The Project Gutenberg eBook of Trekkerswee
Title: Trekkerswee
Author: Totius
Release date: August 18, 2005 [eBook #16543]
Most recently updated: December 12, 2020
Language: Afrikaans
Credits: Produced by Michael Ciesielski, Christine D and the Online
Distributed Proofreading Team at https://www.pgdp.net
Totius
Trekkerswee
Met tekeninge van
J.H. Pierneef
Tafelberg
INHOUD
'n Woord van Inleiding
Die versies verplaas ons bo-op die Rand, ongeveer waar Johannesburg nou lê. Daar het oom Gert, 'n trekker, met vrou en enigste dogter, gaan woon. Later kom oom Koos, 'n kolonis, wat in die nabyheid grond gekoop het. Sy seun Willem raak verlief op Dina, oom Gert se dogter. Nadat die twee families saam Perdekraal-fees gevier het, gaan Willem en Dina trou.
Die tweede versereeks beskrywe die ontdekking van die goudvelde en die opkoms van Johannesburg, maar ook die verleiding waaraan Willem en Dina, wat by oom Gert inwoon, blootgestel is en waarvoor hulle beswyk. Die tweede stuk eindig dan met die groot Boer-Britse oorlog.
Die derde versereeks verplaas ons in die tyd toe die Unie tot stand gekom het, en beskryf die treurige einde van oom Gert en Dina.
Dis die simpele storie waarop die hele gedig gebou is. Ons kan hier nog byvoeg dat die S.A. Akademie, deur die vrygewigheid van genl. Hertzog, in staat gestel is om jaarliks 'n milde geldprys vir letterkundige werke uit te loof. Die prys vir 1915 is aan hierdie gedig toegeken.
Silwer Strale
sover 'n mens se oog kan speur;
grasheuwels waar ook riwwe gaan,
met enkele stroompies tussendeur.
want hoog is daar die wêreld self;
en luggies waai daar dun en fris,
of dit stroom uit die blou gewelf.
die hoogland kruis en dwars deursny,
bied winterskuiling vir die vee
wat anders al te koud sal kry.
trek bosveld toe wat kan,
om daar in lekker warrem son
hul winterlaers uit te span.
die Rand; dan lê in sonnegewaad
die heuwels soos ramme te sluimer-slaap
langs strome wat lag en praat.
hul swaar skuif oor die hoë land,
en die dak van Transvaal se geute spuit
die water weg na alle kant.—
sy huppelende heuwelskoon
het jarelank 'n trekker met
sy vrou en kind alleen gewoon.
hul huisie in die trekkersland;
dit is 'n stip net in die wei—
die rietedak en muurtjies van klei.
waar smiddags doodse stilte daal
as kalfies, in die son gebraai,
die vlieë van hul kop lê waai,
eers opspring as uit ruie veld
die koeie aandraf wat met hul
geloei die awendstond vervul.
waar mielieblare helder ruis
as windgeroer hul sanggeluid
hef bo die dowwe velddreun uit,
die rooi geploegde akkerland
waaruit die boer by goeie jaar
sy mielies, ál sy graan vergaar.
gewénd, dra daar sy goudgeel vrug,
en bied, gedroog, in wintertyd,
'n skaars-verkrygbre soetigheid.
só rustig in die wydte weg—
'n koninkrykie op homself
waaroor 'n helder hemel welf.
Die bodeur 's oop al as hy kom;
net die onderdeur se werwel draai
'n vrouehand by die aanklop om.
en vra hom wat sy wense is:
hy moes maar bietjie sit as sy gaan
om pa te sê dat daar mense is.
en stap met ligte voetstap weg.
Die vreemdeling sien skrams nog net
haar volle wese en hare-vleg.
nes of 'n gees verskyn.
Maar nooit sal in sy lewenstyd
dié ligbeeld uit sy siel verdwyn.
laat sy haar hande strelend gly
oor halme wat in volle saad
hul hooghef aan haar wedersy,
denkend so in verbygaan dat
by seëning van wind en reën,
'n enkele wel sal wortel vat.
