The Project Gutenberg eBook of Digters uit Suid-Afrika

This ebook is for the use of anyone anywhere in the United States and most other parts of the world at no cost and with almost no restrictions whatsoever. You may copy it, give it away or re-use it under the terms of the Project Gutenberg License included with this ebook or online at www.gutenberg.org. If you are not located in the United States, you will have to check the laws of the country where you are located before using this eBook.

Title: Digters uit Suid-Afrika

Editor: E. C. Pienaar

Author: Jan F. E. Celliers

C. Louis Leipoldt

Daniel François Malherbe

Totius

Release date: March 10, 2013 [eBook #42302]
Most recently updated: October 23, 2024

Language: Afrikaans

Credits: Produced by Steffen Haugk

*** START OF THE PROJECT GUTENBERG EBOOK DIGTERS UIT SUID-AFRIKA ***

Digters uit Suid-Afrika.



BLOEMLESING

UIT DIE POËSIE VAN DIE

TWEDE AFRIKAANSE-TAALBEWEGING


DEUR

Dr. E. C. PIENAAR,

PROFESSOR AAN DIE UNIVERSITEIT VAN STELLENBOSCH.

Vierde, vermeerderde druk.

(Regte van herdruk voorbehou.)
J. H. DE BUSSY, Beperk,
PRETORIA.
HOLL.-AFRIK. UITGEVERS-MIJ. v/h. J. DUSSEAU & Co.,
KAAPSTAD
1922.

AAN DIE LESER.

Hierdie bloemlesing was aanvanklik bestem hoofsaaklik vir Nederlandse lesers, en daarom van ’n inleiding in Nederlands en ’n verklarende woordelys voorsien. As sodanig is dit sedert sy eerste verskyning in 1917 tweemaal herdruk geword.

Aangesien die bundel egter van die aanvang af in Suid-Afrika veel meer aftrek gevind het dan elders, en ons letterkundige produksie sedert die tyd sodanig toegeneem het dat die bundel in sy oorspronklike vorm geen juiste beeld meer vertoon van die teenswoordige stand van ons Afrikaanse verskuns nie, het ek dit wenselik geag om die vierde druk nie alleen te hersien en aan te vul nie, maar dit ook ’n suiwer Afrikaanse stempel te verleen. Daarom val die oorspronklike inleiding en woordverklaring hier weg, en word verder al wat Nederlands was deur Afrikaans vervang.

Sedert die tyd het daar ook van my hand ’n breedvoerige studie verskyn oor die „Taal en Poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging”, waarom ek dit oorbodig beskou om hier ’n nuwe inleiding by te voeg.

Hierdie vierde druk is dus meer dan ’n blote herdruk, nie alleen omdat dit ’n uitgebreider en meer oorsigtelike keuse bevat as die vorige drie nie, maar ook omdat die oorspronklike keuse hier en daar gewysig is volgens latere insigte.

Verder word bo aan iedere bladsy die naam van die bundel vermeld, waaraan die gedigte ontleen is. Die spelling is konsekwent gemoderniseer-met ’n apologie aan die digters wat nog hulle eie spelling volg!

Ek vertrou dat die bundel in sy nuwe vorm nog beter aan sy doel sal beantwoord as voorheen.

Die Saamsteller.

Stellenbosch,
Okt. 1921.


INHOUD.


JAN F. E. CELLIERS.

Gebore 1865 op Wellington. In 1874 met die ossewa na Pretoria, waar sy vader oprigter en eerste redakteur geword het van „De Volkstem”. Studie op Pretoria, Stellenbosch, Wellington en Delft (1887-1890). Landmeter, later staatsbibliotekaris op Pretoria (1894-99). Op kommande tot die end. Na die Engelse oorlog met gesin na Europa-letterkundige studie. In 1907 terug na Suid-Afrika. Medeoprigter van „Die Brandwag”-taalpropaganda. Werksaam aan die Dept. van Binnel. Sake, Pretoria. Sedert 1918 buitengewone Professor op Stellenbosch.

Bls. 
Die Vlakte
 1
Die Ossewa
 4
Trou
 5
Die Laaste Aand
 6
Die Brand
 8
Die Kampsuster
11
Dis al
12
Afrikaner-troos
13
Klein Ondeug
14
’n Snaakse Vryery
15
Die Murasie
19
Aardgeeste
20
Dingaansdag
22
Stille werkers
24
Wag-hondjies
24
President Steyn
25
Komaan!
26
Ma en Pietjie
27

TOTIUS (Dr. J. D. DU TOIT).

