos vry.
Die hele dag het jy ons volk besteel;
Op alles tien persent of meer gewin!
Ja, krap jou kop, die waarheid jeuk mos veel,
En is nie altyd na 'n mens se sin.
Wat maak jy, smous? Jy is mos Jood: nou kom,
Jy het jou wet—ek ken nog wat daarvan—
En tog, jy draai Levitikus maar krom,
En Deutronomie pas nie vir jou, man.
Het jy nie gisteraand by ons geëet?
En ons het varkvleeswors gebraai gekou;
En niemand van ons nasie is—jy weet!
Is dit geselskap vir 'n Jood, vir jou?
Leer nie jou wet, jy mag nie woeker nie?
En jy vra tien persent, vir wat jy leen!
'n Skande, smous! Glo jy, dat Moses dié
Verekskuseer? Dié man het jou laat steen!
En sê die wet nie, dat jou klere ook
Van een stoffasie en een kleur moet wees?
En kyk, jou broek en onderbaadjie spook
Nog bonter as 'n mal ou Maketees!
En tog, ou smous, al heet jy Mordegai;
Al eet jy soms, so per abuis, ook sult;
Al is jy ook 'n vent, wat altyd draai,
Wat doodgesteen moet worde op 'n bult,
Waar al die mense jou kan sien, as jy
So rond moet spartel, as die klippe kom—
So sê jou wet, en dis genoeg vir my:
Dis joue, hoor, soveel jy daaroor brom!
Tog hou ek van jou, byna as 'n vrind—
'n Maat miskien, as dit nie sonde is!
Jy het my lekkergoed gegee as kind,
En niks daarvoor gevra—of het ek mis?
Miskien wou jy ook daarmee woeker, hoor!
'n Kind se liefde 's meer as tien persent,
en klontjies goedkoop: waarom dan versmoor
So in 'n sweetdoek jy jou een talent?
Aan 'n Seepkissie.
Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
Om hier in ons land as 'n doodkis te dien;
Hulle het op jou letters geverwe, seepkissie,
En ek het jouselwe as doodkis gesien.
Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Het hier in die kamp met sy sussie gekom—
En jy was bestem, soos jy weet, seepkissie,
Daar oorkant in England, as doodkis vir hom!
Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Was fluks en gesond, vir sy jare nog groot;
Maar hier in die kamp, soos jy weet, seepkissie,
Was hy maar drie weke, en toe—was hy dood!
Onthou jy vir Jannie? Jy weet, seepkissie,
Hy het in sy speletjies met jou gespeel;
Die son het sy krulkop geskilder, seepkissie,
So blink as sy strale, as goud so geel.
Op die Vrydagmôre, onthou jy, kissie?
Het Tannie gesê: "Ag, klein Jannie die hoes!"
En die Vrydagaand, soos jy weet, seepkissie,
Was Jannie se lewe al half verwoes.
Hulle het jou op Saterdagmiddag, seepkissie,
Gedra na sy tent as 'n doodkis daar!
Die wit gesiggie—jy weet, seepkissie,
Die handjies gevou en gekruis oormekaar.
Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
Om hier vir ons kinders as doodkis te dien:
Hulle het vir jou lykies gevinde, seepkissie,
En ek het jouselwe as doodkis gesien.
Die Doringboom.
Kyk, hier is 'n ou kameeldoring, amper kaal;
Sy blaartjies vuil en donkerbruin verbrand;
Sy stam gestrooi met geelgrys stof en sand;
Sy dorings wit as silwer, skerp as staal.
Hier staan hy nog, hoe dor die veld en skraal;
Hou stewig nog teen wind en storm sy stand—
Die oudste doringboom in ons doringboomland,
Wat reeds sy bloeityd tel vir honderdmaal.
Vir jare het hy hier sy goud gestrooi,
Die hele wêreld oor sy geur versprei,
Voor nog 'n witmens hier was of 'n pad;
Vir jare was hy bobaas hier, en mooi
Vol groen en goud: maar nou 's sy tyd verby—
'n Afgeleefde doringboom, droog en glad!
Die Soutpan.
Kaal is die ou sandwêreld hier, en kaal
Die see daarbuite, waar die branders breek:
'n Strand vol klippies en 'n poltjie kweek
Van ruigtegras, nou nie meer groen, maar vaal.
Hier praat die veld 'n onverstaanbre taal;
Hier maak die son die blou soutwater bleek,
Totdat hy saans vermoeid sy kop versteek
Agter die duine, waar sy glans verdwaal.
