REPOS AILLEURS.
(Die rus is elders).
In die eensame veld
staan ’n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring
skuif die ligtende trein;
ek sien in die tentjie,
deur die ope gordyn,
’n tafel met bordjies
en glasies fyn,
wat sag in die lig
van ’n kersie skyn;
en ek dag: „was ek net
in die tentjie klein—
ek sou tog, o so gelukkig, syn”.
Naas die eensame tent
staan ’n meisie klein
in stomme bewondering
vir die ligtende trein;
sy sien my geniet
my glansende wyn
en kostlike maal
by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte
van die meisie klein:
„og, was ek maar net
in die vrolike trein,
ek sou tog, o so gelukkig, syn”.
’N SPROKIE.
Ek ken ’n mooi klein sprokie
wat so na waarheid klink—
dis dat die tortel altyd
sy water troewel drink.
Kom hy by helder plassies,
dan sal hy drinkend neig
as eers, na sagte roering,
die modderwolkies styg.
Dáárom sing hy so droewig
van donker voëlleed;
dáárom tooi hy hom stemmig
met dowwe verekleed.
So is daar sombre siele
waar hy my aan laat dink,
wat, soos die tortel, troewel
die lewenswater drink:
Vir alle lewensliefheid,
vir vreugdesang bevrees,
drink hulle geen genoeëns—
of dit moet troewel wees!
DIT IS NAG.
Dit is nag, stille nag,
en ’n moeder hou wag,
waar ’n kindjie teer lê te sterf—
net ’n flou-floue sug
in die ruim-ruime lug,
en ’n sieltjie het weggeswerf.
En agter die huis
vlieg met woeste gedruis
die snorkende spoortrein verby;
en die nag die dreun
van sy wilde gesteun,
soos hy voort op die ysters gly.
O die tedere krag
van ’n kind, wat so sag
en so stil weer die wêreld ontstyg;
O die moeder alleen
in haar bitter geween,
as die nag op haar smeekstem swyg!
O die woeste geweld
van die trein oor die veld,
waar die moeder allenig treur;
die hemel en aard
weergalm van sy vaart,
wat die wêreld in tweë skeur.
DAAR RUIS ’N LIED.
Daar ruis ’n lied van lang verlee,
en stemme singend kom van ver;
en immer ruis my siele mee
met stemmelied van lang verlee—
uit d’ eeue her.
Daar ruis ’n lied van lang verlee
wanneer die wind so sag verrys;
en immer, buigend na benee,
die bometop sing klaaglik mee
eenselfde wys.
Daar ruis ’n lied van lang verlee
in d’ oseaan se maatgesang;
en immer ruis die skulpies mee
met d’eeuelied van grote see—
diep opgevang.
Og, kon ek sing van lang verlee
gelyk die skulpies so getrou,
wat opgegaar, nog kleinlik gee
die weerklank van ’n wêreldsee—
by d’ oor gehou.
Og, kon ek sing van lang verlee
gelyk die dentak hoog in top,
wat daar sy naaldjies klein-verbree,
opdat die wind sy oue wee
kan klaag daarop!
O, kom tot my uit lang verlee,
sangstemme, kom uit droomgebied,
deurruis my siel soos awendbee
van westewind, soos verre see
se golwelied!
STOF.
Die luie stof. Hul het geen voete, want
net waar ek kom, daar leg
hul al maar in my weg.
Of kom my voet hul te naby
dan skuif party
net effentjies op sy.
’n Rusbed vind hul oweral
om lomerig op neer te val.
Grassprietjie is hul nie te smal,
wat langs die grootpad staan.
Die grootpad weer is nie te breed;
kerksolder nie te eensaam, of
die toringdak te hoog gemeet.
Hul lê so rustig op die skoen
van werkman, hard en uit fatsoen
getrek al en verslyt—
so rustig soos
in perlemoer van dames-oor,
of op haar blanke hals.
Net reëndruppels laat vir hul
haastig op luie rusbed krul,
nes wurms langs die grond.
Maar as die son se gloed hul vat,
lê hul weer reguit en
gee vir geen wawiel pad.
Daar kom hul aan—dieselfde stof!
Die lug is vuil, die son is dof.
Dit lyk wel wonder-baie of
die wêreld wil vergaan—
so kom hul aan!
Soos ’n bende ruiters, stoer en straf;
Soos ’n kommande op stywe draf,
ry hul verward die grootpad af.
Hul trek hom vol, sy lengte langs,
versprei omheen wildheid en angs
en al na vorentoe.
Die vrouens ruk die deur op slot;
die manne vlug op hoog gebod,
reusbome wals soos skimme rond
en wyk, met huise in verbond,
na ongewisse newelgrond—
en dit is of stof alleen bestaan!
Stof en sy agterryer, Wind,
wat op sy hakke jaag geswind,
hul twee die dryf, van woede blind,
stormenderhand,
die lug en landskap uit verband!
DIE STERRETJIE.
Goei nawend my sterretjie
met jou vrindelike groet;
jou weer te sien skitter
doen my harte so goed!
Ek staan net maar op
van my lampe-liggie,
en daar kyk ek verras
in jou kindergesiggie.
My kleintjies lê binne
in hul droompies al:
ek was bang dat die ryp
in hul ogies sou val.
Met wangetjies rond
lê die slapende bloedjies
glimlaggend te droom
van hul spelegoedjies.
En jy speel maar hierbuite
in die winternag!
En kom my nog teë
met jou olike lag!
Jy weet van geen nag,
geen koue of vrese,-
klein ligtende, laggende,
klein hemelse wese!
Jy speel in die nag
om die aard te verbly;
in my donkere berowing
kom jy laggend tot my.
En is dit my netnou hierbuite te koud,
dan vlug ek geswind weer na binne;
maar jy bly, ongesien, nog skitter daarbo
aan die hoë, hemelse tinne!
DIE OUE PUT.
Ginds op ’n knoppie, wydgeleë,
ver van die woelige werf en weë,
armoedig lê en skaars beskut,
in middagslaap, die oue put.