Gebore 1877 in die Pêrel. Seun van Ds. S. J. du TOIT, die vader van die „Eerste Afrikaanse-Taalbeweging”. Studie in Daljosafat (Hugenote Gedenkskool), Burgersdorp en Amsterdam. Na sy terugkeer predikant op Potchefstroom (1903) en sedert 1911 Professor aan die Teologiese Skool aldaar.

Bls. 
Die lied van die ossewa
 28
Vergewe en Vergeet
 30
Die Os
 31
Moselekatse
 32
Die drie Kindertjies
 35
Vegkop
 36
Repos Ailleurs
 37
’n Sprokie
 38
Dit is Nag
 39
Daar ruis ’n Lied
 40
Stof
 41
Die Sterretjie
 43
Die oue Put
 44
Oggendstond op ’n Boereplaas
 46
Perdekraal-laer
 48
Die Vierkleur is weer in gevaar
 50

Dr. C. LOUIS LEIPOLDT.

Gebore 1880 op Worcester. Sy vader predikant op Clanwilliam, waar LEIPOLDT sy kinderjare deurgebring het. Sedert 1897 medewerker aan „Het Dagblad”, later aan „The South African News”. Oorlogskorrespondent van verskillende buitelandse blaaie gedurende die Engelse oorlog. Studie in die medisyne in Londen (1902-07). Na groot reise deur Europa, Amerika, Wes- en Oos-Indië as medikus gevestig in Londen. In 1914 terug na Suid- Afrika en sedert die tyd mediese skool-inspekteur in Transvaal.

Bls. 
Slampamperliedjie
 52
Oktobermaand
 52
In Amsterdam
 55
In die Konsentrasiekamp
 58
Aan ’n Seepkissie
 59
Die ou Blikkie
 61
Japie
 64
Die Verkleurmannetjie
 65
Die Voortrekker se vaarwel
 66
Die Vlakte
 67
By Bloukrans
 68
Wolraad Woltemade
 69
Op my ou Ramkietjie
 72
Insulinde
 73
Aan Multatuli
 73
Die Beste
 74

Dr. D. F. MALHERBE.

Gebore 1881 in Daljosafat (Pêrel). Skoolmaat van Totius op die Hugenote Gedenkskool. Studie in die Lettere op Stellenbosch, daarna in Freiburg (Duitsland). Na sy terugkeer onderwyser op Carnarvon-taalpropaganda. Sedert 1918 Professor in Afrikaans aan die Grey Universiteitskollege op Bloemfontein.

Bls. 
Die Lied van die Nagwind
 76
Awendblik
 77
Na die Droogte
 77
Die Roosknoppie
 80
O Lande vol Graan
 81
Die See is vol van Ewigheid
 82
Slaap
 83

H. H. JOUBERT.

Gebore 1874 op Murraysburg. Onderwyser. Sedert 1905 prokureur-notaris op Middelburg (Transvaal).

Bls. 
Die Trek Drakensberg af
 84
Dingaan se Gesante doen rapport aan hom
 85
Op die Laers aanswerwende Soeloe-hordes
 86
Moeders Skat
 87
Lente-oggend
 88
Donderweer
 90
Dageraad
 91

Adv. C. J. LANGENHOVEN.

Advokaat-joernalis op Oudtshoorn. Later lid van die Kaapse Provinsiale Raad, waar hy in 1914 die erkenning van Afrikaans as voertaal by die laer en middelbaar onderwys bewerkstellig het. Daarna lid van die Volksraad en tans van die Senaat.

Bls. 
My onherroeplike Kinderdae
 92
Besit en Gebruik
 93
My eie-ek
 93
Laster huldig, Roem beskuldig
 94
Die Mot en die Kers
 94
Aan die Renegaat
 95
Die Openbaring van die Waarheid
 95
Liefde’s onsin
 96
Die Stem van Suid-Afrika
 98

EUGÈNE MARAIS.

Advokaat-joernalis op Pretoria. Een van die voorlopers van die nuwe Taalbeweging.

Bls. 
Klaas Vakie
 100
Winternag
 102

Dr. A. D. KEET.

Gebore 1888 op Alice. Studie in Kaapstad en Amsterdam. In 1918 bevorder tot arts. Sedert 1920 as geneesheer gevestig op Senekal.

Bls. 
Amsterdam
 103
Kinderlied
 104
As saans
 104
Awendmymering
 105
Bekoorlik Kind
 107
Probleem
 107
Sneeu
 108
Muskiete-jag
 109
Slagvaardig
 110
Dingaansdag
 111
Die twee Boodskappers
 112
Maar één Suid-Afrika
 115

Dr. TH. WASSENAAR.

