IV.
’N AGTERMIDDAG OP CHENÉE.

—Ek kom u kinders wegneem, sê Jan Berlier aan mevrou Kibert, nadat hy haar gegroet het.

Die ou vrou se sagte antwoord is:

—O, ek smeek u, gun hulle aan my.

Haar glimlag is fyn en teer. Die jonkman het haar verras by haar werk; sy sit in die skaduwee van die kastaiingbome, voor die huis. Sy het haar bril op, om die steke beter te kan sien van die handwerkie waar sy aan besig is. Dadelik roep sy vir Marcel en Paula; hulle is ’n entjie daarvandaan, in die tuin. Terwyl hulle stadig nader kom, vra sy byna bangerig:

—Gaan julle na Chenée, na die famielie Delourens?

—Ja, sê Jan, om krokee en tennis te speel. En net of hy spyt het dat hy dit gesê het, laat hy daarop volg:

—As u wil, mevrou, sal ek hulle daar niks van sê nie.

—O Ja! Marcel het ’n bietjie afleiding en beweging nodig. Hy is gewend aan baie beweging. En my arme Paula het alte lank met ’n ou vrou, soos ek, alleen gebly.

Sy dink nie aan haarself en aan haar eensaamheid nie.

Mevrou Kibert behandel Jan Berlier amper soos ’n moeder haar kind. As klein kind het sy hom dikwels op Maupas sien speel, saam met haar eie kinders. Hy is die enigste seun van ’n advokaat wat die hof van Chamberie eer aangedaan het en in die krag van sy lewe gesterwe het. Te vroeg ’n wees geword, is Jan opgevoed deur ’n oom wat ’n bietjie snaaks en afgetrokke van maniere is en hom maar baie min oor Jan bekommer. Hy is ’n liefhebber van rose; sy huisie is amper daaronder begrawe. Hy verlies Jan heeltemal uit sy gedagte as Jan weg is op diens in die kolonie. En as Jan op verlof tuiskom, vertel hy hom van die nuwe roos-soorte wat hy gekweek het, en dink dat hy hom daarmee baie liefde bewys.

Marcel en Paula is nou ook by, en Jan vertel hulle dat hulle op Chenée verwag word. Hy sê aan Marcel:

—Jy skuld bowendien ’n besoek aan mevrou Delourens, na die blommefees; as jy nou vanmiddag gaan krokee speel, dan doen jy tegelyk die besoek af.

—Dit is so, sê Marcel.

—En u gaat seker saam, juffrou Paula?

Maar Paula weier.

Marcel kyk haar neerslagtig aan, en Jan met simpatieke nuuskierigheid. Jan onthou nog hoe hy vroeër op hierdie selfde plek gespeel het met ’n uitbundig vrolike kind, nog wilder as ’n jongetjie. En in haar plek sien hy nou ’n jongnooi, teruggetrokke en fier, selfs teenoor haar vroeëre speelmaat. Hy kan darem nie help om haar slank, bevallige postuur te bewonder nie, haar flinkheid daarby, en haar somber oë, wat lyk of hulle lig uitstraal. Hy sou wel die vriendskap van sy ou kameraadjie weer wil win, maar voor hierdie Paula, so mooi en so moeilik te nader, voel hy ’n verleëntheid en bangerigheid waarvan hy homself die oorsaak maar nie wil vra nie.

—Jan, ek moet jou knor, sê mevrou Kibert meteens.

—O nee, asseblief nie! antwoord Jan, en trek ’n gemaak-kwaai gesig. Sy goeie humeur is spreekwoordelik, en sodra hy êrens gesien word, neem alle gesigte ’n vrolike plooi aan.

—Ons is jou oudste vriende, sê mevrou Kibert, en tog moet ons van mevrou Delourens hoor van die groot gebeurtenis in jou lewe.

—Watter groot gebeurtenis? sê Jan, met gemaakte verbasing.

Paula staan op en loop haastig na die huis se kant toe, net of sy daar iets belangriks te doen het, terwyl mevrou Kibert aan Jan antwoord:

—Jou huwelik.