Hier staan die soutkors sonder vou of plooi,
Glad, silwerwit, en met 'n goudgeel lys
Van modder en klei—hier dun en daar nog dig.
So arm die wêreld hier, en tog so mooi:
Stil, as 'n oumens amper oor sy reis
En met die Dood se skadu op sy gesig.
Japie.
Vanmôre was Japie nog hier:
Vanaand is hy dood!
Met 'n lag om sy mond het hy bruilof gevier
Met 'n klein brokkie Engelse lood.
Vanmôre was Japie by my:
Vanaand is hy—waar?
As 'n mens maar kan weet, waar hy eindlik sal bly,
Wie het dan vir die toekoms gevaar?
Vanmôre was Japie my maat:
Vanaand is hy—wat?
Sal hy nog met my lag, sal hy nog met my praat,
Of my hand in die syne weer vat?
Vanmôre was Japie 'n kind:
Vanaand 's hy volleerd!
Ons het baie gestry om dié waarheid, ou vrind:
Weet jy nou, wie van ons had verkeerd?
Vanmôre was Japie—nee God!
Hy is nog vir my!
Want die dood kan nie skei nie, al is dit ons lot
Om alleen op die wêreld te bly.
Op 'n Leiklip.
Hier onder die leiklip, daar rus (as hy rus:
Want wie weet, of waarlik die dood ons kan sus?)
My arme ou Vonk—en tog, arm is hy nie:
Hy het, wat hy wil: wie dit teenspreek, die lie.
Vir my was hy meer as 'n halfduisend pond,
As kind of as kneg—ja, al was hy 'n hond:
Ek het mos geen kneg nie, en ook nie 'n kind,
En Vonk was vir jare my beste ou vrind.
Hy het altyd gehelp, hy was altyd ook klaar,
Vir die grootste plesier, in die naarste gevaar.
Oordag het hy met my die veld rondgeloop,
En miskien nog 'n hasie geja op die koop.
In die aand het hy stil by die vuurherd gelê,
En ek het hom my hope en wense gesê:
Ons het same gepraat—ja, tot laat in die nag,
Tot die môrester daar was en amper die dag.
Was dit goed vir ou Vonk, dan verlaat hy sy plek
En kom staan by my stoel om my hande te lek:
Daarby het hy altyd gemeen: "Ek verstaan,
Baas, al wat jy sê, en ek laat dit begaan."
Hier onder die leiklip, daar slaap (as hy slaap:
Is die dood maar 'n droom, wat 'n dier op kan raap?)
My liewe ou Vonk—want ek het hom nog lief!
My hart het hy gou weggesteel, as 'n dief;
Maar hy het my syne gegee—en ek vra,
Of 'n mens, soos die dier, so 'n ruil het gewa!
Ons harte is vol van gemors en verdriet,
En as steun in die lewe is hul maar 'n riet;
Maar die hart van ou Vonk was die hart van 'n kind—
En jy het hom vir my gegee, my ou vrind!
Ons het same die wêreld, hoe groot dit ook is,
Deurkruis; ons het same geniet en gemis;
En jy was vir my meer as kind of as kneg.
En nou is die wêreld weer leeg, wat jy 's weg—
Ek weet nie waarheen nie! Miskien is dit waar:
Soos rook in die lug gaan 'n mens uitmekaar,
En nog baie gouer 'n hond na die dood.
Jy het my die hand gegee, jy met jou poot;
Jy het my gesoen; ons het same gepraat:
En ek glo aan jou spook, Vonk, my liewe ou maat!
Hier onder die leiklip lê jy in jou graf:
Dis al, wat ek weet—want ons gissing is kaf.
Jy 's dood: dit staan vas, want ekself het jou hier
Begrawe, en sonder gebed, want 'n dier
Het tog nie 'n siel nie—so sê outa Kees:
Hy weet, want hy het mos diaken gewees,
En op eie houtjie die bidstond gelei
Daar bo in die sendingkerk. Ja, maar vir my,
(Al is dit nou sonde, waarvoor ek moet vrees!)
Het jy baie meer van 'n siel as ou Kees;
Jou oë was altyd so diep as die lug,
So hel as die hemel, so sag as 'n sug:
En agter die oë, daar lê tog verstand;
En agter verstand staan 'n siel by die hand—
'n Siel, wat nie somaar in niks nie verdwyn,
Of somaarso stiltjies in wolke verkwyn.
Jy 's dood—wat ons dood noem, wie weet wat dit is?
'n Slaap of 'n droom? Ag, 'n mens kan maar gis:
En dit is die moeite nie werd nie, want jy
Is altyd, ja altyd, my ou maat vir my.