Gebore 1892 op Middelburg (Transvaal). Sedert 1910 student in die medisyne in Amsterdam. In 1918 bevorder tot arts. Daarna as geneesheer gevestig op Lydenburg.

Bls. 
See-sonnet
 116
Bergtoppe
 117
Op die Toring
 118
Nag
 119
Kennis en Gevoel
 120
Diepte
 121
Stille Vriende
 122
Middaguur
 123
Aandliedjie
 124
Die Windjie
 125
Aan Holland
 127
Op die Dood van President STEYN
 128
Die Slag by Bloedrivier
 129

Adv. H. A. FAGAN.

Gebore 1889. Studie op Stellenbosch en in Londen. In 1913 bevorder tot advokaat. Daarna onder-redakteur van „De Burger”. In 1920 Professor in Romeins-Hollandse Reg aan die Stellenbosse Universiteit. Sedert 1921 as advokaat gevestig in Kaapstad.

Bls. 
Ouboeta
 132
Op Knysna-strand
 133
Soos die Windjie wat suis
 134

Adv. F. VAN DEN HEEVER.

Gebore 1894 op Heidelberg (Transvaal). Studie op Ermelo en aan die T. U. K. (1914-16). Tans as advokaat gevestig op Windhoek (Suidwes-Afrika).

Bls. 
Rit-rympie
 135
Wie in Glaashuise woon
 137
„’n Speeltoneel”
 138
In die Hoveld
 139
Sondag-môre
 140
Die Verhuising van CUPIDO
 141

J. R. L. VAN BRUGGEN.

Gebore 1895 op Johannesburg. Studie aldaar en aan die T.U. K., waar hy in 1919 die M. A.-graad behaal het in Ned. Lettere. Verdere studie in Amsterdam, waar hy in 1921 Doktoraal-eksamen in Filosofie afgelê het.

Bls. 
Die Koket
 142
Lenteliedjie
 143
’n Simpel Liedjie
 143
Aan Generaal DE LA REY
 144
Die Dood van die Ossewa
 145
Heimwee
 147

JAN F. E. CELLIERS.


DIE VLAKTE.

Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
      ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
      ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
      skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur
      wat my swyend omsluit.

Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot
      bo die diep van die meer;
en volswanger van lewe ’t oor waat’re geswewe
      die gees van die Heer.
Uit die woelende nag van haar jeugdige krag
      brag die aarde voort
Lewiátans-geslagte, geweldig van kragte—
      storm-ontruk aan haar skoot.
Diep in my gesteente berg ek hul gebeente—
      die geheim van hul lewe en lot;
maar gewek uit die sode herleef uit die dode,
      na die ewig hernuwingsgebod,
die stof van d’ verlede in vorme van d’ hede,
      in eindeloos kome en gaan;
wat die dood my vertrou ’t, ek bewaar dit as goud,
      en geen grein sal ’k verlore laat gaan.

As die son oor my vloer in die môre kom loer
      en die dou van my lippe kus,
dan kyk ek net stom met ’n glimlag om
      en lê maar weer stil in my rus.
Hoog bowe die kim op sy troon geklim,
      is hy heer van lewe en dood;
na wil en luim geef hy, skraal of ruim,
      verderf of lewensbrood.
Uit gloeiende sfeer brand hy wreed op my neer
      tot my naaktheid kraak en skroei,
en my koorsige asem in béwende wasem
      al hygend my bors ontvloei.
In sy skadetjie rond-om sy stam op die grond
      staat ’n eensame doringboom,
soos die Stilte op haar troon, met dorings gekroon,
      wat roerloos die eeue verdroom.
Geen drop vir die dors aan my stofdroë bors:
      my kinders
[1] versmag en beswyk,
en die stowwe staan soos hul trek en gaan
      om my skrale dis te ontwyk.

Soos ’n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
      kom ’n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot ’n stapelbou
      van marmer wat krul en leef—
kolossaal monument op sy swart fondament,
      waar die bliksem in brul en beef.
En o, met my is die windjies bly:
      hul spring uit die stof orent,
en wals en draai in dwarrelswaai
      oor my vloer, van end tot end;
die gras skud hul wakker om same te jakker
      tot hy opspring uit sy kooi,
en soos mane en sterde van jaende perde
      sy stengels golf en gooi.
Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
      kom die eerste druppels neer,
tot dit ruis alom so deur die gebrom
      en gekraak van die donderweer.
Met kloue vooruit om te gryp en buit
      jaag ’n haelwolk langs verby,
soos ’n perde-kommande wat dreun oor die lande
      vertrap en gésel hy—
en sy lyke-kleed sien ek ver en breed
      in die awendson gesprei.