'n lekker koppie koffie aan;
sy sit gesels en sien haar kind
al verder na haar man toe gaan.
allénig in die wêreld leg?
Is daar geen ander plase omheen—
naby en verderweg?
of kronkelende spoorwegbaan;
geen stofferige heuwelpad
wat na die trekkerswoning gaan.
lê duidelik in kronkelspoor—
so loop die mens se voet altyd—
die voetpad na die watervoor.
juis waar die hoë halme waai,
sien ek 'n tweelingstrepie wat
bevallig deur die velde swaai.
met die maanhaar tussenbei,
is die kompas wat trekkersboer
deur skraal bewoonde streke lei.
meteens sy wisse tel'graaflyn,
waarlanges gaan sy tripp'laar en
sy stadige ossewa-trein.
dan sien jy langs die lyntjies gly
'n wakker stoet van burgers wat
op wakker perdjies ry.
die tyd begin nou lank te val;—
daar is haar dogter by haar man,
en ja, daar kom hul al!...
van buurman Koos miskien?
Ek het hom so 'n dag of wat
vir die eerste keer gesien."
in een geselskap op te trek:
alléén sal ons te vreemd ons voel
op Perdekraal se saamkomplek."
Kom maar die middag bietjie vroeg,
dan ry ons nog 'n aandskof en
is daar die môre vroeg genoeg.
daar waar die laaste heuwels rys."
Oom buig hom oor die onderdeur
terwyl sy vingers wys.
Dan sal hy ook maar weer vertrek.
Hy gooi die teuels oor sy perd
en ry weer oor dieselfde nek.
versigtig nog na agter om,
of hy nog iets kan sien, maar nee,
die nôi het nie weer uitgekom!
en die eerste gedagtes aan haar!
Dit is die eerste keer dat hy
die uitdraai-paadjie nie gewaar...
Sy droomgedagte is skielik weg,
maar nou sit hy 'n plan te maak—
wat, tuisgekom, te seg.
hy inkom met 'n stram gesig
en kort en goed sy boodskap doen
met oë op sy bord gerig.
"wat kom jy dan vanaand so laat?
Het jy heel-middag daar gesels
en so jou tyd verpraat?
Hy is tog dalk nie doodgegôi
geraak nie in die stilligheid
op die Transvaalse takhaarnôi?"
"Die oom daar was eers vér opsy,
en by die huistoe-kom het ek
verkeerde pad gery."...
stil word die borde- en messeklank.
Die vader lees 'n stukkie nog,
en sluit met lof en dank.
die daal so sag, so sag
al op die huis en werf en plaas
waar net maar één hou wag.
van werf en werk teruggekeer;
en maanlig-nag lê van sy pluim
op elke oog 'n donse-veer.
van onbegrensde wêreldvlug,
keer in die donker liggaamshuis
ook weer terug.
dan worstel daar by halwe lig
die hart wat waak
en wat die droomwerk moet verrig.
Hy loer hoe deur sy raampie nou
die maan 'n sagte lig laat val
of buite lag oor trane-dou.
En ook so rein, so rein daarby,
soos maanlig wat met blanke voet
oor pêrels van die dounag gly.
hy hoor die woord weer wat sy seg;
hy sien haar gaan weer oor die veld;
hy sien ook weer haar harevleg.
die maan laag aan die lug verkwyn,
beeld van sy droombeeld wat
nou bleekrig weer verdwyn.
Daar trek al op die eerste rook.
Hul het gistraand die vraag beslis
wie se beurt of dit môre is
om ketel te kook.
daarbinne roer al een;
daarbuite bly die rokie draai,
omdat daar nou geen windjie waai
deur vroeë môrewêreld heen.
hy spring al van sy tak;
'n mens sal sê dat hy die baas
(so stap hy) is van werf en plaas,
en die transport dra in sy sak.
'n oue towenaar:
hy worstel met sy slange wat
hy nukk'rig teken in die pad
se stof, met duister vlerkgebaar.
hul rek die groot, stram lywe uit.