Op my ou Karoo.
Hier wil ek rus, op ons vaal Karoo,
Hier, waar die veld 'n leegte is,
Hier, by die slang en die akeldis,
Hier, met die hemel blou daarbo.
Grawe hier, boetie, 'n graf vir my:
Hier is ek tuis, my land is hier;
Hier, waar die korhaan bruilof vier—
Hier wil ek lê in ons grougeel klei.
Stel nie 'n klip of 'n kruis daarbo,
Skrywe geen teks, wat 'n mens kan lees;
Sê net: "Hy slaap, waar hy wou wees—
Hier in die skoot van ons vaal Karoo.
"Rond oor die wêreld het hy gereis:
Nêrens was uitkoms vir sy hart;
Orals was donker, die wolke swart,
Orals die wêreld vaal en grys.
Nou lê hy diep hier in die sand;
Nou slaap hy vas, want hy rus in sy graf:
Was hy 'n sondaar, dan is sy straf
Lank afgewerk in 'n vreemde land.
"Praat van hom nie as 'n skuldenaar nie:
Hy het betaal tot die laaste toe;
Hy het gely—ja ons weet nie hoe!
Broer van almal, en maat van—wie?"
Dit is jou rede oor my lyk,
Dit jou gedagte, as jy daar staan—
Daar by my graf, waar die volle maan
Deur God se vensters na onder kyk.
Laat vir my slaap, boetie! ek het vaak:
Dof is my oë, my siel is moeg;
Gaan jy maar voort met jou land te ploeg,
Tot ook jou siel in die duister raak.
Laat my alleen op die toekoms wag,
Hier in my graf op ons vaal Karoo.
Dek my met veldbossies, boetie! So,
Nou sal ek rus tot die laaste dag.
My nuwe Vaderland.
Ek het so lief ons blougroen see,
Ons witgeskulpte strand:
Was ek geen Blikoor nie, dan was
Die see my vaderland.
My tuiste-veld is baie mooi,
In winter baie groen:
Ja, goudgeel blink die doringboom daar,
As son en wind hom soen.
My eie veld is baie nat
(Vervloek die tyd!) met bloed—
Daar sing vandag die mense nog
Van Volk en Heldemoed!
Die see is baie, baie mooi,
Die see is blou en groen:
Daar 's niks so mooi die wêreld deur,
As son en wind hom soen.
Die see is vol met trane, vol,
Tot in sy hart, met bloed—
En tog sing nie die skulpe daar
Van Volk en Heldemoed!
Ek is 'n Blikoor, want my wieg
Het op die veld gestaan;
Maar as ek na die branders kyk,
Loop oor my wang 'n traan.
My land is nie meer myne nie;
My volk is doodgestry;
My moed is nie meer heldemoed—
O God, vergewe my!
Ek wil nie, dat ek sterwe sal,
Geen pyn meer voel of leed;
'k Wil see toe, waar die koel wind waai;
Die veldson brand so heet.
Ek wil nie meer die mense eer,
Wat slegter is as vee—
Nie meer die volksgeskiednis lees
Met al sy leuens mee.
Ek wil vergeet en uithou: ja,
Ek kan nog jare ly,
Solank die branders tot my sing,
Die skulpe praat met my.
So lewe ek my lewe deur,
Neem, wat die lewe gee:
My volk sal nou die visse wees,
My vaderland die see.
Vrede-aand.
Dis vrede, man; die oorlog is verby!
Hoor jy die mense skreeu die strate vol?
Sien jy, die hele wêreld is op hol?
Kom, hier 's 'n bottel soetwyn; laat ons drink!
Ons het ons nasie in die see gesink;
Ons het geen land meer nie: dis klaar met Kees!
Dis vrede nou: kom skreeu—of is jy hees
Van lag? Nou, lag maar, want die storie 's uit:
Ons nasie 's weg, ons kan daarnaar maar fluit!
Drink, drink jou glas! Die son skyn deur die wyn:
Is dit te soet, of smaak dit soos asyn?
Nou ja, dan kom hier by die venster staan
En skou met my al die gedoente aan.
Daar waai die vlag, daar word hoerê geskree:
Die aandeelmark rys weer, en ons daarmee!
Wat is ons land teenoor die aandeelmark?
Wat 'n kanarievoël teenoor 'n vark?
'n Lelieblom teenoor 'n stronk tabak?
Ons nasie, wat so wild was, is nou mak
En kan getrein word soos 'n jong bobjaan,
Wat, as hy steeks is, jy weer goed kan slaan.