Stil in die duister lê ’k so en luister
      hoe die spruite gesels en lag;
maar bowe die pak van my wolkedak
      het die maan al lank gewag:
nou breek en skeur hy ’n baan daardeur
      om te deel in my vreug benede;
hy sprei die waas van sy romig-blou gaas—
      en ek lag so stil-tevrede.
Plek op plek, soos die wolke trek,
      sweef die skaduwees onder mee,
soos eilande wyd oor die waat’re verspreid
      op die boesem van die grote see.
Met ’n afskeidskus gaat die maan ook ter rus
      en ek wag op die daeraad—
so skoon en so mooi soos ’n fris jong nooi
      wat lag in haar bruidsgewaad.

Oor die bulte se rug slaat die gloed in die lug
      van brande wat ver-weg kwyn,
en doringbome fluister in die rooi skemerduister
      van gevare wat kom of verdwyn.
Uit slote en plas, uit die geurende gras,
      styg ’n danklied op ten hemel;
en dis net of ek hoor hoe die kriekies se koor
      weergalm uit die sterre-gewemel,
waar wêrelde gaan op hul stille baan
      tot die ende van ruimte en tyd.
So, groots en klaar, staat Gods tempel daar,
      wyd—in sy majesteit.

[1]Die wilde bokke, wat in klompe wegtrek by groot droogte.


DIE OSSEWA.

Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hul skowwe—
hul dra dit getroos en tevree.

En stille, al stuiwend en stampend,
kom stadig die wa agterna—
die dowwe rooi stowwe, al dampend,
tersy op die windjie gedra.

Die middagson brand op die koppe,
gebuk in hul beurende krag;
hul swaai heen en weer in die stroppe—
en ver is die tog van die dag.

Dit kraak deur die brekende brokke:
die opdraans is ver en is swaar;
dit knars in die knakkende knokke,
maar hul beur, en die vrag bring hul daar.

So, stom tot die stond van hul sterwe,
blyf ieder ’n held van die daad—
Hul bene, na swoege en swerwe,
lê ver op die velde verlaat.....

TROU.

Ek hou van ’n man wat sy man kan staan;
ek hou van ’n arm wat ’n slag kan slaan,
          ’n oog wat nie wyk,
          wat ’n bars kan kyk;
en ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan!

Vas soos ’n berg van grou graniet
op vaderlands-grond, sy hartsgebied,
          aan haar getrou
          soos aan kind en vrou,
en wat in haar ere ook syne siet.

Ek hou van ’n man wat sy moeder eer
in die taal uit haar vrome mond geleer,
          en die bastergeslag
          in sy siel verag
wat, haar verstotend, hulself kleineer.

Die oog wil ek sien wat ’n traan nog ween
vir ’n heldegeslag, in hul rus daarheen,
          maar ’n blits van trou
          in die traan van rou,
wat aan liefde weer gee, wat haar bron is ontleen.

Vir my d’ Afrikaner van durf en daad,
wat Mammon’s eer en loon versmaad,
          sy hoof en sy hand
          vir sy volk en sy land
en ’n trap van sy voet vir laag verraad!

O, ek hou van ’n man wat sy man kan staan;
ek hou van ’n daad wat soos donder slaan,
          ’n oog wat nie wyk
          wat ’n bars kan kyk;
en ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan!

DIE LAASTE AAND.

          Nog nie na bed!
          Wat ’n pret, wat ’n pret,
          met jurkies aan
              en voetjies bloot
          so met Pappie te rol
          en stoei en stoot!

Ja, laat mag hul speel, het Mammie gesê,
voor Pa hul vanaand in hul bedjie sal lê.
Maar, verleë soek Breggie by Mammetjie skuil,
vra soetjies aan haar waarom Paatjie tog huil?
Nog nooit by hul speul’tjies het hy dit gedoen—
en so dikwels tot selfs die klein voetjies gesoen.

          * * *

Wyd oor huis en velde
rus al lang die nag
as so by die bedjies
twee nog bid en wag,
wakend tot die môre—
wrede skeidings-dag.
„Vader in U hoede
lê ons hulle neer,
gee ons eendag, Vader,
aan mekander weer.
Wil, Vader, oor ons huisie waak,
dat leed nog honger dit genaak.”

Droom-verlore dotjies,
rustend naas mekaar,
hoor gebed nog klae,
weet van geen gevaar,
met één troos tevrede:
moeder is nog daar,
om die ogies moeg en vaak
met haar soentjies toe te maak.