Daar kom die Kaffer ook al aan
wat koulik oor die douveld gaan
en eers die kalwerhok ontsluit.
so vloei dit nou uit volle speen;
musiek ook vir die kalfie als
hy kort-kort om sy moeder wals
op nog onvaste horrelbeen.
groot oë na die hek te tuur,
totdat die laaste hinderpaal
word uit die mikstok uitgehaal
waaraan hul saans hul lywe skuur.
Net in die onverstoorbre vert'
'n ossespan stap voor die ploeg,
en agteraan die man wat swoeg
by 'n rukkerige stert.
die vrede alleen bly soos dit was.
Net 'n hen spring van haar eiers af
met groot geraas, en die brakhond blaf
vir die enkele kuiergas.
nie al te rustig, want
moeder en dogters moet bak en slag
vir die groot fees van die land.
"Daar staan die brood al uitgerys
en die oond is koud! Dis werklik waar,
'n mens moet hul ook alles wys."
oorlamse skepsels wat gou-gou leer.
Wat het my man met die lang tog
in vredesnaam makeer?"
met opgestrookte arm:
dit knee die deeg en maak pastei;
en die oond is ook al warm.
of 'n grap word tussendeur gegôi.
"Hierdie tert is nie vir die fees,
maar vir Willem se takhaarnôi."
langs 'n skemerdonker hoek.
"Willem, wat loop jy so deur die huis
nes 'n hoenderhen wat lêplek soek?"
hy's met die saak verleë:
die vrouens wat die wee bewerk
(so dink hy) spot daarmee.
Daar gaan oom Koos se ossewa,
blou-bont geskilder; hoor hoe raas
die wiele op pad na oom Gert se plaas.
dril die osse-lywe soos hul draf.
Die vrouens roep: hul skud uit lid,
só ruk en rammel dit.
Wat wil jy?... Laat die osse stap."
So roep oom. "Watter haas is daar?
Die middagson sit nog wie weet waar."
praat Willem weer bo die rooibont span,
en die ossedier, so stroef en stil,
voel gou-gou wat sy drywer wil.
die kettingtou nog taamlik styf,
maar anderkant-af swaai dit somaar slap
as die osse weer raak uit maat en stap.
ook bietjie met sy beeste spog.
En dan, dis so armoedig om
met so 'n paartjies daar te kom;
waar soveel mense saam sal wees.—
Oom Gert se plasie haal
hul as die son nog wakker straal.
as sangtyd wat genaak,
wanneer die voëls in bome-velde
singend hul nessies maak.
as skat van lentetyd,
maar oral diep en ernstig swyge
van velde kaal en wyd.
as tyd van blommegeur,
wanneer veldblommetjies die velde
versier met tint en kleur.
in aarde dor en vas;
by ons is dit àl golwende eenheid
van velde enkel gras.
so sonder klank of praal,
kom hier die lente in ryp-verdorde
geweste neergedaal.
die grassies aan ons voet;
tog leer dit ons weer nuwe liedjies
van taaiheid en van moed.
eenvoudig, diep en waar,
twee stille wesens sag omswewe—
vir Willem en vir haar.
geen klank of kleure-gloed;
net liefde stil dié dag gebore
by simple boere-groet—
na simple boerehuis;
oom Gert se plasie is sy Eden—
sover haar voete ruis.
waar hy so graag sou staan
om, loerend deur die klipkraal-hekkie,
haar heeldag ga te slaan.
sien hy haar wese weer,
net soos 'n lenteson daarbowe
skaamrooierig en teer.
sit op die voorste wa,
terwyl hy roep die osse-name
met sweepslag agterna.
gestik van enkel sis.
En straks ... doen hy 'n klein vriendskappie
as hul gelaer is.
hoog langs die heuwelrif.
Die duisternis bedek die land,
maar dis 'n duisternis waardeur
die maan se melkies sif.
vrolik in vuurge kring.
Die mense sit 'n krans
en luister swygend na
die keteltjie wat sing.
se late lied wat wek
sy hart en diep hom roer.