—My huwelik! Grote goedheid! en met wie nog al?

—Met Isabella Orlandi.

Mevrou Kibert self sê nooit iets sonder dat sy dit meen nie—daarom het sy ook geglo wat mevrou Delourens vertel het. Jan Berlier bars uit in ’n lag.

—Sy is my „flirt,” het mevrou Delourens gemeen. Maar ek glo dat u die betekenis van die Engelse woord nie ken nie.

Paula klim langsaam die treedjies op. Eers hou sy haar hand op haar bors, net of sy met moeite asemhaal; maar dan stap sy weer makliker. Voor die spieël in die voorkamer bly sy ’n oomblik staan, en is self verwonderd dat sy so mooi lyk. Sy glimlag droefgeestig teen haar spieëlbeeld, en die laggie sê soveel as: Wat help dit? Wat help skoonheid vir dié wat geen huweliksgeld het nie, en die teerheid en toewyding wat in ’n leë hart tog maar brand soos ’n lampie wat in ’n kamer vergeet is? Maar onwillekeurig vind sy darem nog troos by die aanskouing van haar nuttelose bekoorlikheid.

Jan hou homself baie geleerd terwyl hy aan mevrou Kibert uitlê:

—„Flirt” is eintlik ’n vryery na ’n nooi met wie ’n mens juis nie wil trou nie.

—Speletjies dus, sê mevrou Kibert. Jan, dis nie mooi van jou nie. Kyk, ek is ’n ou vrou, luister na my: jonkmans en meisies staan nie gelyk in die spel nie; jongmeisies verwag altyd om te kan trou. Julle jonkmans bedrieg ’n hoop wat by hulle heeltemal wettig is, en vir jul plesier versteur julle die vrede van hul harte en die opregtheid van hul gevoelens.

Die jonkman hoor die sedeles aan met ’n eerbiedige glimlaggie.

—Ek hoor u graag so praat; maar ek merk wel dat u die jongmeisies van ons dae nie ken nie.

—Ek ken hulle ook nie, sê Marcel. Gaan jy dikwels na Chenée?

—Ja, vir my oom en sy roosplantjies is ek te woelig. Hy is altyd bang dat ek hulle sal trap. As hy my sien weggaan, gee hy ’n sug van verligting. Die mense op Chenée is so belangwekkend.

—So? sê Marcel, en hy doen baie moeite om te laat sien dat die mense hom eintlik maar min aangaan.

—Ja, sê Jan, hulle het duisende middeltjies om die tyd—hul ergste vyand—dood te maak—En, ondanks alles, smaak hulle nou en dan die verveling van niks-doen. Mevrou Delourens roer en woel, skryf uitnodiginge, stel spyskaarte op, skrywe vir die koerante verslae van haar partytjies. Meneer Delourens, bangerig en gedwonge, rangskik sy boeke, waarvan niemand tog ooit die goeie orde versteur nie, begroet die mense wat sy vrou uitnooi, keur die minste woordjie van sy vrou goed, en hou homself so nederig, dat dit lyk of hy altyd maar aan so ’n deur-en-deur aristokratiese vroumens verskoning vra vir sy burgerlike bloed. Haar seun, Clement, ry honde dood met sy motorkar.

—En Alida? vra mevrou Kibert, onskuldigweg.

Die jonkman antwoord versigtig:

—Juffrou Alida wag af wat met haar sal gebeur; dit kan nie anders wees as aangenaam nie. Die hemel het haar met skoonheid geseën.

—Maar gaan jy net na Chenée om die famielie Delourens te sien? vra Marcel.

—Daar is nog hul gaste, mevrou Orlandi, by voorbeeld. Sy het teruggekom na haar geboorteplek om haar verlore skoonheid te beween—meer as haar man. So lank as sy nog mooi was, het sy in Florence gewoon. Dog na haar jeug verby is, het sy Italië verlaat. Haar verminderde fortuin het dit noodsaaklik gemaak. Maar sy wou haar agteruitgang nie laat sien op die plek waar sy so geskitter het nie. Sy het alle spieëls uit haar kamer verban; ek hoor hulle is nou almal na die kamer van haar dogter verhuis. Sy hou net mooi, fris kamermeisies, en takel haarself op met juwele—die getuie van haar vroeëre triomfe pak sy heeldag in en uit. Maar sy het darem nog tyd genoeg om haarself heeldag besig te hou met ’n afskuwelik lelike mopshondjie, waar sy meer van hou as van haar dogter Isabella.

