VI
Voorheen was in oom Gert se huis
'n sjieling net so skaars te kry
as in 'n bedelaar se kluis—
en tog was daar geen armoed' by.
Oom Gert se huis kos hom geen geld:
hy't self die muurtjies opgetrek,
die gras gesny op eie veld,
en toe met eie hand gedek.
Die hout was geelhout wat gesaag
is in die Houtbosbergse kuil,
vandaar met moeite uitgedraag
en oral in die land verruil.
Sy meubels is van eie maak,
en wie daarop gaan sit die voel:
dit is geen goed na vreemde smaak,
maar boer se eie bank en stoel.
Wat op sy tafel kom is uit
sy eie tuin of uit sy kraal—
daar's brood en melk, daar's boerbeskuit
en vleis, dit is die sober maal.
Hul klere kies hul so gering,
dat hoë ruil nie nodig is.
Die smouse het dit rondgebring:
ferweel en tabberdgoed en sis.
Ja, geld was skaars en goud was min,
maar min ook die onrus en gebrek;
daar was geen ryke of arme in
die land, niks wat die onrus wek.—
Hoe het die wêreld nou gedraai!
Hoe word oom Gert se vrees gewek!
Hy sien sy goed al opgelaai
en hoe sy wa weer noordwaarts trek.
VII
"Kom kinders, ons moet trek,
want hier kan ons nie bly;
as ons hier langer bly,
sal hulle ons weer kry.
"Ek het my grond so lief,
my vrye plaas en werf.
Vir hierdie plaas en werf
het ek voorheen geswerf.
"Kom kinders, ons moet trek,
dit is die boer se plan,
en daar's geen ander plan.
Laat almal trek wat kan!"
"Ag, vader, moenie trek,"
sê Dina, "laat ons bly,
want waar ons trek of bly,
sal hul ons tog weer kry.
"Ons kan nie immer trek,
ons kan nie immer vlug,
saam met die wild wegvlug
vir mensgerug.
"Ons woon al lank so stil;
laat ons nou maar geniet,
met eerbaarheid geniet
van wat die wêreld bied."
Wat sal oom Gert nou doen
om die onheil af te weer
as Dina haar verweer,
met sagte woord hom keer?
"Ek voel 'n ding wat kom,
my binneste die werk
net soos die miertjies werk
wat verweg storm bemerk.
"Nou ja, ons sal hier bly,
op die uithoek van die plaas,
van die ons ontvalle plaas
maar vér van stadsgeraas."
VIII
Bo-op die grond rys al 'n stad
wat op die heuwels skitter-blink;
dit was 'n reeks van kampe eers,
getimmer uit hout en sink;
maar nou 'n wêreldstad meteen,
en massas delwers trek daarheen.
Oom Gert het so iets nooit gesien:
die suiwer lug is troebel-vuil,
en helder stroompies van weleer
dam nou in donker modderkuil.
Die grond voorheen so skoon en rooi
is nou met steenkool-as bestrooi.
Al bo die stad, en verder, sweef
'n swart-deurrookte deins'righeid;
dit lyk net soos 'n veldvuur wat
hom uitsprei oor die velde wyd.
En saans dan slaan 'n rooi gegloor
soos veldbrand al die heuwels oor.
In boeredorpe het hul eers
'n kerk gestig op wye plein,
waarom vergader, hier en daar,
die grasdak-huisies, laag en klein.
Maar nou word eers, en wondergou,
'n groot hotel daar opgebou.
Daar is geen Son- of Maandag meer;
dit vleg en kronkel deurmekaar,
en saans, nog lank na middernag,
het die gewoel nog nie bedaar.
Die wêreld maak oom Gert nou dom
wat selde in die stad meer kom.
En as hy in die sonlig sien
hoedat die stad lê flikker-beef,
of saans bemerk die dof-rooi gloed
wat opwaarts na die hemel streef,
dan dink hy: 's Dit nie wat ek lees
van Babilon en van die Bees?
IX
Die nuwe wêreldstad die lê
tussen die twee families in.
Een kant is Willem en oom Gert,
en ander kant daar boer oom Koos
nog met sy talryke gesin.