Hoerê! hoerê! Skreeu saam met my:
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Dis vrede, man; die oorlog is verby!
Hoor jy daaragter, hoe die mense huil?
Hoor jy 'n sug, 'n klag?—Dis maar 'n uil:
Die voëls is orals rond, selfs in die stad,
En orals skreeu hul, orals om ons pad:
Hul weet, ons was ook uile! Ons hou saam
'n Bondskongres hier, net soos dit betaam;
Passeer mooi resolusies; maak geraas,
En groot lawaai; en trek dan soos 'n haas,
Wat bang is vir die roer, weer in die hol,
En sit daar van die bewerasie vol!
Nou is die storie uit: die leë glas
Staan droog, wat vroeër so vol met water was;
Die put, wat eenmaal water het gegee,
Is vol met trane, souter as die see—
So brak as ooit 'n pan in die woestyn,
Waarop die son al dae helder skyn—
En bitter net soos gal, want in die put
Het al ons volk hul trane afgeskud;
En ons moet daarvan drink, die jare deur,
Al sal die smaak ons hart en siel verskeur.
Nee, boetie, nee, kom skreeu hoerê met my:
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Dis vrede, man; die oorlog is verby!
Sien jy die strate vol? Ek sien 'n ramp,
'n Kerkhof by 'n konsentrasiekamp
Met duisend graffies, elk waarvan bewaar
'n Skat, wat alles was, wat God aan haar
Gegewe het om eenmaal aan ons land,
In tyd van nood, toe te vertrou as pand:
Sy was die sterkste van ons almal, sy
Die met gebed en hoop het meegestry!
Sy het die swaarste deel van onse lot
Gedra, gehelp, getroos, gesteun deur God:
En as jy daaraan dink, dan moet jy glo—
Al twyfel jy—, daar is tog Iemand bo,
Die so 'n vrou tot yster maak en staal,
Met soveel troos haar steun en hoop betaal;
Maar dan weer dink jy aan haar smart en aan
Die graffies, wat daar op die kerkhof staan,
En voel weer twyfel, want 'n mens is swak!
Waarom het Hy die boom gesnoei, die tak
So afgekap tot aan die stam? Waarom
Het Hy haar lot so skeef gemaak en krom?
Nee, boetie, drink met my; skreeu saam met my:
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Hoor jy die mense skreeu hoerê? Ek hoor
'n Dof gekerm en steune in my oor.
Ver oor die vlakte dryf die wolke neer;
Daar slaan die blits, daar dreun die donderweer.
Die hael, elk korrel as 'n kersiepit,
Maak die Karooveld net soos marmer wit,
En dek die kaal graf van ons laaste kind;
En deur die haelbui huil die noordewind.
Hoog was ons hoop, hoe laag ook was ons hart!
Ons land is duur: die prys—verdriet en smart!
En meer as ons, het sy haar deel gegee,
Haar siel ontroof van liefde om daarmee
Ons borg te staan; sy het vir ons gedra
Die skuld van gister en die dag daarna;
Op rots het sy gebou, en nie op sand—
Heldin en vrou! Die beste, wat ons land
Nog voortgebring het! Skreeu hoerê vir haar,
As jy moet skreeu—maar liewers, man, bedaar,
En skink weer met my in 'n glas vol wyn:
Dit sal nie ditmaal suur smaak soos asyn,
Maar heuningsoet, as suiker—en met my
Drink op haar naam: die oorlog is verby!
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Dis vrede, ja! Wat sal ons nou begaan?
Sal ons die vrou daarbinne weer laat staan
Om kos te kook, te braai, te stoof, te smoor?
Nie meer haar steun verlang nie? nie meer hoor
Haar stem, wat in die onweer het geklink?
Sal ons haar siel laat roes? Dié het geblink
Tot aan die kruis-ster, toe die donker nag
Rondom ons was, en niemand van ons dag
Verwag het nie: toe het haar lig gestaan
As lei-ster vir ons, ligter as die maan,
En as 'n son geskyn—toe was dit nood!
Dis vrede, maar dié siel is nog nie dood:
Dit lewe nog om ons te lei, en maak
Die swaar, swaar vrede plig; die harde taak,
Wat voor ons lê, die lewe, wat ons wag,
Ons donker pad, so helder as die dag.
Waak oor die stem; let op die siel; behou
Die beste, wat ons nasie het—die vrou!
Gooi neer die glas; die stukkies skop opsy:
Daaruit sal ons geen ander heildronk drink
As dié aan haar! Maar roep, man, tot dit klink:
Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Die ou Blikkie.