—Daar het ons haar eindelik, na ’n lang ompad, sê Marcel.

—Juffrou Isabella is bekoorlik. Sy weet dat haar skoonheid haar die vrou sal maak van ’n miljoenêr. Sy sal dié plig wel nakom; haar ma en ek moedig haar aan daartoe.

—Foei! sê mevrou Kibert, en hou op met haar werk.

—Sy het nie aanmoediging nodig nie, sê Jan. Die Italiane is baie prakties. Eindelik is daar nog juffrou Sonjon, met haar maer gesig van ’n adellike ou-jongjuffrou; sy is nog nie die mins wonderlike van die klomp nie.

—Ek ken haar, sê mevrou Kibert, sy is ’n heilige. Sy doen so baie aan liefdadigheid en bring haar lewe deur met bywoon van vrome byeenkomste, en sy reis daarvoor baie rond.

—Ja, sy hou baie van rondtrek en heers. Sy order en gaan van plek tot plek, en sy maak of sy godsdienstig is, terwyl sy net haar eie luste dien. Die mense sê dat sy soos ’n Jood haar skuldenaars uitsuig om haar God soveel te meer volgens die mode te kan dien.

Mevrou Kibert het hom belet om verder te praat:

—Jan, my liewe Jan, wat vertel jy daar? Jy sal ons laat dink dat jy ’n ondeug is.

—Dis maar kwaadsprekendheid, sê Jan. Kyk, ek het vryuit gepraat, soos ek in eie famieliekring sou gedaan het, as ek een gehad het. Ek voel my hier op my gemak. As kind was ek al hier. Maar moenie vir my vertel van die ou-jongjuffrou Sonjon nie. Sy ’n heilige? Nee, maar u is een, mevrou.

Ondanks haar leeftyd bloos mevrou Kibert as sy so geprys word. Sy is alleen inwendig dapper.

—Jan, wat sê jy daar? God het my bederwe deur sy goedheid—dis al.

Die jonkman kyk met verbasing na die ou vrou in haar rouklere, met haar gesig deur droefheid verlep, met haar oë altyd vol trane, en die Heer dankend vir haar beproewinge. Sy sien sy blik op haar en sê:

—Ja, God het my oorlade met Sy seëninge, voordat Hy dié weer van my weggeneem het. Maar nou nog, as ek lewe vir my kinders wat oral versprei is, vir hierdie een, Marcel, wat deur so baie gevare gegaan het, hoe sou ek dan nie tegelykertyd ook trots voel op hul moed, op hul werk nie? Is hul lewe nie my lewe nie?

Jan is bewoë; hy staan op, neem mevrou Kibert haar hand en soen dit.

—U is ’n heilige, soos ek gesê het. As ek u sien, word ek self beter en voel ek nie meer lus om my lewe te laat verstrooi deur die vier winde nie: ek voel lus om mannewerk te doen, soos u seuns. Maar ek, ek het nie ’n moeder nie.

Hy sien Paula die treedjies weer afkom. Sy het haar hoed op, en haar gelaat het ’n nuwe uitdrukking van frisheid.

—A, juffrou Paula, so het u darem tog besluit om mee te gaan?

—Ja, sê sy, dis sulke mooi weer en Marcel is vererg as ek tuisbly.

Sy soen haar ma, en sy stap saam na Chenée, tussen die twee jonkmans, en sonder moeite hou sy hul snelle looppas by.

Hulle kom aan voor die poort van Chenée. ’n Laning van plataanbome lei na die huis, wat ruim en elegant is. Tussen die grasperke voor die huis is tennis- en krokeegronde. Agter die huis is ’n bos van eeueoue eikebome, waar in die somer baie koel en afgeslote hoekies is.