En na ’n diepe suggie
gaan die borsies teer
so in stille sluimer
stadig op en neer;
handjies sag en roserooi
bo die hofies opgegooi—
reine handjies, sonde-leeg,
handjies waar geen las op weeg.

DIE BRAND.

Dit is die winterwind wat waai,
al wenend deur die lange nag,
al wenend om die verre dag;
die twye swenk, die takke swaai—
dit is die winterwind wat waai.

Hy sleep die sug van eeue mee
uit dieptes van die diepe see,
en waar vergane skepe rus
op menig maan-gebleekte kus;
hy sing van lang vergete wee,—
hy bring die sug van eeue mee.

Hy kom oor velde ver en wyd,
oor grafte in hul eensaamheid,
waar moeders van hul sorge rus,
waar kindersnikkies is gesus—
dit is die lied van d’eensaamheid,
hy kom oor velde ver en wyd.

          * * *

„My ma, ek hoor van verre om
’n dreuning oor die velde kom!”
„Dit is die bome in die wind,
die wilgertakke kreun, my kind.”

„My ma, ek hoor my brakkie huil,
wat sou daar kruip, wat sou daar skuil?”
„My kind, die nag is koud en lang,
die diertjie is alleen en bang.”

„My ma, dit dreun al in die rond
soos perdehoewe op die grond;
my ma, wat lig daar soos ’n vuur
van buite op die kamer-muur?
My ma, daar brand die koring-miet!”—
„My kind, die Heer Se wil geskied!”

          * * *

Is daar ’n beul so woes en wreed
wat manne-eer en plig vergeet,
met onskuld en met swakheid lag
en uitdryf in die winternag?

Is daar ’n hand wat nie ontsiet
die liefste wat Gods aarde bied,
die skoonste gawe uit Gods hand—
die vaderhuis in die vaderland?

Dis heilig grond, dis heilig grond,
die plekkie waar ’n wiegie stond
en waar ’n jonge moeder bly
haar kindjie se eerste skrede lei;

waar sy die lippies, jong en teer,
hul eerst’ gebedjie het geleer,
en waar sy lange nagte vaak
vol angs en kommer het gewaak.

’n Stille vrede dra die plek
waar, om die witte tafel-dek,
die etens-ure so om haar
die blonde koppies het vergaar.

En uit herinn’rings bly verlee,
vergange dae se soete wee,
berg elke hoekie so sy deel;
O wee, wie ’n hart die skat ontsteel!

          * * *

Daar staat ’n moeder met haar kind
allenig in die winterwind—
en niemand wat haar trane siet,
en niemand wat haar trooste bied.

En wilde vlamme strooi dit wyd,
die vrug van lange lewensvlyt—
in vonke deur die lug gesaai,
in vonke wat die wind verwaai.

Haar kindjie aan haar bors gevou
beskut sy teen die winterkou—
die trane wat sy swyend ween,
so op haar wang tot ys versteen.

En winterwinde sing die lied
van eensaamheid en stil verdriet;
en sonder weerklank sterf die klag
op wye velde in die nag,
al sugtend deur die gras se saad—
en verre is die daeraad.

Die twyge swenk, die takke swaai,
dit is die winterwind wat waai....

DIE KAMPSUSTER.

Suster Anna, ek voel dis die dood wat kom:
slaat ope die tentdoek, na buitekant om,
dat my oë vry oor die bulte gaan—
Suster Anna, ek hoor ’n kerkklok slaan.

Ek hoor hoe die kindertjies roep vir my;
van ons klompie moes ek nog die laaste bly.
Kom neem tog my hand, soos jy dikwels doet—
ag, altyd was Suster vir ons so goed.

My man, hy lê ver langs Toegela-stroom af,
en niemand weet waar of hy rus in sy graf;
ag Suster, en neem nou die Heer nog vir my,
dan is Pieter allenig nog owergebly.

Ek weet hy bly staan met sy roer in sy hand—
ja, trou tot die dood, vir sy volk en sy land;
en mog dit so wees dat die Heer hom behoed,
so bring hom tog, Suster, sy moeder haar groet.

En sê vir hom, selfs op die donkere rand
het jy vrese nog bewing gevoel aan haar hand;
en dit was haar troos, dat haar Pieter sal hou
aan sy God en sy land, aan sy ere en trou.

Die kindertjies, Breggie en Japie en Faan,
het Suster die een ná die ander sien gaan;
en jy sê daar ’s ’n plekkie vir my nog gebly,
waar moeder kan rus aan klein Fanie se sy.

Die ou huis se murasie staat swart en ontbloot,
waar almal so saam was om moeder haar skoot;
maar ver van die huis en verstrooi deur die land,
rus almal tog saam in die Here se hand.