Geen voël laat sy lied daar klinke,
geen doringboom sy skadu sinke
op leiklip-brokkies, wat lê braai
in middaggloed se ligte laai.
Verwaarlosing se ongenade
spreek uit die stukke pale en drade,
waarbinne staan ’n slingerwiel:
die toegang tot ’n diepe siel;
tot swyggeheim wat waterwelle
straks aan die velde sal vertelle,
as sag ’n windjie hul ontwek,
voordat die kuddes bronwaarts trek.
Intusse daal van hemeltinne,
deur sombre skemering daarbinne,
’n langgespanne silwerdraad
wat afglans op haar stil gelaat.
’n Wyle, en ’t is al verlede—
’n klippie duikel na benede...
Waar kom die wekkertjie vandaan?...
Het d’awendkoeltjie dit gedaan?...
’n Wyle, en ’t is al ontroering,
en al te wrede rus-ontvoering;
want ope slaan die deksel wat
ontsluit geheel haar koele skat.
Sy hoor naby en nog van verre
haar skapies dorstig aan kom blerre;
sy open mild haar waterfles
om al wat bler die dors te les.
Dit put maar en sy gee maar immer,
dit put maar en sy weier nimmer;
gelyk ’n moeder, so opreg,
gee sy haar laaste druppel weg!
Straks gaan die skapies almal hene
en is die putters weer verdwene,
en niemand dink dan langer om
haar so vervalle heiligdom.
Haar lewe is soos die moederlewe:
by ondank immer bly te gewe;
maar ’k hoor as hul is heengegaan,
diep-onder tap... ’n watertraan!
OGGENDSTOND OP ’N BOEREPLAAS.
O, die oggendstond op ’n boereplaas!
Daar trek al op die eerste rook.
Hul het gistraand die vraag beslis,
wie of se beurt dit môre is
om ketel te kook.
Die môrester het opgegaan;
daarbinne roer al een;
daarbuite bly die rokie draai,
omdat daar nou geen windjie waai
deur vroeë môrewêreld heen.
Die haan het op sy beul geblaas;
hy spring al van sy tak;
’n mens sal sê dat hy die baas
(so stap hy) is van werf en plaas,
en die transport dra in sy sak.
Hom volg sy vrind, die kallekoen,
’n oue towenaar:
hy worstel met sy slange, wat
hy nukrig teken in die pad
se stof, met duister vlerkgebaar.
Die kraalvee is al moeg gelê;
hul rek die stramme lywe uit.
Daar kom die kaffer ook al aan,
wat koulik oor die douveld gaan
en eers die kalwerhok ontsluit.
Sy emmer ruis van pure musiek,
so vloei dit nou uit volle speen;
musiek ook vir die kalfie als
hy kort-kort om sy moeder wals
op nog onvaste horrelbeen.
Maar kyk hoe staan die osse met
groot oë na die hek te tuur,
totdat die sware hinderpaal
word uit die mikstok uitgehaal,
waaraan hul saans hul lywe skuur.
Die son gaan op, die vee verdwyn.
Net in die onverstoorbre vert’
’n osse-span stap voor die ploeg,
en agteraan die man wat swoeg
by ’n rukkerige stert.
Die môre smelt weer met die dou,
die vrede alleen bly soos dit was.
Net ’n hen spring van haar eiers af
met groot geraas, en die brakhond blaf
vir die enkele kuiergas.
PERDEKRAAL-LAER.
Die nag is heen, die môre is grys:
’n plaat van tente en waens wys,
waar Perdekraal se steenhoop rys
teen hoë hange.
Daar staan hul aan die grond gepènd,
die geweltjies so mooi orent—
die eie maaksels, tent aan tent,
in suiwre range.
O Trekkersvolk, my hart ontgloei!
Ek sien hoe jul die vreemde boei
verbreek het en het uitgebloei
tot eie nasie.
Nie net ’n eie vaderland,
nie net ’n eie vlag geplant,
maar alles maak van eie hand—
geen imitasie!
Hoe lê die tentseil baan aan baan.
Hoe wakker bly die nokke staan.
Die klappies netjies oopgeslaan—
mooi eenheid same.
Sy staan daar by die wa se as,
die huis van doek, so lossies-vas,
skoon nes in môredou gewas—
’n blanke dame.
Twee witte kappe in die veld:
’n wa en tent daarnaas gesteld,
tweeheid tot eenheid saamgesmelt
in sware stonde.
Die wa—’n sterke man is hy;
die tent—’n taaie vrou is sy.
Jul het die nasie uitgelei,
sy boei ontbonde.
Lig op haar voet gelyk die ree,
en trekkend met die trekker mee,
bied sy hom tog ’n vaste stee
in angs-geweste:
as wolkbreuk beuk die witte wand,
die sonstrale op die nokke brand,
of nagdier sluip oor donker land,
’n veil’ge veste.
En as sy wa nie verder dring,
hoor ek by wind haar fladdering
die lied van boerbeskawing sing,
stemmig-tevrede.
Dan word haar seile trou bewaar:
by feesdag net span sy ’n laer,
en straal haar seile dankbaar daar—
van groot verlede.
DIE VIERKLEUR IS WEER IN GEVAAR.
Kom burgers, trek die perde reg;
nou vrou en kind goeien-dag geseg.
Jongkêrels, los die nôi se hand;
en seuns, verlaat jul moeders, want
daar gaan ’n strydroep deur die land!
Gryp nou die teuels by mekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
Die regterhand gryp die visier,
die bors oorkruis ’n bandelier;
die spore in die sonskyn blink,
stiebeuels teen mekaar weerklink,
die ketel aan die saal rinkink.
Kom burgers, hou nou by mekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
Laat aan die trippelaar sy pas,
maar hou die vuurge hengste vas.
Die agterstes moet ingalop
tot midde in die ruitertrop—
die ponie en die bossiekop.
Kom burgers, ry so by mekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
Trek burgers, almal nou geteld,
al vort maar deur die wye veld;
en of jul al omlaag verdwyn,
of op die heuwels weer verskyn—
wys steeds die volle slingerlyn.