Die famielie Delourens weet hoe om dit vir hul gaste gemaklik te maak, en hulle groot verskeidenheid van afleiding aan te bied. Op die oomblik dat Paula met Marcel en Jan daar aankom, het die krokeeparty net opgehou, en almal staan om Isabella Orlandi, wat baie hard praat en baie beweging maak met haar hande:

—En dan is sy naam nog Landeau, sê sy.

—Wie is dit? vra Jan, terwyl hy by die kring van toehoorders kom.

—My aanstaande! En sy bars uit in ’n harde, byna oorverskeurende skaterlag. Sy gee haar hand aan Jan:

—Dag Jan.

Sy noem hom by sy voornaam, want, sê sy, sy het hom eenmaal as kind gesien.

Die krokeespel gaan weer aan; en terwyl sy en Jan by ’n afgeleë hoepel staan, maak sy van die geleentheid gebruik om met hom te praat:

—Ja, sê sy, terwyl hy merk dat sy bleek is, ek moet jou bekend maak dat ek gaan trou met ’n fabrikant van die stad Lyon—’n besigheidshuwelik.

—Veels geluk, sê Jan.

—Dankie. Hy is meer as miljoenêr, en is baas van verskeie welvarende fabrieke. Hy het groot beloftes gemaak aan my notaris. Jy begryp, dan kom dit daar ook maar min op aan dat hy lelik is, dat hy veertig jaar oud is, en opgeskeep met ’n belaglike naam.

—Dit spreek vanself.

—Nie waar nie?

Hul meespelers roep hulle om te speel. Maar hul lus om te speel is weg, en deur hul skuld verloor hul kant die spel.

Toe die spel uit is, gaan almal na binne om iets te gebruik. Hulle twee sorg dat hulle draai tot hulle die laaste van almal is. Meteens vra sy aan Jan:

—Begryp jy dit nou, Jan, dat ’n mens trou, terwyl daar reeds liefde in jou hart is?

—Liefde vir jou man, nie waar nie?

—Loop, jy maak grappies.

Dis werklik skerts van sy hart, want hy wil haar nie begryp nie. Maar as hy op dieselfde oomblik ’n vieslike slak sien kruip op ’n roos, in die tuin, dan voel hy tog alte jammer dat Isabella haar skoonheid so ten offer moet bring.

—Dis beter om voor die tyd iemand anders lief te hê as daarna, sê hy.

—O, as ’n mens vantevore liefhet, dan het jy daarna nog lief, antwoord sy.

Hy gee ’n ander wending aan die gesprek, want hy weet dat hy te stry het teen ’n hartstogtelike aandoening. Nog nooit het hy soveel plesier gehad in die mooi gesig, die onbeskaamde oë, die rooi, sinlike lippe, die glinsterende tande, die volle buigsame bevalligheid van haar hele wese.

—Is ek nie ’n goeie profeet nie? sê hy. In die trein het ek jou ’n tyd gelede so ’n huwelik voorspel.

—Ja. My ma het my al baiemaal gesê: „My liewe kind, na ’n week is al die mans maar eners. Geld en jeug is verbygaande dinge, maar die eerste alleen maak die twede van waarde.”

—Ja, jou ma is wel skerpsinnig.

—In Italië is al die mense so. Digterlikheid is goed as dit by woorde bly.

Meteens, op die skielike manier wat haar grootste aantreklikheid is en haar in onverwagte vervoering bring, begin sy te ween. En terwyl hy haar nog verwonderd daaroor aankyk en nog geen woord van medelye kan kry nie, sê sy:

—Waarom trou jy nie met my nie, jy?

Sy antwoord kom hakkelend, maar darem gou:

—Ek kan jou nie meeneem na die kolonies nie.

—Jy kan ’n handelsbesigheid begin. Dit lewer geld genoeg op. Meneer Landeau sal jou help.

En by die gedagte aan die wonderlike rol wat sy meneer Landeau (haar aanstaande) wil laat speel, bars sy uit in ’n lagbui, of sy mal is; die jonkman word daar ook deur aangesteek. Hulle stap nou aan deur die laning van plataanbome. Sy neem die kans waar in die donker skaduwee van ’n groot boom:

—Gee my ’n soen, om my te troos.