Oor die velde kruip saggies die awend se grou;
maar Suster, ek sien nog die hemel se blou.
Daar rol ’n gedreun oor die bulte aan—
Suster Anna,—ek hoor ’n kerkklok slaan!...

DIS AL.

Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en ’n voël draai bowe
in éensame vlug—
  dis al.

Dis ’n balling, gekom
oor die oseaan,
dis ’n graf in die gras,
dis ’n vallende traan—
  dis al.

AFRIKANER-TROOS.
(Histories.)

So eenkeer elke sestien jaar
  kom daar ’n tyd—jul weet dit wel—
dat al die sterre, hot en haar,
  soos vuurwerk deur die hemel snel.

So was ek eenkeer op die pad—
  dis lange jare al verby;
ek kom die aand op Seekoegat—
  daar gee hul toe ’n bed vir my.

En kyk, daar kom toe in die nag
  so’n sterre-reën op ons neer;
geen mens had aan so wat gedag—
  en dat dit erg was, kan ek sweer.

Die hele huis raak in rumoer,
  die honde blaf, die hoenders kraai;
maar, moeg van heeldag ry en roer,
  slaap ek so deur die heel lawaai.

Daar voel ek iemand stoot my aan.
  Ek roep: „Wie’s daar?” en draai my kop,
Die goeie tante sien ek staan,
  en saggies sê sy: „Neef, staat op,”

Ek sien sy lyk so bleek en naar;
  dus vra ek gou: „Wat skort d’r aan?”
Sy sê: „Die laaste dag is daar,
  en netnou sal die wêr’ld vergaan.

Kom sit by ons daar binne nou—
  ag neef, hoe kan j’aan slaap nog dink?
Ons tyd is kort, kom laat ek jou
  tog eers ’n koppie koffie skink!”

KLEIN ONDEUG.

Klein ondeug, moeders sorg en skat,
  haar lus, haar las, haar vreug—
hy vroetel hier, hy snuffel daar,
hy pluk die hele huis deurmekaar—
  keer voor daar!—liewe deug!

Te laat! Daar gaat die koppie al,
  en stukkend op die vloer.
Knor jy hom, jy kry knor terug,
of nydig smyt hy ’m op sy rug
  en trappel fluks tamboer.

Hy ’s kort-kort by die waterbak,
  al jaag jy hom elke maal:
jou Sondagstewels kry hul bad;
dan is dit weer die arme kat
  wat jy daar uit moet haal.

Al trippe-trap die mure langs
  kan jy sy stappies hoor;
hy ’s weg en stil nou, soos ’n muis—
maar glo my nou’s dit glad nie pluis:
  kom, hier is al sy spoor.

Daar het jy ’t al, die muurpapier
  in repe afgetrek,
geskeur in stukkies, klein en kort,
die inkpot daarop uitgestort
  en hy—één swarte vlek!

Daar val meteens die solderleer,
  ja, soos ’n donderslag!
Ons loop te hulp met grootste haas—
daar sit die kleine vent daarnaas
  en skater soos hy lag!

Dis brabbel-praat, dis woel en val,
  van smôrens vroeg tot laat;
dis koppie stamp, en huil en lag
so twintig male elke dag,
  tot basie kooi-toe gaat.

Die laaste soentjie is van haar
  wat sorg nog las ooit heug.
Met mond en pootjies skoon gewas,
slaap nou klein ondeug—moeders las,
  haar skat, haar sorg, haar vreug.

’N SNAAKSE VRYERY.

As tweetjies met mekaar wil vry,
is ’t beter om jou ver te hou—
nie waar, wat raak dit jou of my
as tweetjies met mekaar wil vry?
Net van één snaakse vryery
wil ek die storie jul ontvou.
As tweetjies met mekaar wil vry,
is ’t beter om jou ver te hou!

’n Flukse nooi was Hannie Waal,
en Japie Brink het daar gedraai—
die ogies blou, die lokkies vaal—
’a flukse nooi was Hannie Waal.
Maar of nou Japie dit sou haal—
dit was maar moeilik om te raai.
’n Flukse nooi was Hannie Waal,
en Japie Brink het daar gedraai.

Eén Sondag by die kerk se deur—
moe’ nou nie dink dit was ’n plan nie—
het so ’n kleine iets gebeur—
één Sondag by die kerk se deur.
Die kerk was vol, hul druk en beur,
en so kom ek net agter Hannie—
één Sondag by die kerk se deur—
moe’ nou nie dink dit was ’n plan nie!