Kom burgers, trek so by mekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
Jaag burgers, jaag oor rant en rots,
wanneer jul teen die vyand bots.
Ruk in, spring af en pos gevat
aan die onverwrikb're ryperd-blad.
Mik fyn, kyk waar die stoffie spat!
Staan burgers, staan dan by mekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
En moet jul val, val dan met eer,
met d’oog die vyand toegekeer!
Val op die grense, man en perd,
die oue vierkleur is dit werd
en d’ eerkroon wink al uit die vert’.
Val burgers, val dan by mekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
C. LOUIS LEIPOLDT.
SLAMPAMPERLIEDJIE.
Ek sing van die wind wat tekeer gaan;
Ek sing van die reën wat daar val;
Ek sing van ons vaal ou Karooland;
Van blomme wat bloei by die wal;
Van water wat bruis oor die klippe;
Van duikers wat draf oor die veld;
Van voëls wat daar sing in die bossies—
Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!
Vir my sing maar liewers van blomme;
Van al wat die vlei laat verkleur;
Van al wat die sonskyn laat spartel;
Van voorjaar en najaar se geur;
Vir my sing maar liefs van die water;
Van duikers wat draf oor die veld;
Van rotse en branders en wolke—
Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!
OKTOBERMAAND.
Viooltjies in die voorhuis,
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!
Dit is die maand Oktober,
die mooiste, mooiste maand:
Dan is die dag so helder,
so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
die asvaal ou Karoo.
Dit is die maand Oktober:
die varkblom is in bloei;
Oor al die seekoeigate
is kafferskuil gegroei;
Die koppies, kort gelede
nog as ’n klip so kaal,
Het nou vir welkomsgroetnis
hul mooiste voorgehaal.
Dit is die maand Oktober:
die akkerboom is groen;
Die bloekoms langs die paaie
is almal nuutgeboen;
En orals in die tuin rond
ruik jy sering en roos,
Jasmyn en katjiepiering,
lemoen en appelkoos.
Al was die dag, soos yster,
lang in die vuur gesteek,
Die varings in die klofies
deur hitte geel verbleek,
Tog as die son daaronder
agter die berge gaan,
Dan word oor heel die wêreld
die mooiste geur geslaan.
Dit is die maand Oktober:
die kokewiet is uit;
Boomsingertjies en kriekies
die hoor jy orals fluit;
Fiskaal is op die oorlog:
daaronder by die sluis,
Daar is ’n dor ou doringboom
sy spens en sy kombuis.
Dit is die maand Oktober:
ek dink, die mense vier
Vir ewig in die hemel
Oktobermaand soos hier!
Wat wens jy meer as blomme,
as helder dag en nag?
Wat kan jy beter, mooier,
of heerliker verwag?
Ek is nog in Oktober:
my tuin is nog so groen,
So wit met al wat mooi is,
met bloeisels van lemoen,
So pragtig in die môre,
so heerlik in die aand!
Ek is nog in Oktober,
die mooiste, mooiste maand!
Wat gee ek om die winter?
Wat praat jy nou van Mei?
Wat skeel dit as ons later
weer donker dae kry?
Ek is nou in Oktober,
die mooiste, mooiste maand
Met elke dag so helder,
so pragtig elke aand!
Viooltjies in die voorhuis,
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!
IN AMSTERDAM.
As ek vanaand so moedersiel
Alleen hier by die vuurherd sit,
Dan borrel my geheue op,
En maak my hart en siel uit lid;
Dan dink ek aan die veld, en aan
Die doringbome by die krans,
Waar koggelmannetjies die son
Hou vir ’n maat om mee te dans;
En aan die duine, waar die wind
’n Wierook na die see toe waai,
En aan die dam, waaroor die voëls
So vrolik in die nessies swaai;
En aan die seekoeigate, waar
Die kafferskuil en ruigte groei—
’n Donker groen die water oor,
’n Tuin, wat nooit nie word gesnoei;
En aan die koppies, waar die son
Ons Afrikaanse klippe soen,
En aan ons ou Karoo, so mooi
in al sy geil Oktober-groen!
In hier—hier waai die wind, en raas
Die strate om my; karre dreun,
Die trein daarbuite fluit en rook:
Dis orals galm, en gons, en steun!
Dis alles oud, so aaklig oud,
Die wye wêreld om my heen!
Ag-honderd jare praat met my—
En tog—ek gril en voel alleen!
Ons kom van hier; ons wieg was hier,
Of verder, in die suiderland—
Hier, waar die Watergeuse was,
Hier, waar die strate is half strand.
Ou Amsterdam, ou Amsterdam,
Met al jou pronk, met al jou prag,
Met al jou smeerge strate ook,
Jy het nog oor my siel gesag!
Ek voel, as ek hier moedersiel
Alleen so by die vuurherd sit,
Wat jy nog vir ons nasie is—
En kyk, my hart kom weer in lid!
Ons nasie? ag, die mense praat:
Daar lê iets groots in woorde! Wat
Gee ons die reg om groot te wees,
Om saam te loop op so ’n pad?
Vir tagtig jare het hul hier
Gestruikel in die duister rond,
Die dyke oopgebreek, die see
Gemaak tot bobaas van die grond;
Die land gedoop met vuur en bloed,
Die klei vir elke huis deurwerk
Met trane: so ’n stad sal staan
Vir ewig—want die klei is sterk.
En elke duim van hierdie land
Is duur gekoop met suur en smart;
En elke morge is betaal
Met stukkies van ’n mensehart:
Dit gee hul reg om trots te wees,
Dit gee hul reg om nou te pronk,
Al is dit lang gelede al,
Al is die see weer in sy tronk.
En ons? ons wil ’n nasie wees!
Ook agter ons lê vuur en bloed;
Ook ons het vir ons land gestort
’n See van trane: ja, dis goed!