Dit is sy vroeë môresang
wanneer hy verder trek.
geen lied van danseres
bied hom 'n blye onthaal
wanneer hy eensaam is—
geen drank uit volle fles.
al rond die ketel-boom;
sy ketel praat en sing
en skink hom in die drank
wat die ure laat verdroom.
al in sy diens gebrand:
die trooster van sy smart
die bly hom trou wanneer
hy soek 'n vaderland.
die ronde hopies as;
en telkens as die dag begin
dan swaai dit by die voorwiel, met
'n voorslag-riempie vas.—
nou rond in vuurge kring.
Die mense sit 'n krans
en luister swygend na
die keteltjie wat sing.
nog meer wanneer oom Gert
vertel die storie van
Hendrik en Lettie en
hoe gou hul twee geskeie werd.
hul huppel op een werf,
tot arm sy vader trek vandaar
en swerf.
En ... harte in pyn en hoop,
wyl ryke minnaars kom maar weer
om haar hart te koop.
Gerug van sonde tot haar kom.
Totdat hy bewend waag...
hy is weerom.
Op huweliksdag
'n soete oorwinningsvrede skyn
in purperprag.
'Ag, Hendrik, hoe's ons droom so kort!'—
Liefs kort gedroom, as Britse grond
en slawe word.'
na Laingsnek weg.
Hy sink met wein'ge in Natal
om ver te veg.
'My vriend, ek sterf by die eerste lig,'—
so spreek hy sag,
'maar Lettie wag haar eerste wig.
en eewge trou laat sweer.'
Hy sterf—die dure prys
van vaderland en eer.—
'n Kinderhand die kransie hou.
Hul staan voor 'n gesonke graf.
Dit was die eerste daad van trou."
Die nag is heen, die môre is grys;
'n plaat van tente en waens wys
waar Perdekraal se steenhoop rys
teen hoë hange.
die geweltjies so mooi orent—
die eie maaksels, tent aan tent,
in suiwer range.
Ek sien hoe jul die vreemde boei
verbreek het, om dan uit te bloei
tot eie nasie.
nie net 'n eie vlag geplant,
maar àlles maak van eie hand—
geen imitasie!
Hoe wakker bly die nokke staan.
Die klappies netjies oopgeslaan—
mooi eenheid same.
die huis van doek, so lossies-vas,
skoon nes in môredou gewas—
'n blanke dame.
'n wa en tent daarnaas gesteld,
tweeheid tot eenheid saamgesmelt
in sware stonde.
die tent—'n taaie vrou is sy.
Jul het die nasie uitgelei,
sy boei's ontbonde.
en trekkend met die trekker mee
bied sy hom tog 'n vaste stee
in angs-geweste:
die sonstrale op die nokke brand
of nagdier sluip oor donker land,
'n veil'ge veste.
hoor ek by wind haar fladdering
die lied van boerbeskawing sing,
stemmig-tevrede.
by feesdag net span sy 'n laer
en straal haar seile dankbaar daar
van groot verlede.
vas aanmekaar aan die buitekant
en in 'n lyn met al die waens
wat reeds in rye staan geskaar
uit die omtrek van die Rand.
lê soos 'n slangrug in die dal;
dit is die misdamp van die reën
wat in Desember langs die Rand
oorvloedig val.
van perdesiekte, sê hul, rond,
maar mens en bees, waarvoor die Heer
die nuwe land gemaak het, is
gesond.
styg stil omhoog die ligblou walm,
en nou die son weer op wil gaan,
styg uit 'n tent nog hier en daar
'n laaste psalm.
en veld toe aangejaag;
'n Kaffer stap hul agterna
wat aan 'n stok sy velskoene en
'n haarge knapsak draag.
van die wat laat kom, maar
die meeste burgers is gereed
en staan die landsaak te bespreek
in klompies bymekaar.
die tweede ketel sing;
hul loop tent in tent uit en koes
gramstorig vir die braaivleis-rook
wat trane in hul oë bring.
hul Sondagspak geklee
na die vermaarde steenhoop heen;
'n ieder neem sy kerkboek en
sy riempies-stoeltjie mee.
en hou 'n nasionale preek.