Haar boek het uit haar hand gegly,
toe sy so uitstap op die treetjie;
ek moes dit optel, ’k was daarby—
haar boek het uit haar hand gegly.
„Baie dankie, neef,” sê sy vir my,
en ’k sien sy kleur so’n kleine beetjie.
Haar boek het uit haar hand gegly,
toe sy so uitstap op die treetjie.

En onder by die muur se draai—
dalk het ek my dit maar verbeel—
kyk sy nog om ’n slaggie, raai—
daar onder by die muur se draai.
Beskou jy dit as trou verraai?
Die kykie het ek tog nie gesteel!
Ja, onder by die muur se draai—
dalk het ek my dit maar verbeel!

Wel, ek het kennis toe gemaak—
die hoe of waar kom nie op aan nie;
toe loop ek daar vir Japie raak,
nadat ek kennis had gemaak.
Hul sit toe saam amandels kraak,
die eerste awend, hy en Hannie,
nadat ek kennis had gemaak—
die hoe of waar kom nie op aan nie.

Jaap kry ’n tweeling in die dop,
en één daarvan gee hy aan haar;
die ander eet hy selwe op—
Jaap kry ’n tweeling in die dop.
Was dit nou glips of wou sy fop?
Want uit haar handjie val dit daar.
Jaap kry ’n tweeling in die dop,
en één daarvan gee hy aan haar.

Sy ’s op haar knieë voor die stoel—
dat ek moes help, nie meer as plig nie!
Die amandelpitjie was ons doel—
sy ’s op haar knieë voor die stoel.
Dat ek haar handjies raak moes voel,
kan jul begryp: daar was geen lig nie!
Sy ’s op haar knieë voor die stoel—
dat ek moes help, nie meer as plig nie!

En Japie dink: „Wat sou gebeur het?”
nou sy die pitjie had gekry.
Ons merk dat sy so’n rooie kleur het,
en Japie dink: „Wat sou gebeur het?”
„Dis duis’ling wat ek altyddeur het
as ek gebuk het,” sê toe sy!
Ja, Japie dag: „Wat sou gebeur het?”
toe sy die pitjie had gekry.

Die helfte byt sy af vir haar,
en helfte lê sy op haar handjie:
„Dè, neef! Jy het help soek, nie waar?”—
Die helfte byt sy af vir haar,
en op my halfie sien ek daar
die kerfie van ’n witte tandjie!
Die helfte byt sy af vir haar,
en helfte lê sy op haar handjie.

Dat dit gesmaak het, moet ek sê,
al was my deeltjie maar ’n kwartjie:
’n kleine loon moes ek tog hê—
dat dit gesmaak het, moet ek sê,
al sien ek Jaap so stil oorlê:
„Daar gaan ’n stukkie van haar hartjie.”
Dit het gesmaak, ek moet dit sê,
al was my deeltjie maar ’n kwartjie.

Of dit by ’n kwartjie het gebly?
Dit raak jul niks nie, wel beskou,
of ander mens se vryery
nou by ’n kwartjie het gebly;
want as daar tweetjies is wat vry,
is ’t beter om jou ver te hou.
Of dit by ’n kwartjie het gebly?
Dit raak jul niks nie, wel beskou!

DIE MURASIE.

By staande waat’re klaag my siele wee—
By stille waat’re in die skemer-uur,
In drywend vuil gedam, en lang ontdaan
van sorgers hand, so treur die stille stroom;
en dampend skuif ’n walm soos lyke-kleed
die soppig-gryse vlak van die water langs.
In swart gegrif op wester-koperkwyne
staan blad en twyg in roerelose rou.
Geen lag of voetstap op die tuinpad meer,
waarbowe kruin teen kruin in droefheid leun,
deur vreemde hand beroof van somerweelde
en wenend droë blaartjies, één vir één.

En naby lê die ou murasie daar,
met dode-oë starend in die wes—
geen ruit wat blink in vriend’lik awendglore,
geen hand wat sawends daar die luike sluit,
geen warme gloed deur vensterspleet of deur:
die koue nagwind dwaal deur holle sale
en roer die flenters van die muurpapier.
En waar die tafel was met awendspyse
of rusbed, sag gesprei, aan kamerwand,
daar loer die maan die naakte mure ower,
daar lê die naakte balk ’n skaad’wee-band.
Geen fyne hand wat frisse teue skink
aan hange-slepend loof langs stoep en raam.
In stof van verre stede sien ek sleep
die blomme hier in vredehof geteel....
Verby, vergaan! Of mag die hoop nog lewe,
of tref die laaste vonnis nou nog nie?

AARDGEESTE.