Die wêreldstad lê tussen hul,
want, ja, die vriendskap is geskeur.
Is dit miskien die profesie
van wat op later dag nog met
die hele nasie sal gebeur?...
Dina het Engels gou geleer,
en ook so mooi leer sing...
Sy het verlaas oom Koos besoek
om hom saam met sy huisgesin
tot vriendskap met die stad te dwing.
Sy praat van meegaan met die stroom,
van nie so alles te vermy.
Maar nee, oom Koos het vas besluit
dat hy met sy geslag
op die ou-ou boere-pad sal bly.
Sy sing oplaas vir hul 'n lied
om so hul harte nog te vang.
Oom Koos die volg dit met 'n sug
en dink aan beter tyd terug
wanneer hy hoor die mode-sang:
X
"Stad waar die ligte newels swewe,
waar ligte luggies skitter-bewe;
stad op 'n hoogland uitgebou,
ver-sigbaar by die hemelblou—
Johannesburg jy's waarlik ja
die glorie van Suid-Afrika.
"Van digte donkerheid omgewe
het Boer en Kaffer hier gelewe;
hul kon die goudstraal nie ontdek
wat die beskawings-lewe wek;
geen boeretent of ossewa
kon lig bring vir Suid-Afrika.
"Geen trekker bring hier nuwe lewe,
maar deur 'n hoër drang gedrewe,
kom pionier en delwer aan
wat goudvonke uit die rotse slaan.
Johannesburg die was weldra
die ligpunt van Suid-Afrika.
"Johannesburg is hoog van strewe,
wat laag is word nie neergedrewe,
maar naturel en trekker-boer
word uit hul onkunde opgevoer.
Johannesburg is waarlik ja
die glorie van Suid-Afrika.
"Johannesburg is hoog verhewe,
die koningin uit lig gewewe;
haar goue beeld sal wonders doen,
sal immer ophef en versoen.
Johannesburg sal steeds hierna
die glorie wees van Afrika!"
XI
Blink is die saal van lampelig;
gloed-helder blink hulle aangesig.
Warm is die saal van somergloed;
warm en onstuimig die hartebloed.
En kringlend sweef daar bont deureen
die danseresse op ligte been.
Maar Dina is die skoonste as sy
haar liggaamskoon in dans uitsprei;
en Willem, die gewenste man,
sien van die kant die skouspel an;
terwyl hom loof 'n kring van mans
dat hy só 'n vrou leen vir die dans.
Daar word gebuig, gevra, geswaai,
die arrems in mekaar gedraai.
Dan rus oom Gert, in slaap gesink,
waar net Gods sterre in stilte blink.
Rus?... Nee, hy sien op donker muur,
in helder letters van hemelvuur:
"Geweeg, geweeg, te lig bevind!"
Dan roep hy: "Ag, my arme kind!"
Sy vrou die stoot hom saggies aan,
maar berg ook self 'n snik en traan.
Dof word én saal én walsgeluid,
en langsaam gaan die lampe uit...
Leeg is die saal... Op tafelblad
staan leë bottels in hul nat.
En eind'lik, ná die sondenag,
staan weer daarbuite 'n ander dag.
'n Warrelwind, die dagspook wat
so plots ontwaak,
en plots op straat of in die pad
sy dans-swaai maak—
is hy nie soms die bode van
'n storm wat naak?
Papiere, blare, voddegoed,
van stof deurdring;
geswaai, geruk, soos in 'n tregter
opgewring,
kry skielik lewe en asem, hul
dans in 'n kring.
Is dit 'n gees, haastig gedaal
uit hoër lug,
wat van 'n naadrende onheil bring
die voorgerug?...
Kyk hoe die loom-lui stof geswind
sy voet ontvlug!
Of is dit dalk 'n toorheks wat
puur uit 'n grap,
op straat al in die rondte wals
met ligte stap,
en met die voddegoed en stof
kalkoentjies trap?...
Rumoer'ge warr'ling langs
die stof-vuil straat;
binne die sinkgebou staan al
'n mense-plaat,
en op die platform staan 'n klomp
klaar om te praat.