Maar verder—wat? ’n Nasie word
Nie somaar soos die koring groot;
Dit moet deur werk, deur vlyt, deur smart,
Deur lewe ook word voortgestoot.
En as ek by die vuurherd sit
En in die vlamme kyk, dan voel
Ek in my siel, daar skort nog iets—
Nog iets? nog iets?—’n hele boel!
Daarbuite spook die wind weer hard;
Die vensters skudde: wat ’n nag!
Ou Amsterdam, ou Amsterdam,
Jy het nog oor my siel gesag!
IN DIE KONSENTRASIEKAMP.
(ALIWAL NOORD, 1901)
O, pazienza, pazienza che tanto sostieni!
DANTE.
Jou oë is nat met die trane van gister;
jou siel is gemartel, deur smarte gepla;
Van vrede en pret was jy vroeër ’n verkwister;
En nou, wat bly oor van jou rykdomme? Ja,
’n Spreekwoord tot steun—daar’s geen trooswoord beslister:
„Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!”
Hier sit jy te koes teen die wind, wat daar suie
Yskoud deur die tentseil, geskeur deur die haal—
Jou enigste skuil in die nag teen die buie;
Die Junielug stort oor die stroom van die Vaal—
Jy hoor net die hoes van jou kind en die luie
Gedrup van die reëndruppeltjies oor die paal.
’n Kers, nog maar anderhalf duim, voor hy sterwe,
Brand dof in ’n bottel hier vlak naas jou bed.
(’n Kafhuis gee makliker rus: op die gerwe
Daar lê ’n mens sag, en sy slaap is gered!)
En hier in die nag laat jou drome jou swerwe
’n Aaklige rondte met trane besmet.
Hier struikel die kind, wat te vroeg was gebore;
Hier sterwe die oumens, te swak vir die stryd;
Hier kom ’n gekerm en gekreun in jou ore;
Hier tel jy met angs elke tik van die tyd;
Want elke sekond van die smart laat sy spore
Gedruk op jou hart, deur ’n offer gewyd.
En deur elke skeur in die seil kan jy duister
Die wolke bespeur oor die hemel verbrei;
Geen ster skyn as gids; na geen stem kan jy luister—
(Eentonig die hoes van jou kind aan jou sy!)
Wat sag deur die wind in jou ore kom fluister:
„Geduld, o geduld, wat so baie kan ly!”
Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?
Die smarte, die angs, het so baie gepla!
Die yster het gloeiend ’n merk vir die eeue
Gebrand op ons volk, en die wond is te na,
Te ná aan ons hart en te diep in ons lewe—
„Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!”
AAN ’N SEEPKISSIE.
Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
Om hier in ons land as ’n doodkis te dien;
Hulle het op jou letters geverwe, seepkissie,
En ek het jouselwe as doodkis gesien.
Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Het hier in die kamp met sy sussie gekom—
En jy was bestem, soos jy weet, seepkissie,
Daar oorkant in England as doodkis vir hom!
Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
Was fluks en gesond, vir sy jare nog groot;
Maar hier in die kamp, soos jy weet, seepkissie,
Was hy maar drie weke, en toe—was hy dood!
Onthou jy vir Jannie? Jy weet, seepkissie,
Hy het in sy speletjies met jou gespeel;
Die son het sy krulkop geskilder, seepkissie,
So blink as sy strale, as goud so geel.
Op die Vrydagmôre, onthou jy, kissie,
Het Tannie gesê: „Ag, klein Jannie die hoes!”
En die Vrydagaand, soos jy weet, seepkissie,
Was Jannie se lewe al half verwoes.
Hulle het jou op Saterdagmiddag, seepkissie,
Gedra na sy tent as ’n doodkis daar!
Die wit gesiggie—jy weet, seepkissie,
Die handjies gevou en gekruis oormekaar.
Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
Om hier vir ons kinders as doodkis te dien:
Hulle het vir jou lykies gevinde, seepkissie,
En ek het jouselwe as doodkis gesien.
DIE OU BLIKKIE.
Wat is die ding, wat jy daar hou?
Wat droom jy oor ’n blikkie, vrou?
’n Armsalige ou blikkie?
Wat is die ding tog nou vir jou?
„Ek wil hom skoonmaak, dat hy blink
Soos silwer in die sonskyn: dink,
Die armsalige ou blikkie,
Daaruit het Gert en Griet gedrink.
„Ek wil hom met die grond hier vul,
Hier, waar die suring bloei so gul,
Die armsalige ou blikkie:
Miskien kan ek my droefnis kul.
„Ek wil daarin ’n plantjie plant,
Wat groei aan Griet haar graf se kant:
Die armsalige ou blikkie
Was vasgeklem in Griet haar hand.
„As ek so in die sonskyn sit,
So blou die hemel bo, so wit
Die armsalige ou blikkie,
Dan droom ek weer oor dat en dit:
„Ons konsentrasiekamp is daar;
Die oorlog word ek weer gewaar—
Ag, armsalige ou blikkie,
Waarom het God ons nie gespaar?
„Was Gert en Griet nie heel my hart?
Die plaas is afgebrand en ’swart—
En jy, armsalige ou blikkie,
Herinner my nog aan my smart.
„Ons kan die plaas weer opbou: ja,
Jan het al geld op leen gevra;
Maar, armsalige ou blikkie,
Kan Gert en Griet my ooit weer pla?
„Daar in die konsentrasiekamp,
Daar in ons aaklige oorlogsdamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Daar is hul lewe uitgestamp!”
Vergeet wat jy gely het, vrou:
Ons is weer vredevrinde nou!
Die armsalige ou blikkie,
Wat is die ding tog nou vir jou?
„Dit laat my dink aan Gert en Griet:
Al is dit ’n gebroke riet,
die armsalige ou blikkie
Is anker teen my sielsverdriet.
„Die plantjie, wat hierin sal groei,
Sal elke jaar opnuut weer bloei,
Ag, armsalige ou blikkie,
Al is my trane opgeskroei;
„Want ek het nog ’n traan gespaar,
Nog ’n paar sugte opgegaar,
Om, armsalige ou blikkie,
Jou plantjie veilig te bewaar.
