IETS OOR DIE BOESMANKULTUUR.

INLEIDING.

Die lesing dien as ’n voorlopige rapport in verband met my studie van die Boesman soos hy deur reisigers en ander beskrywe is.

Die gepubliseerde materiaal wat vir ’n studie van die kultuur van dié ras beskikbaar is, is ongelukkig maar gering, en daarby so versprei—hier ’n sin en daar ’n paragraaf in die verhale van die honderd-en-een ou reisigers in ons land—dat die versameling van die bietjie materiaal alleen, sonder om dit te rangskik en gevolgtrekkinge te maak, ’n werk is wat baie tyd eis. Die nodige tyd en geleentheid het totdusver ontbreek om selfs alleen al die voornaamste bronne te ondersoek, maar daar is in die laaste tyd in Suid-Afrika, in altwee tale, soveel onjuisthede en halwe feite in die verband gepubliseer, dat dit ook miskien geregverdig is om met so ’n voorlopige halfbewerkte betoog voor die wêreld te verskyn as ’n teegif teen genoemde verkeerde voorstellinge. As dié lesing dié gevolg sal hê, en as die beskrywing van die verskillende onderdele van die onderwerp wat hier nog nie volledig uitgewerk is nie, belangstelling sal opwek, is die doel van die skrywer vereers bereik.