Uit alle wêreld-oorde saam
gewarrelwaai,
lyk hul oom Gert soos hane wat
staan koningkraai;
wanneer hul veg vir stemreg met
'n groot lawaai.
Intussen pak die stormwolk al
op Tafelberg;
en anderkant die water is
'n leeu vererg
wat nog in sagte woorde-klou
sy naels verberg.
Oom Gert is moeg van die tumult;
ryp is sy plan:
hy self met honderd ander storm;
gryp pote van
die stoele, en slaan op kop en lyf
so wat hul kan.
Die helde vlug na alle kant
die deurpoorte uit.
Van lae galery vlug hul
deur vensterruit,
totdat 'n al te dikkert daar
op half-lyf stuit.
Oom Gert laat hom dit dugtig op
sy sitplek voel.
Die dikkert skreeu sy buitevriend:
"o Pull, John, pull!"
Oom Gert die slaan; die dikkert roep:
"o Help, John, pull!"
XIII
Is 't oorlog?... In oom Koos se huis
woel almal net om klaar te kry.
Daar word geslag weer en gebak,
en buite voor die agterdeur
trek reeds die seuns die bokwa reg
om op te pak.
Die harte voel nie lekker nie,
die woorde het angstig-min geword—
soos steeds by donker voorbesef,
by die vergeefse angsgevraag
van hoe en waar
die ontwaakte lewenslot sal tref.
Lughartig praat 'n enkele seun
hoe hy die Engelsman sal skiet,
maar moeder maan: My kind, my kind!
Die seun wyk willig vir die woord,
want, ja, daar was 'n kleinigheid
wat hy nog aan sy saal wou bind!
Dis amper klaar... Daar kom hul aan,
die burgers van die omtrek, want
oom Koos die is nog veldkornet...
Straks staan hul, teuel in die arm
en met geboë hoof,
want een gaan voor in smeekgebed.
Die vrouens staan effens opsy,
met arrems oor mekaar gevou,
nou dat hul taak is afgedaan.
Nou kan hul eers hul smart besef,
en enkle droog met voorskoot-punt
al die eerste oorlogstraan.
Dan skuif en skok, met gang en draf,
die burgers op hul perde weg—
dit lyk somaar 'n mengelklomp!
Maar tussen hulle flikker-blits
geweldig in die lenteson
die blinkgemaakte mauser-tromp!
Oom Gert wat hom meer tuis voel by
dié ruiterskaar—hy het oom Koos
sy krygsmansdiens al aangebied—
die luister hoe die jongspan in
hul oorlogsblydskap sing
die klanke van 'n oorlogslied:
XIV
Kom, burgers, trek die perde reg:
nou vrou en kind goeien-dag geseg!
Jongkêrels, los die nôi se hand;
en seuns, verlaat jul moeders, want
daar gaan 'n strydroep deur die land!
Gryp nou die teuels bymekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
Die regterhand gryp die visier,
die bors oorkruis 'n bandelier;
die spore in die sonskyn blink,
stiebeuels teen mekaar weerklink,
die ketel aan die saal rinkink.
Kom, burgers, hou nou bymekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
Laat aan die trippelaar sy pas,
maar hou die vuurge hingste vas.
Die agterstes moet ingalop
tot binne-in die ruiter-trop—
die ponie en die bossie-kop.
Kom, burgers, ry so bymekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
Trek burgers, almal nou geteld,
al voort maar deur die wye veld,
en of jul al omlaag verdwyn
of op die heuwels weer verskyn—
wys altyd weer die slingerlyn.
Kom burgers, trek so bymekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
Jaag, burgers, jaag oor rant en rots
wanneer jul teen die vyand bots.
Ruk in, spring af en pos gevat
aan die onwrikbre ryperd-blad.
Mik fyn, kyk waar die stoffie spat!
Staan, burgers, staan dan bymekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
En moet jul val, val dan met eer,
met die oog die vyand toegekeer;
val op die grense, man en perd,
die oue vierkleur is dit werd,
en die eerkroon wink al uit die vert.
Val burgers, val dan bymekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!