„As ek vanaand my kers uitblaas,
Dan werp die maan ’n silwerwaas
Oor jou, armsalige ou blikkie,
En oor ons afgebrande plaas.
„Ek luister; en dit skyn vir my,
Klein Gert is weer hier aan my sy
By jou, armsalige ou blikkie,
Om weer ’n slukkie melk te kry;
„En Grietjie staan daar by die deur—
Ja, kyk, haar voorskoot is verskeur!
Ag, armsalige ou blikkie,
Hoe kan ek eensaam wees en treur?
„Die dood het albei weggehaal;
Ons plaas is afgebrand en vaal;
Maar, armsalige ou blikkie,
My hart is nog nie net so kaal.
„Solang jy op die vensterbank
Hier by my staan, so skoon en blank,
Kan ek, armsalige ou blikkie,
Nog stil wees en vir God nog dank,
„Dat Hy, toe daardie oorlogsdamp
My kinders altwee in die kamp,
Ag, armsalige ou blikkie,
Die lewe so het uitgestamp—
„Nog in my hart het hoop gegee,
Dat ek bedaard was in my wee,
Ag, armsalige ou blikkie,
Te dink, ek sien hul weer, altwee!
„Met jou het Griet en Gert gespeel,
En ek het nog in jou ’n deel;
Ag, armsalige ou blikkie,
Laat ek my maar nog iets verbeel!
„Verbeelding—dit is alles nou,
Wat ek nog het: laat my dit hou!
Ag, armsalige ou blikkie,
Jy is my anker teen die rou!”
JAPIE.
Vanmôre was Japie nog hier:
Vanaand is hy dood!
Met ’n lag om sy mond het hy bruilof gevier
Met ’n klein brokkie Engelse lood.
Vanmôre was Japie by my:
Vanaand is hy—waar?
As ’n mens maar kan weet waar hy eindlik sal bly,
Wie het dan vir die toekoms gevaar?
Vanmôre was Japie my maat:
Vanaand is hy—wat?
Sal hy nog met my lag, sal hy nog met my praat,
Of my hand in die syne weer vat?
Vanmôre was Japie ’n kind:
Vanaand is hy volleerd!
Ons het baie gestry om die waarheid, ou vrind:
Weet jy nou, wie van ons had verkeerd?
Vanmôre was Japie—nee God!
Hy is nog vir my!
Want die dood kan nie skei nie, al is dit ons lot
Om alleen op die wêreld te bly.
DIE VERKLEURMANNETJIE.
Daar op die vyeboom sit die vabond,
So sedig as ’n predikant;
Maar glo tog nie dat hy so vroom is:
Nee, regtig nie, hy is astrant!
As jy hom aanraak, dan verkleur hy:
Geel, rooi, grys, bruin en blou en groen;
En sy hele vel blink soos die skulpies
Se binnekant met perlemoen.
So teemrig sit hy op sy takkie
Die muggies met sy tong te vang,
En met sy ronde oë maak hy
Die spinnekoppe algar bang.
Hy draai sy nek soos ’n toktokkie,
Of soos ’n papie uit die klei,
En kyk so sedig na die vliegies
As hy die goed nie beet kan kry.
Arrie, ek hou van jou, kleurklasie!
Jy gaan jou lewe deur so mooi,
Jy steur jou nie aan wat die mense
So praat of skinder en flikflooi.
Jy steun op niemand nie, kleurklasie,
Net op jou takkie en jou tong:
Verkleur maar môre net soos gister,
En as jy oud word, bly nog jong!
DIE VOORTREKKER SE VAARWEL.
O vaderland, verlate vaderland;
O akkerboom en ranke wit poplier
Wat my ou plaas versier,
Daar deur die voorgeslag geplant,
Nou lomm’ryk oor my vaderhuis;
Koel skadu-takke oor die sluis
Waar na die oes die meulstroom bruis—
Vaarwel, o akkerboom en wit poplier,
Vaarwel, verlate vaderland!
O blomtuin vol met tiemie en blou violet,
O vrugboom-oord en stinkhoutpaal-prieel,
Waarom die bye speel
En heuning haal en brom uit blote pret;
Waar druiwerank geklouter stryk,
Tot boontoe teen die gewel reik
En tussen klimop-rose pryk—
Vaarwel, o vrugboom-oord en ou prieel,
Vaarwel, o tiemie en blou violet.
O ouerhuis met kafhok en met kraal,
O platklipstoep en grasbegroeide brug,
Waar saands die paddas sug,
As in die skemerlig vuurvliegies dwaal,
En die aandblomme oopgaan en die nag
Sy sluier werp oor hierdie plaas se prag,
En oor die wêreld bo die sterre wag—
Vaarwel, o platklipstoep en biesiebrug,
Vaarwel, o huis en kraal!
Ons gaan die wêreld in
’n Nuwe oord te win,
’n Nuwe land te kry
Waar ons kan lewe vry.
Vaarwel, vaarwel, al is geen weersien meer;
Vaarwel, en nog ’n keer:
Vaarwel! vaarwel! vaarwel!
DIE VLAKTE.
Waar die koorsboom sy geel aan die wêreld vertoon,
O wyd is die vlakte, die vlakte!
En geil is die groei van sy katdoring-kroon,
Wat groei op die vlakte, die vlakte.
Dis wilde boslommer, berank en beboei,
Met geilste klimop in geen jare gesnoei,
Waaronder die blou apies klouter en knoei,
Die volk van die vlakte, die vlakte!
Die rooi-geel suurknolle pryk somermaand daar,
O mooi is die vlakte, die vlakte!
Die trotsige alwyne, deftig geblaar,
Wat waak oor die vlakte, die vlakte!
Die heuningsoet peuldoring, die varings so slank,
Die bontblom wat orals die bosse oorrank,
Die moepel waarin die boomsingertjies tjank,
Hul waak oor die vlakte, die vlakte!