Daar kom hul aangetreed
      tot slagting wreed,
              bespied,
              bekruip,
              beloer,
              besluip
mekaar, tot moord gereed.
      Ei, daar blits
      ’n bliksemflits!
      Nog een! Nog een!
      Dit knal, dit bars,
      dit knor, dit knars,
knett’rend kraak die kleingeweer!
      Kranse herhaal
      die woeste kabaal—
      soos donderweer!
      Koeëls, kartetse
      fluit en gons,
      beuk en bons,
morsel die rotse tot spattend gruis!
      Dampe staan,
      waar die bomme slaan,
vore ploeënd met hels gedruis!

          * * *

Vaarlands grond drink die bloed
nog vol vryheid se gloed
      lou uit die wonde.
Menig sterwende sug
dra ’n groet deur die lug
bo die wapengerug—
      ver in die ronde.

O, die lippe wat bleek
om ’n waterdronk smeek—
      wonde wat brande.
Ongehoord, ongeag
menig kermende klag,
waar die woelende slag
      dreun oor die rande.

En in eensame nag
staan die sterre se wag—
      stil en van verre,
oor die helde se skaar
tot hul ruste vergaar,
onbelas, onbeswaar—
      veilig gebêre....

DINGAANSDAG.

Ster-nag omsluit die laer—
onder die kleine skaar
by die lanternlig daar,
  stilte en vrede....
Sterk is die stem en skoon,
smekend om hulpbetoon,
wat tot die Vadertroon
  klim in gebede.

Môre-lig,
roepings-plig
  daag vir die helde,
Vader, die taak is swaar,
klein en verloor die laer
  in die groot velde.

Woes-singend,
aanstuiwend,
dans-springend,
pluimwuiwend,
  kom die barbare—
driemaal tien-duisendtal,
dond’rend hul voete-val,
  storm hulle skare!

Afrika,
Afrika,
  was ’t jou gegéwe,
vêr en vooruit te skou
wat in die stryd vir jou
hier was te breek of bou—
  jy had gebéwe!

Kalm-in-daad,
wêreld-verlaat,
  wêreld-vergete,
sterk in die Heer se krag
staan hul die storm te wag—
  oormag-oormete.

Reguit en raak-sekuur
blits uit die tentwa-muur
driemaal die Boere-vuur,
  kraak hulle roere,
maaiend die horde om—
drie-male, al wat kom—
kyk, tot die swarte drom
  wyk vir die Boere!

Dingaan-slag,
wonder-dag,
  jy het bevestig
al wat ’n nasie bou,
al wat ’n taal behou.
Ere die helde-skaar!
Klein was die klompie daar:
  vier-honderd-sestig!

Afrika,
Afrika,
  eer hul gedagtenis!
En as jou vryheids-dag
eens oor jou velde lag,
weet wie te danke is—
  eer hul gedagtenis!

STILLE WERKERS.

Oubaas sit oordwars op ou Geduld.
Met nek omlaag, en oë op die grond,
so dra hy oubaas huistoe, stap vir stap.

Oubaas pof ’n rokie uit sy pyp,
so nou en dan, teen rooi van awendlug,
en praat ’n woordjie met sy goeie ou maat.
Daar ’s goudlig in sy baard; en d’aandson gee
d’ou perd ’n laaste rapsie oor sy kruis.

En stil is hul oor dagtaak afgedaan,
en stil sal hulle môre weer begin—
tot eendag ook oor hul die velde swyg.

WAG-HONDJIES.

Ek is hier, en ma is hier,
ons twee lê op baas se baadjie.
    Wie is jy?
    Kom, loop verby!
Anders word ons knor ’n daadjie—
    kry jou bene dalk ’n hap,
kry jou broekspyp dalk ’n gaatjie!
    Mooipraat? Nee, ons ken jou nie.
    Weg jou hand, en raak ons nie!

„Oppas!” het die baas gesê,
„tot ek weer kom, hier bly lê!”
Op ons pootjies lê ons kop,
maar ons hou jou darem dop,
toe-oog slaap ons op die baadjie,
maar ons loer nog deur ’n gaatjie—
    één oor plat, en één oor op,
            pas-op!

PRESIDENT STEYN.[2]
(† 28 Nov. 1916).

Dis skoon vir ’n held om te val
aan die voete van wie hy gedien het,
  skoon vir sy skeidende gees
  dat moeders die laaste mog wees
wat sy sterwende oog gesien het.

Maak hom ’n graf op die grond
  wat sy liefde gewy en geseen het:
dis skoon vir ’n held om te rus
  aan die voete van wie hy beween het.