XV
So sing die jonges vol van vreugde,
maar ag, oom Gert se hart is seer
as hy straks diep en dieper peinsend
gaan langs die slagveld van weleer.
Dáár lê Majuba, donker kleurig,
sy sye een en al terras;
dis of die berg van alle eeue
vir wonderdaad geskape was.
Daar lê Laingsnek; dis of Gods hande
dit vir 'n skanswerk uit wou bou.
En daar's Ingogo's kronkelbedding—
net om die vyand op te hou.
Daar's nog die wonderlike hoeke,
net om die vyand vas te keer;
maar ag, oom Gert voel nou so anders,
sy hart is onverklaarbaar seer.
Hy sien nou oral groot kanonne,
hy weet nie of die ding sal gaan.
Die treine voer nou alle soorte
van wapens uit die hoofstad aan.
Daar is hom ook so baie mense,
en baie goed word aangevoer;
voorheen was daar so min maar nodig:
'n ryperd, biltong en 'n roer.
Dis nodig, ja, die tyd die vorder,
en daarom swyg hy maar en kyk.
Maar heel die Amajuba-wêreld,
alles wil hom so anders lyk.
Tog leef hy weer, die troue krygsman,
al trek hy nou maar same net:
'n oorlogsperd die stamp en runnik
wanneer hy hoor die krygstrompet!
XVI
Verlore!...
Die dag van stryd het mooi begin,
die burgers trek verwinnend in,
en boerename 't binnekort
oral 'n glorie-klank geword!—
'n Pragtige môreglore!
Maar onder in oom Gert se hart
kom effens al, nog diep-verward,
'n fluisterstem na vore:
Verlore, verlore!
Verlore!...
Die dag van stryd begin so goed,
Suid-Afrika lê aan hul voet...
Die Boer moet Afrika regeer!
Gryp gou, voordat die kans kan keer!
Buig uit die grense na vore!...
Maar nou kom daardie fluisterstem,
diep in oom Gert se bors geklem,
so duidelik na vore:
Verlore, verlore!
Verlore!...
Rookwolke nader uit die suid
en sprei hul oor die aard-breedte uit;
oor Drakensberg se veil'ge top
skuif swaar 'n donderonweer op;
die storm sing in wilde kore!
Oom Gert se stemme, in hom bekneld,
kom nou daar buite op berg en veld
al donderend na vore:
Verlore, verlore!
Verlore!...
Oom Gert die kon nie verder vlug,
en sit nou, met sy vrou, te sug
agter die ysterplate vas,
daar waar hy eertyds vryman was
en sy vryheid is wedergebore!
Die fluisterstem daarbinne kom
nou deur die ysterplaat weerom
as huilende windstem na vore:
Verlore, verlore!
Verlore!...
Die dag van stryd hou lank nog aan—
dis of die son nou stil gaan staan.
Maar eindlik roep hul rond: "Verby!
dis vrede, vrede weer, wees bly—
al is die vryheid verlore!"...
Dan keer die wilde stem as sug
weer in oom Gert se hart terug;
en dring dan weer altyd na vore:
Verlore, verlore!
XVII
Die oorlogsfakkel is gedoof,
en die oorlogskamp word oopgesluit.
Die nuwe tye, hooggeloof,
kom met gejubel, lank en luid.
Die burgers kom van oral an
en raak al met hul lot versoen.
Maar net oom Gert, gebroke man,
wat sal hy in so 'n wêreld doen?
Want ook sy troue vrou is dood—
die lewe van 'n handjie meel
en van 'n brok genadebrood
was haar as boerevrou te veel.
Willem, sy skoonseun—hy't vir hom
die boerdery eers waargeneem—
is skout, en het nie teruggekom.
Hy's seker nou totaal vervreem!
Oom Koos weer het sy grond verhuur,
en trek die hoë Bosveld in,
die Randse lewe is hom te duur
en skaadlik vir sy huisgesin.
Maar Dina—waar is sy en wat?
sy die altyd skone boerevrou?...
Geheel verslingerd in die stad
en will'ge prooi van vreemdes nou!
Wanneer oom Gert van Dina hoor,
verbysterd al deur smart op smart,
dan roep 'n dubb'le stem: "Verloor!"
en dubb'le swaard gaan deur sy hart.
