PERSOONLIKE NAME.
Was die Boesman ernstig toe hulle dit kom sê, is die storie pragtig; het hulle dit vir ’n grap bedoel, is dit nog mooier. En daar is mense wat wil beweer dat ’n man wat soiets kon sê, nie eers sy kind ’n naam kon gee nie. Daar is mos baie skrywers wat weet te vertel dat die Boesmans nie name gehad het nie. Dit is nie nodig om die bewering ernstig te weerspreek nie, ons weet dat hul name had, maar daar moet darem ’n rede wees waarom so ’n storie begin het, en die skrywer meen dat hy die rede ontdek het. Ons moet weer Campbell raadpleeg—die arme sendeling wat die inboorling in die algemeen en die Boesman in besonder nie kon verstaan nie, maar wat tog deur die snaakse kaskenade wat hy met die Boesman aanvang, so ’n helder lig op die vraagstuk werp. Campbell skrywe:
“It was some time before I could even learn what was the captain’s name. They consulted together three or four minutes laughing several times. The captain appeared to be requesting his wife to help him, either to recollect, or to decide what was his proper name. At length … he said his name was Hoakay.…”
Onder baie inboorlinge word dit nie toegelaat om ’n man se naam te noem nie. Onder seker Bantoe-stamme was dit nie eers toegelaat om enige lettergreep te gebruik wat voorkom in die naam van die kaptein nie, en as ’n gevolg, by elke verandering in die kapteinskap, moet ’n nuwe klomp woorde opgemaak word. Dit is die werk van die vrouens en dié gewoonte heet die Hlonipa. Die skrywer het nog nie bewys gevind dat daar ook so ’n taboe onder die Boesmans bestaan het nie, met uitsondering van die verhaal van die seun wat bal-bal met die Wind gespeel het, en een of twee ander verhale van dieselfde soort; maar tog sou die bestaan van die gewoonte of bygeloof heel wat feite verklaar.