Die fris wang se smaak proe hy nog as sy reeds te kenne gegee het dat haar keus gedaan is:

—Dis tog jammer, maar waarom is jy nie ’n miljoenêr nie?

—Ja, dit vra ek ook, sê Jan . . . .

Mevrou Delourens sien Jan en Isabella in die verte, en sê aan haar gaste, terwyl sy na haar wys:

—Ek neem dit haar nou glad nie kwalik dat sy so ’n huwelik doen nie; nee, ek keur dit goed. Haar huwelik met meneer Landeau bewys dat sy groot geeskrag besit. Fortuin besit sy nie.

Haar skatryk gaste sê almal dat sy gelyk het. So aangemoedig, gaan sy aan, nadat sy eers agtertoe gekyk het of Paula vér genoeg is.

—Kyk nou inteendeel na so ’n meisie as Paula Kibert. Dis nie sy wat met meneer Landeau sal trou nie. Sy besit geen stuiwer nie en is nog vol aanstellings daarby! Hoe op aarde kry sy ooit ’n man?

—Ja maar, sê een van die dames, haar vader het al sy besittings opgeoffer om sy broer te red—dis tog baie mooi.

—Ag, dit was net om die naam van die Kiberts te red! Hy sou veel beter gedoen het as hy sy geld gehou het; wie weet vandag nog van die opofferinge?

’n Spreuksprekende meneer sê:

—Vergetelheid kom gouer as die dood.

—Dié Paula! gaan mevrou Delourens aan. Op ’n dansparty wat ek twee jaar gelede gegee het, het luitenant Sinard sin in haar gekry. Dit was nog voor die dood van haar pa, die dokter. Hy het daar regtig ernstig aan gedink om met haar te trou. Maar toe het hy erfgenaam geword van die driehonderd-duisend pond; wel, julle begryp, toe kon hy hoër kyk.

—O, natuurlik! sê almal, toe kon hy tog aan haar nie meer dink nie . . . .

Onder die strenge blik van juffrou Sonjon, kom die swaarlywige mevrou Orlandi aangestap. Sy is uitasem, en wil ook ’n goeie uitleg gee van die keus van haar dogter.

—My dogter het moeite gehad om tot ’n beslissing te kom. Maar haar aanstaande is ’n man van beginsel en, wat ook glad nie iets verkeerds is nie, hy besit ’n groot fortuin.

Die woord beginsel was bestemd om die vroom ou-juffrou Sonjon te behaag. En sy vra:

—Werk hy nog?

—Seker, hy werk nog. Hy is direkteur. Hy bestuur duisende werkmense. Hy gee bevele, net soos ’n generaal.

Maar die ou-juffrou brom drogies.

—In my dae sou ons, onder ons klas mense, nooit getrou het met ’n man wat werk nie.

Jan Berlier en Isabella het hul wandelinkie klaar gemaak en kom nou aangestap. Die jonkman het daar plesier in om juffrou Sonjon te terg; wat sy daar gesê het, gee hom net ’n mooi handvatsel.

—Alles is nou anders, juffrou. Dis die tyd wat so snaaks is. In die ou dae het adel daarin bestaan dat ’n mens niks doen nie: vandag kom dit uit arbeid voort—arbeid, wat nog meer ’n moréle verpligting is as ’n liggaamlike noodsaaklikheid. Die wêreld is heeltemal omgedraai: dis nou die vabonde wat nie werk nie.

Maar die vroom presidente van die Rooi Kruis en van verskillende liefdadigheidsgestigte bekyk hom permantig van hoof tot voete, en antwoord vinnig:

—Die wat op aarde varke opgepas het, sal hulle in die hemel ook nog oppas.

Jan lag, en vra:

—Is dit ’n woord uit die Bybel?

Alida het ’n bietjie agtergebly met Paula en Marcel; sy loop maar langsaam.

—Is u moeg? vra Marcel. Hier is ’n bank: gaan sit ’n bietjie.