Geen antwoord is daar op die stem
wat vlymend deur sy siel nou gaan;
maar as die leed te vinnig klem,
roep hy: "Dit het die stad gedaan!"
Dié vaal-wit hopies dek hul bei, / vader en dogter, sy aan sy!
Dié vaal-wit hopies dek hul bei, / vader en
dogter, sy aan sy!
Groue Grawe
I
Dis heuwels, heuwels, heuwels net
sover 'n mens se oog kan speur:
maar heuwels sonder struik of gras,
en droewig-vaal soos as gekleur.
Langes die heuwels staan 'n ding
soos die houtgeraamte van 'n huis,
waarbowe rust'loos wiele draai
wat die waentjies optrek met die gruis.
Die heuwels is party al oud;
verlate en vasgereën party,
en storms het baster-klofies in
hul naakte ribbes ingesny.
Die ander is nog in die maak
van poeiergrond of gruis nog grof;
en as die wind die fynes vat,
dan trek daar tuite stof.
Die heuwels lyk soos duine wat
in blankheid rys aan verre strand—
dáár rys hul uit die blou-diep see,
hier uit die aard se ingewand.
Hier's ook 'n dreuning soos die dreun
van sagbewoë wêreldsee,
en winde wend, dan hier, dan daar
die dowwe dreuning met hul mee.
Maar waarom is die heuwels dan
so hoog en ook so bleek?
En waarom is die dreun so diep,
so droef nes een wat smartlik smeek?...
Hul sê die duine aan strand is die
grafheuwels van wie sterwe in see;
en daardie droewe dreuning is
die klag van wees en weduwee.
Maar hiérdie heuwels, heuwels dan
wat ook so hoog is en so bleek?
En hiérdie droewe dreuning dan
wat klaag soos een wat smartlik smeek?...
II
'n Agtal jare is weer verby.
Die boereplase is opgebou,
die platjies is weer huise nou,
die woeste leegte 'n landery.
Gou ruk weer alles in verband—
Suid-Afrika's 'n wonderland!
Maar net oom Gert se lewe kwyn.
Sy hart is nie meer in die werk,
sy wank'le bene is al onsterk,
en ook die plasie word te klein.
Die lewensreggie, kort van duur,
wag net nog op sy sterwensuur.
Wanneer hy die omtrek saans beskou,
hoedat die huis-tal groter word,
die vrydom steeds word ingekort—
dan sê hy: "Ja, daar is dit nou!
Die vroeëre boere-paradys
is nou één molshoop, groot en grys.
"Hier bly net hope en holtes lê:
die vreemd'ling kraak die neut in twee
waarvan hy ons net doppe gee,
maar al die neutvet dra hy weg.
Ons goud gaan na 'n vreemde strand—
Transvaal bly lê: 'n armmans-land!
"Die voorpos van die armes woon
in Blikkies-dorp se kronkel-sink
wat ver soos bottelstukke blink.
Hul lewe van 'n hongerloon
in huisies aanmekaar gepas
en jaartjies vol van steenkool-as.
"Ag, arm Transvaal, waarvoor ek vrees,
jy't Afrika voorheen geroer
tot wakkerskudding van die boer—
sal jy nie nou die laaste wees?
Jou heil'ge eersgeboorte-reg
word op die mark te koop geleg."
III
Oom Gert het min verwagting meer.
Nog één ding hou hom aan die loop,
dit is die vleugie van 'n hoop
dat eens sy dogter weer sal keer.
Die droewe en tog verbede dag,
daar bly sy siel nou stil op wag.
Sy hopie word hom aangesterk
deur 'n storie in 'n boek gelees:
"In Skotlands berge is 't gewees,
en 't was ook daar 'n stad se werk.
'n Eenge dogter in haar fleur
is uit die vadershuis geskeur.
"Nie wetend waar sy swerwend gaan,
kon haar vader net nog bid.
Geen grendel is snags opgesit,
maar deur die deur wat opestaan,
flikker 'n kersie heelnag lang,
wat haar by weerkoms moet ontvang.
"En ja, sy het eennag gekom!