O plat is die pad wat hier slinger en sluip,
Dwars deur hierdie vlakte, die vlakte;
En sag is die mos wat met reënwater druip
Hier neer op die vlakte, die vlakte!
O pragtig die kleur wat die skemeraand sprei
Oor bosveld en grasveld, oor bulte en vlei,
En pragtig die groen wat die wêreld hier kry
By nag op die vlakte, die vlakte!
Die klowe is steil en die berge is hoog,
O gee my die vlakte, die vlakte!
Al is dit ook winter en alles is droog,
En geel op die vlakte, die vlakte.
O hier is dit vry en die wêreld is stil,
Met nêrens ’n weerklank, met nêrens ’n gril;
En weelde van kleure so veel as jy wil,
Hier op my ou vlakte, die vlakte!
BY BLOUKRANS.
Die koperkapel kom uit sy gat
En sluip die randjie rond:
„Dit het gereën; die veld is nat
En nat is die rooi-geel grond”
Die meerkat kom en sy ogies blink,
En hy staan orent en wag,
En die stokou ystervark sê: „Ek dink
Die reën kom weer vannag”
Maar die geitjie piep: „Dis glad nie reën,
Dis klewerig, swart en rooi;
Kom jy sulke reën in jou lewe teen
So glad, so styf, so mooi?”
En die wys ou steenuil waag sy woord:
„Dis bloed, dis mensebloed.
Dis lewensbloed wat ongestoord
Ons bossiewêreld voed.”
WOLRAAD WOLTEMADE.
(Fragment).
Vorentoe, vorentoe, strand toe, strand toe,
Bolemakiesie die branders oor!
Vorentoe, vorentoe, land toe, land toe!
Amper verdrink, en half versmoor!
Die water suis, en gis en bruis,
Die weerlig vlam die see,
Die lang seebamboes buie en breek,
Die wilde branders slaat en steek,
Die woeste wind speel mee.
Groen, donkergroen soos skemergroen
Nog voor die sterre blink,
Of soos die varkblomloof geboen
Deur dou wat dagbreek skink;
Blou, donkerblou soos wolke-blou
Waarin die donder stoom,
Of soos diep water in ’n kloof
Waar nag nog altyd droom—
So is die see tot aan die lyn
Waar see en lug kom trou,
Hieronder donkerblou en groen,
Daarbowe groen en blou.
En as die wolke swig, dan breek
Die slinger-bliksem los,
En see en hemel word ineens
In goud en glans gedos.
En oor die kraak van branders knal
Die donder oor die see
Tot Tafelberg se kranse dreun
En Duiwelskop dreun mee.
Die laaste af! Die mense roep
„Daar is nog ander daar!”
Die water dreig, die skimmel hyg,
Wie trots die doodsgevaar?
Nie jy wat praat, nie jy wat bid,
Nie jy wat staan en bewe!
Dis Wolraad weer wat nog ’n keer
Die Dood se woeste mag trotseer
Met wat hy het -sy lewe.
Kom op, ou skimmelhings, kom op
Nog eenmaal deur die see,
Nog een gered, dan kan jy rus—
Nog eenmaal deur die see!
Die buikgord vaster vasgegesp,
Dan weer die branders in,
Die skuim en seegras deurgeswem
Om vorentoe te win.
Die hoë branders deur, ou maat,
Swem skip toe, skimmel, swem!
Daar in die verte lê die skip
Waar die lantern glim.
Dis pikswart donker oor die see;
Die wind die gaan te keer.
’n Bliksemstraal maak silwer-blink
Die bokant—daar ’s hy weer!
En dan weer in die donker weg.
Ons hou ons asem; ag
Van hings en ruiter niks te sien,
En orals net die nag!
Maar weer ’n bliksemstraal se lig
Wys Wolraad by die skip,
Ons hoor sy stem: „Net één maar, één!”
Nog voor die lig verglip.
’n Sarsie uit die wolke bars
En dreun die wêreld deur,
Die weerlig verf die hele baai
Met goud en silwer kleur.
’n Tikkie tyd wat ure skyn,
Genoeg om te gewaar,
Hoe om die held die mense woel,
Hoe oor die skip die branders spoel,
Hoe nà die doodsgevaar.
Maar ag, die dof lanternskyn
Word deur die see geblus,
En skip en skimmelhings verdwyn
In duister nag gesus.
’n Aaklige tyd voor weer die blits
Die oog ’n kans kan gee,
En ag, dan wys dit net die skip
En net die woeste see.
Daar is geen spoor van held of hings,
Die Dood het weer gewin,
En gierig, gulsig oor die strand
Bruis weer die branders in.
OP MY OU RAMKIETJIE.
Op my ou ramkietjie,
Met nog net een snaar,
Speel ek in die maanskyn,
Deurmekaar.
Ek sing van Adam
En Eva se val,
Van die ou Paradys—
„Halfpad mal!”
So sê die mense
Wat my hoor speel.
As die skemer my wang soen
Soos ferweel;
As die maan my aanhoor,
En die sterre knik,
Dan speel ek kordaat voort,
In my skik.
Wat gee ek om mense
Wat sê ek ’s mal,
As die varings my aanhoor
By die wal?
Wat om my vriende—
Wat nooit nie verstaan—
As die sterre my toeknik
En die maan?
Op my ou ramkietjie,
Met nog net een snaar,
Speel ek in die maanskyn,
Deurmekaar.
INSULINDE.
Mirakelland van oerwoud en vulkaan,
Ek groet jou in jou glorie! Elke teug
Van die koel suidewind hernu my jeug,
En maak my amper kind weer, en verslaan
’n Dampwolk van gedagtes en die waan,
Dat net maar in die Wes die lewensvreug
’n Weerklank vinde, en dat trou en deug
Alleen kan bloei in lande, waar die maan
Oor louter ys en wit kapok sy glans
Op wintermôres werp. Ag, ek gewaar
My liefde groei tot byna bo verstand!
Ken ek nie meer my eie koppie en krans,
My boland-vlak van Beaufort tot die Aar?
Leen dan vir my ’n nuwe Vaderland!