—Nee, dankie, ek makeer niks nie. Laat ons maar huis-toe gaan. En met haar glimlaggie van ingebeelde sieke, voeg sy nog daarby:

—Dis die warmte van die lang somerdae wat so druk. Voel u dit ook nie?

Marcel kyk verwonderd:

—Daar het ek nog glad nie aan gedink nie. Ek hou van die son: dis hy wat die teken tot lewe gee. Ek hou van die lang dae: dit lyk of hulle ons bestaan verleng.

Paula is stil; sy kyk na die huis, en sien iemand klop aan die voordeur:

—Daar is meneer Marthenay, sê sy.

Daar gaan ’n skaduwee oor die helder oë van Alida, en die rose verdwyn van haar wange. Sy sak neer op die bank, waar sy eers nie op wou gaan sit het nie, en wink vir Paula om naas haar te sit, terwyl sy sê:

—Kom ons sit maar ’n bietjie hier.

En terwyl sy vir Marcel aankyk, sê sy met bevallige teerheid:

—Daar is nie plek vir u nie, maar ek is seker dat u nie moeg voel nie.

—Werklik nie, sê hy, en laat daarop volg, ken u die belaglike Arabiese spreuk wat sê: „Sit is beter as staan, lê beter as sit, en dood weer beter as lê?”

Nee, ek het dit nog nooit gehoor nie, maar dit geval my.

’n Sware neerslagtigheid, abnormaal soos die wanhoop van ’n kind, is te lees op haar jong gelaatstrekke—nog so aantreklik en so sag. Sy draai na die spraaklose Paula:

—Ek beny jou tog so, Paula. Jy is sterk en dapper. Ek is so swak. As jy tog kon besef hoe swak ek is! Ek het glad geen moed nie.

En sy laat haar skone, wanhopige oë op Marcel rus, net of sy hom aanspreek en van hom uitredding vra. Waarom bekla sy haarself so? En waarom ontvlug sy meneer Marthenay? so dink Marcel en hy sê:

—Op u leeftyd wanhoop ’n mens nog nie aan toekoms of geluk nie.

In plaas van dié alledaagse woorde uit te spreek, sou hy haar wil ondersteun met sy eie krag. En Paula, self ook wetend op die oomblik wat twyfel en teleurstelling beteken, bly nog maar stil; verwonderd, en met sekere geringagting, sien sy neer op haar vriendin, wat haar beny, en wat tog deur die lewe vry gelaat word om haar lot na eie keus voor te berei.

Die son het ondergegaan agter die berg, maar voor hulle het die aandlug ’n goue sluier omgehang. Die toppe van die berge gloei nog in die aandson, die hoogste toppe hou die daglig nog die langste vas. En die vlakte lê breed uitgestrek onder ’n blou, rose waas wat op alles neerdaal soos ’n blomreën, en lyne en afstande vervaag.

—Kyk tog, sê Paula; en wys na die horison.

Die twee meisies staan gelyk op om te kyk. Marcel het net oog vir Alida; in haar wit rok lyk sy soos ’n slank, buigsame lelie; en die suiwere lyn van haar sy-gesig teken hom teen die goud van die aandlug—’n stralekrans makeer nog net daaraan om dit as ’n engelekop te laat kyk. Sy draai langsaam om na Marcel; sy knip haar oë waar die lig te helder inskyn, en sê met ’n vriendelike glimlag:

—Ek kan nie meer sien nie. Die weerskyn van die son is genoeg om my oë pyn aan te doen.

Paula dink terug aan die tyd toe sy en haar broers daar plesier in gehad het om in die son self te kyk, sonder hul oë toe te maak.

Marcel voel jammer, ondanks homself, vir so ’n tengerige skoonheid; hy voel sy hart klop in sy bors, hy voel die begeerte tot opoffering wat ’n kenmerk is van ontluikende liefde.

—Alida, roep mevrou Delourens, dis alte koud om buite te bly.

’n Bietjie later neem Marcel en Paula afskeid. Hulle gaan huis-toe langs ’n voetpaadjie deur die veld. Deur die blare van die bome sien hul die pers, rose lug—’n kleur wat geluk voorspel. Hul loop ingedagte en sê niks.