Die trekking van die ver-oop deur,
en kersgeflikker deur die skeur,
die stille bede-heiligdom—
ja die gebed nog allermees—
was 't vir haar hart te sterk gewees?...
"As sy haar vader wenend kus,
bars die oue ook in trane uit:
'My kind, die deur was nooit gesluit
en daardie kersie nooit geblus;
dáár het ek biddend, nag aan nag,
geduldig op jou koms gewag.'"
Maar ag, oom Gert se hart is bang;
want as die jaartal al maar slyt,
dink hy: "My hoop is ydelheid,
my wagte duur tog al te lang;
my lewensdaggie's netnou om,
en dan het sy nog nie gekom."
Die mense vier al Unie-fees!...
Hy, arme, sal ook maar gaan kyk
hoedat die nuwe wêreld lyk—
wie weet, miskien sal sy daar wees!
Sy eensaamheid verlaat hy dan
en kyk die vreemde wêreld an:
IV
Hoe mooi het al die stad geword!
Hoe slinger, soos 'n krans, omheen
die villatjies in keur van steen
en wisseling van boumodel!
Hoe mengel hulle kleuretint,
van helder-wit tot donker-dof,
omlaag, omhoog; dis alles of
'n kunst'naarshand hul plek bepaal.
Hoe groei die bome in die rots
en bloei die blomme in kleure sag,
vlak teen die rant se wilde prag,
asof dit nooit nie anders was.
En dan, die golwende verskiet
van bulte en bosse, al deureen,
totdat die oë vasslaan teen
Magaliesberg, die groot blou reus.
('n Bietjie goud maak baie mooi,
en—dis maar krummels van die groot,
uit louter goud gebakte brood,
wat na Europa word vervoer!)
Ook saans nog wyk die mooiigheid
nie heeltemal nie, want dan blink
'n see van liggies; mens sal dink
die sterre 't uit die lug geval.
Die stad self lyk nou een en al
koopmanspaleise opeengehoop,
waartussen al die mensies loop
wat vreselike drukte maak.—
Oom Gert sien niks van al die skoon.
Die agterbuurt, daar dink hy aan
waar die blikhuisies almal staan,
en alles vuil-armoedig is;
bedink maar hoe die mense woel
waar huise en stof die son versper,
waar sawends skyn geen maan of ster,
en net die lampeskynsels blink.
Hy sien skoorstene en steenkoolrook;
hy hoor die treine met hul haas;
hy hoor die myn se toeter blaas,
en 't gaan asof die aarde brul.
Hy dink dan aan die myn-graf waar
die mense lewendig in kruip,
om soos erdvarke rond te sluip
vir bietjie geld en—longekwaal.
Hy dink aan ander duisende
van mense, voorheen eerbaar-braaf,
vir wie die skandgraf word gegraaf
wanneer die goud rys uit die grond.—
Maar—daar is fees bo-op dié graf!
Nes die ou tyd waar oom Gert van lees,
dat mense hou 'n dansersfees
wanneer die "swarte dood" verwoes.
V
Die môre van die Unie-fees
Oom Gert sien die soldate
in kakie langs die strate.
Hy sien die oorlogslans
se lintjies vrolik dans,
die sabels en gewere,
kanonne en helmet-vere,
op die paradebaan.
En agteraan?...
Hy sien die oorlogs-wees
wat deelneem aan die fees—
'n kinder-keurkommande
met skewe hoede-rande;
'n ganse skaar kadette
met roer en bajonette—
al agteraan
op die paradebaan.
Die môre-godsdiens
Vroom geklank!
Mense dank,
almal mede,
vir die vrede
'n Opperwese.
Want genees is
en verbonde
is al die wonde;
rassevete [B]
's al vergeet.
Met veréénde klank
rys die vreugdedank!
Die middag
Hy hoor die geluid van juublend gesketter,
die vrolike klank van simbaal en trompetter,
gedra op die dreun van die oorlogstamboer
wat dond'rend soos onweer die harte kom roer.
Daar's wapenbeweeg wat yslik weerklink;
kanonwaens kom aan en kettings rinkink.
En hy hoor daarna:
Hoera! Hoera!