AAN MULTATULI.
Kind van die noorde-wêreld, waar die kou
Van winter weerga vinde in ’n volk
Wat kalm bly as jy kokend is, en flou
En nie jou taal verstaan nie sonder tolk!
Die warmer Ooste, waar die son ontstaan,
Het jou tot man gemaak, en van jou hart
Die ysgekorste kettings afgeslaan,
En jou geleer daar lê ook vreug in smart,
En in ellende grootsheid! Ek, as een
Met wie die Ooste ook gepraat het, gee
Hier waar Adinda’s spook by maanlig ween
Oor Saidjah’s graf in eensaam stille wee,
My huldegroet aan jou as blyk daarvan—
Apostel, hoëpriester, lyder, Man!
DIE BESTE.
Geil lusern in die laagste landjie,
Geil groen blare en blomme blou,
Alwyn rooi op die voorste randjie,
Rooi soos bloed teen die rotse grou;
Somer en son en safier daarbowe,
Ruik van die keurbos rondgesprei,
Kort klein skaad’wees oor die klowe;
Somer en son en safier vir my!
Wonder van kleure uitgesprei—
Wat is daar meer wat die dood berowe?
Somer en son en safier vir my!
Hoog oor die water skommel die vinkies,
Vol van die vreug van die somerdag;
Bly die gekwetter van klein tinktinkies,
Blyer die son wat goudgeel lag.
Algar wat lewe, algar tevrede,
Hoog op die heuwel en laag op die vlei;
So was dit gister en so is dit hede,
Somer en son en safier vir my!
Heer, wat die hemel oor my sprei,
Dit is my eerste en laaste bede:
Somer en son en safier vir my!
Het jy ’n vrind wat jou hand kan vashou?
Vrinde vergaan en faal in nood!
Het jy ’n vyand, jou grootste las nou?
Vyande, vrinde gaan algar dood!
Wat ’s dit vir my as die gras vergrys word?
Somer aal kom met sy groen daarby.
Wat as in winter die water ys word?
Somer en son en safier sal bly!
Boetie, ek vra jou: wat sê jy?
Wat ’s dit vir ons as die gras vergrys word?
Somer en son en safier sal bly!
Roem van mense, rykdomme, pragte—
Alles vergaan soos die mis op die vlei;
Sterre wat skiet in pikdonker nagte,
Het langer lewe dan roem kan kry.
Boetie, as ons nou ’n keus moet wae
Hier op die wêreld, wat vra jy?
Roemryke lewe en lengte van dae?
Somer en son en safier vir my!
Boetie, as jy nou jou keus kan kry,
Wat is die wens wat jou hart sal wae?
Somer en son en safier vir my!
D. F. MALHERBE.
DIE LIED VAN DIE NAGWIND.
Ek lê op my bed, so onrustig—
dis middernag lank al verby;
en ek hoor hoe die nagtlike koelte
deur eike en denne sig sprei.
Dit ruis nes die siltige waters,
wat daar skuif oor die sandige strand,
gehoor deur die wandelaar van verre,
wat seewaarts hom haas oor die land.
O nagwind, o nagwind, kom sê my,
wat spreek tog jou ruisende lied?
Vertel jy ’n tyding van liefde?
Bring jy vrede of wee en verdriet?
Dit is my of duisende stemme
van mense reeds lang weggekwyn,
vermeng met jou ruisende sugte
hul eggo van droefheid en pyn.
Die voorsang van duisende wesens,
nie-gebore, vertolk my jou sug,
die lied van hul komende weedom
die dra jy so sag deur die lug.
O nagwind, ek hoor maar deurgrond nie
jou klaende, suisende sang—
my harte klop sneller en sneller,
my kinderlik harte word bang!
AWENDBLIK.
Oor ver, verre lande;
oor blou, bloue rande
sien ek vliesige wolkies verspreid—
oor hoog, hoë gronde
sag gewieg, ongebonde—
die lug welf so blou en so wyd.
Oor ver, verre lande,
oor blou, bloue rande;
deur die aandson se strale beskyn,
sien ek vry, ongemete
ongemerk en vergete,
die wolkies so stil-stil verdwyn.
Nes die vlugtige beelde
van die sterwend vergeelde
wolke, in die lugte verspreid,
so sink daar geslagte
soos ’n vlieënde gedagte
in die eindlose ruim van die tyd.
NA DIE DROOGTE.
Gestil is ons klae,
die droewige dae
van wanhoop en wee is verby;
die blinkende komme
en geurende blomme
bedek nou die vlakte en vlei.
Langs eensame hutte
en stofdroë putte
woel nou weer mense en vee;
aan damme en kolke
het die loodsware wolke
hul stromende gawe gegee.
Weer beur uit die gronde
die grassies ontbonde,
van hul sluimerende broeislaap bevryd,
en sprei oor die sande,
om kaal-nare rande
’n groenende, sagte tapyt.
Die kaal afgesnoeide
en deur sonbrand verskroeide
bossies die spruit alweer mooi,
en die saadjies die vul weer,
die blaartjies die krul weer,
deur die sonlig se strale genooi.
Die westewind streel weer,
die westewind heel weer
die wond, wat hy ru het geslaan;
en sy luggie die swewe,
bring lus en bring lewe
o ver soos die hooglande gaan.
In die veekraal se kaalte,
langs die voetpad se vaalte
woel die kalwers op huppelende gang;
en daar ver uit die vleie,
waar die skaaptroppe weie,
kom die stygende lammergesang.
In hul soekende vrae,
in hul angstige klae
meng sig dof die moeder-gekreun;
en dit swel tot akkoorde
in die eensame oorde,
wat swaar en stadigies dreun.
Hoor die lied van die velde,
wat die skape vermelde,
as die môreson hulle beskyn!
Hoër geswewe,
bo rande verhewe,
versterwe die sware refrein.
My harte juig mede
en my dankbare bede
word éen met die skape se lied;
en saam klim na bowe
om die Skepper te lowe,
ons lofsang na swaar en verdriet.