Dan vra hy ook nog vir oom Gert
wat oral saamgetrek het, om
die landgenote toe te spreek:
hul het in Kaapland, vroeg en laat,
'n valse vryheidsleer verkondig;
jul weet die Kafferbendes het
met roof en moord en skelmery,
die grensbewoners daar versondig.
tot aan die see wat vir ons was
'n tweede en wilder Onbekende;
maar nooit het trekkers moed of lus
gehad om na die wildernis
hul dapper trekkersvoet te wende.
hul waens gedryf, en tot vandag
staan daar die boerenaam geskrywe.
Ons vyande 't ons daar gevind,
ons uit-oorlê of aangeval,
en uit dié Kanan weer verdrywe.
die mooiste deel van Afrika
wat slinger langs die strande.
Ons het gekies, om vrede vir
ons voet te vind, die wildernis
en altyd skraler binnelande.
laat wraak neem op Dingaan
se duisternis van Soeloe-horde,
dat ons daar in die nuwe land,
nes uit 'n smeltkroes voortgekom,
'n Gode-dankbaar volk sou worde.
ons weer gedreig het en gedruk,
het ons die steenhoop dáár vergader.
Hier van Transvaal se hoogaltaar
het ons ons harte opgehef
tot God Almagtig, onse Vader.
aan Laingsnek, aan Ingogo en
aan Amajuba's hoë kranse.
Wee ons as ons weer God vergeet,
soos Israel by Sinaï,
met wilde afgodsdanse!
Ek roep tot my getuie aan
die hemel en die heuwelrande!
Dan sal ons hiér moet kerm en klaag,
en rondom hiérdie heil'ge plek
die tekens sien van al ons skande!"
na alkant sien mens waens, soos
die boere in klompies weer vertrek...
Hoe wakker staan die swepe-ry!
hoe daal hul, en die voorslag klap
om die osselywe op te wek!
nou in oom Gert se huisie, waar
Willem en Dina samestaan...
Voordat die mense skei, vra nog
die predikant dat hul sal hoor
hoe hierdie bruilofsliedjie gaan:
wat uit die ou Kolonie kom.
Ek is geen kind nie van die Trek,
maar my hart sit op die regte plek;
daarom het ek my vasgebind
aan 'n egte, egte trekkerskind.
uit die egte takhaarwêreld uit.
Maar ek kon my tog so goed gedra
dat 'n kolonis my hand kom vra!
Ja, die ou Transvaal is nie so sleg
as wat die mense dink en seg.
wat met my ganse rykdom kom.
Ek het geen geld nie op die bank;
maar het 'n wa met suiwer klank,
twaalf rooies, jukke en rieme klaar,
en ek makeer nog net vir haar!
en gee my vir niks anders uit;
geen jongman hoef hom te vergis,
want ek is net maar wat ek is.
Maar 'k het twee arrems, rond en sterk,
wat regstaan vir die huishou-werk.
wat net maar na die bruilof kom
met stewels, en ook net dan dra
die laken-pak en keil van pa.
Anders is hul my lyf te veel
en is dit velskoen en ferweel.
Ek dra 'n kappie met 'n tuit.
Ek knip die tabberds wat ek dra—
maar bietjie mooier!—moeder ná.
Net die één waar ek vandag mee loop
het vader by die smous gekoop.
wat met lees en syfer klaar kan kom,
en die kaart ken van Suid-Afrika
wat ek daarso in my koppie dra.
Wat anderkant die water, in
die wêreld is, raak my maar min.
ek laat nie my geleerdheid uit.
As hul oor politiek begin
dan luister ek en hou my in.
Maar 'k sal my kinders eendag wel
die storie van Transvaal vertel!"
Goue Gode
sover 'n mens se oog kan speur;
dis of voorheen 'n monsterploeg
die wêreld hier wou stukkend skeur.
in wentelkrag van vloed en vuur
toe heel die hoogland omgekeer
is in die aard' se wordings-uur.