Hy hoor die tred van die oorlogswees,
sy voete gedril vir die Unie-fees!
Hy hoor 'n gesang van sy lippe weerklink
as hy bly en verruk uit die feesbeker drink.
'n Hosanna gaan op uit die kindermond,
en die skare juig saam in die vrolike stond;
En hy hoor daarna:
Hoera! Hoera!
Die aand
Vreugdevure deur die land...
Mense juigend om die brand!
Vreugdepyle gons omhoog
en ontplof hoog aan die boog;
bly-verwonderd bly die skaar
na die skitterkleure staar.
Oom Gert gaan vroeg die aand na huis,
want een ding staan by hom nou vas:
dat hy nie in dié wêreld pas.
Hy het 'n beter dag geken
en is te oud om nog te wen
aan al die vreemdigheid
van nuwe koers en tyd.
Hy slaap laat in met diep gesug,
en in sy droom kom weer terug
die wese op die paradebaan,
die kinders wat hosanna sing,
die mense wat mekaar verdring
om rond die vreugdevuur te staan.
Ook kom hom deur sy droomnag speel
'n enk'le krygs- en kamptoneel;
'n moeder by haar kind aan waak,
'n stryder sterwend vir sy saak.
En as hy opstaan kom die vraag:
My Dina, ja, was sy
ook dalk daarby?...
VI
Dina se lewe val haar swaar.
Helaas, sy was die laaste tyd
haar blosende gesondheid kwyt,
en moes gedurig drankies koop.
Sy het in 'n café gedien
waar sy gedurig reg moes staan,
die wit-gestyfde voorskoot aan
en haardos ydel opgetooi.
Sy moes haar aangesig verkleur;
want al die glans van vel en oog
het met die jare weggedroog—
só was haar blommesteel geknak!
Sy moes daar staan en vriendlik wees
vir iedereen, al oor en oor,
ook as die kêrels met haar skoor
en stilletjies haar dinge sê.
Saans word sy dikwels uitgevra
om na die bioskoop te kyk;
dan moet sy weer so sinlik lyk,
dat sy die jonkmans kan bekoor.
Dan kry sy volop lekkers en
'n sitplek in die voorste ry;
dan is daar volop gekkerny
op die toneel en in die saal,
totdat 'n ander lewensdag
in sondenag word uitgeblus;
die liggaam weer na late rus
moet deur die vroeë more heen.
Hoe sweef dan om haar koors-gesig
die kuisheid van die môredou;
hoe pynig haar 'n naberou
wat al maar met die môre kom!
Haar leë hart het sy so lank
uit singenot se kelk laat drink,
dit word haar aldeur volgeskink
en—tot die prys van hande goud.
Tog bly haar hart gedurig leeg...
Sy sal die fees dan ook maar my...
Oom Gert soek haar vergeefs daarby...
Skyn-vrolik is sy nou nie meer!...
VII
Ja, Dina was dié dag nie by
en ook nie bly...
God het haar eind'lik stil laat staan!
En omgewend?...
Die aand versprei sy duister skerm
wanneer sy op die rante kerm
in haar ellend:
"Ag, kon ek nog my sondedaad
as sondesaad
weer in my donker hart
terugontvang,
dan was my vrees,
my angs by awendswart
wis minder bang
gewees.
Maar nou, nou het voorheen my hand
dit uitgeplant,
die eerste korrel van die kwaad.
En ieder jaar vermenigvuldig
die boom so kwaad
die sondesaad,
en maak my siel doodskuldig.
Teen awendgrys
verrys
nou boom op boom, hul bly
soos donker plekke,
soos pikswart vlekke
dwars-teen my vinnig-aan
wegdonkerende hemel staan.
En waar ek nou al dolend gaan,
hul staar my aan,
die bome; deur hul blare
hoor ek die nare
geruis van doem en dood—
oneindig ver van my
en altyd naderby!
Ek vlug verdwaald, verdwaas van sin,
benard, benoud
my donker woud
al dieper, dieper in!"
VIII
Sal God dan Dina so laat staan?...
Sy wend haar voetstap al maar aan
op agterbuurtse sinkgebou
waar awenddienste word gehou...