As die vrolik en blye
gansies in rye
so glad oor die watertjies gly,
en gesèls so plesierig
en snap weer so gierig
na kossies, orals gesprei;
as die doodsheid verby is,
kos volop te kry is
en die voëltjies weer lewendig sing;
as die vlak in sy weelde
sy ryker bedeelde
gawe aan wat lewe, kom bring:
dan herleef ook my harte
deur geen kwelling, geen smarte,
geen donkere beelde gedruk;
en vry soos die winde,
deur geen bande te binde,
styg my siele en droom van geluk.
Verby is ons klae,
die droewige dae
van wanhoop en wee is verdwyn;
en ’n luggie die swewe,
bring lus en bring lewe
so ver soos die hoogvelde dein!
DIE ROOSKNOPPIE.
Daar onder in my tuintjie,
daar staat ’n boompie teer;
daaraan sit net één knoppie—
één roseknop, nie meer.
Elke aand en elke môre
gaan ek die knoppie kyk;
die hoop straal uit sy ogies—
hy sal as rosie pryk!
Die stormwind is gekome,
die takkie afgeskeur,
die blaartjies is verlep al—
die knoppie geel gekleur!
Ek sien so menige knoppie
in die wêreldgaarde groei;
die hoop straal uit die ogies—
maar ag,—geen rosie bloei!
O LANDE VOL GRAAN.
Vlakte aan vlakte, oor heuwels heen,
lande vol groen, vol golwende graan!
Breed sprei die sonlig sy stralende seën
oor swellende saad met beloftes belaan.
Aan miljoene, miljoene van buiende blaar
hang die windjie se asem in ruisend gesweef...
hoor die sug van verlange uit die swellende aar,
die stem van die lente wat sê: ek wil leef!
Verlange wat groei met die stygende son,
verlange om te ryp tot goudgeel prag—
so sterk soos die drang van ’n borrelende bron,
om te beur uit die aarde na die lig van die dag.
Die stem van die wind oor die halmgekoes,
halms nog groen van jong geluk—
is die siddering van hoop op die somer se oes
as die waens sal kraak van die gerwe se druk.
So ver as my oog oor die buiende blaar
kan wei, staan die grond met groenheid oorlaan;
en my siele wieg mee met jul spelend gebaar—
o belowende, lewende lande vol graan!
DIE SEE IS VOL VAN EWIGHEID.
Die see is vol van ewigheid,
van golwedeining op en neer—
tot wiegelwêrelde uitgespreid,
op maat van eindloos kom en keer.
Uit watergraftes diep gedolf,
rys langvergete mensewee;
die winde dra van golf tot golf,
van golf tot kus die treursang mee.
Die see is vol van klaaggeluid,
van stemme wat geen rus kan kry,
van siele wat eeu-in eeu-uit
in smart-herhaling hooploos ly.
Oor waterwydtes om en om
tot marmerrand van verre kus—
ruis daar van oos tot wes, alom,
’n eeuesang van nimmer-rus.
Die golwe kom, die golwe keer,
in vrolike spel van sonne-lus,
in pikswart nag van stormeweer—
en sing hul lied van nimmer-rus.
Daar ’s ewigheid in seegeluid,
in ver gedreun van kus tot kus—
waar golwe wieg eeu-in eeu-uit
op maat van nimmer-nimmer-rus.
SLAAP.
Wat is die slaap ’n wondersoete ding!
Sag op haar bloue oë daal die vaak,
soos maneskyn diep waterkuile raak
om daar te droom in silwer skemering.
Vir laas beef oor haar lippe ’n fluistering:
„Nag, Pappie.” Ek merk, hoe langsaam hy genaak,
wat drome soet tot werklikhede maak....
in vaderarme rus my lieweling!
Sluit so my oë, God, wanneer vir my
U Engel wink ter laaste, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan soete drome huistoe sus
en sterke Hand deur duisternisse lei....
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus!
H. H. JOUBERT.
DIE TREK DRAKENSBERG AF.
Die reuse-top rys hoog uit bo die wolke
en tronend siet op wasige oorde neer.
Daaronder gaap die grondelose kolke,
ombruisd met golwe van een lowermeer.
Daar skram en skuur die duisend wae-wiele
en sukkel knarsend oor die klippe heen,
dog liewend wieg ’n duisendtal van siele—
hul troue troos by rouklag en geween.
En steen op steen skuif klotsend langs die wande
en spring die duiselende steiltes af,
om diep en stil in donk’re oewersande
hul rus te vinde in ’n eeue-graf.
Die eggo’s rommel deur die diepe klowe;
die sku’ bewoners van geheime woud
verstom en tuur in bewing heen na bowe,
besorgd om hulle skoon kasteels behoud.
DINGAAN SE GESANTE DOEN RAPPORT AAN HOM.
Koning, O! koning, die witmense stroom
in duisende, duisende, duisende aan.
Die swierige bos en die tronende boom
word gemartel, vermorsel, vermink op hul baan.
Hul withuise skommel en rommelend rol
en vergruisel die gras tot verstuiwende stof.
Die buiende velde van lewe is vol,
maar geen stroompie murmel ’n liedjie van lof.
Koning, O! koning, Silkaats is verslaan;
op sy magtlose ryk rus die doem van die dood.
Selfs die olifant buk voor die taaie tiraan.
O! koning, ontwaak, daar’s gevaar, daar is nood.
Die witmense steier op perde geswind,
deur die duikende dal tot die berge hul kam.
Geen mag kan weerstaan hulle wrede bewind,
geen assegaai staan teen hul kwaaie mabam. [5]
Koning, O! koning, die berge die beef
en die klowe weerklink met ’n vreemde gesang;
die dale die wemel, die velde die leef,
en alomme verbrei sig een vreemde gedrang.
Ruk aan met die Skilde, die Wildebees-skilde;
ruk aan met die fleur van u vegtende mag;
ruk aan en stort met ’n woeste, ’n wilde,
’n vernielende sprong op die tiraangeslag!
|