—Jy het jou tog nie verveel nie, sus? sê hy eindelik.

—Ek? Nee—ek het saamgegaan om jou plesier te doen. Voel jy tevrede?

Hy antwoord nie dadelik nie. Hy is so met homself besig dat hy Paula nie aankyk en ook nie merk dat sy bedroef is nie. In die donkerte van die bos openbaar hy sy geheim:

—As ek haar nou vra om met my te trou, wat sou jy sê?

Sy het dit verwag, maar tog voel sy ’n rilling deur haar lyf. Haar oë is swaarmoedig neergeslaan op die voetpaadjie, wat vol dor blare lê van vroeëre somers. Byna afstotend sê sy:

—Haar ouers sal weier.

—Waarom? vra hy, en nou roer die trots hom, na die liefde.

—Omdat jy nie ’n adellike tietel het nie.

—Maar hulle het ook nie. En bowendien, wat beteken so iets nog in ons dae?

—O, hulle is almal vol vooroordeel.

—Maar as sy self nou wil?

—Sy het geen wil nie.

—En as sy my nou liefhet?

—Sy sal maar net huil.

Haar eie wanhoop, waar niemand iets van weet nie, wat sy doodsmoor in stilte en misterie, lê haar dié growwe antwoorde in die mond.

Marcel voel geraak, en in homself geslote, stap hy haastiger aan; teen die hoogtetjie uit hou hy sy lyf nog reg-orent soos ’n jong eikeboom.

Eindelik, haarself vergetende, nader sy hom en neem sy hand om hom te laat stilstaan; sy is bewoë:

—Ek het netnou nie mooi met jou gepraat nie. Ek was in ’n slegte bui; vergeef my, ek moet maar seker verkeerd wees. Ek het goed gemerk vanmiddag dat sy van jou hou; en haar moeder oorlaai jou met gunsbewyse.

Hy hoor haar aan, maar sy gesig bly somber. Paula gaan aan:

—Jy moet weet, vandat pa dood is, het ek so baie mense gesien wat hul rug aan ons toegedraai het, dat ek ongetwyfeld bitter geword het. Ek kan nie mense verdra wat met geringagting neersien op wat ons vereer, en spot met wat ons ontroer nie. Daardie Isabella Orlandi het jy tog al gehoor. Maar as Alida jou vrou word, sal sy tog baie gou verander. Sy is so goed, so sag en fyn. En sy is so mooi.

—Ja, sê hy swaarmoedig, sy is mooi.

Dit word àl donkerder in die bos. Die skaduwee van die bossies word al swart om die boomstamme. Maar buite die bos vind die broer en suster die somerse aandskemering terug waarvan die halflig nie wil wyk vir die nag nie.

As hul Maupas al in die oog kry, bly hy meteens staan:

—Nee, jy was nie verkeerd nie. Maar praat met Alida. Vertel haar van my verlede, my toekoms, waar ek eer op stel, wat ek my fortuin noem. Ek sal haar saamneem na Algiers, in Afrika, dis ’n pragtige stad.

Sy verstaan nou en kyk haar broer aan met teerheid, met ontroering:

—O, as jy haar liefhet dan is dit anders. Ek sal doen wat jy wil hê.

Hy druk haar op:

—Praat môre met haar. Ons sal op Chenée gaan eet, saam met die verloofde van mejuffrou Orlandi.

—Môre al? sê sy eenvoudig. Die uitnodiging was nie aan haar gerig nie, maar daaraan dink sy nie as sy nog daarby sê:

—Is dit nie beter dat ma met haar ouers praat nie?

—Nee! antwoord hy beslis, ek wil nie hê dat ma miskien verniet moet gaan nie.

As hul die huisdeur ingaan, fluister sy:

—Ek wil jou tog so graag gelukkig sien.

Hy glimlag vol vertroue, en sê:

—Moet nog niks aan ma vertel nie: sy hou nie van die mense nie, en ek ook nie. Maar ek het haar lief, haar.

En met die laaste woorde erken hy dat hy oorwonne is.