'n berg was of 'n hoë rand;
en elke voor daaragter was
'n vrugbre moot of akkerland.
daaroor gegaan met groot geswaai,
sodat 'n ganse goudveld is
in die aard se boesem uitgesaai.
stil oor sy akkerveld laat duur,
sonder dat een die geelblink vrug
versamel in sy voorraadskuur.
is uit die goudsaad saamgesmelt;
geen wêreldstad se grootheid het
geskitter oor die heuwelveld.
wanneer hul hordes vlug of veg;
en die ondier het gelaer waar
die skatte van die wêreld leg.
Ek sien die letters voor my staan,
die skeure omlaag, die kranse omhoog;
maar dis 'n skrif wat nooit vergaan.
van kranse en klowe en rif;
dit lê oop en bloot op die wande, ...
maar niemand ontraadsel die skrif.
tot reuse-sinne vereen,
en die stippels en strepe daartussen
is tot massas rotse versteen.
die taal ook van die sondvloed-tyd,
waarby die late mens verbysterd
staan klae van onwetendheid...
teen hoë bergwand uitgeslaan,
en van opdrifsels eeue later
tot kransversténing oorgegaan?
van vreselike wêreldbrand
toe berggevaartes op kom rys het
uit die aard se vuurge ingewand?...
en hiërogliewe is gevind;
maar hier staan al die wyse same
onwetend soos 'n kind.
Ja, die skeppingstaal is al te oud!...
Of spreek hier gryse lettermerke
miskien al lank die woord van: Goud?...
wat rooi is in sy aangesig;
hy sien niks van die skone land,
maar hou sy oog omlaag gerig.
en dra sy loodswaar pak:
'n vysel, stamper, pikswart kom
met goeters in 'n goiingsak.
wat lui op die anders stille Rand!
Die klankgeluid is anders, dis
die stamper op die vyselkant.
as deur die slag van donderweer—
word nou die hamer opgehef
en mokerslag daal dreunend neer.
die wasbak spoel dit om en om,
en delwers-oog speur rust'loos of
die goud-en ysterstrepie kom.
Die goud-aar is oplaas geraak...
Die outa sien 'n os wat wei,
en dink: "Hoe lekker sal hy smaak."
en in die spoelkom omgewas.
Die delwer gaan dan na sy kamp ...
sy dienaar hurk daar by sy las.
'n Tolk en hy het keer op keer
met omhaalwoorde geprobeer
of hul oom Gert se plaas kan koop.
hy het hom met sy sorg gewénd
na die vaderlike president,
en dié het hom geantwoord: Ja.
as hy weer kom die bultveld oor;
daarbinne moet hy almaar hoor
'n stem so lastig, so onklaar:
wat met sy weiveld wiegel oor
die Rand. Moet ek dit nou verloor
vir Agabs, om dan rond te swerf?
Die stem is Jakobs stemklank, maar
die lewenslot 's die Esaus-haar,
en ek is blind soos Isak al!"
tot hy oplaas dink: "Laat maar gaan."
Hul bied hom tweemaal duisend aan,
en daarmee is die koop volbrag.
hy vra net goudgeld en kontant,
en dat sy eie predikant
sal tel of hulle almal is.
as die maanlig skaars in die huisie dring,
waar oom Gert lê waak, soos die psalmis sing,
om te peins oor God,
deur geen kunsglans nog verkort;
as die mens nog tyd het om wakker te word
en te peins oor God.
om te lig oor die oue Skriftuur
wat die stof bied in die vroeë uur
om te peins oor God.
wat die blaartjies sluit by nag,
en stil-alleen op die son staan wag—
so peins die siel oor God.
wat die vlerk nie vliegend meer wil strek,
maar die koppie in die dons gaan dek—
so peins die siel oor God.
totdat uit hoër, heil'ger oord
verruis die saalge stemmingswoord—
as die siel stil peins oor God.
val in die oog omhooggehou,
en die siel dan weer sy God aanskou—
terwyl dit peins oor God.
en beef stil opwaarts-heen
met groot verlange om nog
oor God te peins.
en sy bed is vuur onder hom:
'n ander god het daar gekom,
en die naam van die god is: Goud.