Net kwyn sag weg 'n lied van dank
as sy gaan sit op verste bank.
Wanneer die laaste galm verruis,
spreek sag die leraar van 'n Huis
daarbowe, wat veel wonings het,
die toevlugsoord van wat belas,
gedruk, verlaat, verlore was.
Wees nie ontroer, voeg hy daarby,
as jul nog sondesmarte ly,
want daar hou juis die eng'le fees
om wie verlore hier mag wees.
o Die oue, oue Bybeltaal,
by haar al lank verouderd al—
dit sink soos eerste druppels reën
wat op 'n ou pad val.
(Wat hoor sy nou! "Wees nie ontroer!"
Het God haar voete hier gevoer?...
Wat hoor sy! "Daar is baie plek."
Ook vir 'n sondares soos ek?...
Wat!... dat daar om verlorene fees
sal wees!)
Dan volg 'n laaste smeekgebed
dat God barmhartiglik mag red
deur altyd-nuwe wekgeluid;
en daarmee gaan die kerkie uit.
Sy stap die duisternis weer in,
maar dis vir haar 'n dagbegin;
dis of die sterre almal wink,
of die aandster bo die woning blink
waarin haar vader op haar wag.
Dieselfde nag het sy besluit
om na haar vader terug te gaan.
Want as God haar nie weg wil wys,
dan neem 'n eie vader wis
sy enige dogter aan.
IX
"Wie kom so laat nog na my huis?...
Ek hoor daarbuite 'n voetstap ruis."...
Die bo-deur swaai sag aan die kant.
Is dit die wind se onsigbre hand?...
'n Kersie wikkel—hoe die deur
al saggies word opsy gebeur—
en wend lig-golfies daar en hier
langs langvergane muurpapier.
"Wie kom nou na my huis? Dis nag!"
Die grysaard nou geboë wag
en kyk, maar kan geen wese ontdek—
totdat 'n stem kom: "Pa, dis ek."
Dan doem traag uit die duisternis
'n beeld wat hom nóg eie is.
"My kind!... Oplaas!" en dan niks meer.
Sy val hom aan die voete neer.
'n Vaderhart se medely—
wat kom Gods liefde naderby?
God wat alreeds te wagte staan
as die "verlore seun" kom aan!
Hy blik haar in die skuldige oog...
Die trane-sout 't al vasgedroog.
En sinlikheid aan 't wisselwyk,
van ver deur dowwe sluiers kyk.
"My kind, dáár het ek neergekniel,
snags uitgestort my bitter siel;
dié deur het nooit nie dig gegaan,
en daardie kersie 't daar gestaan.
"Nou kan ek sterf, my oog het nou
jou saligheid, my kind, aanskou."
Hy sien haar aangesig is bleek—
'n skone spieël gekraak, gebreek.
"Hoe is jou skoonheid van weleer
deur Gods geregtigheid verteer—
die vlam wat ons nie sien nie, maar
waarvan ons net die as vergaar!
"My kind, meteens my profesie,
van wat my oog gewislik nie
meer sal aanskou: die wederkeer
van al my volk tot God en eer.
"Lê op my graf geen sooi met gras,
maar dek dit met die heuwel-as;
want daarso lê begraaf jou eer
en van die boervolk van weleer.
"Ja, daarom is die heuwels hoog,
en dáárom is hul skynsel bleek,
en daarom is die winddreun diep,
so droef soos een wat smartlik smeek!
"Maar eens herleef die nasie weer,
waarvan ek sterwend profeteer.
Eens word die grys-blou heuwels klein
as God alleen weer groot verskyn!"
Hul staar mekaar nog vraend aan
wanneer die dag al op wil gaan...
Dan sien sy hoe sy vinger wys
waar Perdekraal se heuwels rys!
Die digter het sy taak volbring.
Die sanger het sy lied gesing,
en wil met enk'le woorde nog
vermeld van stille beevaarts-tog;
van hoe sy voet eerbiedig stand
hou by twee graftes op die Rand.
Dié vaal-wit hopies dek hul bei,
vader en dogter, sy aan sy!—